Читать книгу Margie van die seminary en ander verhale - Winnie Rust - Страница 4
Margie
Оглавление(1908 – 2005)
Dag van geluk
Ek kyk terug op ’n dag van geluk
wat herinner aan vuurwerk getower
uit grondstof omskryf in vergeelde
handboeke op krakerige solders …
Geluk wat kortstondig bestaan
ken geen moontlikheid om te vergaan,
ontplof uit argaïese woorde
voortdurend binne bestek
van die donkerkamerige hart
met sy bergplek vol glimmerende beelde
uit nimmer terugvindbare oorde.
’n Vingerveeg kan dit verwek.
Elisabeth Eybers
Ek trek die ysterhek van die sydeur agter my toe, dankbaar dat niemand my sien nie, want ek huil.
Ek het my ma vanaand later as gewoonlik besoek. Die inwoners van die ouetehuis het klaar geëet, soos altyd om vyfuur. Ek het deur die portaal gestap waar die oumense gewoonlik sit en wag vir etenstyd, verby die kennisgewingbord met dag en datum en weerstoestande buite, in die gang af tot by my ma se slaapkamer. Ek het sonder om te klop die deur oopgestoot wat na my ma se slaapkamer lei.
My ma het kaal op die bed gelê. Hulle het haar op die dik rubberlaken lê gemaak om te was. Ek het na die spierwit oumenslyf gekyk, na die hangborste en die maagvelle. Die verpleegsters het haar flink van kop tot toon gewas asof dit die mees alledaagse gebeurtenis was. Ek het met gemengde gevoelens van weersin en deernis staan en kyk. Van die armholtes af, onder die borste, al die verskuilde plekke wat ruike afgee.
Terwyl hulle was, praat hulle troetelwoorde, soos met ’n kind. “Toe nou maar, Oumatjie, ons is nou klaar. Draai net gou vir haar op die ander sy.”
Ek het stil in die deur bly staan. Toe het ek die deur agter my toegetrek en verder in die gang gewag. Tot hulle verby my geloop het na die volgende oumens toe. Toe eers die deur weer oopgemaak en ingegaan.
My ma het in die stoel gesit, skoon gewas in ’n wit nagrok met ’n kniekombers om haar bene. Die nagrok het my skoonsuster geskenk. “Vir geval Ma onverwags siek word, dat sy darem ordentlik lyk.”
My ma se gesig het opgehelder toe sy my sien.
“O, daar is jy! Ek het gister vir jou gewag; jy het nie gister gekom nie.”
Maar ek wás gister daar, én eergister, én die dag voor eergister, én die vorige week. Ek probeer immers om elke dag te kom. As ek ’n dag of wat oorslaan, voel ek skuldig. Nou het gister en eergister vir my ma dieselfde geword.
Gister het ek ná vyf die kamer ingekom; dit was nader aan halfses. Die gordyne was toegetrek. My ma het doodstil in die stoel gesit, klaar gewas, die pille vir die nag uitgedeel.
Toe ek langs haar gaan sit, sê sy: “Jy moet my na Mammie en Daddy op Colliesfontein neem. Ek moet CP aan hulle voorstel.”
Haar mammie, Wilhelmina Jakoba, gebore Krige, het in 1962 reeds gesterf, haar Daddy in 1948. Met my oupa se dood het ek en my broertjie saam met my ma en pa deur die nag van Stellenbosch af na Colliesfontein in die Bedford-distrik in die Oos-Kaap gery. In ’n ou bruin Chevvie, ek toe ’n dogtertjie van sewe jaar oud. My ma het gehuil toe sy die tyding van haar Daddy se dood kry. Dit was die eerste keer dat ek my ma sien huil het.
Vyf jaar gelede, met my ma se neëntigste verjaardag, het ek begin met die opstel van ’n geslagsregister en ’n verslag van haar lewe. Ek diep vergeelde briewe en fotoalbums op: ou foto’s op donker, verweerde papier.
Ek kyk ure lank na die foto’s, na vroue met klein middeltjies in lang rokke, na bebaarde manne met hoed en pyp, na skoolmeisies in springjurke met box pleats en ’n los band om die middel, na mans in wit hoede en broeke, en vroue in rokke tot op die knie wat in seilskoene op grondbane tennis speel.
My ma was oral, ’n beeldskone jong vrou met ’n lang reguit neus, donker hare in ’n bob gesny en ’n ivoorvel.
Ek sit dae om met haar, vra vrae, wys ou foto’s, briewe en dokumente uit. Ek bring haar soms op die spoor met ’n vraag, ’n rustyd of ’n koppie tee. Ek is verbaas oor die helder beelde van kinder- en jongmeisiedae wat teruggeroep word.
Ek koop ’n vergrootglas en hou dit voor haar oë. Haar hande bewe, sy kan dikwels die mense op die foto’s nie behoorlik onderskei as die figure klein is nie.
Hier is ’n foto van haar onder die peperboom voor Colliesfontein se huis. Langs haar ’n jongman, lank en aantreklik, met ’n breë voorkop waaruit ’n strook hare van die middel af agtertoe golf. Hulle staan voor ’n Victoriaanse voorstoep met houtsparre en broekielace-versiering. Dié keer is die figure op die foto duidelik herkenbaar. Die lang jongman se arm is om die jongmeisie se skouers. Albei glimlag in die lens se oog in.
Ek sien in my ma se oë ’n flikkering van herkenning. Stories uit diep verborge bergplekke duik op.
Dit was onder hierdie peperboom voor Colliesfontein se stoep dat jou pa en ek dit byna uitgemaak het, sê my ma.
Ek hoor die aand die geskree van die uil van die dak af. Mammie sê altyd: As die uil roep, gaan iemand dood.
Jou pa, romantic soos altyd, sê: Staan doodstil, dan luister ons na die geluide van die nag.
Maar ek, vol van die plesierigheid van die lewe, ek wil nie stilte hê nie. Miskien is ons te verskillend, miskien moet ek dit nou vir hom sê. Die uil is ’n voorbode.
Hy spring my voor. Hy sit sy hand onder my ken, hy lig my gesig na hom toe op en sê: Jy wil nie voortgaan nie, nè, Margie?
Ag, ek wou hom nie seermaak nie … Hy kyk na my met daardie oë, so endearing, so gentle.
Ek weet nie … ek weet nie … Miskien moet ons nog bietjie wag, sê ek.
Hy staan stil, só, met my kop tussen sy hande.
Toe sê hy: Dan los ons dit nou eers. Ek kan jou nie dwing nie. Ek is maar wat ek is, ’n boerkind. Dan pak ek môre my goed en gaan eers.
Ek skrik. Nee, moenie, sê ek, wag eers bietjie. Daddy en Pieter is so lief vir jou … Wag eers bietjie, miskien voel ek môre anders.
Maar hy wil nie kopgee nie; nie dié keer nie, hy’t ook sy trots gehad.
Nee, sê hy, ek gaan.
Dis toe of ek skrik. Hierdie man is soos iets waaraan jy klou wanneer jy sink, iets sê vir my hy is iemand vir die lang pad. Nou gaan hy; miskien sien ek hom nooit weer nie.
Bly, sê ek, bly eers …
Jy maak dit vir my moeilik, Margie, sê hy. My hart praat ’n ander taal as my kop.
Maar hy’t tog gebly. Die volgende paar dae speel ons tennis, stap in die veld, ry na buurmense, partykeer in Daddy se Fordjie saam met Pieter.
En ek dink: Dis goed so. Miskien is ’n feeling alleen nie condition vir trou nie.
Dit was ná ek van Windhoek af gekom het waar ek skoolgehou het.
Ek gaan die volgende dag gedurende besoektyd ouetehuis toe. My ma sit met haar kierie die blokke op die novilonvloer en tel. Net haar lippe roer soos sy tel.
My ma was altyd lief vir somme maak, vir “Maths”. Sy was in die Seminary op Wellington die beste in Maths. Miss Cummings het haar gevra om toesig oor die Maths-klasse te hou wanneer sy die kamer verlaat. Six times six is thirty-six, seven times seven is forty-nine, eight times eight is sixty-four, nine times nine is eighty-one, tel my ma. Sy het alles in Engels geleer, Engels was die taal van geleerdheid.
Mammie het gehoor die Seminary op Wellington is die beste skool in die land, vertel my ma. Pieter gaan na Boys’ High agter Mister McCrone se naam aan, die Skotsman wat die skool opgebou het dat die hele Kaap daarvan weet. Pieter word toe Peter.
Ek kry in Murray Hall plek langsaan die White House, die doublestorey-huis waar die skool begin het. Almal moes die storie van die Seminary ken, van hoe Mister en Missies Murray op Kalkbaai gaan rus het nadat hulle die twee kindertjies verloor het. En hoe Mister Murray daar, op die rotse van Kalkbaai, oor die Seminary for Girls in Massachusetts gelees het, die skool wat Mary Lyon daar begin het. Hoe hy toe daar op die rotse met God oor dié dinge gepraat het, like a prophet of old having a vision. Almal moes weet hoe Mister Murray toe die Amerikaanse teachers al die pad uit Massachusetts van Mount Holyoke af laat kom het om met ’n similar school for girls hier te begin. Miss Cummings, die principal, het gesê oor die kindertjies wat die Murrays verloor het, God had emptied their hands that He might fill their hearts.
Ons moes dit oor en oor hoor, ek onthou dit tot vandag toe. Ons moes hoor hoe die skool in die White House met veertig meisies begin het en later te klein geword het, want mense dwarsoor die land het hulle dogters na die Seminary gestuur. Ons moes leer van die nuwe skool wat in 1902 gebou is en vyf jaar later afgebrand het en die volgende jaar weer opgebou is. Designed by John Parker, the famous architect from Scotland, where Andrew Murray’s forbears came from. Ons moes ’n toets daaroor skryf, The History of the Seminary, alles in Engels.
Soos ek sê, the principal of the high school is Miss Cummings. Women graduated at the Huguenot University College, die indrukwekkende klipgebou oorkant die pad. Miss Ferguson is net die vorige jaar oorlede, gently passed away, en Miss Bliss – toe al behoorlik oud – was principal of the primary department. They were held in awe, almal praat van this is how things are done the Seminary way. Ek is skaam dat ek van ’n plaas af kom en Afrikaans praat, dat ek nie behoorlik Engels kan praat nie. Almal praat oor een meisie wat kort tevore huis toe gestuur is. Sy het haar nie proper gedra nie, en proper was maar Engels, alles Engels.
Hier, hier’s my kamermaat op die foto, Eva Rogers, die een met die ronde gesig en die sypaadjie en die fringe oor die voorkop en die strik agter die kop. Sy’t my Margie vir kort genoem, en van toe af noem almal my Margie. Dis ek daardie, in die gym, jy kan niks sien van my groot bust nie, dis weggesteek onder die gym. Ek was skaam oor my groot bust en my dik bene; dan terg Eva my en noem my pudding. Pudding word toe my bynaam.
Die girls kom van ver na die Seminary, van dwarsoor die land.
Sondae loop ons in ranks kerk toe, na die groot kerk aan die bopunt van Kerkstraat. Ons loop reguit kerk toe. Miss Cummings en die ander teachers dril vir ons in: It’s most unbecoming for young girls to loiter on the pavement.
Mister Murray is al drie jaar dood, maar die mense praat nog oor hom. Daar is in dié tyd ook ’n stryery oor ’n standbeeld vir hom voor die kerk. Party mense sê dis om ’n afgod van ’n mens te maak en te aanbid. Ander sê: Mister Murray moet onthou word in ’n standbeeld. Mister Murray was oral, so ook Miss Ferguson en Miss Bliss.
Ons sit altyd op die galery. Dis gewoonlik ou dominee Albertyn wat preek, op High Dutch. Mister Murray kon in twee tale preek, High Dutch én Engels. Party mense is in dié tyd ontevrede omdat hulle ’n Engelse diens ook wil hou.
Murray Hall is oor die veertig jaar oud en al bietjie dilapidated. My kamer is op die boonste vloer. Die houttrap kraak as jy klim; wanneer jy vinnig op en af, weerklink dit deur die hele koshuis. Wanneer jy een van die teachers op die trap kry, sê hulle: Not so fast, Margery, walk like a lady.
Daar is nie warm water nie, en te min toilette, ook te min slaapplek. Party girls slaap in Goodnow Hall, in dormitories op die onderste vloer.
Ons sit aan lang tafels op harde stoeltjies met eikehoutsparre teen jou rug aan. Ons moet doodstil sit en wag vir die prayers. Oh Lord, for what we are about to receive, make us truly thankful …
Ons moet netjies eet. Aan elke tafel sit ’n Miss om te kyk dat ons reg eet. Soms is daar high teas met mooi koppies en pierings vir guests of honour.
Tot onlangs het my ma gereeld by ons kom eet. Toe begin die morsery pla. Om my ma se bord was dit altyd morsig, met ryskorrels op die tafel en op die vloer. Een of twee keer eet sy met haar hande.
“Nee, Mamma, nie met die hande nie,” keer ek dan.
Van toe af bring ek ’n groot vierkantige blou borslap van die ouetehuis saam en maak dit met ’n knoop agter haar nek vas.
My man sê ergerlik: “Miskien is die dae van uiteet vir jou ma verby.”
Die karweiery van die ouetehuis af tot by ons huis word te veel, die in- en uithelp uit die motor, die op- en afkarwei van die rolstoel.
Van toe af neem ek eerder snoepgoed ouetehuis toe: malvalekkers en biltong en soms turkish delight, en kyk hoe my ma dit gulsig eet.
Een of twee keer gaan ek om twaalfuur, wanneer die oumense in die eetkamer sit en eet. My ma sit met ’n helderblou borslap aan ’n tafel van ses. Sy was altyd lief vir mooi aantrek en vir helder kleure, en het graag ringe en pêrels en borsspelde gedra.
Om dieselfde tafel sit tant Miemie en oom Joubert, ou vriende van haar. My ma het altyd baie vriende gehad. Tant Miemie se gesig is skeefgetrek van ’n beroerteaanval; ’n verpleegster help haar voer. Die kos val uit haar mond.
Die ander om die tafel sit doodstil en eet, hulle oë stip op die bord, happie vir happie. Op die borde is valerige hoender, pampoen, rys en aartappel. ’n Groot deel van die kos val van my ma se vurk af, in die bakkie van die borslap. ’n Stilte heers aan die tafel, niemand praat nie.
Jare tevore het my ma saam met tant Lorainne, oom Joubert se vrou, in die Bovlei teebyeenkomste en verjaardagpartytjies en VLV-vergaderings gehou. My ma het demonstrasies gehou; sy was die baaskoeksisterbakster van die omgewing. Tant Lorainne se twee huishulpe, Lea en Maria, het suurlemoentert en melktert gebak, en tant Lorainne het skons voorgesit. In daardie dae het hulle baie gelag en gesels.
Die verpleegsters stoot dié wat nie meer kan loop nie in rolstoele uit. My ma loop sukkelend met ’n kierie. Ek stut haar aan die arm en help haar uit. Ek sien vetspatsels op haar bors wat die borslap nie opgevang het nie, ek sien dat haar skoene skeefgetrap is, dat haar onderrok uithang en haar kouse bokant haar knieë geknoop is.
Tot op sewe en tagtig het my ma haar eie Jetta bestuur. Almal op die dorp het haar in haar donkergroen Jetta geken.
Dit was ’n skemeraand sewe jaar gelede dat sy met die Bainskloofpad teruggekeer het ná ’n besoek aan Annatjie van Wyk in die Bovlei. Toe sy by die laaste heuwel afry voor die pad die dorp inloop, ry twee onverskillige jong knape van agter af in haar vas. Die Jetta stort teen die afgrond af.
Die motor is ’n wrak. Vir hierdie één keer is dit nie ’n oumens se skuld nie.
Niemand het gedink sy sou dit oorleef nie. Maar sy het. Ná weke kon sy weer loop, maar nou met ’n kierie.
Van toe af is sy ’n inwoner van die ouetehuis.
Ons moes van die meeste van die meubels ontslae raak. Ons verdeel dit tussen kinders en kleinkinders: die bal-en-klou-hoekkas, die twee Victoriaanse stoele en die uitgegraveerde okkerneuthouttafeltjies.
Ek probeer my ma se woonstel gesellig maak, skuif hier ’n stoel en plaas daar ’n potplant. Ek hang portrette van kinders en kleinkinders teen die mure. Ek hang ’n groot foto van my pa bokant haar bed, ’n foto van later jare, toe hy al goed bles was. Ek pak nuutaangekoopte onderklere en nagklere in die kaste. Ek sorg dat die klere gemerk is: Margery van der Merwe, woonstel 5.
My ma sien die lewe in die ouetehuis as ’n gevangeskap, ’n inperking wat sy mettertyd leer aanvaar. ’n Lewe wat bepaal word deur ’n klok wat etenstye lui, besoektyd van 15h00 tot 16h00, buitedeure wat om vyfuur sluit en blindings wat dan afgetrek word.
Van nou af hou ander mense toesig oor haar liggaamsfunksies. Het sy al gepiepie? vra die verpleegsters wanneer hulle haar uittrek. Hulle hou rekord van haar stoelgang en gee haar elke aand twee groen en twee klein wit pilletjies om te drink.
Ek het die vergunning van ’n eie sleutel van ’n sydeur. Ek sien my ma saans om vyfuur in haar nagklere. In haar nagrok lê haar uitgesakte borste soos tweelinglammers teen haar lyf aan.
Ons het nie oor die dinge van die lyf gepraat nie, it wasn’t done, verduidelik my ma. In die physiology class praat Miss Buchanan van blooming womanhood; you are to protect that, girls, be careful, it is a most holy thing. It can also become a wicked thing, full of snares and potholes …
Toe’s daar ’n vreeslike skande. Een van die meisies klim ná lights out deur die venster, rivier toe, en ontmoet een van die Boys’ High boys daar. Een van die prefects betrap haar mooitjies toe haar bed leeg is, en rapporteer aan Miss Cummings. Dis toe ’n verskriklike ding, ons mag nie daaroor praat nie, hulle wil nie die skool ’n slegte naam gee nie. Maar toe lek dit uit, en die hele dorp praat. Die meisie word huis toe gestuur. Party mense sê sy bring skande oor haar skool en haar familie, party sê agter hulle hande sy’s pregnant. Maar ek weet skaars hoe mens pregnant raak.
Saans wanneer ek en Eva uittrek, gooi ek vinnig my nighty oor my kop, want ek is skaam oor my swaar bust en my dik bene. Eva noem my soms “dear Pudding”, maar meesal Margie.
Juniemaand gaan ek van die Seminary af huis toe. Een oggend toe ek wakker word, is daar bloed op my nagklere en op die laken. Ek skrik groot, ek weet nie waar dit vandaan kom nie. Ek kyk oral op my lyf, op my bene en op my arms, nêrens is daar oop wonde nie. Ek maak my bene oop, voel aan die binnekant van die bobene, en daar’s bloedvlekke. Toe sien ek: dit moet van tussen die bene af kom.
Ek is bang vir bloedvlekke op Mammie se wit lakens met die embroidered finishing. Ek wil nie vir Mammie sê nie. Ek steek die lakens en die nighty onder die bed weg. Ek sê vir Topsy in die kombuis ek het op die klippe by die rivier geval, ek bloei en wil die seerplek skoonmaak. Topsy skeur lang repe wit lap van die stryklaken af, en gee my ’n halwe bottel paraffien.
Jy moet dit op die bloed sit, sê sy. Die bloed hy sal stop.
Ek doop die lappe in die paraffien en hou dit tussen my bene. Só loop ek drie dae lank, so met die lappe tussen my bene.
In standerd nege en tien doen ek die beste in Maths. Miss Cummings is dikwels uit die klas omdat sy ook die principal is. Dan sê sy net: Will you see to the class, Margery. Ek is prefect, first team hockey en first team tennis. Die tennis courts is grondbane voor Cummings Hall en Ferguson Hall, en ek is ’n goeie speler. Ons speel met swart kouse en wit tackies; ons bene is nooit kaal nie.
Ek neem piano lessons tot by grade six. Met devotions speel ek al die ou hymns: “Rock of Ages, cleft for me”, “When I survey the wondrous cross”, “Abide with me”. Ek speel marches voor die meisies uit die Assembly Hall loop, one-two, one-two …
Aan die einde van 1925 slaag ek matriek second class. Ons kry die uitslae net voor ek en Pieter Colliesfontein toe vertrek. Dis ’n groot affêre, drie van die girls het highest honours gekry, die een fourth in the province. Ons kom in die Assembly Hall bymekaar, die verhoog vol blomme en die girls met die honours op die verhoog met hulle certificates.
Die Karoo is so droog teen die Boland, dit het lanklaas gereën en die skape is maer. Daddy het die wolskape, die merino’s, minder gemaak en Persiese vleisskape met die klein swart koppies aangeskaf. Mammie sê: Ai, Chris, jy koop ook altyd die verkeerde ding op die verkeerde tyd.
John slag elke tweede week ’n skaap. Ek kyk hoe John sy mes tussen die lyf en die vel insteek en die vel afskil. Ek is aardig vir die bloed en die ruik van die mis aan die dooie skaap se wol.
Mammie wil my weer Boland toe stuur vir verder leer. Daddy sê: Ai, Winnie, waarvoor moet die meisiekind verder leer? Laat haar huis toe kom, ons kry swaar in die droogtetyd.
Maar Mammie wil nie kopgee nie. Sy wil my Stellenbosch toe stuur, al het vroue die laaste vyf en twintig jaar op Wellington gegraduate. Op Stellenbosch kan ek by familie loseer, by die Neethling aunts onder wie se vlerk Mammie grootgeword het toe haar mammie vroeg gesterf het.
Ek het nie geweet wat om te studeer nie. Eers dink ek ek moet landbou loop, dan kan ek teruggaan plaas toe en vir Daddy help wat swaarkry onder die droogtes. Toe dink ek weer: Dis nie ’n ding vir ’n vrou nie. My niggies sit om die tafel van die groot Neethlinghuis in Van Riebeeckstraat en hekel. Dan lag hulle vir my, ’n meisie wat wil landbou loop.
Maar ek begin toe met landbou. Ek woon die anatomy class van doktor Con de Villiers by. Ons is net twee meisies in die klas en dertig mans. Die mans kyk vir my wanneer ek die klas inkom.
Doktor Con ontsien niemand nie. Hy gee klas in Afrikaans, en ek ken al die terminology op Engels.
Die tweede week gee doktor Con ’n klas oor voortplanting. Reproduction, het ons op Seminary gesê, maar toe leer ek van voortplanting. Hy teken die eierstokke en die vagina op die bord. Hy teken die Fallopian tubes, die vagina en die mammary glands, die penis en die saadballe. Hy wys hoe voortplanting gebeur, wat die penis alles doen.
Ek skaam my vreeslik voor al die mans. Ons het altyd by die Seminary gehoor: The body is the temple of the soul, it is the home of music, of high thought, of kindly deed and noble example – dit het ons uit ons kop geken.
Toe doktor Con sien hoe ek skaam word en afkyk, sê hy: Dis ’n natuurlike proses, juffrou Norden. Daarsonder sal die aarde nie die Genesis-opdrag om te vermeerder kan nakom nie. Jy ken tog die Bybel. Het jy dan nie op Wellington skoolgegaan nie?
Toe slaan ek maar oor na primary teaching. Daardie jaar was ’n beter jaar op Colliesfontein; Mammie skryf dat dit gereën het en dat die vleisskape ’n goeie prys kry. Pieter moet die volgende jaar plaas toe kom en vir Daddy help. Daddy het las van die asmabors.
Toe kan ek in Monica loseer. Ek maak daar goeie vriende met Lenie Shellinck, met Sarah Lochner, met Nancy Beyers en met Annie de Kock – dis sy wat later met Boerneef getroud is. Ons is ’n jolly klomp pals bymekaar. Die meeste van hulle is slim, en kinders van ryker ouers as wat ek het. Nou moet ek Latin en English Literature Higher Grade neem, en ek is meer aangelê vir Maths. Hulle lees van die hoogste na die laagste punt die name uit, en as die klastoetse uitkom, word my naam altyd laaste gelees, Annie en Nancy s’n altyd eerste.
Onder ons mansvriende is ’n groep Wilgenhoffers: Otto du Plessis, JC van der Westhuizen, Theo Pauw en CP van der Merwe. CP is ’n lang man met ’n hoë voorkop. Sy hare wave agtertoe, uit die voorkop uit. Hy is op die redaksie van Die Stellenbosse Student en op die huiskomitee van Wilgenhof; hy het aansien onder die studente.
Ons ontmoet een somermiddag op die tennisbaan van Wilgenhof, ek aan die einde van my eerste jaar, CP derde jaar. Ek en Annie en JC en Theo speel mixed doubles. CP staan eenkant onder die boom en kyk; hy was nooit eintlik ’n wafferse sportman nie. Ek en Annie trek ons kouse dié dag uit, dis so warm, ons speel kaalbeen. Ons dra wit tennisrokke wat op ons knieë hang.
Ons raas en lag, Annie is vol sports. Ons het by die Seminary ook tennis in Engels gespeel, en as ek roep Ace! of Your turn, partner! koggel JC vir my in Engels as ek ’n hou nie kan terugslaan nie: Oh, dear Pudding, what a mess you’ve made of that one! Dan lag en raas ons.
Toe ek van die baan af kom ná die eerste set, rus ons onder die bome waar CP staan. Ek sien hoe CP vir my kyk. Ons praat nie veel nie, ek en JC en Annie guy met mekaar. Annie sê die volgende dag vir my Theo het gebel, ons moet saam met hom en CP gaan koffie drink.
Toe het Smuts pas uitgeval en is die Nasionaliste vir die eerste keer aan die bewind. Smuts het uitgeval oor die myners in opstand gekom het en die bloed geloop het. Ek was bang hulle gaan die hele middag politiek praat, en aan politiek het ek my nooit veel gesteur nie.
Theo en sy vriende was baie nasionalisties; hulle het hulle vir die Afrikaanse saak beywer en baie gepraat oor die groot klomp arm witmense in die stede, Afrikaanse mense wat armblankes is, poor whites. Gepraat oor “ons” mense wat grond ná die Boereoorlog verloor het en stede toe getrek het en daar mynwerkers en spoorwerkers geword het. Die Afrikaners se siel sit in die grond, you know what I mean.
Dit was ook die jaar waarin vroue die stemreg gekry het. Party mense het gemeen die vote is vir vroue gegee om die Nasionale Party sterker te maak. Mense het baie gepraat oor vroueregte, women’s rights.
In dié dae, dit was hier teen 1925 rond, kon kinders vir die eerste keer in hulle huistaal skoolgaan. CP en Theo is baie bly daaroor; hulle sê Afrikaans lewe al lank in mense se harte, die kinders kan nie in ’n ander taal propertjies leer nie. Dis toe die eerste keer dat ek daarvan hoor; ek het altyd gedink mens moet in Engels opgevoed word, to be proper is to be English.
Vir my was al hierdie dinge nie so belangrik nie. Dit was vir my lekker op Stellenbosch, weg van die droogte af. Nancy en Annie was baie meer op hoogte van die politiek as ek.
Met die uitnodiging van Theo om te gaan koffie drink sê ek toe vir Annie: Gaan jy maar, ek is nie lus nie. Maar sy sê nee, Theo het na jou gevra. Hy’t gesê jy moet kom.
Ons drink koffie in Andringastraat. Theo en Annie praat aanmekaar politiek; CP sit eers stil en luister net. Hulle praat oor die Women’s Enfranchisement League wat van Engeland af oorgewaai het. Theo het ’n pamphlet in sy hand en lees voor, alles wat ou doktor Malan die vorige aand in die stadsaal gesê het oor die vrou, oor hoe die vrou die politiek gaan ophef, want vroue het meer hart. Dit was vir my snaaks toe hulle sê tagtig persent van “ons” mense kan nie lees nie; ek het gedink alle mense het ’n governess wat hulle leer lees en skryf het soos ek en Pieter vroeër jare op Colliesfontein.
Soos ek sê, CP het meesal geluister, maar ek kon voel hy dink ook so. Hy’t baie na my gekyk, sommer net na my sit en kyk. Soft eyes, very soft eyes. Eenkeer, tussendeur, vra hy: En jy, Margery, wat dink jy?
Toe antwoord ek: Ek het op die Seminary skoolgegaan, dis baie Engels. Theo spot: Aan die Seminary, Margie, het jy bo-op die dak van die Seminary gesit? En toe lag almal, en ek ook maar saam, maar eintlik was ek embarrassed.
CP het later jare vir my gesê dit was love at first sight. Hy kon sy oë nie van my afhou op die tennisbaan nie. Jou swart hare het geblink in die son, dit was sy woorde.
Toe ek eendag my ma se kamerdeur oopstoot, is die kamer leeg. Ek kyk na die netjies opgemaakte bed, die nagstoel gerieflik langsaan.
Ek wonder waar my ma is, kuierplekke is daar nie meer nie. Die meeste van haar vriende is dood. Ek loop soek-soek, versigtig deur die gange, want die gange is pas gewas en glad. Die ruik van ontsmetting hang swaar. Eindelik kry ek my ma in die haarsalon van die ouetehuis.
Ek sien hoe hulle die volgende kliënt in ’n rolstoel instoot, ’n klein vroutjie met yl, regop hare en ’n dowwe uitdrukking in haar oë. Die haarkapper vryf oor die vroutjie se hare en probeer dit in ’n rigting druk wat dit na ’n kapsel laat lyk.
“Ons gaan vandag vir haar mooimaak, ons gaan haar haartjies knip, nè?” sê die haarkapper.
Die oumensie pruil haar mondjie.
“En waar is die tandjies vandag?” vra die haarkapper.
“Sy het seertjies in haar mond,” sê die verpleegster. “Ons moes haar tande uithaal.”
My ma het steeds ’n welige bos hare, sy het min las van hare wat uitval. Nou word haar hare in ’n stywe kapsel gekrul en met lak gespuit. Die haarkapper skeer los haartjies in haar nek op. Die klein, styfgekrulde koppie lyk uit verhouding met die prominente neus en groot liggaam.
Van die verpleegsters maak soms my ma se lippe en wange rooi en verf haar naels. Vanmôre is die rooisel oneweredig aangewend; daar is twee rooi kolletjies op haar wange. Ek buig oor en vryf met ’n sakdoek oor haar wange totdat die rooisel egalig versprei is.
“Kom, Mamma,” sê ek, “kom ek stoot jou terug kamer toe.”
CP begin my uitneem, vertel my ma. Meesal stap ons in die Laan af, of gaan drink koffie.
Hy vertel my meer van homself. Hy sê hy wou eers predikant word, en dit was ook sy “ou vader” se wens vir hom. Maar toe besluit hy anders. Ek wil onderwyser word, sê hy, en die kinders Afrikaans leer soos wat ek dit ken. Boere-Afrikaans. Ek is maar ’n boerseun uit die Koue Bokkeveld.
Dit het hy altyd gesê, ek hoor hom dit nog sê.
Een of twee keer is Theo en Annie by. Hulle praat oor die up and coming Kommunisme, oor die Sosialisme en die Arbeiders en die trade unions – wat noem mens dit nou weer? vakbonde. En altyd oor vroueregte, women’s rights. Hulle praat oor Heine en Goethe en Gezelle, al die great romantics.
Een aand in die herfs in die Laan soen CP my die eerste keer. Dit was so ’n stil aand, die blare dik in die paadjie, al ’n behoorlike stroom water in die Eersterivier. Hy het sy Matie-baadjie aan met die wit en rooi strepe wat afloop en die Matie-wapen op die sak, só, soos hier. Ek is in ’n geblomde rok met kaal arms. Ek het koud gekry, maar die rok was mooi, ek wou dit aantrek. Dis toe ek die shawl oor my skouers trek dat hy sy arm om my slaan en vra of ek koud kry.
Dis lekker so, ná die reën, sê ek, ek hoor net altyd van die droogte.
Ons gaan staan onder ’n groot boom. Hy sê: Jy lyk so ontsettend mooi, ek kan my oë nie van jou afhou nie. Hy vryf oor my hare en sê … Wag, hier, hier staan dit agterop die foto van hom wat hy later gestuur het:
O laten wij maar zacht zijn
Wij zijn maar als blaren in den wind
Ritselend langs de zoom van oude wouden
En alles is onzeker
En hoe zouden wij weten wat alleen de wind weet, kind –
Toe soen hy my. Annie en Nancy en dié klomp het lankal in die Laan gesoen en gedruk, kaalbeen geloop en soms ’n dampie gemaak. Maar ek was nie een vir ’n gedrukkery nie. Ek was bang al hierdie dinge kan tot verkeerde dinge lei; dit het ons op die Seminary geleer.
Ek hou toe my lyf van hom weg, maar my gesig na hom toe om nie ongeskik te wees nie. Ek het aan Miss Buchanan in die physiology class gedink, aan die storie van die blooming womanhood. You are to protect that, girls, be careful, it is a most holy thing. It can also become a wicked thing, full of snares and potholes …
Ek wou hom nie seermaak nie. Hy was endearing, maar ek het nie eintlik ’n feeling gekry nie.
Juniemaand neem ek hom saam Colliesfontein toe. Hy’t saam met Pieter skaapkraal toe gestap, gekyk hoe ou John melk, en partykeer saam met my en Pieter en die bure op ’n Saterdagmiddag tennis gespeel. Hy was ongemaklik met die racket in sy hand, hy’t hoë houe in die lug op geslaan.
Hy’t lang ure met Daddy op die stoep sit en gesels. Mammie was eers vol vrae, sy’t uitgevra na waar hy vandaan kom, na sy familie. Sy’t gedink Van der Merwe is nie ’n goeie van nie, nie well-bred genoeg nie. Hy het polite en eerlik op Mammie se vrae geantwoord. Altyd maar weer: Ek’s ’n boerseun uit die Koue Bokkeveld. Sy ou vader was twee keer getroud, die eerste vrou jonk oorlede. CP was maar tien toe sy ma dood is. Twaalf kinders grootgemaak, twee in die 1918-griep dood. Hulle had dit nie breed nie, maar Daddy het gesê CP is ’n goeie seun, en Pieter het ook van hom gehou.
Die einde van die jaar het al my vriendinne poste behalwe ek. Annie het ’n pos in Latin en English by Rhenish. Ek skiet vir die een pos ná die ander, maar geluk nêrens nie. Ek wil so graag vir Daddy my studieskuld help afbetaal, toe’s ek al moedeloos.
Mammie skryf vir ’n verlangse neef in die diplomatic service in Windhoek en vra of dáár nie vir my ’n pos is nie. Toe antwoord hy: Ja, daar’s vir my ’n pos. Maar die kinders praat net Afrikaans.
CP kry ’n pos op Moorreesburg. Hy’t sy B.Ed. klaargemaak ná sy B.A., gemajor in Duits en Afrikaans-Nederlands.
My Windhoekjare was jolly jare. Ek ontmoet baie Duitsers, ons drink bier en hou party. Ek gaan saam wanneer hulle wild skiet. Sien jy hier, hier in my kakiebroek voor ’n jeep op ’n jagparty, met die kakiehemp en kortbroek en geweer in die hand. Dit was baie daring vir die tyd. Ek speel tennis, ek maak daar pals. Soos hier, sien jy, op die tennisbaan met drie pals, met die Lutherse kerk agter.
CP skryf lang briewe oor hoe hy my mis. Partykeer quote hy filosowe of digters, mense van wie ek nog nie gehoor het nie. Hy skryf hoe bly hy is dat ons taal nou van die “kansel” af gehoor word. Ek lees die briewe, maar nie die gedigte of quotations nie. Ek skryf briewe oor elke dag se dingetjies, oor kinders wat kaalvoet skool toe kom met kakieklere aan, oor hoe hulle g’n woord Engels ken nie. Ek skryf oor hoe ek tennis speel en saam op jagparties gaan en gesien het hoe hulle ’n gemsbok skiet.
Toe skryf CP ons moet mekaar die Junievakansie op Colliesfontein ontmoet. Ek reis met die trein van Windhoek af. CP kom al die pad van Moorreesburg af.
Hy en Pieter ontmoet my op Sheldonstasie, Pieter met sy swart kuif en sy middelpaadjie en sy bril met die ronde raam. Ek het ’n chic hoedjie op, laag oor my voorkop getrek, en nuwe patent leather-skoene met ’n band oor die voetbrug.
Op die perron soen CP my voor Pieter, so ’n piksoentjie, maar ek sien hoe bly hy is. Ag, ek is so uncomfortable, ek voel sleg daaroor, maar ek kan daar niks aan doen nie.
Pieter is aan die stuur van Daddy se 1930-Ford, baie fancy. Ek sit voor langs Pieter, CP agter. Ons praat nie baie nie. Ons skud oor die stofpaaie; die stof waai by die vensters in. Ons het stofjasse aan, die stof waai in ons tande en in ons hare in.
Daardie eerste aand op Colliesfontein staan ons onder die peperboom en luister na die uil se geskree. Daardie aand merk CP hoe ek twyfel.
Maar ná die drie weke saam se tennis, stap in die veld en kuier by buurmense sê ek ja, ons kan trou. Ek dag: Miskien is feeling alleen nie condition vir trou nie. Vir Mammie en Daddy se onthalwe sal ek net die jaar op Windhoek klaarmaak; dan kom ek huis toe en ons trou.
Ons trou op 5 Januarie 1935. Ons trou op die plaas van een van my ooms in die Stellenbosch-distrik. Dis ’n grand troue; al Mammie se Stellenbosch-familie is daar. Ek in ’n lang rok met ’n sleep van handmade lace, my hare middelpaadjie met blomme aan weerskante by my ore en ’n bouquet van wit rose en gladioli; CP in hat and tails en gloves, te grand vir woorde, daar’s ’n foto iewers …
Van CP se oorlewende broers is ook daar, ook sy stiefma en sy pa. Sy ma is ’n ou vrou in swart, baie depressing, sy pa ’n krom mannetjie met ’n Jan Smuts-baardjie. Ek het hulle een keer tevore ontmoet toe CP my plaas toe geneem het. Alles daar het vir my so versukkeld voorgekom, die kindertjies verwaarloos, ek het gewonder wat Mammie sou sê.
Daar was baie toasts en speeches, party in Engels. Toe CP se pa opstaan om te praat, raak ek skaam vir my nuwe in-laws, vir die klein mannetjie met sy baadjie se kraag wat omkrul en sy hemp nie behoorlik gestryk nie en ek dag: Wat kom nou? Mammie sal sê hy is nie well-bred nie. Maar die ou man het so mooi gepraat, so rustig en ongestoord. Almal het sit en luister en agterna gesê dit was die beste toespraak van almal, die toespraak van hierdie ou boereoom.
Words of wisdom, het Mammie ewe gesê. Toe’t ek gedink: Mammie het my Seminary toe gestuur om Engels te word, maar hierdie is ’n Boerefamilie waarin ek trou.
Nou land ons op Moorreesburg, eers in die koshuis. CP hou skool, hy is omtrent getroud met die skool en met sy kinders en met sy vak, Afrikaans, dis sy hele lewe. Hy begin handboeke skryf, eers vir sy klasse, toe word dit ’n boek.
Ek is eers bietjie verveeld op daardie godverlate plek. Ek is Windhoek gewoond. Maar ek begin stadigaan weer tennispals maak en tennis speel, ons kuier op plase in die distrik. Op die ou end is ek baie gelukkig daar, ons maak vriende en ry na plase toe uit en kuier, by die Kennedys en die Bassons en die Besters. Die Swartlanders bederf ons so, ons is nooit met leë hande van die plase af weg nie.
Van die dinge tussen ’n man en ’n vrou het ek nie veel geweet nie, maar CP was gentle en understanding, nooit opdringerig nie, en so het ek stadig geleer, en toe ek my weer kom kry, is ek pregnant met jou.
Ek het uitgesit, behoorlik uitgeswel. My lyf was oral in die pad, ek het swaar en vorentoe gedra. Almal het gesê dit gaan ’n seun wees, en toe surprise jy ons.
CP was so opgewonde oor jou koms. Soos altyd het hy die lewe vir my maklik gemaak en gebuk waar ek nie kon nie, en in die laaste maande toe ek net op my rug kon slaap my uit die bed gehelp. Onhandig soos hy was, het hy ook met klein werkies in die huis probeer help.
So het ek toe geboorte gegee aan jou, maar ek het vooraf nie geweet wat dit alles inhou nie, want ons het in daardie dae nie alles geweet wat vroue vandag weet en gepraat waaroor mense vandag praat nie. Maar dit het gou en maklik gebeur, byna soos die ooie op die plaas, soos wat ek vir ou John die lammertjies sien vang en aanhelp het, nog met die dun vliesie oor. En toe ek in die melk kom, het dit behoorlik geloop; ek sou tweelinglammers kon grootmaak. Nou was ek ’n regte pudding; ek het nooit weer my jongmeisielyf teruggekry nie.
Later toe ons in ons eie huis intrek, was bediendes volop en goedkoop; ek het nie swaargekry met jou nie. Ek het jou en die oppasser saamgeneem tennis courts toe, en jou daar, so tussen die sets deur, gevoed.
Toe kry CP die aanstelling op Wellington, en toe moet ons trek net toe ek behoorlik vasgegroei op Moorreesburg geraak het. Jy was toe ’n dogtertjie van ses, jou boetie een jaar oud. Toe’s ons terug op die dorp van Andrew Murray, op die dorp van die Seminary, maar toe’s dit die Huguenot Girls’ High; die Boys’ High toe al baie agteruit.
Ek verkyk my aan die foto van die bouvallige ou huis in Bergstraat 5 toe ons in 1944 daar ingetrek het. Hier op die foto is die plataanboom wat my ma en pa aangeplant het nog jonk, vandag ’n reuseboom wat sy takke oor die teëldak strek.
Die Tweede Wêreldoorlog was aan die uitloop, en huise skaars. My pa het besluit om maar dié ou huis te koop. Die groot gronde was omhein, die tuin ’n woesteny van ou vrugtebome met verknotte stamme. Dis ’n dubbelverdieping met baie kamertjies en ’n oop balkon bo waarvandaan ek saans die sterre kon sien, langs my pa op die bed wat stories vertel van Boplaas se mense, van Joors Jorrie en Dirk Ligter wat perde moeg gedraf het, en van Pensie, die klonkie. Van hoe hy as jong seun gerwe gepak en botterboom gery het.
My pa stap kollege toe waar hy klas gee, verby Huis Cummings, verby die Huguenot Girls’ High waar my ma skoolgegaan het en waar daar nog sommige Misses is, ook hier en daar ’n Juffrou wat steeds net vir meisies skoolhou. Waar Founder’s Day nog elke jaar gevier word en die kinders van die geskiedenis van die skool moet hoor. Maar waar daar ook al meer geluide van weerstand gehoor word omdat die skool te Engels is, met te veel Engelse tradisies.
Ons gaan kerk toe in die wit kerk aan die bopunt van Kerkstraat, Andrew Murray se kerk, waar my ma op die galery vir seuns sit en kyk het.
In 1948, die vierde jaar van ons verblyf op Wellington, wen doktor Malan en die Nasionale Party die verkiesing. Die mense raak mal van vreugde. Toe die finale uitslag deurkom dat Smuts verslaan is, skiet die mense klappers en strooi streamers in oranje, blanje en blou; motors blaas toeters in die strate.
Dié aand luister ek op my pa se skoot na die uitslae. Ek onthou generaal Smuts se hoë, yl stemmetjie oor die radio toe hy sy laaste boodskap as eerste minister gee. My pa sê vir my ma: “Generaal Smuts het nie reg gelees wat in die volk se hart omgaan nie, hy was uit voeling met sy mense. Hoe jammer tog, want hy is ’n geniale man.”
Toe sê my ma: “So is die dorp nou nie meer ’n dorp waar jy hoef te apologize for speaking Dutch nie.”
Soos my ma vertel, onthou ek weer dié dinge, en van die kollega van my pa wat een aand kom kuier het.
“Jy moenie jou tale meng nie, Margery,” sê hy goedig. “Die wêreld is nou nasionaal. Jy moet reg praat.”
“Ag, heiden tog,” sê my ma, “dan hou ek my maar skaars. Ek het nie erg aan die politiek nie.”
Maar sy kon nie skaars wees nie, sy was oral in die huis.
Sy laat ou bome uithaal, en begin gras en blomme plant. Sy staan gebukkend in die tuin, haar hande in die grond, grond wat onder haar naels inkruip en aan die buitekante die rooi lak laat afsplinter. Haar swaar liggaam buk wydsbeen, grafie in die hand. In die lente rank die sweet peas geil teen die grensdraad op, die poppies blom in dieprooi, geel en oranje kleure. Sy praat van “sweet peas” en “poppies,” nie “pronkertjies” en “papawers” nie, al is die wêreld Afrikaans.
Soggens vat sy die nag se pee in die kamerpotte, verdun dit en gooi dit oor die poppies. Somermaande word haar dahlias in diep gate geplant wat goed bemes is met perdemis wat sy van die boere afbedel, en opgeloste komposblare. Die dahlias groei byna skouerhoog. Sy poseer vir ’n foto daar langsaan, vir die geleentheid “gedress” met ’n borsspeld voor die bors en krale om die nek.
Mettertyd word mure in die ou huis oopgebreek vir groter vertrekke. My pa se studeerkamer word onder ingerig, naby die voordeur. Hy sit gedurig agter sy lessenaar en skryf. Hy skryf met die hand op skryfblokke, dui korreksies met rooi strepe in die kantlyn aan, terwyl my ma bak en brou en tuinmaak.
Sy word bekend as die baaskoeksister- en meringuebakster van die omgewing. Sy gee demonstrasies voor die VLV, sê hulle moet haar Afrikaans verskoon, sy ken die recipes net in Engels. Al haar resepte praat van “one teaspoon full of, half a dessert spoon” …
My ma maak groot geil poedings, vir haar eie mense, maar altyd ook vir siek mense. Sy steur haar min aan die politiek, en aan die sogenaamde Afrikanersaak.
Sy ry dikwels uit na boerevriende in die Bovlei, na Miemie Strydom en Lorainne Cillié en verkeer gesellig saam, soms met “drinks” teen sononder. My pa sê: “Gaan jy maar,” wanneer sy wil hê hy moet saamkom. Dis vir hom lekker voor sy boeke.
Wanneer sy terugkom, maak sy vir hom kos met baie botter in en ryk souse oor. My ma het my pa lief met die oordaad van alles wat die aarde bied; hy het haar lief met kindness en met gentleness.
Dieselfde jaar dat die Nasionaliste aan bewind kom, sterf oupa Chris aan sy asmabors. Dis toe dat ons deurnag na Colliesfontein ry vir die begrafnis, en dis toe dat ek my ma vir die eerste keer in al die jare sien huil het.
Kort ná Oupa se dood kom Ouma by ons inwoon, in ’n ruim kamer op die boonste verdieping met ’n venster wat op die straat uitkyk. Oom Pieter is nou die boer; hy bly aan op die plaas.
My ouma se teenwoordigheid was voelbaar in die huis. Sy het al wat huishulp is gewantrou; haar kosbaarhede soos juwele en haar sendingbussie vol kontant het sy in haar laai toegesluit. Deur die jare het sy respek vir my pa opgebou; sy woord in die huis is wet, in niks het sy hom teëgegaan nie.
Sy het met lap- en stopwerk en klein takies in die huis gehelp. Soggens met teetyd het sy in haar kamer die koerant van hoek tot kant deurgelees. Wanneer sy ’n vrou met min klere of uitlokkende borste op ’n foto in ’n koerant of tydskrif sien, het sy haar vererg, en gepraat van die onbeskaamde “kale maarse” van die meisies van vandag.
Sy het verdeelde gevoelens gehad oor die Natte wat toe aan bewind was. Sy het onthou wat die Engelse aan die Boere in die Oorlog gedoen het, maar baie van die maniere van die Afrikaners in die regering was vir haar “common”, sonder styl.
Sy het by die Victoriaanse manier van dinge doen gebly; sy het nog iets van die “Queen” in haar gehad. Sy het “embroidery” gedoen en briewe geskryf, meesal in Engels, vir haar familie op Stellenbosch, en weekliks vir oom Pieter op Colliesfontein. Sy het selde die telefoon gebruik.
Maar bowenal was sy gek na my jonger broertjie, die naamgenoot van oupa Chris.
Hier in ouma Winnie se fotoalbum is ’n foto van haar met haar kleinseun op die skoot. Op ’n ander plek weer ’n foto van hom as tiener met lang, ongemaklike bene en arms. Los knipsels en blaaie van hoërskoolpryse en prestasies dwarrel oor die vloer. Hier ’n koerantberig, vierde in die provinsie aan die einde van matriek, daar ’n foto in akademiese drag, B.A. cum laude.
My ma vertel: “Mammie was baie gek oor Chris. Toe sy by ons kom inwoon, het sy hom leer lees en skryf. Sy het altyd gesê: ‘Chris is CP uitgeknip, hy het sy pa se verstand en die maniere van die Kriges van Stellenbosch.’ Sy was so trots op sy prestasies.
“Toe hy die beurs kry om in Nederland te gaan studeer, maak ek my reg om later in die jaar vir hom te gaan kuier. Ek was baie opgewonde, dit was my eerste oorsese besoek. Mammie sou vir dinge by die huis sorg.”
Alles kom terug waar ek sit met die foto’s in my hand, die fotoalbum voor my.
My pa sou by my en my man kom bly terwyl my ma by Chris gaan kuier. Ek maak die kamer reg vir sy verblyf. Ek trek skoon lakens oor, sit ’n handdoek by die voetenent, steek ’n enkele blom in ’n vaas vir die lessenaar. Sy skryfwerk sal nou tydelik na my huis verskuif.
My pa kom laatmiddag aangery, ’n enkele tas in sy hand.
Toe hy uit die motor klim, dink ek: Hoe weerloos lyk hy nie sonder my ma nie, kompleet soos ’n man sonder ’n arm, skielik ouer as sy vier en sestig jaar. Ek neem hom na sy kamer toe, ek gesels te veel om die leemte te vul. Hy reageer nie soos altyd op my gesels nie.
“Ek gaan net gou om die blok stap,” sê hy na ’n rukkie. “Ek gaan net bietjie litte losmaak.”
Hy was altyd lief vir stap – hy het graag kollege toe gestap, ’n regop figuur met ’n hoed op sy kop. Nou, weet ek, is dit om die alleenheid te verdryf. Ek laat hom maar begaan. Ek laat die sydeur oop sodat hy later kan binnekom.
Toe hy kort daarna terugkom, haal hy sy hoed af en sit dit by die deur neer.
“So gou?” sê ek. “Is Pappa klaar gestap?”
“Ek weet nie wat dit met my is nie; ek voel die laaste tyd moegerig.”
“Dan eet ons vroeg, en dan gaan Pappa bed toe,” sê ek. Maar ek dink: Dis oor hy my ma mis.
Ná ete stap ek saam met hom kamer toe. Ek wys hom waar die lampie op die lessenaar se skakelaar is.
“Kyk, ek het vir jou ’n skryfplekkie ingerig,” sê ek. “Jy gaan tog sekerlik ’n bietjie skryf?”
“Ek weet nie,” sê hy, “ek skryf maar swaar sonder jou ma … Sy moet in die rondte wees.”
Ek vryf oor sy skouer, hy lyk so alleen. “Toemaar, Pappa, ’n maand is gou verby.”
“Ja,” sê hy stadig, “alles is so vlietend. Die lewe maar ’n dag lank … maar saam met jou ma ’n dag van geluk. Met haar elke dag nuut …”
Ek word vroeg, voordag die volgende oggend, wakker met die geluid van ’n diep kreun. Ek hoor dit kom uit die endste kamer waar my pa slaap.
Ek skud my man wakker. “Iets is verkeerd! Dis my pa!”
My man lyk vervaard en deur die slaap.
Ek skud weer aan hom. “Jy moet gou maak! Daar is fout!”
My man spring uit die bed en hardloop gangaf met sy stetoskoop en sy noodtas, nog nie behoorlik wakker nie.
Ek spring ook uit die bed en bly kaalvoet in die portaal staan, te bang om te beweeg. Ek staan lank so. Later hoor ek die gekraak van die bed in die kamer waar my pa slaap, ’n geluid soos iemand wat van ’n bed opstaan. Nou kom my man vir my sê alles is reg, my pa het ’n nare droom gehad. Nou-nou sal alles weer reg wees.
Ek wag en wag. Die deur gaan stadig oop. My man kom die gang afgestap soos ’n ou man. Ek lees die pyn en hartseer op sy gesig.
Toe weet ek.
Die begrafnisondernemer en sy seun het my pa teen die trap van ons dubbelverdiepinghuis afgedra, maar ek het dit nie gesien nie. Ek het in my motor geklim, na Bergstraat 5 gery en onder die plataanboom gaan staan en huil.
Dae lank het die hoed nog daar gelê. Dit was omgewe met die geur van die man wat dit gedra het. Ek kon die hoed by die televisiekamer se deur nie verwyder nie; daarom het dit net daar bly lê.
My man het gesê toe hy die kamer inkom, het hy gesien my pa verkeer in ’n toestand van pyn, natgesweet en wit in die gesig. Hy het hom ’n inspuiting gegee om die pyn te verlig, en toe langs hom op die bed gaan sit. “Dis verskriklik seer, nè, Pa,” het my man nog gesê.
My pa het net geknik. Kort daarna kom die tweede, fatale aanval.
Só het hy dan gesterf; só, sonder sy Margie.
Ons moes my ma, wat reeds in Nederland geland het, laat weet, meer hoe? My man kry die ingewing om deur die ambassades van die twee lande te werk. Só kry my ma die tyding.
Chris sou van Leuven af reis om my op die Schiphol-lughawe te ontmoet, vertel my ma. Ons was so bly om mekaar te sien, maar ons het skaars gegroet, toe is daar die foonoproep van die ambassade. Ek kon nie verstaan hoekom Chris so lank wegbly nie. Toe hy terugkom, is hy so wit soos ’n laken. Toe moet hy vir my sê CP is weg … Ek het net daar gestaan met die toegedraaide biltong in my sakdoek, ek onthou niks meer van dié dag nie. Toe moet ons die eerste die beste vlug terug haal.
Ek onthou, met die begrafnis het die dominee in die Murraykerk uit Daniël gepreek: “And they that be wise shall shine as the brightness of the firmament, and they that turn many to righteousness as the stars for ever and ever.”
Hy’t in Afrikaans gepreek, maar ek lees dit in die Engels, in die St James version. Só was jou pa. Ek lees dit maar altyd weer.
Die suster bel my van die ouetehuis af. My ma het gegly en op die badkamermat geval. Sy het ’n sny oor haar neus wat moet steke kry. Haar heup het ook seergekry.
Ek kry my ma in haar kamer met sigbare steke deur rou vleis, haar oë rooi en opgehewe.
“Wat het Mamma aangevang? Jy moet versigtig wees en eerder die klokkie vir die verpleegsters lui wanneer jy wil badkamer toe gaan!” raas ek.
Sy lyk verleë. “Ek wou toilet toe gaan. Ek wou maar net toilet toe gaan.”
In die volgende paar dae verander die rooi om haar oë in skakerings van donkerblou. Nou het sy ’n groteske voorkoms, soos iemand met ’n sonbril op, soos iemand wat van agter ’n sonbril na die wêreld om haar kyk.
My ma verswak vinnig ná die val. Dis of sy haar selfvertroue verloor het. Sy loop nie meer van haar stoel, waarin sy die dae omsit, alleen bed toe nie. Sy reageer langsamer as ek, haar enigste besoeker nou, die kamer binnekom. Sy tel nie meer die blokke op die vloer nie. Sy begin stadig en moeisaam praat.
Ek het vir haar ’n CD bestel met ou Engelse hymns wat ek soms vir haar speel: “Rock of Ages, cleft for me”, “When I survey the wondrous cross”, “Abide with me”. Ek verbeel my dit maak haar rustig.
Een oggend vroeg bel die suster en sê ek moet kom; dinge lyk nie goed nie. Ek los alles waarmee ek besig is, klim in die motor en ry ouetehuis toe.
My ma lê toe-oë in ’n wit nagjurk in die bed. Ek merk die blou om haar mond. Ek gaan sit langs haar en neem haar hand in myne. Die hand met my pa se verloof- en trouring, wat nou los sit aan haar vinger.
“Hallo, Mamma, hier is ek.”
Eers is daar ’n lang stilte. Dan ’n fluistering: “Hallo … ek het vir jou gewag … jy’t gekom …”
“Ja, Mamma, ek het gekom.”
Ek staan saggies op en skakel die musiek aan.
“Hoor jy, Mamma: ‘Rock of Ages, cleft for me’ … Onthou jy hoe jy dit gespeel het, in die saal van die Seminary?”
Die musiek vul die kamer. Ek sien my ma se mondhoeke beweeg.
Ek gaan sit weer langs haar en gesels met haar oor haar Mammie en haar Daddy, oor haar broer Pieter en oor my pa. Niksseggende dinge wat ek onthou. Sy lê met haar oë toe. Sy lyk so rustig, asof sy luister.
Ek sien mettertyd hoe haar asemhaling vlakker word. Enkele kere probeer sy met die een voorvinger op haar hand skryf, soos wat sy die laaste tyd gedoen het, asof sy iets wil sê. Dan weer gee sy lang gape.
So sit ek die tyd om.
Later gee sy ’n paar diep asemteue, ek hoor ’n roggelgeluidjie, en toe is alles verby.
Ek sit nog lank langs haar bed, so met haar hand in myne, voordat ek my man bel.
’n Week later ruim ek haar woonstel in die ouetehuis op.
Ou skoene, rokke en hoede gee ek vir die personeel, vir vroue met dieselfde grootte as my ma. Aan elke rok kleef my ma se geur. Die bonkige juwele het ek nie raad mee nie; daarmee sal ek later ’n plan maak.
Ek haal foto’s van die muur af; foto’s van my ma as kind, as jongmeisie, as ma, as ouer vrou. Ek haal die foto’s af van haar Mammie en Daddy en Pieter en van my pa, en hang dit teen die muur van my werkskamer. Só bring ek my ma en my pa my kamer binne.
Ek lees my pa se briewe en skrywes, oor en oor:
O laten wij maar zacht zijn
Wij zijn maar als blaren in den wind
Ritselend langs de zoom van oude wouden
En alles is onzeker
En hoe zouden wij weten wat alleen de wind weet, kind –
Ek skryf neer hoe lief my pa en ma mekaar gehad het, al was hulle so verskillend. Ek bring dae voor my rekenaar deur.
Ek dink: Margie was groter as die lewe self. Sy het nie in ’n ouetehuis gehoort nie. Ek moes dit nie toegelaat het nie.
Ek droom drome van my pa en ma. In een droom kom my pa, hoed op die kop, na my toe aangestap. Die lewe is ’n dag lank, sê hy en sy oë lag, en saam met haar ’n dag van geluk.
Ek word wakker, my kussing nat. Ek maak my man wakker.
“Wat is dit?” vra hy, gesteurd.
“Die lewe is maar ’n dag lank,” sê ek, “ons moet dit lewe.”