Читать книгу 'n Ander mens - Zirk van den Berg - Страница 5

Оглавление

Nommer 5

Ver van als, in ’n naamlose deel van die suidelike oseaan, dein die see. Die maanlig skyn silwer op die rug van ’n reusewese wat asem­haal in sy slaap. Op hierdie wye watervlakte begin ’n wind te roer, eers haas onmerkbaar, maar verander tog die plek van sy geboorte, vee gaandeweg sy eie spore uit. Waar hy ook al gaan, sal niemand sy oorsprong presies kan uitwys nie. Teen die tyd dat hy by mense uitkom, sal hulle net vaagweg beduie en sê hy kom uit die suid­ooste iewers. Hy skaaf oor stadig bultende golwe, duik deur diep trôe, streel een of twee keer oor die rûe van walvisse wat opkom vir asem, en waai verder. Die wind sleep homself voort, ’n wurm van weer wat iewers elders gaan gebeur.

Aan die suidwestelike punt van Afrika word hierdie wind in die tregter van Valsbaai ingedruk, tussen die skuins koppe van Kaappunt en Hangklip. Hy tel spoed op, klap soutsproei uit die kruine van branders. Hy tref die strand en dryf snerpende sand tussen die karige sinkpondokke deur, van Muizenberg tot Macassar. Hy huil om die sementsteenhuisies van die Kaapse Vlak en stamp teen die mure van die stewige voorstedelike wonings teen die hellings wat die vlakte begrens. Die wind skeur om die hoek van Duiwelspiek, hark Soutrivier se fabrieksgasse bymekaar en swiep deur die Kaap­se middestad voordat hy koers kies oor Tafelbaai, uit na die oop see toe. Iewers in die Atlantiese Oseaan sal hy ’n stille dood sterf, en die Suid-Amerikaners sal van die hele gedoente niks weet nie.

Hier in die nasleep van die wind loei alarms. Honde blaf en blikkies rol met die klank van krieke. Die metaalagtige geluid dring deur ’n toe venster en in ’n slapende man se oorkanaal in. Jy kon netsowel sy naam vir hom gefluister het. Hy word oombliklik wak­ker, sy gedagtes ’n warboel sonder enige idee van sy omgewing, dis net ’n swart gat vol geraas. Vir ’n oomblik ervaar hy naakte vrees. Dan begin dinge een vir een in die donker vorm aanneem en hy benoem hulle soos die prentjies in ’n kind se eerste woordeboek – gordyn, kas, wekker.

Hy het nooit gedink hy gaan só lewe nie, met die beloftes van half­begrypte fiksie wat stadig wurg in die greep van alledaagse verantwoordelikhede. Al was sy ambisies nog altyd te vaag om op te reageer, het die blote wete dat hulle daar is, onvervuld, nietemin ’n gevoel van mislukking in hom gevestig. Sy lewe haper, soos om met ’n halwe pak kaarte solitaire te speel. Sy werk by die stadsraad gee hom ’n inkomste, genoeg om sy eks-vrou tevrede te stel, of enig­iemand anders wat aanspraak maak op sy geld, maar nie genoeg vir hom nie. Mense wat hom op skool of universiteit geken het, vra hom waarom hy nie ’n ander loopbaan gekies het nie, maar het self geen praktiese voorstelle te maak nie. Dis vir hom moeilik om vir hulle te sê hy wil geen loopbaan hoegenaamd hê nie, en het daarom die maklikste een gekies.

As hy maar net hierdie beginsel toegepas het toe hy ’n eggenoot ge­kies het. Pauline was beeldskoon en fassinerend, maar sy was harde werk. As hy aan haar verwagtinge kan voldoen, het hy destyds gedink, sal hy ’n bewonderenswaardige mens wees. Maar dit het nie so uitgewerk nie, en hier is hy nege jaar later, nog steeds besig om aan haar verwagtinge te probeer voldoen. Ten minste is haar verwagtinge nou suiwer finansieel. Dit dwing hom om vas te hou aan die sekuriteit van ’n vaste inkomste.

Hy dommel tussen wakker en slaap, gepla deur die geraas van buite af en ’n knaende hongerte. Hy draai om en probeer weer die pad droomland toe vat. Maar daar’s ’n gehamer aan die deur. Wat de hel? Hy staan op, in die hoop dat dit net ’n dronk buurman is, en gaan kyk deur die loergaatjie. Die man voor die deur lyk of hy iets te drinke gehad het, maar dis nie die dronkgat van onder af nie. Daniël sit die lig aan en maak die deur oop. “Frank.” Hy staan terug en laat die groot man inkom.

Normaalweg sou hy bly gewees het om vir Frank te sien, want hul verbintenis bied afleiding van sy alledaagse lewe. Frank is ’n entrepreneur wat nooit toelaat dat openbare opvattings oor ordent­likheid hom van ’n vinnige wins weerhou nie. Hy glo ’n mens kan die stelsel uitoorlê en probeer heeltyd nuwe maniere om dit reg te kry. Daniël vind dit moeilik om Frank se slenters ernstig op te neem. Om hulle te bevraagteken het nooit eens by hom opgekom nie. Hy vind dit opwindend om klein takies vir Frank te verrig, meestal net die optel of aflaai van pakkies met ongespesifiseerde inhoud. Dit bring hom in kontak met ’n wêreld wat anders is as die gewone, met die geïmpliseerde moontlikheid dat ook hy daardie milieu kan betree.

“Het ek jou wakker gemaak?” vra Frank en druk verby hom.

“Nee, die wêreld wil my nie vannag uitlos nie.”

“Ek het presies die teenoorgestelde probleem. En ek wil nie uitgelos wees nie.”

Daniël het Frank nog selde sonder minstens twee of drie ander mense in die omtrek gesien. “Waar’s die ander?”

Frank laat flop sy swaar lyf in ’n stoel in. Als van hom is bui­ten­gewoon groot, maar als is in proporsie. ’n Mens let nie sy grootte op nie, totdat jy hom langs iets anders sien. Nou laat hy die stoel klein lyk. “Elkeen het die een of ander fokken storie – meisies en vrouens en kinders. Ek weet nie wat met die wêreld aangaan nie. Rassie en Slier was nog laaste, maar Slier het bloedbek gekry by die laaste plek en is huis toe. Rassie het in die kar uitgepaas.”

Daniël onthou meteens dat hy in sy slaapklere is. “Miskien is dit tyd dat jy ook huis toe gaan.”

“Se moer. Ek’s nog lank nie gereed nie.”

“Fokkit, Frank, dis al ná twee.”

“Aag wat . . . Ek het nou die ouderdom bereik waar, watter tyd dit ook al is, die nag is nog jonger as ek.” Frank laat leun sy kop agteroor teen die stoel en maak sy oë toe. So lyk hy oud, selfs weer­loos, al is hy seker net in sy vyftigs, raai Daniël. Dis sulke tye dat hy homself betrap met ’n gevoel van vertedering vir die man – wanneer daar niks oordadig of arrogant aan Frank is nie, en jy kan sien hy’s net vlees en polsende bloed, en dat ouderdom en kranklikheid hom ook bekruip, en dat hy eendag sy lewe sal verwyt en sal kla oor die feit dat hy niks geweet het nie van die goed wat Daniël hom nou sou kon vertel het, as hy gedink het dit sou help. Maar Frank sal nie nou kan verstaan of bereid wees om eens te luister nie. Hy is vasgevang in ’n rol wat hy vir homself gekies het. Warhoofdig as wat dit seker is, is daar nie baie mense wat die lewe van hul keuse het nie. Miskien is dit wat Frank so onweerstaanbaar maak – hy laat enigiets moontlik lyk, teen die verwagting in. Met iemand soos hy in die omgewing, lyk dit of daar die kans is om ’n fortuin te maak en met ’n pragtige meisie op te eindig, of om ten minste lekker te lag.

“Komaan,” sê Frank skielik. “Daar’s iemand aan wie ek jou wil voorstel.” Hy kom orent en gaan vat vir hom melk in die yskas.

“Ek moet môre werk.”

“Toe ek jou ouderdom was, het ek drie ure per nag geslaap, week in en week uit.”

“Ek’s nie so taf nie.”

“Moenie jý my ook nog in die steek laat nie. Dit sal net ’n uur wees, op die meeste. Komaan, man, dan skuld ek jou.” Hy hou sy sleutels na Daniël toe uit. Frank opereer in ’n wêreld van immorele verpligting. Hy deel links en regs gunste en gawes uit, en kollekteer dan daarteen soos lenings. Wat Frank eintlik bedoel is dat Daniël hom kan terugbetaal vir die lekker tye, die vertroue en die onvergeetlike oomblikke wat Frank oor die laaste twee jaar op sy pad ge­­bring het.

“Gee my net kans om aan te trek.”

Daniël kry ’n skoon onderbroek en grawe gisteraand se boklere uit die wasgoedmandjie. Vyf minute later is hulle op die trap, op pad af na Frank se kar toe.

“Nou waar de hel is Rassie nou?”

Jy kan nie deur die kar se vensters sien nie. Eers toe hulle die deur oopmaak, sien hulle die jong polisieman op die agterste sitplek lê. Die reuk van opgooi is oorweldigend.

“Die bliksem het in my kar gekots.”

“Los dit. Kom ons vat myne.” Hulle klim in Daniël se Corolla. “Waar­heen gaan ons?”

“Langstraat. Ek sal jou sê hoe van daar af verder.”

Die middestad se strate is leeg buiten dit wat in die wind rondwaai. Koerante flap en tuimel, tjipspakkies skuif rond en plastieksakke spiraal hoog op tussen die toringblokke. Bo in Langstraat sien jy straatmense in deuropeninge gebondel. Helder verligte winkelvensters adverteer oudhede, tweedehandse boeke, die kans om te eet en te drink, en kaaldansers. Heaven, sê die een teken, The only place to be!

“Dis hier rond,” sê Frank. “Stop daar onder die straatlig.”

Hulle klim uit en Daniël sluit die kar. “Hierdie donnerse wind.”

“Ons is nou-nou binne.”

Frank lei hom in ’n stegie af, ongelyke grond met graffiti alkant op die mure en groot hope van wat soos hondestront lyk, behalwe dat daar geen honde in hierdie area is nie, net mense. Hier en daar is daar deure in die muur versink. Frank kom by een tot stilstand en klop.

“Wat vir ’n plek is dit?” vra Daniël.

“Kan jy glo iemand bly hier?”

“Niemand gaan dié tyd van die nag wakker wees nie.”

“Jý was.”

Die deur gaan op ’n skrefie oop. “Wat de fok nou?” ’n Vrouestem. “O, ek dog jy’s iemand anders.”

Frank grinnik. “Is jy nie bly dat ek nie is nie?”

“Nie wat nie?”

“Nie iemand anders nie.”

Sy sug en loop weg, los die deur oop. Frank loop agterna en wink vir Daniël om te kom. Dis een van daardie lang, smal huise wat tussen twee ander ingedruk is, met een gang regdeur tot by die kombuis aan die agterkant, en al die kamers aan die een kant ingeryg. Net die kombuislig is aan. Die meisie is so vyf-en-twintig, in haar japon, besig om brood te rooster. “Ek kom nou net van die werk af. Wil jy ook hê?”

“Nie as jy van toast praat nie.”

Sy kyk na Frank, haar oë swart en onpeilbaar soos ’n rob s’n. “Ek praat van toast.” Dan kyk sy na Daniël, en terug na Frank.

“O ja, dis Daniël . . . Daniël, Snazz,” stel Frank hulle voor.

Die vrou smeer grondboontjiebotter op haar brood, en stroop, eet dit dan asof hulle nie daar is nie. Sy is ’n professionele meisie, moeg en met g’n respek vir mans nie.

Frank lyk salig onbewus hiervan. “Hoe’s dinge met jou deesdae? Gaan dit darem okay?”

“Omtrent wat mens kan verwag.”

“Het jy die pakkie gekry wat ek laas maand gestuur het?”

“Ja, en ek het gedoen wat jy wou hê. Jy behoort te weet – jy’t die geld gekry.”

“Ek wil maar net weet waar ek staan.”

“Maak dit saak, solank dit op jou eie twee voete is?”

Frank grinnik. “Het jy nie daar iets wat ’n man kan drink nie?”

“Gaan help jouself.”

“Daniël, wil jy iets hê?” vra Frank.

“Nee, ek’s okay.”

Die meisie praat vir die eerste keer met Daniël. “Kry vir jou ie­wers om te sit. Daar’s ’n bankie daar onder die toonbank.”

Hy gaan sit, voel ongemaklik. Dis duidelik dat Frank van plan is om hierdie meisie te streep. Hy hoop Frank verwag nie dat hy ook ’n beurt vat nie. Hy het lank gelede besluit om nie met prostitute uit te hang nie, die post-orgasmiese weersin is net nie die moeite werd nie. In elk geval, noudat hy haar kombuis gesien het, is dit onmoontlik om ’n fantasie oor hierdie meisie te hê, en jy moet fan­tasieë hê met ’n prostituut, jy wil nie weet hoe sy regtig lewe nie.

Frank kom terug met ’n swart drankie, Coke gemeng met rum of brandewyn of iets. “Tjeers!” Hy vat ’n lang teug en trek ’n gesig met die slukslag. “Jissis, ek dink wat ek nou nodig het, is iets wat my opzoep . . . Het jy al gesien in die flieks waar hulle hierdie ou vlugsout gee en hy kom sommer dadelik by? So iets.” Hy kyk na die meisie.

“Ek sal vir jou kry.” Sy verdwyn in die donker gang af. ’n Lig gaan in een van die kamers aan.

Frank sluk sy drankie af. “Het jy al die goed gebruik?”

Daniël skud sy kop, nee. Hy is bang vir dwelms, bang dat hy beheer sal verloor en die een of ander dom ding aanvang wat sy lewe verwoes. Ten minste is sy lewe, sover altans, op die oog af respektabel. “Ek gee al klaar te veel geld uit net op sigarette.”

“Ek beter gaan kyk dat sy nie als self gebruik nie.”

Alleen in die kombuis, steek Daniël ’n sigaret op. Dit proe nie so goed in die middel van die nag nie. Hy kyk na die rook en begin ander goed opmerk – vliegspatsels op die lampskerm, ’n poskaart van ’n Turkse strand op die yskasdeur, ’n gebruikte teesakkie op ’n piering. Hy druk die stompie dood, hou sy hande ’n ruk lank stil en begin uiteindelik met sy vinger strepe trek deur die broodkrummels op die toonbank, skryf letters wat ná die tyd onleesbaar is. Dan hoor hy die meisie se stem. “Ek skuld jou fokkol.” Daar’s ’n kassetspeler teen die muur. Daniël druk die speelknoppie en draai die volume op, hoor vertonerige schmaltz waarna hy in g’n jare ge­luister het nie. Nou kom Frank se stem. Daniël draai die knop ver­der, probeer om die klanke uit die kamer uit te verdoesel. Wat was hierdie groep se naam nou weer?

Hy probeer die tyd onthou toe hierdie musiek gewild was, waar hy was toe hy dit die eerste keer gehoor het. Hy kan dit nie plaas nie, maar daar’s ’n definitiewe gemoedstoestand wat hy met die musiek assosieer, ’n romantiese desperaatheid. Dit was seker ’n goeie tien jaar gelede, iewers in die 1980’s, en hy was dus depres­sief: ’n dekade van dooie soldate en oproer en wreedheid, getroud met Pauline. Sy kom oor ’n paar weke Kaap toe en het laat weet hulle moet mekaar sien. Fokkit, maar hy’s moeg. Hy besluit hy gaan huis toe. Met Frank kan die nag maklik tot die volgende dag aanhou. Hy sal loop en die sleutel daar los, of miskien kan die meisie vir Frank huis toe vat.

Hy loop op sy tone in die gang af om die twee nie te steur nie. By die strepie lig loop hy stadiger en loer by die oop deur in. Die meisie is op haar maag, donker teen die laken. Frank is op haar rug, stut sy gewig met die een hand terwyl die ander haar gesig in die kus­sing druk. Sy massiewe wit agterstewe pomp grotesk. Haar vin­gers maak snaakse rukbewegings teen die linne. Daniël staan agteruit. Hy beter maar wag.

Terug in die kombuis, het die kasset by sy einde gekom. Daniël sit die ander kant op en steek ’n sigaret aan. Dis funky hip-hoppe­rige musiek, aggressief en polities. Die goeie kant van die saak is dat hy klaarblyklik Frank se binnekring bereik het. Hulle twee sal voort­aan ’n private avontuur hê waarna hulle kan verwys as daar ander mense by is, die band van ’n gedeelde geheim. Selfs Slier en Jeannette sal beïndruk wees, afgunstig. Die slegte kant – hy is alleen in ’n vreemde kombuis in die middel van die nag, besig om aan ’n siga­ret te sit en suig terwyl Frank iemand met die snotsambok bykom.

Toe Frank uiteindelik te voorskyn kom, kyk hy na die twee sigaretstompies in die asbak en vra om verskoning dat hy Daniël laat wag het. Hy skink nog ’n drankie, nes die eerste. Dis brandewyn, Klippies, merk Daniël op. Die groot man sluk dit effens stadiger as die vorige keer. Die meisie kom nie uit nie.

“Sy’t seker aan die slaap geraak,” verduidelik Frank.

“Sy het moeg gelyk.”

“Jy lyk ook nie so danig op en wakker nie.”

“Ek is nie.”

Frank sug. “Okay, dan moet ons seker nou maar gaan.” Hy gaan wasbak toe, was sy glas, droog dit af en sit dit weg. “Ek’s reg.”

Die slaapkamer se lig is af toe hulle uitstap.

Hulle ry in stilte huis toe. Die wind is besig om die stad uitmekaar uit te waai. Dis moeilik om te glo dat hierdie betonkarkas ooit lewe.

By die woonstel besluit hulle om vir Rassie in Frank se vuil kar te los met ’n sleutel, sodat hy huis toe kan gaan wanneer hy wakker word. Daniël gee vir Frank sy kar se sleutels.

“Dankie, ek sal dit vir jou teruggee.”

“Ek kan werk toe loop, moenie worry nie.”

Frank kyk na die Corolla. “Ek kan vir jou ander wiele in die han­de kry, so gou soos nou, as jy iets beters wil hê.” Hy kyk na Daniël, sy kuif regop gewaai in die wind. “Sê net wat jy wil hê. Nou nie ’n Rolls nie, natuurlik . . . maar ek kan vir jou ’n Jag kry as jy wil.”

“Nee wat, bring maar net hierdie een terug voor die naweek.”

“Okay, maar onthou wat ek gesê het.”

Terug bo in sy woonstel trek Daniël sy klere uit en klim in die deurmekaar bed. Hy’s moeg, maar sy gedagtes wil nie tot ruste kom nie. Seker die sigarette, dis nooit ’n goeie idee in die nag nie. Jissis, daai kombuis was ’n misrabele plek. Hy wens hy het liewer nie saam met Frank gegaan nie, maar dis moeilik om vir die man nee te sê. Hy rol op sy sy en probeer op sy asemhaling konsentreer. Dit help partykeer. Sy voete is koud en hy skop heen en weer onder die komberse, probeer deur die oefening en wrywing hitte opbou. As hy nou net weer sy asemhaling tot bedaring kan bring . . .

Iewers te midde van dit alles hou hy op om bewus te wees van sy gedagtes.

Toe hy die volgende keer wakker word, is dit nog steeds donker. Hy onthou die droom wat hy gehad het. ’n Klein, kaalkop manne­tjie met ’n jas het op hom afgestap in die gang, die een net buite sy slaapkamerdeur. Die mannetjie het ’n kussing vasgehou waarmee hy Daniël wou versmoor. Hy was so klein dat hy in werklikheid skaars ’n bedreiging sou wees, maar tog het hy op Daniël afgestap met absolute selfvertroue. Dit was die skrikwekkendste van als, dat die mannetjie so emosieloos naderkom, so seker van sukses. Niks ontstig Daniël soos onredelike sekerheid nie, en alle sekerheid lyk vir hom onredelik – ’n domonnosele ontkenning van die wêreld se kompleksiteit, van die veelvuldige moontlikhede wat in elke oomblik bestaan, oraloor, en elkeen van hulle op die punt om tallose fe­no­menaal vrugbare nasate van hul eie te laat ontkiem. Die manne­tjie in die droom was skynbaar totaal in besit geneem deur net een enkele moontlikheid: dat hy die kussing hard en lank genoeg op Daniël se gesig sal druk om dood weens versmoring te veroorsaak, ’n stadige blouword van die kiewe. Hy het nie rekening gehou met die moontlikheid dat ’n leë koeldrankblikkie wat verlede week deur die een of ander niksvermoedende verbyganger weggegooi is, met­eens deur die wind losgewikkel sou word en genoeg geraas sou maak om sy slagoffer uit sy greep weg te raap nie. In daardie oomblik verloor die mannetjie sy vermoë om enigiets te doen. Hy word iets van die verlede, en niks nuuts kan ooit in die verlede gebeur nie. Die toekoms is anders in die sin dat dit anders kan wees.

Die verantwoordelikheid wat dit impliseer, maak dat Daniël opkrul en sy ore met sy beddegoed bedek. Hy moes daai bliksemse blikkie opgetel het toe hy daar buite was. Dit het hom nou al twee keer in een nag wakker gemaak, en hy hou nie daarvan om in die donker wakker te wees nie. Sy gedagtes in die nag maak hom bang. Hy is tot in sy gebeente toe moeg, maar hy wens die dag wil kom.

* * *

TWEE dae later, by die werk, probeer Daniël sin maak van die no­tu­les wat hy self by ’n vroeëre vergadering geneem het. Het die komiteevoorsitter werklik bedoel om te sê die rioolstelsel in die onderste deel van die stad is verstront?

“Daar’s iemand vir jou daar voor.”

Daniël kyk om. Bill Bezuidenhout staan in die opening van sy werkhokkie, sy nek in dik pers voue oor sy boordjie. Hy dra altyd sy blou das met die Westelike Provinsie Rugby Unie se rooi disa, ’n knellende herinnering aan sy gloriedae as provinsiale speler. Hier’s nou iemand wat slegter daaraan toe is as hy self, dink Daniël, want Bezuidenhout was eens beroemd. As jy nie suksesvol kan wees nie, wees dan anoniem, glo Daniël. Dis die tweede beste ding.

“Is jy seker dis vir my?”

“Groot moer wat sy sonbril binnekant dra.”

Jissis, Frank! Besef hy dan nie hy’s nie veronderstel om hierheen te kom nie? Dis ernstig, dink Daniël. Dis die grondslag van sy lewe hierdie. Dis wat hy doen sodat hy die vervelige aande kan hê, die naweke van verwyt.

Daniël loop in die poeierige wit neonlig wat skynbaar van als af kaats. Die ganse kantoor gloei asof dit van was gemaak is. Die mat verdoesel klank, die plafon is wolkwit. Bokant die afskortings kan hy iemand se kop sien wip. Die bruin hare, die wit krytlyn van die paadjie . . . Hy herken die kop dadelik. Dis ’n vrou met wie hy iets in gemeen voel. Sy woon ook alleen. Hulle gesels nooit, dit sou net die wedersydse herkenning van sware eensaamheid bederf. Nes als hier is die verhouding eenvoudig en onder beheer. Dis nie die plek vir Frank nie.

Die groot man staan naby die ingang, besig om die blare van ’n delicious monster doelloos in repe te skeur.

“Frank.”

Frank lag dawerend. “Hoe’s dinge?”

“Ons behoort nie besoekers hier te kry nie.”

“Jy behoort nie in so ’n plek te werk nie.”

“Wat bring jou hierheen?”

“Komaan, ek wil vir jou iets wys.” Frank druk die hyser se af-­knoppie.

“Ek is nie veronderstel om in werksure uit te gaan nie.”

Frank kyk verby Daniël. “Ek kan hierdie plek nie verstaan nie. Hoekom kom werk jy nie liewers vir my nie?”

Daniël kyk by die venster uit. ’n Piepklein karretjie trek agteruit in ’n parkeerplek in. “Dankie, maar . . .”

Die hyser kom aan. Sy deure gaan oop en die drie mense binne skuifel agtertoe om vir die nuwelinge plek te maak. Sodra hulle in is, draai Daniël om en kyk na die groef waarin die deur toeskuif.

“Dink bietjie daaroor. As jy vir my werk, is daar niks van die klas stront wat jy in ’n plek soos hierdie moet opvreet nie.”

Daniël ys. Hoekom kan Frank nie sy mond hou in die hyser nie? Nes ander mense.

“Jy’s seker die slimste ou in hierdie hele donnerse gebou.”

Daniël wéét daar word agter sy rug vir mekaar gekyk. “Daar’s ’n klomp baie slim mense hier.”

“Nou vir wat werk hulle dan nie vir hulself nie?”

“Daar’s party werke wat mens net kan doen in ’n opset soos hier­die.” Daniël het stadsbeplanning in gedagte, maar kan nie aan nog ’n voorbeeld dink nie.

“Maar dis nie die goed wat jy doen nie. En laat ons nou maar eer­lik wees, jy doen in elk geval nie die goed wat jy met jou lewe behoort te doen nie.”

Grondvloer. Die hyser laat sy lukrake proefgroep van die mensdom vry. Daniël stap uit sonder om om te kyk. Hy hoop dat nie een van die ander mense sy gesig sal onthou nie. ’n Entjie verder voel hy hy kan vir Frank aanspreek. “Jy kan nie goed sê soos wat jy nou in die lift gesê het nie. Ek moet hierdie mense elke dag in die gesig kyk.”

“Nee man, jy hoef nie. Dis presies wat ek vir jou probeer sê. Te hel met hulle en hulle kleinlike stront.” Frank wink vir iemand wat vir hulle wag in ’n dubbelgeparkeerde Mercedes.

Daniël voel gekwets dat Frank so min respek vir sy lewe het, maar daar is geen manier waarop hy dit kan sê nie. Sy Corolla verskyn om die hoek, agter die Mercedes. Dit lyk op ’n manier anders . . . Dan sien Daniël die blink rims en breë bande raak.

“A, Frank, jy moes nie.”

“Hei, jy’t nuwe bande nodig gehad, toe dog ek ons kan netsowel die beste daarvan maak. En hoe gereeld kry ek nou die kans om vir jou iets te doen? Ons moet mekaar help waar ons kan.”

* * *

DANIËL vind dit makliker om in die dag te slaap. Dis deel van sy program oor naweke, om slaap in te haal. Die Sondag staan hy eers ná elfuur op en ploeter deur sy woonstel, wonder wat om te doen. Die weer lyk goed, een van daardie perfekte Kaapse dae met warm, helder son en die lug wat net genoeg beweeg om die hitte draaglik te maak. Hy blaai deur sy foonboekie. Die name en nommers behoort aan mense wat hy nie sosiaal sien nie, of wat verhoudings en families het wat hulle Sondae besig hou. Hy dwaal venster toe. Die lug bokant Duiwelspiek is ’n diep blou. Hy sal homself vir mid­dagete vat, besluit hy, in die Tuine. Daar is voëls en bome en mense. Jy kan daar sit en deel van die lewe voel.

Hy trek sy swart chinos aan, ’n broek wat nie meer goed genoeg is om mee te gaan werk nie, en ’n sagte katoenhemp met dieselfde kleur as sy tande. Buite voel die dag so lekker as wat dit gelyk het. Daar is ’n stilte wat als kosbaar en opwindend laat lyk. Halfpad na sy kar toe stop hy. Hy kan net nie gewoond raak aan daardie bui­ten­sporige wiele nie. Hy sou nooit vir homself so iets gekoop het nie. Die rims skree testosteroon en hy verkies ’n besadigde kar. Ag, fok, dis seker in elk geval beter om te stap. Hy sien ’n paar ander woon­stelbewoners, aangetrek vir die strand, met groot hoede en helder hemde, opgerolde handdoeke onder die arm. Hulle klim in hul karre en ry weg. Hy loop middestad se kant toe.

Hier hang haweloses se klere langs leë erwe aan heinings om droog te word. Hy loop onder die plataanbome tussen die polisie­kantoor en die landdroshof deur. Hulle wortels het die sypaadjie laat kraak. Bo sy kop ritsel blare. Om die hoek van die Dorpshuis af, net agter die kerk, veg duiwe en seemeeue vir sitplek op die kop van ’n groter as lewensgroot standbeeld van die een of ander goeie, dooie politikus. Daniël loop nie meer alleen nie. Groepe tieners uit die townships kom op van die stasie se kant af, die ouens met hul lae holhangbroeke en blêrbokse, die meisies met hulle gegiggel en tersluikse kyke. Hy kies koers anderkant om die blok. Aan die ver punt kom hy dieselfde klomp weer teë. Hul paaie vloei saam in die eikelaning tussen die Parlement en die St. George-katedraal. Elke nou en dan kan jy opkyk en Tafelberg se boonste kabelstasie sien, omraam deur eikeblare. Hy stap regs deur die hek Kompanjiestuin toe. Hier sien hy mense wat uit die stad se boonste buurte afgekom het, ander woonstelbewoners wat kom om die son en groenigheid te geniet, om nog mense soos hulself te sien. Daar is ’n klompie wat hy herken: die bedremmelde jong man met die wollerige hare en skaapagtige uitdrukking, op soek na ’n leë parkbankie; die maer roker wat afgetrokke krap aan die tatoeëermerk op sy arm; die ge­skende vrou wat na blomme ruik; die byna-bekende ou digter wat haastig loop asof hy iewers anders as die graf het om heen te gaan. Daniël het hulle al hoeveel kere gesien. Miskien het hulle hom ook al opgemerk, en oogkontak vermy, nes hy.

By die restaurant het ’n klompie gelukkige mans ’n skaakklub aan die gang – hulle het ’n verskoning om daar te wees én om nie te praat nie. Daniël kry ’n leë tafel aan die een kant, ’n bietjie te naby aan ’n stink vullisdrom. Hy lees die spyskaart aandagtig, asof hy dit nie al ’n honderd keer tevore gedoen het nie. Hy moes ’n boek saamgebring het. Dan sit die ou man by die tafel langsaan sy keps op en kom op die been, loop weg en los sy koerant op die stoel. Sodra die man agter die boom verdwyn, leun Daniël oor en vat die koerant. President Mandela het die een of ander iets gesê wat die voorblad gehaal het. Die kelnerin kom en hy bestel tuna mayonnaise toast en koffie, met appeltert daarna. Met dit afgehandel, slaan hy die koerant oop op die tafel. Die wind is sterk genoeg om die blaaie te laat fladder. Hy sit die sout- en peperpot op die een verste hoek neer en die suikerpot op die ander om die papier plat te hou. Hy staar na die gedrukte letters sonder om te lees. Dis net iewers vir sy oë om te rus wanneer hy nie na ander mense kyk nie. En as hulle na hom kyk, lyk hy ten minste nie so simpel nie. Hulle sou kon dink hy is hier omdat dit is wat hy gekies het, uit al die baie dinge wat hy kan doen, dat hy ’n vry en onafhanklike man is, selfs miskien ietwat misterieus, iemand wat ’n ruskans vat uit sy opwin­dende en genoeglike lewe. As jy nie weet nie, kan hy enigiemand wees.

Voëls sing en mense praat. Die son skyn. Die aarde draai deur dag en nag. Miskien nou nie geluk nie, maar ten minste tevredenheid lyk heel moontlik.

Die kelnerin verskyn met sy twee borde en koffiekoppie. Toe sy weer weg is, trek hy sy stoel nader, stamp teen die wankelrige tafel en stort die koffie. Hy skuif die piering weg en vryf die vloeistof in die papier in, sien sy hand vee oor ’n bekende gesig. Sy kyk na hom met ’n skooldogter se glimlag.

AKTIVIS SE DOGTER VERMOOR. Die identi­teit van die jong vrou wat vroeër vandeesweek in haar huis in Langstraat dood aan­­getref is, is bekend gemaak. Sy was Nazla Hassan, dogter van die anti-apartheidsaktivis Nazier Hassan, wat in 1986 in aanhouding gesterf het. Volgens ’n segsman van die polisie, luitenant Chris Loots, is me. Hassan dood weens versmoring. Daar was ook tekens dat sy seksueel gemolesteer is.

Daniël lees ylend deur die res van die berig, maar dis meestal oor hoe sy gelewe het, min oor haar dood. Hy herlees die eerste paragrawe. Toe hy uiteindelik opkyk, is die wêreld ’n spook van dit wat vroeër was. Figure beweeg in die landskap, maar maak geen geluid wat hy bo die gedruis in sy kop kan hoor nie. ’n Man buk vorentoe en praat, sy hand op ’n ander man se skouer. ’n Vrou gooi haar kop agteroor en maak haar mond wyd oop, haar lag net tande om ’n ronde swart gat. ’n Kelnerin dra ’n skinkbord vol vuil skottelgoed deur die prentjie, van regs na links. Daniël kyk hierna soos na los tonele uit ’n reisdokumentêr, met ’n dreuning op die klankbaan. Het hy ’n moord gesien? En as dit wel so is, kon hy iets gedoen het om dit te keer? Hoe skuldig is hy, en aan wat?

Hy probeer elke detail onthou van die oomblik toe hy Frank en die meisie van die deur af gesien het. Haar krampagtige vingers, Frank se uitgestrekte hand wat op haar agterkop druk. As sy wou, sou sy kon losgekom het? Daniël kan nie seker wees nie.

Sy koekvurk klik op die leë bord. Hy het sy tunabroodjie en die appeltert opgeëet sonder om dit eens agter te kom. Daar is ’n effe suur smaak in sy mond. Wat ’n verkwisting – die hoogtepunt van sy week het ongemerk verbygeglip. Hy is eensklaps kwaad vir elke donnerse ding wat maak dat sy lewe minder is as wat dit kon gewees het, minder as wat hy verwag het. Dis nou al jare dat sy lewe so toetentaal teleurstellend is. Hy word skoorvoetend meegesleur deur eksterne magte, tevrede om maar net nou en dan ’n klein plesiertjie te geniet. Om dit nou ook mis te loop is onaanvaarbaar, verdomp. Frank is besig om dinge vir hom te begin bederf.

Hy vee sy mond skoon en staan op, vat ’n vinnige sluk koffie en loop na die uitgang op Koningin Victoriastraat. Van hier af is dit net twee blokke na waar Snazz . . . Nazla gebly het.

Hy moet gaan kyk. Hulle sê misdadigers gaan altyd terug na die toneel toe. Hy hoop nie die polisie hou die plek dop nie, maar dis hoogs onwaarskynlik. Met soveel moorde in die stad elke week, sal die gereg nie te veel maak van die moord op nog ’n prostituut nie. Die enigste rede hoekom dit hoegenaamd die koerant gehaal het, is oor haar pa.

Hoe nader hy aan haar plek kom, hoe meer kyk hy rond om te sien of daar enigiemand is wat dalk van die polisie is, maar almal wat hy sien, lyk na die soort mense wat self so ver as moontlik van die polisie af sou wou wegbly. Die steeg is dolleeg. Hy draai daar in, sy hart woes aan’t klop. Dit verras hom meer as enigiets. Wat sou hy nou daar kan teëkom wat hom so gespanne maak?

Dis maar net dieselfde mure met die pleister wat deur die verf wys, ’n verbleikte baksteenrooi deur waar die verf van afskilfer, ’n nommer bo die briewegleuf geskryf. Hy wil klop, net om te sien. Mis­kien maak Snazz oop en was hy verkeerd dat sy die slagoffer is. Miskien is daar ’n polisieman wat hom graag sal wil ondervra. Waarskynlik sal niks hoegenaamd gebeur nie. Daar sal net die eggo’s van sy geklop in die leë steeg wees.

Hy kies koers huis toe, terug na sy beteuterde alledaagse be­staan. Dieselfde gedagtes draai oor en oor in sy kop, word net nou en dan onderbreek as hy die een of ander kleinigheid in verband met sy omgewing herken. ’n Hawelose hoer kom val omtrent teen hom. “Whitey, wil jy naai?” Sy gryp haarself tussen die bene en wikkel haar hand rond. Haar skene is vol sere. Hy beduie sy moet fokkof.

Naby sy woonstel kyk hy op en sien twee onbekende mans voor sy deur staan. Albei lyk in hul laat twintigs. Die agterkant van die een se hemp bult onder die arms – seker ’n liggaamsbouer. Die ander een is skraler, maar dra ook klere wat ’n nommer te klein lyk. Hulle is nie goed genoeg aangetrek om Jehovasgetuies te wees nie. Daniël raai hulle is van die polisie, werk vir Frank, of albei. Hy voel nie lus om hulle te konfronteer nie, selfs al is hulle dalk net slordige sektelede. Hy glip om ’n hoek en in die volgende woonstelgebou in, deel van dieselfde kompleks. Hy klim een stel trappe tot by ’n venster wat oor sy blok uitkyk. Hiervandaan hou hy die twee mans dop. Die dik ou steek ’n sigaret op. Dit lyk of hulle die situasie bespreek. Twee jong meisies kom by die trap af en kyk agterdogtig na Daniël, en hy begin verder klim, maak of hy op pad is boontoe. Op die volgende vlak gaan staan hy by ’n soortgelyke venster en kyk. Nou timmer die maer ou aan die deur. Hulle staan nog bietjie rond, weet nie wat om met hulself aan te vang nie. Die een hurk ’n ruk en kort daarna loop albei weg. Daniël wag nog ’n paar minute.

By sy woonstel kry hy ’n nota onder die deur. Hy raap dit op en glip binnetoe. Frank soek jou. Dringend. Hy kyk deur die loergaatjie om seker te maak daar is niemand buite nie. Dan sit hy die nota terug waar hy dit gekry het. Hy kan altyd maak of hy nie die bood­skap gekry het nie. Hy gaan venster toe en probeer sien wat in die straat aangaan sonder om self te na aan die ruit te kom. As die twee boodskappers in ’n kar sit en wag, sal die vensters oop wees in hier­die hitte. Al die karre wat hy kan sien se vensters is toe. Tevrede dat die twee weg is, pak hy ’n stel klere en sy badkamergoed in. Hy loer vir oulaas deur die venster, draf dan met die trap af en klim in sy kar.

’n Paar blokke ver vat hy soveel draaie as moontlik, net om dit moeiliker te maak vir iemand wat hom dalk agtervolg. Hy moet be­sluit waarheen om te gaan. Sy pa? Hy is verbaas om te besef dis die eerste persoon wat by hom opkom, dat dít is waarheen hy sou ge­gaan het as die opsie nog daar was. Hy het omtrent nooit soontoe gegaan toe sy pa nog gelewe het nie. Hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Die ou man het niks goedgekeur wat Daniël doen nie – of enigiemand anders, om die waarheid te sê. Niemand was verbaas toe Daniël se oudste broer besluit om op te pak en Nieu-­Seeland toe te trek nie. Selfs Daniël se jonger suster, wat deur een en almal as ’n engel beskou word, het skaars haar pa se goedkeu­ring weggedra. Daniël dink hy moet miskien na haar toe gaan. As Renée by die huis is, sal sy hom verwelkom, hulle sien te min van mekaar. Hy vat die nasionale pad noordwaarts en steek ’n sigaret op.

Renée bly in ’n nuwe woonbuurt saam met die ou skoolvriend met wie sy getrou het. Daniël verwag nie om haar man by die huis te kry nie. Ná die troue het Richard die eindelose partytjies van sy jeug vervang deur eindelose rondes gholf. Daniël was al heelparty keer daar, maar die paaie in die buurt volg geen herkenbare patroon nie en hy weet nie wat die adres is nie. Gelukkig herken hy die huis ná ’n rukkie van rondry.

“Wel, slaat my dood,” sê Renée deur die veiligheidshek. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het.” Sy is skraal en donker, halfpad onderweg om ’n abortiewe haarstyl te red.

“Miskien is dit omdat jy so baie na Ma lyk.”

“O, genade, moenie dit sê nie.”

“Kyk jy dan nooit in ’n spieël nie?”

“Nie as ek dit kan verhelp nie.”

“Daar’s niks daar om voor skrikkerig te wees nie.”

“Ouderdom. Dis skrikwekkend vir ons vroumense.”

Die gedagte tref Daniël dat hy onder die omstandighede banger is vir jonk doodgaan as vir oud word.

Sy suster maak verskoning vir die huis se toestand, heel onnodig, en bied aan om vir hom koffie of bier te bring.

Voordat hy kan antwoord, kom ’n kleuter in die sitkamer inge­wag­gel. “Is dit klein Richard? . . . Magtig, mannetjie, maar jy’t ge­groei! Jy’s ’n reus!”

Die seuntjie hardloop en druk sy gesig teen sy ma se been.

Dit als lyk baie lekker, besef Daniël. Dis die soort huis waarin hy grootgeword het, die soort waarin hy waarskynlik behoort te bly. Maar dinge het nie so uitgewerk nie en hy het in ’n ander soort lewe beland.

Die telefoon lui. “Laat ek net gou gaan hoor,” sê Renée en verlaat die vertrek. Die seuntjie draai sy rug op Daniël en vat aan droë grasse wat in ’n koperpot gerangskik is. Dis deel van die landelike rangskikking rondom die klipkaggel, ’n bietjie ersatz-plaaserfenis te midde van die volvloermatte en sagte vinielmeubels. Dan is Renée terug. “Dis vir jou.”

“Niemand weet ek is hier nie.”

“Duidelik weet iemand dit tog.”

Die lug word dik in Daniël se bors. “Het jy gesê ek is hier?”

Sy knik.

“Gaan sê asseblief ek het net gou uitgeglip om melk te gaan koop of iets. Vat ’n boodskap, dan sal ek terugbel.”

“Is jy seker?”

“Asseblief.” Hy gaan sit op die naaste stoel en luister na haar wat praat. Die seuntjie loer na hom van agter ’n gemakstoel.

Renée kom terug. “Hy wil nie ’n boodskap los nie. Hy’s glo op pad iewers heen en sal later weer bel . . . Dit klink ernstig. Is dit werk?”

“Nee, net hierdie ou met wie ek nie wil praat nie. Hy dink ek skuld hom iets.”

“En . . . is dit so?”

“Nie soveel as wat hy dink nie.”

“Hy klink vasbeslote, as hy jou hier bel.”

“Ek het seker een of ander tyd voor hom oor jou gepraat. Anyway, moet jou nie daaroor bekommer nie. Ek sal vanaand na hom toe gaan en als uitsorteer.”

“Dit klink geheimsinnig. Opwindende lewe wat jy het.”

“Nie gewoonlik nie.”

Sy strek haar hand uit en die seuntjie kom sit syne daarin. “Was dit koffie wat jy wou gehad het?”

“Miskien moet ek liewers maar net gaan.”

“Nee, man, bly ’n rukkie. Jy’t dan nou net hier aangekom.”

“Nee, hierdie ou . . . ek moet maar by hom uitkom. Hy gaan my nie uitlos nie. Dit bederf my dag om te weet hy’s op my spoor.”

“Wat moet ek doen as hy weer bel?”

“Sê net ek is weg en ek sal kontak maak.”

Die kind begin kerm en Renée tel hom op. “Richard sal spyt wees hy’t jou misgeloop.”

Daniël knik asof hy die leuen glo. “Ek ook. Miskien volgende keer.”

Hy ry weg en verdwaal weer in die strate. Laat dit nou ’n les wees vir enigiemand wat hom probeer agtervolg, dink hy wrang. Hy brand net petrol, dink soos hy ry. Frank het hom óf agtervolg, óf die kans gevat dat Daniël na sy suster toe is. Hy kan nie onthou dat hy ooit voor Frank iets van Renée gesê het nie. Miskien het Frank sy telefoonboekie onder oë gekry. Miskien is dit iets meer sinister, ’n soort opspoortegnologie. Frank beskik oor verbasende middele. Vir ’n oomblik dink Daniël sy kar se nuwe wiele het dalk ’n opspoor­apparaat in. Hy wil nie dat sy gedagtes in hierdie rigting foeter nie. Tog, hy moet aanvaar dat sy ergste vermoedens oor Frank dalk reg is: Iemand wat ’n meisie so kan doodmaak, is dalk tot baie ander dinge ook in staat.

Daar was al kere saam met Frank dat Daniël die gevoel gekry het dinge gaan verby die perke nie net van die gereg nie, maar ook van aanvaarbaarheid. Hy het van dag een af geweet dat minstens party van Frank se saketransaksies onwettig is. Daar was beslis smokke­lary by betrokke. Selfs al was dit iets minder onskuldig as dagga of diamante, die misdaad sou redelik abstrak wees, het Daniël altyd gedink, iets van tegniese aard eerder as ’n regte euwel. Hy het nie gedink Frank sou betrokke raak by misdaad teen mense nie. Maar dan . . . hy het ook nie gedink Frank sou betrokke raak by ’n prostituut wat blykbaar dwelms verkoop nie, of by moord. As on­kunde boosheid is, soos wat Sokrates blykbaar gesê het, is geveins­de on­kunde nog erger, en hy is skuldig aan ’n verskriklike misdryf – hy het gesien wat gebeur, en het niks gedoen om dit te keer nie.

Hy stop by ’n telefoonhokkie en skakel Frank se nommer. Iemand anders antwoord, soos gewoonlik. Die meisie, Jeannette. “Dis Daniël. Is Frank daar?”

Daar is ’n gemompel, stemme wat goed sê wat hy nie kan uitmaak nie. Dan kom Frank op die lyn. “Jis, ou boera!”

“Ek hoor jy soek my.”

“Het jy vandag se koerant gesien?”

Daar is ’n spinnerak in die telefoonhokkie se boonste hoek. “Wat daarvan?”

“Daar’s ’n stuk in oor Snazz – jy weet, daai meisie by wie ons nou die aand was.”

Daniël soek na die spinnekop. Hy moet daar iewers wees. “Is sy in die moeilikheid?”

Frank lag. “Nee, sy’s heeltemal úit die moeilikheid uit, op seker die enigste manier waarvoor iemand soos sy sou kon hoop. Sy’s dood.”

“Soos in . . . dood?”

“Hulle sê so.”

“Ek’s jammer om dit te hoor.”

Frank is ’n oomblik stil. Dit klink of hy dalk sy hand oor die gehoorbuis hou. Hy stuur seker die ander weg. Toe sy stem terugkom, fluister hy: “Jy vra nie hoe nie. Dit sou die natuurlike ding gewees het, as jy rêrig nie geweet het nie.”

“O . . . hoe’t dit gebeur?”

“Hulle sê sy’t versmoor. Dit moes gebeur het nadat ons daar weg is. Ek weet nie . . . dalk die dwelms. ’n Meisie soos daai . . . Dit sou wel gebeur het, indien nie op dié manier nie, dan op ’n ander.”

Maar dit het nie, dink Daniël. Jy het haar gesig in daai kussing ge­druk terwyl jy haar gestreep het en jy’t haar doodgemaak. Hy is meteens honderd persent seker van sy saak.

“Ek wil net nie hê jy moet dink dit het iets met my te doen gehad nie,” sê Frank.

“As jy so sê. Dit het niks met my te doen nie.”

“Nee, dit het nie.” Frank laat die woorde ’n rukkie daar hang. “Sien ek jou vanaand? Ons het ’n paar mense hier en dit lyk of dinge dalk plesierig kan raak later aan.”

“Miskien. Ek sal sien. Dalk het ek iets anders aan. Verwag my as jy my sien.” Daniël sê tot siens en lui af. Hy staar na die straat. ’n Tienermeisie kom uit ’n kafee uit met ’n pakkie tjips. Hy het ge­sien wat gebeur het, en hy het niks gedoen nie. Daniël het al van tyd tot tyd insigte gekry, gedagtes wat hom tot in sy fondamente skud om­dat hulle so waar en belangrik lyk, maar dit het hom nog nooit tot aksie aangespoor nie. Sy innerlike en uiterlike lewe volg heel verskillende agendas. Nou lyk hierdie apartheid nie meer doenbaar nie.

Hy dink al heeldag elke nou en dan aan Acker. Frank het al ’n paar keer na die polisieman verwys en dit was duidelik dat hy geen ooghare vir die man het nie. Daniël kan nie verstaan hoekom hy ook so moet voel nie. Jy kan vriende erf, maar vyande moet jy self maak. Om die waarheid te sê, op die oomblik lyk iemand wat Frank se vyand is na presies die regte soort mens om te bel.

Hy blaai deur die geskeurde foonboek in die hokkie. Daar is net ’n handjievol mense genaamd Acker, voor kolomme en kolomme van Ackermans. Frank het gesê die polisieman is Mike Acker. Geen van die Ackers het die voorletter M nie. Dis seker nie ’n goeie idee vir ’n polisieman om sy nommer in die boek te hê nie, besef Daniël.

Hy bel die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor en vra om met Acker te praat. Die kaptein is nie daar nie, sê hulle, dis Sondag. Hulle kan ook nie die nommer uitgee nie. “Sê hom ek bel oor Nazla Hassan, die meisie wat nou die nag in Langstraat vermoor is. Ek sal net met hom praat. Ek gaan by hierdie nommer bly vir vyf minute maksimum, okay?” Hy gee die nommer en lui af.

Frank het baie trawante in die polisie, maar Daniël dink nie dat vyf minute genoeg sal wees vir enigiemand om hom op te spoor nie. Daarna is dit weg voor. Hy vrek vir ’n Coke, maar besluit om nie nou in die kafee in te gaan vir een nie. Hy bly naby genoeg aan die foonhokkie dat hy die telefoon sal hoor lui, ver genoeg om on­gemerk te kan wegglip as hy iemand sien wat nie lekker lyk nie. Hy steek ’n sigaret op en rook afgetrokke, staar na elke kar wat ver­by­kom, wonder of dit dalk iemand is wat agter hom aan is.

Drie minute gaan verby, dan vier. Daar is honderde redes hoekom dit langer as vyf minute kan vat om vir Acker in die hande te kry, of hoekom die offisier nie sal belang stel om ’n onbekende informant te bel oor ’n saak waarmee hy tien teen een niks te doen het nie. Vyf minute. Bly of gly?

Die foon lui. Hy antwoord op die tweede lui.

“Dis Acker. Het jy gebel?”

“Ja.”

“My laaitie is buite aan’t wag dat ek die boulbeurt kom klaarmaak. Jy’t dertig sekondes.”

Dis waar Daniël die foon kan neersit. Hy kan sy kanse vat.

“ . . . Ons trek nou al by twintig.”

“Ek was dalk daar toe die meisie dood is. Saam met Frank Redelinghuys.”

Die verveelde toon verdwyn uit Acker se stem. “Skryf hierdie nom­mer neer.”

“Ek het nie ’n pen nie.”

“Onthou dit dan asof jou lewe daarvan afhang. Dis dalk rêrig die geval.” Acker gee die nommer. Die eerste drie syfers is dieselfde as sy studentewoonstel in Wynberg s’n, en Daniël het dus net vier sy­fers om te onthou. “Gaan nou iewers anders heen en bel my van daar af. Dan sê ek jou wat om te doen. Moenie te lank vat nie. Kom weg daar van waar jy nou is . . . Laat waai!”

Die polisieman se houding maak Daniël banger as enigiets wat sover gebeur het. Sy hande bewe toe hy die kar probeer aansit. Eers met die derde probeerslag kry hy sy hande en voete gekoördineer en trek weg. Die hitte in die kar is ondraaglik. Hy sit die lugreëlaar voluit aan. Omtrent vyf kilometer verder stop hy by ’n kafee, koop die Coke waarvoor hy so lus is en bel van die openbare foon op die toonbank af.

Acker is dadelik die ene besigheid. “Ek lei van jou vorige foonnommer af jy’s in die noordelike voorstede iewers. Gaan soek ’n parkeergarage weg van die straat af. Los jou kar daar, loop stasie toe en vang ’n trein Kaap toe. Daar is ’n vertoonvenster tussen perron vier en vyf. Ek sal ’n stukkie papier naby die linkerkantste on­derste hoek plak. Trek dit af dat ek kan weet wie jy is, en loop dan uit Seepunt se kant toe. Hou met Riebeekstraat langs en ek sal jou oplaai as ek seker is dis veilig. Moenie met enigiemand praat nie.”

“Is al hierdie James Bond-goed nodig?”

“Die vorige ou wat my gebel het met inligting oor Frank Redeling­huys is dood voordat ek met hom kon praat.” Die foon klik.

Die dag raak niks beter nie.

Daniël kry ’n woonstelblok met ’n parkeergarage nie te ver van die stasie af nie en ry op na die boonste vloer toe, los sy kar in die besoekersparkering. Hy vat sy oornagsak en loop stasie toe. Die trein kom eers oor veertig minute. Hy sit in ’n betonhokkie op die perron en luister na die brabbelende aankondigings in drie tale waarvan hy twee sou kon verstaan het as die luidsprekers hulle nie so verwring nie. Hy hoop dat wat hulle ook al sê nie met sy trein te doen het nie. Hy lees die graffiti op die mure. Dis als dom, meest­al oor seks, met ’n skeut rassisme by.

Hy is al op sy derde sigaret teen die tyd dat die trein aankom. Hy gooi die stompie op die grond en trap daarop, klim dan in die wa. Mense sit in twees en dries. Die meeste van die vensters is wawyd oop. Dis ondraaglik warm terwyl die trein stilstaan. Hy vind ’n leë bank en skuif tot by die venster, kyk vorentoe. Toe hulle wegtrek, streel die wind deur sy hare. Dis eers kielierig, dan sprei ’n lekker lam gevoel deur sy kopvel. Hy sit met toe oë. As daar net ’n wind was wat sy gemoed só kon sus.

Hulle stop en ry, stop en ry. By Soutrivier klim ’n klomp raserige tieners in en gaan sit oorkant hom. Hulle praat te hard en lag te veel vir goed wat nie regtig so snaaks kan wees nie. Hulle gee voor hulle is taf. Hy ook.

Die spoorlyn is nou tussen fabrieke. Aan die regterkant blok ’n indrukwekkende Victoriaanse gebou die lug uit. Links is daar ’n lang, hoë baksteenmuur, meer modern, met betonpilare elke dan en wan. Te midde van hierdie eentonigheid staan daar mensgrootte Gotiese letters in groen geverf: The Human Cause. Dis al wat dit sê, onderstreep deur ’n strook gras. Die woorde maal in Daniël se gedagtes. Wie sou dit daar geverf het, en hoekom? Die daad op sigself lyk vir Daniël na ’n triomf vir die mensdom.

By Kaapstadstasie loop die passasiers soos diere in ’n drukgang met die perron langs en deur die dubbele ysterdraaihekke wat tot by die dak strek. As jy tussen die twee hekke is, kan hulle dit sluit en jy’s vasgevang in ’n staalhok. Daniël druk deur die tweede hek. Dan is hy in die groot ontvangsaal. Party mense skarrel haastig ver­by terwyl ander wag, babas huil en blêrbokse die armes se woede doef-doef uithamer. Tussen dit als deur fladder duiwe af en land skuiwend op die teëlvloer. Hy sien niemand wat hy herken nie. By perron vier en vyf maak hy of hy uit pure verveling na die toonvenster toe drentel. Dit adverteer tasse van die een of ander sintetiese materiaal. Dis duidelik dat niemand in jare enige moeite gedoen het om die uitstalling te verander nie. ’n Plastiekdraad vol flikkerende liggies is deur die tasse se handvatsels geryg. Net so drie van die liggies werk nog.

Hy merk ’n stukkie bruin kleefband naby die venster se hoek, krap die een ent los en trek dit af. Dit lyk nie of iemand na hom kyk nie. Acker is veronderstel om daar ie­wers te wees, miskien in ’n restau­rant of winkel, of dalk in een van die kantore. Daniël hoop die man het hom gesien. Hy steek sy hand in sy sak en loop afgemete na die aangewese uitgang, en dan Riebeekstraat se kant toe. Links op in Adderleystraat kan hy ’n stuk­kie van Tafelberg tussen die toringblokke sien. As hy eers die straat oorgesteek het, is die berg nie meer te sien nie. Hy laat sak sy kop en stap, wag vir Acker om sy verskyning te maak.

Daar is meer verkeer en minder straatmense in hierdie deel van die stad as waar hy vanoggend geloop het. Die karre ry in groepe, soos die verkeersligte hulle toelaat. ’n Blinkpers Ford Telstar met twee visstokke op die dak kom verby en parkeer ’n blok verder. Nie­mand klim uit nie. Toe Daniël naderkom, kan hy iemand in die bestuursitplek sien. Dan gaan die passasiersdeur ’n ent oop en die bestuurder leun nader. “Verskoon tog, kan jy my sê hoe kom ek in Langstraat, ’n plek met die naam Vredenburgsteeg?”

Die adres waar die meisie vermoor is. “Ek was al daar.”

Die deur gaan wyer oop. “Ek’s Mike Acker.”

“Daniël Enslin.” Daniël klim in en Acker trek weg.

“Ek kon nie so gou ’n veilige plek reël waarheen ek jou kan vat nie,” sê Acker. Hy is ’n maer man, digby vyftig, met die blouerige skynsel van donker baard wat sy hol wange kleur. Sy hare is yl. Hy dra ’n droopy sonbril, jeans en ’n kortmou-gholfhemp met ’n kla­werhandelsmerk. “Ek dink ons moet ’n paar lyne gaan natmaak van die rotse af daar by Mouillepunt.”

Daniël het niks te sê nie. Watookal. Dis buite sy beheer.

Hulle stop by ’n rooi lig. ’n Vet vrou loop oor die pad, glimlag ver­skonend vir hulle – jammer julle moet dit sien, jammer ek is so vet, jammer ek sleep hierdie logge lyf voor julle oor die straat. Sy loop verby en die lig word groen.

“Wat’s jou verbintenis met Frank Redelinghuys?”

“Ons is seker vriende, sou mens kon sê.”

“Jy werk nie vir hom nie?”

“Nie eintlik nie.”

“Ken jy hom al lank?”

“Agttien maande, twee jaar, iets in daai lyn.”

“En jy was Woensdagaand saam met hom?”

“Vir ’n deel daarvan.”

“Het jy gesien wat gebeur?”

“Hy was besig om haar te . . . vry.” Daniël stop toe hy besef hoe on­vanpas sy beskrywing is. “Hy’t haar gesig in die kussing gedruk. Ek weet nie of dit is wat haar dood veroorsaak het nie. Op daai oom­blik het ek nie twee keer daaroor gedink nie. Miskien was dit sommer niks.”

“Nee, ek dink dis genoeg. As ons hom op die toneel kan plaas, kan ek iemand oortuig ons moet DNA kry om te vergelyk met die semen wat hulle in haar gekry het.”

“Wat sou dit wys? Ek bedoel, as sy ’n prostituut was . . .”

“Met soveel vigs in die rondte sal geen professionele meisie haar lewe of inkomste sonder ’n kondoom waag nie. Ek dink nie die saad kom van ’n kliënt af nie.”

“Sal dit genoeg wees om hom skuldig te bevind?”

“Hopelik. Sy het dwelms ook verkoop. Ek raai ons sal dit ook kan terugspeur na Frank Redelinghuys toe. As ons eers toestemming kry om rond te snuffel, reken ek ons sal genoeg kry om hom vir ’n lang tyd toe te sluit. Dwelms, wapens, afpersing, omkopery . . . noem maar op. Die man is veelsydig.”

In een van die systrate sien Daniël ’n minaret, een van die stad se moskees. “Hy lyk nie ryk genoeg om in iets groots betrokke te wees nie.”

“Jou vriend is ’n bedrieglike kêrel. Hy verkies om veilig te speel, en dit kos geld. Daar’s baie mense om te betaal. Ek weet nie hoe­veel polisiemanne in sy sak is nie. Dis hoe ek die eerste keer op hom afgekom het, toe ek korrupsie in die polisie ondersoek het.” Acker stamp sy handpalm teen die stuurwiel. “As ek hom kan vastrap . . .”

Hulle ry verby die verwaarloosde Groenpuntstadion, draai regs in Strandweg en parkeer oorkant ’n ry hoë woonstelblokke. Acker gee vir Daniël ’n sonbril en ’n hoed met ’n flap wat die agterkant van sy nek bedek. Dan vat hy die visstokke en ’n boks visgereedskap en hulle stap rotse toe. Enigiemand wat hulle sien, sal dit net van agter af kan doen, waar nie veel wys nie. “Weet jy iets van visvang af?”

“Net van sien.”

“Laat ek dit vir jou doen.” Acker vroetel met die visstok, gooi die sinker tot anderkant die breek van die brander en gee die stok vir Daniël. “Hou dit net so vas, met jou duim op die lyn.”

“Wat as iets byt?”

Acker grinnik. “Ek het nie aas aangesit nie.” Hy kry sy eie lyn ge­reed, gooi in en soek sitplek. Op hierdie rotse is daar geen gladde vlakke nie. Die holtes tussenin is vol kitskosbokse, bierblikke, knope vislyn, ’n dooie meeu. Muggies maal rond. Acker kry ’n plek om te hurk met sy boude teen ’n klip en wys vir Daniël ’n ander bruikbare plek ’n tree of wat verder. Toe hulle albei hul sit gekry het, wys Acker na ’n geroeste staalstaaf wat bo die water uitsteek. “Onthou jy dit nog, toe die Seafarer op die rotse geloop het?”

“Is dit ’n deel daarvan?”

“Al wat nog bo die water uitsteek.”

“Ek was ’n seuntjie toe dit gebeur het,” sê Daniël.

“Ek het saam met my ouers hierheen gekom om na die skip te kyk terwyl hy opbreek.”

“Hulle het mos almal veilig afgekry, nè?

“Ja, hulle het ’n kabelbesigheid opgestel en die mense een-een na veiligheid gebring.”

Die son begin sak. Iewers aan Daniël se linkerkant hang ’n see­meeu soos ’n kind se vlieër, swart teen die lig. “Frank het my in die hande probeer kry vandag. Ek is dalk nou simpel, maar dit bekommer my.”

“Hy moet weet jy kan hom in die moeilikheid bring. Die vraag is, hoe ver sal hy gaan om die bedreiging uit te skakel.”

Uit te skakel. So ’n emosielose frase. “Jy’t iets gesê van iemand wat dood is voordat hy Frank kon verklap . . .”

Acker rol sy katrol ’n paar keer, wag dan weer.

“Jy dink jy sal my uit hierdie ding uit kan kry?”

“Ons sal jou vir ’n ruk moet wegsteek. Dis seker die beste om jou in ’n sel te sit.”

“So . . . Frank breek die wet en ek word opgesluit?”

“Dis die maklikste manier om jou te beskerm. So gou ons Frank agter tralies het, is jy uit.”

“En as hy loskom?”

“Dan . . .” Acker pluk aan ’n kraaines wat dreig om op sy katrol te vorm. “Dan maak ons ’n ander plan.”

Daniël se lyn wapper in die wind.

'n Ander mens

Подняться наверх