Читать книгу Dubbeldoor - Abraham H. de Vries - Страница 5

Die muise

Оглавление

Hy word die afgelope drie weke elke oggend vyfuur wakker. As die son opkom, skyn dit reg in sy gesig en dit het al gebeur dat hy met ’n stekende hoofpyn opstaan. Hy wil die bed draai, maar hy het nog nie so ver gekom nie. Hy sal dit vandag doen, dink hy.

Daar is muise in sy solderkamer. Snags in die donker kan hy hulle agter die behang hoor. Terwyl hy soggens wakker lê, breek hy altyd ’n stukkie brood af en gooi dit in die hoek. Dan kom die muise uit en hy lê doodstil om te sien hoe hulle om die krummel brood veg. Hy breek nooit ’n groot stuk af nie.

As hy die bed draai, kan hy nie meer die muise sien nie, dink hy. En dan sal hy ook die stoel op ’n ander plek moet skuif om die vrou te sien. Sy sit op die stoel onder die venster en sy sê niks wanneer hy die brood vir die muise gooi nie. Miskien slaap sy nog, dink hy dan.

Adolf is etaleur by ’n dameswinkel in die stad. Die vrou op die stoel het hy een aand met hom saamgebring na sy kamer toe. Hy moes haar steel, maar hulle het nooit agtergekom wie dit gedoen het nie, en hy voel trots daarop.

In sy solderkamer kom nooit mense nie. Eers het hy alleen hier gewoon, voor die vrou hier was. Dan het hy soggens, as hy moeg is vir die muise, opgestaan en liggaamsoefeninge gedoen, dié wat hy geleer het terwyl hy in die militêre kamp met sy verpligte opleiding besig was. Nou sit die vrou elke oggend met welgevalle en kyk na hom. Hy het al aan haar sy drome van ’n oorlog vertel. Omdat die ruk toe hy onder militêre opleiding was hom laat voel het dat hy bestemd was om eendag nog baie te verdedig en gróót te word, probeer hy dit so lank as moontlik onthou. Soms swaai hy met sy arms en vloek op denkbeeldige rekrute. Snags as hy droom, dan is dit altyd van mense wat veg.

Hy het nie vriende nie. Daarom is die vrou veilig in sy kamer. Sy hospita, ’n ou dame met ’n mank been, klim nooit die drie-en-vyftig trappies na sy kamer toe op nie. Hy het die kamer gehuur met die verstandhouding dat hy dit self skoon sal hou. Eintlik stel sy ook nie daarin belang of hy dit skoon hou of nie. Sy stel belang in die geld wat hy elke maand betaal. Maar omdat hy netjies is op sy persoon, vertel sy aan haar vriendinne van die huurder by haar wat altyd sy kamer so pragtig aan die kant hou.

Gisternag het hy gedroom. Hy het gedroom dat dit al vanoggend was en dat hy die brood vir die muise gooi. Hy het doodstil gelê en kyk hoe die muise om die brood baklei. Die een muis het die gesig gehad van die bruinman wat in ’n fabriek werk en wat net onder sy kamer – teen die wet, maar met instemming van sy hospita – ’n kamer huur. Die ander muis het die gesig gehad wat hy soggens in die spieël sien wanneer hy hom skeer.

Waaroor hulle baklei het, kon hy nie sien nie. Daarom bly hy lê en probeer verder droom. Dis Saterdag en hy hoef nie vandag te werk nie.

Adolf haat die bruinman van een-laer. Gisteraand het hy hom op die trappe teengekom. Onder sulke omstandighede weet hy nie wat om te doen nie. Die bruinman het gegroet, en hy het gemaak asof hy hom nie raaksien nie. Hy haat hom nie omdat hy saans laat tuis kom en dan hard praat nie. Dis die manier waarop die man na hom kyk, asof hy van die vrou in sy kamer weet, wat hom die bruinman laat haat. Sy hospita het hom vertel van die huurder. “Hy is stil en amper wit. Ons het nie baie las van hom nie,” het sy gesê, op ’n manier wat dit vir hom duidelik gemaak het dat hy nie vir ander daarvan moes vertel nie.

Miskien het die bruinman eendag na sy kamer toe gegaan terwyl hy nie daar was nie en die vrou daar gekry. Daarom haat hy die man. En omdat hy onseker is. Hy kan ook nie met sy hospita daaroor praat nie, want hy vermoed dat sy ’n verhouding met hom het. “Harold is ’n halwe Jood,” het sy eendag vir hom gesê en die manier waarop sy van hom gepraat het, het hom die gevoel gegee dat sy hom beskerm.

Naby Adolf se kamer is ’n klein kroegie. Hy gaan elke aand soontoe. Vir die ander gereelde besoekers is hy ’n snaakse mens wat nie baie praat nie en altyd ernstig is. As hy praat, luister hulle na die gemartelde klank in sy stem. Wat hom martel, kon hulle nog nooit agterkom nie, maar hulle vermoed dat dit iets met sy vrou te doen het, want as hulle na haar vra, kyk hy op sy horlosie en loop weer kort daarna. Daarom vra hulle in die laaste tyd nie meer hoe dit met sy vrou gaan nie.

Die storie dat sy vrou bedlêend is van ’n skok, het hulle self versin. Hy het dit nie vertel nie. Hy het net vertel dat sy vrou in die stoel sit en hy het die vrou in sy kamer bedoel.

As hy die kroeg uitstap, gaan hy selde reguit huis toe. Hy kyk na die vensters langs die straat, waar die mense vergeet het om hul gordyne toe te trek. Soms staan hy lank aan die oorkant van die straat in die skaduwee van die bome en kyk in die huise in. Daar het nog nooit iets gebeur nie, maar elke keer as hy kyk, voel dit vir hom asof daar iets gáán gebeur. Soms as hy ’n vrou in een van die kamers sien, en ’n man, kyk hy sonder om asem te haal na wat hulle doen en hy sien in hulle geluidlose gebare teenoor mekaar ’n bedekte sinspeling daarop dat dit aand is en dat hulle bed toe sal gaan.

Adolf het die vrou in sy kamer self aangetrek omdat sy naak was toe hy haar gevat het. Partymaal, nadat hy van die kroeg af gekom en na die vensters gekyk het, trek hy haar klere uit en lê haar langs hom op die bed neer. Maar voordat hy gaan slaap, sit hy haar weer in die stoel. Hy trek haar dan nie weer aan nie, maar kyk na haar silhoeët wat dié naboots van ’n naakte vrou as die gordyne toegetrek is.

Omdat dit die eerste vrou was wat hy by hom in die kamer het, het hy haar Eva gedoop. In die winkelvenster het sy nie ’n naam gehad nie. Die ander het haar telkens ’n ander naam genoem, volgens die klere wat sy gedra het. Op dié manier was sy omtrent elke ander denkbare vrou. Maar vir hom is sy Eva.

Vandag is Saterdag en hy gaan nie werk nie. Die gedagte om die bed te draai, is nog daar, maar dit stel hom nie so tevrede nie, want dit het baie nadele. Hy verdra liewer soggens die lig in sy gesig.

Hy trek vir die vrou die kamerjas aan wat hy vir haar gekoop het. Terwyl hy hom skeer, skakel hy sy bandmasjien aan. Op al die bande sing daar ’n vrouestem, wat hom laat voel dat dit Eva is wat vir hom sing. Soms word die gevoel so sterk dat hy omdraai en haar bedank. Dan glimlag sy net vir hom.

Terwyl hy besig is om die hoek waarin die muise is skoon te maak, hoor hy iemand die trap opkom. Eers dink hy dis die bruinman, maar die voetstappe kom nader na sý kamer toe. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie en hy weet nie wat om te doen nie. Toe iemand aan die deur klop, draai hy die bandmasjien sagter en hy voel dat hy sweet. Hy maak die deur op ’n skrefie oop. Sy hospita staan buite.

“Ek het van Harold gehoor dat u gisternag mense by u in u kamer gehad het. Dit mag nie gebeur nie, meneer Adolf, want anders kan ek my losieshuisvergunning verloor. Ek het die dame gisternag self ook gesien, want ek het laat huis toe gekom en haar voor die venster gesien sit. Dit mag nie weer gebeur nie.”

“Ek het niemand in my kamer gehad nie,” antwoord Adolf.

“Ek sê maar dat u weet,” antwoord sy hospita. Sy begin weer die trappe afklim.

Ek sal haar nie weer naby die venster laat sit nie, dink Adolf en hy skuif die stoel weg. Haar kop met die lang, blonde hare draai eenkant toe. Hy draai dit terug na hom toe en wys met sy vinger na haar. Sy glimlag weer. “Ek gaan verder skoonmaak,” sê hy. “Jy hoef nie bang te wees nie, want sy kan niks doen nie. As sy vir iemand van jou vertel, vertel ek van haar Harold wat hier onder bly. Hier kan nie iets verkeerd gaan nie.”

Maar toe hy klaar het met die skoonmaak, soek hy vir die eerste keer na sy kamersleutel.

Daardie aand, toe hy uitstap na die buurtkroegie toe, is hy onrustig. Die bruinman is in sy kamer. Daar brand lig. Hy het nooit geselskap nie en hy het nie eens ’n bandmasjien of ’n radio om na te luister nie. Toe Adolf by sy kamer verbykom, kom hy weer uit en groet.

Adolf wou hom vra waarom hy gesê het dat daar ’n dame in sy kamer was gisternag, maar hy het dit nie gedoen nie. Hy het net sy hoed opgesit en vinnig die trappe afgeloop.

Maar toe hy onder kom, draai hy terug. In sy kamer soek hy na die pistool wat hy gekoop het toe hy van die militêre kamp af teruggekom het. As hy soggens daarmee voor die vrou paradeer, sorg hy dat daar nie ’n koeël in is nie. Dog vanaand stoot hy ’n koeël in die loop en sit dit op die spieëltafel neer. “Jy moet jouself verdedig as hy iets aan jou wil doen,” sê hy vir Eva en trek weer die deur agter hom toe, en sluit dit. Toe hy weer by die bruinman se deur verbystap, onthou hy die droom.

In die kroegie ken hy almal. Daar is Kersten, die ou soldaat, wat net een long het; Wolters, die verlope direkteur van ’n firma waarvan niemand meer presies die naam kan onthou nie; en Julian, die toneelspeler.

Adolf drink drie biere en begin daarna met Kersten praat.

“Ek het gedink, sy is so bang vir die bruinman wat daar by ons werk en toe het ek gedink ek sal maar ’n groter huis koop,” sê hy.

Kersten weet hy praat van sy vrou.

“Toe ek van die oorlog af gekom het, het hulle ons ook goed behandel. Ons het genoeg gehad om mee te begin, en oorgenoeg daarby, gesien die min wat ons in die oorlog gehad het. Maar dit het alles nie gehelp nie … niks gehelp nie …”

Kersten se tong is al swaar.

“Dan het sy darem iets om haar besig te hou,” sê Adolf. “Ek het gedink ek sal maar vir haar ’n karretjie ook aanskaf. Ons kan dit afbetaal. Dan kan sy rondry.”

Kersten stel nie meer belang nie. Adolf begin met Julian gesels.

“Hoekom steek jy die bruinman nie in die pad as sy vir hom bang is nie?” vra Julian.

“Ons moet tog maar weer ’n ander kry,” antwoord Adolf. “My vrou is nie gesond nie.”

Wolters leun oor na hulle toe en sê: “Ek moes leer om alles self te doen. Self. Huisskoonmaak, alles. Steek die bruinman in die pad.”

Adolf antwoord hulle nie. Hy stoot net die glas oor die toonbank en bestel kopknikkend nog ’n bier. Nadat hy nadenkend daaraan gedrink het, sê hy: “As ek net die hele dag by die huis was, het dit nie saak gemaak nie. Ek sal die bliksem self op sy plek hou. Maar wat kan die vrou nou alleen maak?”

“Laat haar aansluit by een van die skietskole,” sê Julian. “Dan kan sy haarself mos verdedig.”

“Die skietskole is goeie goed,” stem Adolf saam. “Mens moet jouself kan verdedig.”

Kersten sit sy glas hard neer, blaas deur sy neus en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Dis omdat julle van oorlog bokkerôl weet wat jy so sê. Bokkerôl. Oorlog is nie Cowboy-printe nie. Oorlog is oorlog. Jy kom daar lewendig of halfdood uit, of jy sien jou gat.” Hy praat hard.

“As daar moet geveg word, moet daar geveg word,” sê Adolf.

Nadat hy betaal het, stap hy uit. “Hy had vanaand baie te sê,” sê Kersten. “Omdat hy van niks weet nie.”

Buite is die straat donker en Adolf voel rustig in die donker. Daar is vanaand drie vensters waar die gordyne nie toegetrek is nie. In die middelste staan ’n vrou. Sy is besig om tee in te skink en sy het ’n kort wit broekie aan.

Adolf bly nie staan nie. Iets laat hom aanstap. Dis of iemand hom dophou. Toe hy oor die straat steek, sien hy die bruinman van een-laer. Hy’t my wragtag dopgehou, dink hy en word kwaad.

Hy stap terug na sy kamer. Die bruinman stap vinnig verder in die donker straat op.

Onder die trap in die skaduwee van die telefoonhokkie staan Adolf se hospita. Sy groet hom toe hy inkom. Maar hy kan sien dat daar iets verkeerd is. Sy is bleek. Die manier waarop sy na hom kyk … Hy bly staan.

“Meneer Adolf, ek …” Sy kruip verder onder die trap in asof sy bang is vir hom. Omdat sy na die deur kyk, kyk Adolf ook om. Daar is niemand nie.

“Harold het in u kamer …” begin sy, maar Adolf luister nie verder na haar nie. Hy klim vinnig die trap op. Op die ingewing van die oomblik loop hy by die bruinman se kamer in sonder om te klop. Hy is wit in sy gesig.

Daar is niemand nie. Hy bly verdwaas staan. Onder hoor hy hoe sy hospita by die telefoon besig is. En op die bed van die bruinman lê Eva se deurskynende nagklere in ’n bondel. Adolf staan daarna en kyk en kyk. Sy asem jaag vinniger. Hy hoor die voordeur onder oopgaan. Daarom gryp hy die nagklere en klim vinnig op na sy kamer toe.

Die vrou sit nog soos wat hy haar gelaat het. Hy stap vinnig na haar toe en maak haar nagjapon oop. Sy het nie haar slaapklere aan nie.

Adolf sluit die deur. Dan gaan sit hy langs haar op die stoelleuning. “Praat!” sê hy. “Wat het hy gedoen? Praat!” Sy antwoord nie, net haar oë beweeg.

Hy trek haar nagjapon uit en lê haar op die bed neer. Nadat hy die komberse oor hulle getrek het, praat hy sag met haar: “Wat moet ek doen?” vra hy. “Ek het die pistool hier vir jou neergesit. Hoekom het jy dit nie gebruik nie?”

“Die sleutels van die deure pas op mekaar,” antwoord die vrou.

“Hoekom het jy hom nie geskiet nie?” vra hy.

“Dit is alleen hier,” antwoord die vrou. “Jy is so baie weg …”

Eers verstaan Adolf nie wat sy bedoel nie. Miskien hoor hy verkeerd. Miskien te veel gedrink. “Wat sê jy?” vra hy, en hy sien die maan op haar lang wit hare.

“Hy was ook alleen,” sê die vrou.

Onder op die trap hoor Adolf mense. Sy hospita praat en Harold antwoord haar. Hulle klim met die trappe op na sy kamer toe.

Toe word hy rasend kwaad en hy vat die vrou aan haar hare en klim vinnig uit die bed uit. Hy gooi die kop eenkant in die hoek. Dit rol tot waar die muise altyd aan die brood vreet en lê toe stil in die lig wat deur die venster val.

Hulle klop aan sy deur. Hy hoor dit nie. Dit het meteens stil geraak om hom in die kamer, stil soos in die middel van die nag. Hy druk die romp van die pop eenkant toe en stut sy kop op sy een hand. In die ander hand het hy die pistool.

Agter die behang hoor hy die muise rondskarrel. Hy lê doodstil.

Buite klop Harold aan die deur.

“Ons moet wag,” sê die hospita. “Ek het hulle getelefoneer. Miskien is hy gevaarlik.”

Die eerste muis kom stadig uit die gat agter die behang uit. Hy snuif-snuif voor hom in die rigting van die kop met die lang hare.

Adolf wag totdat hy die bruin gesig goed kan sien.

Dubbeldoor

Подняться наверх