Читать книгу Die hart van 'n ma - Abraham Phillips - Страница 6
Hoofstuk 4
ОглавлениеKokkerotjiedorp bestaan uit drie dele, ’n plakkerskamp, ’n deel met Hophuisies en erwe vir mense om self te bou. Dis in hierdie deel van Kokkerotjiedorp waar die Beer vir hom ’n groot vierslaapkamerhuis laat bou het. Hulle draai na regs en beweeg stadig oor grondpaaie tussen die Hophuisies deur.
“Hier’s nog baie zak te maak, die mense hier in Kokkerotjiedorp sóék die goed, hulle word net meer en meer,” sê die Beer.
Hy draai hom skuins op die agterste sitplek en staar na die reuseplakkerskamp in die verte. “Hokke net waar jy kyk, die voëltjie fluit daai vark Salmon was tussen die hokke in die rondte, die Groot Beer vegeet nie, maar ek dina worries fokkol nie, die plek gaan te klein word vir hom, niemand dala met die Groot Beer se mind nie.”
Langman en Muisvoël loer na mekaar, Popeye haal sy rewolwer uit sy binnebaadjiesak, hy vee dit af. Hulle weet dat die opdrag om Salmon te vermoor nog lank nie verval het nie. Die motor hou voor die hek van die Beer se groot huis stil.
Langman, Muisvoël en Popeye klim vinnig uit en verken die omgewing voor hulle inry.
“Die plek is skoon, bra,” grom Popeye.
Die Beer beweeg afgemete, hy’s baie versigtig. Sy drie butlers hou hom dop. Dis soos ons hom ken, dink Muisvoël. Hy dala nou soos ’n wille dier, hy kan nie nou deur ’n skelm moegoe wit bene gemaak word nie.
Die Beer loer vinnig na Langman wat die uitdrukking in sy oë ken. Hy weet die Beer vertrou hom ten volle. Hy’t ’n jaar gelede ’n opdrag van die Beer uitgevoer om twee tikkoppe wat in ’n moordsaak teen die Beer sou getuig in die plakkerskamp te gaan doodskiet.
Hy weet kaptein Wielieboy Mathabola was platgeslaan, want die name van die twee getuies was ’n groot geheim. Mathabola kon Pistoors en sy aartsvyand, die 27-tronkgangster Salmon, nog nooit agter tralies laat beland nie.
Die Beer stoot die voordeur oop terwyl sy drie butlers om die huis na agter stap.
“Diena, Diena, waar de hel is jy?” roep hy na sy houvrou.
Diena, wat swaar verwagtend is, kom haastig die huis van agter binne. Hy kan sien sy’s vandag weer in ’n slegte bui, haar geel gelaatstrekke is rooi en haar altyd netjies gekamde hare hang los oor haar gesig en skouers.
“Wat raas jy verdomp so, is dit nie genoeg daai meid van jou kom spoel haar bek hier uit oor papgeld nie? Ek wag vir daai anner twee sleggoed by wie jy ook los kinners het.”
“Hei, hei,” grom die Beer, “moenie jy ook my moer roer nie, gaan na jou ma toe as jy nie kan cope nie.”
“Jy weet goed hulle wil my nie meer daar hê nie, oor jóú!” skree sy.
“Hei, hei,” brul die Beer, “my moer is tot hier toe,” beduie hy met sy een hand na sy nek. “Daai giftige tong gaan ek nog vir jou uitsny.”
“Toe sny, sny jy net!”
Die Beer raak driftig, sy oë soek iets om te breek. “Ek dink dis tyd dat ek weer daai haaiflaaiers van ’n pa en ma van jou ’n besoek gaan gee,” sê hy.
“Jy los hulle uit,” sê Diena. “My pa het gesweer as jy jou pote weer daar sit, dan . . .”
“Dan wat?” vra die Groot Beer. Voordat Diena kan antwoord, word die spanning in die vertrek deur die temalied van The spy who loved me verbreek.
Pistoors gryp sy selfoon, maar hou glad nie van wat hy hoor nie. Hy prop dit in sy broeksak en storm by die agterdeur uit.
“Ek sê, bra’s, julle moet split, die honne kom,” skree hy.
Vyf jong seuns, onder wie Dampies, Bennie en Pietie, kom haastig uit ’n hok aan die oorkant van die jaarts.
Die Beer kyk na Dampies. Bom het ’n dêm goeie oog, dink hy.
“Dampies is net die regte laaitie om jou werk te doen, Beer,” het sy gesê. “Sy ma is van daai kerkmense, sy dala die Woord met Dampies, maar hy soek dit nie.”
Die Beer grom diep uit sy keel. “Is alles skoon hier? Hier moet nie ’n dêm lollie rondlê nie!” Hy stap vinnig na die wendyhouse aan die ander kant van die jaarts. “Ek sê, bra’s, kry lewe, die voëltjie fluit die honne is op hul rounds, vat julle weg, die boys wag vir jou op die bakkie, Langman,” beveel hy.
Hy stap die huis binne, ruk die wit das van sy nek af en sak op die leersofa neer. “Diena,” roep hy, “los jou kak en kom hier. Jy ken mos die dril,” sê hy vir haar toe sy inkom, “die honne is op pad!”
“Ja, ja, die plek is klaar skoon,” antwoord sy.
Die Beer lê met sy kop teen die kussing van die sofa. “Lekker, lekker ma, skink my ’n dop brandy, my moer moet sak voor die honne hier aankom.”
Diena skink die brandy, sy roep na haar twee kinders. “Kom, kom julle twee, hier kom mense na julle pa toe.” Sy vryf oor die kop van haar jongste seuntjie en draai om. Diena is nou weer die kalmte self. Mense in Helshoogte en Kokkerotjiedorp sê sy’s eintlik die een wat in die groot huis die septer swaai.
Sy stap na die agterste venster van haar slaapkamer. Sy ken en verstaan hierdie soort lewe, spanning is elke dag deel daarvan, dis al soos tweede natuur. Ook die Beer se moorddadige buie en jollery sal sy verduur. Die lekker lewe van ’n weelderige huis en baie geld, lekker kos en mooi klere verruil sy vir niks nie.
Doodstil staan en kyk sy deur die venster in die rigting van die Breërivier, ’n koue noordwestewind steek op. Dit lyk of daar reën aan die kom is.
Haar gedagtes gaan na Muisvoël se oupa, Herklaas Blom. Sy sien hom dikwels op die bankie voor sy huis sit. Hoekom dink ek nou aan die ou man, wonder sy. Dis seker die weer, die mense sê mos hy weet alles van die weer af.
Die gryse Herklaas Blom sit steeds vanaf sy bankie en tuur oor die laagliggende Kokkerotjiedorp in die rigting van die Breërivier. Hy weet baie goed hoe vinnig die weer hier kan verander. Hy staan later op en brom toe hy na die veiligheidswagte teen die hoë heiningdraad van die verlate hoërskool staar. Ek kan nie so lekker sien nie, dink hy, maar die wêreld is vuil. Daai twee bliksems wat soos spoke lyk is kop en gat saam met die rofryters en tikkoppe wat die skool stuk vir stuk afbreek.
Die Groot Drink is ’n bynaam waarop Herklaas trots is. Het hy dan nie in sy jonger dae vele manne in Helshoogte onder die grond in gedrink nie? Het hy dan nie ’n sesbottel-kan wyn man-alleen uitgedrink nie? Hy vryf oor sy oë, sy gedagtes gaan terug na sy gesprekke met sy dogter Anna. “Ons mense loop en vertel wyn maak jou onnosel, maak jou siek, jy sal nie eens vyftig haal nie. Maar dis bygelofies wat die slim mense aan ons kom afsmeer, ek was nog nooit siek nie, kanker, hoë bloed, suiker ken Herklaas Blom nie. Ek worrie nie, ek het my dae gehad, hier waar Kokkerotjiedorp nou staan, was my en hope meire se playground, as die apartheidpoliese my jae en hier tussen die bosse en bome met honne en gunne soek, dan lê en loer ek hulle aan die bopunt, daar tussen die sandkampies van die rivier.”
Die sirenes van polisievangwaens weergalm oor Helshoogte. Herklaas steek voor die deur vas. Hy ken hierdie soort lewe, in sy tagtig jaar het hy al baie beleef. Daar was seker weer ’n skietery in Kokkerotjiedorp, of dalk is een van die meire vermoor of verkrag. Ek het veoggend ’n geskree gehoor, Muisvoël is dalk weer in die mix, dink hy. Hy bewe en sy vaal oë lyk skielik onseker. Die man wat gedurig loop en spog dat die lewe vir hom maar net ’n joyride is, se gesig vertrek van pyn, hy dink aan sy ou vriend, Vet Piet.
Ek wonner wat sal hy gesê het oor die lewe van vedag, hy’t ook dagga gerook, maar hierdie ding tik, hy draai wragtig in sy graf om as hy weet tik vreet mense se harsings bietjie vir bietjie op. Waar venaaf kom dit? Wie het dit uitgevind? Die storie loop Hitler en sy Duitse soldate het tik al in die Tweede Wêreldoorlog gerook. Net die duiwel weet, maar nou ja, Herklaas, dink hy, jy kan nie op jou ouderdom vedomp nog staan en kopbeen vreet nie.
Hy vryf oor sy bleskop en oor sy tandelose mond. Baie mense hier onthou hom nog as die man wat oor die jare self sy tande wat gepyn het een vir een lewendig met ’n tang uitgetrek het.