Читать книгу Die hart van 'n ma - Abraham Phillips - Страница 8

Hoofstuk 6

Оглавление

Dampies is in ’n hewige stryd gewikkel. Sy vriende Bennie en Pietie spog gereeld by hom hoe hulle by hul ouers steel vir tikgeld.

“Hulle weet ons tik, vir wie’s jy bang? Jy kan nie aanmekaar na julle huis toe gaan as jou ma-hulle al slaap nie, hulle gaan tog uitvind, en dat jy nie meer skool loop nie.”

Hy dink aan Popeye se woorde toe hulle hom kom aflaai het. “Daai klein tiewie van jou ougirl waarvan jy gepraat het, ons soek dit.”

Ma sukkel om vir my en Meisie te sorg, dink hy. Omdat ek lief is vir haar, steek ek weg dat ek tik gebruik, maar nou kan ek nie meer nie, ek kan dit nie meer vir haar wegsteek nie.

Stienie kom uit haar kamer, bekommernis sigbaar in haar oë.

“Dampies, ek was siek geworrie, waar was jy die heeldag? Kyk hoe lyk jy!” roep sy uit.

“Los my, Ma, ek is vaak,” antwoord hy.

“Hoe lyk dit my jy tik?” Sy kry hom aan die skouers beet en skud hom.

Dampies grom en stoot sy ma van hom af weg.

Stienie roep na haar suster. Haar seun se oë lyk vir haar soos dié van ’n wilde dier.

Maria storm uit haar kamer. “Wat is dit, het Dampies seer­gekry?”

Stienie bars uit van die huil. “Dit lyk my die klong tik,” stotter sy.

Maria bewe toe sy na Dampies kyk en sien dat hy hom nie aan hulle steur nie, hy’s net vaagweg van hulle bewus, hy rus met sy elmboë op die tafel en hou sy kop vas.

“Ek het ’n vermoede gehad hy tik, my goed het die laaste tyd stuk vir stuk begin wegraak. Here, Stienie, is dit ons skuld? Wat doen die moeders hier in Doringdal dan verkeerd? Gaan ons toe-oë deur die lewe?”

Stienie krimp ineen. “Moenie jou so martel nie, Maria, al was die tekens daar, ons hande was afgekap. Ons kan nie orals saam met hom loop nie. Ons het vir Dampies gedoen wat ons kan, hom elke dag gewaarsku teen tik, jy weet tog, kyk vir Willem.”

Dampies se arms word slap en hy val vooroor.

“Los hom, Stienie, jy sal nou niks uit hom kry nie, sy kop is nou so dood soos ’n lyk s’n.”

Die harde reën op die asbesdak klink soos tromslae. “Hy’t ge­durig ’n paar maters by hom,” fluister Stienie.

“Ja,” antwoord haar suster, “maar ek’t hom nie vedag hier rond gesien nie, ek wonner met wie’s hy nou weer deurmekaar.”

Die twee susters kyk na mekaar, hulle is bang om die waar­heid oor Dampies se vriende uit te vind.

“Ai, Maria,” sê Stienie, “jy’t die laaste tyd hel gehad onder Willem, nou kom ek ook met my ellende op jou sit, ek wonner of hy ooit skool loop, ek sal moet uitvind.”

“Ek glo nie. As hy tik rook, loop hy nie meer skool nie,” ant­woord Maria.

“Vader, hy vat ons vir fools, hy stap elke oggend hier uit soos ’n kind wat skool toe gaan!” sê Stienie.

Maria kyk na Dampies en sukkel om haar bitterheid te verberg. “Ek gaan maar inkruip, die Here weet, ek het my krag nodig vir dit wat nog voorlê.”

Nie een van die twee susters kan aan die slaap raak nie. Albei se aandag is op die voorhuis gerig, op enige moontlike geluide.

Kaptein Wielieboy Mathabola kom moeg en uitgeput by sy huis in die woonbuurt Kingspark aan.

Sy vrou, Mpho, wag ongeduldig in die sitkamer. “Waar was jy, Wielieboy? Ek was so geworrie, pastoor Louw het jou ook hier kom soek.”

Die ongelyke werksure waarin hulle mekaar dikwels misloop en die druk en spanning van hul werksomstandighede is nie goed vir hul huwelik nie, dink Mathabola en trek sy baadjie uit. Hy gooi dit oor een van die sofas in die sitkamer.

“Het die pastoor nie ’n boodskap gelos nie?” vra hy.

“Nee, maar dis seker weer oor een of ander vergadering oor daai euwel tik. ’n Aangename man, die pastoor, ons gesels altyd lek­ker,” antwoord Mpho.

“Ja, ek is bly julle twee kom goed oor die weg. Maar jy moenie so oor my worrie nie,” sê hy, “ek het net ’n bietjie gaan ry om my kop skoon te kry.”

“Kop skoon te kry?” vra Mpho. “Ek het jou gesê jou gesin kom eerste, jy kan nie die hele wêreld regmaak nie, wat sal gebeur sal gebeur.”

“Dis nie die hele wêreld nie, Mpho, dis hiér, dis Doringdal. Ek het saam met bruin mense grootgeword, ek kan die ding nie so los nie,” sê hy. “Die mense van Doringdal kry swáár onder die gangsters. Veral daai slinkse Pistoors wat van die Kaapse Vlakte af hiernatoe gekom het! Ja, die werkloosheid hier in Doringdal moes hom seker soos ’n handskoen gepas het. Jy weet, tik is goed­koop, Pistoors vervaardig dit self, dit het hom gou ryk gemaak. Maar lyk my rykdom is nie vir hom genoeg nie, hy wil hê die mense moet hom aanvaar. Daarom dat hy so kos uitdeel, geld uitleen en vir begrafnisse betaal.”

Hy plons op die sofa neer. “Waar is Shidele, slaap sy al?”

“Ja, die kind slaap, sy’t vir jou gewag nadat sy klaar was met haar taak vir môre,” antwoord sy kortaf.

Dit raak stil in die sitkamer.

Mathabola trek sy asem diep in toe hy na die kalender teen die muur kyk. Ek is dié maand al vyftien jaar in die polisiediens, geen wonder ek voel vanaand so moeg nie, dink hy.

“Gaan jy nou eet?” vra Mpho. “Jou kos is nog warm.”

“Nee, ek is nie honger nie,” sug hy. “Ons sukkel so met dinge hier in Doringdal.”

Mpho kom sit langs haar man op die sofa. “Wat is dit?” vra sy.

“Dinge lyk baie sleg,” antwoord hy. “Dis hierdie duiwelse dwelm tik.”

“Ja, by die hospitaal kom so baie pasiënte in met skiet- en steek­wonde, dis soos ’n plaag, die meeste van hulle is hulpeloos ge­rook aan tik. Ek is al lank ’n verpleegster, maar nou raak ons al­mal moedeloos,” sê sy.

“Hoe kan sulke dinge in ’n gemeenskap, enige gemeenskap ge­beur?”

“Dit bekommer die pastoor ook vreeslik,” sê Mpho.

Mathabola bly vir ’n oomblik stil. “Dit pla my ook dat ons so min vordering maak om die dwelmhandelaars aan te keer. Jy weet, daar is twee groot smokkelaars in Doringdal, koelbloedige mis­dadigers: Pistoors, met die bynaam die Groot Beer, en die ander een is Salmon. Vir hom noem hulle weer die Duiwel. Ons kan nie een van die twee vastrek nie, ek praat nie nou van die kleiner smokkelaars wat ook tik verkoop nie, hulle word da­rem aan­gekeer. Dis daai twee groot visse, dis amper of hulle al ons be­wegings ken, dat hulle weet wat ons volgende gaan doen,” sê hy.

Mpho staar stip na haar man. “Jy dink tog nie julle sit met ’n piemper in julle midde nie?” vra sy.

“Hoekom nie, niks verbaas my meer nie,” antwoord hy.

Wielieboy Mathabola het sy eerste vrou elf jaar gelede in ’n motor­ongeluk in die Kaap verloor. Ná ’n pynlike tydperk vir hom en sy klein dogtertjie, Shidele, het hy die pragtige jong Mpho Khu­malo ontmoet. Hulle is getroud voordat hy vanuit die Kaap na Doring­dal verplaas is. Die lang skraal Mpho praat, nes hy, Afri­kaans goed.

Mathabola is bekend as ’n eerlike maar ervare, geharde polisie­man en hy lewer gereeld saam met pastoor Louw praatjies oor die gevare van dwelms en drankmisbruik by skole in die onderdorp. Hy het reeds ’n groot vriendekring opgebou en dien as voorsitter in die misdaadbestrydingskomitee.

“Jy moet versigtig wees, Wielieboy, onthou daar is al op jou ge­skiet,” sê Mpho en sit haar hand op sy skouer.

“Ja, ek weet, ek is altyd versigtig. Maar as daar korrupte mense onder ons is wat jy nie kan vertrou nie, word dit nog gevaarliker.”

Mpho sit haar hande teenmekaar en kyk peinsend voor haar uit. Sy draai na hom. “Die man saam met wie jy werk, hoe goed ken jy hom?” vra sy.

“Wie, Snyders? Goed genoeg om te weet hy’s ’n eerlike man, hy sal nie so iets doen nie,” antwoord Mathabola.

“Sê wie? Ek het hom nou die dag voor die supermark uit ’n grand kar sien klim. Jy moet onthou, sy vrou het hom gelos en sy twee kinders saamgevat Kaap toe. Ek sê jou, om daai twee kin­ders en sy gewese vrou te onderhou en boonop ’n nuwe kar te hê kos geld, ’n polisieman verdien nie so baie nie.”

Mathabola kyk af. Hy kan nie verstaan hoekom sy so agter­dogtig oor Snyders is nie. Het sy iets êrens gehoor?

“Kom ons los nou maar ander se probleme, party dae kry ek self ’n bietjie skaam,” sê hy.

“Skaam waarvoor?” vra Mpho.

“Ons voorregte, en oor Shidele, sy’s in ’n goeie skool hier bo in die dorp.”

“Wat daarvan?” vra Mpho.

“Jy moet ’n bietjie gaan kyk hoe lyk dit in die skole daar onder,” sê Mathabola. “Kinders wat verval onder allerhande euwels, hulle flenter in die strate rond, nou die dag is die polisie ingeroep na ’n skool waar ’n seun met ’n lang mes betrap is.”

“Ja, ek weet dis tik wat die oorsaak is van al die ellende,” sê sy.

“Ja, dis tik. Maar ’n mens moet verder kyk, na die omstandig­hede waarin hierdie mense lewe, ’n kokkerot kan net by sy dui­sende aanteel as jou koskaste en stoof gedurig vuil is. Daar is soveel armoede.”

Mpho bly stil.

“Hoekom kyk jy my so?” vra hy.

“Onthou net, jou gesin kom eerste, nie daai mense nie, jy kom byna elke dag tam en moeg by die huis, ek het in die laaste tyd niks van jou nie,” sê sy. “Hoekom begin die onderwys nie ’n soort van maatskaplike marshall plan in daardie gemeenskappe nie?”

Mathabola staan van die sofa af op, hulle gesprekke raak by die dag vuriger. “Nou wat verwag jy moet ek doen, Mpho? Ek het al daaraan gedink om versterkings aan te vra, maar toe bedink ek my weer, dit gaan nie werk nie, ons sit al klaar met lekkasies in die mag hier by ons,” sê hy.

“Wielieboy, verstaan jy wat sê daai ou speurder in daardie boek van hom, wat’s sy naam nou weer?” vra sy.

“McKenzie, Hanniball McKenzie,” antwoord Mathabola. “Daar is nou ’n man uit een hout gesny, die ou korrelkop bly nog steeds in Kaggelsberg.”

“Ek sien hy word nou nog geprys oor sy werk tussen die bruin mense en teen die gangsters,” sê Mpho. “Jy sê self die raad wat hy in daardie boek gee, is van onskatbare waarde.”

“Dis waar, hy’t ’n sagte plek gehad vir die bruin mense. Maar jy moet onthou, Mpho, tye het verander, daai tyd was daar nie tik nie.”

“Ja, maar McKenzie skryf daardie boggelman Jaffie Buffels is ’n baie goeie voorbeeld van hoe mense ander om die bos kan lei met hulle gedrag en voorkoms, so hou jou oë en ore oop, Wielie­boy,” waarsku sy.

Stienie Mouries staan vroeg die volgende môre voor die spieël. Meisie is reeds weg skool toe. “Ek kan dit nie langer uitstel nie, hierdie ding met Dampies vreet my op!”

“Maria, ek loop nou,” roep sy, en stap by die hekkie uit. “Ek hoop Dampies loop nog skool, anders weet ek nie wat ek gaan maak nie,” sê sy vir haarself.

Toe sy by die Hoërskool Helshoogte vra om met die skool­hoof te praat, kan sy sien hy het haar verwag. Die nuus wat sy ge­vrees het om te hoor, is waar.

“Dampies is nie meer ’n leerling hier nie, mevrou.”

“Kan meneer hom nie maar nog ’n kans gee nie?” vra sy pleitend.

“Ek is jammer, mevrou,” antwoord die hoof, “ons het reeds alles probeer. Jou seun en Bennie en Pietie Filander tik, mevrou, ons kan dit regtig nie meer uithou nie. Ek is jammer.”

Stienie sit verslae. Dan staan sy op en verlaat die skoolhoof se kantoor.

Die hart van 'n ma

Подняться наверх