Читать книгу Stories van Rivierplaas - Alba Bouwer - Страница 5

Die asdans en die bul

Оглавление

ALIE STAAN met haar rug teen ’n pendoringboom en kou aan ’n groot stuk blink gom wat sy teen die stam gekry het. Sy kyk hoe die son teen die koppie agter die plaashuis val en weet dit beteken dat dit nog baie vroeg is en dat die middag nog lank is. Aanstons sal Lulu kom, en dan sal hulle planne maak: miskien sal hulle vanmiddag klip-klip speel, of gom soek al op die rivierwal langs, of sommer ’n pophuis bou op die agterstoep. Lulu is net so ’n kortkop-dogtertjie soos Alie en sy is ook in gr. 4 in die plaasskool wat in die laagtetjie net onderkant Alie-hulle se huis lê. Net so lank, net so breed, net so slim en net so stout, sê tant Lenie, Alie se ma, altyd. Net Alie se hare is spierwit en Lulu se hare is pikswart.

Kort nadat oom Jan en tant Lenie op daardie plaas langs die rivier kom woon het, het Lulu se pa op ’n dag daar aangekom en kom vra of hy maar in die groot sinkhuis wat ’n entjie van oom Jan se opstal af is, kon kom bly en daar ’n winkel en ’n poskantoortjie kon hê. Lulu se pa en ma het van ’n land ver oor die see gekom – Assirië, het tant Lenie gesê, is die land se naam. Oom Jan was bly dat hy ’n winkel en ’n poskantoor op sy plaas kon kry, en Alie en haar klein broertjie, Hennie, was bly omdat hulle gehoor het die nuwe oom en sy vrou het kinders.

Op ’n dag het die nuwe mense met ’n ossewa van die stasie af op die plaas aangekom. Die pa en ma het eerste afgeklim, en toe het die kinders begin afklim – groot susters en groot broers en klein sustertjies en klein broertjies, daar was so baie en hulle het so om die wa rondgekriewel dat Alie glad nie kon tel hoeveel daar was nie. Eers die aand het sy gehoor tant Lenie sê vir oom Jan: “Dit lyk my goeie mense wat ons hier gekry het, maar reken net, hulle het twaalf kinders.”

Twaalf kinders! Alie wou nog verder uitvra, toe sê tant Lenie: “Alie, kyk, julle kan met die nuwe kinders speel, maar julle gaan nie aldag en heeldag soontoe nie, hoor. ’n Mens trap nie jou bure se drumpels uit nie.”

Onder daardie twaalf kinders was daar toe Lulu wat net so oud soos Alie was, en Bennie wat net so oud soos Hennie was en ook nog nie skoolgaan nie. En al is jy ook hoe oud, dink Alie terwyl sy so teen die doringboom staan, onder daardie kinders moet daar een wees wat net so oud soos jy is, want daar is dan twaalf.

“Wha!” sê iemand opeens agter die boom, en Alie sluk ’n groot stuk gom heel in van skrik. Lulu skater dit uit en gee Alie ’n klap op die rug om die gom uit haar keel te kry.

“Ag, vir wat skrik jy so? Weet jy wat, my broer Tonie sê daar is brulpaddas in die vlei. Kom ons gaan vlei toe en dan kyk ons hoeveel brulpaddas ons kan vang.”

“Vlei toe?” sê Alie bangerig. “Ons mag nie vlei toe gaan nie, dis te naby die nuwe bul se weiplek. En ek hou nie van brulpaddas nie.”

“Aag, jy’s bang. Whê, jou voete is groot en jou hart is dood, whê,” sê Lulu en sy trek ’n skewe mond soos haar groot broers altyd vir haar maak.


“Ek is nie bang nie, en my voete is nie groot nie,” stry Alie.

“Nou ja, kom dan saam vlei toe. My broer Tonie sê as jy tien brulpaddas vang, kan jy enige ding wens en dit sal uitkom,” sê Lulu.

Alie kyk nog ’n slag bangerig na die huis se kant toe en toe draf sy agter Lulu aan. Al tussen die pendoringbome gaan hulle, die wit koppie langs die swart koppie. By die kampdraad buk hulle, seil onderdeur en draf in die lang gras af tot in die vlei.

In ’n laagtetjie net anderkant die vlei is die strooise waar die Basoeto’s woon. In een van die strooise woon Melitie wat by tant Lenie in die huis werk. Sy het twee kinders, klein-Melitie en Sanna, wat omtrent so groot soos Alie is. Die twee is besig om in die weikamp mis op te tel vir ou-Melitie om die stroois mee te smeer en hulle sien die wit koppie en die swart koppie tussen die lang gras in die vlei. Dadelik sit hulle die blik mis neer en hardloop ook af vlei toe.

Alie sit nog en planne maak hoe om nie te help brulpaddas vang nie, toe sien sy hulle deur die draad kruip.

“Hier kom klein-Melitie en Sanna! Lulu, kom ons sê hulle moet vir ons die asdans dans, toe.”

Lulu vergeet ook sommer van die brulpaddas.

“Ja toe, Sanna, dans vir ons die asdans, toe wat,” soebat sy.

Die Basoeto-kinders op so ’n Vrystaatse plaas dra nie klere nie, en Sanna en klein-Melitie het elkeen net ’n kralebandjie om die onderlyf en ’n paar ringe van koperdraad om die arms. As hulle dans, raas die ringe tog te mooi.

“Ag toe, klein-Melitie,” vra Alie baie mooi, “dans gou vir ons.”

“Jy moet breng die twee rooi kraal,” sê klein-Melitie en haar wit tande blink soos sy glimlag.

Vir krale, en veral vir rooi krale, sal die Basoeto-kinders enige ding doen, en Alie sê sommer dadelik: “Ja, ek sal jou twee grotes gee.”

Nou sit Sanna en klein-Melitie hul kaalgeskeerde koppies so skeef, klap-klap met die handjies en dans die asdans dat die gras so kraak. O, dis darem mooi! Die koperringe wat so klingeling-klingeling, die kralebandjies wat so wip-wip en die klein swart voetjies wat al in die rondte trap-trap.

“Ag, ek kan dit ook doen,” sê Lulu skielik.

“Jy kan nie en jy sal ook nooit so goed kan soos Sanna-hulle nie,” stry Alie.

“Ek kan as ek net hulle kralebandjies aansit en sonder klere is …” en toe kry Lulu dadelik ’n splinternuwe plan: “Kom, Alie, ons trek vir Sanna en klein-Melitie ons klere aan, en dan sit ons net hulle bandjies en ringe om en hulle kan vir ons die asdans leer.”

“Dis ’n lekker plan,” sê Alie dadelik en net daar op die plek kry klein-Melitie en Sanna hul rokkies en broekies aan, en Lulu en Alie sit die kralebandjies laag om hul onderlyfies en die koperdraadringe om hul arms, net soos Sanna en klein-Melitie dit dra. Nou klap almal hande en langs mekaar skommel die wit koppie en die swart koppie so skeef-skeef, en die kralebandjies wip-wip en die armbande klingeling-klingeling en die klein wit voetjies trap-trap al in die rondte dat die gras so kraak. O, dis darem lekker!

“Jô!” skree klein-Melitie opeens, “die bel!”

“Wat?” vra Alie en Lulu gelyk en hulle gaan staan, skoon uitasem. Toe sien hulle net hoe kom oom Jan se rooi Afrikanerbul reg op hulle afgestorm.

Soos ’n klomp verskrikte kiewiete saai die vier deur die gras reguit na die draad toe, seil soos akkedisse onderdeur en trek op ’n streep na die strooise toe. Klein-Melitie en Sanna met die rokke aan vooruit, en Alie en Lulu kaal agterna, met die kralebandjies wat so wip-wip en die armbandjies wat so klingeling-klingeling soos hulle deur die veld hardloop.


By die stroois val die vier half gelyk by die klein deurtjie in en bo-oor ou-Melitie wat langbeen sit en vleg aan ’n seroetoe.

“Jôna whê!” roep sy verskrik. “Nonwe Alie! Melitie, by wie se rok loop jy?”

Ai, nou moet Alie darem mooi soebat dat ou-Melitie nie vir tant Lenie van die ding moet gaan sê nie, en dat sy nie vir klein-Melitie en Sanna ’n pak moet gee nie.

“Jôna whê!” sê ou-Melitie kort-kort en sy skud haar kop en skud haar twee kinders uit Alie en Lulu se rokkies en broekies uit.

’n Rukkie later gaan die wit koppie en die swart koppie weer langs mekaar tussen die doringbome deur op huis toe. By die kampdraad gaan Lulu staan en sy sit haar hand op haar bors, net soos haar groot broers altyd maak, en sy sê net soos hulle: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.”

Alie moet nou haar hand ook so op haar bors sit en sê: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.”

Dit beteken jy mag nooit gaan sê nie. Nou kan hulle gerus huis toe gaan, want hulle weet ou-Melitie sal nooit gaan verklik nie.

Die volgende oggend toe Alie by die agterdeur uitstap skool toe, sit klein-Melitie om die huis se hoek en wag. “Jy moet gee die twee rooi kraal,” sê sy en haar wit tande blink soos sy glimlag. En daar gaan Alie se laaste twee rooi krale.

Stories van Rivierplaas

Подняться наверх