Читать книгу Stories van Rivierplaas - Alba Bouwer - Страница 6
Eiers uithaal
ОглавлениеOP RIVIERPLAAS het man en muis en elke klein mannetjie en klein muisie sy werk, sê tant Lenie altyd. Alie se spesiale werk is eiers uithaal. In die laatmiddag as die plaashuis se dak ’n lang streep oor die koppie begin maak, moet Alie die biesieroei-mandjie met die stywe handvatsel uit die rondawel gaan haal en haar werkie gaan doen. Daar is sommer baie hoenderneste op baie plekke op Rivierplaas, en Alie het sommer baie aande geneem om uit te dink waarlangs sy moet loop om die lekkerste paadjie te loop van die een nes na die ander, en om te weet watter nes moet sy heel eerste uithaal en watter nes heel laaste. Op die ou end het sy so geloop: Heel eerste gaan sy die eiers uithaal in die netjiese op-’n-ry-neste in die groot kamp waar die spoggerige wit Leghorn-hoenders gehou word. Aan daardie sifdraadkamp se hek is ’n sterk slotjie, en dis al wat lekker is van daardie neste se uithaal. Alie sluit dan altyd die hekkie so knarts-knarts oop met die plat sleuteltjie, buig laag vooroor en sê vir die biesieroei-mandjie wat sy agter haar staangemaak het: “Kom, skone prinses, stap in in my goue paleis en rus ’n wyle hier.” Die stukkie van die “rus ’n wyle” het oom Jan altyd vir die dominee gesê as hy by die plaas aankom voordat hy in die plaasskool gaan kerk hou, en dit het vir Alie tog te mooi geklink.
As Alie en die biesieroei-prinses dan eers in die hoenderhok by die neste is, verjaag sy die ou wit hoenders wild en wakker met ’n swaai van die einste prinses en haal die eiers vinnig uit. Niks lekker daardie kampie nie, want daardie hoenders laat Alie altyd aan die kinders van die dorpskool dink: so styf en deftig en almal eenders. As die hekkie dan weer knarts-knarts toegesluit is, en die plat sleuteltjie veilig onder die plat klip langs die hekpaal waar Alie dit later kom haal voordat sy die eiers rondawel toe bring, dan stap sy verder.
Tweede gaan Alie die eiers uithaal in die klein afdakkampie waar al die deurmekaar hoenders saans kom slaap. Hier slaap nou sommer die ou lekker rooibont hoendertjies wat tant Lenie so af en toe van die Basoeto’s present kry, die koekoekhoendertjies wat Alie gekry het van eiers wat die groot kalkoen vir haar uitgebroei het, Hennie se drie kapokhoendertjies en die ou vet swart henne wat lyk soos die tantes in die dorpsbiduur. Dis die kamp van Jan Rap en sy maat, sê oom Jan altyd. Die Jan-Rap-hoenders wei sommer die hele plaas vol en kom eers huis toe as ou-Melitie saans hulle mielies kom gee. As Alie die eiers kom uithaal, is die kampie leeg, net op een van die neste sit gewoonlik ’n broeis swart hen. Dan sit sy die mandjie versigtig neer, buig laag voor die ou blinkogie-hen en sê: “Edele koningin, ek bid u, staan op en stap na die vrye ruimtes onder die pendorings by die rivier. Veroorloof my …” Die stukkie van die “veroorloof my” het Alie eendag die dominee hoor sê toe hy by die deur gewys het dat tant Lenie eerste moet uitstap, en dit het vir haar tog te mooi geklink. Na al hierdie dinge luister die ou swart hen net met ’n paar oogknippies en sy brom nie eens ’n broeis brom nie. Dan stoot Alie haar moue vinnig op, spoeg op elke hand soos Hoppies maak as hy rieme brei, sê hardop: “Rerrie, sterrie, ghou!”, steek haar hand vinnig in en lig die ou swarte met een haal van die nes af soos ou-Melitie haar geleer het, voordat die ou hen een broeis pik kan pik. As die ou hen dan daar eenkant haar broeis kekkel staan en kekkel, haal Alie die eiers uit die nes wat so lekker veerwarm voel en dan maak sy ’n tweede buiging voor die ou swarte: “Edele koningin, u bed van roosblare en roosmaryn is gereed. U kan nou maar kom rus op ’n zagte bedstee.” Die stukkie van die “rus op ’n zagte bedstee” het Alie oom Krisjan eendag by die plaasbiduur hoor bid en sy het dit spesiaal onthou.
Ná die neste in die kampie van die Jan-Rap-hoenders kom al die lekker weglê-plekke. Daar is die nes tussen die wortels van die rankroos by die tuinhoek, waar een van die kapokhoendertjies altyd lê; daar is die uitskropnes van die ou swart hen in die bloublommetjies-heining voor die voordeur; daar is die nes onder die groot graspol langs die sinkdam, waar een van die koekoeke lê, en daar is die baie weglê-neste van die rooibont hoendertjies tussen die eerste klompie pendorings by die rivier. Agter die rondaweldeur het tant Lenie ’n ou houtbotterspaan opgehang met ’n potlood langsaan. Daarop is vyf hokkies en boaan elke hokkie is ’n letter: A, dis vir Alie. L, dis vir Lulu. K, dis vir klein-Melitie. S, dis vir Sanna en H, dis vir Hennie. Nou ja, die een van daardie vyf wat êrens op die plaas ’n weglê-nes kry, kry ’n strepie in sy hokkie, en as oom Jan en tant Lenie met die Nagmaal dorp toe gaan, tel tant Lenie elkeen se strepies en dan bring sy van die dorp af vir elkeen net soveel lakkiepekkers soos hy strepies het. In so ’n lakkiepekker is klein ronde rooi lekkertjies, maar dis nie die ding nie. Saam met die lekkertjies is daar ook ’n blink dingetjie so groot soos ’n trippens – ’n ringetjie of ’n perdeskoentjie of ’n steweltjie of ’n poppie, vreeslik mooi.
Klein-Melitie het al een Nagmaal vyf strepies gehad en Sanna vier. Alie en Lulu het nog nooit meer as twee op ’n slag gehad nie. Hennie het altyd net een, en dan is dit altyd ’n weglê-nes wat ou-Melitie of Hoppies kry en vir hom gaan wys, want hy is maar vier jaar en nog nie groot genoeg om nes te soek nie. Tant Lenie sê niemand sal ooit meer weglê-neste as Sanna of klein-Melitie kry nie, want hulle ken die rooibont hoendertjies so goed soos hulle eie mêma en hulle weet net waar om te soek.
As Alie die eiers in die weglê-neste gaan uithaal, soek sy altyd tussen die graspolle of sy nie ’n kiewietnes kan kry nie. Die een wat darem op Rivierplaas ’n kiewietnes kan kry, daardie een sal van enigeen enige ding kan vra en hy sal dit moet kry. Op die hele Rivierplaas het nog net Hoppies ooit ’n kiewietnes gekry, tussen ’n paar lae doringbossies in die oop veld.
Juffrou Barnard het eendag in die skool vertel van die man wat jare gelede langs ’n rivier naby Kimberley ’n diamant opgetel het. Die man het baie geld gekry, en almal in die hele wêreld het van hom geweet. Toe het Lulu aan Alie gestamp en gefluister: “Wat is dít nou? Ek wed hy het nog nie ’n kiewietnes gekry nie.” Juffrou Barnard het Lulu dadelik gevra wat sy weer gepraat het, en toe was sy baie kwaad dat hulle van kiewietneste kon praat as sy vir hulle geskiedenisstories vertel. En van daardie dag af sit Alie langs Anna Poen, en Lulu sit heel voor langs Petrus Prins.
Ná die weglê-neste kom die tweede laaste nes waar Alie eiers moet uithaal, en dit is die koekoekhen se nes in die een hoek van die stalkrip. Daar kom sy aan net soos Jantjies die drie perde wil inbring. Daar is Doppie en Sopie, die twee karperde, wat tant Lenie so gedoop het omdat dit haar laat dink het aan die wynplaas in die Boland waar sy grootgeword het, en daar is Prens, oom Jan se vosbruin ryperd. Jantjies wag voor die deur totdat Alie die eiers uitgehaal het. Sy sit die biesieroei-mandjie met eiers om die hoek van die stalmuur neer, dan tel Jantjies haar op Prens en lei hom ’n slag in die rondte, en dan moet sy mooi plat lê op Prens se rug sodat hy by die staldeur kan ingaan. Elke aand as Jantjies haar aftel, sê hy dieselfde ding: “Nonwe Alie, sos jy sê vor meneer Jaan, ek sal hom die hoenertjie se nes by hierie krep weggooi.”
Dan sit Alie haar hand op haar bors en sê: “Kros-jor-hart-en-doun-sy.” Kyk, as oom Jan van die instappery by die staldeur op Prens se rug weet, sal die kerk uit wees, soos tant Lenie altyd sê. Maar daardie tyd van die dag as Alie eiers uithaal, is oom Jan altyd met Kappie, sy ander ryperd, oor na Ouma toe op Brakfontein, en tant Lenie is besig om Hennie te was en in die bed te sit. Nou kan die ryery aangaan. Oom Jan het gesê as Alie elf jaar oud is, sal hy haar op Kappie leer ry, maar elf jaar is nog so ver soos Bloemfontein toe waarheen ’n mens nie met ’n perdekar kan ry nie, want Alie is nou maar nege. Nou oefen sy maar met Jantjies op Prens.
Daardie nes by die stal is die tweede laaste nes. Die heel laaste nes, die een wat Alie aspris vir heel laaste bêre, is die nes in die holtetjie van die agterste kraalmuur. Ai, dis ’n lekker nes, al is daar byna nooit meer ’n eier in nie. Teen die tyd dat Alie daar kom, is ou Hoppies net besig om te melk, en Diek en Sammie, Hoppies se twee kinders, help die kalwers uit die kalwerhok uitjaag. Dan sit Alie die mandjie eiers langs die kraalmuur neer en klim op die muur, net by die plek waar Hoppies vir haar die groot plat klip gerol het om mee op te klim. Net soos haar wit koppie oor die kraalmuur kom, maak Diek so ’n ekstra klap met sy voorslagsweep bo-oor die arme kalwers in die hok, en dis net so goed soos wanneer Lulu sal sê: “Whê!” So is daardie klap, want Alie het al so baie geprobeer, maar sy kan daardie klap nie regkry nie. Dis te mooi as Hoppies so maklik op sy hurke sit onder ’n koei en hy melk sulke lang trekke dat die melk so sjor-sjor in die emmer opskuim, en tussenin sê hy kort-kort: “Soeka,” as die koei met haar stert waai en hom so deur die gesig vee. Sommerso sjor-sjor is sy emmer vol, dan rek hy hom regop, klap die koei op die rug en sê: “Tanki!” Dan klap Diek met sy sweep oor die kalwers, en Sammie keer die regte kalf uit met ’n groot geskree en gespring in die rondte. En as die kalf nog so ’n paar keer agteropskop soos hy na sy ma toe hardloop, dan hurk Hoppies al weer by die volgende koei.
Op ’n aand het Alie darem te lus gekry om net soos Hoppies te gaan hurk en sjor-sjor te melk. Sy moes mooi soebat, want Hoppies pruim nie soos ou Jantjies nie en jy kan hom nie ompraat met ’n pruimpie nie. Op die ou end het hy darem maar sy spanriem neergegooi en Alie van die muur afgetel. Toe moes sy gaan sit onder Kortkop, want sy is mak, het Hoppies gesê. Die hurk was maklik genoeg, maar toe sy so aan die spene trek, het daar g’n druppel melk gekom nie, nie eens ’n ou kolletjie nie. Diek het skoon vergeet om sweep te klap, en Sammie het die kalwers skoon gelos en met ’n mond vol blinkwit tande kom staan en lag. Toe het Hoppies sy kop geskud en gesê: “Nonwe Alie, sos jou arm hy’s dek jy sal banja moi mellek. Jou arm hy’s nog den.”
Maar toe het die moeilikheid gekom, want net toe Alie ewe bek-af omdraai om weer oor die muur te gaan klim, het ’n jong koeitjie wat die vorige nag gekalf het, haar geskraap. Hoppies het geskree, Diek het met die sweep geklap, Sammie het op en af gespring en Alie het genael en soos ’n kousbandslangetjie oor die hoë kraalmuur geseil, sommer bo-oor geseil en anderkant afgeval soos ’n ou ryp vy van ’n tak af, en so waarlik, binne-in die mandjie eiers wat anderkant op die grond staan! Sjoe, die deftige wit hoenders se eiers, die koekoeke se eiers, die ou swart henne se eiers, die rooibont hennetjies se eiers, die kapokkies se klein eiertjies, almal was stukkend, en almal se geel het strepe-strepe oor Alie se wit kop en oor haar rokkie geloop. Sammie en Diek het oor die kraalmuur gehang en ou Hoppieshet bo-oor gekyk en gesê: “Jôna whê!”
Alie het toe maar die biesieroeimandjie met die lang geel eiertoue wat daar uittap, opgetel en aangestap huis toe. Haar bene was nerfaf en haar arms was nerfaf en haar gesiggie was nat van die huil, en wat nie nerfaf en vol huil was nie, was vol eiergeel.
Ou-Melitie het haar voor die agterdeur gekry, haar opgetel en net so in Hennie se sinkbad vol water voor die kombuisstoof getel en begin skrop terwyl sy aanhou sê: “Jôna whê!”Toe tant Lenie uit die kamer kom waar sy Hennie in die bed gesit het, was Alie skoon, haar klere was uitgewas en die biesieroei-mandjie was wit geskrop, maar daar was nie een eier om in die kassie in die rondawel te gaan uittel nie. Tant Lenie het baie hard gepraat oor dogtertjies wat oor kraalmure klim en nie dames is nie en oor ’n koei wat oorlede Oupa geskep en bo-oor ’n kraalhek gegooi het dat hy flou anderkant val. En Alie het saggies gevat oor die dik salf wat ou-Melitie aan die stukkende bene gesmeer het en gewonder wat ’n mens moet maak om jou arms so dik soos Hoppies s’n te kry sodat jy ook sjor-sjor kan melk.