Читать книгу Stof - Alettie van den Heever - Страница 5

Saad 1

Оглавление

Dinsdag – Woensdag, 1 – 2 Julie 2081

Dit is ’n platstof onwintersdag. Juliemaand het verloor nog voor hy begin het. Haar ouma sou gesê het die son is drie desembers sterk. As ’n mens te lank kyk, sal die Banghoekberge se gebewe jou die floute gee. Glare Gone-lense of te not.

Amper kyk anderpad. Links oorkant is die ou wasplek. Een van die min geboue in die nederset met heel vensters. Godliness. Keep your heart clean and your laundry cleaner, staan dit in vier uit elke vyf letters.

Die man voor haar draai sy mummiekop en sien waarna sy kyk. “Hou jou gat skoon en jou dunderm skoner,” sê hy.

Amper ignoreer hom. Laventel. Jasmyn. Sitroengras. Sy het dit nie self geruik nie, maar uit haar vals geheue kom dit uit die kaalgesteelde wasmasjiene aangesweef. Die ry beweeg vorentoe. Sewe mense tussen haar en Weigh In. In ’n glasbrok regs van die ry verskyn haar duikbril, haar skilferlippe wat aan ’n dread suig, en haar kappie met die bruin boskaas wat daaronder uitsteek. By haar haarlyn staan die hare donsies – die vingers wat die dreads gedraai en gehekel het, is dood. Amper kyk weg. Die dread proe soos stof maar dis afwisseling – nog net haar linkerhand se duim- en wysvingernael het ’n stukkie wit oor.

Die skren links van Meshitium se Weigh In-venster gaan aan. Jolige musiek. Noag rem aan sy leiband en blaf vir drie dansende blare op die skren. Die man voor haar buk by Noag en vryf aan sy lang oor, trek die geriffelde punte van die halwe oor na. Die kwyl drup by sy mond uit op Noag se snoet. Amper trek te diep aan die lug. Die reuk van abses en drogies kom deur haar brilfilters. Sy blaas drie keer uit deur haar neus en katrol die hond in, maak die leiband korter waar dit aan haar belt vas is. Net liggies intrek, sodat die lug nie van verder as die streepsel aalwynsalf onder haar neus kom nie. Verdomde neus. Verdomde man wat Noag se vel met sy oë afslag. Kan hy nie die ribbebene ruik nie? Hy kyk steeds agtertoe en steek sy arm uit om die mense te tel.

“Vyf, tien, vyftien, twintig, een-en-twintig. Meshitium het slim geraak met die skrens vir peak hour,” sê hy en wys daarna.

Sy knik en probeer haar mondhoeke lig. Dis nie slimgeit nie; hulle het nie ’n keuse gehad nie. Drie MecSecs het seergekry in die chaos van Januarie se Leegskytkiem. Sy kou aan ’n velletjie langs haar duim. Sy kan nie onthou hoeveel sy geskyt het en of sy in die rye was met die bakleiery nie.

Sy onthou die dag van die inentloting. Die hele Kiefmor op die pêtse teerstraat tussen die tentedorp en die biogastenke agter Meshitium. Amper se naam is dertiende getrek. Net na een van die Jafta-mans s’n. Haar ouma se naam het in die emmer gebly. “Bettina Molooi!” het Amper geskree. “Bettina Molooi!” Niemand het gehoor nie. Baie name is uitgeroep deur desperates. Afgekoude kneukels. Sonsteek wat onder ’n skedel inkruip. Mensvleisasem. Die reuke het haar huis toe laat hol. Daarna onthou sy haar ouma se skedelgesig agter die kliniek se kwarantynvenster en haar laaste preek- en trooswoorde: “En jy bewaar jou innebor, en jou tongkennis, en die dooigoed vir die volgende lewe, en jou hare,” – Ouma het haar voorkop teen die venster gedruk – “die lokke, dis die drade, die drade wat jou aan my verbind.”

Sy’t op ’n stoel gaan sit. “Jy moet weet, kindjie, ek sal lag soos wat ek my annerkant uitskyt. En wanneer ek by die gooie aankom, sal jou oupa vir my wag en saam met my lag. Want om só te dood in hierdie tye – jy maak wins en jy maak komedie en die geweld kom uit jou eie lyf.”

Daar’s ’n gejeuk waar die duikbril bo haar oog vassuig. Sy krap rondom die jeuk – die gluur is te erg vir afhaal. Wakinyan het gesê sy lyk soos ’n ruimtewese uit ’n pre-Hardskip comic-boek wat hy iewers gesien het: met die grys dungaree, die duikbril wat donker raak in die gluur en die seekatarms in ’n poniestert.

“Hi there, Kiefmor kids,” sê ’n groen monster op die skren. “I am Div and I am your friend. Together we will learn everything there is to know about diversity and how Meconium, together with all the div enthusiasts from the settlements, wants to protect it.”

“Ek kan nie sien nie,” hoor Amper agter haar. ’n Meisiekind trek aan haar rugsak. Noag lek die kind se wang en sy lag. Sy lyk nie ouer as drie nie, maar sy dra twee vol Shitesavers soos ’n baba in haar arms. Amper tel haar op. Sy’s waarskynlik ligter as die Shitesavers.

“Did you know that Kiefmor is the settlement where we’ve seen the most animals and plants come back after the Hardship?” vra die monster. “In the first half of 2081 alone, you have rediscovered three species in this area. Keep your eyes open and report anything you find to one of the Meconium security guards at your biogas facilities. What’s in it for you? You and your mom or dad can win a trip to Meconium!”

Die man kyk weer om. “In die kakgaslorrie, ja. Daai’s ’n belangrike ding om by te sit.”

Hy grinnik. Die tande wat sit, sit agtertoe.

’n Reeks video’s begin: ’n tier en ’n hond wat saam speel, ’n kat wat toertjies doen.

“Kom, Ulet,” sê ’n vrou langs Amper en steek haar arms na die kind uit. “Dankie,” sê die vrou. “Dis drol van jou.”

Amper knik en sit weer ’n dread in haar mond. Haar maag kramp van leeg en onlekker wees – sedert Wakinyan twee dae tevore verdwyn het, het sy en Noag saam twee Shitesavers volgemaak.

“Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas.” Die professor kom jillend om die hoek van die gebou gehuppel. Sy’t hom lanklaas gesien.

’n MecSec stap in sy rigting.

“Akkieshok, drolpaleis, strontsentrum, skytgebou, kakmansion!”

Die MecSec haal sy laserstok uit. Amper kyk weg en op. Weerskante van die Meconium hoog teen die gebou is twee ewigheidstekens met cob uitgebou. Sy volg ’n teken met haar oë. Die enigste een wat vir die prof tyd gehad het, was haar ouma. Haar ouma kon enige reuk uitstaan. Sy het ’n hand op die professor se skouer gesit en gevra waar hy laas sy besigheid gedoen het. Na haar ouma mooigepraat het, het die MecSecs opgehou om hom toe te sluit as hy nie in Meshitium geskyt het nie – hulle het haar kom roep. Dan is sy met ’n Shitesaver na sy skytplek en sy’t dit kom inruil en vir hom Staple en water gaan haal.

“Is daai nie Bettina Molooi se kleinkind nie?” hoor sy die MecSec sê. Die stywe lap van sy weathergear kraak nader. Noag grom.

“Kyk jý nou na die malle?” vra die MecSec.

Sy roer nie.

“Hey, ek praat, meisie. Kyk jý nou na die malle?”

“Nee,” sê sy sonder om die dread uit haar mond te haal.

Sy het genoeg om na te kyk. Die dooigoederfnis, die hond, haarself. Sy beter vir Wakinyan kry: Vir hom is sy nie net ’n etterse oppasser nie.

“Next,” roep die man agter die venster. “Gas number?”

“One-three-five-eight-eight-nine-five-eight,” antwoord Amper. Sy stoot die vol Shitesavers onderdeur die tralie op die skaal.

“Eight hundred and fifty grams,” sê die man.

“Can I have five Shitesavers,” sê sy.

“That’s worth a hundred grams.” Hy wys na ’n plank bo die venster: Cheaper to number two at a Meconium loo.

“Yes. I want five Shitesavers.”

Hy tel haar koeponne af en gee dit saam met die Shitesavers aan.

“Standaardpakket?” vra die vrou agter die Supplies-venster toe Amper die koeponne, ’n bakkie en leë bottels ingee.

“Nee. Nie gas nie. Een porsie Staple mix, een hempklomp en die orige vir water.”

Toe die bakkie kos, een liter water en een hempklomp voor haar op die toonbank lê, skrik sy. Sy’t vergeet hoe duur die klompe is.

“Hoeveel kred oor op die … family account?” vra Amper.

“Vyf-en-sewentig BioG’s.”

“Nog twee hempklompe en water. Asseblief.”

“Vir die hele lot?”

Amper knik.

“Wag.” Die vrou loop uit die hokkie en skree iets na agter.

Amper kou aan haar duimnael. Die laaste van haar Leegskyt-erfporsie daarmee heen. Die vrou kom terug met ’n houer vol hempklompe. Sy kry twee daarvan en nog ses liter water.

Die son jaag die skadu’s net wes van Meshitium – daar’s tyd vir ompad Solamalgia toe loop. Sy’t die winkel vroeg gesluit. Niemand gaan dringend ’n skildery of ’n sybloes nodig hê nie. Behalwe vir Jafta se besoeke was haar laaste koper in Mei daar. ’n Tentelaait wat vir sy meisievrou ’n ring kom koop het. Hy’s weg met die cheapste en blinkste een – ’n plastiekring met ’n pienk kristal. ’n Kierang-ring met ’n kierang-kristal. “Want kierang is nodiger as ’n los maag in hierdie ekonomie,” het haar ouma gesê.

By die koorsboomlaning maak sy vir Noag aan die tyre-swaai vas. Sy klim teen die hoogste van twee peperbome in die hoek van die oop erf op en gaan sit in die skadu van die blare wat nog klou.

Die humanure-lande en die hemplande lyk naby. ’n Ent verder loop ’n groen skeur bergop na die dunblou lug. Daar waai haar ouma tussen die aalwyne en die bergsoutseepbos. Vyf maande het die mayonnaise-bottel langs die music box in die winkel gestaan. Tot Wakinyan haar die moed gegee het om die deksel in die wind oop te maak.

Een laatmiddag vroeg in Junie het sy uit hierdie selfde boom gesien hoe hy hom aan die koorsbome verkyk. Sy’t met haar lippe gefluit – kort-kort-lank, kort-kort-lank – totdat hy opgekyk en gewaai het.

“Het jy ontsnap?” het sy gefluister toe hy nader stap. Sy’t hom maar nog ’n week of wat in Solamalgia gesien.

Hy’t gelag en die voorkant van sy leerhoed met sy wysvinger boontoe gedruk. “No, I got permission to wander around. But only for an hour or so.” Hy’t met sy elmboog teen ’n koorsboom geleun, een been gekruis oor die ander. “You better come down and show me around.”

Skielik was daar agt geure in haar neus. Sy’t gesweer sy kap om as sy beweeg.

“Jy moet eerder klim. Van hier af kan jy die hele Kiefmor sien. Hoe hoër jou uitkykplek, hoe beter lyk alles.”

Sy’t hom gewys. Eers die bakens: die Sienhomsberge waarvandaan mens soms barbarfeeste hoor, Meshitium waar almal behalwe die solastalgia-pasjente en die accountless hulle Biogrands loop maak, die humanure-lande tussen die groentetonnels waarvan die groente Meconium-gaaie in besigheid hou, die hemplande waarin Kiefmor se bargaining powers met Meconium lê, en die Banghoekberge.

“Wat gebeur daar?” het hy gevra.

“Niks.” Sy’t hom nog nie vertrou nie. “Anderkant hulle lê die see, sê hulle.”

Die Saterdag van sy derde week in Solamalgia is hy saam met haar teen die Banghoekberg op en sy’t nie haar fluitjie en darts saamgeneem nie. Sy’t hom gewys hoe om die stof met seepbos van jou lyf af te skrop en dan jou vel met aalwynblaar in te smeer. Hy het drie aalwynkoppe gepluk en daarmee toertjies gedoen wat hy in die sirkus geleer het. Sy wou nie hê hulle moet te veel pluk nie, maar hy was so opgewonde en het ’n ekstra blaar saam met die parfuumbottel in sy rugsak gebêre.

Dit was die eerste dag wat hy haar teen hom vasgedruk het. Sy kon nie die reuk in sy nek plaas nie – dit was anders as die geure in haar houertjies. Amper het die storie van die Kanniedoodaalwyn vertel terwyl sy haar ouma se as laat waai het en hy het haar weer vasgehou.

Die aand was daar ’n klop aan die winkelvenster en die kort-kort-lang fluit.

“Hoe het jy uitgekom?” het sy gevra.

“No worries. They won’t let the real malles out. The MecSec knows I’ve got a thing for this girl in town.” Sy’t gegiggel. “He turned a tight ass.”

Binne die winkel het hy iets uit sy sak gehaal.

“For Noag. Some protein.” ’n Palm vol rou vleis in ’n lap toegedraai. Meer as wat Noag in jare gehad het.

“Waar het jy dit gekry?” wou sy weet.

“Konkok.”

“What! How?”

“Paying up. Konkok can arrange stuff at the right price.”

“Oh.”

“But she doesn’t sell info. I’ve been skimping for information about a certain dread-haired girl, but she gets tight-lipped and snaky-eyed when I mention you.”

Sy het geglimlag. “Jy kan mý vra wat jy wil weet.”

“Can I?” Hy’t na haar gekyk totdat sy weggekyk het. “You’re a closed book,” het hy gesê. “I like it.”

Vir haar het hy ’n grasring gevleg en met sy parfuum bespuit.

“Dis drol,” het sy gesê.

Hy het op haar ouma se bed geslaap. Snaaks en hartseer. ’n Man in haar ouma se bed. Haar ouma se reuk flouer as vantevore. Sy het die langwerpige pilhouer onder haar kopkussing uitgehaal en dit vir hom gewys en laat ruik. Twee rye van sewe vierkante. M, T, W, T, F, S, S. Veertien dae waarin haar ouma parfuum of plantolies in ’n mengsel van plantbotters, -olies en was ingelê het.

“Vir Ampertjie Stampertjie met die neus van ’n mol. Vir Amperlekamper wie se verneuklonge saam met die grootstof hol.”

Bo in die peperboom besef Amper dat sy haar ouma se rympie hardop gesê het. Noag blaf vir haar.

“Ek kom, Noag-honne!” Sy begin afklim.

Wakinyan kon niks in die pilhouer ruik nie. Dit was orraait; haar ouma, Bones en Konkok het lankal gesê dit het vir hulle ook te flou geraak. Maar Wakinyan het gesê sy verbeel haar. Hoe verduidelik jy vir ’n stofneus hoe die wêreld anderkant die stof ruik? Sy was vies vir hom. Buiten die boek met saadstories was dit haar kosbaarste besitting. Die volgende oggend het sy daarvan vergeet: Sy gesig was oor haar gebuk en hy’t ritmies in haar nek geblaas. Mensasem. Onharde swart hare op haar voorkop. Die reuk van ondergrondse water en ’n leerhoed. Die ring aan haar middelvinger.

Sy knyp ’n peperboomblaar af en vryf dit onder haar neus om die skimreuk te verwiller. Herinneringe vleg ’n mens vas. Sy moet hier weg.

Noag blaf toe hulle verby die Jaftas se toringhuis loop.

“Ruik jy kat?” vra Amper.

Daar loop stories oor Mevrou Jafta en ’n kat waarvoor sy skelm kos gee. Honde is orraait as jy belasting betaal en oppit is, maar katte is onwettig: rondlopers en voëlvangers. Amper vat haar gewone pad oor die oop stuk veld na Solamalgia – só dat Mevrou Jafta haar nie uit haar kantoor by die kliniek kan sien nie. Sy weet nie hoekom nie, maar dit voel altyd of die vrou haar dophou.

Teen die kliniekgebou gekom, beweeg sy weer straat se kant toe, na die voorkant. Toe sy om die hoek kom, loop sy haar byna in ’n leer vas.

“Sal jy –” roep iemand van bo af.

“Helsem!” kap Amper terug. Dis Bones. Jafta is ’n kuttel in vergelyking met Bones as dit by ’n dophouery kom. Noag blaf-blaf-blaf en bly by die leer.

“Amper. Kleinkind van Bettina Molooi.”

Haar ouma se naam laat haar terugtrap. Bones kom met die leer af, kalkverfemmer in die hand. Dis een van sy bone pickings, soos hy dit noem. Hy lyk soos ’n maanman. Een van die knappes in die tentedorp het van stukke ou weathergear vir hom ’n oorpak gemaak. Die sirkel van sy gesig wat uitsteek, is bedek met ’n stofmasker en ’n paar ou MecSpecs. Hy trek die masker af.

“Ja?” sê Amper.

“Hoekom het jy nie gister gepitch nie? Ek het jou gesê: As jy –”

“Wat het jy laas Saterdag bo by die aalwyn-pêts gesoek?” Sy moet meer afgepis as hy klink.

Hy vroetel met die masker.

“Ek het jou ouma belowe ek sal ’n oog hou.”

“Ek kan na myself kyk. En Wakinyan was by.”

“Dis oor hy by was wat ek gekom het. ’n Tentelaait het gesien hoe jy en die mansmens die MecSec by Hemp 3 dods.”

“Dis gross, man. Om ander mense so af te loer.”

Hy kom nader en praat sagter.

“Wat gross is, is dat jy jou ouma se loopsaad so loop en afshow aan ’n Meconite.”

“Hy’s nie ’n Meconite nie!” kap sy.

“O nie? En wat het hy gemaak in ’n Meconium-kliniek waar net Meconites behandel word?”

“Dis nie so nie. Sy baas het ’n hoë contact in Klein China en dié het weer ’n hoë contact in Meconium. Hy’t –”

Bones skud sy kop.

“Wat dink jy gaan hy met daai aalwynblaar doen wanneer hy in Meconium kom?”

Wakinyan het ’n blaar gepluk, dit in sy rugsak gesit en haar vasgehou en gesoen toe sy wou klaarpraat dat hulle dit nie so doen nie.

“Wat het jy als gesien?” vra sy, haar gô ’n bietjie minder.

“Ek het geloop toe ek die skade sien, kleinkind van Bettina Molooi.”

Etter!

“Nou hoef jy nie meer spy te speel nie. Hy’s weg. En niks het iets oorgekom nie.”

Sy begin omdraai, maar Bones is nog nie klaar met haar nie. “Wat hoor ek dat jy hom wil loop soek? Met die biogaslorrie van alles. Dis ’n toegatidee. Jou ouma –”

“Ek weet. Ek weet.” Dis haar eie skuld. Dis oor sy eergister – met die skrik van Wakinyan se wegwees in haar maag – elke pasjent en elke werksmens na hom kom vra het. Dié dat almal weet. “Ek gaan nie meer nie.”

Hy bekyk haar agterdogtig.

“Vanaand. Doerstryt voor donker. Konkok se tent.” Sy stem laat geen keuse nie.

Dit voel of haar kake verby haar ore rem. “Ek kort nie meer jou vervlakste –” Sy bedink haar. Hy moet glo sy’s van die plan af. Anders staan en wag hy haar môreoggend by die biogaslorrie in.

“Fine.”

By die voordeur loer Wia, die stofbestuurder, uit, trek haar gesig terug en vryf verder aan ’n venster.

“As die venster nie skoon bly nie, kry diés nie genoeg lig nie,” sê Wia en wys na drie tyres in die voorportaal waarin drie aalwyne voortneuk. ’n Ferox, ’n kraal en ’n bonte.

Amper stop net lank genoeg om te knik. Meer vir die aalwyne as vir Wia. Sy’s nie lus hiervoor nie, maar Wia val langs haar in, gangaf.

“Hoe ken jy vir Bones?” vra Wia skimperig.

“Van kleintyd.” Kort. Kry die boodskap, dink sy.

“Ek hoor hy’t ’n ruk by julle gebly.”

“Dan weet jy mos.”

“Ja, maar …”

Amper gaan staan en draai na Wia.

“Dit was nog voor die tentedorp. My ouma’t gesê, daai tyd, die een Leegskytkiem se dooies was nog nie behoorlik begrawe nie, dan was die volgende kiem al hier. En die inentings was so te sê onbekombaar. Bones se ma was al half-leeggeskyt toe hulle Kiefmor gehaal het, so sy’s kwarantyn toe en my ouma het vir Bones ingevat.”

“Sy was nie bang nie? Dat hy die kiem gehad het nie?”

“Jy’t haar geken. Sy was bang vir alles. Niks het haar teruggehou nie.”

“Hoe oud was Bones toe?”

“Sewe.”

“En jy?”

“Twee.”

“En jy’s seker nou veertien, so hy’s seker nou neëntien.”

“Ek is sestien,” sê Amper en begin weer loop. Veertien!

“En hy’t op sy eie die beenmeelboerdery begin en nou’s hy so … Ag, jy weet, die meisies sê hy’s die catch van die nederset.” Wia klink betjoings in die hart.

Sy vat die eerste trap saam met Amper. Amper stop.

“Bones is ’n makeshifter. Dapper,” sê sy. “En hy ken van oorleef. As jy vir hom by Konkok ’n speserykoekie kan bedel, sal hy al sy tande vir jou wys. Al vyftien.”

Wia giggel.

“Ag dankie, man, Amper. Drol van jou!” Sy waai en draai om.

Amper hoor stemme wat driftiger raak hoe hoër sy klim. Die tweede deur staan oop. Dis Mevrou Jafta se stem.

“Wat de fok wil jy nog van ons hê, Smal? Jy hol draaie agter ’n stofgeefsel aan. Wat die fata morgana by jou piel uitkom, gat ons nog steeds bakhand staan vir ons stoflong-eenheid.”

Smal moet die Meconite negotiator wees.

“Die ooreenkoms was: open source to the max. Julle saadsakke hang bal terwyl ons spesies verloor,” sê die man.

Mens kan hoor die man ken al van Jafta. Hy gebruik haar tale teen haar.

“Selle storie, elke keer. Dis kak, man, en jy weet dit. In ’61 – totale onthulling en vrye toegang. Julle’t my Momberg se siel gevat. Die voorraad het in julle hande gaan staan en verrimpel. En hoeveel van ons saad het jy twee jaar terug hier weg?”

“Ja, maar –”

“Maar niks, Smal. Ons kyk al twee jaar goed na julle malles.”

Die man trek sy asem skerp in. “Jou mense noem die kliniek ‘Solamalgia’.” Sy lippe klink plat om die aanklag.

“Ons kyk goed na julle ‘solastalgia’-lyers.” Jafta se sarkasme kan opdraand loop. “En ons stoflonge lê steeds sonder julle high-tech verligting. Give and take. Maar Meconium se tentakels lê die skierland vol. Julle suig ons kak weg, ons kennis, ons saad. Julle suig en suig …”

“Anus of it all, Jafta: Ons gaan nie jou equipment gee voordat jy jou geheime saadvoorraad open up nie. Jou solastalgia-pasiënte bewys julle moet een hê. ’n Mengsel van aloe en Afrika-patat? Yeah, right. Dit het geen effek op die kontrolegroep in Meconium gehad nie.”

Stilte. Is Mevrou Jafta onkant gevang?

“Dis die verwydering uit die geaffekteerde landskap wat die verskil maak.” Haar stem het minder beur in. “Maar nou sit hier ’n Hard-trained Mec-kopdokter vir wie julle voorsê wat om in sy verslaggie te sit. Hy’s niks meer as ’n blêrrie spy nie.”

’n Stoel skraap oor die vloer. Amper draai vinnig om. Die boonste toibome moet eers wag.

“Amper. Ek het begin worry. Ek dog …” Konkok is besig om ’n voorskoot se bande twee keer om haar middel te draai voordat sy ’n knoop maak. Die reuk van Staple lek by Konkok se lyf uit. Só troos dit. Maar met etenstyd die afgelope twee dae loop slat die reuk teen Amper se kleintong vas en moet sy sluk om nie te kots nie.

“Nee. Daai’s nie meer my plan nie,” sê sy.

Plaas sy’t nooit vir Konkok gesê nie. Die plan het eergister op die tjoptafel geval soos ’n uitgeteerde dassiekarkas.

Twee tentelaaits los mekaar op die maalfiets af. “Jous,” groet sy. Hulle knik net.

Sy sit ’n dread in haar mond. Vir Konkok wil sy nie lieg nie. Konkok is die een wat vir haar die werk gekry het. Konkok het ’n praktiese hart. Die enigste tipe hart waaraan ’n mens mag heg in ’n gatland.

Amper tjop. Die rantsoen is tam. Drie sweterige uie, ’n bossie wildeknoffel en ’n hand vol vars kruie. Kneus en ruik, kneus en ruik. Die kruisement wen. Dan kom die basilie deur.

Sy voel hoe Konkok onderlangs vir haar kyk. “Die dandelaain moet nog afgestof word,” sê sy.

“Die pasjente gaan weer kla,” sê Amper. So min geurgoed vir ’n pot Staple en hulle moan weer hulle is aan die uithoeke.

“Huh-uh.” Konkok lig ’n grys wenkbrou. “Jong Jaf het kief gebring … Donner!” Konkok buk om onder haar pot in te kyk en draai aan die gasbottel. “Leeg.” Sy kom weer regop. “Themi, Han, dit was die laaste een; julle sal al vier bottels by Meshitium moet gaan volmaak.”

Han ontkoppel die bottel by Konkok se voete en begin dit deur toe rol.

“Twee jaar. En daar’s nog nie ’n gaspyp gaslets toe gelê nie.” Konkok sug. “What a waste. Mevrou Jafta sou vandag weer gepraat het.”

Sodra die seuns uit is, draai Konkok na Amper toe. Die frons maak seine tussen haar wenkbroue. Etter! Amper kyk weg. Tjop verder.

“Wat gaan aan?” vra Konkok.

“Ek was nog nie by vloer twee se toibome nie.”

“Ek praat van jou agternasitplanne.”

Amper byt haar tong vas. Agternasit. Konkok kies haar woorde fyn. Soos ’n hondsdol dier laat sy my klink, dink Amper. Soos die Leegskytkiem wat gasheer soek. Etter. Só was dit nie met Wakinyan nie.

“Ek sê mos daai’s nie meer my plan nie. My gat het oopgegaan. Ek wag hier. Hy sal terugkom.”

Konkok sê niks.

“Ek sê mos,” sê Amper. Sy sit die dandelaain in die draaicleaner en druk die silinder teen haar maag vas. Sestig sekondes draai sy die slinger. Die toetsblaar is stowwerig onder haar tong. Nog sestig sekondes. Sy haal uit sonder om te toets. Die pasjente gaan nie stof proe as Konkok die kos met kief spyker nie.

“Ek loop toibome toe,” sê sy toe die geurgoed klaar gekap op die tjoptafel lê.

Op pad deur toe keer Konkok haar. Die ouer vrou se lyf is beenrig, maar gekussing by die bors langs. Amper sit haar hande lig op Konkok se rug, want hard kan sy nie druk nie. Dan breek sy haarself en kom nooit uit Kiefmor uit nie.

Op die tweede verdieping is daar twee pasjente in die gaslets. Hulle vryf hande skoon in die sandbak. Amper wag by die deur.

“I told you. They’re not taking us back before Celebrate 20.” Dis ’n vrou wat praat. Die weathergear suit sit styf aan haar gespierde lyf. In haar neus en oë is Meconium se nuutste tech teen stof en gluur.

“They won’t let us miss it,” sê ’n jonger man. Donker kringe om sy bleek oë.

“They came for Golden Boy. If they had plans for us, they would’ve taken us along. No. We’re stuck.”

Die man kom uitgestap.

“I say we jump the biogas truck,” roep die vrou agter hom aan.

Sy steek vir Amper tong uit. By die deur briek sy en lig haar bolip: “Snake hair,” sis sy in Amper se nek.

Die lot van hulle is só. Creepy-kêns, sê die tentelaaits wat die maalfiets kom trap. Net Wakinyan was anders.

Aan die toiboom sit een blom. ’n Son met vlerke wat na sy dood vlieg. Sy skuur haar wang teen die blom. Dis dalk die laaste blom van die seisoen. Met die eerste blomknoppe …

Sy was gebuk by die toiboom. Sy’t die takke en blare gelig en bamboeswater gespuit waar die stam in die potgrond verdwyn.

“You don’t believe in that myth, do you?” het ’n stem agter haar gesê. Met groot beheer het sy sonder skrik regop gekom.

“What myth?” vra sy toe sy omdraai.

Die man strek hoog en sy vel lyk koel en onaangetas.

“The myth about the flowers.” Die stem is harerig, soos die stokroos se blare.

“You know the myth?” Sy raak opgewonde. Haar ouma se storie.

“They say that you will have a higher yield of shit – up to a third higher – if you eat the flower as it opens at first light.”

Amper kyk af. Sy hoop nie sy bloos nie. Skyt is ’n hot topic, maar met hierdie man …

“O. Ek dog. Ek ken ’n ander storie oor die blom. Dit lyk mos soos. A sun with wings, flying to its death.”

“Ek verstaan.” Sy Afrikaans is spoegerig en moeilik.

“So dis nie waar van die verhoogde opbrengs nie?”

“Nah, I tried it.”

Sy staan opsy sodat hy vir hom blare kan pluk.

“Nah, it’s useless all round in my case. Gives me the irritated ass syndrome like you won’t believe. Once it was so bad – I was doing a snake show in the Chinese enclave and I had to dunk my ass in a pool of muddy rainwater in front of the crowd. Thought I was gonna go mad.”

Amper lag.

“You work with snakes.”

Hy maak ’n gaslethokkie oop.

“Yeah. I’ll tell you all about it if you’re interested. You’re around, right?”

“Yes. I work here. In the afternoons.”

“Kief, man. I’m Wakinyan.”

“Amper,” sê sy.

“Kief, man. And you don’t wear those masker-lappie-thingies?”

Haar hand vlieg op na die duikbril op haar voorkop. Helsem! Sy skuif die bril haastig oor haar oë en neus.

“No. I’ve got this. It’s … It’s … It’s dust and glare proof.”

“Kief style. I was just wondering how you can breathe in this DD.” Hy begin beweeg.

“No, I just took it off … to look at …”

“Yeah, of course.” Hy raak aan haar arm. “Let me just get my business out of the way.” Hy glimlag en knipoog. Terwyl hy omdraai, haal hy blare uit sy agtersak, maar Amper herken dit nie.

Sy kaal rug was glad. Nie die hindernisse van haar eie of ander Kiefmorvelle nie.

Sy maak die bottel bo die toiboom vol. Die water begin drup langs die stam.

“Totsiens, son wat na jou dood vlieg,” sê sy. Sy buk af, neem die blom in haar mond en byt die stingel af. Elke bietjie help. Mites help ook. Stories is al waaraan haar ouma geglo het.

’n Laaste stop: die groepterapiekamer. Teen die mure is van die pasjente se werke. Collages. Tekeninge. Stories. Ouma Bettina het die skryfterapie aangebied. 23 Januarie was haar laaste klas.

Amper stap na die westemuur. Tussen twee vensters is een van haar ouma se saadstories opgeplak. Amper se gunsteling.

Raphionacme burkei – Bi

Bietjie was ’n kind van vele buitekante. Meestal was sy ’n wipgat, skreefoog kind, maar soms was sy ’n likkewaan, soms ’n witkruisarend en soms ’n bakoorjakkals. Bietjie het ’n hond gehad. Sy naam was Eengesig. Hy was altyd ’n hond en soms het Bietjie dreunlyf geraak dat hy nie kon saamgaan op haar veldreise nie. Een jaar het die aarde so droëlyf geraak dat Bietjie al vergeet het hoe die tsammas gesmaak het – toe’t die wolkwaters nog steeds nie gekom nie. Die kambrolywe was al byna op toe ’n voortydmens sien hoe Bietjie ’n paar vesels vir Eengesig gee. “Saad-se-kjênd! Nie voor die Kalahari modder maak, het ek gedag ek sien so ’n dom kjênd nie!” het die oumens gegil. Bietjie het ’n toktokkie geraak en onder die sand weggeskarrel. Toe nog net die Bi se bitterlywe oor was, was Eengesig se tong die skadu van ’n waterval waarvan daar nog ’n skadu op die grond geval het. Bi, so het die mense gesweer, was dodelik giftig vir honde. Maar Bietjie was ’n wipgat. Sy’t ’n hond geword en vir haar ma gesê: “Sal jy my laat vrek van die dorste of van die Bi?” Na ’n dag het Bietjie se ma vir haar Bi gegee. Bietjie het bly lewe en die hondegeblaf het gebly. Op ’n dag het Bietjie haar ma aan’t tjank gekry. Haar mama se oë was reg bo hulle babasustertjie se mond. Daardie dag kon haar mama nie een Bi kry om uit te grawe nie. “Daar’s wolke in die lug,” het Bietjie skuldig gesê. Maar die wolkwaters het vasgesit teen die verhemelte. Toe haar mama en sustertjie se lippe vasgeplak was met gister se spoegte, en Eengesig lankal aangeskuif het in die tye, het Bietjie haarself in ’n Bi-plant verander. Sy het met ’n stukkie van haar siel in die wind geklim en haar mama geroep totdat dié begin ronddool het. Sy het met haar laaste krag twee van haar stingels geknoop en haar mama gepootjie. Die vrou het gegrawe net omdat sy nie geweet het dat Bietjie verdwyn het nie. Lank na die wolkwaters geval het, het sy nog uitgekyk vir goggas en diere – gehoop dat Bietjie haarself gered het en weer sou terugverander in ’n wipgat, skreefoog kind.

“Wie sou kon dink dat Bietjie se wipgaaie die sappigste Bi-boude sou maak?” lees Amper die laaste sin en begin die papier lostrek.

“Jy beter die ander een ook afhaal.”

Mevrou Jafta se stoel staan in die deur. Haar stofwit nommer-nege-tekkies is in die vertrek. Sy waai na agter dat Wia moet loop.

“Moet ek …” begin Wia.

“Die kind sal my besôre,” sê Jafta. Sy werk die stoel se wiele met haar hande en kom nader.

“Hoekom?” vra Amper. “Hoekom moet die stories af?”

“Wanneer ek en jy môre saam met Sias Smous klim, moet hier so mins moontlik spore lê. Dié was oversharing. Asof die Meconite-malles omgee. Net spies het oë.”

Amper vervies haar. Haar ouma het meer vir die malles gedoen as …

“Wanneer ons môre klim? Saam met Sias Smous?” herhaal sy die deel van Mevrou Jafta se woorde wat laaste insink.

“Is dit nie hoekom jy die storie afhaal nie? Om saam te neem?” Mevrou Jafta ry na die storie aan die ander kant van die kamer.

“Nee. Hierdie een wil ek in die winkel opsit.”

Die ou vrou snork en gooi haar vlegsel na agter.

“Whatever, kind. Jy’t meer breins as wat jou ouma gehad het. Jy sal nie die dooigoed so adverteer nie. Of sal jy?”

Skimperig. Vol kennis. Dooigoed. Kodewoord vir die saad. Hoe weet Jafta? Wat weet sy dan skielik so baie van hulle goete af? Jafta haal die storie af en hou dit armlengte van haar grysblou oë.

“ ‘Bloeders van babala, waar sit julle oë? Sien julle met die innegoed wat weeg met die geroffel van vesel, voedsel en minerale? Sien julle met die oog van die arshol? Die pêrelmanna is die geheue van juwele, die sintuie van ’n jonger god. Bloeders van babala, maak oop julle oë.’ ”

Die saadstorie klink soos ’n vloek op Jafta se tong. Dis die Pennisetum glaucum – tweede in die saadboek.

“As jou gat nie meer wil oop nie, is oë seker tweede prys,” sê Jafta en gee die blaai aan. “Stoot my agterdeur toe. Sias wag. Smouse laai nie net nie; mens moet onderhandel.”

Die dag se ooglid sak. Só het ouma Bettina oor dié tyd van die dag gesê. Met ’n platstof dag sien jy wat sy meen as die skadu’s rek soos die son agter die Sienhomsberge af. Wanneer die “s” van Kierang Collectibles geskadu is teen die muur, staan Amper van die sypaadjie op. Doerstryt voor donker.

“Kom, honne.” Noag se kop steek net-net by ’n gat in die pad uit. Hy ruik weer iets. Dalk die spook van ’n rot.

“Kom, Noag!” Hy blaf en kom nader gedraf. “Dalk ’n blinkoog later,” sê Amper en maak sy leiband aan haar belt vas.

Hulle stap in die rigting van Solamalgia. ’n Kortpad na die tentedorp sny vyftig meter verder na links deur die murasies. Hier en daar het een van die tentedorp toestemming gekry om te begin versterk en opbou en dak opsit. Bones se plek is ook hier, maar ’n paar meter verder suid; verder van Meshitium, maar nie ver genoeg vir fluitspeel nie.

Die tentedorp is stil. Die mense bolling by Skytbuit, die kookskerm. Dis diés wat nie Bio-accounts by Meconium het nie.

Priester Noemnoem praat bo die bolling se geskoffel uit. Sy lang kleed sleep in die stof. Hy’t sy een hand op sy baard; in die ander is ’n boek.

“Geseënd is die hande wat kos maak maar niemand replenish nie. Geseënd is die MecSecs wat blindeye en cut vat. Geseënd is die system …”

“Ag, sjarrap, Priester,” skree een van die drie vrouens wat die kookskerm bestuur.

Priester staan nie in die ry nie. Hy skyt en sluk by Meconium, maar hy werf in die tentedorp en hy preek by Hemp 2. Hy’t die vorige Kersdag hier aangekom met twee noemnoems op sy rug en ewe veel hoop en verdoemenis in sy hart. Die Earth Christians se eerste sendeling in twintig jaar, het ouma Bettina geglo. Sy gemeente is al groot genoeg dat die noemnoems natgepie bly, boetes of te not.

By Konkok se tent is net kinders. Sy voer nie grootmense nie en die een wat die dag wil glo daar’s nog liefdadigheid anderkant die oorleef, gee vir Konkok ’n BioG vir die kinders en die Dikvellers se kos. Daar word gespeel en gehardloop en bal geskop.

Bones sit reeds op sy knieë by die gasvuur. Hy wys na die skêr, gom, pen, twee templaatpype – twee verskillende groottes – en die skerpgemaakte spykers, pennetjies, dorings, watsenaams. In ’n vlak gat lê die plastiekbottels van sy laaste trippe in die NoGoZone. Die reuk van gister se Staple slat uit twee potte op. Langsaan is insekte op ’n oop pan aan die braai. Hul reuk vervaag agter stygende brandplastiek.

Bones hou ’n tweeliterbottel oor die gasvlam. Langs hom lê die laaste stuk van die dingnaam: Slowmilk. Die plastiek verloor sy witheid en Bones druk ’n dun verfkwas se agterkant in die sagte deel om ’n kegel na binne te vorm. Wanneer dit afgekoel het, tel Amper dit op. Eers knip sy ’n sirkel, radius vyf sentimeter, om die kegel. Sy stoot die kegel by die punt van die templaatpyp in en druk die oortollige plastiek teen die pyp se rand vas. Hier trek sy met die pen rondom die pyp, sodat die presiese grootte op die plastiek agterbly. Nou knip sy meer sekuur, ’n kleiner sirkel. Die anderkantste dun punt knip sy oop vir die spyker.

“Wat stink so?” vra ’n kleintjie.

“Dis jou derms wat brand,” kap Konkok. Sy kom uit haar tent en slat die kind met die houtlepel. Sy druk kooigoed in die vuur en swaai die smeule deur die lug.

“Ek wil nou-nou loop,” sê sy. “Koubs gaan die kinders kom uitsort.”

“Ek kom,” roep ’n stem uit die tent.

“Ons maak nog vier ente. Gom wanneer ons terugkom,” sê Bones.

Bones gooi die orige plastiekbottels met sand toe. Hy steek die blikkie met onklaar pyltjies in sy beltsak. Amper maak vir Noag aan ’n tentpaal vas. Hy grom. Sy vryf sy ore.

“Ek los vir Noag,” roep sy.

“Drol,” roep Koubs. Haar kop kom by die tent uit.

Vir Konkok en Amper is daar twee kleiner potte met sand in, net ’n paar blare bo-op gepak. Vir as ’n MecSec vra hoekom drie mense die Dikvellers se kos moet wegvat. Bones dra die swaar Staple-pot.

Konkok se tent is op die rand van die dorp en nie twintig meter van die begin van die NoGoZone nie. Die Dikvellers se slaapplek is vyfhonderd meter verder, en Konkok los hulle kos op die vensterbank van die vierde murasie anderkant die grens. Sy en Amper gooi die sand uit en sit die twee klein potte in die leë pot wat die Dikvellers daar gelos het.

Nou dra Konkok. Bones loop voor. Amper haal haar fluit by haar hemp uit en sit dit in haar mond. Die tou waaraan dit hang, skuur agter teen haar nek. Bones lei hulle deur ’n ou boord. Mevrou Jafta se man het dit begin-Hardskip omgespan teen die plundery. Dis deur die Plaagstof versteen. Klim. Koes.

By die volgende murasie stop hulle. Konkok sit die potte hard op die oorgroeide vloer neer, ’n paar goed skarrel en sy gaan sit op haar krat.

“Nou toe,” sê Konkok. Sy haal haar rookgoed uit haar sak. Die pyp maak haar klein handjie vol.

Bones hang sy twee sterkste sonligte teen die muur en doop sy vinger in ’n sakkie kalk om die verstofte kringe duideliker te maak. Toe sy kleiner was, was dit ’n kompetisie. Hy’t syfers in die sirkels geteken en dan het ouma Bettina score gehou. Sy’t elke tweede keer gewen. Met die patroon se agterkom, het sy ’n week lank geweier om te oefen. Dit was haar langste wegbly, behalwe ná ouma Bettina se dood. Toe sy by Solamalgia begin werk, het Konkok gesê dis deel van die deal: Sy kry vir Amper die werk, maar die weeklikse oefenry is terug.

Amper was vir te lank nie getrou nie en haar oog is nog nie terug nie. Sy sit ’n dud in haar fluit.

“Nee,” sê Bones. “Verder terug.” Hy wys na ’n vygie wat by ’n bars uitbeur.

Konkok hoes. “Effen stof,” sê sy deur die rook.

Amper gee twee treë terug. Drie keer: in, en uit; in, en uit; in, en uit. Die wêreld val weg en kom in fokus. Helderheid. Fluit in mond. Asem in neus. Korrel. Bones in die hoek van haar oog. Hy hou die omstreke en die muur tegelyk dop. Sy eie fluit hang om sy nek. Dit was nog sy mama s’n. Die ding wat doerie tyd ouma Bettina se aandag getrek het. Die MecSecs het die Leegskytkiem op sy ma gespot toe hulle skaars op die dorp getrap het. Met die stoeiery het sy ma die fluit in sy hand geprop en ouma Bettina het die bestiering gesien. Want sy’t net die stories gehad om haar en Amper te beskerm, en iets aan die manier waarop die vrou die fluit vir Bones gegee het, het ouma Bettina laat vermoed dat dit nie net nog ’n PVC-pyp was nie. So het Bones en sy skills by hulle in Kierang Collectibles geland.

“Begin nou,” sê Bones. “Al is die eerste lot ver uit. Oog inkry.”

Amper fluit. Op die rand van die buitenste sirkel boiing die dud van die muur af.

“Etter,” brom sy. Helderheid se gat.

“Weer,” sê Bones sonder om op te kyk. Hy vat nie meer beurt nie – weet sy sal haar skaam.

Die wit sirkels glim in die skemerte.

“Hier sit Stones, daar staan Bones, ou Longe fluit die valses van die fittest se survival,” prewelsing Konkok. Haar rookgoed se reuk sal nog een aand die barbars lok.

Amper laai. In. Uit. In. Uit. In. Uit. Stof in neus. Stof deur neus. Stof in longe. Stof deur longe. Wapen in haar bors. Fe-oeiii. Dié keer raak die dud die derde sirkel van die arshol af.

Skotepetoors, sou haar ouma gesê het.

“Weer,” is al wat Bones sê. “Drie arshols in ’n ry voor ek die akkedis losmaak vir jou moving target.”

Bones hou die potjie oop teen die muur. Maar die blinkoog skiet uit die tweede ligkring net voordat haar pyltjie die lyn tussen lig en donker tref. Bones sê niks; mik muur toe om sy ligte af te haal.

“Konkok.” Amper skud liggies aan die vrou se skouer.

Die oë gaan dadelik oop. “Die valses van die fittest se survival.” Die woorde is nou wysieloos. “Julle al klaar?” Sy wag nie op ’n antwoord nie.

Amper val agter haar in. Bones is te ver agter om voor jammer te sê dat sy die akkedis laat glip het. Amper se koplig ken die pad.

“Short cut,” sê Konkok. “Die MecSecs hou my dop.” En sy verlaat die gewone pad.

“Bushwhacking,” brom Bones ná ’n paar treë vlak agter Amper.

Sy draai haar kop na agter. “’Skies,” sê sy, sy bedoel oor die akkedis, maar sy weet nie of Bones hoor nie.

Met die terugdraai haak haar hare vas. Haar kop ruk terug.

“Aau!”

“Als orraait?” roep Konkok saggies.

“Ja,” fluister Bones. Sy lig val op die wit dorings van ’n dooie wag-’n-bietjie. “Vier dreads,” sê hy. “Hou stil.”

Amper se lyf buig krom na links en agter. Met die tweede dread los kan sy regop staan.

“Tittewyt jy nog?” vra Bones. Sy stem is kleierig. Die stem waarmee hy met sy ouma Bets gepraat het.

“Nee,” sê sy. Jy kan mos sien, wil sy sê, maar sy hande op haar dreads, die drade na ouma Bettina, keer haar. Die bietserigheid sal haar ouma se innebor versteur.

Tittewyt. Bones moes altyd in die winkel wag. Die spieël was nooit op sy plek teen die muur nie – “Dis ’n verrassing,” het haar ouma gesê. Amper het altyd gewonder, maar nooit gevra nie. Op ’n kussing tussen haar ouma se bene. Op die bed ’n sakkie met die naaldwerk- en haargoed. Die dreads is gedraai en die hekelpen het die donshare by die ou stukke ingeweef. Die saadstories is saamgeweef. Hoe oud was sy die eerste keer? Ses? Of is dit net die eerste keer wat sy kan onthou?

Wanneer haar ouma se beurt kom om getittewyt te word, dan sê sy: “Ag, ou Bones gaan ’leenrig raak. En hy’t fyn vingers.” Dan gaan sit hulle in die winkel. Ouma op ’n voetstoel en hulle elk met ’n kam of krullers. En dit word gesing en ingedraai of gevleg en die een wat die tongknoperkompetisie wen, mag rooisel op Ouma se lippe smeer. ’n Vinger vol. Tittewyt-tsjamp van die Kierang Clan.

“Boetie Bleskop se bierbrood met baie botter is die blêddiewil beste bektoestop vir belhamels,” sê Bones toe hulle weer begin loop.

Amper wil hom wys haar bek is nog beter as haar mik, maar uit haar vals geheue kom die reuk van bierbrood en maak haar keel dik. Sy bly eerder stil.

Dis waasdonker toe Amper Noag se leiband van die tentpen losmaak. Die stof staan opgeskote, reg vir amok maak.

“Hey. G’n gedods nie.” Bones sit klaar langs Konkok se gasstofie, sy koplig in haar gesig.

“Ek weet.”

Hy gee die blikkie gom aan. ’n Bakpoeierblik met rooi verf wat nog hier en daar klou.

“Spaarsaam,” sê hy.

“Ek weet,” sê sy.

Sy stoot gom by die plastiekent in, druk ’n spyker by die groter opening in en trek dit aan die ander kant van die ent uit totdat twee sentimeter van die spykerpunt uitsteek. Geroes. Die gas vat vlam langs Bones se lighter. Hy vat die pyltjie by haar en steek die spykerpunt in die gasvlam sodat die hitte die gom, die spyker en die plastiek verbind. Sy’s byna klaar met die volgende een toe hy die eerste pyltjie in die sand druk om af te koel.

Tien pyltjies staan in die sand. Vyf vir Bones, vyf vir Amper.

“Julle klaar?” vra Koubs. “Ek moet Konkok se snorke uitdoof. Dis erger as sy gekief is.”

“Ja.” Amper binnelag. Konkok sê jare se stof-exposure het haar ’n sinus gegee wat tot in haar kieliebakke verstop is.

Koubs gaan sit met haar trom tussen haar bene. Sy lyk baie soos Konkok, maar sy’s die jonger suster en sy dra haar hare net lank genoeg dat haar kopvel nie deurskyn nie.

“Kom,” sê Bones vir Amper. As Koubs eers meegevoer raak, kom maak die MecSecs haar stil. Bones domp die orige bottels en stukke plastiek in ’n goiingsak. Hy verdwyn na die grens van Konkok se erf en kom daarsonder terug.

“O ja, Sias Smous was hier,” sê Koubs.

Amper skrik. Wat van sy diskreetheid waarby haar ouma gesweer het? Wat sê sy nou?

“Wat sê hy?” vra Bones.

“Hy sal by Dop & Steek wees.”

“Thanks, Koubs,” sê Bones.

Koubs hoor nie meer nie. Haar palm plant reeds op die styfgespande diervel.

Terwyl Amper en Bones terugloop, hoor hulle mense dobbel en lag en stories vertel. Maar Bones is so versigtig soos altyd. Hy kyk om hoeke. Hy gooi klippe in die verte om te hoor of ’n MecSec skarrel om te sien wat geraas maak.

“Wat soek Sias Smous by jou?” vra Amper, bly dat die boodskap nie vir haar was nie. “Beenmeel?”

“Huh-uh. Nuwe bone picking. My gom loop in Meconium.” Hy lag. “Die beauty shebeen onthaar mense daarmee.”

“Wat …” Amper dink aan die klewerige mengsel van been en horingpeul. “Dieselfde gom wat ons …”

“Presies dieselfde.”

“Hoekom?”

“Ek weet nie, maar as die gier hou, sal ek nie weer hoef te loop kalk myn of geboue kalk nie.”

“Dalk is daar ’n haarsiekte.”

“Ek weet nie. Sias het met die plan gekom.”

By die deur van Kierang Collectibles haal Bones ’n blikkie uit sy rugsak.

“Ek gaan môre op ’n trip, so sien jou volgende week.”

“Dankie.” Sy lig die blikkie. “Veilige trip, Bones.”

“Korrel sekuur,” sê hy. “As jy terugkom, leer ek jou gom maak.” Hy verdwyn in die waas.

Hy weet sy gaan. Sy ruik versigtig aan die blikkie. Eenskootsaadmengsel. Doodskoot.

“Dankie, Bones,” fluister sy. In haar ou blik is net ’n spoegsel oor.

Amper sak teen die hangkas af. Die nag het stof opgetel. Die lig tussen haar voorkop en die houtrenoster langs die wiegstoel is korrelrig.

Vyf pakkies dooigoed in die mannekyn.

Die swart polonek en geel jas lê langs die pop en agter die ritssluiter op haar rug is net vyf pakkies dooigoed. Daar was twaalf, Amper is byna seker. Die dooigoed is nie die ergste nie – dis die oorblysaad wat haar ouma in tye van nood geruil het.

Die boek met saadstories is weg.

Sy was die hele nag besig met wegsteek en inpak. Sy het die goed in die pop vir laaste gelos. Dit sou die maklikste wees.

“Etter, Noag. Hoe nou? Om sonder die boek hier te moet weg.” Die donnerse saadboek wat moes sorg dat die sade vatbaar bly.

Die hond is al om haar. Hy weet iets is fout. Sy hol kamer toe, stamp teen die rak met radio’s en platespelers – iets neuk af – maar haal die oop Shitesaver langs die bed. Die vroegaand-Staple ruk deur haar lyf. Dan die water en die ingelegde froetangs wat Mevrou Jafta hier aangebring het.

Noag kom ruik aan die kots. Agter sy nek trek sy die velle saam en stryk dit uit.

“Ja, hond. Jou ounooi is weg. Wakinyan is weg. Die saadboek is weg. Jy’s oud maar jy bly. Wat ons iets terugkry … Ek weet nie.”

Sy gooi haar koplig op die muur agter die twee beddens. Daar is lyste van diere en plante wat haar ouma bang was hulle sou vergeet. In die een hoek is Amper se lengtes tussen vyf en tien jaar oud ingestreep; Bones s’n tussen tien en dertien – toe sê hy hy raak te lank vir dié speletjie. In die ander hoek, agter haar ouma se bed, is die doodsbesoeke met kruisies langs jaartalle aangedui. Vir Wakinyan het sy gesê dit was familielede en vriende. Dit was die kere van die eenskootsaad. Amper gaan op haar knieë nader. Die eerste twee het Bones gepot; die laaste een … Dit was in 2077. Vier jaar laas wat ’n saadsoeker op hulle spoor was. Nou’s haar ouma nog nie ses maande weg nie en hoeveel is reeds onder haar uit?

Dis toeval. Moet wees. Als wat gelyk soek is. Is Wakinyan deur saadsoekers ontvoer? Het hulle die saad kom soek en hom gekry? Dalk aan Meconium se diversiteitsentrum uitgelewer? Mevrou Jafta sê dis die naaste ding aan ’n sirkus wat die Hardskip oorleef het, en Wakinyan het gesê hy gaan nooit terug sirkus toe nie. Plaas sy hom van die saad vertel het – dan het hy ten minste geweet waarvoor hy hom inlaat deur in die winkel te bly.

Noag grom. Voetstappe voor die winkel verby. Sy moet opskud. Die oggend is naby as die MecSec sy rondtes doen. Sy kyk weer na die lysie wat Mevrou Jafta gegee het. Sy’t als gedoen en gepak. In die lessenaar se laaie begin sy krap vir papier en druk dit saam met ’n potlood in ’n plat Ice Age 10-plastiekhouer wat sy raakvat. Haar lig val op die Hiker’s Stove Top, die mini-gasbottel daaronder lankal leeg. Dit was haar ma s’n. Sy skroef dit los en prop dit saam met die res van die goed in haar rugsak.

“Kom, hond,” sê sy en sluit die kamerdeur agter hulle.

Op die welkom-matjie duskant die voordeur staan Amper en wag vir Sias Smous se toete. Sy kyk om na die winkel. Die vroegoggendlig is yl deur die donderstof en als lyk meer antiek as wat dit is. Die meubels, die bordspeletjies en beeldjies en juwele, die 2030-platespeler wat stukkend op Bones se futon lê, die versameling fone en oorfone.

Noag blaf en volg elke beweging. Hy’s bang sy los hom. Sy buk, vryf sy ore en skuur haar neus teen syne.

“Ons sê vir eers baai vir jou ounooi se kieranggoed. Niks hier hoef meer te kierang nie.”

Die saad is nie meer in die plastiekbaba se oë nie. Die konsertina se knoppies is leeg. Ook die Coke-doppies wat vir motorwiele op ’n skildery vasgeplak was. Die papierwerk van die pop-up-boek oor insekte waaraan Wakinyan hom verkyk het. En die sleutelbord van ’n rekenaar waarop haar ouma gesê het ’n halwe leeftyd se gedagtes fossiele geword het.

Twee toete. Amper skuif die duikbril oor haar oë en neus voor sy die deur oopmaak.

Sias beduie dat sy Noag agterop die bakkie moet tel. Tussen die donker lense van sy bril bult sy neus soos ’n uitdaging aan die stof. Sweerlik nuwe Mec-tech in sy neusgate. Sias maak die metaalboks oop waarin hy diere vervoer, maar wanneer Noag bo-op die bakkie kom, mik hy vir die hoek by die drywerkant. Hy blaf. Hy grom. Hy krap met sy voorpote op die bak se vloer.

“Kry jou hond stil,” sê Sias. “Of hy bly.”

Amper klim agterop, kry die basterbasset beet en dwing hom op haar skoot. Sy oë en ore is aan’t agteruitgaan, maar daar’s nie fout met sy neus nie. Sal sy oorgeërfde geheue weet watter diertjies Sias smokkel? Sias hou die hokdeur oop terwyl sy Noag indwing. Hy spin in die rondte en toe die deur toeklap, tjank hy. Eers toe Amper deur die gaasvenster loer, sien sy ’n stuk van sy heel oor sit in die deur vas.

“Etter!” Sy pluk dit oop en trek hom aan sy pote uit. “Sorry, hond,” sê sy en vryf haar wang teen sy kop. Sy sweer dit: Saam met die stof kom neuk haar ouma se as vandag hier rond. Oor sy wat Amper is so min oppasser is as ’n kuttel ’n strontvloed.

“Jafta wag,” sê Sias.

Nog een keer kyk Amper om. Kierang Collectibles. ’n Bolling in haar derms wil nie weggaan nie, maar blý sit ook nie meer reg in haar lyf nie.

“Dooigoed,” sê Sias toe sy inklim. “Upfront payment.”

Sy haal die sade uit haar rugsak. Haar ouma het nooit die nederset se mense met saad betaal nie, maar sy het by Sias se diskreetheid gestaan. Hy maak die koevert oop. Daar’s kosbare goed.

“Dalk groei dit,” sê Amper.

“Die kopers verstaan dit so,” sê hy. “Hoe’t jy met Jafta deurmekaargeraak?” vra hy terwyl hy die sleutel draai.

“Wat ek by Solamalgia begin werk het, het ek haar gereeld gesien.”

“En toe offer sy om jou te help om die vriend te kry?”

Amper knik.

“Wat’s haar agenda?”

“Sy sê sy wil weet wat met haar voorkindseun gebeur het en die antwoord moet iewers rondom Meconium lê.”

“As oppasser en chaperone het nie een van julle veel street cred nie.”

Amper is nie seker wat hy bedoel nie. Van agter sy oor tot by die swart stekels van sy baard loop ’n sytaklose litteken. Haar ouma het gesê ’n mens meet ’n Harde soos Sias se status en netheid aan die littekens wat hy post-Hardskip opgedoen het. Sy’t gesê Sias Smous is ’n presiese man.

Hulle stop voor die Jaftas se huis. “Wees versigtig,” sê Sias voor hy uitklim.

Terwyl sy in die bakkie wag, of vir Mevrou Jafta? wonder Amper. Sy skuif oor na ’n stuk hout wat Sias tussen die twee sitplekke, maar na agter, gepraks het. ’n Gatsakknoop op die rugleuning het in haar linkerblad geboor en sy weet nie hoe die ou vrou se beentjieslyf dit gaan hou nie. Alles is met stukke denimlap toegelas. Aan die spieëltjie hang ’n opgestopte janfrederik-voëltjie. Dis Amper se tweede keer in ’n motor.

“So waar was jy plastiese chirurg?” vra Mevrou Jafta. Haar spikkelswart vlegsel lê ’n pinkie breed langs haar arm af en haar regterwangbeen stamp teen haar sonbril wanneer sy praat.

“In die Kaap,” antwoord Sias.

Hulle ry wes. Kiefmor is agter hulle en die Sienhomsberge onsigbaar agter die stof. Die man by die Skotvry-deurgang duskant die NoGoZone het hulle ’n paar minute gelede deurgelaat.

“En met die Hardskip? Toe’s julle PC’s seker nie meer in aanvraag nie.”

“Ek was toe al in die biodieselindustrie.”

“Watse soort? Wat het julle gebruik?”

Sias lag. Dis ’n geluid by sy kleintongetjie. Sy wangbene beweeg nie. Sy neusgate rek.

“Eers vet van die skierland se lipo’s. Loodsprojek.”

“Ggg-ggg-ggg,” lag Mevrou Jafta.

Sy kyk om na Amper. Haar vel is bruingrys met die blou oë soos lugspieëlings.

“Wat weet dié lot van lipo’s? Daai jare toe’s die Wes-Kaap seker nog wêreldklas in vetsug.”

Amper wil vra, maar hou haar in. Oor die tyd voor die Hardskip het haar ouma nie sommer gepraat nie. Wanneer Amper haar oorreed het om te vertel, het dit in ’n saadstorie ontaard. Kyk of jy iets in die Kennisse kry, was haar meer gereelde antwoord. Deur vyf volumes Kennis-ensiklopedieë het Amper geheen en geweer. Vyf van die sewentien boeke wat haar ma spesiaal vir haar gelos het.

Mevrou Jafta maak ’n kreungeluid. ’n Figuur aan ’n boom, voete ver van die grond, spokerig anderkant die stof.

“En wat die vettes minder geraak het?” vra die ou vrou, asof die gesprek nooit opgehou het nie.

“Toe was ek al in kookolie. En die rioolpype se aanpaksels.”

“En toe raak dié ook minder.”

“Die kookolie, ja. Van die aanpaksels sit nou nog.”

Die opdraand raak steiler en die bakkie begin beur. Met die klim raak die stof minder en die draaie en gate sigbaar. Dan is dít Helshoogte. Die son se desembers klim saam.

“Kyk,” sê Sias en “Gatta,” sê Mevrou Jafta tegelyk.

Sias trap die briek en sit die bakkie af. Voor hulle strek kilometers se stofvelde uit. “Ja, kyk,” sê Mevrou Jafta. “Doer onder lê die dood dik gesaai.”

“Wat was dit altyd gewees?” begin Amper. “Was dit …”

“Ggg-ggg,” lag Jafta. “G’n wonder die kind weet niks nie. Ou Bettina het antieke juwele en Nobelprysboeke en sulke kak gebuit toe kos en water al was met waarde.”

Sias start nie, laat sak net ’n stok en die bakkie vat die afdraand. Amper draai haar kop en kyk deur sy venster. Hulle begin verby gemuurtes ry. Die stukke wat staan, is skoon baksteen. Soos in Kiefmor ook. Gesandstroop. ’n Ent vorentoe lê ’n muur byna die hele pad vol.

“Fok,” sê Sias. Hy start en dit lyk of hy mik om op die sypaadjie te gaan. Dan pluk hy die stuurwiel na regs. Amper val met haar bolyf agter sy sitplek in en haar bene verstrengel met die ou vrou se sitplek en rolstoel daaragter.

Hulle jaag. Wanneer dit soos reguit pad voel, sukkel Amper regop en hurk agter Sias se sitplek. Steeds maak nie Sias of Mevrou Jafta ’n geluid nie. Sy wil nie vra wat dit was nie. ’n Knoester barbars? Sy was dom om nie banger te wees nie. Die ou vrou se kneukels slaan blou en wit deur soos sy aan die deurhandvatsel klou. Sias is rooi in die nek.

Die kassie by Mevrou Jafta se knieë het oopgeval. Sy buk om iets by haar voete op te tel. Dis ’n reghoekige plastiekhouer waarin insekte met naalde teen ’n kurkblad vasgesteek is.

“En dié?” vra Mevrou Jafta.

Sias antwoord nie. Amper wil graag die bont skoenlapper van nader sien, maar Mevrou Jafta bêre die houer en maak die kassie toe.

Hulle ry al die pad terug soos hulle gekom het. Tussen die Sienhomsberg en Banghoekberge deur en nog verder. Waar die pad doodloop, draai hulle links.

“Vat ons ’n ander pad?” vra Mevrou Jafta.

“Dis hoekom ek donners nooit passasiers laai nie!” Sias slaan met sy plat hand teen die stuurwiel. “En vroumense! ’n Tiener!”

“Ja, ja,” sê Mevrou Jafta. “Maar ons is ook gerekende kliënte. En verskaffers. Ek vra oor die roete.”

Sias antwoord nie. Hy vroetel met ’n musiekspeler langs die stuurwiel. Dit krrrrr net.

“Gaan dit nie die battery vreet nie?” vra Mevrou Jafta.

Sias antwoord nie. Hy haal ’n klein flessie uit een van twintig sakke op sy hempbaadjie.

“Wat de hel,” sê Mevrou Jafta. “In dié kondisies.”

Mens kan nie sien dat Sias lag nie, maar Amper sien hoe sy neusvleuels rek. Hy sluk en draai weer die prop op. Trekkerige musiek begin speel.

“Made ’im outta mud an’ a han’ful o’ sand. These bones are gonna rise again,” val Sias in.

“Na watse kak luister ons?” vra Mevrou Jafta. “Ek het gedog jy sal jazz luister, met jou intellectual neus. Dié koorkak …”

Sias sing bo-oor haar.

“Tol’ them to eat whatever was there. These bones are gonna rise again. But there’s one tree you mus’ not touch. These bones are gonna rise again. For I want them apples for my lunch. These bones are gonna …”

Die liggie vrek en die musiek hou op. Sias bly stil toe hy agterkom.

“Hou jy van musiek, meisie?” vra hy.

“Ja,” sê Amper. “My ouma het ’n draaispeler gehad.”

“My broer het gesing. Hy was in ’n gospelkoor” – Sias buig sy kop in die rigting van die musiekspeler – “en in ’n band.”

Die stofwolke raak skielik ’n muur. Die pad en die vlak lyk soos een.

“So jy was anti-corporation?” vra Sias vir Jafta.

“So grootgemaak,” antwoord sy. “Maar ek was nie ’n vreeslike aktivis nie. My werk het my uit die moeilikheid gehou.”

“Watse werk?”

“Ggg-ggg-ggg. Klimatoloog. Spesialis in stof.”

Sias swaai uit vir ’n hoop rommel. Amper vermoed hulle is lankal nie meer op ’n pad nie.

“Wat het jou uit Meconium gehou? ’n Anti-corp klimatoloog – was dit nie een van die magic combos nie?”

“Gonna, nee. Toe was Momberg en sy broer al klaar met hulle planne vir Kiefmor. En jy’t hom geken. Hy sou nooit. Ons sou al ons hulpbronne moes verklaar en opgee.”

“Moes julle nie anyway nie?”

“Ja. Toe op die ou end. Býna alles. Ggg-ggg.”

Sias ruk weer aan die stuurwiel. “Detour,” sê hy.

“Waantoe nou?” vra Jafta.

“Oor die Breërivierloop. ’n Quaint nederset. Waar God en Priester Richards die stofstorms verstaan en volle advantage daarvan vat.”

“Is dit nodig?”

“Die bakkie gaan nie veel langer hou nie. Daar’s ’n spaarbattery by die winkel.”

Hulle ry deur ’n dooie rivier en vat ’n hoogtetjie waar die stof weer minder dig raak.

“Welkom op Godsakker,” sê Sias.

Hy stop agter ’n groot gebou wat soos Kiefmor se Meshitium lyk, net kleiner. Dit het dieselfde kleimure en ook die ewigheidstekens wat in reliëf uitgebou is.

“Jy sal onder dié moet wegkruip,” sê Sias vir Amper en gee ’n kakieseil aan.

“Hoekom?” vra Mevrou Jafta.

“Plek het ’n tekort aan die vroulike. Laas was ouderling Abraham die volgende een vir wie die Here ’n vrou sou stuur.”

“Kan ek eers vir Noag water gee?” vra Amper.

Mevrou Jafta snork. “Blêrrie hond.”

“Ek sal as ek stop vir uitklim. Gee van jou water,” sê Sias.

Amper haal ’n halfliterbottel uit haar rugsak se kantsak.

“Net ’n kwart,” sê sy.

Sias ry ’n ent en stop. “Nou terug,” sê hy.

Amper het aan die slaap geraak. Sy kom regop en stamp haar kop en veg om die duikbril af te kry. Toe dit om haar nek hang, is die lug grondrig en baie. In ’n droom het haar bors soos ’n duin geklim van al die stof, totdat sy versmoor het.

Sy lê weer. Die droom ry haar omdat sy skuldig voel. Sy ken nie van asemnood nie. Haar longe haal suurstof uit die stof asof dit tot by die oorsprong kan suiwer.

Mevrou Jafta snork. Met ’n gesukkel kry Amper haar rugsak onder die sitplek uit. Sy haal haar regterhandskoen af vir beter vat en voel na die koplig en plastiekhouer. Sy haal een blaai en ’n potlood uit. Sy druk op die houer en stut dit teen haar knieë. So klein as kan, skryf sy: Eleusine coracana – African finger millet, osgras.

Daar hou dit op. Die storie is weg. Hoe het haar ouma gesê? Die stories gaan sit saam met die honger en dors in jou tong. Amper se tong is niks sonder haar neus nie. Sy voel na die pilhouer in die rugsak se binnesak. Sy maak die boonste ry se “W” oop. Hierdie een is van ná die Hardskip. Sias het dit in Meconium vir dooigoed verruil. Dis verslaan maar dis al wat oor is en Amper voel hoe dit eers teen haar kleintong vasslaan en dan op haar tong gaan lê. Melkkos met kaneel. Sy hoor haar ouma se stem. Maak jou oë toe. Sien die brein in jou tong. Vat jou tong se brein in jou vuiste vas en pomp drie maal. Sy bal haar vuiste en pomp. Wat jou tong nog nie klap nie, doen jy dit weer. Sy ruik en pomp en begin skryf.

Dit het begin by die vingers van god, die korakanaplant. God ontkiem tussen uitspansel en aardmantel, in die skedelgat waar die koggelmander rus en tong uitskiet na die hoop op lewe en die sekerte van dood. Die vingermanna trek krom soos wat die hand sy kinders vashou in die oes. Die vingers skiet oop en kielie die kinders. Die korakana en die kosmos lag saam met die kinders.

Sy wil weer ruik voordat sy haar goed bêre, maar die grasring skuur teen haar neus. Ondergrondse water en ’n leerhoed. Wakinyan se parfuumbottel was sy kosbaarste besitting. Bermuda Triangle. ’n Ryk fan het dit vir hom gegee tydens ’n vertoning by die Chinese enklawe. Dit was nie aards of huislik nie. Die reuk is so skerp soos toe hulle kruisbeen op haar bed gesit het, die saadboek tussen hulle.

Sy knie is oor hare en toe hy oor die boek buk, is sy hare en nek in haar neus. Sy vee oor die voorblad om die stof af te kry. Onder die skets: S.M., 2063.

“Dit was my ma,” sê Amper en wys na die voorletters.

Wakinyan trek die buitelyne van die jakkalskos met sy halwe wysvinger.

“Vertel weer vir my die storie van jou vinger,” sê sy.

“Tell me the story of this weird plant,” sê hy en vat met die halwe vinger aan haar lippe.

Sy sweer die vinger trek haar geheue deur haar lippe uit haar lyf. Sy maak die geswelde boek oop. Op die eerste bladsy is die vingermanna: die beskrywing en storie in haar ouma se handskrif, die skets deur haar oupa, die geparste saadvingers.

“Will this grow?” vra Wakinyan.

“No,” sê sy.

Hulle blaai verby die grys blare van die knokkers, die geparste blare van die maramaboontjie, die koenoekam, die ’nytjie; die gedroogde blom van die suurvy, die pietsnot, die baroe, die gifbol; die afgeknipte tande van die gemsbok- en doringkomkommer en die Karoo-noemnoem. By die jakkalskos staan net die naam en Skets: sien voorblad.

“Where’s the story?” vra Wakinyan.

“My ouma moes dit nog skryf.”

Wakinyan skuur met sy skouer teen hare. Amper laat sak haar kop teen sy skouer en voel hoe die las van die saad in die helfte skeur en na hom begin oorvloei. Sy raak aan sy halwe vinger op die blaai. “Vertel weer vir my die storie van jou vinger.”

Hy kyk skuins na haar en maak die boek toe. “I was six years old. The circus tent had not gone up for fifteen days and the hunger and thirst gave the clown dustbrain and made the acrobats faint. We came to a small settlement close to the Chinese enclave and everybody who could still stand up straight had to help with the tent. I was helping the lion tamer to unfold the left wing when a pofadder slid from under the fold. He struck out in camouflaged lightning and the forked tongue touched my finger as if in a blessing. By the time the plant doctor got to me my finger was rotting and they chopped it off after they made me drunk on mampoer. And that’s how I lost my finger.”

“Jy weet hoe om ’n storie te vertel,” sê sy.

Hy raak weer met sy halwe vinger aan haar lippe en soen haar. Sy tong is ’n gekamoefleerde weerligstraal. Wat is honger, stof en smerd?

Die bakkiedeur gaan oop en Amper trek haar asem hard in.

“Wat was dit?” vra ’n vreemde stem.

“Sparries, Sparries,” begin Sias. Sy stem klink anders. “Jy vra nie na my secret compartments nie en ek vra nie na jou ways en means nie. Ek sal volgende keer meer kief bring.”

“Ja. En stuur die woord vir Priester dat kief die mense sal laat kak,” sê die Sparries.

“Krr-krr,” lag Sias. “Totsiens, Sparries.”

Die bakkie draai om.

“Krr-krr-krr. Hulle GM-mielieland is expose en nou’s die pryse by die BioG met helfte gecut.”

Mevrou Jafta lag nie.

“Ampersand, as jy wakker is, kan jy regop kom,” sê sy na ’n ruk.

Ampersand. Wanneer laas het iemand haar Ampersand genoem? Sy stoot weer die bril op – haar ouma het gesê mens spog nie met longe soos hare nie – en vou die seil stadig eenkant toe. Met die regopkom is sy ’n oomblik lank verblind. Dit voel of hulle die son nóú gaan tref. Die stof is minder. Die lug lyk soos ’n woestyn.

Mevrou Jafta snuif ’n paar keer. “Ruik ek kaneel?” vra sy en kyk na Amper.

“Jy’t gedróóm van kaneel,” sê Sias. “No smell, no taste, only the touch of a lover will survive. But what is that touch, but the touch of dust? If you smell, taste the dust …”

“Kom ons raak nie soetsappig oor stof nie,” val Jafta hom in die rede.

Sias draai sy kop weg van haar.

“Dis ’n young poet wat open mic by die bar in Closies.” Hy krap in sy oor. “Hou jy van poetry, meisie?”

“Sy’s Bettina Molooi se kleinkind. Sy kies poësie bo blikkieskos.”

Amper sak weer agter Sias se sitplek in en lê terug teen haar rugsak. Mevrou Jafta dink sy ken haar, maar sy weet niks.

Die bakkie ry vinniger. Daar’s ’n geraas buite. Mense wat goed skree. Sias jaag. Amper maak nie haar oë oop nie.

“Wat de fok het jy gedink om ’n jong meisie op hierdie trip te bring?” vra hy toe dit weer stil raak.

“Jy weet ook nie alles nie, Sias Smous,” antwoord Mevrou Jafta.

“Amper?” vra Sias.

Mevrou Jafta se sitplek kraak. “Sy slaap.”

“Kom ek sê jou wat ek weet.” Sias se stem is gedemp. “Dis ’n fokken gevaarlike tyd vir haar en haar dooigoed om naby Meconium uit te hang. Daar’s ’n gerug in Close Enough – jy sal dit dalk in Hardekraal ook hoor – dat Meconium se saadvoorraad gecompromise is. Sabotage deur hulle eie radikale malles. En nie die skadelose malles wat by julle kom afkamp nie. ’n Sekte – Divusity. Compos mentis malles.”

“As Meconium interne probleme het, gaan hulle nie worry oor ons phayas nie.” Sy praat venster toe.

“Guh. Niks is confidential in die gopse nie.”

Jafta se stem styg. “As jy –”

“Ék’s nie jou fokken moeilikheid nie. Één Enougher of Hardekraler wat een aand in Dop & Steek gehoor het dat Kiefmor se Jaftas groen vingers het; één gerehabiliteerde mal Meconite wat vra of Amper dan nie familie is van die saadstorie-vrou nie … Hoe dink jy loop die rumours? Ook maar net een Closies seed splicer wat noem dat hy ’n sabotasie-scheme vir dié en daai moet afpull, en die volgende oomblik is die link met Divusity uitgefigure en weet die gopse meer as die Meconite grootkoppe. Totdat die grootkoppe begin betaal vir die info.”

“Die sabotasie … Is dit GM?”

“Uh-huh. Klap in die gesig van diversiteit. As Meconium in die oë van sy mense sy eie beginsels verraai, skep dit kans vir nuwe leiers. Dié met die erfenissaad in die hand sal die mag hê. En hier bring jy die saad na hulle voorstoep. Die saad én die kief.”

“Ek was bang sy vat op haar eie die biogaslorrie. Soos wat daai Indiaan haar getoor het.”

Amper spits haar ore.

“Weet sy hy’s van Meconium se diversity centre?” vra Sias.

“Hoe weet jy dit?” vra Mevrou Jafta.

“Twee aande in Dop & Steek en my eie afleidings.”

“Hy’t vir haar gesê hy’t uit ’n sirkus ontsnap. Ek het gewonder.”

“Kon netsowel ’n sirkus gewees het,” sê Sias. “Behalwe hy sou nie ontsnap het nie. Het jy al van Specimen of the Year gehoor?”

“Ja.”

“Meconium sê die contest is ’n celebration of diversity. Met hulle twentieth anniversary hierdie jaar moes die contestants aan Specimen vir veertig dae weg van Meconium en surrounds oorleef. Baie gerieflik om by ’n tienermeisie op ’n nederset te gaan skuil. Sê dít vir haar.”

“Hy was die eerste ruk by Solamalgia ingeboek. Met Meconium-toutjies. Anyway, praat sal nie help nie. Sy’s sestien en verlief.”

Amper spring byna op om haar stil te skree – wat traak dit die ou vrou? As Wakinyan haar nie alles vertel het nie, sal daar ’n rede wees.

“Kan die kind ten minste Engels en isiXhosa praat?” vra Sias.

“Engels. Nie isiXhosa nie. Bettina s’n was nie goed genoeg nie; ek kan myself beswaarlik help. Maar Hardekraal is mos nie so streng soos Meconium nie?”

“In Meconium praat almal hul eie moedertaal, meestal Engels vir amptelike goed, maar in Hardekraal is jy veronderstel om die opgroeitaal van die oudste persoon te praat, so jý behoort dáár nie ’n probleem te hê nie.” Hy lag.

Mevrou Jafta klap haar tong. “Ek’s nie so oud nie.”

“No worries. Hardekraal akkommodeer die boendoes. Hulle akkommodeer altyd, alles en almal.”

Dis al donker toe Sias vir die soveelste keer stop. Hy skakel ’n sonlampie aan en hang dit aan die truspieël op. Amper kom regop. Sal dit die laaste stop wees? Mevrou Jafta slaap. Haar mond is oop en ’n straal kwyl blink op haar ken.

“Die Hardekraal Hotel,” sê Sias na aan haar oor. Amper is nie seker of hy spot nie. “Sentraal geleë tussen die Kraalkombuis, die pad na Meconium en BioG:H – Hardekraal se Meshitium.”

Die ou vrou kom regop soos een wat nooit geslaap het nie. Sy sukkel uit en Amper is agterna met die rolstoel. Sy kry haar rugsak en vir Noag. Die hond se tong hang laag.

“Sorry, hond,” fluister sy.

Sias bring Mevrou Jafta se sak.

“Ek laat julle weet wanneer ek weer Kiefmor se kant toe gaan,” sê hy en lig sy hand. “Tien dae op die gouste.”

Amper kyk Sias agterna. Sy’t veiliger gevoel met hom in die omtes.

“Waar kry ons jou?” vra sy, maar haar stem verdwyn onder Mevrou Jafta se kloppe. Hulle wag lank. Die deur gaan oop en Sias trek weg. ’n Gaslamp verlig ’n pienk nagrok.

“Ek is Jemima Jafta,” sê Mevrou Jafta, “dogter van Engela Vanaard. Hier op die genade van Johanna Josefs, dogter van Trein Josefs.”

Amper het die ou vrou se stem nog nooit so gehoor nie. Vol geheime rituele.

“Nondaba Coetzee. Kom in.”

Nondaba staan opsy. Sy sien vir Noag en haar wenkbroue beweeg weg van haar neus.

“Hayibo. Binnehof,” sê sy, met haar duim en wysvinger wat in Noag se rigting klap.

Amper lê op die boonste van twee stapelbeddens in ’n hoekkamer van die hotel. Mevrou Jafta is op die onderste een. Haar rolstoel en sak is onder die bed – anders was daar nie omdraaiplek in die vertrek nie.

Amper wonder oor Mevrou Jafta. ’n Week na haar ouma se dood het die ou vrou die eerste keer by die winkel opgedaag. Iemand het buite met haar rolstoel gewag en sy’t op die meubels gedruk en haar neus opgetrek en teësinnig gevra of sy die amberoorkrabbe kon kry. Daarna het sy weer gekom, met koeponne betaal én kos op die voetstoel by die deur gelos. Amper het nie geweet Mevrou Jafta en haar ouma het mekaar beter as groet geken nie.

Haar rugsak hang by haar kop en sy haal die skryfgoed uit. Haar lyf is styf van heeldag se opkrop en rondval in die bakkie. Sy krap tot sy die pilhouer raakvat. Tweede ry se F: sitrus en steranys. Tongbrein in vuiste: pomp – drie keer.

Tylosema esculentum – gemsbok bean; maramaboontjie, elandsboontjie, braaiboontjie.

Marama se innebor het die ander planete jaloers gemaak. Hulle het mane gegroei maar niks was so sienlik soos die innebor van Marama nie. Marama het gehoor van ’n planeet met aansienlikheid sonder gelyke. Dáár, het sy gedink, sou haar innebor met rus gelaat word. Op reis vra Marama ’n skootster om haar innebor in twee te skiet. Vir Aarde vra sy of sy dit op twee rooiduine kan begrawe. Toe dit opkom, was die blomme sterre, die blare bokmakierievlerke en die sade olieknope vir die windgrond se jas. Die rooi grond het Marama se innebor sienliker as ooit gemaak: geverf met die kwaste van vlak vulkane. En die skaars leksels onder die grond het dit laat opswel soos die maag van ’n moerplaneet. Die gooie se mae is heilig.

Stof

Подняться наверх