Читать книгу Winterman, somerhart - Alexa Slabbert - Страница 3

Оглавление

1

“Vergeet nou net vir ’n oomblik jy is ’n model en laat waai!” skree Chris Naudé tergerig.

Donna Joubert gooi vinnig haar kastaiingbruin hare oor haar skouer en kyk waarderend terug oor die winkelhaakstrand van die Seychelle se Mahé-eiland. Op dié eertydse eiland van seerowers en seilskepe, net suid van die ewenaar, lyk Chris op sy appelgrys perd met sy kaal, blinkbruin bolyf na ’n romantiese figuur uit die verlede.

Sy wys met haar perd se teuels na die kamera om sy nek. “Vergeet jy dan jy is ’n fotograaf, dié fotograaf van die belangrikste sporttydskrif in die land!”

Hy probeer haar inhaal oor die spierwit koraalstrand. Hulle is binne sekondes deurdrenk met warm druppels reën – dalk ’n teken van ’n sikloon wat eersdaags oor die Tuin van Eden in die Seychelle-eilande sal woed wanneer die windseisoene verander? Die swaar, aromatiese reuk van kaneelbome hang in die lug – ’n somersoet reuk soos ’n tuin vol angeliere.

Die reëndruppels lê soos blink juwele teen Donna se vel en laat haar dun katoenhemp soos ’n tweede vel aan haar kurwes kleef. Daarvan het sy genoeg; sy is nie verniet een van die modelle wat vanjaar gekies is vir die tydskrif Sport SA se swemdraguitgawe nie. Dalk nog die voorbladmeisie ook.

Selfs vir ’n model troon Donna lengtegewys bo ander vroue uit. Dit op sigself maak haar dié meisie wat jy raaksien wanneer jy ’n vertrek binnestap. Voeg daarby haar skouerlengte kroon van krullerige ligbruin hare, fynbesnede gelaatstrekke en kaneelbruin oë, en dis duidelik hoekom sy al van haar sestiende verjaarsdag af ’n modelsensasie genoem word.

As ’n voormalige lewensredder en waterskiër het sy sterk, gespierde bene. Haar skouers is effe breed – soos dié van ’n swemmer – en haar heupe is smal, die ideale afmetings vir ’n loopplankmodel.

Dis juis haar lyf waarop Chris konsentreer toe die perde stadiger loop terwyl wit seeswaels rondom hulle duikel op die moesonwind.

“Dís nou hoe ’n tweestuk moet sit! Jy gaan beslis die mooiste vrou wees wat ek nog op ’n perd se rug gekliek het. Dis nou as ek my sin kan kry.” Hy sug onwillekeurig. “Waarom is skoonheid tog vir my so ’n totale verleiding, selfs ’n obsessie? Hoekom is ek nie die soort ou wat vir persoonlikheid of status of geld val nie? Nou is dit een kyk na jou en jy het my in die palm van jou gemanikuurde hand . . .”

Donna glimlag skalks. Sy het lankal geleer om fotograwe se mooiweerspraatjies te ignoreer. Enige model, loopplank of fotografies, is die teiken daarvan voor of tydens ’n fotosessie. Hulle noem dit om ’n rapport met die model te vestig, ’n tegniek om haar in die regte bui te plaas.

Sy weet nie of dit dalk nog meer van toepassing is in die geval van swemdragmodelle nie. Sy kan haar indink dit verg nog veel meer selfvertroue as gewoonlik om so skamel geklee voor die kameras te verskyn. Komplimente tydens die fotosessie is dus ekstra welkom.

“Toe maar, dis net jy wat voor my en die res van die meisies sal swig. Ek hoor as dit van Simon Conradie afhang, word al die modelle vir Sport SA se swemdraguitgawe uit een patroon gesny: die spreekwoordelike blondine, neutbruin gebrand, met hemelblou kykers en ’n figuur soos ’n Barbie-pop. So voorspelbaar. Kyk maar net hoe lyk die voorblad van Sport SA se swemdraguitgawe elke jaar. Ek hoor dit is en bly Simon se prerogatief om die voorbladmeisie te kies. Maar ek dink dis tyd dat iemand die patroon verbreek.”

Sy glimlag asof sy ’n geheim bewaar en laat haar oë glip na waar koraalrooi flambojante teen die skitterblou lug uitstaan. Wat ’n paradys . . . net jammer daar is ’n slang in die smaraggroen gras, en sy naam is Simon Conradie.

Chris kyk agterdogtig na haar. “Weet jy dalk iets wat ek nie weet nie? Dit wás nogal vir my vreemd om jou hier aan te tref . . . Want jy’s reg, Simon Conradie hou van sy voorbladmeisies blond. Ek ken hom darem nie van gister af nie. Sy meisies in die regte lewe is ook baie blond, ekstra mooi en altyd in die kollig. Hy onthaal hulle rojaal in sy dakwoonstel in Kampsbaai – net soos wat die res van die Kaap se elite-oujongkêrels dit doen. Of altans, so sê die bostelegraaf.”

Donna sê liewer niks. Sy geniet die kaleidoskoop van kleur en geur om haar en trek aan die batikversierde sarong wat sy vroeër gekoop het om oor haar bikini te dra. Sy het haar hare uit haar gesig weggesteek met twee skilpaddopkamme – ook produkte van die handwerkkunstenaars op hierdie verlate eiland in die tropiese son.

Chris kyk skerp na haar. “Ken jy vir Simon? Ek kan byna nie dink dat julle paadjies al sou gekruis het nie . . . sy hele lewe draai mos om sport. Toe, uit daarmee, ek kan sien jy bars om my te vertel.”

Donna kyk uit die hoek van haar oog na hom en neem haar tyd om hom van kroontjie tot toontjie te beskou. Die laaste twee dae het sy oorbewus geword van hom as ’n man eerder as ’n fotograaf. Chris het die tipiese Latynse voorkoms, met hartstogtelike donkerblou oë en ’n voortvarende blik daarin.

Maar sy ken hom té goed om opgewonde te raak oor die fladdering op haar maag toe hy haar blik onderskep en met ’n betekenisvolle glimlag vir haar knipoog. Hy is te doodseker van sy uitwerking op vroue wanneer hy sy T-hemp uittrek. Sy sal maar haar ysprinseshouding moet uithaal.

Sjarmante rokjagters soos Chris moet ’n mens altyd op ’n afstand hou. Hulle is selfsugtig oor hul eie geluk. Vir hulle is daar net pret in ’n verhouding as hulle jagter-jagter kan speel. Met ’n bokkie in die wip raak hulle gou verveeld, Chris Naudé nog meer as ander. Hy is ’n wêreldwyse en lewenservare lensfilosoof. Ná sy jare as wildbewaarder en toe as vooraanstaande natuurlewefotograaf, het hy naam gemaak met modefotografie. Hy is al jare lank dié fotograaf vir Sport SA se swemdraguitgawe.

Eiewys en altyd oop vir nuwe dinge: dis hoe ’n mens hom kan opsom.

Half kaal hier langs haar, reik hy nou met sy arms in die lug, die teuels rus losweg op sy perd se rug. Sy gewoonlik ondersoekende blou oë is toe terwyl hy die sagte reën in warm strale oor hom laat syfer.

Presies hoekom sy nou so oorbewus van Chris is, weet Donna nie, maar sy wonder skielik daaroor. Dit het begin toe hulle op die vliegtuig na die Seychelle geklim het; sy het hom dadelik raakgesien, opnuut besef hoe aantreklik hy is.

Sy het uitgesien om weer Kreoolse geregte en yskoue vrugtedrankies te drink soos tydens haar vorige besoek. En om heerlik sportief te wees: te skermsweef en op die waterpedallo’s te ry. Maar sy weet nie of daar veel kans daarvoor gaan wees nie. Chris is ’n moordende werkgewer, het sy al tydens vorige fotosessies ervaar. En Simon Conradie is ’n redakteur met ’n missie: om sy sporttydskrif die manstydskrif met die hoogste sirkulasie in Suid-Afrika te maak.

Sy het gou agtergekom dat Chris altyd so effe eenkant van die groep modelle, stiliste, haarkappers en grimeerkunstenaars is. Dit het haar nogal geboei, alhoewel sy nie by hom aangesluit het nie.

Sy swem self nie saam met die in-klomp nie. Maar sy het haar eenkant gehou omdat sy meesal oorsee werk en nie eintlik op hoogte is van wat in die Suid-Afrikaanse model- en tydskrifwêreld aangaan nie. Hierdie opdrag vir Sport SA het heeltemal uit die bloute gekom.

Daar is iets aan Chris wat jou dadelik as ’n vrou roer. Miskien is dit sy rusteloosheid, die manier waarop sy skerp blik eers op die horison en dan intens op jou rus. Daar is ook die kleur van sy oë: ’n ongewone, skerp blou teen sy swart krulhare, en daarby gevoelvoller as wat mans se oë gewoonlik is.

Normaalweg kon sy Chris se ondersoekende blik met ’n professionele blik van haar eie beantwoord. Sy ken fotograwe – ’n engeltjie onder hulle moet sy nog teëkom. Selfs onder die getroudes is daar ’n paar wat maar liewers ringloos in die bedryf moes gewees het.

Maar Chris is anders. Op ’n goeie manier.

“As jy jou nou klaar aan my verkyk het,” spot hy, “sal ek graag jou geheim wil hoor.”

Donna bloos effe omdat sy onkant betrap is. “Met hierdie geheim gaan ek graf toe, anders is my reputasie vir ewig daarmee heen,” glimlag sy. “En jy sal jou wat verbeel dat ek my aan jou verkyk. Ek kom nou net van Milaan af, en jy weet wat sê hulle van die Italiaanse mans. Kom help my liewer afklim!”

Sy bring haar perd tot stilstand en verlang eensklaps na Sachen, haar swart hings op hul wynplaas in die Boland. En sommer skielik na haar ma, Ellen, en haar pa, Paul.

Haar ouers is sout-van-die-aarde-mense. Ma Ellen is ’n spesiale vriendin meer as ’n ma, die stylvolle vrou van ’n wynboer. As Donna aan haar dink, dink sy aan ’n roos in die oggendson. En natuurlik, aan al hul winkelekspedisies, want sy en haar ma is mal oor skoen-inkopies. Pa Paul kan dit nie verstaan nie; sy natuurlike habitat is die wingerd. Winkelsentrums vermy hy soos die pes. Nie dat die fyner dinge in die lewe by hom verbygaan nie. Hy het altyd ’n outydse sêding of twee gereed wat jou bybly. Beproefde ou boerewyshede . . .

Maar soos jare en jare van reis en ’n lewe op die loopplanke van die wêreld haar geleer het, trek Donna haar gedagtes doelbewus terug na werk. Na hierdie koraaleiland, die fotosessie wat voorlê en Chris. Dis ook iets wat hom anders maak: sy ken nie nog ’n fotograaf wat kan perdry nie.

Chris glip van sy perd af en stap kaalvoet oor die sand, fyn soos spookasem, na haar. Hy strek sy hande uit en swaai haar gemaklik van die perd se rug af.

“Erken dit nou maar: jy is uitgevang,” sê hy laggend. “Jy was besig om my intens te bestudeer. Ek dink nie Italiaanse mans is jou voorkeur nie, eerder Boerseuns soos ek.”

“Wat insinueer jy?” vra sy toe hy haar nie los die oomblik toe haar voete die sand raak nie.

Hy kyk na haar met ’n onpeilbare emosie in sy oë en draai dan skielik sy kop weg sodat sy net sy profiel kan sien. Hy trek haar vir ’n oomblik nader aan hom, sy hand op haar skouer. Sy reik uit daarna en hou dit vir ’n oomblik teen haar wang.

“Donna . . . ek kon jou nog nie uit my gedagtes kry ná daardie dag op Welgevonden nie,” mompel hy asof hy nie weet wat hy wil óf mag sê nie.

Sy stemtoon laat haar haar oë vir ’n oomblik toemaak. Vergete is die sand onder hulle voete en die warm seën van die reën wat oor hulle stroom terwyl hulle woordeloos in ’n halwe omhelsing staan. Selfs die geproes van die perde raak net agtergrondgeluide.

Sy voel hoe ’n warmte oor haar vel kruip van waar sy hand onderdeur haar hare na die sagte plekkie agterin haar nek geskuif het. Te veel gedagtes, te veel emosies oorstroom haar. Ook bittersoet herinneringe aan hul vorige ontmoeting. Soos speldeprikkies het sy dié gedagtes ook so af en toe ervaar, maar dit heftig ontken. Chris is immers ’n gesogte fotograaf en ’n bekende vroueverleier. Dit sal nie help dat sy enige verwagtinge koester nie.

Toe hy sy kop oorbuig om haar te soen, lig sy hare op en vir ’n oomblik raak haar lippe aan syne. Dit verander in ’n teer oopmondsoen. Sag soos somerreën.

“Met jou in my lewe . . .” prewel hy teen haar lippe.

Maar voordat Donna haar kan oorgee aan die verruklike sensasie van haar lyf wat reageer op Chris se oorrompelende nabyheid, kyk hy oor haar skouer en laat haar stadig los. Hy tree effe terug en neem sy perd weer aan die teuels.

Donna draai om en kyk strand-af na waarheen sy blik ver­skuif het.

’n Entjie van hulle af kom Simon Conradie, redakteur van Sport SA, kop onderstebo aangestap asof hy nie hul omhelsing gewaar het nie. Toe hy by hulle kom, steek hy sy hand uit om Chris te groet, en hulle klap mekaar op die skouers soos wat mans nou maar eenmaal doen. Duidelik ou bekendes.

Simon se blik verskuif na Donna. Daar is vir ’n oomblik ’n ongemaklike stilte.

“O, ek dog julle ken mekaar,” sê Chris toe hy skielik kliek hulle bekyk mekaar net op en af. “Simon, dit is Donna Joubert. Donna, Simon, Sport SA se redakteur.”

Simon bekyk haar met sy kop skuins gehou voordat hy berekenend sy donkerbril met al twee hande afhaal en opvou om in sy sak te plaas.

As sy alles moet glo wat sy van hom gehoor het, het dié idilliese eiland pas ’n deel van sy bekoring verloor, dink Donna.

Sy oë glip oor haar reënnat lyf, maar net vlugtig. In sy vyf jaar as Sport SA se redakteur het Simon die allermooistes – bekendes, beroemdes en supermodelle – sien kom en gaan vir die tydskrif se swemdraguitgawe. Hy kan hulle in ’n oogwink opsom.

Skoonheid is vir hom ’n kommersiële bate wat hom help om tydskrifte te verkoop en sy tydskrif se sirkulasie te verhoog. Hy is skepties en sinies oor beeldskone vroue, al word hy hoe gereeld saam met hulle gesien op die sosiale bladsye van koerante en tydskrifte.

Maar in die enkele oomblik wat sy oë op Donna gerus het, het hy tot sy verbasing nie die bekende en goedbesoldigde internasionale model gesien nie, maar net ’n pragtige, onopgesmukte langbeenmeisiekind in die ligte reën, met onversorgde nat krulhare en ’n vlekkelose gelaat sonder enige grimering.

Haar nat sarong kleef teen haar bene aan sodat elke kurwe oorbeklemtoon uitstaan teen die grou lug. Hy wens sy wil vir ’n oomblik reguit na hom kyk, maar sy is te besig om haar perd nader te trek, ’n sagte uitdrukking op haar gesig. Duidelik ’n diereliefhebber. Haar smal hand met die dun pols rus liefdevol teen die perd se fluweelsagte nek terwyl haar kop teen hom aanleun.

Dan kyk sy wel op, met ’n blik in haar bruin oë wat Simon sy asem laat intrek. Dis ’n blik van verwondering oor die reënboog wat skielik, toe die son uitgekom het, sierlik op die horison verskyn het.

Daarvandaan sak haar blik stadig na hom, maar sy kyk net skalks na hom. Sy lig haar wenkbroue ’n fraksie voordat sy wegkyk. Al twee is oorbewus van die vonk wat vir ’n oomblik tussen hulle was toe hulle oogkontak gemaak het.

As jou hart al ooit gebreek was, sal jy dit verstaan, meneer die redakteur, dink Donna. Daardie oomblik wat ’n kykie is op iets wat kon wees. ’n Ontmoeting van hart tot hart. Maar nou is ons weer terug op die aarde, nie in ’n fantasiewêreld nie.

Sy bekyk Simon een keer van kop tot tone, en kyk dan neerbuigend weg.

Simon is nie gewoond daaraan om geweeg en te lig bevind te word nie. Hy merk die reëndruppels wat oor haar hals versprei lê en soos lipglans op haar vol lippe blink. Haar donker wenkbroue boog in ’n onuitgesproke vraag, maar haar blik is reeds afgewend.

Chris kyk ongemaklik van die een na die ander, bewus van die onderstroom tussen hulle.

Simon vou sy arms oor sy bors en plant sy voete stewig in die sand. “Ja, ek sien dis Donna Joubert, ek ken haar portefeulje goed genoeg. Welkom uit Milaan, Donna. Ek is bly jy kon jou New York-afspraak vir ons uitstel,” sê hy kil.

Vandat hulle begin het om vanjaar se uitgawe saam te stel, wou sy redaksie die bekende Donna Joubert insluit by die modelle vir die swemdrag-uitgawe. Daar is uitgewei oor hoe goed sy oorsee vaar as loopplankmodel en hoe wyd bekend sy is vir haar skoonheid en sjarme. Hy kan nou nie eens meer onthou wie se voorstel dit was nie, maar hy was self erg daarteen gekant. Die bemarkingsmense het hom egter oortuig hoeveel ekstra eksemplare haar naam sal verkoop. Die syfers het dit vir hom beklink; dit sal werklik aan hulle ’n rekordsirkulasie besorg en die advertensies laat instroom.

Hy het gedink sy is uiters arrogant nadat hy haar ’n tyd gelede vlugtig gesien het by ’n aandfunksie. Nie sy of haar agent wou veel van hul voorstel weet nie, maar hulle het soos handomkeer verander voordat die sperdatum vir ’n antwoord verstryk het.

Hy wonder nou nog wat daardie radikale ommeswaai bewerkstellig het. Hy het hom nogal vererg toe haar eerste e-pos oor sy rekenaarskerm flits met soveel voorwaardes dat hy net wou terugskryf: Vergeet dit!

Maar sy redaksie wou niks hoor nie. “Met Donna op die voorblad . . .”

Stop die boot net so ’n bietjie, wou hy sê, maar vir eens wou niemand hom juis tyd gee om sy opinie uit te spreek nie. Sy is nou maar eenmaal die tipe meisie wat die manne laat sug, al is sy nie ’n tipiese swemdragmodel nie. Hy was duidelik in die minderheid.

“Ons sal sien . . .” het hy skietgegee.

Hy het al sy sjarme ingespan toe hy haar in Milaan gebel het om oor haar deelname aan die fotosessie in die Seychelle te gesels. Daarna het hy met die ondertekening van die kontrak en die ander dokumente soveel as moontlik oor dié brunet probeer uitvind. Gedagtes, menings, riemtelegramme en skindernuus – hy het sy ore uitgeleen vir enige brokkie inligting oor haar.

Hoe meer hy van Donna Joubert gehoor het, hoe minder wou hy luister. Sy was net te goed om waar te wees. Haar reputasie, vir ’n internasionale model, was so rein soos ’n lelie. Daar het geen skandaal of stigma aan haar gekleef nie. Sy was so heilsaam soos varsgebakte plaasbrood. ’n Outydse meisie daarby, wat van vars blomme as geskenk hou. Spierwit aronskelke, het ’n artikel oor haar gesê. Verder is sy glo sentimenteel, huilmooi en slim.

Sy is die dogter van ’n bekende Paarlse wynboer en kom uit ’n hegte gesin, saam met wie sy gereeld vakansie hou en waterski. Sy is lief vir motorfietsry en perdry. Haar ma is haar beste vriendin. Sy is fisiek sterk, want sy gim elke dag.

Te veel goeie dinge vir een man se vlees en bloed om dit te hou, het hy gevoel.

Vir hom was sy net te ordentlik, te lieftallig soet en goed om ’n Sport SA-swemdragmodel te wees – die meisies op hulle voorblad moet darem ’n stoute vonkel in die oog hê. En daarvoor móét jy al so ’n bietjie ervaring hê. Dit lyk nie eens vir hom of daar ’n man in Donna se lewe is nie.

Dan is daar ook die elitistiese hoek: ware modelle sien eintlik neer op swemdragmodelle en swemdragwerk. Veral iemand soos Donna wat al jare lank op die loopplanke in Parys, Londen en New York skeppings van die voorste modehuise dra.

Hoekom het sy die opdrag aanvaar? het hy oral probeer uitvis.

Maar noudat hy die romantiese interlude hier op die strand tussen haar en Chris gesien het, wonder hy nie meer nie. Dis skielik vir hom duidelik: dié ou hartebreker se sjarme is nog steeds dodelik. Hy wat Simon is, werk darem al lank genoeg saam met Chris om hom te kan peil.

Chris neem nou al vir die afgelope vyf jaar die foto’s vir Sport SA se swemdraguitgawe, en Simon het hom in dié tyd as buitengewoon professioneel leer ken. Iemand wat nie veel tyd saam met die manne bestee nie, behalwe as daar belangrike sport op die TV is. Maar waar Chris Naudé is, is daar altyd ’n skoonheid of twee in die rondte. En hierdie keer is sy teiken duidelik Donna Joubert.

Simon kyk met ’n siniese glimlaggie na waar Donna die teuels oor haar perd se kop swaai en die groot dier gemaklik bestyg. Sy kyk vir ’n oomblik uit die hoogte na hom af en swaai dan die perd om.

Dis net nie regverdig nie, dink Donna ontstig. Sy het gedink Simon Conradie is al skuins anderkant vyftig, en nou lyk dit of hy nie eens veertig is nie. Sy stem het haar ook onder ’n wanindruk gebring – dit het ’n diep grinterigheid wat hom veel ouer laat klink. Asook die enkele keer wat sy hom vlugtig in die halfdonker by ’n funksie gesien het.

’n Mens weet nooit met hierdie sportiewe tipes nie. Hy het die breë skouers van iemand wat beslis mededingend geswem het en die kuite van ’n fietsryer. Sy hare is kort geknip en ekstra blond van sonblootstelling. Sy vel het die tekstuur van iemand s’n wat dikwels in die buitelug is; dis duidelik dat hy versot is op sport. Hy lyk geensins soos iemand wat gedurende die dag agter ’n lessenaar inskuif nie. Sy groen oë lyk asof hulle gereeld verre horisonne opsoek, want daar is fyn plooitjies om hulle soos wat jy dikwels by seiljagvaarders sien wat hul oë op skrefies hou om in die verte te fokus.

Sy skud haar kop vir haar gedagtes en kyk vlugtig oor haar skouer. “Ek is bly om hier te wees, dankie. Gee my net tyd om ’n bietjie meer sonbruin te word. Julle het seker ’n paar dinge om te bespreek. Sien julle later by die hotel.”

Laat Simon Conradie maar sy eie gevolgtrekkings maak, dink sy terwyl sy die perd op ’n stap wegstuur. Ons is almal grootmense hier, wou sy vermakerig vir hom sê toe sy sien hoe intens hy na haar staar, maar sy het haar ingehou.

Tydens hulle telefoongesprekke wou hy oor en oor weet hoekom sy bereid is om vir ’n swemdraguitgawe te poseer. Is dit nie sleg vir haar beeld nie? Sy moes hom herhaaldelik verseker dat sy daarvan hou om alles ten minste een keer in haar lewe te probeer. Maar sy is seker sy het hom nie oortuig nie. As hy maar die waarheid kon geweet het . . .

Die man ontsenu haar elke keer wat sy met hom te doen kry. Hy het dit reeds op die telefoon en per e-pos reggekry. Hier ry sy nou weer met gloeiende wange weg. Sy kan nie ontken dat sy nonchalante blik oor haar en Chris se vurige omhelsing haar omgekrap het nie. Sy voel asof sy met haar hand in die lekkergoedfles betrap is.

Winterman, somerhart

Подняться наверх