Читать книгу Winterman, somerhart - Alexa Slabbert - Страница 4

Оглавление

2

Toe Donna veel later die ruim voorportaal van Hotel Beau Vallon binnestap, sit Die Droomlyf, Chloe Heiberg, en die klassiek mooie Michelle Malherbe in hulle volle swemdragglorie op die hotelstoep en ontspan. Beide lyk waaghalsig en avontuurlik in piepklein bikini’s, met kleurvolle drankies in die hand. Hulle knik verwelkomend en wuif uitbundig in Donna se rigting met skitterwit glimlagte.

Sy stap effe onwillig nader om hulle te groet. Sy het al saam met beide op fotosessies gewerk, maar is nie juis ’n bewonderaar van dié twee katterige glansmodelle wat knypies en krappies uitdeel asof dit gratis parfuummonsters is nie.

Hulle is ook die soort wat links en regs soentjies en drukkies uitdeel en dan agter jou rug kwetsende en sarkastiese opmerkings maak. Al twee is nogal bitsig op haar eie, kenmerkende manier en bekend vir hul snydende kommentaar. Hulle is ook so vol prima donna-nukke dat die fotograwe hulle fotosessies so vinnig as moontlik verbykry.

Met Chloe is daar boonop sprake van dwelmmisbruik. Sy is bekend as iemand wat impulsief en onvoorspelbaar is. Michelle het ’n eetsteurnis en vloek soos ’n matroos. Meer geslepe, agteraf en berekenend sal jy nie maklik kry nie. Sy stuur sommer maklik op ’n fotosessie iemand na sy peetjie.

In die modebedryf is al twee uiters mededingend en ambisieus. Daar is nie ’n teruggetrokke haar tussen hulle subtiel getinte blonde hare nie.

Hierdie twee is deel van die rede hoekom Donna ingestem het vir die Sport SA-kontrak. Haar twee beste vriendinne in die Kaap, die voormalige New Yorkse glansmodel Benita Raubenheimer en die vooraanstaande stilis Christina Roets, het haar uitgedaag om die fotosessie te doen. Om presies te wees, hulle het haar uitgedaag om te sorg dat nie Chloe of Michelle die voorblad haal nie.

“Girlfriend, daai poppies moet van die voorblaaie waai!” het Benita haar aangemoedig. “Hulle maak enige vrou se naam sleg.”

Dit het begin as ’n lekker lawwe grap toe hulle drie een aand op ’n partytjie lighoofdig was van vonkelwyn en min kos. Hoe om vir Simon Conradie te uitoorlê en hul twee aartsvyande te wys hulle kan op hul spesialisgebied aangevat en gewen word, het skielik vir Donna ook soos vet pret geklink.

Om alles te kroon, het Benita ’n Armani-rok op die spel geplaas: as Donna die voorblad haal, is die rok hare. En wat ’n droomrok is dit nie! Skouerloos en van ivoorkleurige sy wat sag om die knieë in valle uitklok. Die soort rok waarin jy wil trou . . .

Boonop het die loopplankseisoen in die modehoofstede van die wêreld nog nie begin nie. Donna het mooitjies ’n tydjie tussenin gehad waarin sy net een afspraak moes kanselleer om na hierdie eilandparadys te kom. Wie gaan in elk geval nee sê vir ’n betaalde vakansie op die Seychelle-eilande? ’n Week waarin sy nie in die geselskap van die beroemdes en bekendes hoef te wees nie. Wat ’n verligting. Die glanswêreld raak soms net te veel vir haar.

En Chris?

Donna het lank voor die weddenskap al geweet hy sal hier wees. Miskien het dit Benita-hulle se uitdaging om die twee blondines van die voorblad af te hou net ’n bietjie meer kleur gegee.

Haar en Chris se paadjies het die eerste keer gekruis tydens ’n fotosessie vir ’n vrouetydskrif. Die tipiese “Suid-Afrikaanse glansmodel kom huis toe vir Kersfees”-artikel is tydens haar laaste besoek aan die Paarl, haar geboortedorp, gedoen. Sy moes op haar ouers se wynplaas tussen die wingerde en in die kelder, sowel as aan ’n gedekte Kerstafel onder die diepgroen akkerbome saam met haar gesin poseer.

Chris wou ook ’n sonsondergang oor die Bolandse berge afneem. Ná ’n lang werkdag het sy vir hulle ’n verkilde bottel van haar pa se beste chardonnay saam met kaas en beskuitjies ingepak, en hulle het met die perde berg-op gery om die beste vista vir ’n foto te kry. Dis toe dat sy ontdek het wat ’n uitstekende perderuiter die voormalige wildbewaarder is.

Ná ’n wilde jaagtog die veld in, het hulle uitasem tot stilstand gekom. Sy moes ruiterlik erken dat hy die resies teen haar en haar Arabier-hings, Sachen, gewen het. En dit op ’n perd waarmee hy toe pas kennis gemaak het, boonop met ’n kamera om sy nek.

“Perde is duidelik in julle bloed,” het hy egter waarderend gesê en met nuwe oë na haar gekyk. Donna Joubert is duidelik geen porseleinpoppie nie en daarvan hou hy: ’n meisie met stamina.

“Ja, maar ons is grootgemaak om te glo dat perde soms ’n bietjie belangriker as mense is!”

Toe hy haar veel later help om by ’n krans af te gly sodat die vallei voor hulle kan oopvou, het sy handpalms met ’n doelbewuste streling oor haar kaal rug gegly. Dit het haar heeltemal ontsenu, sodat sy in die skemeraand oorbewus van hom was.

Ten spyte van jare se blootstelling aan die mooies, bekendes en rykes van die wêreld, was haar hart nog altyd haar eie. Haar loopbaan en goeie naam was vir haar te belangrik om dit weg te gooi deur skandale in die skindertydskrifte.

Natuurlik het sy soms met mans uitgegaan. Selfs hier en daar vir ’n maand of wat betrokke geraak in ’n dieper verbintenis, maar sy het nooit werklik verlief geraak nie. Sy weet te goed waarvandaan sy kom en wie se kind sy is. Dit maak ’n groot verskil in ’n wêreld waarin almal soek na identiteit in klere en voorkoms, maar sy het lankal geleer hoe vals die vlietende identiteit van skoonheid en roem is.

Betower deur Chris se nabyheid het sy nogtans probeer om los te kom, maar sy het op die een of ander manier slegs daarin geslaag om in sy arms te beland. Skielik was alles vergete: die moegheid van die dag se lang fotosessie, die loom bergwêreld om hulle, haar loopbaan, sy kameras.

Hy het haar mond gevind en dit honger oopgesoen, terwyl hy gesukkel het om haar nog nader teen hom aan te trek. Tussen die fynbos en die sterre het sy haar nek na hom gedraai sodat hy ’n soen in haar kuiltjie kon druk. Sy lippe was sag, warm en effe klam. Sy het sy mond tot op haar skouer laat glip, waar sy hand reeds haar toppie se skouerbandjie weggetrek het.

Die aand het sag geword om hulle, met ’n karringmelkwit volmaan se glans oor die wingerd en bergkruine.

“Ek dink jou foto is besig om te verdwyn . . .” het sy gefluister en haar uit sy omhelsing losgemaak. Sy het op ’n rots gaan sit en afgekyk na haar bewende hande. As sy nou enigsins sy oë sou ontmoet, hom selfs net sou hoor asemhaal . . .

Dit was ’n oomblik of twee voordat hy sy kamera se lens kon oopdraai en met die ligmeter begin vroetel het.

“Wat ek nie op die film kry nie, kan die rekenaar regdokter,” het hy gespot.

Toe hulle later al geselsend deur die maanverligte wingerde huis toe ry, kon sy die warmte tussen hulle aanvoel. Veel later, toe hulle groet, was dit sy wat doelbewus ’n oomblik teen hom aangeleun het. Sy het behaaglik gevoel hoe sy vingers in klein sirkels oor haar kaal skouers streel. Sy was moeg en het bykans geen weerstand meer teen hom gehad nie.

Die volgende dag is sy weg New York toe. Sy het eers weer van hom gehoor toe ’n pak foto’s van die Paarlse fotosessie by haar agentskap opgedaag het. Met ’n bos proteas daarby. Geen notas, geen SMS’e en beslis geen oproepe nie.

Sy het gevoel asof sy maar net deel was van die eb en vloed van sy besige lewe. En besluit om dit so te hou. Sy het via haar agent, Leigh Gianelli, ’n dankiesê-boodskap gestuur.

“Liefie, is jy seker jy wil nie self met hom praat nie? So ’n hunk, en jy hét darem die lieflikste blomme gekry . . . vars proteas al die pad van Suid-Afrika, nogal,” het Leigh met haar diep stem gesê, maar Donna het net haar kop beslis geskud.

Nou is hulle saam hier op die romantiese Mahé. Miskien was die weddenskap net ’n gerieflike verskoning waarmee sy haarself wou bluf. Sy het immers goed geweet Chris sal die fotograaf wees vir hierdie opdrag.

Chloe se skril dogtertjiestem ruk haar terug na die hede. “Donna! Ons is so bly om jou te sien!” sê sy met ’n glimlag soeter as stroop. Haar platinumblonde hare skuif vir ’n oomblik oor haar fynbesnede gesig toe sy vooroor buk om vir Donna ’n drukkie te gee.

Donna staan effe agtertoe om weg te kom van die swaar speserygeur van Chloe se parfuum. Michelle het ook opgestaan en bied haar wang aan vir ’n lugsoen soos modelle uitruil om nie hul lipstiffie en grimering te bederf nie.

Donna word voorgestel aan die res van die groep: Wynand, die spitsvondige en stylvolle stilis, Phoebe, ’n teruggetrokke grimeerkunstenaar, en Rochelle, Sport SA se tydelike moderedakteur, wat sekerlik hier is met tasse vol einaklein bikini’s en bykomstighede soos ontwerpersonbrille.

Hulle groet oor en weer en Donna neem plaas by die kroegtoonbank. Die patio by die swembad is oorgroei met kleurvolle hibiskus en bougainvilleas, en die vloer is sommer van seesand. Sy skop sorgeloos haar sandale uit. Sy het haar voete goed laat versorg voordat sy gekom het en hulle voel sysag toe sy hulle teen mekaar skuur. Elke toonnael is ’n pêrelpienk halfmaantjie. Sy dra ’n fyn toonring met ’n diamantjie en ’n goue enkelbandjie. Sommer vir die eilandpret, en omdat sy dit nie in New York of Parys kan doen nie. Al is dit nou al uit die mode, gee dit haar so ’n sigeunergevoel. Dis in elk geval gepas vir enige eilandwegbreektydjie, meen sy.

Donna is lief daarvoor om haar voete deel van haar uitrusting te maak. Sy is seker sy het meer pare skoene as enige ander model wat sy ken. Haar en haar ma se gedeelde liefde vir skoene koop, dra natuurlik baie daartoe by. Skoene koop is hulle terapie.

Sy is veral mal oor oop sandale met fyn bandjies wat oor haar hoë voetbrug span, en wat sy so van haar voet kan laat bengel. Verkieslik in pastelkleure, sodat dit die sonbruin van haar voete nog meer kan wys. As sy dan as ’n model ydel is, is dit oor haar voete.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Simon Conradie nader stap uit die hotelsitkamer.

“Wat kan ek vir jou bestel, Donna van New York via die Paarl?” vra hy met sy gruiserige stem.

Haar blik rus vlugtig op hom. Hy is skielik die perfekte gasheer in ’n spierwit gholfhemp wat skerp teen sy bruingebrande vel afsteek. Hy is werklik een van die min mans wat ’n Bermuda-kniebroek mag dra – daaronder steek kuite uit wat lyk of hulle gereeld ’n bergfiets se pedale trap.

“Professionele gewoonte?” vra hy toe hy langs haar inskuif.

Sy kyk onderlangs na hom. “Wat bedoel jy?”

“Om mense so ondersoekend te beskou en hulle met jou oë te meet. Dit kom seker maar saam met die ander beroepsrisiko’s van model wees. Toe, wat drink jy? ’n Glasie chardonnay?”

“Nee, dankie, fonteinwater vir my. ’n Professionele gewoonte . . . ek drink net my pa se chardonnay,” terg sy. Chardonnay is haar gunstelingwyn, maar sy voel so ietwat aspris. ’n Man soos Simon maak haar dadelik astrant en op haar perdjie. Sy is seker hy weet meer van haar as wat sy graag sal wil hê hy moet weet. Sy bemarkingspan sou wel die portefeulje artikels wat al oor haar verskyn het vir hom gegee het.

Hy is nie die soort redakteur wat nie sy huiswerk sal doen voordat hy soveel geld sal uithaal om haar vir ’n fotosessie te betaal nie. Sy reputasie is dié van ’n taamlik genadelose mediaman wat werklik meer op sport wil konsentreer, maar hy besef deeglik dat sy tydskrif een keer ’n jaar die inspuiting van die swemdraguitgawe nodig het, ter wille van die sirkulasie en advertensie-inkomste. Dis lastig, maar nodig.

Hy kyk sydelings na haar, maar Donna is onversteurbaar. Sy het lankal geleer dat die Simon Conradies van die wêreld mans is wat vroue met ’n afstandkontrole wil beheer. Jy moet elke stukkie vroulike lis in jou gebruik om hulle uit hul gemaksone te kry. En vreemd genoeg, dis presies wat sy wil doen, vir welke rede ook al.

Sy neem ’n lang teug water en kyk hom vas in die oë. “Dans met my, asseblief. Ek is in ’n dansbui,” nooi sy met ’n sjarmante glimlag.

Kom ons kyk hoe hanteer jy dié uitdaging, meneer Komkommerkoel, dink sy met ’n bietjie leedvermaak.

Sy skuif die spaghettibandjies van haar geblomde rok oor haar skouers op en trek haar hare vir ’n oomblik op haar kop saam sodat haar lang oorbelle haar hals ten beste laat vertoon. ’n Romantiese Franse ballade word sielvol deur ’n eksotiese donker sangeres gesing en sy neurie saggies saam.

Hy hou sy hand uit na haar. “Net ’n waarskuwing: ek doen nie die losdansding nie, Donna van New York,” sê hy koel en lei haar na die dansvloer. En toe hy haar teen hom aantrek, merk hy op: “En los maar die modelfoefies soos om jou hare heen en weer te gooi. Dit werk nie op my nie.”

Donna is dadelik siedend kwaad en wil van hom wegbeur. Maar hy verstewig sy greep toe die tempo versnel. Sy lig haar kop op en kyk hom uitdagend in die oë. “Moenie jouself vlei nie.”

“So, dan is verleiding tweede natuur vir jou,” spot hy.

“Wie sal weet?” antwoord sy koel. Sy sal hom nie laat agterkom sy is ontsteld nie.

Hy beweeg so ligvoets soos ’n professionele danser op die meesleurende musiek, en teen haar sin voel sy hoe sy tog begin ontspan.

“Lyk my jy is nogal ’n raaisel,” merk hy op.

“Wat bedoel jy?”

“Jy weet ek laat nie sommer enige swemdragmodel in Sport SA toe nie. Toe ek my huiswerk oor jou gedoen het, het ek uitgevind jou naam is bekend en gewild, maar daar is nie veel mense wat jou werklik ken nie. Klaarblyklik is jou reputasie ook reiner as leliewit.”

Die musiek se tempo versnel nog en sy arm vou stywer om haar middel. Dis nogal ’n vreemde sensasie om in soveel harmonie te beweeg met iemand vir wie jy vies is, dink Donna. Hy is ’n meesterlike danser, maar heeltemal te selfvoldaan vir haar.

“Wie gee jou die reg om my te oordeel op sterkte van hoorsê? Jy ken my van geen kant af nie.”

“Maar ek ken meisies soos jy. Beeldskoon, bederf en eie­sinnig. En dan kom jy nog boonop van ’n voorste Bolandse familie – ’n wynsnob daarby.”

“O ja, en alle vroue is eners. Dis duidelik waar jý vandaan kom!”

“Ek het darem ook vleiende dinge oor jou gehoor. Jy is toegewyd, jy weet waarheen jy op pad is en jy is ongelooflik gefokus.”

Sy is skielik nie lus om verder met hom te stry nie. Dis ’n vreemde troos om in sy arms te wees en so stewig vasgehou te word, en dis heerlik om sy liggaamshitte teen haar klam vel te voel. Vir ’n vlietende oomblik dink sy dat sy iets in sy arms voel wat sy nog nie in iemand anders s’n gevoel het nie, maar sy verwerp die gedagte dadelik.

As hy maar die soort man was wat ’n vars tuinroos vir jou sou pluk. Maar nou is hy Simon Conradie, siniese tydskrif­redakteur en adrenalienslaaf. Die kans dat daar ’n romantiese snaar in sy hart skuil, is sekerlik nul.

Miskien tog nie, dink sy verbaas toe hy haar skielik nader trek en sy wang teen hare hou, asof hy presies bewus is van haar brose gevoelens.

“Wat niemand vir my gesê het nie, is dat jy volmaakte voete het, en daardie enkelbandjie aksentueer dit pragtig,” fluister hy by haar oor.

Simon Conradie: hartebreker van formaat, is beslis deel van sy lewensbeskrywing, dink Donna. Maar is sy kompliment opreg? Hoe sal sy in elk geval weet?

Die musiek word stil en sy wikkel haar uit sy omhelsing. Sy stap alleen weg van die dansbaan, verby die palms tot op die beskutte halfmaanstrand.

Hul stryery op die dansvloer het haar ontstel, maar nie soveel soos sy aanraking nie. En dan nog die kompliment daarby . . . . Sy is so verward dat sy nie eens ’n naam aan haar gevoelens kan gee nie.

Hoe is dit moontlik dat Simon haar so kan ontstel? Sy wil eintlik hê alle emosie wat met hom te doen het, moet oor haar waai soos die warm aandwind. Sy wil nie so omgekrap oor niks wees nie. Miskien sal dit help om ’n ver ent met haar voete in die vlak water te gaan stap.

’n Delikate geur dryf haar tegemoet vanaf die vanillaboorde. Sy draai een of twee keer om om te kyk of hy haar nie dalk volg nie . . . om te wat? Verskoning te vra? Nog ’n kompliment aan te dra? Daarvoor is Simon Conradie te arrogant.

Toe sy veel later na haar kamer stap, sien sy hoe die Sport SA-span lekker op die dansvloer jol. Chloe en Michelle is die voordansers met die moutia-danse op die kamtolet-musiek van sang, tromme en vreemde snaarinstrumente soos die zez. Hulle wikkel tot hul lang lywe onderdeur ’n lae dwarslat, tot almal se vermaak.

En toe is dit tyd vir die stadige en sensuele Mauritiaanse sega-danse. Die swaaiende rompe van die tradisionele dansers word ’n reënboog-kleurespel in die lig van die vuur soos hulle om en om dans. Van waar sy op haar kamer se balkon staan en kyk, dink Donna dat haar kanse om die voorbladmeisie te wees met elke passie verskraal as sy sien hoe Chloe en Michelle toenadering by Simon soek. Selfs hy waag ’n dans of twee wat hy nie vroeër die aand sou waag nie, en sy dog hy dans net vas!

Haar kans vir die voorblad is eintlik ook nul omdat sy nogal lanklaas voor die kamera was. Sy geniet loopplankwerk veel meer, hoewel sy weet dat jy ’n langer professionele lewe as model het indien jy die twee kombineer. Hier skuins ná vyf en twintig het sy al begin met haar opleiding as mode-ontwerper, en daar het al ’n paar van haar swemdragontwerpe die paal gehaal. Sy weet sy sal nie meer baie lank voor die kameras of op die loopplanke in aanvraag wees nie. Dis maar die vereiste van haar beroep: hoe jonger, hoe beter. Maar haar loopbaan het al op sestien begin, en sy sal eerder vroeër as later ’n nuwe rigting in die modebedryf wil inslaan.

Tot dan is daar nog ’n paar uitdagings, sowel as haar Armani-rok-weddenskap met Benita en Christina. Sy dink aan die bemoedigende SMS wat sy vanoggend van hulle ontvang het: Jy het rede om wintie te wees jy is beste ding wat nog met Sport SA gebeur het you go girl!

Donna trek haar skouers beslis agteroor. Sy sien heeltemal kans vir Simon en kie, dankie. Sy is stylvol, byderwets en veelsydig – beslis meer as wat daardie twee oorgegrimeerde poppies van hulleself kan sê.

Of is dit dalk nou net suur druiwe omdat sy sien hoe lekker hulle met Simon en Chris flankeer? Ag, sy weet nie en sy gee ook nie om nie, dink sy moeg. Sy draai om, grendel die balkondeur en gaan kruip tussen die koel lakens in.

Soos haar pa en Scarlett O’Hara in Gone with the Wind sou sê: Môre is nog ’n dag.

Winterman, somerhart

Подняться наверх