Читать книгу 'n Wêreld sonder grense - Alexander Strachan - Страница 3

Herinnering

Оглавление

Ma was jonk en mooi. Ek onthou ook die wind. Dit het dae lank om die hoeke van die huis gehuil, maar ek sou nie buitetoe gaan om dit teen my vel te voel nie. Ek het in my kamer op die bed gelê. Dit was skemer in die vertrek, want die gordyne was dig toegetrek. In die gang kon ek Ma se sagte voetstappe op die plankvloer hoor.

Ons bly ná aandete aan tafel sit. Ma se oë is groot en ek weet haar vingers slaan wit deur soos sy hulle onder die tafelblad vasklem. Pa sit aan die kop van die tafel en lees koerant. Soms voel ek jammer vir hom.

“Julle moet die sinkplaat môre laat vassit,” sê Ma. “Dit gaan vannag heelnag raas.”

Dit lyk of sy haar inmekaartrek op die stoel toe die teef begin tjank. Ek verbeel my hoe sy met haar naels in die toe deur van die buitekamer grawe, die reuns snuiwend en bakleierig aan die ander kant.

“Nog net ’n paar dae,” sê Pa. “Ons kan nie kanse vat nie. Hier’s genoeg honde op die werf.”

“Julle moet die takke ook afsaag,” sê Ma. “Hulle skuur teen die dak.”

Ons sit aan tafel en niemand sê iets nie. Ma vra my met haar oë om nie oor my wegganery te praat nie. Ek kyk spottend na haar, want dis of ek die sê het – net wanneer ek wil, kan ek daaroor begin praat. Aan die beweging van haar neusvleuels sien ek sy wil eerder opstaan om iets anders te gaan doen.

Die volgende dag pak die stof al hoe dikker op die meubels. In my kamer hoor ek hoe Ma van vertrek tot vertrek loop. Sy kan nie stilsit nie, want sy verwag hom. Selfs Pa moet dit agterkom.

Laat die middag staan sy voor die venster en kyk na waar die weerlig al hoe dringender uitslaan. Sy kyk altyd noord.

“Dit gaan reën,” sê sy. “Dit sal nat en koud wees, buite.”

Ná ’n rukkie draai sy om en gaan sit weer op haar stoel. “Ek hoor nog altyd die sinkplaat.”

“Onmoontlik,” en Pa laat sy koerant sak. Hy gaan staan agter haar stoelleuning, sit sy hand op haar skouer en speel met haar hare. Selfs van hier af sien ek hoe styf sy haar rug hou. Pa sug sonder dat iemand hoor. “Toe maar, ek sal môre weer ’n swarte op die dak laat klim.”

Ons bly die aand tot laat wakker en ek luister na die wind, en die teef wat nou sonder ophou tjank. Die bekommerde kyk in Ma se oë pla my. Ek wil nie vir haar kyk nie, maar dis of sy my oë aantrek. Dan word ek moedswillig en begin op my stoel rondskuif om haar nog meer onrustig te maak. Ons is al twee bly toe Pa sy stoel agteruit stoot.

Toe ek die Maandagoggend wakker skrik, is dit stil, afgesien van die geraas van die trekkers en die werksmense.

Ek trek die oorfone oor my kop en laat die tromslae my oprui en wegvoer, tot ek dit nie langer kan uithou nie en die musiek van my ore pluk. Buite fluit ek lank en skril vir die honde. Die teef raak gek toe sy hoor hoe hulle met skerp blafgeluide teen my opspring. Ek stamp die buitekamerdeur oop en ons klouter teen die steil kop agter die huis uit waar ek op die swart klippe rondstaan en oor die hardheid van my maag en bors vryf. ’n Duisend jaar gelede het mense in die son gesit en beelde op die klippe uitgekrap. Agter my hoor ek die honde. Die reuns het eers baklei en nou bespring hulle die teef al om die beurt. Ek kan hulle hoor tjank as sy omdraai en hulle deur die klippe sleep. Die son is warm en my stem dra ver oor die vlaktes terwyl ek die steilte in volle vaart afhardloop tot by die huis, waar ek moeg in die koelte op die sement gaan lê en rus.

Ma kom om die hoek van die huis. “Hier’s drinkwater,” en sy gee vir my die bottel aan. Sy het nie ’n glas saamgebring nie. Ek steek my tong in die nou opening in totdat dit aan die koelheid raak. Dan keer ek die bottel om en drink dat die water teen my nek afmors. Ma staan en kyk. Sy hou daarvan as ek honger of dors is.

“Dis snaaks,” sê Pa die aand, “die teef is vanaand stil. Ek dink ons kan haar maar van môre af oopmaak.”

Ma is in die kombuis doenig. Ek sal haar vanaand uitlos . . . sy het vir my water gebring. Maar dan hoor ek haar saggies sing, en meteens weet ek: sy is gelukkig – dit moet hy wees.

Ek staan by die slagplek toe die stofwolkie op die plaaspad uitslaan. My hande trek die steenbok se vel af terwyl ek die motor dophou. ’n Ent weg hou dit onder die jakaranda stil. Die vleis is warm en bewerig onder my hande. Pa gesels eers ’n rukkie met hom en maak dan verskoning om na iets te gaan omsien, sodat hy alleen oor die skoongeveegde werf voordeur toe moet stap.

Die grou reun het eerste weggebreek, maar die steenbok het geswenk en ’n ent onder die honde uitgehardloop. Hulle het hom gou weer ingehaal en die ander reun het probeer. Weer het die steenbok geswenk. Die teef was half eenkant in die lang gras. Sy het soos ’n skaduwee ingegly en toe hulle klaar in die stof gerol het, was haar tande nog steeds om die keel.

Hy is by die voordeur en dit lyk of hy huiwer. Die windhonde draai al om my, steeds onrustig ná die jag. Hulle maak fyn tjankgeluidjies en hap in die warm lug. By die slagplek sien ek hoe die skrik in Ma se mooi gesig spring.

Sy soen hom vinnig. “Jy was lank weg! Jy’s maer!” Sy vat aan sy arm en hulle loop die tuin in en gaan sit op die draadstoele. Daar is ’n gloed op Ma se gesig.

Ek onthou toe hy laas jaar hier was. Dit was reeds donker en ons het in die voorkamer gesit. Skielik was die vlermuis daar. Dit het heen en weer geswiep en elke keer het Ma gegil. Pa was min gepla. Maar hý het opgestaan en Pa se sambok van die muur afgehaal. Hy het vir hom gewag . . . en toe het hy geslaan: hard, vinnig en raak. Net een hou was genoeg, want die vlermuis se vlerk was van sy lyf afgeskeur. Hy het die swart bondeltjie aan die punt van die ander vlerk opgetel en by die deur uitgegooi. Dit was die eerste keer dat ek gesien het hoe Ma se gesig gloei.

Ek kan Pa tussen die struike by die sementdam sien. Hy is net te ver om te hoor wat hulle praat. Hy staan ’n rukkie rond en loop dan met lang, vinnige treë in die rigting van hul stemme.

“Nog nie trouplanne nie?” vra Pa toe hy sit. “Jy weet die tyd stap aan en ons word nie jonger nie.” Pa lag.

Hy staan op en kyk oor die vallei. Sy hare is verbleik van te veel son. Half weggesteek onder sy hemp se kraag sien ek ’n litteken. Hy lag en sy tande is wit in die son.

Ma en Pa staan ook op. Dit lyk of hulle nie weet wat om te doen nie. Hy groet hulle vinnig en stap na sy motor toe.

Ek vat kortpad en staan hom voor agter die rantjie, wydsbeen in die pad, hande op die heupe. Hy hou stil en ons kyk mekaar vas in die oë. Dan laat ek hom verbykom en hardloop die hele ent huis toe sonder om een keer te rus.

Toe die kuiermense opdaag, lyk Ma mooier as ooit. Sy stap met lang bene rond en drink ’n helderkleurige drankie deur ’n strooitjie. Sy staan op die punte van haar tone om ’n bal te vang en ’n spier beweeg in haar bobeen. Iemand hoes saggies. Sy druk haar teen Pa aan en steur haar nie aan die mans se kyke nie. Tog kan ek sien hoe sy daarvan hou toe hulle haar in die swembad gooi.

Teen die middag begin die tenniswedstryde. Ma is bekommerd. ’n Glasskerf het in my vinger ingesteek dat die vet weerskante uitpeul toe ek laas jaar as wenner ’n glas in my hand stukkend gedruk het. Sy het lank gesukkel om die bloed te stop. Die snaakse, kielierige gevoel laat my af en toe oor die dik rif aan my vinger vryf.

Vanjaar is daar ’n meisie tussen die gaste. Sy is skraal en tingerig en bly die meeste van die tyd eenkant. Ek hou haar dop en toe hulle die vure aansteek, staan ons agter die rondawel, met my hand wat al oor haar wang vryf. Sy is bewerig soos die windhondteef. Maar dan is daar ’n geritsel van blare en ek herken die vorm van Ma se liggaam. “Ek haat jou,” sis ek deur my tande.

’n Week later is die mense weg en het die wind begin waai. Laat Augustusmaandwinde. Dag en nag. Ek dwaal op die werf rond en kom op die leë bierbottels af – al wat oor is van die stemme, die lag en plesier wat ’n week gelede oor die werf geklink het. Ek lê in my kamer op die bed. Ek weet ek moet opstaan om ander mense te soek. Maar ek kon my nog nooit sover kry nie, hoekom sal ek dit nou doen?

Ek moet wegkom van hierdie plek met sy hoë bome en stiltes; maar Ma het ’n houvas op my waarvoor ek haar saans straf. Ek ken haar so goed dat ek weet waaraan sy op hierdie oomblik dink . . .

Ons is eenkeer Durban toe. Ek en Ma het op die strand gaan stap en asof afgespreek was hy daar. Die drie van ons het al teen die hoogwatermerk geloop tot by die breekwater waar Ma gaan staan het.

“Vertel my van die luislang,” het Ma beveel.

“Maar jy weet tog,” het hy gesê.

“Vertel weer.” Ma se oë het geblink.

Hy het vertel van die luislang; die grootste wat hy ooit teëgekom het. Hulle het hom onmiddellik gepak, maar die slang het hulle uitoorlê met sy spoed en ratsheid – hy’t sy voorlyf hoog bokant die gras uitgelig en na hulle gepik, terwyl hy aanhoudend vorentoe kom. Een na die ander het hulle hom aan die stert gegryp en deur die veld met hom genael om hom só moeg te spook. Maar elke keer het die slang sy ewewig herwin en die een aan sy stertkant rakelings misgebyt. Hulle was natgesweet voordat iemand hom agter die kop kon gryp. Maar selfs tóé het dit ’n hele ruk geduur voordat hulle hom behoorlik kon vaspen. In die gespook het die slang homself bemis. Hulle het na die wriemelende lyf onder hul hande gekyk en plek-plek aan die ribbes gevat. Hy het oor die slang se lyf gestreel: dit was sterk en het onder sy hande gebult . . .

“Dis mooi,” het Ma gesê en ver oor die see gekyk.

Hy het Ma se wit hand sag in syne gevat en hulle het op die breekwater uitgestap tot waar die branders diep en skuimend onder hulle geslaan het. Dit was nag en daar was niemand op die strand nie. Ek het na hul silhoeëtte gekyk en gedink hoe die sproei aan sy armhare kleef. Hy het sy hande op haar skouers gesit en ek het geweet haar liggaam gloei terwyl hy haar vertel van sy liefde vir haar.

Ek was kwaad oor die houvas wat Ma op my het. Sy het geweet ek sal nie oorvertel nie.

Ek lê in my kamer en luister na die wind. So gaan die tyd verby.

En toe, skielik, raak Ma huilerig . . . iets wat nog nooit gebeur het nie. Miskien het ons kykery saans aan tafel vir haar te veel geword. Sy dwaal in die huis rond en dra die vryvalhangertjie as Pa weg is.

Tog moes sy hierdie keer lank wag. Een nag het ek gesien hoe Pa haar buite gaan haal. Die wind was in haar hare en haar wildheid het my bang gemaak. Toe het ek geweet hy sal gou hier wees. Ek het vir hom gewag. Hierdie keer was ek reg vir hom.

Teen die aand is Ma nog buite op die stoep.

“Kom nou maar in, skat,” sê Pa.

“Kom in, jou teef,” sê ek deur my tande.

“Ek’s bang,” hoor ek haar stem uit die donker. “Moet ons nou al ingaan?”

“Dit gaan reën,” sê Pa. “Dis onplesierig buite.”

Ma kom staan in die lig. Sy lyk klein en koud en ek kan nie help om vir haar jammer te voel nie. Sy begin meteens hard huil toe Pa sy arm om haar sit.

“Jy’s so goed vir my,” sê sy en klou met haar naels in Pa se boarm.

Ons sit aan tafel en niemand praat nie. Ma se bors beweeg vinnig op en af. Sy is bang, sien ek. Afgesien van die gerammel wat al hoe nader kom, is dit stil in die huis. Iets is onrustig in die vertrek. Die storm is bokant die huis, maar daar het nog nie ’n enkele druppel op die sinkdak geval nie.

Ek gaan lê op my bed en wag. Toe die telefoon lui, is ek helder wakker en hoor ek hoe die kat met ’n boog van Ma se skoot af spring en miaauend in die donker gang af hardloop. Ek weet ineens dat dit die tyding van sy dood is. Binne oomblikke sal Ma skreeuend by my kamer inhardloop en die klere in repe van haar lyf skeur. Ek voel hoe my keel toetrek. Dis warm, maar die wolke kan nie die reën laat uitsak nie. Ek druk my ore toe, maar dis nie nodig nie, want Ma kom stil voor my bed staan. “Hy’s dood,” sê sy, “hulle kon sy liggaam uitbring.” Ek kyk op in haar bleek gesig – haar oë is groot en droog.

Twee dae later pak ons die lang pad aan. Ma sit stil en regop langs my. Toe ons al die motors voor die kerk sien staan, begin haar gesig trek, maar sy ruk haar gou reg. Daar is dadelik iemand by wat blykbaar weet wie ons is. Hy is ru en bebaard in sy militêre uniform. By die graf laat hy Ma voor staan en ek staan langs haar. Daar is baie soldate, meestal jonk. Hulle oë staan elke keer stil by Ma wat so mooi in haar swart rokkie lyk. Op ’n vreemde manier voel ek trots om langs haar te staan by die graf van die man oor wie niemand ooit gepraat het nie, sodat ek eintlik niks van hom weet nie.

“Wie was die een met die baard?” vra ek op pad terug. “Hoe het hy Ma geken?”

“Dit was sy vriend,” sê Ma en praat nie verder nie.

Ek onthou sy sterk hande. Hy het my aan die skouer gevat en gedruk.

“Hulle was almal dronk,” sê Ma so plotseling dat ek skrik vir haar stem.

Ek voel jammer vir Ma. Dis stukkend in haar bors, maar sy kan nie huil om beter te voel nie.

By die huis wag die windhonde ons in, rusteloos van die wag. Ek is saam met hulle teen die kop uit om te gaan groet.

Dié nag het Ma na my kamer toe gekom. “Ek het net kom groet,” het sy gesê. “Jy sal seker vroeg môreoggend weg wees.” Ek het die gloed op haar gesig herken toe sy vir my die vryvalhangertjie omhang. “Dit behoort aan jou,” het sy gesê. Maar sy kon nie huil nie.

'n Wêreld sonder grense

Подняться наверх