Читать книгу Bella se skaduwee - Amelia Strydom - Страница 5

2

Оглавление

“Jy kan darem voorgee dat jy jou nie verlekker in my ongerief nie,” verwyt Markus toe hulle by die hospitaalperseel uitry.

Sy stem is so gedemp dat Bella na sy kant toe loer. Onwillekeurig giggel sy. Hy’t die bruinpapiersak, wat sy saamry ingeval ’n pasiënt naar word of hiperventileer, oor sy kop getrek. Sy oë loer deur twee skeel gate wat hy in die sak geskeur het. En ja, sy knieë sit omtrent by sy ore.

“Ek neem aan die vermomming beteken jy wil nie dood gesien word in my karretjie nie?”

Hy brom instemmend uit die sak.

“Jy, dokter, is ondankbaar.” Bella stamp die rathefboom ekstra hard teen sy knie vas. “My Smart is dalk klein en groen, maar hy kry my waar ek moet wees. Wees bly ek ry nie ’n scooter nie!”

“Oukei, fine.” Hy pluk die lawwe papiersak van sy kop af. Elke blonde haar lê nog netjies op sy plek, asof dit pas gestileer is. “Ek sal my seëninge tel. Ek kon nou agterop jou Vespa gesit het.”

Haar vrugbare verbeelding tower dadelik die prentjie op. Markus se lyf ’n skans agter hare, sy beeldhouwerk van ’n borskas teen haar rug. Hy sal sy arms heeltemal om haar bolyf slaan, weet sy sommer. Hy’s nie ’n beweblommetjie wat hoflikheidshalwe net liggies sal vashou nie.

“Volgende keer kan ons met jou petrolvraat van ’n sportmotor ry,” belowe sy, voor hy kan raai waar haar gedagtes rondgerits het.

“Ek, um, het nie ’n sportmotor nie.”

“Wát?” Sy skud haar kop. “I must be slipping.”

Hy trek sy gesig op ’n gepynigde plooi. “Oukei, fine, ek het een. By die huis.”

“Liewers die langpad met jou petrolvraat van ’n viertrek aangepak?” Sy proes toe hy haar ’n antwoord skuldig bly. “Hm, laat ek sien … Dis ’n rooie, nè? Jou sportmotor?” Hy skuif ongemaklik rond. “Porsche? Ferrari? Of nee, wag, dis bietjie flashy vir jou. Bietjie jonk.”

“Gmf.”

Sy verkneukel haar in sy verontwaardigde blik. “Ag, kom nou, dokter, ek sê nie jy’s oud nie, man. Net, um, volwasse.” Sy klop hom op die skouer. “Gesofistikeerd. Jy lyk na ’n man wat ’n Duitse sportmotor sal bestuur. Watter een van die twee ou staatmakers? BMW of Mercedes?”

“Vertel my liewer van jou pasiënt.”

“Wil jy wraggies eerder shop praat as om oor jou wiele te spog?”

Hy draai skuins in sy sitplek. Om jou beter te begluur, my kind, dink Bella toe sy die frons tussen sy wenkbroue sien.

“Kom ek vra jou weer: Het ek iets gedoen om jou om te krap? Buiten nou die feit dat jy met my opgeskeep sit?”

“Dink jy nie dis rede genoeg nie?”

“Ek kan kwalik glo dis ál wat jou pla.”

Wel, daar ís natuurlik die kwessie van jou bestaan, dink Bella. Joune en die res van jou soort s’n. Über-aantreklike blikskottels wat geen snars vir ander omgee nie. Wat ’n spoor stukkende vroue agterlaat oral waar julle gaan.

“Toe,” por hy, “my ore is gespits.”

Bella loer na hom. Nee wat, nes sy gedink het. Sy ore is perfek. As hy letterlik kabouter-ore gehad het, soos die paar waarmee sý gebore is, het sy dalk meer van hom gehou. Ingedagte speel haar vingers oor haar eie oorskulp, wat deesdae netjies plat lê. Haar pa die plastiese chirurg het haar bakore laat regdokter toe haar mangels uitgehaal is. Laat “fieks”, soos hy dit gestel het.

“Sy móét tog nou narkose kry,” het hy gesê. “Ons kan netsowel haar ore laat fieks. Hermanus du Toit se dogter hoef g’n soos ’n elf deur die lewe te gaan nie. Dis ’n ou klein operasietjie, niks pynlik nie. Bella sal nog eendag vir ons dankie sê.”

Oor een ding was Pa reg: Die snytjies agter haar ore was nie danig seer nie. In vergelyking met haar keel, het sy hulle skaars gevoel. Maar die verband om haar kop was só styf dat dit haar duiselig gemaak het. Die aand ná die operasie het sy in die badkamer omgekap. Die saalsusters was hoogs ontstoke.

“Jy moet jou klokkie lui!” het een geraas. “Jou pa slag ons lewendig af as jy iets oorkom.”

Terug onder die stywe wit lakens kon Bella die trane nie keer nie. Verlange na Mamma het haar rou keel nog dikker laat voel. Die kleintjie langsaan het net grommets gekry, maar sy ma het heelnag by hom gebly. Natuurlik was hy drie, en sy darem al tien. Lankal te groot om oor haar ma te tjank …

’n Fietsryer ruk Bella uit haar mymering. Hy swaai so skerp voor hulle in dat hy byna op die enjinkap beland. Sy hamer op die skril toetertjie en laat die enjin teen Meintjieskop uitbrul.

“Bleddie onverskillige fietsryers!” raas sy. “En dan spog elke tweede kar in Pretoria met ’n ‘Think bike’ bumper stick-

er. Dis hulle wat ‘kar’ moet dink, man. Geen wonder hulle word raakgery nie!”

Markus antwoord nie en Bella loer in sy rigting. Hy sit toe-oë, sy kneukels spierwit op die paneelbord.

Sy moet kastig in haar blindekol kyk om haar grinnik te verbloem. Hierdie mentorskap moet ’n control freak soos Cameron se ergste nagmerrie wees.

“Hei,” stel sy hom gerus. “Dis oukei. Ek sal jou in een stuk daar kry. Ek’s ’n uitstekende bestuurder.”

“Ek’s seker jy is,” mompel hy met sy hand voor sy oë. “Jy én Rain Man.”

“Wie?”

“Toemaar, dit was voor jou tyd.”

Voor die Uniegebou rem Bella net betyds om nie dwarsdeur ’n groep staatsamptenare te ploeg nie. Die Smart se skreeuende remme dwing die groep tot stilstand. Hulle gaap Bella oopmond aan, drentel dan omkyk-omkyk verder.

“Flippen spul suits! Nie ’n haastige been in hul lywe nie. Die soustrein ry mos stadig.”

“Jy het professionele hulp nodig,” sê Markus. “Mense soos jy is ’n hartaanval wat wag om te gebeur.”

“Wat bedoel jy, mense soos ek? Ek’s fiks en gesond, thank you very much!”

“Fiks en gesond met ’n trippel-A-persoonlikheid, ja.”

“Nonsens! Daar’s niks fout met my gesondheid óf my persoonlikheid nie. As jy te chicken is om saam met my te ry, weet ek nie hoe ons gaan saamwerk nie.”

Hy mompel iets van “volgende keer” en Bella loer gou of hy nie weer die sak oor sy kop het nie. Maar dié is in sy vuis vasgeklem asof hy vrees dat hy dit binnekort gaan nodig kry. Sy hoop hy onthou van die gate wat hy daarin geskeur het. Laat sy liewers sy aandag aflei.

“Oukei, my pasiënt: Jacomien Grobler, ses-en-dertig jaar oud. Nege-en-dertig weke swanger, derde baba. Sy’t twee dogtertjies van drie en ses. Vorige bevallings was normaal, ook tuis, en hierdie swangerskap was ongekompliseerd.”

“Wanneer het die kontraksies begin?” Hy loer skrams op, versigtig om nie na die pad te kyk nie. Verbeel sy haar of lyk hy groenerig om die kiewe?

“Man, ek’s nie doodseker dat sy wel in kraam is nie. Sy’t ’n prikkelbare uterus. Drie vals alarms gehad oor die naweek. Vanoggend sê sy dit voel of dinge eindelik gebeur.”

“Tipiese derde kraam, nè?”

“Tipies. Natuurlik is sy teen hierdie tyd behoorlik moedeloos. Sy’t my gisteraand omtrent gesmeek vir ’n induksie.”

“En?”

“En sy kan dit op haar boepie skryf en met haar maternity top afvee! Ek gaan haar g’n induseer net omdat sy gatvol is om swanger te wees nie.”

“Watter kwaad kan dit doen om op nege-en-dertig weke met gel te induseer? Sekerlik moet ’n mens die pasiënt se gemoedstoestand ook in ag neem? As sy werklik nie meer kans sien om te wag nie –”

“Moes sy in die eerste plek nie ’n vroedvrou gekies het nie. Buitendien, induksie is vrek seer.”

Sy gee vet oor die oranje verkeerslig. Markus se regterknie pomp op en af soos hy ’n denkbeeldige rem trap.

“So jy’s gekant teen pynmedikasie? ’n Vooruitbetaalde lid van die natuurlikegeboorte-Nazi’s?”

Ag hemel tog, dink Bella terwyl sy by die oprit voor Jacomien se dubbelverdiepinghuis intrek. Hierdie maand gaan soos ’n jaar voel! Wat het sy gesondig om so iets te verdien?

“Daar’s ’n plek vir pynmedikasie,” sê sy so kalm moontlik. “Ek glo net daarin om natuurlike geboorte moontlik te maak vir dié vrouens wat dit graag wil hê.” Wow, Bella, goue sterretjie vir takt.

Maar Markus lyk allesbehalwe beïndruk. “Ek kon nog nooit vroue se obsessie met natuurlike geboorte verstaan nie. Die epiduraal is ’n obstetriese wonderwerk. Natuurlike geboorte kan ’n verskriklike ervaring wees.”

“Dit kan ’n onvergeetlike ervaring ook wees. ’n Vrou se kop moet net reg wees.”

“Is jou logika nie agterstevoor nie, suster? Hoekom sou enige regkoppige vrou natuurlike geboorte kies? Niemand laat hul blindederm sonder narkose verwyder nie.”

“Aag, man!” Sy slaan met die plathand teen die stuurwiel. “Dis mos nou heeltemal anders.”

“Hoekom?”

“Omdat ons nie oor vrot blindederms se welstand begaan is nie. As jy nie weet dat natuurlike geboorte beter is vir babas nie, is dit hoog tyd dat jy inteken op ’n paar vakkundige joernale. Voorgeskrewe leeswerk, deel van die mentorskap.”

“Gaan daar ’n toets wees, juffrou?” Hy kyk skewekop na haar, ’n halwe glimlag om sy lippe. “Sal jy vir my ekstra klasse gee?” Bella voel of haar hart vryval, maar sy hou haar pose.

“Spaar jou asem, dokter, jou sjarme is totaal vermors op my.” Sy kyk nie na hom nie, haar volle aandag kastig by die sleutel waarmee sy die kar afskakel. Sy betrap sy blik op haar. “Toe, toe, toe!” raas sy. “Uit is jy. Jy kan help om my pakkaas te dra. Dan kry ek darem ook iets hieruit.”

Tot Bella se heimlike teleurstelling het Jacomien geen beswaar teen Boland se teenwoordigheid nie.

“Dit voel vir my soos ’n goeie cause. As dit ander vroue kan help om beter geboorte-ervarings te hê, kan jou gynie gerus waarneem. Ná twee kinders het ek nie juis inhibisies oor nie.” Jacomien draai ’n swart kurktrekkerkrul om haar wysvinger. “Maar dan kom Sophia seker nie?”

Bella frons. “Wel … Ek en Sophia is ’n span. Dokter Cameron het vandag eers gekom en ek’s nie seker hoe, um, vertroud hy is met natuurlike geboorte nie.”

Nóg ’n goue sterretjie vir my, dink sy ingenome. Ek kón gesê het die man is ’n arrogante mamparra wat meen jy en die res van my pasiënte het hul varkies verloor.

Jacomien loer na Albert, haar rooikopman. “Ek verstaan, maar dit sal gaaf wees as dit net julle twee is. Die slaapkamer is so beknop met die geboortebad. Buitendien …” Jacomien skuif ongemaklik rond.

“Sophia is so ’n koue vis.” Albert draai nooit doekies om nie. Hy’s een van daai mense wat hulself op eerlikheid beroem, maar dit eintlik as verskoning gebruik om plein ongeskik te wees. “Regtigwaar, Bella, hoekom met so ’n ysprinses werk in ’n touchy-feely beroep soos julle s’n?”

Bella se nekhare rys. “Sophia is die beste vroedvrou wat ek ken. Sy’s dalk effens … sosiaal wanaangepas, maar haar toewyding en vaardigheid maak dubbel en dwars op daarvoor. En ek wil nie graag ’n bevalling sonder haar doen nie.”

Albert se groen oë boor in hare. “Dink jy nie ek en

Jacomien behoort die finale sê te hê nie? Aangesien ons jou immers betaal?”

Bella druk haar palm teen haar voorkop, waar ’n hoofpyn reeds klop. “Jy betaal my om te doen wat ek dink die beste vir jou vrou en baba is. Ek ken vir Sophia, terwyl ek dokter Cameron pas ontmoet het.”

“Hy ís ’n spesialis. En hy hoef jou mos net te assisteer?”

“Oukei, fine.” Sy’t nie krag om verder te stry nie. “Ek laat weet vir Sophia.”

Tot Bella se verligting klink Sophia allesbehalwe afgehaal toe sy bel. “Hierdie ginekoloog kom asof hy gestuur is, Bella. Ek het dringend verlof nodig, ’n week of twee, maar ek weet dis ’n uiters ongeleë tyd.”

“Verlof? ’n Week of twéé?” Bella kan nie glo wat sy hoor nie. Dit is ’n onmoontlike tyd!

“Asseblief, ja. Mimi het gisteraand ’n femurfraktuur opgedoen.”

“Wat? Haar heup? Agge nee tog!” ’n Vaal kol kom lê op Bella se maag. Sy’s versot op Mimi, Sophia se eksentrieke, wyse, warm ouma. Bella is nader aan haar as wat sy ooit aan haar bloedoumas was. “Hoe’t dit gebeur?”

“Sy’t die femur glo eers hóór breek, toe val sy. Sy’s op die teaterlys vir elfuur.”

Bella sak op haar hurke, haar rug teen die koelte van die gangmuur. Mimi is vier-en-tagtig. Fiks en gesond vir haar ouderdom, maar ’n heupvervanging is ’n hengse terugslag.

O hel, en die praktyk! Dis Oktober, hul dolste, dolste maand. Wat gaan sy sonder Sophia maak? Mens skop nie opgeleide vroedvroue agter elke bos uit nie. Haar “skaduwee” is wel hier, maar hy gaan haar werklas swaarder maak eerder as verlig. Hóm sal sy soos ’n babatjie moet oppas.

“Moet jou oor niks bekommer nie,” sê sy egter. “Neem soveel verlof as wat jy nodig het. Ek sal regkom met dokter Cameron van die Kaap. Al moet ek hom bietjie panelbeat.”

Bella strompel sleepvoet terug woonkamer toe. In die deurkosyn steek sy vas. Markus sit op die rusbank, sy gespierde arms gedrapeer om twee miniatuurweergawes van Jacomien. Iets omtrent die prentjie gee Bella ’n knop in die keel. Dit herinner haar aan die outydse koekblik vol jêmtertjies op Mimi se yskas. Op die deksel is ’n ou foto van ’n krulkopdogtertjie omring deur donsige geel kuikens. Bella se hart kramp pynlik. Ai, Mimi …

Gelukkig sien die drie nie hoe sy teen haar emosies baklei nie. Hul oë bly vasgenael op die platskermtelevisie waar Meryl Streep sing oor hoe sy haar dag en nag moet afsloof. Klink bekend, dink Bella. Gelukkig is sý nie desperaat genoeg om te dink ’n man gaan haar probleme oplos nie, maak nie saak hóé welaf hy is nie. Haar ma het met ’n stinkryk plastiese chirurg getrou, en toe? Ingeruil vir ’n jonger model toe sy nie ’n manlike erfgenaam kon voortbring nie. Nee dankie, sy wat Bella is, hou van haar hart soos hy is. Heel en veilig in haar eie borskas. Beslis nie in die hande van die een of ander reeksrokjagter nie …

“En toe?” vra sy, skerper as wat sy bedoel het. Een blonde kop en twee gitswartes wip van die skrik. “Carissa, Kayla, is julle nie skool toe nie?”

“Pappa’t gesê ons kan vandag by die huis bly,” verduidelik Carissa. “Want Boetie gaan kom.”

“Ek hoop julle gaan soet wees en nie vir Mamma pla nie?”

“Ons soet wees,” belowe Kayla. “Ons kyk Mamma Mia!” Sy draai haar viooltjieblou oë vol onverbloemde bewondering na Markus. “Saam oom Malkus.”

“Dis lekker. Maar die oom moet nou kom werk. Hy kan nie sit en storie kyk nie.”

Markus buk vooroor en fluister iets in Kayla se oor. Albei dogtertjies kraai van die lag. Bella voel hoe haar rug verstyf. Skaars twee bakstene en ’n tiekie hoog en die man het hulle klaar in die sak.

Hy knipoog vir die kinders en volg Bella sitkamer toe. Dis ’n weelderige vertrek, behang van skilderye, maar hy stap reguit na die groot vensters en fluit sag.

“Dis pragtig hier by julle.”

“Hoor ek reg? ’n Kapenaar wat sê Pretoria is mooi?”

“Natuurlik is dit ’n ander tipe mooi as daar by ons, maar dis steeds lieflik. Die koppies rondom die stad, die pers jakarandas. Sien jy nog elke jaar uit na Oktober?”

Die vraag is vreemd intiem. Dit roer iets binne Bella. Vir ’n oomblik kyk sy met ander oë na Markus Cameron, dieper as die modelmooi verpakking wat haar so ontstem. En sy hou heeltemal te veel van wat sy sien …

“Die stad lyk pragtig in haar pers kleed, ja. Net jammer ons kry nie veel tyd om haar te bewonder nie. Oktober vang ons bybies dat dit klap.”

“Dis my besigste maande ook. Die babas wat oor die fees­tyd gemaak is.”

“Dis ’n moeilike tyd om weg te wees van jou praktyk. Dalk moes jy liewer in die winter gekom het?”

“Ons wou die mentorskappe juis so reël. Help nie ons doen al die moeite en sien net drie of vier vroedvroubevallings nie.”

Haar hart vermurwe effens. Sy’t nooit aan sy pasiënte gedink nie. “Was jou ma’s baie ontsteld?”

Hy leun vooroor en rus sy hande op die breë vensterbank. “Party was bitter teleurgesteld, ja. Veral my infertiliteits­pasiënte. Sommige probeer al jare om swanger te raak. Dis jammer om daai bevallings nou mis te loop.”

“Dalk moet jy elke Vrydag terug vlieg,” stel sy voor. Sy sal wel oor naweke iemand kry om haar te assisteer. “Jy kan mos ’n klomp keisers só inpas?”

Hy gaan sit op die vensterbank en kruis sy arms voor sy bors. “Jy neem sommer aan dat ek dít as ’n geldige rede vir snitte sal beskou. Het jy ’n hekel in alle gynies, of net in my?”

Bella wil wegkyk, maar sy onstuimige oë hou hare gevange. Is haar vooroordeel só duidelik? Sy sal harder moet probeer om hoflik te wees. Hy kan nie help dat hy só lyk nie. Ook nie dat hy ’n swetterjoel van haar knoppies gelyk druk nie.

“Ek het maar net aangeneem, um, aangesien jy die eerste gynie is wat aan die mentorskap deelneem …”

Hy lag vreugdeloos. “Dat my keisersneesyfer veel te wense oorlaat?”

“So iets, ja.”

“Ek verseker jou dis nie die geval nie. Ek speel proefkonyn omdat ek ’n vyf-agste pos by die mediese fakulteit het. Ons beplan om binnekort al die kliniese assistente te laat mentor. As ek die eerste beurt neem, kan ek solank enige kreukels uitstryk.”

Hy’s ’n dosent? ’n Vlaag mislikheid stoot in Bella se keel op. Hoekom het Chrissie haar nie gesê nie? Skielik onthou sy die halfvergete e-pos in haar inbox. Sy’t nooit die aanhegsel oopgemaak nie. Pleks sy haar huiswerk gedoen en Markus se CV deurgekyk het. Dan het sy minstens geweet hoe lank hy al by die fakulteit is …

“Nog iets waaroor jy wonder?”

Sy vra sommer die eerste ding wat in haar kop kom, enig­iets om die gesprek van die universiteit weg te lei. “Wat ís jou keisersneesyfer?”

Hy glimlag stram, druk sy hande in sy broeksakke. “So sewentig persent.”

Sy wil wegdraai om haar triomfantelike glimlag te verberg, maar is te stadig.

“Hei, jy kan nie die syfer in ’n vakuum beoordeel nie. Ek werk met hoërisikogevalle, onthou. Ek het ’n infertiliteitskliniek, ek werk –”

“Aargh, moet net nie vir my sê jy werk met ‘kosbare’ babas nie! Alle babas is kosbaar en ek pes die implikasie dat daar graderings is op grond van hoe lank ouers probeer het om swanger te raak.”

“Sal jy seblief ophou om woorde in my mond te lê?” Hy leun terug en kruis een lang been oor die ander. “Ek wou sê dat ek met ma’s werk wat reeds gekompliseerde swangerskappe het. Hul geboortes lewer noodwendig meer probleme op.”

“Ek’s seker jy’t goeie redes.” Sy grys oë vernou, asof hy probeer besluit of sy sarkasties is. “Juis daarom kan ek nie sien hoe hierdie program enigiets vir jou, of vir enige ander gynie, kan beteken nie.”

“Ek mag dalk met jou saamstem, ek het nog nie besluit nie. Maar iewers moet ons ’n oplossing begin soek.” Hy spring rats van die vensterbank af. “Wat sê jou pasiënt, mag ek inkom?”

“Op voorwaarde dat jy net assisteer. Dan hoef ek nie my vennoot te laat kom nie.” Sy sien nie kans om hom nou al te vertel dat hierdie nie die laaste geboorte is waar hy sal moet help vang nie.

“Natuurlik. Jy moet net sê wat ek moet doen.”

“Nie veel nie. As ek die anterior skouer verlos, kan jy Synto spuit. Ek lê die kleintjie direk op haar bors neer. As als reg is, bly hy daar tot ná die eerste voeding.” Sy kyk vraend na hom, gaan hy dié praktyk bevraagteken? “Sodra die ou­tjie klaar gedrink het, kan jy hom ondersoek en aantrek.”

Hy steier ’n tree agtertoe. “Aantrek?”

“Hoekom nie? Jy’t darem een X-chromosoom, dokter, dis nie breinchirurgie nie.”

“Ek het tien duime wanneer ek sulke dun armpies deur daai klein mousgate moet kry.”

“En ek het blinde pasiënte wat hulle babas sonder hulp aantrek. Jy sal leer. Kom, ek wil Jacomien gaan ondersoek sodat ons weet waar ons staan.”

Bella hou Markus se gesig fyn dop toe hy by die slaapkamer instap. Hy glimlag vriendelik vir Jacomien, maar toe hy die blou geboortebad sien, klouter sy oë byna uit hul kasse. Vrek, hier kom moeilikheid. Chrissie het haar sowaar opgesaal met een van die fools wat glo watergeboortes is gevaarlik. Hopelik hou hy sy snater tot ná die geboorte.

Gelukkig trek Albert sy aandag af. Hy stap met ’n uitgestrekte hand nader, sy gesig blink van bewondering. “Maar my magtig, is jy nie die Markus Cameron wat vir WP gespeel het nie? Ek dag mos ek herken die naam!”

Markus trek sy skouers kamma beskeie op. “Net vir ’n paar seisoene.”

“Jy was agsteman, ek onthou! Jy’t twee drieë gedruk in daai naelbyt-Curriebeker-eindstryd.”

Markus se hele aantreklike bakkies straal. Bella het geen erg aan rugby nie, maar kan nietemin nie haar oë wegskeur nie. Onse aarde, maar hy’s gorgeous as hy glimlag … Hy vang haar oog en skyn daardie einste glimlag volsterkte op haar. Haar lyf word warm en vloeibaar soos kerswas. As sy nie versigtig is nie, gaan sy begin drup tot daar net ’n poele­tjie Bella op die blokkiesvloer oorbly. ’n Idiotiese grinnik hijack haar mondhoeke.

Fyn trap, sussie. Markus Cameron behoort al jou ingeboude panic buttons gelyk te laat skril. Is hy nie alles wat jy nie in ’n man kan verdra nie? Sjarmant. Selfversekerd. Super-sexy. Net soos … Sy ruk haar wegholgedagtes net betyds in die bek.

“Wat het van jou geword, Cameron?” vra Albert. “Die kenners was so opgewonde oor jou, toe verdwyn jy net. Is jy beseer?”

“So iets, ja.”

“Vertel, maat, vertel. Wat het gebeur?”

Markus kyk verlangend na die deur. Dan vroetel hy met die geheimsinnige rekkie om sy pols. Die atmosfeer in die kamer is dik genoeg om met ’n mes te sny.

“Ek praat nie graag daaroor nie,” sê Markus. “Dis water onder die brug.” Sy stemtoon maak geen geheim daarvan dat hy die onderwerp as afgesluit beskou nie. Meeste mense sou dit so aanvaar, maar nie Albert nie.

“Ag nee, man, jy’s tussen vriende. Vertel ons wat gebeur het.”

Markus lyk of hy nie kan besluit of hy wil weghol of eerder vir Albert ’n opstopper wil gee nie. Nee, maggies, hier moet sy ingryp. Sy wil Jacomien nie aan hierdie vibe blootstel nie.

“Oukei, manne, dis genoeg. Ek duld nie rugbypraatjies in my kraamkamer nie. Verskuif jul haneparty kombuis toe en maak vir Jacomien iets om te drink. Ek moet haar ondersoek en ek kan dit nie doen terwyl daar ’n testosteroonwolk oor die kamer hang nie.”

“Sê hulle,” lag Jacomien.

Albert se groen oë blits onder sy woeste rooi wenkbroue, maar Markus stuur hom hand-op-die-skouer by die deur uit.

“Was sy heelnag by ’n pasiënt dat sy vanmôre so beneuk is?” Bella hoor nie Markus se antwoord nie, vang net so skrams die woord “hormone”. Sy wil nog ’n snedige antwoord agterna roep toe Jacomien haar hand gryp.

“Bella, hy’s ’n dish! Hoekom het jy nie gesê dis so ’n beeld van ’n man nie?”

“Vind jy hom aantreklik?” gaap Bella, gemaak verveeld. “Kan nie sê ek het opgemerk nie. Ek was te besig om hom die leviete voor te lees oor hoe hy hom by my geboortes moet gedra.”

“Hy’s absoluut opvreetbaar!” Jacomien se stem is skril van vervoering. “En hy’t nie ’n ring aan nie! Lucky jy wat saam met hom gaan werk.”

“Ja, jippie.” Bella rol haar oë. “Die vooruitsig vul my met vreugde.”

Jacomien klap haar speels teen die arm. “Wat makeer jou?” Sy lag en beduie na haar boepie. “As my situasie anders was, het ek dalk self my kanse gewaag.”

“Jy’s stuitig! Jy kan onmoontlik nie in kraam wees as jy nog mans raaksien nie.”

“Ek’s very pregnant, nie dood nie!”

Met geoefende hande voel Bella aan Jacomien se boepie. “Aa, die stouterd het gedraai. Gister het hy nog posterior gelê, met sy rug teen joune. Nou lê hy net reg om uit te kom. Sy koppie is ook lekker laag.”

Bella voel hoe Jacomien se uterus onder haar vingers verstyf. “En hier kom sowaar ’n kontraksie. Haal lekker diep asem. In … en uit. So ja, in … en weer uit.” Sy vee Jacomien se beswete voorkop met ’n waslap af. “Pragtig. Ek sluk my woorde, hoor. Jy’s beslis in kraam.”

Toe die pyn skiet gee, doen Bella ’n inwendige ondersoek. “Ag sentimeter, Jacomien! Kan jy glo?”

“Geen wonder dis so seer nie! Kan ek in die bad klim?”

Bella onthou Markus se gesig toe hy die bad gesien het. Dan klik sy haar tong. Sy dinges! Hy’t haar kom skadu, nie kom rondorder nie. Sy sal hierdie bevalling doen asof sy Hoogheid nie teenwoordig is nie. Daar’s oorgenoeg navorsing wat getuig dat watergeboorte veilig is en effektiewe pynverligting bied.

Jacomien stroop haar klere af en sak met ’n behaaglike sug in die bad.

“Hoe voel die water? Nie te warm nie?”

“Salig.” Jacomien lê terug sodat net haar donker kop bo die blou rand uitsteek. “Dit voel stukke beter.”

Die mans kom die vertrek geselsend binne, elk met twee stomende bekers. Oombliklik is Bella ongemaklik. Sy is gewoond aan pa’s in die kraamkamer, maar dit pla haar dat Markus hier rondhang terwyl Jacomien kaalstert in die geboortepoel sit.

“Ek het vir jou tee gebring, skat,” sê Albert. Jacomien beduie dat hy die beker moet neersit.

“Jy kan nie nou drink nie! Kom vryf my rug, toe.”

Albert sit sy beker met ’n gemartelde sug neer, maar Bella spring hom voor. As haar hande besig is, trek dit dalk haar aandag van haar irritasie af. “Drink jy gerus gou, Albert, ek sal vryf. Jou seun is amper hier. Jacomien se serviks is ag sentimeter ontsluit.”

Albei mans kyk verbaas na Bella. “Het haar water al gebreek?” vra Albert.

“Nee. Maar dit gaan nou enige oomblik gebeur.” Teësinnig bring sy Markus op hoogte. “Bultende vliese, koppie lekker laag.”

Hy verstik so hittete in sy koffie. “Ek sal jou help om haar uit die bad te kry.”

“Hoekom?”

“Sy gebruik tog net die water vir pynverligting? Of gaan jy die baba in die bad verlos?”

“Ek ‘verlos’ nie babas nie, dokter. Ek vang hulle nadat hul ma’s al die harde werk gedoen het. Carissa en Kayla is albei in die bad gebore. Dit het goed gewerk vir Jacomien en sy wil dit weer so doen.”

Jacomien pluk Markus ru nader. Voor sy kan praat, breek nog ’n pynbrander oor haar. Markus moet noodgedwonge halflyf oor die bad hang vir die duur van die kontraksie. Sy gesig is byna so bleek soos die pasiënt s’n, en Bella onderdruk ’n glimlag toe sy sien hoe diep Jacomien se naels in sy voorarm sny.

Toe die ergste pyn oor is, hyg Jacomien: “Ek gaan … nottendêm uitklim nie.”

Die desperaatheid in haar stem maak Bella woedend. Dis presies wat sy nie wou gehad het nie! Presies hoekom sy nie ’n verbrande gynie wou saamsleep nie!

“Dokter Cameron? Buite, asseblief?” Sy plaas ’n gerusstellende hand op Jacomien se skouer. “Roep as jy my nodig het.”

Sy haak haar voorvinger in Markus se hempsmou en sleep hom saam. Sy druk die deur op knip en tol op haar hakke om. As sy nog kwater word, gaan die stoom by haar ore uitborrel. Die feit dat Markus bo haar uittroon, tiek haar net verder af. Wie wil nou jou nekwerwels ontwrig wanneer jy die vloer met iemand wil was?

“Watter deel van ons ooreenkoms verstaan jy nie?” Die woorde ratel soos ysblokkies op haar tong. “Jy’s ’n skaduwee, dokter Cameron. Skaduwees praat nie! Skaduwees bevraagteken nie praktyke soos watergeboorte wat lankal ou nuus is in verloskundige kringe nie. Het ek myself nie duidelik gemaak toe ek gesê het jy mag my nie second guess voor my pasiënte nie?”

Hy lig sy hand op asof hy aan haar skouer wil raak, maar Bella stamp dit weg. “Los! Ek het nou nie eens meer tyd om ’n ander vroedvrou te laat kom nie.”

“Suster Du Toit …”

“Stil! Niemand kom ontstel my pasiënte terwyl hulle kraam nie! Dis onvergeeflik, man, jy behoort van beter te weet!”

“Bellaaa!” Die rou angs in Albert se stem laat hulle albei vries. Vir ’n oomblik staar hulle met pieringoë na mekaar. Dan pluk Bella die deur oop en storm by die slaapkamer in, Markus kort op haar hakke.

Bella se skaduwee

Подняться наверх