Читать книгу Wat die hart begeer - Amelia Strydom - Страница 3
1
Оглавление“Nee! Jy kan nie met hom trou nie!”
Mienke dwing haar oë oop. Dís hoekom sy gewoonlik kamer toe vlug voor die middagsepies begin. Talitha kyk televisie soos die meeste mans rugby kyk: luidkeels en beterweterig.
“Sê nee,” kreun haar vriendin weer en klem die bak springmielies stywer teen haar bors vas.
“Jy weet sy kan jou nie hoor nie, nè?”
“Sjuut, jy! Gaan klim in die kooi as jy nie wil kyk nie.”
Uitstekende plan, dink Mienke. Sy sou dit lankal gedoen het as sy die energie kon bymekaarskraap. Vandag was nie ’n goeie dag nie. Gister ook nie … Wanneer laas het sy ’n goeie dag gehad? Nee, vrek, hierdie ontkenning moet end kry, sy word sieker. Vanmiddag kon sy nie eens albei bene in een sitting skeer nie. Ná die regterbeen was sy so lam en uitasem dat sy uit die bad moes klim, en sedertdien lê sy hier op die bank en muf.
Sy byt haar lip. Net môre bel sy Deirdre se spreekkamer, sy kan nie so aankarring nie. Ma en Tallie kry aapstuipe as hulle weet sy sit kiertsregop en slaap om asem te kry.
Deirdre gaan haar opneem, dis ’n feit. Haar met ’n klomp drade en pype aan ’n hospitaalbed vaskluister tot ’n geskikte skenkerhart opduik. Best-case scenario.
Sien sy kans om haar laaste krummels vryheid en onafhanklikheid te verloor? Dis erg genoeg dat sy by Talitha in dié se derdeverdiepingwoonstel moes intrek. Dag en nag gons die verkeer daar buite, slaap die stad dan nooit nie?
Die Jozi-toe-trekkery was Deirdre se idee. Sy wat Mienke is, sou veel eerder by haar ma-hulle in Pretoria wou gebly het.
“Ononderhandelbaar,” het die hartchirurg gesê. “CitiMed is die enigste hospitaal in Gauteng met ’n oorplantingseenheid. ’n Skenkerhart het ’n rakleeftyd van vier uur, wat beteken jy moet binne twee hier wees. Maksimum.”
“Maar Pretoria is net ’n uur weg,” het sy mooigepraat.
“Nie in spitsverkeer nie. Ons speel nie roulette met organe nie. Indien jy jou naam op die lys wil hê, kom jy Johannesburg toe, en basta.”
Dit was ses ellelange maande gelede. Sy kla nie, Talitha is goed vir haar. Meestal kom hulle uitstekend klaar; hulle is nie verniet van kleuterskool af pelle nie. Maar af en toe werk hulle op mekaar se senuwees. Soos nou.
“Aargh!” Talitha slinger ’n skoot mikrogolf-springmielies na die plasmaskerm.
“Sies, Tallie, jou ma het jou geleer om nie kos te mors nie.”
Nee, nie “Sies, Tallie” nie; sies vir háár. ’n Paar pitte gaan kwalik wêreldwye hongersnood verhoed. Sy is net jaloers: die springmielies ruik hemels en sy mag nie sout eet nie.
Gelukkig is Tallie min gepla – hoor en sien kan vergaan wanneer Stadsgeheime op die kassie is.
Wat sien sy in sulke snert? Die storielyn is ongeloofwaardig, die karakters stereotiep, en die toneelspel aangeplak. Kopskuddend kyk Mienke na die skerm, net betyds om te sien hoe ’n traan oor ’n beeldskone blondine se wang rol.
“Ja, Chloe, tjank maar solank.” Talitha plak die bak op die koffietafel neer. “Jy gaan nog ’n rivier oor hom huil.”
Mienke draai op haar sy. Sy kan net sowel saam kyk. Haar kamer voel ’n dagreis ver, Tallie se lopende kommentaar maak lees onmoontlik, en Stadsgeheime is so melodramaties, dis eintlik vermaaklik.
“Is sy blind?” vra Talitha toe die aktrise haar wimpers fladder. “Enige aap kan sien Bruno is ’n skurk.”
“We-el …” Mienke skreef haar oë en bestudeer die man met die swart leerbaadjie en die skeermeslem wat aan ’n silwerketting om sy nek hang. Interessant, besluit sy. Hy het anderster gelaatstrekke – nie klassiek aantreklik nie. Prominente wangbene, mondhoeke wat afwaarts neig, ’n vierkantige ken met ’n diep keep in. Ultra-macho met sy borselkop en ontwerperstoppelbaard, tog ook geseën met die seunsagtige faktor wat aan sekere bevoorregte mans lewenslange jeug verleen. “As die skurk só lyk, wil ek die held graag sien.”
Tallie snork. “Ja, orraait, hy’s hot, dis hoekom vroumense se pantyrekke smelt sodra hy in hul rigting kyk. Maar hy’s ’n derduiwel met die looks van ’n engel.”
Die “derduiwel” kniel in die seesand. Sy geskeurde jeans span om sy bobene, maar laat ’n tikkie meer aan die verbeelding oor in sy sitvlak se geweste. Hy hou ’n fluweelboksie na Chloe uit.
“Dít,” sê Mienke, “is een moewiese diamant.”
“Blikskottel kan dit bekostig. Hy’t sakke vol geld gemaak met al sy schemes. Hei, los!”
Sy besef eers sy het haar hand na die springmielies uitgesteek toe Talitha opvlieg en die bak bo-oor die snippermandjie omkeer.
“Askies, ek moes gedink het jy gaan ook lus kry.”
“Dis niks, man.”
“Nee, dit was superselfsugtig.” Sy plof aan die ander kant van die bank neer en gee Mienke se voet ’n drukkie. “Ek sal nie … ” Sy buk af. “Jou voete is verskriklik geswel!”
“Is dit hoekom ek jou Jimmy Choos vanoggend nie kon aankry nie?” Namaaksels, maar Tallie raak dikbek wanneer sy daaraan herinner word.
“Kan jy vir twee sekondes ophou flou grappies maak? Weet jou dokter hiervan?”
“Ek gaan haar môre bel.” Sy las nie beloftes aan nie; hulle weet albei dit kan nie anders nie.
“Maak ’n bleddie afspraak, ek sal jou vat.” Talitha draai terug na die televisie en trek haar knieë tot onder haar ken. Ná ’n paar tellings hoor Mienke haar snuif.
“Tallie.” Geen antwoord nie. “Moenie huil nie, toe.”
“Ek huil nie.” ’n Natter snuif. “Fine, miskien net so ’n bietjie. Met goeie rede, Chloe is ’n skattebol en nou gaan sy met so ’n vark trou. Jy moet sien hoe knyp hy die kat in die donker, dis disgusting.”
En dié simpel knop agter haar gorrel? “Jou storie is wragtig meer sepierig as ’n borrelbad.”
Talitha grawe ’n verfrommelde snesie uit haar bra. “Bruno is nie seep nie, hy’s skuim. Jig, hy gaan haar soen, ek kan nie kyk nie.” Sy kruip kamma agter ’n strooikussing weg, maar kan die versoeking nie weerstaan om bo-oor te loer nie.
Een vinnige dog vuurwarm vrysessie later vergruis Bruno Chloe teen sy borskas. ’n Nabyskoot van sy gesig vul die plasmaskerm. Gefolterde blou kykers staar die verte in en ’n bittersoet glimlag speel om sy lippe.
“Ek kan daai grinnik van sy bakkies af klap,” sê Talitha.
“Ek dog jy’t ’n sagte plekkie vir die bad boys?”
“Oe eh-eh, hom wil ek nie present hê nie, nie eens as hy vir my so ’n yslike diamant gee en op sy kop staan en die troumars deur –”
“Toemaar, ek twyfel of hy tot sulke uiterstes sal gaan. As jy my vra, hoef hy hom nie juis aan vroue op te dring nie.”
“Hét ek jou miskien gevra?” Talitha klik haar tong voor sy effe onwillig byvoeg: “Hy ís getroud. Jare al, nogal met haar, die aktrise wat Chloe speel.”
“Mooi paartjie.” Mienke gaap agter haar hand, sien dan haar vriendin se gesig. “Jy rol verniet jou oë soos ’n koei met malbeessiekte. Hy’s mos nie sy karakter nie. Vir al wat jy weet, is hy baie oulik.”
“Gmf, vir al wat ek weet, bring die Paashaas volgende week vir my ’n Checkers-sak vol tjoklits ook.”
Sit paaseiers op jou lysie, maak Mienke ’n kopnota. Tallie is nes ’n kleuter oor verrassings.
Maar Paassondag is twee weke weg, ’n ewigheid vir iemand met een ongeskeerde been en voete soos uitgerysde vetkoekdeeg.
Ag, sy sal in elk geval koop. Wie het gesê mens kan nie ’n skattejag in ’n hospitaalkamer hê nie?
“Ry, magtag, die lig is groen.” Franco Greeff druk sy G-wagon se toeter. Hy is in sy moer in laat – en dit vir die daddy-and-daughter date waarna Audrey al weke uitsien. Hy voel klaar soos ’n luis en die kleuterskooljuffrouens gaan hom weer aangluur asof hy die award vir Vrotste Pa van die Jaar verdien. Nie omdat hy gewoonlik laat is nie, eerder omdat hy Bruno Bleddie Duvenhage speel. The villain everyone loves to hate.
Hy trommel met sy vingers op die stuurwiel. Pleks hy nee gesê het vir vanoggend se radio-onderhoud, hy moes geweet het hy gaan vasbrand. Jozi se middageteverkeer is altyd nag, en daar was boonop ’n stukkende taxi op die N1.
Toe hy by nóg ’n rooi lig stilhou, kom ’n SMS deur. Sheralize. Ag, hel, wat nou weer?
Onmiddellik voel hy skuldig genoeg om sy kop teen die stuur te kap. Nice, Greeff. Waar’s die dae toe jou hart ’n slag gemis het wanneer jy haar naam sien? Hoekom nomineer jy jouself nie sommer vir Vrotste Man van die Jaar ook nie? Sure, julle lewe is ’n train smash, maar niemand kies om bipolar te wees nie.
Hy maak seker die lig is nog rooi, lees dan haar boodskap. Kom asb huis toe. Ek het jou nodig.
Nou? Verwag sy rêrig hy moet Audrey drop? Of het sy vergeet van die kleuterskoolding? Hy het haar vanoggend herinner, maar het sy regtig geluister so tussendeur haar geklets oor die nuwe eetplek in Melville waarheen sy en Zander vir brekfis sou gaan? Dis maar goed dat sy gevra het hy moet Audrey skool toe neem – sy is nie die verantwoordelikste bestuurder wanneer sy so hyper is nie. Het sy enigsins laas nag geslaap?
Op pad skool toe, SMS hy terug. Dit dringend?
Onmoontlik vinnig biep sy foon weer. Sou ek gevra het as dit nie was nie?
Hang af wat jou definisie van “dringend” is. Sherry het hom al om baie redes “nodig gehad” vandat die rollercoaster ride begin het. Spoedkaartjies, stampe aan haar Pajero, kredietkaart-noodgevalle. Verlede week moes sy “ASAP” syne leen, want sy het haar beursie verlê en Body Shop het ’n sale gehad. En dan was daar die quickies wat sy da-de-lik moes hê. Geduld was nog nooit haar sterk punt nie en soos sy sieker word, rafel dit al verder uit. Aan die begin was dit hot – hoe gelukkig kan ’n ou wees? – maar dit het al meer gereeld gebeur. Partykeer kon hy nie als los nie, nié as hy gewerk het nie. Haar reaksie? Spectacular vloermoere. Is sy nie meer vir hom mooi nie? Het hy ’n affair? Verstaan hy nie sy kón nie wag nie?
Hy drink diep uit sy waterbottel. Hoewel dit sy droë mond natmaak, spoel dit nie die bitterheid weg wat in sy keel opgestoot het nie.
’n Paar dae ná so ’n drama het sy hom huilerig huis toe ontbied om ’n ander rede. Om te bieg dat sy daardie keer nie gewag het nie – of minstens, nie vir hom nie: “Asseblief, Franco, vergewe my. Ek sal hulp kry, dit sal nooit weer gebeur nie.”
Famous last words. Al wat kopdokter is, het dieselfde rympie opgesê: “Moenie haar kwalik neem nie, moenie dit persoonlik opvat nie.” Maklik vir hulle om te praat. Hom te vertel dat “hiperseksualiteit” en “promiskuïteit” algemene simptome van manie is, wat hulle – whoop, whoop – suksesvol kan behandel. Pille vir rondneuk, wie sou dit kon raai?
Of dit werk, sal hy nie weet nie. Sheralize drink die pille nooit lank nie. Sê dit laat haar binnekant dood voel.
Hy het alles probeer: mooipraat, verwyte, dreigemente. Uit moedeloosheid selfs vir haar artikels gegee wat waarsku dat onbehandelde bipolar breinskade kan veroorsaak.
Is dit hoekom sy verder en verder buite beheer tol? Soos dit nou gaan, stres hy oor haar werk. Almal op stel vrek oor haar – sy is Stadsgeheime se helderste ster – maar hulle kan ook net so ver agteroor buig. Aan die einde van die dag moet hulle ’n sepie produseer. En as die pers moet uitvind wat werklik in haar lewe aangaan …
’n Hoofpyn span soos staalklampe om sy kop. Feit is, Sheralize is op die snelweg na selfvernietiging en sy het nie brieke nie. Nes sy ma. Die hele nagmerrie van voor af. Sy hande is afgekap: Daar is ’n moerse gat in sy vrou wat hy nie kan toestop nie, maak nie saak hoeveel liefde hy daar ingooi nie. Als wat mooi was, is besig om daarin te verdwyn.
Hy frons vir sy platinum polshorlosie. Dêm ding trek sy armhare, maar Sherry het dit vir sy verjaardag gekoop. Minder as tien minute om by die skool te kom. Gaan hy nou huis toe, mis hy die hele daddy-and-daughter-ding. Maar sê nou dis dié keer rêrig ’n noodgeval? Laat hy liewer gou bel.
“The subscriber you have dialled …” Hy druk die foon dood en probeer weer. Selfde storie, duidelik het sy haar gat gewip. Nou wat nou?
When in doubt, phone the bestie. Sheralize vertel alles vir Zander. Hy sal weet wat fout is, of minstens wat om te doen. Pyn in die gat wat hy is, kan mens altyd op sy nommer druk in ’n krisis.
Zander antwoord op die tweede lui. “Fran, darling, hallo!”
Hy skets gou die situasie. “Dis belangrik vir Audrey,” sluit hy af, “anders het ek omgedraai.”
“Nee, gonnapiep, jy stel nie my peetkind so teleur nie. Sherry was fine toe ek daar weg is. Sy manipuleer, jy moet ophou enable.”
“Ek het nie nou tyd vir Dr Phil-praatjies nie, Zed.”
Diep sug. “Orraait, ek sal haar gaan babysit.”
“Ek skuld jou.”
“Big time, baby, big time.”
Phew, net sewe minute laat, dink Franco toe hy voor die kleuterskool stilhou. Hy is nie eens die agteros nie, voertuie stroom nog by die hek in. Terwyl die ander laatkommers parkeer, bel hy Sherry ’n laaste keer.
Weer die elektroniese stem. By skool, SMS hy. Ons kom ASAP huis toe. Z maak solank ’n draai. Sy vingers aarsel voor hy byvoeg: Lief vir jou.
Nie omdat dit vir hom punte gaan wen nie, omdat dit waar is. Sy bly sy high school sweetheart, sy vrou, sy kind se ma – al voel sy meer en meer soos ’n vreemdeling. Waar daar lewe is, is daar hoop, of hoe? Hulle verhouding het al soveel oorleef, miskien kom hulle hierdeur ook.
’n Uur later vee hy met ’n papierservet die ergste pienk versiersuiker van Audrey se gesig af. “Kom ons gaan groet jou juffrou.”
“Ek wil nog bly.”
“Mamma wag vir ons.” Ry hulle nou, loop hulle hopelik die laatmiddag se verkeer mis.
Hy sleep haar aan haar taai handjie buitetoe. Haar lang lip word ’n glimlag toe sy haar peetpa se pride and joy – ’n wynrooi Merc SL uit die sewentigerjare – onder ’n doringboom raaksien. “Daar’s Zander, Pappa!”
Die Merc se dak is afgeslaan en Carly Rae Jepsen verkondig kliphard hoe rêrig, rêrig, rêrig baie sy iemand like. Franco soek Sheralize se blonde kop in die passasiersitplek, maar Zander is alleen.
Sy maag trek op ’n knop. “Waar’s sy?”
“Hallo to you too, darling.” Zander stop ’n plastieksak in Audrey se hande met die uitklimslag. Hy draai na Franco. “Van daai paaseiers met die wit doppe. Ek het twee geëet sodat sy nie ’n sugar rush kry nie.” Hy vryf oor sy bors. “Fine, drie. Sooibrand is ’n bitch.”
“Fokus, Zed.”
“Haar sel is af. Ek was by julle huis, maar sy’t die interkom nie geantwoord nie.”
“Hoekom het jy nie –”
“Sy’t my remote, hare is al weer weg.”
As Audrey nie so naby was nie, het Franco nou ’n drieletterwoord gesê.
“Relax, Fran, sy’t dit al vantevore gedoen.”
Waar, maar hy het nog nooit so ’n SMS geïgnoreer nie. “Dankie anyway. Kom, Audrey.”
“O nee, sy gaan eers saam met Zander milkshake drink. Ek bring haar later terug.”
“Nie vandag nie.”
Audrey spring op en af op die Merc se leersitplek. “Ek het Zander verlang, Pappa.”
“Sien?” Zander stuur hom in die rigting van die G-wagon. “Mooi ry, keep me posted.”
Vyftien minute later draai Franco by hul boomryke cul-de-sac in. Hy onthou min van die rit, moes op autopilot huis toe bestuur het.
“Komaan, komaan.” Maak die elektriese hek altyd so stadig oop?
Die Pajero staan voor die huis. Dankie tog. Sheralize het seker ’n klomp goed gehad om in te dra, anders sou sy in die motorhuis parkeer het.
Hy stop langs haar SUV en drafstap voordeur toe. Vir ’n verandering is dit gesluit. Huh, miskien sink sy preke oor veiligheid eindelik in.
“Sherry?” roep hy toe hy die deur toetrek. “Waar’s jy, babe?”
Stilte. Die onderste verdieping is verlate, sy pak seker nuwe klere bo in die slaapkamer uit. Ys na Antarktika, maar hy sê niks. Soos sy hom graag herinner, is dit háár geld wat sy blaas soos sy lekkerkry. Tjaart Myburgh se dogter hoef nie haar sente om te draai nie.
Hy klim die trappies twee-twee uit. Wat jaag sy asem so? Golwe suur spoel oor die maagseer wat hom die laaste tyd hel gee.
Chill, Greeff. Sy’s hier, sy’s oukei. De duiwel in, sure, maar jy kan dit handle.
Weer roep hy haar naam. Doodse stilte. Die slaapkamerdeur staan oop. Is sy in die badkamer? In die inloopkas?
Die gordyne voor die balkonskuifdeur fladder. Waddehel? Sherry maak nooit daar oop nie, sy skakel die lugversorging aan wanneer sy warm kry.
Bliksem, sê nou … Die dubbelbed is netjies opgemaak, hy het darem nie in sy ergste nagmerrie in geloop nie.
Of so dink hy tot hy uitstap op die balkon. En sy vrou roerloos onder op die plaveisel sien lê.
Mienke moes ná die sepie weer ingedut het, want sy ruk wakker van ’n gil.
“Magtag, Talitha, jy sal my ’n hartaanval gee.”
Verkeerde woordkeuse. Talitha los ’n knoop, val op haar knieë langs die bank neer, en gryp Mienke se voorarm. “Dêm, ek kry nie ’n pols nie.”
“Jy sal ook nie, jou mamparra, jy moet aan die duim se kant voel.” Sy trek haar arm weg. “Ontspan, ek makeer niks. Wat gil jy so?”
“’n Vreeslike ding het gebeur.” Talitha prop haar iPhone in Mienke se hand. “Lees. Ek het rumours op my newsfeed gesien, toe gaan kyk ek op Stadsgeheime se Facebook page.”
Mienke vryf die vaak uit haar oë. Dis met swaar harte dat ons u inlig dat Sheralize Myburgh (Chloe) vanmiddag in CitiMed opgeneem is nadat sy van hul balkon geval het. Haar man, Franco Greeff (Bruno), het op haar afgekom. Volgens ’n familievriend is sy steeds in ’n koma. Onthou haar en haar geliefdes asseblief in u gebede.
Bo die inskrywing is ’n foto van die aktrise. Sy hou ’n trofee vas en haar oë glinster helderder as haar liggeel aandrok se blinkers.
“Lees die kommentaar, almal dink haar man het …” Talitha trek haar asem skerp in toe musiek iewers opklink. “Mienke, jou foon! Dis jou spesiale ringtone!”
Haar mond word kurkdroog. Dit kan nie wees nie. Kan nie. Sy het al begin vrede maak dat …
Maar dit ís. Dis Roxette se “Listen to your heart”, haar luitoon vir die oorplantingspan se koördineerder.
“Sorg dat jy jou foon 24/7 by jou hou,” het Deirdre gesê. “As ons jou van hierdie nommer af bel, het ons goeie nuus.”
Waar ís haar foon? Sy grawe tussen die strooikussings. Vat dit raak, maar dit glip onmiddellik weer uit haar hand uit. Eers met die tweede probeerslag kry sy die groen knoppie gedruk. Sy het skaars asem om “hallo” te fluister.
“Hier’s ’n hart met jou naam op,” val Deirdre met die deur in die huis.
“Rêrig?”
“Sal ek ’n grap oor so iets maak?”
Die chirurg sal nie ’n grap herken as dit haar aan die dinges byt nie. Ernstig soos ’n hartaanval, spot Tallie altyd.
“Dit lyk goed, Mienke. Niks is perfek nie, maar dis so naby aan nommerpas as wat kan kom.”
Die gesuis in haar ore smoor die eerste helfte van Deirdre se volgende sin. “ … dertigjarige vrou, fiks en gesond. Is jy daar?”
“W-wow.”
“Haar man het nog nie die vorms geteken nie, maar hy sal. Sy’t ’n lewende testament.” Papiere ritsel in die agtergrond. “Ry versigtig, ons het genoeg tyd. Onthou om niks verder te eet of drink nie.”
“Dan sit ek maar eers die sjampanje op ys.”
“Geen sjampanje nou óf na die chirurgie nie, ek hét mos verduidelik.”
Sy weet, sy weet. Alkohol affekteer die immuunonderdrukkers wat moet verhoed dat haar liggaam die vreemde orgaan verwerp. Sy gaan die medisyne die res van haar lewe drink en sal dus op die waterkar wees. Hoekom raak almal vandag so vies oor haar flou grappies? Humor is haar oorlewingsmeganisme, daarsonder het sy lankal haar varkies verloor.
Talitha baklei al die pad hospitaal toe, soos sy maar maak wanneer sy stres: “Hoekom is jy nie opgewonde nie? Het jy ordentlike pajamas? Gaan jy jou ma-hulle bel, of moet ek?”
“Ek sal bel sodra ek doodseker is,” belowe Mienke toe hulle in die parkeerterrein stilhou. “Ek wil hulle nie onnodig op hol jaag nie.”
“Moet jy so negatief wees?”
“Ek’s realisties.”
“Strooi, man, wat kan in hierdie stadium verkeerd gaan?”
“Jy sal verbaas wees. Soms is daar skade aan die hart, of die ontvanger is nie sterk genoeg vir die operasie nie.” Hoekom het sy Deirdre nie lankal laat weet haar simptome raak erger nie? Sê nou net … Wag, los daai bobbejaan eers agter sy bult. “Soms kom die hart van ver af, dan’s dit nie betyds nie.”
“Jy lees te veel sad stories op die internet.”
“Is so.” Die hartseerste seker dié van ’n Amerikaner wat reeds in teater was toe die helikopter met sy skenkerhart neergestort het. Die loods en chirurg is dood, en teen die tyd dat reddingswerkers die wrak in ’n afgeleë woud opgespoor het, was die hart nutteloos. Sou die pasiënt toe ooit ’n ander een gekry het?
“Het jou dokter dan gesê die donor is nie van Jozi nie?” onderbreek Talitha haar morbiede gedagtegang.
“Nee. Ek weet nie of sy mag nie, die hele proses bly mos anoniem. Sy’t wel genoem dis ’n dertigjarige vrou.” Drie jaar ouer as hulle. Mienke vee haar handpalms aan haar langbroek af.
“Dertig? Wed jou ’n miljoen dis sý.”
“’n Miljoen wat jy waar gaan kry? Soos ek jou ken, het jy nie eens broodgeld tot payday nie. Vat my bankkaart, moet net nie skoene koop met my spaargeld nie.”
Nie eens die woord “skoene” kan Talitha van stryk bring nie. “Dink daaroor. Chloe – of ek moet seker sê Sheralize – is hier, in ’n koma. Donors moet breindood wees, ek het op Grey’s gesien.”
Naarheid stoot in Mienke se slukderm op. “Grey’s Anatomy is nie –”
“En ek het ’n artikel oor haar gelees. Verlede week, toe ek so lank by die tandarts moes gewag het? Orgaanskenking was, soos … haar cause gewees. Haar boetie is dood aan nierversaking en hulle’t dieselfde skaars bloedgroep gehad. B-negatief, soos jy.”
Tipies Talitha. Kan nie ’n polsslag neem nie, maar is ’n goudmyn van inligting wanneer dit by celebs kom.
“Jou bloedgroep kan vir óf teen ons tel,” het Deirdre verduidelik. “Min skenkers is B-negatief, maar aan die ander kant is die aanvraag kleiner. Kom ons hou duim vas jy’s binnekort boaan die lys.”
En sy hét. Duim vasgehou en gebid en pyn-in-die-gat positive affirmations uit Talitha se selfhelpboeke opgesê. Hoe anders? Sy het nog skaars gelewe, magtag, en sedert haar diagnose net oorleef. Tog het dit nooit werklik geregistreer waarvoor sy vra nie: dat iemand anders moes sterf. Tot nou was daardie “iemand” ’n abstrakte moontlikheid …
’n Hart is ’n hart. Maak dit saak of dit van ’n sepiester of ’n straatveër kom?
Natuurlik nie. Wat saak maak, is dat die skenker dan nie meer ’n gesiglose skim is nie, maar ’n persoon van vlees en bloed. Pragtig, jonk, lewenslustig. Dis mos nie regverdig dat …
“Stop jou guilt trip,” lees Talitha haar gedagtes. “Jy’t haar vlammetjie nie uitgeblaas nie, jy steek net jou kers by hare aan.”
“Sjoe, Tallie, diep.”
“Dis wat Sheralize in die artikel gesê het. Sy’t ook vertel hulle dogtertjie –”
“Kom ons gaan asseblief net in.” Talitha bedoel goed, maar die idee dat die skenker ’n ma kan wees, is te veel. “Hoe minder ek van haar weet, hoe beter.”
“Oh my word, dis Grand Central,” sê Talitha toe die hospitaalskuifdeure agter hulle toegaan. “Moet jy hier voor inboek?”
“Nee, Deirdre het gevra dat ek SMS, dan kom haal iemand van die eenheid my.”
“Stuur van die kafeteria af, toe, ek wil koffie en ’n broodjie koop.”
“Wil jy nie maar huis toe gaan nie? Jy’t nie eens aandete gehad nie. Die susters gaan jou buitendien uitjaag terwyl hulle my opneem.”
“Is jy gerook?” Talitha trek haar aan die pols saam. “Wie gaan na jou ma-hulle kyk? Wanneer jy eendag besluit om hulle te laat kom, bygesê.”
“Dankie, Tallie. Vir alles.”
“Moenie eens daaraan dink om te tjank nie.”
“Hoe ken jy my?” Maar die hospitaalvoorportaal verdof. Hoe sê sy vir haar vriendin sy is lief vir haar? Vir Ma-hulle? Dis ’n groot operasie …
Sy bots byna teen Talitha toe dié voor die kafeteriadeur vassteek.
“Mienke, kyk.”
Twee mans en ’n dogtertjie met blonde kurktrekkerkrulle kom aangestap. Die korter man is van kop tot tone in wit geklee, die lange dra ’n denimbaadjie en ’n pet wat laag oor sy voorkop getrek is. Sy sonbril is so donker, dis ’n wonderwerk dat hy nie in goed vasloop nie. Hoekom lyk hy so effe bekend?
“Bruno.” Talitha se elmboog pomp haar in die ribbes. “Franco Greeff.”
Inderdaad. Die mondering kamoefleer sy oë, maar sy beenstruktuur is onmiskenbaar. Toe hy opkyk, laat sak sy gou haar blik. Sy het genoeg ure in hospitale deurgebring om skok te herken wanneer sy dit sien.
“Staan eenkant dat hulle kan verbykom,” beveel sy Tallie onderlangs. “En maak toe jou mond voor jy oor jou kakebeen val.”
Die drietal is egter in ’n wêreld van hul eie: die mans diep in gesprek, die dogtertjie ’n entjie vooruit by emmers blomme. “Kyk, Pappa.” Water drup van die angeliere op die vloer. “Kan ons vir Mamma koop?”
Greeff sit die ruiker terug en neem haar hand. “Sy mag nie blomme in haar kamer hê nie, Audrey.”
Audrey? Volwasse naam vir so ’n tingerige dingetjie.
Die ander man praat onverstoord verder, hard genoeg dat die hele kafeteria kan hoor. Sy beringde hande gesels saam: “Jy’s in denial, jy kan nie nugter dink nie. Dis hoekom Sherry ’n living will het, om namens haar te praat.”
“Nie so eenvoudig nie, Zander.”
“I love her to pieces too. Hel, ek sou voor ’n trein inspring as dit haar kon terugbring. Maar jy’t gehoor wat die dokters sê, sy gaan nie wakker word nie.”
“Dokters maak foute.”
“Ons het ’n second opinion gekry. Teken die vorms, Fran, dat iets goeds hieruit kom.”
Mienke voel soos ’n voyeur, tog kan sy haar met die beste wil in die wêreld nie wegskeur nie.
Greeff haal sy donkerbril af, vryf oor sy oë, en druk dit terug op sy neusbrug. Vinnig, maar nie voor sy spore van onlangse trane opmerk nie. Haar derms knoop soos altyd wanneer sy ’n man sien huil. Dis seksisties, sy weet, en die oorplantingspan se sielkundige het al hoeveel keer vir haar gesê trane is ’n teken van krag eerder as swakheid. Maar haar pa het emosionele beheer tot ’n kunsvorm verfyn, en syself kan ’n spens volpak met haar ingelegde gevoelens.
“Ons gee dit vier-en-twintig uur,” sê die akteur.
“En as haar organe intussen hulle sell-by date bereik? Sorry, darling, ek praat nou reguit, maar sy sou wou gehad het ons moet die masjiene afsit.”
Mienke sidder. Wie is hierdie Zander-vent? Wat gee hom die reg om soveel druk op ’n verslae man te sit?
“Dra my, Pappa.”
Die trio kom voor hulle tot stilstand sodat Greeff die kleintjie op sy heup kan hys. Foei tog, hoeveel sou sy verstaan?
Mienke wens sy kon die afgelope vyf minute uit haar breinselle vee. Sy draai weg, maar ’n blerts rooi trek haar aandag. ’n Speelding. Die dogtertjie het dit by die blomme agtergelaat. “Wag,” roep sy agterna, “julle’t iets vergeet.”
Audrey loer oor haar pa se skouer, maak haar vingers oop en toe. “My eend.”
Die houtspeelding het beter dae geken. Plek-plek dop die verf af, en tandemerke – ’n hond s’n? – ontsier die eens geel snawel. Maar liefde is blind, want Audrey gee die eend ’n klapsoen.
Greeff slaak ’n sug van verligting. “Dankie, jy’s ’n life-saver. Sou ’n ramp gewees het as ons Eend vergeet het.” Sy glimlag lyk meer soos ’n pyntrek.
“Plesier.” Haar borskas kramp. “Enne … sterkte.”
Sy keelspiere bondel om sy adamsappel. Sonder ’n verdere woord stap hy uit.
“Ek moes my mond oopgemaak het,” kerm Talitha. “Hom vertel het die hart is vir jou – dit sou jou meer real gemaak het. Sê nou hy besluit om nie …?”
“Dan’s dit hoe dit is.” Ander mense se besluite is een van die legio goed waaroor ’n mens geen beheer het nie.
“Aargh, hy’s net so ’n poephol soos Bruno.” Talitha stamp haar voet. “Ek gaan hom soek en sê ek sal koerante toe gaan en hulle vertel dat hy sy dinges afvee aan sy vrou se wense en nie vir jou haar hart wil gee nie en …” Noodgedwonge kom sy op vir asem.
“Kalmeer, jy gaan niks van die aard doen nie. Dis ’n verskriklike besluit wat hy moet neem.”
Kan sy nie maar teruggaan woonstel toe, in die bed klim, en die kombers oor haar kop trek nie? Hoekom is alles ineens so gekompliseerd? ’n Nuwe hart sal vir haar tyd koop, ja, maar teen watter prys? Gaan elke klop haar nie herinner aan ’n krulkop met ’n hout-eend en ’n man met geboë skouers nie?