Читать книгу Wat die hart begeer - Amelia Strydom - Страница 4
2
ОглавлениеDertien maande later
“Hoor my lied, ek het ’n nare voorgevoel hieroor.”
“Ag, Talitha.” Mienke klem die stuurwiel stywer vas en wens dit was haar vriendin se nek. “Jy’t nou al drie keer vandag gebel, nè?”
“Vergewe my dat ek omgee. Hierdie malligheid van jou gee my grys hare.”
“Ek móét gaan, oukei? Vir afsluiting.”
“Gaan kry afsluiting by ’n ondersteuningsgroep of ’n shrink. Hel, skryf vir Greeff ’n naamlose dankie-sê-brief, die oorplantingskliniek sal dit mos by hom besorg.”
“Ek wil graag iets vir haar mense doen.”
“Soos hulle rowe afkrap? Jy’t self gesê jy wens jy’t nooit uitgevind wie sy was nie.”
“Ek’s nie onnosel nie, ek sal hulle mos nooit vertel nie.” Nie eens Ma-hulle weet hoekom sy ewe skielik juis by Knysna wou kom werk nie. Hulle dink sy wil haar vlerke sprei, is seker heimlik verlig dat hulle oplaas met geruste harte kan rondrits. Hulle is tot Desember in Delft, het huise geruil met ’n Nederlandse paartjie.
“En as Greeff uitvind? Ek wil nie spoke opjaag nie, maar sê nou jy word siek?”
Ja, sê nou haar immuunstelsel verwerp die hart? Dit kan enige tyd gebeur, ondanks die dosyn pille wat sy smôrens drink.
Hokaai, dink positief: Die jaarherdenking het gekom en gegaan, die grootste risiko is verby.
“Ek’s nie van plan om siek te word nie,” sê sy, vir haarself, vir Tallie. “Ek was verlede Vrydag vir ’n biopsie, my lyf is tevrede met die hart.”
Die fout lê in haar kop. Haar gedagtes draai pal om Sheralize en haar gesin. Sy weet sy moet dankbaar wees sy leef – en sy is – maar die skuldgevoel ry haar. En dan is daar die freaky idees …
“Mienke, luister net. Ek het my tarot card reader gebel.” Swaargelaaide stilte, dan: “Hoekom lag jy nie?”
Goeie vraag, gewoonlik trek sy haar vriendin se siel uit oor haar airy-fairy idees.
“Jy’t verander,” verwyt Talitha. “Is jy nie depressed nie?”
“My dokter dink so. Sy’t laas week vir my pille voorgeskryf.”
Deirdre het haar kop begin skud voor Mienke die onderwerp van oorgeplante herinnerings behoorlik kon aanroer. “Sommer bogstories. Die hart is ’n pomp, nie ’n stoorplek vir ervarings of persoonlikheidstrekke nie. As jy nie jouself is nie, ly jy aan depressie. Survivor’s guilt is algemeen ná orgaanoorplantings.”
Kon sy maar so seker wees.
“Antidepressante, jý?” Talitha is momenteel tjoepstil geskok. “Sien, ek het geweet daar’s fout. Kom kuier by my, bietjie TLC sal jou gou regkry.”
“Nee.” Verstaan niemand hoe gatvol sy is om die hartlyer te wees wat opgepiep moet word nie?
“Weet jy watse kaart die tarot reader getrek het? Die toring. Major arcana, very bad juju. Greeff is moeilikheid, jy kan nie vir hom gaan werk nie.”
“Kry jou kop uit jou sepieborrel, Tal, en gebruik jou verstand. Jy verwar hom met ’n fiktiewe karakter. Mens noem dit toneelspel.”
“Sheralize se pa was ’n dot com billionaire, en noudat sy dood is, erf Greeff als. Mens noem dít motief.”
“Hallo, dit was selfmoord.”
“Oe eh-eh, die nadoodse verslag het gesê dit was waarskynlik selfmoord, maar moord kan nie uitgesluit word nie. Hoe weet jy hy’t haar nie gestamp nie, Mienke? Sy’t kneusplekke aan haar arms gehad, onthou.”
“Wat logies verklaar kon word. Sy’t die oggend ’n toneel geoefen waarin haar karakter rondgepluk is.”
“Greeff het ’n skuldige gewete, hoekom anders kruip hy soos ’n kluisenaar weg?”
“Hm, laat ek dink. Omdat hy siek en sat is om veroordeel te word?”
Die naambordjie van ’n teetuin vang haar oog. Fantastiese idee, sy het te ver bestuur. Gou bene rek, dan is sy weer reg.
“Dankie vir die omgee, Tallie, maar ek kan nie so ’n kans laat verbygaan nie. Jy, van alle mense, behoort te verstaan. Jy preek mos alewig vir my dat toeval nie bestaan nie.”
Uiteindelik, sug Franco toe iemand aan sy studeerkamerdeur klop. ’n Onderbreking. Hoe lank sit hy al na die rekenaarskerm en staar?
Audrey loer om die deurraam. “Pappa, kan ek en Zander gaan skulpies optel?”
“In hierdie weer?” Hy klap sy skootrekenaar toe en stap venster toe. Dis buite selfs misliker as vroeër.
“Noodgeval,” praat Zander uit die deur. “Cabin fever. Ons beter haar moeg speel, anders gaan haar nuwe governess dink sy’t ADHD.” Hy mik ’n betekenisvolle kyk na die rekenaar. “Soos haar pa – wat nooit lank genoeg sal kan stilsit om ’n screenplay te skryf nie. Gelukkig weet moi van ’n nuwe sepie wat actors soek.”
Franco tel ’n spoelklip van die vensterbank op en toets kastig die gewig.
“Sheesh, ek drop dit,” sê Zander. “Nie nodig vir geweld nie.”
“Trek jou baadjie en reënstewels aan, bokkie.” Franco vryf Audrey se krulle deurmekaarder. “Jou nuwe rooies, oukei?”
“Nee, die geles wat Mamma vir my gekoop het. Geel was haar beste kleur.”
Onthou sy dit, of het sy dit by een van hulle gehoor? Hoe helder is haar prentjie van haar ma? Sy eie voorskoolse jare is ’n blur.
“Jou oues is te klein.” Die plan was om presies so ’n paar te koop en dit stilletjies om te ruil, maar toe kon hy nêrens geles in ’n nommer tien kry nie.
“Issie, hulle pas.”
Nou wat nou? Moet hy ferm optree? Wag, wat sê daai boek oor dissipline? Die een wat halfgelees op sy bedkassie lê en stof vergaar? Logiese gevolge. Hy hurk voor Audrey. “Orraait, dis jou voete. Onthou net die stewels moet aanbly tot julle terugkom, al druk dit jou.”
“Dankie, Pappa!” Sy gooi haar arms om sy nek voor sy weghuppel.
Hy vryf oor sy oë. Weet daardie skrywer waarvan sy praat? Watse soort pa laat sy kind skoene aantrek wat seermaak?
“Jy nie bang die governess kla jou aan vir child abuse nie?”
Zander het ’n manier om in te zoem op mens se diepste vrese.
“Of hardloop tabloids toe nie? Ek sien al die lamppale: Stinkryk akteur te suinig vir kinderskoene.”
“Nie snaaks nie.”
“Jy wil mos ’n wildvreemde vroumens hier laat intrek.”
“Hoe anders, Zed? Moes ek haar elke dag vroualleen tussen Noetzie en Knysna laat ry het? Op hierdie grondpad, verby ’n plakkerskamp?”
“Ek dog jy’s nie lus vir mense nie. Ons moet vuurmaak onder jou hunky ass om jou by die voordeur uit te kry.”
“Kyk hoeveel jy daarvan hou as tannies jou met koffie gooi.” In die Wimpy, nogal, voor Audrey.
“Hoe weet jy die juffrou is nie ook ’n hater nie? Ons ken haar nie van Adam nie, netnou sny sy jou keelaf in jou slaap.”
“My kamerdeur kan sluit, en sy’s van Eva, nie Adam nie.”
Dis wat hom die meeste pla. Deesdae verdeel hy die vroulike spesie in drie groepe: Nuuskieriges wat enigiets sal doen om “die waarheid” uit hom te trek, hoogheiliges wat glo hy is ’n moordenaar en verdien om in die hel te brand, en mansoekers wat vere voel oor wat met Sherry gebeur het, solank hulle haar geld kan help uitgee.
“Sit haar in die cottage,” stel Zander voor. “Nelia-hulle trek einde volgende maand uit. Tiek tok, tiek tok …”
“Nie weer daai storie nie.”
“Wat het jy teen Nelia? Sy’s gorgeous en ek hoor cougars is die beste lovers. Ervaring en dankbaarheid is glo ’n killer combo.”
Moet wees, sy lewe het pas voor hom verbygeflits. “Watter deel van ‘Ek soek nie ’n vrou nie’ verstaan jy nie?”
“Versigtig, jy sal my vals hoop gee,” spot Zander. “Jy weet ek het since forever ’n crush op jou.”
“Hm, ek het jou anderdag dieselfde vir Kabelo hoor sê.”
“Ek kan multitask. Grappies op ’n stokkie, Fran. Jy hoef nie met haar te trou nie, just have some fun. You need to get –”
“Sjarrap, Zed. So van fun gepraat, mis jy nie die Jozi vibe nie?”
Zander ignoreer die skimp. “Om jouself te straf gaan haar nie terugbring nie.”
“Wat laat jou dink ek –”
“I checked my birth certificate, darling, ek’s nie gister gebore nie. Stry dat Bellavista jou custom-made hell is? Sherry se pappie kan jou uit die graf uit soos shit laat voel. I’m king of the castle, you’re the dirty rascal.”
Strooi, hy het g’n ’n chip op sy skouer omdat hy arm grootgeword het nie. Of minstens nie ’n grote nie. “Audrey vrek oor die see.”
“Daar’s ander strandhuise. Make a fresh start.”
“Ek sal nog.”
“Wanneer? Dis al meer as ’n jaar. And let’s be honest, ons het Sherry jare voor die ongeluk al verloor. Jy moet aanbeweeg, en dating is ’n goeie begin.”
“Audrey is my eerste prioriteit. En verhoudings is tricky genoeg sonder kinders.” Vra hom, Ma het dit voor sy kop gegooi wanneer hy iets durf sê het oor die losers waarmee sy haar tyd gemors het: “Ek kan nie pick and choose nie, Franco, watter man sien kans om ’n ander se kind groot te maak?”
Zander flap sy hand. “Nonsens, Audrey het iemand nodig om girly goed mee te doen. Arme kind het nie eens ’n tannie of ’n ouma nie.”
Nee, hy is die somtotaal van haar bloedfamilie. Hy was ’n enigste kind; Sherry se boetie is klein dood. Audrey het nooit een van haar oumas of oupas geken nie. Nie ’n hengse verlies nie: Sy skoonma se lewe het om haar regsloopbaan gedraai, sy ma s’n om mans. Watwonderse oupa-materiaal was daar ook nie. Tjaart Myburgh het “liefde” G-E-L-D gespel, en sý pa …
Wow, inspirerende rolmodelle. Geen wonder hy en Sherry was bang om kinders te hê nie. Ook maar goed Audrey het net gebeur. Nou kan hy hom nie ’n lewe sonder haar indink nie, al het hy nie ’n clue wat hy doen nie.
Was dit ’n moerse fout om haar uit die skool te haal? Hy het amper van sy stoel af geneuk toe die opvoedkundige sielkundige tuisonderrig voorgestel het. Hy was die grootste stoutgat in sy skool, netnou is dit aansteeklik. Boonop het hy nie die tyd – of die geduld – vir leeslessies en somme nie.
“Net tot sy haar ma se dood verwerk het,” het die sielkundige geantwoord. “Kry ’n privaat onderwyseres. Verkieslik iemand met ervaring van tuisonderrig en ’n praktiese benadering – Audrey se leerstyl is sterk kinesteties. Ek gee vir jou die tuisskoolvereniging se kontakbesonderhede.”
Dit was amper té maklik. Hy het ’n advertensie op die homeschoolers se Yahoo-groep gesit, en twee dae later ’n e-pos van die Langeveldt-vrou gekry. Daar was ander aansoeke, maar sy was eerste prys. Sy het ’n Montessori-program ontwerp wat goed op die internet verkoop, en hou werksessies vir ouers wat dit tuis wil gebruik.
“Bye, Pappa.” Audrey se vrolike stemmetjie laat hom omdraai. Hy tel haar op, druk haar so styf vas dat sy giggel en stoei om los te kom.
Toe sy wegskarrel, gee Zander hom ’n streng kyk. “Jy’s nie off the hook nie, ons praat weer.”
Whatever, hy het nie krag om te stry nie. Lank nadat hulle weg is, bly hy voor die venster staan, sy blik op die bedonderde oseaan.
Toe Mienke ná twee koppies rooibos in die pad val, is die N2 ’n miernes. By die Noetzie-afdraai wag sy lank vir ’n gaping in die aankomende verkeerstroom.
Toe die wiele die teer verlaat, ratel haar tande behoorlik. Hoe is dit moontlik dat so ’n pad na een van die land se mees eksklusiewe strande lei? Volgens die internet is Noetzie ’n gewilde dagbestemming vir vakansiegangers. Inheemse woude, fynbos, ’n bykans ongerepte strand … wat meer kan ’n mens vra?
Sy veronderstel die honderd-en-sestien kliptrappies tussen die parkeerterrein en die strand kan as afskrikmiddel dien. Hemel weet, ’n jaar gelede sou sy skaars daar kon afgekruip het. Deesdae sal sy honderd-en-sestien trappies kafdraf én nog asem oorhê om Noetzie se eintlike toeristetrekpleister – die kastele – vanuit elke moontlike hoek te fotografeer.
Ja, oukei, die klipstrukture is ultraluukse vakansiewonings en nie danig oud nie. Maar dit bly ’n romantiese idee: kastele aan die suidpunt van Afrika. Tog jammer sy sal dit van ’n afstand moet bewonder – geeneen van die herehuise bied besigtigingstoere aan nie.
Gits, amper vergeet sy! Die prokureur wat haar aanstelling gehanteer het, het gevra sy moet SMS sodra sy van die N2 afdraai. Selfoonopvangs verder aan is glo wispelturig.
“Speel liewers veilig,” het hy aangeraai, “net ingeval jy karmoeilikheid kry. Dan weet meneer Greeff om na jou te gaan soek.”
Asof meneer Greeff haar sal kom soek! Hy sal ’n onderdaan stuur, dis meer sy styl. Tot dusver het hy geen woord met haar gepraat nie, alle kommunikasie was via sy prokureur.
Watter soort ouer voer nie persoonlik ’n onderhoud met sy kind se toekomstige onderwyseres nie? Sy kry die dogtertjie jammer: ’n ma wat selfmoord gepleeg het én ’n onbetrokke pa.
Sy trek af en tik ’n teksboodskap. Terwyl sy wag vir ’n antwoord, bestudeer sy die omgewing. Aan haar linkerkant is ’n plakkerskamp: ’n menigte gehuggies in reënboogkleure. Rook dryf bokant die sinkdakke. ’n Vrou hang verflenterde klere aan ’n wasgoeddraad terwyl werfhoenders om haar voete skrop. Eenkant in die son lê ’n basterbrak. Toe Mienke wegtrek, lig hy sy kop om die Mini agterna te kyk.
Soos die grondpad kuswaarts kronkel, vou die bos om haar toe. Aan een kant is ’n denneplantasie, aan die ander groei reusebloekoms. Sonstrale skreef tussen die bleek stamme deur en val skuins oor die pad.
Onverwags doem ’n figuur voor haar op. Sy rem so skerp dat die bande deur die sand sleep.
Ontspan, Mienke, wat is dit met jou? Dis ’n ou vrou met ’n bondel hout, nie ’n gewapende bende nie.
“Middag, ntombi, ek vra ’n lift?”
Hoekom nie? “Sit sommer jou hout op die agtersitplek.”
Die bytreuk van Vicks, of dalk Zam-Buksalf, klim saam met die vrou in. “Dankie,” sê sy toe hulle wegtrek, “ek het swaar gedra.”
“Waarheen is jy op pad?”
“Ek werk by die resort, ons hek is vorentoe. En die ntombi?”
“Bellavista toe, ek gaan vir die dogtertjie daar skoolhou.”
“Ek gaan nie daar nie.” Sy vryf haar verrimpelde hande en haar koperarmbande klingel. “Is ’n donker plek.”
“O?” Verwys sy na die strandmeer wat soms byna swart lyk van die tannien in die grond? “Noetzie” beteken “plek van die donker water” in een van die Khoisan-tale.
“Lelike goed het gebeur by die kastele, dis hoekom die spook daar loop.”
Ai tog. Eers Tallie met haar tarotkaarte en voorgevoelens, nou ’n bygelowige ryloper.
“Eish, en daai mense van die TV, hulle harte is ook swart.” Sy klap onverwags op die paneelbord. “Ek klim hierso af.”
“Waar’s die hek? Ek sien dan niks?”
“Is reg, ek sal hom kry.” Die vrou klim uit, buk af om deur die venster te praat. “Moenie lat die donkerte jou vang nie, ntombi.”
Mienke loer na die paneelbord se digitale horlosie. Net voor drie – nog lank voor sononder. En tog het die dag grou geword. Mistig. ’n Waas huiwer bo die woudvloer, skep die illusie dat die bloekoms sweef.
Sy draai om om te groet, maar die ryloper het verdwyn, haar bondel hout vergete op die agtersitplek.
’n Kilometer verder draai Mienke regs. Sy maak haar vensterruit oop. Sy kan die golwe hoor druis, die soutigheid ruik, maar sien nog nie die see nie. Skoenlappers fladder agter haar naeltjie.
“Van daar kan jy die bordjies na Bellavista volg,” het die prokureur gesê. “Die pad is duidelik gemerk, jy kan nie verdwaal nie.”
Nè? Wed hy was nog nie in sulke weer hier nie. Sy moet fyn kyk om die groen bordjies teen die welige plantegroei raak te sien.
Genadiglik is die ingang nie ver nie. Die geplaveide oprit is ’n groot verbetering op die grondpad. Sy rol haar gespanne skouers. Hoeveel verder sou die huis nog wees?
’n Klipstruktuur verrys uit die wit, en haar hand klap vanself oor haar mond. Bellavista is een van die kastele! Sy knip haar oë. Nee, sy droom nie. Die fabelagtige gebou is nog daar, hoewel dit eerder in ’n sprokie tuishoort as hier tussen die inheemse plante.
Toe sy oplaas uitklim, weet sy nie waarna om eerste te kyk nie. Die Gotiese vensters met houtrame en gepunte boë? Die fantasieryke torinkies? Die swart-en-geel vlae wat van die dak wapper?
Haar blik swiep oor die kliptrappe en haak vas by ’n mansfiguur aan die bopunt. Blikskottel, hoe lank staan hy al daar? In swart klere smelt hy byna weg teen die oop voordeur. Vir ’n klein ewigheid kyk hulle na mekaar, dan loop hy haar tegemoet.
Franco Greeff, sien sy toe hy uit die skadu tree. Sy donkerblonde hare is heelwat langer as wat dit op TV was, sy stoppelbaard afgeskeer, maar dis ongetwyfeld hy.
’n Bruinerige streep skiet by hom verby. Af by die trappe, reguit op haar af. Wat de …?
Hond, identifiseer haar brein die gevaar. Boelhond. Stewige lyf, rooi tong, flappende wangvelle. Sy is nie bang vir honde nie, maar …
“Kaptein!” bulder Greeff.
Die boelhond hou hom doof. Hy spring teen Mienke op en pen haar met sy pote vas. Sy bek is oop, sy skewe uitstaantande net mooi hapafstand weg. Sal dit pateties lyk as sy op die Mini se dak probeer klouter?
Dan is Greeff by om die hond aan sy los nekvelle weg te trek. “Jammer, man. Hy sal nie byt nie, hy’s ’n ou softie.”
Wat ’n verligting, dink sy suur. Jammer sy vind dit uit ná hy haar bestorm het.
“Is jy oukei?” Oë wat nie kan besluit of hulle blou of grys wil wees nie gly oor haar. Besonderse oë met diepblou vlekke in die irisse, soos patroontjies in ’n kaleidoskoop.
Doef. Haar hart skop teen haar ribbekas vas. Sjoe, ’n nuwe toertjie. Omdat die senuwees afgesny is, kommunikeer ’n skenkerhart nie met die brein nie. Dit reageer wel op adrenalien, maar nie betyds nie.
“Warm stadig op voor oefening,” het Deirdre gewaarsku. “Sonder sensasie in die hartspier, sal jy nie noodwendig borskaspyn voel wanneer dit swaarkry nie. Juis daarom moet jy attent wees op ander tekens van verwerping: koors, lyfseer, asemnood, moegheid.”
“’Skuus, jy’t jou gat afgeskrik.” Greeff druk swaarder op die hond se bruin-en-wit kop sodat dié moet sit. “Skaam jou, Kaptein. Help nie jy smile nou vir haar nie, jy’t ons klaar in die skande gesteek.”
Lyk sowaar of die hond lag. Noudat sy slagtande op ’n veilige afstand is, is sy oorbyt nogal oulik.
“Ek mag verkeerd wees, pel,” gaan hy kamma vertroulik voort, “ma’ ek dink sy sal jou dalk net vergewe. Nie dat jy dit verdien nie, but give it a shot.”
Tik-tik-tik. Kaptein slaan sy stert teen sy baas se seilskoen en hyg oopbek. Mienke se hart vermurwe.
“Hoe bly mens kwaad vir so ’n opvreetbare gesig?”
“Met moeite. Sal ek hom gaan toemaak?”
“Ag, laat hy maar vir my hallo sê.”
Die hond beur na haar uitgestrekte hand, maar Greeff skud eers sy nekplooie. “Gedra jou, nie weer opspring nie.”
Gedwee kom druk hy sy vierkantige kop teen haar palm. Sy streel sy ore tot hy met ’n sug van lekkerkry omrol.
“Don’t push your luck, pel, sy gaan nie jou pens krap nie.”
Maar sy hurk reeds.
Franco bars uit van die lag. “Weet nie hoe jy dit doen nie, Kaptein.”
“Die leepoë. Onweerstaanbaar.”
“Jy was ’n goeie sport hieroor. Dankie.”
Hul oë ontmoet en haar vingers vergeet van krap. Toe Kaptein haar met ’n snorkgeluid herinner, is sy dankievaderbly vir ’n verskoning om weg te kyk.
“Boelhonde het altyd vir my so befoeterd gelyk,” smeer sy haar ongemak toe. “Ek sou nooit kon raai hulle’s so dierbaar nie.”
“Looks can be deceiving.”
Inderdaad, wat honde én hul eienaars betref. Franco Greeff is totaal anders as wat sy haar voorgestel het: warmer, meer plat op die aarde. Die kreukels wat om sy ooghoeke waaier, getuig van ’n humorsin, die terglus daarin dat hy ander graag laat saamlag.
Wat hét sy verwag? ’n Selfvoldane glanspersoonlikheid? ’n Broeiende, verbitterde wewenaar wat sy dogtertjie afskeep?
Klaarblyklik is Tallie nie al een met vooroordele nie.
“My kind is nie so stout soos my hond nie,” sê hy. “Net ingeval jy oorweeg om te ry. En vir die rekord, Kaptein wás by ’n hondeskool, maar hy’s geskors. Trainer sê sy’t in twintig jaar nog nie so ’n hopelose geval gesien nie.”
Kaptein sug asof elke woord ’n dolk in sy lywige sy is.
Mienke gaan plat op die plaveisel sit, so hard lag sy.
Franco kyk bekommerd na haar, skynbaar onseker of vermaak of vertraagde skok haar beetgepak het.
“Dis oukei, meneer Greeff,” hyg sy, “so groot het ek darem nie geskrik nie.”
“Franco. Jy’s Mientjie, nè?”
“Mienke.”
“Mienke.”
Haar lag droog summier op. Die twee lettergrepe klink so nuut uit sy mond. So asof hy elkeen langsaam oor sy tong rol.
“Kom.” Hy hou sy regterhand uit. “Laat ek jou ophelp.”
Sy stof haar palms aan haar jeans af. Toe sy vingers om hare sluit, vloei die lamheid van haar sitvlak tot in haar bobene. Flippit, sy hoop hy het vanoggend al sy pap geëet, want sy weet nie hoe sy hier gaan opkom nie.
“Jy sal moet trek,” berei sy hom voor. “My maagspiere is bewusteloos gelag.”
“Ek’s nie bang nie.”
Hy hoef ook nie te wees nie, sy biseps bult alte netjies onder sy T-hemp se lang moue.
Ongelukkig sit hy ’n raps te veel oemf in die poging. Die momentum gooi haar van balans af en sy vlieg teen sy harde manslyf vas.
“Whoa, versigtig.” Hy kry haar aan die boarms beet. Is so naby dat sy liggaamshitte haar soos vloeibare sonskyn deurweek.
Doef. Sy sweer haar hart het weer gebokspring.
Nonsens, stry haar verstand. Dit was die impak van jou botsing teen Mr Muscle. Geen senuvesels nie, onthou? Of was dit ’n truuk van haar geheue, ’n wrede herinnering aan hoe ’n gesonde hart op ’n mooi man moet reageer?
Want – laat sy nou maar eerlik wees – Franco Greeff is vir haar ’n besonder mooi man, anderster gesig en al. Sy het vergeet hoe mooi: ná haar operasie het sy berigte oor hom en Sheralize vermy. Nogal ’n uitdaging, hul gesigte was op al wat TV-kanaal en voorblad was. Foto’s van gelukkiger tye: op hul troudag, by die Silwerskermfees, stralend van trots op hulle babadogtertjie …
Onthou is ’n skoot yswater in haar gesig. Sy los die vuisvol T-hemp waaraan sy steeds klou en wriemel uit sy arms. “’Skuus, ek het my balans verloor.”
“Huh-uh, ek het jou omgetrek.” Sy tongpunt glip oor sy lippe. “Ek en Kaptein het nie ’n great eerste indruk gemaak nie, het ons? Moet seblief nie ry voor jy Audrey ontmoet het nie. Jy sal van háár hou, ek belowe.”
Hoekom is hy so bang sy gaan ry? En dink hy sowaar sy hou nie van hom nie? Is suksesvolle akteurs nie veronderstel om vroulike bewondering as hul geboortereg te aanvaar nie? Of geld dit nie vir sepieskurke nie?
“Ek verwilder nie so maklik nie.”
Nie? vra haar verstand. Want hier flikker gevaarliggies. Lam bene? Onverklaarbare hartkaperjolle? ’n Vel wat gloei asof sy vingers haar gebrandmerk het? Gevaartekens.
Vergeet dit, sy bly tot haar kontrak Desember verstryk. Teen daardie tyd het sy hopelik ’n fraksie van haar skuld aan Sheralize terugbetaal. Enne, nuusflits: Haar vel is gevoelig omdat Franco haar nie soos ’n kristalvaas gehanteer het toe hy haar regop wou hou nie. Dis ook hoekom sy teen hom moes aangeleun het, om haar ewewig te herwin.
Fokus, Mienke.
“Waar steek jy Audrey weg?”
“Sy’t gaan skulpies optel saam met haar peetpa, ons het nie geweet presies hoe laat om jou te verwag nie.” Hy frons op na die granietlug. “Ek weet, dis nie strandweer nie. Ma’ sy’t so mooi gevra, en ek hét haar warm laat aantrek.”
Oukei, oukei, sy was verkeerd, hy is nie ’n afwesige pa nie. Onseker, ja – waarskynlik oorweldig – maar sy hart is op die regte plek.
“Montessori-onderwyseresse is groot voorstanders van skulpies optel in enige weer. ’n Leersame aktiwiteit.”
Hy flits ’n glimlag en beduie na ’n klipgebou. “Bêre sommer jou kar. Jy kan langs die bike parkeer.”
Haar deurgesitte boude protesteer toe sy weer agter die stuur inskuif. In die kantspieël sien sy hom ’n afstandsbeheerder uit sy sak haal. ’n Ry deure vou soos reusevlerke uit die muur.
Surrealisties.
Die gevoel van onwerklikheid neem toe wanneer sy die sinistere vloot voertuie gewaar, almal gitswart en blinkgepoets. ’n Moewiese Mercedes-viertrek wat soos ’n pantserwa lyk. ’n Lean, mean Harley Davidson. Drie identiese Range Rovers. Die James Bond-temaliedjie speel in haar kop: “Doe doe doe-doe”.
Skynbaar het haar stowwerige geel karretjie ook bedenkinge oor sulke stalmaats. Dit hik en stotter en wil-wil vrek. Mienke trap die petrolpedaal, en die enjin brul gepynig. Oeps. Nou net die motorfiets skraap, dan’s haar vernedering volmaak.
“Laat ek vir jou intrek,” bied Greeff aan.
“Nie nodig nie.”
“Oppas net vir die bike.”
“Ontspan.” Nietemin hou sy ook asem op tot sy langs die Harley geparkeer staan.
Hy kom maak haar deur oop, flussies se frons vervang deur ’n grinnik. “Dankie vir die vuurmaakhout. Was nie nodig nie, ma’ dis die gedagte wat tel. Self opgetel?”
“Moenie laf wees nie. ’n Ryloper het dit vergeet.” Sy klim stywerig uit.
“Nie baie verantwoordelik nie.”
“Ja, foei tog, sy hét swaar gedra. Ek hoop sy kan vanaand haar kos gaarmaak.”
“Dis onverantwoordelik om rylopers op te laai.”
“O, dít. Nee wat, ek kon sien sy’s skadeloos.”
“Hm. Wat sê reeksmoordenaars se bure altyd? ‘He seemed nice, he kept to himself.’ Jy doen dit nie weer nie, en van nou af vat jy een van die Range Rovers.”
Staan daar “behandel soos ‘n kind” op haar voorkop? Hy ken haar skaars tien minute, weet niks van haar mediese geskiedenis nie, tog skryf hy reeds voor.
“Nee dankie, ek verkies my eie kar.”
“Ons sal sien.”
Sy vuis haar hande, gereed om haar onafhanklikheid uitdruklik te verklaar, maar hy gee haar nie kans nie.
“Sleutels hang altyd in die kombuis. Vat Sophia of Jackie O. Al drie is betroubaar, maar Diana het ’n paar minor issues. Deure wat vashaak en so.”
“Laat ek nou mooi verstaan, die karre het name?”
“Sheralize het alles na celebs vernoem, selfs haar foon en iPad.” Hulle loop agter om haar motor. “Sien, die girls se name is op hul nommerplate.”
“En die groot Merc?” Dié het nie ’n verpersoonlikte nommerplaat nie.
“Sommer die G-wagon, kort vir Galandewagen. Kom, ons kry jou tasse.”
Hulle reik na die kattebakknip en sy hand vou ’n tweede maal om hare. Skokgolfies vuur deur haar arm. Dis seker hoe dit voel om aan ’n elektriese heining te raak, net … lekkerder.
’n Sirene skril in haar kop. Waddehel makeer haar? Haar reaksie is verkeerd – op soveel vlakke.
“Los, ek kan self.”
“Is jy die sterk, onafhanklike tipe, juffrou Langeveldt? Want as jy is, moet jy nóú sê.”
Sy sou gewees het as die verdomde griepvirus nie in matriek haar hartspier opgeneuk het nie. Wat sal hy sê as hy weet sy het nog nooit alleen gebly nie? Dat die ink op haar bestuurslisensie skaars droog is? Voor die operasie was sy te bang sy kap om agter die wiel.
“Hoekom vra jy?” skerm sy.
“Minder werk vir my as jy jou bagasie alleen by die trappe opsleep.”
Sy mik na die kattebak, maar hy skuur laggend verby. Moeiteloos swaai hy haar swaar tasse uit. Die seebries dra sy geur na haar. Liewe ouers, hy ruik lekker! Die ene leer, soos ’n nuwe kar in ’n groen woud ná die reën.
Nee, nee, nee! Hoeveel miljard mans op die aardbol, en sy kry haar eerste hormoonaanval oor Franco Greeff? Hoe durf haar lyf haar so verraai? Om van haar skenker nie te praat nie …
Sy byt die binnekant van haar wang. Hard. Om die hart te aanvaar was een ding, niks verkeerd daarmee nie. Sheralize kon dit nie meer gebruik nie, en indien Mienke “nee dankie” sou gesê het, het dit na die volgende pasiënt op die lys gegaan. Maar om aangetrokke te voel tot die man aan wie dit – metafories gesproke – behoort het? Onvergeeflik.