Читать книгу Eerste lewe van Adamastor - André P. Brink - Страница 6

1

Оглавление

Waarin die leser kennis maak met

’n vreemde soort voël en met ’n vrou

wat uit ’n eier gebroei word

Dit was ’n aardigheid om te sien. Van die seekant af, uit die son se broeiplek uit, het ons die twee goed sien aangeswem kom, kompleet soos twee tamaai seevoële met wit vere wat fladder in die wind wat toe net sterk gestoot het. Nie ver van die strand af nie, waar ons mense op die laagwaterrotse besig was met bymekaarmaak van mossels, het die voële loop stillê en dit het kompleet gelyk hulle trek hulle vere in. G’n aanstalte het hulle gemaak om nader te kom land toe nie. Hulle het net gebly lê, miskien op wag vir vis, maar dan moet dit walvis gewees het, so groot was die goed. Na ’n hele lang ruk het ons nog ’n derde seevoël uit die verte uit gekyk, heelpad van waar die see en die lug saam in die blou lê, tot by die vorenste twee. En toe nog ene, naderhand. Kort daarna het ’n arige soort ding gebeur. Ons staan sit nog so en kyk, toe begin die voorste voële eiers lê, sulke ronderige, bruineriges (die agterstes kon ons nie sien nie, dié was mannetjies vir al wat ons wis). En nou ook nie gatkant soos mens van ’n voël te wagte was nie, maar hier onder die vlerke uit; en daar kom die eiers toe nou branderlangs na ons toe uitgedrywe. Skaars op die sand, of daar broei mense uit hulle uit[2], nie een-een nie, maar sommer handevol. Nou, mense. Van mense het ons tog al baie soorte gesien. Die Khoi soos ons, Khoikhoin wat al van Tsui-Goab se klippetyd af in dié wêreld woon; en die San; en by die opperste rivier se kant die Kwaaimense ook, wat ons in ons taal Xhosas genoem het, ontelbare tye al daar. Maar mens soos dié mense wat daar uit die eiers uitgekom het, het ons met ’n oog nog nie gesien nie. Soos voëls, so bont, al wat kleur is aan hulle lywe, ons dag eers dis vere, maar toe sal ons sien nee, dis kleregoed. Styfstap, styfstap, volstruiserig, asof hulle pronk, en dan met baarde en snorre dat jy skaars gesig kan sien. Ook goed, want dié lyk of daar g’n vel aan is nie, so bleekwitterig soos gras waar ’n klip lank op gelê het.

Vandag sal ek nou nie kan sê of dit Vasco da Gama en sy manne was op pad Ooste toe of terug nie (op hulle eerste reis of ’n latere?); of dalk hulle voorgangers, Bartholomeu Dias en sy bemanning ’n dekade vantevore (1488) nie; of ander wat agterna gekom het. Afdrukke van skilderye en tapisserieë van Da Gama het ek natuurlik al gesien, en daardie vierkantige man in sy borduursels, die opgepofte streepmoue, die baard en snor, die Kruis van Avis op sy bors, lyk of dit bekend kan wees; maar kan mens nou skilderye glo, veral as dit hoe lank ná die tyd eers gemaak is? Bowendien, daardie mense, moet ek erken, het vir ons maar almal eenders gelyk; as jy een gesien het, het jy hulle almal gesien. Behalwe die vrou, natuurlik. Sy was anders! Maar sou ek selfs dit agtergekom het as ek haar nie te siene gekry het sonder die logge spul klere waarin hulle almal hulle so toegewikkel het nie? Kaal, glad, wit, en heeltemal allenig. Sy was anders, ja; die andersste ding wat ek nog ooit gesien het. So ongelooflik asof sy nou net lewendig opgekom het uit die wit saad van Onse Vader Heitsi-Eibib, magtige jagter. Soos ’n vuurtongetjie, ’n bitter vonk wat nou net losgeslaan is uit ’n klip deur niemand minder as Tsui-Goab vanself nie. Ek het in my lewens baie vroumense gesien, en gehad, en deur baie is ek gehê gewees; maar daardie eerste sien van die een wat ek naderhand Khois genoem het (wat Meisie, Vrou beteken, wat anders?), word deur niks anders bygekom nie. My enigste onskuld dalk. Wees dus maar bietjie toegeeflik teenoor my.

Daardie eerste agtermiddag was daar van haar g’n spoor of teken nie. Om die waarheid te sê, daardie eiers het nog skaars sand geskraap en hulle bontspul op die kant uitgebroei, toe geepad ons al daar van die rotse af, hol-hol oor die strand en die naaste rye duine en weg in die ruiebos in. Die son het al amper loop nesmaak voor ons dit eers weer gewaag het om te gaan staan. En dit was ’n koue, hongerige nag gewees, want ons het al ons kos en gereedskap net daar tussen die rotse laat lê. Heelnag het ons vasgebondel om die vuur gebly sit en luister na die hiënas wat roep en die jakkalse wat skater en te kere gaan; nie eens die diep steune van die leeu op jag kon ons verskrik nie. Want ons het gesien wat g’n mens se oog nog ooit gesien het nie; en dit was eers toe Tsui-Goab, die Rooi Dagbreek, ’n vars jag se bloed teen die lug afsmeer dat ons veilig genoeg begin voel het om die ding met woorde by te kom. Hulle het almal by my kom raad soek. Ek was die leier gewees. T’kama was my naam. T’kama, die seun van T’kaniep, die man met die voël wat nooit gaan lê het nie. En hy die seun van Goeboe, wat hulle genoem het die Man met die Honderd Hande oor hy man-alleen kon oorlog maak teen ’n vyand meer as wat jy kan tel. En hy die seun van Aob, wat die leeu doodgemaak het. Die seun van Ghaihantimoe wat die gorê met mond en vingers kon speel soos niemand anders nie. Die seun van Gôrô wat die eerste oor die Groot Rivier getrek het en teruggekom het om te vertel wat g’n mens nog gehoor het nie. Die seun van Akambi wat in sy ma se binneste sy tweelingbroer doodgemaak het en met net een bal gebore is. Die seun van K’goeda die steenbok, wat vinniger as die westewind kon hardloop. Die seun van die Groot Toordenaar. Die seun van die een wat met voëls en bome en klippe kon praat en die tale van mense en diere en plante en klippe kon verstaan. Die seun van die een wie se ma ’n blouwildebees was. En so terug, en so terug, tot anderkant die tyd van Heitsi-Eibib, tot waar Tsui-Goab die rots van die aarde gemaak het en klippe daaruit losgebreek het en asem in hulle ingeblaas het en mense van hulle gemaak het, die eerste man Kanima, die Volstruisveer, en sy vrou Haunamaos, die Geelkoper.

Ek het vir die mense raad gegee. Eers het ons teruggegaan na die hutte wat ons toe maar ’n volmaan terug in die oopte tussen die nabome in die ruigte kom staanmaak het, en waar ons die vorige dag skoon verbygesteek het oor ons nie wou hê die bont baardmanne van die see moet agterna kom en die plek kry nie. Daar moet roofdiere in die kontrei gewees het die nag, want by die kraal kry ons al die vetstertskape uitgebreek en toe kos dit heeldag om hulle weer bymekaar te kry en die takkraal ruier te pak. Van sononder af en deur die nag het ons gesing en musiek gemaak en gedans en Tsui-Goab se kant toe gebid; en in die dagbreek het ons gewater oor die doodgaankole van die vuur, en vars water uit potte en kalbasse voor die inkomplekke van die hutte uitgegooi. Toe eers is ons terug strand toe.

Uit die bosse uit het ons dopgehou terwyl die eiers weer uitkom land toe (die voële moet hulle die nag onder hulle vlerke gehou het) en die manne begin werskaf op die oopte. Water het hulle loop haal uit die vlak riviertjie wat net anderkant die streep rotse in ons baai uitloop. Klere het hulle gewas. ’n Klompie is die bosse in, op soek na kos, het dit gelyk.’n Ruk later was daar ’n snaakse donderslag in die verte, onverstaanbaar, want daar was nie ’n wolk in die wit lug nie; en so ’n uur daarna het die klompie teruggekom met ’n dooie springbok aan ’n draagpaal wat twee op hul skouers gedra het. Alles wat ons mense ook maar gedoen het. Maar wat ons die meeste gerus gestel het, was dit: dat teen die son se hoogtyd ’n nuwe klomp manne in ’n dop van die voële af uitgekom het strand toe en toe uit die dop uit ’n yslike ding gesleep het, soos ’n lang boom sonder blare en net met twee dwarstakke bo. Die hele klomp van hulle het saamgewerk om die ding teen die heuwel uit te sleep wat agter die rotse uitkom bokant die duine en bosse uit, en daar het hulle dit in ’n gat gaan inplant, en die grond vasgestamp, en ’n hoop klippe begin te pak om dit stewig te hou, presies nes ons mense klippe in die ou tyd gestapel het op die baie grafte van Heitsi-Eibib in die droë land. Dit was duidelik dat dié mense ook respek gehad het vir ons Groot Jagter; dus was daar vir ons niks te vrees nie. Tot dié onder ons wat nog kort tevore lugtig was of lus vir baklei, het met die sien van dié klipstapel die bedenkings afgeskud.

En kort ná sonuit die anderdagmôre, toe die watervoële weer begin eiers lê oor die water, het ons oop en bloot op die sand na hulle toe uitgeloop. Nou was dit die vreemdelinge wat lugtig was. Maar ons het ons pyle eenkant op die sand neergesit en melkkalbasse voor ons uitgedra en met dié het hulle toe, lyk dit, moed geskep.

Dit was net onmoontlik om oor en weer iets gepraat te kry. Ek het die indruk gekry die mense het niks soos ’n taal nie. Geluid kon hulle maak, maar sonder dat dit enigiets beteken het, skoon ’n gegerrebek van voëls. Miskien wás hulle dan tog ’n soort voël. Maar naderhand het ons darem met ons hande en so aan die beduie geraak, en hulle ook. Wat ons harte gewen het, ek sê dit reguit, was toe ’n paar van hulle omdraai na een van die eierdoppe op die sand en daaruit al die velle en messe en skep- en kapgoed loop haal wat ons die dag met die weghol op die rotse laat agterbly het. En nie net dit nie, maar hulle begin toe met ’n presentgeëry ook. Dis die mooiste blink krale, allerhande kleure, en stukke koper, en kleregoed wat ons vrouensmense laat skree het van die lag, en rook- en kougoed wat mens se kieste laat water trek het. Dan nog ’n ding waaroor ek moeilik praat, en dis ’n vuurwater wat met die sluk al mens se binnegoed behoorlik aan die brand laat slaan het, toorwater, sterker as enige gismelk of heuningbier wat jy aan kan dink.

Moeilik oor praat, sê ek, want net met die eerste sluk, toe ek gewaar hoe my mense begin te bokspring, het ek besef dis ’n gevaarlike storie dié. En des te meer toe ek later die dag agterkom daar sit nou ’n warm malligheid in al wat mens van my is. Praat kan jy met hulle praat, hulle sit lag net skreefoog teen die son, onkapabel.

Hier moet lig geloop word, het ek hulle die aand ingesê. Dit lyk alte veel na ’n sagmakery dié. As die mense môre weer met die vuurwater kom, dan drink ons nie. Enigiets anders, maar dié ding bring moeite.

Goed en wel, maar die volgende dag kom ek gou-gou agter my mense steur hulle nie aan my nie. Vroom waar ek kyk, maar as ek weer sien, dan het die vrolikheid party van hulle beet en op ’n afstand kry jy al die ruik. En toe ek my kierie onder hulle wil inlê, toe’s daar ’n gebrom soos in ’n kwaai bynes; die eerste keer ooit dat daar teen my teengepraat word. Want vir wat wil ek die lekker van hulle afhou? wil hulle weet. Dit sal julle nog agterkom, maar dan is dit te laat, sê ek.

Dié dag raak dit duidelik dat die vreemdelinge nie net tevrede is met presente gee nie: hulle wil ook hê. En eerste wat hulle wil hê, is vrou. Taal hoef mens mos nie te kan praat om dit te beduie nie, dit verstaan iedereen. As die bruidsprys reg is, het ek toegegee, goed, dan kan dit nie te veel skeel nie; maar ek kom agter party van my mense wat van die vuurwater inhet, deel sommer hul eie vroue en vrouskinders uit, verniet. Ek en ’n paar van die oueres het probeer keer, maar dit was soos skaap wat uit ’n kraal uitbreek, een-een hier, een-een daar, en voor jy jou kom kry, is dit ’n hele stroom alkante by jou verby.

Iets koddigs het ons opgelet tussen die kwaad deur. Dat die vreemde manne wat vrou gekoop het, diés eers gewas het. Nie van kop tot tone soos mens sou dink nie (en ook seker goed, want water mors mens nie sommer op ’n ding soos was nie), maar so druppeltjies-druppeltjies in die gesig, met ’n oor en oor pratery, as mens dit dan praat kan noem, asof daar boontoe met die mense van die skaduwees raad gehou word. Wat lyk na ’n naamgeëry. Asof die vroumense nie klaar naam gehad het nie: nee, elkeen moet nou kwansuis nuut naam kry. En meestal was dit Maria dit of Maria dat, vir so ver mens kon agterkom. Eers daarna is hulle met die vroumense bos toe. Toe nog die snaaksste: soos hulle terugkom, gee hulle die vroumense weer terug. Eers was ons boos, veral dié onder ons wat ’n goeie prys gekry het; maar toe kom ons agter die vreemdelinge wil nie die bruidskat terug hê nie. Elke keer as hulle ’n vroumens bos toe vat, dan betaal hulle van voor af. So sou mens kon ryk word.

Net, ek was bekommerd oor die vuurwater. Nog meer toe die vreemdelinge begin beduie hulle soek vee ook. Vrou is een ding, skaap of bok of bees weer iets anders. Ek het my mense dik aangepraat toe ons weer alleen was: ’n handjievol vee, en teen die hoogste prys, maar dan is dit genoeg. Toe kom ek die volgende dag daarop af dat ’n paar van my mense, en dit van my voorstes, Sigeb en Aob en Daghab en dié, stil-stil ’n hele stroom skaap uit die kraal afkeer strand toe; en ek sien die aanjaers die steier-steier en trap hoog, en toe ek probeer keer, wil Sigeb sommer kierie inlê. Vir hom het ek gou platgetrap, maar van die ander kon ek nie keer nie. Ek is toe alleen strand toe om met die vreemdelinge te gaan praat, as mens dit praat kan noem, en die vee terug te vra; maar daar raak hulle toe astrant met my. Een van hulle vat ’n soort ysterkierie en voor ek my kom kry, knal die donderweer hier vlak voor my dat ek gat-oor-kop agteroorslaan. Met dié het ek geweet: dié mense het met Heitsi-Eibib niks te make nie, dit was alles verneukery, hulle is van Gaunab se slag en soort, pens en pootjies uit die Swart Hemel uit.

Weer het ek die aand met my mense gepraat, dat hulle kan verstaan hier kom moeilikheid. Maar so wragtig staan van hulle toe op en sê reguit hulle luister nie meer nie: een van hulle, nogal Khoesab, van kleintyd af my maat, staan en praat met ’n hele karba vuurwater in die hand. Wat hy waar gekry het? vra ek. Dis sy saak, sê hy. Ek loop hom by en gryp die karba vas; maar toe ek my omdraai, staan daar ’n halfmaan van my mense kierie in die hand agter my asof hulle g’n stuk van my is nie. Ek wou nog die ding breek gooi teen ’n klip, toe sê Khoesab: “Gooi, dan is jy vannag self breek.” En een van die ander sê: “Gee.” Terwyl ek staan en kyk, so kwaad soos watse geitjie, vat hulle die karba en gee hom van man tot man aan, hand tot hand, en elkeen vat ’n sluk terwyl hy my vas in die oë kyk. Die volgende oggend toe lê hulle almal poot-uit en snork dat dit ’n vieslikheid is. En ek sit met die hartseer in my dat iets aan die breek is tussen ons.

So moes ek my maar tru hou, die dae daarna. ’n Paar van die ander het begin voel soos ek, maar onder die jongeres was dit moerig. En wie weet wat nog sou gebeur het, maar dis toe dat ek die vrou kry.

Vra my nou wat het ’n vrou daar op die skepe gesoek? Dié vraag het my in my later lewens baie gehinder. Nêrens kon ek ooit enige getuienis kry dat Da Gama of Cam of Dias of d’Almeida of watter ander vaarder ook al vroue op hul skepe saamgeneem of teruggebring het nie. Inteendeel, so ’n praktyk sou tog ondoenlik gewees het volgens elke denkbare sosiale, ekonomiese, morele, religieuse of pragmatiese oorweging van daardie tyd. Aan die ander kant, juis omdat sulke oorwegings bestaan het, kan mens verwag dat senhor Da Gama en sy kollegas die teenwoordigheid van vroue in hul midde bewustelik sou verswyg het selfs al was hulle daar. Dan nie? En al mag hulle vrouloos uit die mond van die Taag weggevaar het, wie sê hulle het nie soms elders vroue ingeskeep nie? – die eggenotes van predikers, skipbreukelinge of wat dies meer sy? In ieder geval is dit skaars ter sake wat die geskrifte van die geskiedenis daaroor sê. Die nugtere feit was dat daar op dié bepaalde reis, in daardie uitheemse mannegeselskap, wel ’n vrou wás. En ek het haar gekry.

Op die oggend van die sesde dag het sy uitgebroei uit ’n eier, op die branders gelê deur een van die groot watervoële wat nog altyd in die verte gelê en dobber het.

Eerste lewe van Adamastor

Подняться наверх