Читать книгу Eerste lewe van Adamastor - André P. Brink - Страница 7

2

Оглавление

’n Klein hoofstukkie oor

’n groot misverstand

Sy was alleen. Ek het die hele tyd bo teen die klipkop waar hulle die kruis ingeplant het, gesit en dophou hoe die bruin eier met haar aankom, aankom land toe tot sy op die harde nat sand uitgeklim het. Ek het voordag al die hoogte uitgeklim met my bokvelsak vol gawes vir Heitsi-Eibib: ’n kalbas met heuning, ’n volstruiseier nog doer uit die Kamdeboo uit saamgedra, suurmelk, bokvet, ’n sakkie boegoe. Laat dié mense dan bedrog gepleeg het met hulle klippers, ek sou dit aan Heitsi-Eibib wy soos dit hoort. En dit was swaar vir my. As my kop vir my sê ek is te kwaai op my mense, die vreemdelinge bedoel dit goed; dan sê my konterkop nee, dis soos jakkals wat ’n erdvark se gat kom vat. Heen en weer het dit in my kop gegaan, heen en weer, dagdeur, nagdeur. Dié dat ek dan in die voordag al daar bo was, om uit te kyk oor die groot skulp van ons baai, waar ons altyd somers kom staan het. Agter my die land, groen en ruig maar kwaai, met sy doringruigtes en sy klip, aasvoëls in die lug, die boggels en karbonkels van sy berge, donker waterlope onder; voor my die koue see, witgestreep. Skaars was ek nog daar, sonop, toe het ek al die groot voële se eiers weer sien uitkom land toe. My mense het die manne ingewag. Die dag was bestem vir jag. Ek het hulle gewaarsku, maar wie wou nog na my luister? Die manne is die ruigtes in. Die vrouens en kinders het weggestreep oor die vou van die baai, oorkant toe, klein soos miertjies naderhand. Ek het maar gesit.

Dis toe dat die enkele agterna-eierdop begin uitkom het land toe; ek het nooit eens gewaar hy word gelê nie, hy’t maar so-so gebeur. Met die wind en al van agter het hy gesukkel, sleg geskommel, nie so flink soos die ander gewoonlik nie. Eers na ’n lang ruk het hy sand geskraap en die mens binne-in het uitgekom. Die klere langer en ook helderder gekleur as die ander s’n, maar agtergekom het ek nog niks. Die mens is op kaalvoete, wit voete, oor die sandstrand in die koers van die breë vlak riviermond skuins onder my sitplek. Oor die rotsplate het hy geklouter: ek dag mos nog altyd dis ’n hy. Plek-plek gaan hurk hy by die poeletjies en steek en por met ’n stok daarin, karring rond, voel-voel tussen see-eiers en pers anemone; loop dan weer aan; hurk; loop. Naderhand op die voorste rotse, die hoogste punt, penorent om alkante toe te kyk en seker te maak daar’s niks en niemand in sig nie, ene meerkat. ’n Hele lange ruk, toe eers begin hy tydsaam losmaak en afstroop aan die klere op klere op klere, tot by die witste binneste, pure uintjie wat jy afskil. Ek het nog bly sit, nie geroer nie. Die kale mens het spring-spring oor die plate gevoetvoel na die lang smal poel aan die ver kant, en nog dan en wan bly staan om rond te kyk. Daar was net meeue. En ek; maar vir my kon die mens nie sien nie, nie daar bo in die klippe in nie. Selfs toe dit in die water ingaan, het ek voetjie vir voetjie begin afkom. Nog niks vermoed nie.

Eers toe ek reg teen die kliprand van die poel kom staan, gewaar ek dis vrou. Nooit ’n man nie. Die ronde borskalbassies, en hier, so, dit kan man mos nie miskyk nie. Met dié kry die mens my toe ook in die oog, en sy gee ’n skreeu. Ek buk nog ewe en tel haar klere op om vir haar te gee, maar toe begin sy éérs te kere gaan. Pure nes ’n krap begin sy val-val wegskarrel oorkant toe, en kort-kort steek sy vas en draai half om en smyt handevol wit water na my kant toe. Ek kon die skrik nie verstaan nie.

“Moetsi atse,” het ek gegroet, want so is ek grootgemaak. “Ek sien jou.”

Sy’t bly water spat en skree.

Om haar te laat sien sy’s veilig, daar is niks om voor bang te wees nie, ek is mens nes sy, het ek die riempies losgeknoop wat die ghai-vel van saggebreide muskeljaat voor my hou. Die skree wat sy tóé geskree het, was iets verskrikliks. Skoon uit die water uit, oor die gladde rotre, val en weer op, val en weer op, in ’n wye boog oor die strand, heel by my verby, terug na waar sy gelê is, en heeltyd aan die skree soos ’n meeu.

“Hebba ha!” het ek agter haar aangeroep. “Kom hier!”

Maar dis net lang wit bene wat swaai, met dié manier wat ’n vrou mos het om te hardloop, en die hare los, tot sy binne-in die eier tuimel wat haar kant toe gebring het.

Dit was soos een van dié drome wat die naglopers aanbring om ’n man in sy slaap te pla: as jy wakker word, dan staan jou ding soos ’n kierie en bewe. En net daar kom ek toe agter hoekom sy geskrik het, want daar was ander gewees wat vóór haar vir my geskrik het, in die seun-en-meisiespeletjies van ons kleintyd, toe dit al begin duidelik word het wat ek, T’kama Grootvoël, van my onstuimige pa geërf het. As sy my net wou kans gee: met bietjie geduld kon alles opgelos word. Maar geduld was net wat ek self toe ook nie gehad het nie. Want ek wis, terwyl ek haar so staan en kyk, dat daar ’n bitterbessiegifpyl in my lewe kom sit het. Dié kop-orent mamba van my sou nie weer tot rus kom voor hy lêplek kry diep in die kloof wat vir hom bedoel was nie, soos daardie orent ding in die heilige stapel van Heitsi-Eibib. Verslae en hartseer soos ek was, het ek nie eens aanstalte gemaak om haar agterna te sit nie. Net bly staan en kyk hoe sy klein raak oor die sand, al duskant die hoogwatermerk langs waar die sand vas was, tot terug in die dop. En toe’t sy begin terugroei teen die lae skuimbranders in, wegter en wegter van my af, heel uit my lewe uit, vir goed, die groen see in.

Eerste lewe van Adamastor

Подняться наверх