Читать книгу Woestyngevangene - Andrea Abbott - Страница 4

2

Оглавление

Skaduwee! Dis al waaraan Leo kan dink. Maar die enigste stukkie wat daar is, is sy eie skaduwee, en dit help hom niks. Dis soos ’n senuagtige hond wat wegbeweeg elke keer wanneer jy probeer nader kom.

Die skroeiende son is genadeloos en die sand voel soos ’n brandyster teen sy bene. Hy plof neer, trek sy knieë op, leun vooroor en probeer sy kop en arms teen die son se fel strale beskerm. Die ander soek seker na my; hulle sal my nou-nou kry.

Hy wag.

En wag.

En wag.

Niks beweeg nie. Daar is geen welkome geluid van ’n enjin om die verstikkende stilte te verbreek nie. Dis so stil dat hy sy ore kan hoor suis. Die skril ziennnnggggg klink soos die geluid van sonbesies in die somer.

Die tyd sleep verby, die son skroei sy pad oop deur die lug, die gesuis in sy ore word harder. Al wat verflou, is sy hoop dat die ander sal terugkom. Miskien kom iemand anders hier aan. Maar dis mos nou wensdenkery. Wat is die kanse dat iemand skielik in hierdie onverbiddelike en leë plek sal opdaag? Ek sal voor dan doodgaan van dors.

Hy smag na iets om te drink. Sy tong is dik en opgeswel en sy keel is so droog soos die sand om hom. Die dors word al hoe erger, tot dit al is waaraan hy kan dink. Niks anders maak op hierdie oomblik meer saak nie.

Drome van skaduwee maak plek vir fantasiebeelde van water: vonkelende water; glase water waarin ysblokkies rinkel; kristalhelder rivierwater wat oor klippe klater; watervalle wat by berge afstort; mere water, koel en blou en diep; reën wat die aarde deurdrenk; vars water wat sy mond vul en by sy keel afloop, hom afkoel en hierdie verskriklike dors les.

’n Sagte geluid, soos iemand wat asemhaal, onderbreek sy dagdroom. Hy kyk op.

Daar staan ’n hond naby hom. Die uitgeteerde brak staar hygend na hom.

Leo knip sy oë. Ek verbeel my goed.

Maar die hond is nie ’n illusie nie. Hy is so werklik soos die hitte. Sy yl, sandbruin pels is styf gespan oor die rimpels van sy ribbes, en die punte van sy ore is geskeur en gaar gebyt deur vlieë. Sy kop lyk nogtans sterk, met ’n breë voorkop en ’n swart snoet. Hy het lang, gespierde bene en sy stert staan reguit agter hom in die lug.

Hy is gehawend en taamlik lelik, nie ’n hond wat jy graag sou wou streel nie. Leo wil nie hê hy moet enigsins nader kom nie. Hy is heel moontlik ’n verdwaalde hond wat wild en kwaai geword het. Een verkeerde beweging, en die hond is kapabel en val hom aan. Dis al wat hy nou nodig het!

“Wat wil jy hê?” vra hy. Sy stem bewe en verraai sy vrees.

Die hond staar hom steeds met oë van staal aan.

“Voertsek! Gaan weg!” Leo tel ’n hand vol sand op en gooi dit na die brak.

Hy staan terug, maar nie op ’n stert-tussen-die-bene-manier nie. Hy bly trots en regop. Hierdie hond is nie senuweeagtig of dreigend nie, maar vol selfvertroue, te oordeel aan hoe hy Leo aankyk. Dit lyk kompleet of hy die seun iets probeer vra: Sy kop is skuins gedraai en hy knip nie ’n oog nie. Hy is beslis nie die basterbrak waarvoor Leo hom eers aangesien het nie. En dit lyk ook nie of hy die seun enige kwaad wil aandoen nie.

Versigtig steek Leo sy hand uit. “Het jy ook verdwaal?”

Die hond draf ’n entjie weg, stop, draai om, en kyk weer na hom met daardie selfde nuuskierige uitdrukking.

Leo staan op en loop na hom toe.

Die hond gee weer pad en stop net buite sy bereik, asof hy ’n speletjie speel.

Leo is nie lus vir speletjies nie. “Ag, vergeet dit,” sê hy en plof weer op die sand neer.

Die hond staar na hom.

“Wat wil jy hê?” vra Leo.

Die hond draf weg en kyk terug oor sy skouer. Toe Leo hom nie volg nie, kom hy terug. Hierdie keer stop hy so naby dat Leo sy hondereuk kan ruik en sy warm asem op sy nek kan voel. Hy wag om te sien wat die hond volgende gaan doen.

Vir ’n rukkie beweeg nie een van die twee nie. Maar die hond verbreek op die ou end die dooiepunt en herhaal dieselfde gedrag. Hy beweeg weg, stop ná ’n paar meter, draai om en kom terug. Hierdie keer gee hy ook ’n kort blaffie.

“Probeer jy vir my iets sê?” vra Leo. “Wil jy hê ek moet saam met jou kom?”

Die hond kry met lang spronge koers. Leo staan op en volg hom. Hy kyk aanhoudend terug, ingeval iemand opdaag om hom te red. “Waarheen gaan ons?” vra hy, meer vir homself as vir die hond.

Dit lyk nie of daar êrens is om heen te gaan nie. So ver as wat die oog kan sien, is die woestyn ’n warm, droë see van rooi. Sy golwe is die horisontale hittegolwe: wrede lugspieëlings wat dorstige woestynreisigers flous en laat dink daar is water voor hulle. Maar, nes skadu’s, beweeg hulle gedurig verder terug. Niemand kom ooit naby aan hulle nie.

Terwyl hy agter die hond aansukkel, weet Leo hy vat ’n kans. Bly waar jy is, kom die raad van lank gelede weer in sy kop op. Maar dis net as jy nie ’n hond het wat vir jou wys waarheen om te gaan nie. Die hond hardloop verder sonder om een keer te stop, aan die grond te snuif of die lug te ruik, of selfs rond te kyk. Daar is ’n doelgerigtheid aan hom wat Leo laat dink hy weet presies waarheen hy gaan.

Nadat hy ’n laaste keer omgekyk het, besluit Leo eens en vir altyd om die brak se lot te deel. Soos enige lewendige wese kan ’n hond nie lank sonder water oorleef nie. En as dié een in hierdie verdorde plek aan die lewe kan bly, moet hy weet waar om dit te kry. En wat meer is, hy lyk amper mak. Hy moet aan iemand behoort. Dalk is hy nou selfs op pad huis toe.

Die ander het al ure gelede hier weggery, dink Leo. Sy skaduwee gee hom ’n aanduiding van tyd. Dis nou baie langer as toe hy middagete teen daai koppie opgeklim het. En al een wat nog opgedaag het, is die hond. As ek hier bly, wag ek dalk vir die res van die dag en die hele nag. Teen dan sal ek doodgaan van die dors.

Nadat hy alles oorweeg het, besluit hy die hond is sy beste kans om gered te word. Hy sal hom maar moet vertrou.

* * *

“Eish!” sê Victor en druk ’n yskoue blikkie teen sy wang. “Net wat ek nodig het.” Hy trek die ringetjie bo-op die blikkie oop. Daar is ’n sisgeluid soos die soet swart vloeistof skuimend opborrel en by die kante afloop. Hy slurp dit op. “Lekker!” sê hy. Hy gooi sy kop terug en drink die blikkie met een lang teug leeg.

* * *

Leo sal enigiets gee vir net een druppel vloeistof. Die woestynlug is ’n dor droogte in sy mond en keel. Hy is duiselig en die ziennnggg in sy ore is so hard dat dit amper die klank van sy eie asemhaling en die doef-doef-doef van sy hart se gehamer verdrink. Sy kop klop en sy oë brand so erg dat hy die hond skaars kan sien. Die dier is so wasig soos die hittegolwe in die verte.

Hy weet nou hy het ’n verskriklike fout gemaak. Die brak is nie ’n held nie. Hy is nie Lassie op ’n ongelooflike reis terug huis toe deur ’n wilde en vyandige land nie, ook nie ’n Sint Bernard op ’n waaghalsige soek- en reddingsveldtog of ’n spoorsnyhond nie. ’n Rondloper, dis al wat hy is. Hy dwaal net doelloos deur die woestyn, soos enige ander dier wat daar bly.

Leo kan nie glo hy was so onnosel nie. Ek moes gewag het. Ek is seker die ander het ná die storm teruggekom.

Maar hy kan nie nou omdraai nie. Hy en die hond loop al ’n ewigheid lank, dalk ook in sirkels. Hy sal nooit die pad terug na daardie inselberg toe kry nie.

* * *

“Waar’s Leo?” vra Treasure toe sy agterkom hy is nie buite by die res van hulle nie. Sy staan op haar tone en loer by Eva se Land Rover in om te sien of hy op die agterste sitplek slaap.

“Hy’s by julle,” sê Eva, en voeg dan onseker by: “is hy nie?”

Treasure laat val haar koeldrank. Die blikkie kletter op die teer. “Nee!” snak sy en gryp haar gesig met albei hande vas.

“Hau!” roep Humphrey uit. “Ons het hom daar gelos!”

* * *

Leo strompel steeds agter die hond aan. Iets pootjie hom, dalk sy eie voete, en hy val plat op sy gesig.

Uitgestrek op die woestynsand, voel hy sy krag wegvloei. Hy probeer opstaan, maar kan nie ’n spier verroer nie. Dis die einde. Niemand gaan my kry nie. Ek gaan doodgaan.

’n Vreemde gevoel kom oor hom, asof hy wegdryf, weg van homself af, weg van die dors, die hitte en die vrees. Die rooiwarm wêreld om hom dryf ook weg totdat alles helderwit is, soos ’n ster wat ontplof. Net toe hy dink hy kan die helderheid nie meer verdra nie, word dit geblus deur ’n swartheid wat alles inneem.

Alles is weg.

Of is dit? Die niks verdwyn ook en sy lewe begin verby hom flits. Eers sien hy homself as ’n seuntjie wat in ’n poel water plas saam met ’n ander klein seuntjie wat vaagweg bekend lyk. ’n Ou man kom in die prentjie in en Leo dink hy herken hom ook. Dalk is dit sy oupa wat baie jare gelede dood is?

Soos tonele in ’n fliek, verander die prent skielik na ’n beeld van sy huis in die dorpie Salt Rock aan die ooskus van Suid-Afrika. So duidelik asof hy werklik voor dit staan, sien Leo die wit kothuis op ’n krans hoog bokant die Indiese Oseaan. Seemeeue kring bo die dak, in die lug wat so sout is dat jy dit op jou vel kan ruik en proe.

Saam met die prentjies hoor hy ook geluide, klanke wat hy al sy lewe lank ken: die meeue se skril gekrys, die branders wat breek op die rotsagtige kus onder die kranse, die wind wat huil op stormagtige nagte. En nou stemme. Sy beste vriende, Chris en Riaan, roep hom: “Kom jy see toe? Die branders is lekker groot.”

Leo sien hulle voor sy geestesoog: Chris, so lank soos Leo, maar twee en ’n half jaar ouer, sy hare songebleik en sy oë blou soos die see; en Riaan, so oud soos Leo, maar korter as hy met krullerige donker hare en bruin oë.

Nóg stemme. Dis sy ouers, Marius en Zara Knight, wat laat een aand, ’n warm en bedompige aand, op daardie wit kothuis se stoep gesit en praat het.

“Waarvoor is jy bang, Zara?” het Leo se pa sag gevra. “Dat hy nog steeds kwesbaar is?”

“Wel, hy is,” het sy geantwoord. “Veral aangesien hulle deur Aus gaan. Jy weet net so goed soos ek daardie bende sal nooit moed opgee nie.”

Aus? Wat daarvan? En watter bende? het Leo gewonder.

“Hulle’s genadeloos, maar nie idiote nie,” het Marius gestry. “Hulle sal baie ver van Aus af wees. Hulle is tien teen een nie eens meer in die land nie, anders was hulle nou al vasgetrek en dan sou Axel . . .”

Zara se stem het hom skerp onderbreek. “Ek weet. Miskien is ek paranoïes, maar watter ma sou nié wees nie, in so ’n situasie?”

“Ek veronderstel so,” het Leo se pa sag gesê. “Ek dink deesdae dis tyd dat ons Leo daarvan vertel. Hy onthou niks daarvan nie, maar dis net regverdig dat hy die waarheid weet.”

Die waarheid waaroor? Dit het so interessant geklink! Leo het regop in sy bed gesit en nader aan die venster geleun sodat hy duideliker kon hoor.

Maar sy ma het vasgeskop. “Nee!” het sy ferm gesê. “Nog nie.”

“Wanneer dan?” het Marius gevra.

“Wanneer hy in die hoërskool is en dit beter kan hanteer,” het Zara geantwoord.

Dis volgende jaar! Nog eeue ver. Leo wou bars van nuuskierigheid en het amper uit die bed geklim om vir hulle te gaan vra wat die geheim is. Maar hy het geweet sy ouers sou kwaad wees. “Dis onbeskof om af te luister,” sou sy ma heel moontlik sê. Hy het gewens sy wil ophou om hom te behandel soos ’n sissie wat nie ernstige goed kan hanteer nie. Hei, ek surf in die Indiese Oseaan, wat wemel van haaie! wou hy uitroep. En Ma stres nie daaroor nie.

“En boonop, afgesien van al die ander dinge,” het Zara voortgegaan, “is ek nie seker of hy by daardie groep sterrekundiges inpas nie. Hy’s maar net twaalf. Die ander is baie ouer: negentien, twintig. En Dawie is twee-en-twintig. Sal Leo regtig . . .?”

“Hulle het hom genooi,” het Marius gesê. “Ek is seker hulle is verantwoordelik, selfs al is hulle studente. En onthou, die Stertrek is al waaroor hy op die oomblik kan praat. Dink daaroor. Hoeveel twaalfjariges is ywerige sterrekundiges en het die ondernemingsgees om by ’n universiteit se Sterrekundeklub aan te sluit?”

Zara het gesug. “Seker baie min. Maar dit wys hoe diep dinge in families loop.” Daar was ’n stilte, en toe: “Wie sou dit kon dink? Ná . . .” Sy het weer gehuiwer, “. . . alles.” Sy het so sag gepraat dat die swiesj van die branders onder op die strand haar woorde amper verdrink het. Maar niks kon die bitterheid daaragter smoor nie.

“Jy moet dit laat gaan.” Marius se sagte stem het die bitterheid probeer verdun. “Of dit gaan jou vernietig.”

“Dit het reeds, Marius. Lank gelede. En nie net vir my nie. Ons almal. Veral Axel.”

Weer daardie naam: Axel. Dit klink vir Leo bekend. Hy sien ’n vlietende beeld van ’n klein donkerkopseuntjie, maar dit verdwyn voor hy kan uitwerk wie dit is.

“Ons het dit nogtans oorleef,” het Marius voortgegaan, “en ons het nog mekaar.” Daar was ’n gekraak van die rottangstoel soos hy vorentoe geleun het, of dalk teruggesit het. “Onthou altyd, ons het alles gedoen wat ons kon, en meer. En ek sal nooit moed opgee nie. Diep in my hart glo ek nog steeds . . .” Maar hy het nie sy sin klaargemaak nie.

“Zara, ons moet aanbeweeg. Ons is dit aan Leo verskuldig. Niks kan die verlede verander nie, en ons kan nie toelaat dat dit die toekoms ook heeltemal verwoes, of ons dryf daartoe om ons seun in te perk nie. Ons moet toelaat dat hy . . . jy weet, sy vlerke sprei en die wêreld verken.”

’n Rukkie stilte, toe het Zara weer gesug en gesê: “Jy’s reg, skat.” Leo kon hoor sy snuif, asof sy teen trane veg. “Ek wens net die Stertrek was iewers anders. Enige plek behalwe . . . behalwe . . . waar dit alles gebeur het.”

Ses maande later, duisende kilometers ver, neergevel op die woestynsand, hoor Leo die gesprek weer duidelik. Dis asof hy weer in sy eie bed is en luister na sy ouers se stemme wat deur die oop venster indryf. Hy wonder weer wat gebeur het wat hulle lewens vernietig het. Nou sal hy nooit uitvind nie.

Hy moes daardie aand beter geluister het. Hy moes gehoor het dat sy ma regtig bekommerd was, in plaas van om te wens dat sy hom soos ’n grootmens kon behandel. Dan sou hy dalk by die huis gebly het.

Dan sou hy nie nou hier in die woestyn ’n nare dood in die oë gestaar het nie.

Woestyngevangene

Подняться наверх