Читать книгу Dokter Dierbaar - Anita du Preez - Страница 3
1
ОглавлениеDie oomblik toe Vicky gaan sit, begewe haar moed haar. Die mansmens voor haar lyk soos iets uit ’n glanstydskrif. Onwerklik. Sy het iemand soos ou dokter Jacobs, haar huisdokter op Robertson, verwag. Iemand vaderlik en gerusstellend, nie hierdie prototipe vir manlike perfeksie wat agter sy blink dubbelbedgrootte lessenaar oorkant haar sit nie.
Sy donker, stylvolle ontwerpers- deurmekaar hare omraam ’n vorstelike gesig met sensitiewe gelaatstrekke. ’n Gesig wat vrouens in hul hordes uitasem hul week se broodgeld oor die toonbanke van lokette sal laat stoot as dit op die lokplakkaat vir enige Hollywood-produksie moes verskyn. Vicky kom agter dat iets ontstellend aangenaam selfs in háár diepste vroulike wese begin prikkel ten aanskoue van soveel manlike sensualiteit, en sy was nog nooit een wat maklik op hol raak oor ’n man nie. Selfs sy hoë voorkop met die eerste tekens van ’n terugwykende haarlyn en die streng lyne langs sy mond wat ’n ander man dalk minder aantreklik sou maak, dra in sy geval net by tot sy aristokratiese voorkoms.
Wat de joos het jou besiel, Vicky Serfontein? gaan dit deur haar kop. Jy hoort nie hier nie. Sy voel na haar handsakkie onder die stoel en korrel doer na die spreekkamer se deur.
Skielik pen sy persblou oë haar vas. Soos warm melasse drup daar ’n stem uit sy meesterstuk van ’n mond: “Waarmee kan ek help, juffrou Serfontein?”
’n Ligte fronsie laat kreukel sy donker wenkbroue toe sy nie antwoord nie.
“Dis my neus, dokter Venter,” kry sy dit uiteindelik uit.
Sy wys na die ongewenste item op haar gesig, asof die befaamde dokter Paul Venter, dié plastiese chirurg van die dekade, ’n padkaart nodig het om dit te vind.
“Ek haat my neus,” piep sy.
Dokter Venter leun effens vorentoe op sy lessenaar en bou rustig ’n torinkie met sy hande. Hande wat enige beeldhouer wat sy sout werd is haastig na sy beitels sal laat gryp. Hande wat ook Vicky se asem wegslaan omdat hulle presies lyk soos die hande waaroor sy nog altyd fantaseer, maar nog nooit by enige man gesien het nie.
Haar verwagtinge van die perfekte paar manshande is nog altyd teleurgestel. Tot nou. Van die sterk polse wat net-net wys verby die mou-omslae van sy spierwit hemp tot by die netjiese naels en die effens deursigtige sensitiewe punte van sy lang vingers, is hierdie man se hande kunswerke! Liewe hemel, dink sy effe kortasem, hoe moet dit voel as daardie hande aan jou vat?
Die stilte in die vertrek suis so hard in haar ore dat sy skrik toe hy na ’n paar oomblikke weer praat. Die professionele kyk in sy oë stroop byna letterlik die vel van haar gesig af.
“Hoekom?” vra hy.
Vir ’n oomblik weet sy nie waarvan die man praat nie. Toe dit uiteindelik tot haar deurdring dat hy ’n antwoord verwag, pas al haar goed voorbereide redes wat sy vir hom wou voorlê skielik nie lekker op haar tong nie.
Sy het lank hieroor besin. Om aan jou neus te laat timmer, is nie iets waaroor ’n meisie ligtelik of selfs net ydellik besluit nie. Sy het immers al genoeg kere na sogenaamde makeover-programme gekyk om te weet dit behels hamertjies, skreeuende draaisagies en bloed. Beslis geen towerstaffies nie.
Dis net dat sy al soveel ure met haar handspieëltjie voor elke spieëlkas waar sy ook al kom haar neus van alle kante bestudeer het. Sy kon haarself nog nooit keer nie. Sy het bly hoop dat hierdie spieël, in hierdie lig, haar sal wys dat sy haar al die jare verbeel het en dat sy eintlik ’n oulike wipneusie het. Net om telkens voor die waarheid te staan te kom en opnuut innig te wens sy kan net die effense kromming op die brug wegmaak.
Dit het daardie Donderdag op laerskool begin.
“Désirétjie,” was juffrou Barnard se verpletterende woorde, “jy gaan vir ons Sneeuwitjie speel in die konsert. En Vickytjie, jy is so mooi lank, ek dink jy sal die dierbaarste ou heksietjie wees met daai oulike uittandjies, nè?”
Vicky is nou nog trots op haarself dat sy nie daar en dan op die vloer geval en haar beentjies gillend begin skop het nie. Sý was Sneeuwitjie, nie die vervlakste Désiré met haar ou simpele spierwit hare nie. Weet die juffrou dan nie dat Sneeuwitjie in háár storieboek op háár boekrak in háár kamer swart hare het nie?
Dis egter presies daar waar die tipies vroulike tweegeveg in haar psige begin het tussen die strewe na uiterlike skoonheid en die skuldbesef van die oppervlakkigheid van sulke ydelheid. Maar sal hierdie popgesigdokter dit ooit verstaan? Sy twyfel.
Maar nou ja, mymer Vicky verder, haar ma het haar nie verniet Victoria laat doop nie. In hulle huis moes almal hulle mos te alle tye gedra soos daardie legendariese beduiwelde ou Britse koningin. Tantrums was nie hoog op haar etiketlys nie. Tranedalle en bewende bolippe ook nie.
Vicky se bolip wou egter nie daardie Donderdag luister nie. Sy onthou nog duidelik hoe dit onbedaarlik begin bewe het toe sy haar ma se handspieëltjie die middag ná skool gevat het om vir die eerste maal in haar agtjarige lewe haar profiel te bestudeer. Daar is dit toe duidelik in die ou ronde spieëlkas met die twee halfmaansyspieëls maal drie weerkaats. Die rede waarom sy so ’n oulike heksie sou uitmaak, letterlik die wortel van alle kwaad: haar krom neus.
Emosionele teistering was een van die redes wat sy die dokter wou gee. Skielik klink dit nou na so ’n siestog-arme-ekke-verskoninkie hier waar sy voor hom sit. Hoekom voel ’n mens altyd spyt dat jy nie aan die een of ander indrukwekkende siekte ly as jy so voor ’n dokter sit nie? wonder sy vir die hoeveelste keer in haar lewe.
Sy wou nog noem dat dit haar kanse om ’n man te kry ook beïnvloed, maar dit sou nie waar wees nie. Aan mans en selfs huweliksaansoeke was daar tot op hede geen tekort in haar lewe nie. “My eie Streisand,” het Peet Voete, wat die advertensies by The Advertiser op Robertson doen, haar nog sommer nou die dag met aanbiddende oë genoem. Jason kondig haar ook met ’n soort diepe respek as Cleopatra aan elke keer as sy dit kan bekostig om by Hair by Design in te stap.
Nee, daardie rede sal nie hond haaraf maak nie, besluit sy. Hierdie dokter Venter se vlymskerp oë beloof om netjies dwarsdeur so ’n opgekookte verduideliking te sny.
Verder wou sy aanvoer dat sy op ’n professionele vlak genoodsaak is om so ’n stap te neem, maar ook hierdie liegstorie lyk skielik baie deursigtig. Die feit dat sy al hier en daar vir ’n modelkontrak afgewys is omdat haar besondere voorkoms “a wee bit too dramatic” is, sal hier ook nie die nodige gewig dra nie.
En om de dood kan sy nie vir die vervlakste man sê dis haar kêrel Renier se grille wat haar finaal tot hier voor hom in sy spreekkamer gedryf het nie. Nee, dis te persoonlik. Dit sal glad nie deug nie. Buitendien sal hy dink sy is ’n ruggraatlose leëkop wat haar deur ’n man laat voorsê.
Hoe sal hy ooit kan verstaan waartoe ’n meisie haarself sal dryf om ’n vangs soos Renier gelukkig te hou? Renier is ’n rare vonds. ’n Argitek – wel, amper een – en dus ook ’n kunstenaar. Fyngevoelig, vertroud met sy vroulike sy en ingestel op absolute perfeksie. ’n Ware millenniumman. Min mense verstaan hom soos wat sy hom verstaan, dink Vicky.
“ ’n Regte ou knol vol tjol,” is Doll, haar parmantige buurvrou in die woonstel langs hare, se opsomming van hom.
“Ek sê niks, my kind,” was haar ma se woorde. “Ek weet mos as ek net iets teen die man sê, hol jy reguit in sy arms in, maar ek kan dink wat ek wil.”
Wys jou net, sê Vicky koppig vir haarself. Nie Ma of Doll het ’n enkele kunstige selletjie in hul DNS nie. Hoe sal hulle kan verstaan dat die enigste rede hoekom Renier effens afgekoel het teenoor haar bloot toegeskryf kan word daaraan dat hy imperfeksie eenvoudig nie kan uitstaan nie?
“Alexander Calder het die konsep van perfeksie só verwoord, Victoria, my skat,” het Renier gisteraand gesê en die kunstenaar met dromerige oë aangehaal: “To an engineer, good enough means perfect. With an artist, there’s no such thing as perfect.”
Sy het dadelik verstaan wat hy bedoel: die voortdurende strewe omdat niks ooit te perfek kan wees nie. Wel, behalwe die man wat hier voor haar sit. Hy kom nogal gevaarlik naby daaraan.
“Juffrou Serfontein?” vra die dokter.
“Want ek wil nie die heks wees nie! Ek wou Sneeuwitjie gewees het!” sê sy.
Die woorde glip onverwags uit haar keel. Oombliklik wens sy dat sy hulle kon terugsluk. Waar op aarde het dít vandaan gekom? Sy deel nooit dié ongelukkige brokkie persoonlike geskiedenis met ander nie.
Nee, o heng, hier moet sy wegkom. Hierdie man se oë mis niks. Sy maak haar mond oop om haar flater toe te smeer met ’n kwinkslag oor tydelike waansin of so iets, maar toe sy na hom opkyk, is sy skielik sommer net woedend. Om sy mondhoeke sweef die oorblyfsels van ’n glimlag en in sy oë is daar sweerlik ’n fyn geamuseerde vonkeling.
Skielik is Vicky die ene Victoria. En Victoria Serfontein is niemand se grap nie. Sy staan so waardig op as wat haar een-punt-sewe lyf dit toelaat. Nou het sy mos genoeg gehad, besluit sy vies. Sy moes na Doll geluister het.
“Jy gaan ’n yslike krater van jouself maak, hoor wat ek vandag vir jou sê,” was Doll se woorde laat gisteraand.
Sy steur haar gewoonlik nie aan Doll se knaend vrypostige en uitgesproke opinies nie, maar Doll was hierdie keer reg, erken sy knorrig. Waarvoor wil die vervlakste vent weet hoekom? Dis tog háár saak as sy hom wil betaal om aan haar neus te werk, dan nie? Daar is niks fout met haar psige nie, net met haar neus.
Sy trek haar oë dreigend nouer en roep die koudste stem in haar repertoire op. “Totsiens, dokter Venter. Dankie vir jou tyd, maar nee dankie. Ek sal tog nie van jou dienste gebruik maak nie. Miskien was my motiewe tog twyfelagtig. Dit het so pas vir my duidelik geword presies hóé oppervlakkig die idee van kosmetiese chirurgie eintlik is. Ek kan skaars glo ek het dit oorweeg. My fout. Jammer.”
Toe stap sy so fier as wat haar ma se geliefkoosde koningin haar nie sou kon nadoen nie, uit sy spreekkamer. Haar laaste indruk van dokter Venter is sy verbaasde wenkbroue wat skielik soos twee donker vraagtekens hoog teen sy voorkop sit.
Wie de joos dink jy is jy, jou verwaande, arrogante buffel? stoom sy in haar gedagtes terwyl sy die trappe aftrippel na haar motor in die ondergrondse parkeerruimte. En om te dink sy het daar gesit en swymel oor die vent!
Sy klim in haar verbleikte rooi Mazdatjie. Sy ruk die hefboom woes in trurat en gee vet terwyl sy boosaardig in haar truspieël ’n syaansig probeer kry van die deel van haar anatomie wat verantwoordelik is vir hierdie hele petalje. Sy swaai die stuurwiel net ’n aks te gou en word luid begroet deur die sieklike, knersende klank van staal op staal.
Victoria vries en die Mazda sterf rukkend.
Sy kyk skigtig om haar om vas te stel wie het dit gesien. Uit die hoek van haar oog vang sy ’n stomp mannetjie wat met flappende geel plastiekvoorskoot-affêre en swaaiende arms aangehobbel kom. Die veiligheidswag. Haar moed sak in haar nuwe stiletto’s wat sy verniet aangetrek het om die dokter darem ’n bietjie te wys sy weet van.
Die mannetjie loer by haar ruit in. Die twee voortande wat in ’n grynslag ontbloot is in sy molgesiggie, vertel haar hy is paraat en beslis nie van plan om hierdie bietjie sensasie in sy saai daaglikse ondergrondse bestaan by hom te laat verbygaan nie.
“Kên aai jêlp ju, laidie?” sê hy.
“Het jy pen en papier?” vra sy moedeloos.
Hy pluk ’n voosgevatte ou skoolnotaboekie met lyntjies uit, skeur ’n blaaitjie af en bied dit triomfantelik vir haar aan saam met ’n geel potloodstompie. Victoria skryf haar naam en adres daarop en gee dit vir hom.
“Ek sal sorg dat die eienaar van die Lamborghini dit kry,” sê die belangrike mol.
Asof daar ooit enige twyfel daaromtrent was, dink sy wrang. Toe tref dit haar. Lamborghini?
Sy kyk vir die eerste maal na die motor langs haar. Daar staan die plat, spierwit kunswerk van ’n vuurwa. Iets so na aan perfek dat selfs haar Renier tevrede sou wees. Afgesien van die drie lang skaafplekke, diep genoeg dat die silwer onder begin deurslaan, wat soos wonde mooi netjies al teen die sykant af lê.
Net daar besef Vicky dat die ou polissie wat haar pa vir haar uitgeneem het toe sy omtrent net gebore is, nie meer gaan betaal vir haar nuwe neus nie.
Vicky is byna verbaas dat haar beknopte woonstelletjie nog presies dieselfde lyk as toe sy vanoggend hier uit is. Die bed in die een hoek lê nog net so onopgemaak vir haar en kyk. Die rekenaar in die oorkantste hoek knor nog net daar op die wankelrige tafeltjie en het skynbaar nie ’n saak met die trauma wat sy so pas deurgemaak het nie. Die verslete ou tweedehandse blou rusbank staan nog onverstoord waar hy altyd staan voor die venster met die halfmasgordyne. Al die uitrustings wat sy aangepas het, lê steeds oral rondgedrapeer en het nog nie vanself in haar lendelam hangkas teruggespring nie. By die opwasbakkie in die hoek, wat as die kitchenette bestempel is in die koerantadvertensie wat haar genooi het om die plekkie te huur, wag gisteraand se skottelgoed rustig net so vuil vir haar.
Elke keer as Vicky van iewers af terugkom, tref die onreg hiervan haar opnuut.
“Jy doen die kinders nie ’n guns om so agter hulle op te tel en skoon te maak nie, my vrou,” was haar pa se wyse voorspelling. “Die dag as hulle vir hulleself moet sorg, gat hulle aftjop, sê ek jou nou.”
Aftjop is omtrent wat sy en Heinrich doen.
“Veral Boeta, daar ver in Ingeland,” het haar pa lekkergekry. “Ek wil nog sien hoe hy gaan regkom met ’n kokery met daai twee stomp handjies van hom. Om van Miss Victoria en haar plannetjies om Kaap toe te gaan nie eens te praat nie.”
Hy het ’n punt beetgehad, dink Vicky terwyl sy met ’n sug verklee en toe begin opruim. Hoe de joos ’n mens ’n werk moet vol staan én jou blyplek perfek hou, is ’n geheimenis wat nog vir haar onopgeklaar bly. Om van werk krý sodat jy kan oorleef nie eens te praat nie. Op hierdie stadium sal sy enige werk vat. Die regte werk in die joernalistiek waarvoor sy opgelei is, sal kom, dit weet sy, maar intussen klop sy oral aan. Ontvangsdame, kelnerin,vryskutmodelwerk – sy sien kans. Solank dit tydelik is en solank dit goed betaal.
Hoewel sy duidelik kan sien die liggie flits nie, druk sy hoopvol in die verbystap die knoppie op haar duur antwoordmasjien. Sy moes dit noodgedwonge aanskaf ingeval Fresh Faces ’n boodskap wou los ná haar laaste oudisie.
Nou ja, suster, sê sy vir haarself, jy het geweet dit gaan nie oornag gebeur nie. Topposte vir joernaliste is geplant en nie gesaai nie. Wees liewer net tevrede dat jy nog hier en daar werk kry.
Sy is nog besig om haar klere op te hang en haar swart uitrustinkie vir die aand se geluk van ’n joppie by ’n klub in Langstraat reg te sit, toe haar deurklok lui. Vicky sien sommer deur die dik melkerige riffelglaspaneel in haar voordeur dis Doll.
“Ja, jong,” groet sy haar buurvrou.
“Ag, en joune ok,” sê Doll en skuur met haar formidabele buuste by Vicky verby.
Sy sien hoe Doll se helderblou ogies die toestand van haar woonstel opsom voor sy deurstryk wasbak toe.
“Not good, hû?” sê Doll met haar hande in die seperige water.
“Ek is mos besig om skoon te maak,” sê Vicky verdedigend.
“Praat van jou afspraak by die plastic surgeon, bobbejaan,” sê Doll en vee ’n stuk van haar styfgepermde bottelblonde hare met ’n nat hand uit haar oog. “Jou hele body language skree vir my dit was nie exactly ’n suksesvolle trippie nie.”
“As dit maar al was,” knor Vicky, min lus vir die bedienery wat nog vanaand voorlê.
Al is The Club hoe duur en baie eksklusief, dis steeds nag vir ’n girl se voete. Vir jou mond ook eintlik. Die permanente glimlag tot voordag toe is moordend, om die minste te sê. Veral as jy voor jou siel weet die leeueaandeel van jou fooitjies sal seker nou in die sak van ’n peperduur paneelklopper beland.
Doll bekyk haar onder yl wimpertjies deur en skakel die ketel aan.
“Dè,” sê sy en stop ’n beker sterk tee in Vicky se hand.
Sy plak haar aartappel-op-twee-stokkies-lyfie met ’n sug op die rusbank neer, skop haar rubbersloffies uit en tik met ’n pofferhandjie op die pap kussing langs haar.
“Vertel,” sê sy.
“Nee, jong,” sê Vicky en sak vermoeid langs haar neer. “Die dokter is ’n vark. En toe skraap ek die een of ander ou ryk blikskottel se ou verskriklike kar ook nog toe ek wegtrek.”
“Hoe de hel het jy dít reggekry?” vra Doll.
“Maklik,” sê Vicky en vat ’n sluk tee. “Nie gekyk waar ek ry nie.”
“Jong, dis hoekom ek nog nooit allie jare gebodder het om ’n licence te kry nie,” sê Doll en suig trots deur haar vals tande asof haar gebrek aan hierdie spesifieke vaardigheid eintlik ’n prestasie is. “Vat liewer ’n taxi. Dan kom ek ok waar ek wil wees.”
Die foon lui. Vicky duik omtrent om dit te beantwoord. Dis Renier en nie Fresh Faces nie. Hy wil weet of hulle mekaar later gaan sien.
Dis ’n taai toffie. Soos baie ander goed wat sy van Renier af weghou, mag hy nie weet dat sy nie oorval word met modelkontrakte nie. Baie beslis ook nie dat sy van vanaand af haar lyf hostess sal moet hou by ’n plek soos The Club nie.
Sy dink vinnig, maar lieg sleg.
“Ek voel nie lekker nie,” sê sy by gebrek aan iets minder voorspelbaar.
Doll kyk haar skeef aan. Gelukkig lui die deurklok. Doll is mal daaroor om Vicky se deur oop te maak vir haar gaste. Sy druk haar afgetjipte rooi toontjies voor jy kan sê mes in haar sloffies.
Sy pluk die deur oop met ’n heupswaai sonder om eers behoorlik te kyk wie dit is. “Step into maai parlor, sêd de spaaider toe de flaai,” sê sy ewe kontant.
Vicky probeer om die hoek sien wie Doll so verwelkom, maar die gelieg vir Renier kom nie maklik nie en sy is nou al besig om te borduur op die eeue oue ek-moet-my-hare-was-tema.
“O koek! Sorrie!” hoor sy Doll sê.
Toe weet Vicky die tribulasies waarna haar oorlede groottante Nonnie altyd verwys het, is vir dié dag nog lank nie verby nie.
“Ek bel jou terug, Renier, hoor!” sê sy so lief as wat sy kan en draf deur toe.
“Juffrou Serfontein?” sê die man op haar drumpel.
Vicky kyk twee keer. Wat de joos soek hý hier? wonder sy, want voor haar staan dokter Venter. Hy lyk heel anders as vroeër in ’n kakiekortbroek met baie sakke en ’n wit T-hemp wat hom jare jonger en nog heelwat sexier laat vertoon.
“Dokter Venter?” gaap sy in haar beste guppie-karaktervertolking tot op hede.
“Juffrou Victoria Serfontein?” herhaal hy.
“Ja?” sê sy.
Sy gee ’n treetjie agtertoe. Hy gee ’n treetjie binnetoe.
Toe die lig mooi op sy gesig val, sien Vicky iets is nie lekker nie. Die man lyk allesbehalwe soos een wat vriendelik na haar welstand kom verneem het. Daar is ’n yslike plooi tussen sy oë. Om die waarheid te sê, hy lyk hoogs die duiwel in.
“As dit oor u rekening is –” begin sy, maar hy val haar bars in die rede.
“Dis in verband met my mótor, juffrou Serfontein,” sê hy.
“U motor… ooo…” sê sy en haar woorde raak heserig weg soos die Mazda se wispelturige toeter.
Die Lamborghini. Hoe anders? Hoe tipies.
Hoe dom kan ’n mens wees? Natuurlik behoort die ou dêm kar aan hom.
“Ja, juffrou Serfontein, my kar,” sê hy met klem op elke lettergreep.
“Maar ek het mos ’n briefie gelos,” sê sy verdedigend.
“Baie dierbaar van u, juffrou, maar briefies maak nie motors heel nie, verstaan?” sê hy druppend sarkasties. “U het ook nagelaat om ’n telefoonnommer te los, dus was ek genoodsaak om al die pad tot hier te kom.”
Sy stem sny gate deur alle moontlike redelike verskonings.
“Big deal,” glip dit skielik by Vicky se mond uit.
“As dít u houding is, juffrou, het ons seker nie verder iets vir mekaar te sê nie.”
Sy oë flikker vir ’n sekonde oor haar en haar woonplekkie.
“Ek hoef seker nie eens te vra of u enige versekering het nie,” sê hy smalend.
Hy swaai netjies op sy hakke om en begin wegstap. “U sal spoedig van my prokureur hoor,” sê hy oor sy skouer.
Al wat Vicky sien toe sy om die deur loer, is twee perfek gevormde, gespierde kuite en ’n eksklusiewe paar tekkies wat by die trappe af verdwyn. Sy is skielik pynlik bewus van haar knap, uitgerafelde denimkortbroekie, haar kaal voete en die heerlike vars, sensuele naskeermiddel wat sy vaagweg kan ruik waar hy so pas gestaan het.
“Juslaaik,” sê Doll met wydgerekte oë toe Vicky die deur stadig agter haar toetrek.
Hulle sak saam ewe verslae op die blou bank neer. Doll skud iewers ’n pakkie tien Royals uit. Sy werk een met geoefende lippe los, steek dit op en blaas die rook fronsend boontoe.
“Tja,” sê sy.
“Dit kan jy weer sê,” sê Vicky beswaard.
Doll hou die pakkie woordeloos na haar uit. Sy skud haar kop. By geleentheid vat sy enetjie, maar nie nou nie, sy is naar genoeg.
“Nou sê my,” begin Doll fronsend. “Hierie gorgeous stuk vleis wat nou hier by jou deur was en jou vark plastic surgeon en die ryk ou wie se kar jy amper getotal het, is een ennie selle mens?”
“Lyk my so,” sê Vicky sugtend.
“Juslaaik,” sê Doll weer en suig diep aan die sigaret.
Dis lank stil tussen hulle.
“Ek moet klaarmaak,” sê Vicky toe sy haar eindelik oplig en badkamer toe mik.
Sy verskyn na ’n ruk toegerol in ’n handdoek. Sy trek die swart broek en top aan wat sy vroeër uitgekies het en druk haar smal voete in ’n paar plat kuitlengte leerstewels. Met ’n vaardige hand grimeer sy vinnig. Doll sit soos altyd oopmond en kyk, om “tips” te vang.
Vicky bondel haar hare op haar kop vas. Sy buk effens om die effek te sien in die gespikkelde spieël in haar hangkas se deur. Haar dowwe weerkaatsing kyk meewarig met skuins gemmerkleurige oë na haar.
“Nee,” sê sy hardop. “Af is beter.”
Sy borsel die swart massa driftig los om haar kop en vat die handspieël om te sien watter styl haar neus minder beklemtoon.
“Los,” sê Doll, wat weet sy gaan enige oomblik in elk geval gevra word.
“Seker?” vra Vicky.
“Los, vas, whatever. Jy lyk in elk geval stunning,” brom Doll.
“Genuine?” vra Vicky.
“Ja, queen Victoria. As ék so gelyk het, was ek lankal stinkryk,” is Doll se uitspraak.
“En die broek?” wil Vicky weet.
“Like a glove, liefie, like a glove.” Doll skud haar kop. “Jinne, met daai lyf? Jy vra nog.”
Vicky wonder of sy nog oor die toppie ook kan vra, maar Doll is oud waar die hond haar gebyt het.
“En daai kaalmaag-toppie is perfect op jou.” Doll kyk vieserig na haar eie middellyf. “Maar vat ’n warm ietsie vir bo-oor. Jy loop nie so in die strate nie.”
“Ja, Ma,” sê Vicky met haar eerste regte glimlag van die dag en draai uiteindelik tevrede voor die kas weg.
“Dan loop ek maar.” Doll hys haar steunend op uit die ingesakte bank.
Vicky trek die voordeur agter hulle toe.
Onder in die straat loop sy ’n slag om die Mazda. Daar is nêrens eens ’n nuwe merkie te bespeur nie.
“Wys jou net,” brom sy en streel liefdevol oor die verslete bakwerk van haar ou ryding. “Die fancy ingevoerde goed is tien teen een pure visblik.”