Читать книгу Dokter Dierbaar - Anita du Preez - Страница 4
2
Оглавление“I want you down by the door, Miss… e… Serfontein,” kondig Clive af toe hy al sy personeel soos skoolkinders op ’n ry saamgebondel het in sy eksklusiewe hi-tech bokamer van The Club.
“But?” begin Vicky protesteer, want sy weet uit ondervinding dat die meisies wat by die tafels bedien se fooitjies aansienlik meer is as dié van die sogenaamde doorladies wat deesdae by die ingange van sulke deftige plekke pronk.
“No buts, Miss Serfontein. Or may I call you Vicky?” smaal Clive met vol lippe en stryk oor sy kaalgeskeerde kop.
“Your dramatic looks and posture is perfect for it, so door it is for you, okay?” handel hy die saak net daar af met die gesag wat pas by sy posisie as hoofgrondboon in die pakkie. Toe draai hy na sy volgende slagoffer.
“Not to worry, my angel,” sê ’n skraal outjie met ’n pienk streep voor in sy blonde kuifie. Hy sit sy hand vertroostend op Vicky se skouer. “The tips are shared.”
“Nog erger,” brom sy.
“Is jy Afrikaans, my ding?” vra blondekuifie.
“Gebore, ja,” sê Vicky steeds omgekrap.
“O! Met ’n impressive naam soos Victoria dog ek… jy weet?” verduidelik hy met sy singerige stemmetjie.
“Ek is Nigel,” sê hy en tik met beringde hand voor op sy swart help-my-sterk-lyk-hempie. Hy gee haar ’n wittandglimlag wat dadelik ’n blitsvriendskap snoer.
“Jy kan bly wees jy bedien nie in die restaurantgedeelte nie. Die spyskaart is so lank soos my arm en jy moet elke dis uit jou kop ken.”
Vicky vergaap haar so aan die ingewikkelde tatoeëerpatrone op Nigel se regterarm dat sy nie hoor baas Clive spreek haar aan nie. Skielik pomp Nigel haar in die ribbes met sy elmboog, rol sy oë en wys na Clive met sy wenkbroue.
“Come with me, Vicky,” beveel Clive fronsend. Hy stap met wikkelboudjies voor haar uit ondertoe na die swaar houtdeur waar sy moet stelling inneem.
Teen masjiengeweerpas blaf hy haar pligte vir die aand uit. Twee deurwagte sal sorg vir orde. Die gaste moet een vir een verwelkom en ingelaat word, nadat sy hul ingangsfooi van honderd-en-vyftig rand ontvang het. Sy is verantwoordelik daarvoor dat niemand inglip nie, en foute sal van haar geld afgetrek word op Donderdae, wat skynbaar betaaldag is. Sy kry ’n basiese bedraggie van sewentig rand per aand en die res is, soos Clive dit met ’n suggestiewe knipoog stel, “up to you, my girl”.
Vicky maak nog haar mond oop met baie vrae, toe draai hy op sy puntskoene om en begin gil op iemand doer by die enorme blink ebbehout-en-chroom kroeg.
Hier gaan ek mos armer raak as wat ek is! maak Vicky die som.
Clive swaai weer skerp om. “As you have probably noticed, this club is expensive and the restaurant is very, very exclusive. We do not want to attract the wrong kind of crowd. Among our clients are the rich and famous of the city. The so-called beautiful people. Therefore I want you to use a little discretion, my dear.” Hy fluister skielik kameraadskaplik: “If they are fat or ugly, you simply deny them entry, okay?”
“Ekskuus?” sê Vicky, onseker of sy reg gehoor het. “How am I supposed to do that?” voeg sy ontsteld by.
“Simple,” sê Clive skouerophalend, “you charge them double.”
Vicky staar sy potsierlike, oorbespierde lyfie in swart leer sprakeloos agterna.
“If they can afford that, then you let them in anyway,” sê hy ongeërg oor sy skouer.
Skielik vertoon die plek vir haar sterk ooreenkomste met die verkeerde kant van die Hiernamaals, soos dominee Sieberhage dit destyds in katkisasie vir hulle beskryf het.
Daar is egter nie kans vir verdere oordenking nie, want twee reuse stoot die yslike poorte op knarsende wiele oop vir die tou mense wat buite wag om in te kom. Vicky sien sommer sy sal vanaand haar storie moet ken.
Teen elfuur is sy gedaan, en dis nog nie eens modieus laat genoeg vir die heel boonste laag Mooi Mense van die stad om op te daag nie. Haar keel is droog en haar nood is hoog.
Genadiglik verskyn Nigel soos ’n blonde engel langs haar met ’n bottel water.
“Vat ’n break, my ding, ek sal jou cover vir vyf minuutjies,” sê hy en wikkel hom agter haar tafel in.
Presies vyf minute later is sy terug.
“Agge nee,” sê Nigel. “Pleks jy nou net ’n sekonde langer gevat het.”
“Hoekom?” vra Vicky.
“Kyk regs en ween, my skat!” sê Nigel feitlik bewoë. “Daar kom die mooiste man wat ooit geskape is nou net by die deur in.”
Vicky kyk. Toe duik sy omtrent onder die tafel in.
“Hoe is dit moontlik?” kerm sy. “Drie maal op een dag? Dit kan nie wees nie! Nie in hierdie grote stad nie!”
“Staan regop, vrou,” sis Nigel. “Dis dié dokter Paul Venter, die plastiese chirurg.”
Vertel my iets wat ek nie weet nie, dink Vicky.
“Ek weet nie wie die skoonheid by hom is nie, maar Clive vermoor jou as jy nie nou jou ding doen nie. Baai,” sê Nigel deur sy tande. Hy kies blitsvinnig koers na sy pos agter die kroegtoonbank.
Vicky staan, maar dis omtrent al. ’n Houtpop is ’n mooi aap, sou Doll van haar vertoning sê.
Sy vat die dokter se Vreeslike-Belangrike-Persoon-toegangskaartjie by hom met bewerige vingers. Sy laat hom en sy beeldskone blonde jong metgesel in sonder om te weet of sy moet, en sonder om op te kyk. Genadiglik lyk dit of hy haar nie herken nie, of dalk nie wíl herken nie, met die pragtige vroumens wat feitlik oor sy arm gedrapeer is.
Hy sê niks, en tog kyk hy ’n slag fronsend om toe hy wegstap.
Vicky blaas haar asem stadig uit en staar hulle agterna. Sy swart hare kleef klammerig aan sy nek asof hy pas uit die stort kom. Hy dra ’n spierwit hemp. Sy lang, gespierde bene word knus omlyn deur ’n swart denimbroek met modieuse nou pype tot by sy swart leermokassins.
Die vroumens pas netjies onder sy arm, wat besitlik rus oor haar skraal ontblote rug in ’n laaggesnyde heuningkleurige top. Sy dra ’n styfpassende broek van dieselfde kleur, met effens donkerder leerstewels wat tot bo-oor haar knieë pas. Haar glansende blonde hare is argeloos agter haar kop vasgevang en ’n breë leergordel omsluit haar smal heupe. Saam vorm hulle ’n paartjie wat die verkeer tot stilstand sal dwing, of ten minste hordes mense gimkontrakte sal laat koop.
Op daardie presiese oomblik weerklink blikkerige boeremusiek van iewers af, net toe die jazzorkes skynbaar ’n blaaskansie neem. Vicky kan haar ore nie glo nie. Met groeiende onrus besef sy dat die geluid van háár persoon afkomstig is. My selfoon! besef sy en soek krampagtig in haar swart jeans se sak.
Sy vat dit eindelik raak. Sy sien dis Renier en druk dit venynig dood. Net ’n aks te stadig. Paul Venter en sy meisie was nog naby genoeg om dit te hoor. Albei draai om na waar sy skaapagtig met die ding in haar hand staan. Hierdie keer sien sy duidelik die herkenning in dokter Venter se geamuseerde donkerblou oë.
As ek Pa darem in die hande kry! dink sy briesend. Dis sowaar niemand anders as daardie platjie se werk nie. Vandat hy uitgevind het hoe om luitone vir selfone in die hande te kry, is niemand veilig nie. Hy moes sweerlik hierdie besondere deuntjie spesiaal vir haar uitgekies en geprogrammeer het toe sy die naweek by die huis was.
Sy het nog nie haar selfoon sedertdien gebruik nie omdat sy nie lugtyd gehad het nie, besef sy vies. Moes Renier juis nóú besluit het om haar te soek?
Daar is egter nie tyd vir trane nie, want ’n nuwe bondel laataandjollers staan reg om in te kom. Genadiglik lyk nie een van hulle vet of lelik nie. Darem iets om voor dankbaar te wees, dink sy, want hoe sy dít sou hanteer, wil sy liewers nie weet nie.
Toe Vicky uiteindelik by haar woonstelletjie kom, stroop sy haar klere af, pluk haar ou slaaphemp oor haar kop en val op haar deurmekaar bed neer. Sekondes nadat sy haar geliefkoosde ou slap kussing omhels het, slaap sy vas. Maar die laaste beeld wat voor haar geestesoog verbyskuif voor sy wegraak, is nie Renier se gesig nie, maar dié van Paul Venter met sy stortklam hare wat omkyk na haar in die klub.
Sy word eers wakker toe die verkeersklanke onder in die straat tot by hul etensuur-desibels styg. Iewers huil ’n sirene en taxitoeters speel saam.
Vicky het nog nooit juis omgegee nie. Sy hou gewoonlik van die geraas, want dit laat haar weet sy is nie regtig alleen op die aardbodem nie. Dit laat haar beter voel om te weet duisende ander rondom haar in die stad is ook maar daar onder iewers aan’t woelt om verandering, soos tante Nonnie graag die ou gesang aangehaal het.
Vandag is sy egter nie so seker of sy nie dalk al meer as haar daaglikse porsie verandering in die gesig gestaar het nie. Die vorige dag se spul gebeure staan tou by die poorte van haar bewussyn om eerste in te kom, terwyl haar liggaam sukkel om by te hou. Sy slof badkamer toe en skakel die ketel in die verbygaan aan.
Gisteraand se tweehonderd-en-dertig rand aan fooitjies gaan nie juis ’n gat maak in die regmaakkoste van ’n Lamborghini nie, is die gedagte wat die botoon voer terwyl sy haar eerste sluk koffie vat. Die gedagte dat sy haar enigste neseiertjie daarvoor sal moet gaan trek, maak haar sommer naar op die maag. Sy sleep ’n kombers nader en krul mistroostig en besluiteloos daarmee op die blou bank op.
Die nare wanklank van haar verroeste deurklok ruk haar wakker. Sy sukkel traag deur toe, kombers en al. Toe sy oopmaak en sien wie daar staan, moet sy hard veg teen die impuls om die ding eenvoudig oor haar kop te trek en haar te verbeel sy is nie daar nie.
“Juffrou Serfontein?” vra Paul Venter. Hy is duidelik onseker of dit sy is wat onder die wollerige pienk kombers skuil.
“Dis ek, ja,” antwoord sy moeg.
“Mag ek ’n oomblik inkom?” verneem hy tot haar groeiende ontsteltenis.
Sy staan woordeloos opsy. Hy tree huiwerig na binne. Toe sy beweeg, voel sy die kombers vee soos ’n bruidsluier agter haar aan en sy laat val vervaard haar snoesige skans.
Skielik besef sy dat sy nou kaalvoet in haar slaaphempie voor die man staan. Dis duidelik dat hy dit ook besef, sien sy, want hy kyk met iets soos geamuseerde deernis na haar. Sy mondhoeke plooi al weer asof hy vir haar wil lag. Sy slaan haar arms beskermend om haar lyf.
“Kan ek help, dokter Venter?” vra sy so waardig as wat sy kan.
Hy trek sy gesig met moeite op ’n formele plooi. “Eintlik is ek hier om te hoor of ek vir u hulp kan aanbied, juffrou Serfontein.”
Sy trek haar asem in, maar hy spring haar voor.
“Dis tog duidelik dat u die een is wat hulp nodig het in hierdie situasie en nie ek nie?” sê hy. Sy vervlakste meerderwaardige twee wenkbroue beklemtoon sy woorde.
“Nie noodwendig nie,” antwoord sy met stywe lippe.
Sy kry skielik koud op die kaal plankvloer, maar in haar kop is ’n hele swerm bye besig om vuur te stook.
“Sit, asseblief,” sê sy en wys met wat sy hoop koninklike grasie is na die flenterbank. “Verskoon my ’n oomblik,” voeg sy by.
Toe hy vieserig gaan sit, gaan haal sy haar ou lang rooi kamerjas agter die haak in die badkamer. Sy gord dit stewig om haar middel. Priesterlik getooi gaan staan sy voor hom en trek haar wenkbroue net so hovaardig soos syne op.
“As ek hierdie ontydige besoek te danke het aan u besorgdheid oor u motor, wil ek u dadelik gerusstel dat ek dit ruimskoots kan bekostig om daarvoor te vergoed,” sê sy en kyk hom uit die hoogte aan.
“Hmmm…” antwoord hy en kyk met oordrewe ongeloof om hom rond.
“Moenie dat my omstandighede u op ’n dwaalspoor bring nie, dokter. Ek verseker u dis bloot tydelik,” sê sy met nadruk. “Ek sal elke sent wat dit kos om u motor te herstel maklik kan betaal.”
“Dis dus bloot vir die pret dat u gisteraand deurmeisie by die klub was, neem ek aan?” gaan hy onverstoord voort, maar die wenkbroue praat anders.
“Navorsing,” sê sy nadruklik, sonder dat sy weet waar dié idee vandaan kom.
“Inderdaad?” smaal hy. Die wenkbroue verdwyn amper heeltemal onder sy donker kuif. “Waaroor, as ek mag vra?”
“U mag nie,” antwoord sy moedswillig en pers haar lippe opmekaar. “Kan ons dalk nou by die punt van u besoek kom, asseblief?” voeg sy hom snedig toe. “Ek is jammer, maar ek het ander afsprake.”
“Nou goed, juffrou Serfontein,” sê hy formeel. “Ek wil vir u werk aanbied.”
“Werk?” gaap sy en gaan sit op die bank se punt. Sy ruk haar reg en doen haar bes om soos een te lyk wat vreeslik baie werk het.
“Watse werk nogal?” vra sy asof die idee haar eintlik effens verveel.
“As junior ontvangsdame by my praktyk,” sê hy en sit sy arms agtertoe op die bank se rugleuning.
Vicky maan haarself om nie na sy hande te kyk nie. Sy moet kophou.
“Ontvángsdame?” vra sy asof hy haar darem nou regtig in die gesig vat.
Sy vou haar arms en gluur hom agterdogtig aan. Gedagtes oor vet salaristjeks, wit slawerny en goedkoop arbeid kook almal gelyk deur haar are. Maar junior ontvangsdame? Dis darem te erg. Sy is glad nie daarvoor opgelei nie.
Dit klink ook so… permanent, en sy soek iets wat meer om die lyf het. Sy het op slot van sake ’n graad. Die los werkies wat sy nou doen, is net om solank kos in die huis te voorsien, totdat sy die pos kry wat sy werklik wil hê.
“Daar is tog seker ’n klomp ander hoopvolles in hierdie stad?” vra sy. “Waarom adverteer u nie net eenvoudig die pos nie? Hoekom mý kom vra?”
“Ek is self nie heeltemal seker nie, juffrou Serfontein,” antwoord hy nadenkend. “Maar laat ek verduidelik.”
“Ek luister,” sê sy om tyd te wen.
“U sien, juffrou,” sê hy, “my metodes, eintlik my totale lewensuitkyk, was nog altyd… hoe sal ek dit stel?… ietwat onkonvensioneel.”
“En?” vra sy, “wat het dit met my te doen?”
“Wel, dis moeilik om te verduidelik.”
“Ek is nogal vinnig van begrip, dokter Venter,” sê sy met ’n ongeduldige handgebaar.
“Juis,” sê hy. “Dis moontlik waarom die idee vanoggend skielik by my opgekom het dat u uiters geskik sal wees vir die pos.”
Sy maak haar mond oop om iets snedigs te sê, maar ydelheid, dreigende hongersnood en nuuskierigheid keer haar.
“Gaan voort,” sê sy.
“Ek glo daaraan dat niks of niemand toevallig oor jou pad kom nie. Die feit dat ek dringend nog ’n ontvangsdame nodig het. Die feit dat u skielik by my spreekkamer opgedaag het, my kar gestamp het en boonop nog gisteraand bewys het dat u beslis meer as in staat is om die rol van ontvangsdame te vervul. Wel, dis genoeg om my te oortuig dat dit kan werk.”
“Toevallig.” Sy trek haar mondjie suurlemoensoet.
“Nee. Soos ek sê, ek glo nie in toeval nie,” antwoord hy met skielike erns in sy pers oë.
“Ek is nie opgelei daarvoor nie,” sê sy.
“Waarvoor ís u opgelei?”
“Ek het menslike bewegingskunde gestudeer en –”
Hy val haar in die rede. “Maar waarom werk –”
Sy gaan haar nie laat doodpraat nie. Laat sy tog nou maar die gewone ou vraag beantwoord.
“Ek het net voor my eksamen in my tweede jaar ’n kniebesering opgedoen. Dit was die einde daarvan.”
“Dis jammer,” sê hy.
“Ek het van kursus verander.”
“Watter rigting?”
“Joernalistiek.”
“U kan tog seker in daardie rigting voortgaan?”
“Ek het. By die plaaslike koerant op my tuisdorp. Ek het egter moeg geword vir plattelandse funksietjies en stories oor groot koolkoppe en vet Frieskoeie.”
“En sedertdien? Om die pot aan die kook te hou?”
“Onder andere deur vryskutmodelwerk te doen. Sedert my tienerjare al.”
Hy glimlag. “Nou ja,” sê hy terwyl hy sy lang lyf uit die bank lig. “U is duidelik ’n dametjie met vele talente. Nie een werklik geskik vir wat ek kan aanbied nie, maar my aanbod staan. Ek verwag nie dat u op hierdie oomblik besluit nie. Dink daaroor en laat weet my voor Maandag, asseblief. Ons sal tot dan regkom.”
“Máándag?” vra sy.
“Soos ek gesê het, juffrou Serfontein, ek doen dinge vinnig en anders. So besluit en laat my weet.”
Hy groet haar met ’n handskud, asof die saak daarmee uitgemaak is. “Hier is my kaartjie. Ek moet gaan.”
Sy neem dit sonder om verder te stry. Bly ’n ruk lank staan toe hy weg is, voor sy versigtig op die bank gaan sit.
Toe sy nadenkend oor haar mond vryf, ruik haar regterhand na hom. Dieselfde vreemd-aangename prikkelsensasie wat sy gister oorkant sy lessenaar ervaar het, ruk weer deur haar lyf.
Haar landlyn wat skielik hard lui, laat haar regop skrik.
“Hallo, my kinta,” klink haar pa se stem oor die krakerige lyn.
Haar gemoed skiet sommer vol. Hy is nie juis lief vir ’n foon nie, maar dis bekommernis oor haar wat hom daartoe dwing. Sy sien hom in die wye, skemerige gang van hul ou huis op Robertson gebukkend staan met die gehoorstuk toegevou in sy groot hand. Sy breë voorkop op ’n besorgde plooi getrek.
“Hoe’s dinge daar in die Kaap?” vra hy.
“Nee, heel oukei, Pa. En met julle?”
“Oustryk, my kind, oustryk. Niks om oor te kla nie,” verseker hy haar. “Net dat Ma nog maar so verlang.”
“Hmmm…” sê sy en lees tussen die reëls, “ek mis Pa ook baie.”
Sy wens sy was daar. Sodat sy haar kop ’n slag teen sy verslete ou koordferweelwerksbaadjie se skouer kon laat rus en weet die wêreld is nog reg.
“Al werk gekry?” vra hy kamtig ligweg, maar sy hoor die kommer deurslaan in sy stem.
“Pa vra net op die regte tyd!” sê sy, wat pas besluit het om die dokter se aanbod te aanvaar.
“Hoe so?”
“Nee, ek het nou net gehoor ek het ’n pos as ontvangsdame by ’n dokter se spreekkamer gekry,” lieg sy plesierig.
“Omtrent tyd,” sê hy. “Met al jou kwalifikasies wat ’n plaas se geld gekos het.”
Hy maak keel skool. “Watse dokter?” vra hy agterdogtig.
“ ’n Bekende plastiese chirurg, Pa.”
“Ag nee, my kind! Een van daai wat ou vrouens se gesigte ophys en vals goeters vir hulle inbou?” brom hy onbeïndruk. “Maar is dit wat jy wil doen? Jy glo dan juis nie in dié soort ding nie?”
“Tydelik, Pa, net tydelik,” paai sy.
Sy is skielik innig bly dat hy haar daaraan herinner dat sy as tiener taamlik obsessief te velde getrek het teen die oppervlakkige najaag van uiterlike skoonheid. Al haar opstelle en toesprake by redenaarskompetisies het by onderwerpe soos kosmetiese ingrype, anoreksie, bulimie of die effek van die media op vroue gaan draai. Dit tref haar met ’n slag hoe amper sy aan haar neus laat sny het en sy glimlag dankbaar dat haar plat-op-die-aarde-pa haar opnuut laat besef het dat sý van alle mense van sulke operasies moet wegbly.
“Sy’t werk gekry by ’n dokter, Anna,” hoor sy hom ongeduldig vir haar ma sê waar sy sweerlik styf langs hom staan.
“Jou ma wil weet wat sy van is,” sê hy kamtig vies.
Sy sê die naam en hoor hoe hy dit herhaal. Skielik raas die foon harder en haar ma se stem vra: “Wat is die naam?”
“Venter, Ma,” sê Vicky.
“Wie Venter?” vra haar ma pynlik geduldig. Name is vir haar van kardinale belang.
“Paul Venter, Ma.”
“Hmmm… klink bekend. Wat is Armaans Venter se seun wat vir dokter gaan leer het se naam nou weer? Ou blink Armaans van Bettie-hulle, man. Onthou jy dan nie?”
“Ma?” sê Vicky, wat nie die vaagste benul het wie Armaans is nie.
“Ek praat met jou pa, Victoria,” sê haar ma. “Ek sweer ek het al daai naam iewers raakgelees… dalk in laas week se Huisgenoot. Daar was ’n artikel oor sulke operasies, as ek reg onthou.”
Vicky hoor haar ma maak snuifgeluide. Sou sy aangedaan wees?
“Roer bietjie, Petrus, dit brand aan!” skree sy. “Op die stoof, my man, waar anders?”
Sy sug effens. “Ons maak amandelfudge vir die basaar. Waar was ek?”
“Die dokter,” sê Vicky.
“O ja. Ek wonder… Ek sal kyk waar daai Huisgenoot is. Maar as jou pa dit eers in die hande gehad het… Ek sal jou sê as ons weer bel, hoor. Maar voorspoed dan ook, Victoria. Hier’s jou pa weer. My fudge…”
Haar pa neem die foon oor.
“Nou maar dan’s ek seker maar bly vir jou, my kind. Pas net op en hou jou oë mooi oop, hoor! Jy teken niks wat jy nie behoorlik gelees het nie, nè? Jy weet hoe is daardie mense,” sê hy.
“Dis als reg so, Pa,” antwoord sy, al het sy nie die vaagste benul by watter soort mense sy gaan werk nie.
Hulle groet en lui af.
Wat de joos het ek nou weer gedoen? My netjies in ’n vervlakste hoek ingeverf, dis wat, besluit sy benoud. Voortvarend en sommerso halsoorkop in ’n ding ingeduiwel.
Nou het sy g’n keuse nie, kasty sy haarself verder. By die dokter sal sy gaan werk, of sy wil of nie. Sy kan tog nie nou vir haar pa-hulle sê: “Oeps, dit was ’n klein misverstandjie,” nie.
Ag nou ja, dis nie asof sy veel alternatiewe het nie, besef sy gelate en kyk om haar rond. Wat sy sien, lyk nie goed nie. Sy besluit terstond om iets aan die saak te doen. Sy moet besig bly en die dinge verander waaraan sy iets kán doen, en hopelik sal die res volg.
Soos wat sy altyd maak as haar senuwees haar erg opkeil, begin sy regpak en werskaf. Vir die volgende paar uur skrop en skuur en orden sy haar blyplek.
Toe Doll oudergewoonte ’n draai maak ná haar skof agter die kasregister by die supermark, staan sy vir ’n paar oomblikke die woonstelletjie sprakeloos en gadeslaan.
“Ta-raaa…” sê Vicky met ’n dramatiese armgebaar wat die hele plek insluit.
Die houtvloer blink. Die ou blou bank is heelwat skoner en swierig met ’n bont sjaal met fraiings behang. Die outydse spieël met die dik raam wat in die badkamer was, is bokant die bank opgehang. ’n Houtkis wat al vandat sy ingetrek het buite by die vullisdromme lê, is afgewas en met ’n geweefde lap oor pronk dit as koffietafel. Die hangkas is verskuif en die kaggel wat daar agter was, is silwerskoon geskuur, sodat ’n mens selfs die mooi patroontjies op die Art Deco-teëltjies kan uitmaak.
Op die kaggelrak pryk ’n potjie oranje en geel gesteelde kappertjies ewe baldadig. Die bed in die hoek is netjies toegedek met ’n growwe blou-en-wit gestreepte deken wat Vicky by haar ma gekry het. Twee kussings, toegeknoop in bont Indiese lappe waarmee sy rompe wou maak, pryk op die bed.
In die middel van die vertrek is die deurleefde mat met die Persiese motief wat opgerol in ’n stowwerige hoek gelê het, mooi uitgeskud en oopgesprei. Teen die oorkantste muur is al haar boeke netjies gepak op ’n boekrak, gebou uit drie planke ondersteun deur bakstene.
“Good heavens!” sê Doll. “Ek dog ek is by die verkeerde adres. Het jy die jackpot gewen, my liewe mens, of wat?”
“Nee, net so ’n slaggie weer my kop gebruik,” antwoord Vicky laggend.
“Dis amazing,” sê Doll en kyk met eerbied na Vicky. “Maar kyk hoe lyk jy!” voeg sy by en vis ’n stofbol uit Vicky se hare.
“This calls for a celebration,” sê sy met een vinger in die lug soos een wat skielik iets onthou. “Wag net hier, ek kom nou.”
Sy plak haar handsak neer en pyl doelgerig by die deur uit. Minute later kom sy ingestoom met ’n kartondoos, wat sy onverwyld op die houtkis begin uitpak. Een vir een verskyn daar ’n stelletjie fyn blommetjieskoppies en -pierings met ’n teepot wat amper daarby pas. Laastens vier ligroos gekerfde langsteelglase en ’n bottel sjerrie.
“So ja,” sê sy hygend op haar hurke, “omtrent tyd dat dié goed gebruik word.”
Sy wikkel versigtig die koerantpapier om die teepot se dekseltjie los. “Was my ma s’n. Nog nooit uitgepak nie. Ek is mos nie een vir sulke fieterjasies nie.”
“Ek kan mos nie…” keer Vicky.
“Of course kan jy,” sê Doll. “Ek hou niks van hierdie soort goed nie, maar dit suit soort van die nuwe look van jou flat. Of wil jy hê ek moet dit by die Salvation Army gaan afgee? Toe, loop bad vir jou,” beveel sy. “Jy lyk terrible.”
Toe Vicky uit die bad kom, sit Doll gesellig op die bank en suig aan ’n sjerrie, haar voetjies op die kis. Sy wys na Vicky se glas wat staan en wag. Die teestel is netjies gerangskik op die kaggelrak.
Vicky rol haar toe in haar pienk kombers en gaan vestig haar oorkant Doll om haar handewerk te bewonder.
“Al wat ons kort, is ’n teevee,” sê Doll tevrede. “Nou sê my, vrou: wat het hierdie skropstorm van jou aangebring?”
“Ek het tydelike werk gekry,” sê Vicky lomerig, “by die dokter wie se kar ek gestamp het.”
“Was hy hier?” vra Doll.
“Uhu,” antwoord Vicky met ’n lang gaap.
“Well, bless my soul,” sê Doll. “Dis nogal dierbaar van hom, dink jy nie?”
“Dierbaar!” sê Vicky en druk haarself regop. “Dis nie ’n woord wat ek in dieselfde sin as dokter Paul Venter se naam sou gebruik nie. Die man het ’n verskuilde motief, Doll. Hy gee net vir my werk sodat hy kan weet ek sal sy kar se regmaak betaal.”
“Nogtans,” hou Doll koppig vol. “Wanneer begin jy?”
“Sal môre gaan hoor,” is al wat sy verder uit Vicky kry.