Читать книгу Die wet van die liefde - Anita du Preez - Страница 3

1

Оглавление

“Liewe aarde, Bonitatjie, maak tog net jou mond toe! Netnou kwyl jy op ’n belangrike vorm of ’n ding,” sê Danielle.

Bonnie sug effens agter haar rekenaar. Soos gewoonlik sit sy skaamteloos en staar na die nuwe senior vennoot van die regsfirma Marais, Malan en Boshoff.

“Mooi was darem nog nooit lelik nie,” sê sy kortasem toe Naude Boshoff by sy kantoor in verdwyn.

Danielle plak ergerlik ’n dik pak papiere op haar lessenaar neer.

“Hier! Gelukkig het ek iets om jou gedagtes af te lei van meneer Boshoff se ongelooflike bates,” sê sy kamma kwaai. “Jy sal moet tik dat jy hop, want hierdie notas moet betyds op my lessenaar wees vir die bestuursvergadering môreoggend.”

Danielle is eintlik Bonnie se baas, maar hulle verhouding is eerder dié van ou vriendinne. Met die wegstap na haar kantoor loer Danielle oor haar skouer en sê: “As ek nie van beter geweet het nie, sou ek kon sweer jy is maar net nog ’n breinlose manaanbidder wat nog nooit gehoor het van emansipasie nie.”

“Hoe so?” vra Bonnie, die ene aangeplakte onskuld.

“Wel,” sê Danielle en draai terug, “eerstens was ek voor hom by hierdie firma. Tweedens is ek ook ’n senior vennoot, met selfs beter kwalifikasies as hy. En tree jy miskien met dié soort aanbiddende onderdanigheid teenoor my op? Nee, ek dink nie so nie. Soos wat jy aangaan, sou jy sweer die mansmens is met goud beslaan.”

“Ag, loop, Danielle! Jy is nou sommer laf,” skerm Bonnie. “Ek het bloot respek vir sy intellek, dis al,” sê sy met ’n vroom gesiggie. “Buitendien: hy behandel ordinary mortals soos ek immers altyd met die nodige respek – wat meer is as wat ek kan sê van sommige ander mense hier rond.”

Danielle antwoord nie, swaai net ’n beskuldigende vinger speels in Bonnie se rigting.

“Oukei! Oukei! Ek tik. Sien jy? Kyk hoe tik ek!” sê Bonnie laggend en wikkel haar vingers oor die rekenaar se toetsbord.

“Wat gaan hier aan waarvan ek nie weet nie?” praat ’n manstem skielik agter hulle.

“Niks!” kom dit soos uit een keel toe hulle omswaai.

“Wat bekruip jy ons so?” vra Danielle vieserig.

André Marais het die irriterende gewoonte om stil op ’n mens af te sluip sonder dat jy dit verwag. Hy is ook so vaal van voorkoms, dink sy, geen wonder hy verdwyn teen die kleur van die gordyne nie. Die goedheid vanself en ’n vlymskerp regsgeleerde, asook die mees senior vennoot in die firma, maar ai, kan die man dan nie net ’n bietjie vonk kry nie? Hy is mos darem nog nie só oud nie.

“Alles onder beheer, André. Sien julle later, ek is toegegooi onder die werk,” sê Danielle.

Sy gebruik die kans om by haar kantoor in te glip terwyl vaal-André (soos sy hom soms in haar gedagtes noem) en Bonnie begin gesels. Sy sak lam op haar stoel neer. Hier is sy alleen. Hier hoef sy nie voor te gee nie. Sy kan die uitmergelende skyn wat sy daagliks moet voorhou van haar afgooi.

Daar moet eintlik Breekbaar! Hanteer met sorg buite-op mense soos ek getatoeëer staan, dink sy. Mense wat hul gevoelens so goed toedraai in hul los-my-uit-ek-is-onaantasbaar-houding dat ander hulle werklik uitlos.

Die moegheid sak oor haar af en die waarheid kom sit in die stoel oorkant haar: sy weet nie hoe sy langer hiermee kan volhou nie. Die probleem is, sy is hoegenaamd nie onbewus van die enigmatiese Naude Boshoff se ongelooflike bates nie. Maar nooit sal sy dit openlik wys nie – nooit. Nie vir Bonnie nie, maar veral nie vir haarself nie en allermins vir die nimlike Naude.

Sy leef nou al maande lank met die vrees dat iemand in die kantoor sal agterkom dat sy die man onweerstaanbaar vind. Sy wat Danielle Malan is: vegter vir vroueregte, vuurvreter-feminis en heldin van menige vrou wat deur ’n man te na gekom is. Hoe kan sy, die wetsgeleerde met die mees vlekkelose reputasie in die ganse Kaapstad as prokureur wat geen genade vir ’n man in enige hofsaak het nie, nou skielik gaan staan en verkrummel voor een van húlle?

Sy wonder skielik waaroor André en Bonnie in haar afwesigheid praat. Dalk oor haar? Vermoed hulle iets? Sy voel hoe warm vlekke van verleentheid in haar nek opstoot. Nee, Bonnie is ’n ou vriendin en André is nog al die jare wat sy hom ken hopeloos te ordentlik en korrek. Sy is nou paranoïes. Dís wat hierdie verspotte verliefderigheid aan haar doen.

Dit moet end kry, dadelik. Onthou, berispe sy haarself, jy is Daniël en Aletta Malan van Brandvlei se kind. Uit ’n edele boerestoet gebore en nie ’n simpel, orige leëkop-bakvis nie. Jy is mooi groot en jy kan jouself beheer. Emosies, denke, lyf, alles. Under control.

Sy trek ’n pak lêers nader. Maar sonder dat sy kan keer, draal haar gedagtes reguit terug na die beeld van Naude vervlakste Boshoff. Die absolute gesag in sy rysige gestalte. Die span van sy beenspiere as hy in die gang afloop. Die trotse heersershouding van sy kop. Daardie sterk, amper asketiese profiel. Die manier waarop hy hom half eenkant hou, tot die punt waar hy byna afsydig voorkom.

Hoeveel keer het sy al presies só hier gesit en fantaseer dat hy haar uiteindelik werklik sal raaksien? Hoe dit sal wees as hy eendag wonderbaarlik en skielik oorval word met passie net vir haar? As hy skoon sal vergeet van daardie irriterende, korrekte, formele houdinkie van hom waarmee hy almal so op ’n afstand hou? Hoe dit sal wees as ’n streng, private man soos hy die dag besluit om haar in die verbode ruimte van sy arms te neem? Hy sal haar eenvoudig vasgryp en daardie harde, onverbiddelike mond op hare plaas en . . .

Danielle sug.

Sy kan haar indink hoe die lyne langs sy fyn gebeitelde lippe sal versag in so ’n oomblik van teerheid en passie. Voor haar geestesoog sien sy die streng kromming van sy neus wat tog nie daarin slaag om hom lelik te maak nie, want die blink donker hare met die bietjie grys bo die slape spreek van deernis en meelewing. Selfs die manier waarop sy duur snyerspakke aan sy lyf sit en die klein stukkie spierwit hemp wat net-net by sy baadjiemoue wys as hy ernstig raak en beduie, maak haar mond droog.

Maar dis veral die onverbiddelike stemtoon en vlymskerp intelligensie waarmee hy sy opponente se argumente in die hof telkens oormeester wat ’n mengsel van opwinding en respek in haar wek. Sy sal dit nooit openlik erken nie, maar daar is vir haar niks meer sexy as ’n man wat meester van sy vak is nie. En Naude se uitmuntende hantering van die wet maak haar kniekoppe lam.

En dan is daar sy hande . . . Danielle speel ingedagte met die pen tussen haar vingers.

Sy het nog altyd ’n heimlike swak plek gehad vir ’n man se hande. Naude se hande is skraal maar sterk, met prominente are op die rugkante en lang, sensitiewe vingers. Hoeveel keer het sy nie al in haar bed gelê en haar verbeel hoe daardie hande . . .

“Klop-klop! Kan ek inkom, of is die dame druk besig?”

Danielle ruk soos sy skrik. Sy pluk vervaard die naaste dokument nader, plak haar bril ferm op haar neus en lyk besig.

“Nee, kom gerus binne, Naude,” sê sy met wat sy hoop ’n rustige, onverstoorde stemtoon is.

Hy bly staan oorkant haar lessenaar. Kyk haar effe ongemaklik aan.

“Sit, asseblief.” Sy het vir ’n oomblik vergeet dat hy hopeloos te gesteld is op protokol om sommer ongenooid plaas te neem.

“Ons moet praat, Danielle. Die tyd raak min,” sê hy toe hy die stoel effens agtertoe skuif om plek te maak vir sy lang bene.

Sy verstyf. Waaroor wil die man praat? Lees hy gedagtes? Haar kop gaan op loop oor die moontlikhede en haar speeksel droog op.

“Praat?” kry sy dit uit. “Waaroor?” Haar stemtoon klink te hoog in haar ore en sy probeer weer: “Waarvoor raak die tyd min?”

Sy sien haar sewe-en-twintigjarige lewetjie en die naderende ouderdom voor haar oë afspeel. Sy sien haar biologiese klok tik terwyl sy alleen in haar woonstelletjie oud word.

“Min? Jy weet nie waarvan jy praat nie, mansmens. Jy weet nie hóé min nie,” hoor sy haarself sê.

“Ekskuus?” sê Naude. Een donker wenkbrou lig vraend. “Ek dog jy weet nog nie.”

Hy vryf nadenkend oor sy mond soos een wat nie mooi verstaan wat nou aan die gang is nie. “Praat ons van dieselfde ding, Danielle?”

Sy raap haar brein bymekaar en smeer haar flater toe.

“Nee, nee, ek bedoel maar so in die algemeen. Baie werk. No peace for the wicked en so aan, jy weet,” sê sy met ’n laggie wat selfs vir haar geforseerd klink.

Sy fokus haar oë met moeite in sy donkerbruines, wat vol onbegrip na haar kyk.

“Jammer, jy wou sê?” krys sy hees.

“Wag nou, moenie so bekommerd lyk nie. Ek wou net iets by jou kom hoor in verband met die saak Louw versus Rabinowitz.”

Hy kyk ondersoekend na haar, toe strek hy oor die breedte van die lessenaar en laat sy vingers vir ’n oomblik kalmerend op die rugkant van haar hand talm. “Dis darem nie so ernstig nie, hoor. Ek praat maar soms so in eerste rat,” sê hy paaiend.

Sy veg teen die impuls om haar hand weg te ruk en teen haar mond te druk asof sy aanraking haar gebrand het. Dis die eerste maal dat hy aan haar raak en dit maak haar nog meer deurmekaar. Sy probeer die uitdrukking op sy gesig peil. Verbeel sy haar, of wil sy oë haar iets meer vertel?

Die oomblik is egter onmiddellik verby. Net ’n fyn, vraende glimlaggie bly huiwer om sy mond en die gladde vel om sy oë verkreukel effens. Danielle sluk. As die man nóg aantrekliker raak hier vlak voor haar, verander sy in ’n babbelende idioot.

Sy haal ’n slag diep asem. Fokus, Danielle, fokus.

“Kom ons begin voor. Waarmee kan ek help?” vra sy, dankbaar dat haar stem nou weer normaal klink.

Hy sit agteroor en sê gelykmatig: “Ek het bloot kom hoor of jy op hoogte is met die fynere detail van die saak. Ek besef dis ’n komplekse affêre vanuit ’n regsoogpunt. Ek wou net seker maak jy weet die hofdatum is volgens André vasgestel vir die twee-en-twintigste van vandeesmaand, dis maar al.”

Daar vlam oombliklik iets in Danielle op wat beslis nie begeerte is nie. Sy is byna dankbaar daaroor, want as daar iets is wat haar boosaardig kwaad maak, is dit wanneer iemand dit waag om te insinueer dat sy nie haar werk ken nie. En wat sy nou hoor, klink vir haar baie naby daaraan.

Die arrogante blikskottel! Sy wat Danielle is, het niemand nodig om vir haar te sê hoe om haar sake te hanteer nie, allermins nie ’n mansmens nie. Nog minder hierdie spesifieke lid van die spesie! Selfs al is hy ouer, met meer regsondervinding as sy, gee dit hom nie die reg om haar te kom voorsê nie.

Sy hys haar op uit haar stoel tot haar volle 1,7 meter-lengte en kommandeer elke greintjie gesag in haar nommer 34-lyf op.

“Jy is totaal onnodig besorg oor my begrip van die Louw-saak, Naude. Ek is heeltemal op hoogte van die datum, sowel as die fynere kwessies daarvan. Om die waarheid te sê, hier is die lêer in my hande.” Sy druk haar bril hoër op haar neus en kyk daardeur na hom asof hy ’n lastige insek is.

Sy sien hoe ongeloof oor haar afjak registreer op sy gesig. “Wag nou, kollega! Ek het niks daarby bedoel nie. Jy weet tog ek is terdeë bewus van jou absolute bekwaamheid. Ek probeer nie jou professionaliteit bevraagteken nie, ek het bloot my hulp kom aanbied,” sê hy terwyl hy sy lang lyf oplig en deur toe mik.

“Dankie, maar beslis nee dankie.” Sy ruk haar kop so beslis regop dat haar dik bos hare byna loskom uit die knip waarmee sy dit stewig vasmaak vir werk. “Ek het nie op hierdie of enige ander stadium jou hulp nodig nie. Baie dankie,” sê sy met soveel venyn dat sy haarself verbaas.

“Jou houding is totaal onnodig, Danielle.” Hy lyk verstom én vies oor haar heftige reaksie.

“Jammer, my fout. Ek het nie besef dat ’n doodonskuldige aanbod van hulp jou so warm onder die kraag sou maak nie,” sê hy toe hy uitstap en die deur agter hom toetrek.

Danielle is nie net warm onder die hoë kragie van haar bloes nie, haar hele lyf kook. Dit kook egter byna oor toe hy die deur weer oopstoot, sy kop indruk en sê: “Terloops, die lêer in jou hand is die Brown versus Brown-egskeiding, hoor, nie Louw versus Rabinowitz nie. Ek kan agterstevoor én onderstebo lees, weet jy?”

En toe is hy weg.

Danielle sit stom. Toe sy afkyk, sien sy tot haar skreiende ontsteltenis dat die vervlakste skepsel inderdaad reg is. Woede, skaamte en spyt verlam haar net daar waar sy sit. Was dít nou nodig?

Sy wonder hoe sy vyfuur ongesiens huis toe kan verdwyn. As dit moet, sal sy nie ’n voet uit haar kantoor versit voor sy doodseker is die laaste mens is huis toe nie, al vat dit heelnag. Die laaste ding wat sy nou wil hê, is onnodige vrae. Of, behoede haar, om weer in hóm vas te loop.

Sy sit nog so en broei oor haar vernedering toe die deur weer oopgaan. Sy ruk haarself skuldig orent, maar dis gelukkig net Bonnie se vlamrooi kop wat om die deur loer.

“What’s up, skattie?” vra sy met ’n bekommerde fronsie tussen haar babablou oë. “Ek sien His Majesty is glad nie lekker toe hy op ’n drafstap hier by jou uit is nie. Is iets fout?”

“Ag, jy verbeel jou,” sê Danielle.

Bonnie het nou nuus geruik en sy is vrek nuuskierig. Die laaste ding wat Danielle wil hê, is dat Bonnie snuf in die neus kry en die hele kantoor later weet hoe sy vandag geoorreageer het teenoor Naude Boshoff. Want dis presies wat gebeur het, dit weet sy goed. Die manier waarop sy met haar hormone in stede van haar kop gedink het, was dom en onvergeeflik. Onprofessioneel, om die minste daarvan te sê.

“O nee, hy was kwaad,” sê Bonnie. “Ek ken ’n kwaai stappie as ek een sien. Veral by hom. Oh, my dear, my swak hart! Jy moes dit aanskou het. Daardie dodelike mengsel van Tom Cruise pretty boy looks en Chris Chameleon-ruheid! Nee, hy is spectacular as hy kwaad is. Oe, hy kan sy skoentjies any day onder mý bed kom los, hoor.”

“Skei uit, Bonnie! Ek het nie ’n saak met sy skoentjies nie, dis sy neus wat hy in my sake kom druk het wat my pla. En dis nou genoeg oor die mansmens,” sê Danielle ergerlik. “Is jy klaar met die tikwerk?”

“Bietjie touchy, is ons nie?” Bonnie beloer haar agterdogtig.“Oukei, it’s official, julle het ’n fight gehad. Maar nou ja, as upper management nie die onderstrominge in die binnekring met die gewone werkers wil deel nie, wie’s ek om te kla?” sê sy kamma seergemaak.

“Bonita! Kry end! Ék het werk om te doen, as jy nie het nie,” sê Danielle moedeloos.

Om hierdie vriendin van haar in toom te hou, is nou eenmaal ’n voltydse werk.

“Ja!” sê Bonnie en klap haar vingers. “Nou onthou ek wat ek wou kom vra.”

Sy neem haar asseblief-ek-vra-mooi-houdinkie in. “Is dit oukei as ek die dokumente huis toe vat en liewer vanaand op my rekenaar gaan klaarmaak, baas? Ek wil nou gou eers ’n draaitjie by die winkels maak.”

“Ja, my dierbare slaaf, weg is jy. Sien jou môre,” sê Danielle in ’n flou poging om plesierig te klink.

Toe sy Bonnie se Milano Blahnik-uitverkopingstiletto’s in die gang hoor verbytrippel, kan sy effens ontspan en die fiasko van vroeër behoorlik laat insink en daaraan begin herkou. Al wat dit haar in die sak bring, is dat sy nog meer besef dat sy onbehoorlik opgetree het. Sy het haar naam krater gemaak. Daar sal moet walgegooi en reggemaak word voordat dit ’n kwessie word – of die vent kliek wat eintlik die rede is waarom sy hom so in die bek wou ruk.

Nee, voor hy twee en twee bymekaarsit, moet sy regmaak. Maar hoe?

Sy sal dit wetenskaplik moet uitwerk. Oorsaak en gevolg formuleer, soos sy geleer is om ’n saak te beredeneer. Die wet is ’n wetenskap en sy is ’n prokureur. Sy kan dit oplos.

Met toegeknypte oë sit en fokus sy om ’n strategie te bedink.Voor sy haar kan keer, hol daar vreeslik onwetenskaplike prentjies agter haar ooglede verby. Soos sy adamsappel bokant sy das en die effense blouerige skynsel van sy baard wat soms teen laatmiddag deurslaan op sy wange. Sy kan haar indink hoe dit moet voel as hy sy gesig in jou nek laat rus en . . . O, die vervlakste man maak haar mal! Sy kan hom selfs nog vaagweg ruik hier in haar kantoor, sy duur naskeermiddel gemeng met sy eie, unieke geur.

Nou is daar boonop ’n díng tussen hulle. En môreoggend moet sy saam met hom om die konferensietafel hier oorkant sit en kophou. Maak of niks gebeur het nie. Die sot wat sy is! Kon sy nie maar net normaal gesê het alles is in orde, baie dankie nie? Maar nee, sy moes nou weer in die oortreffende trap die vervlakste man laat verstaan sy laat haar nie voorsê nie.

Nou sit sy met ’n onhoudbare situasie. Soos gewoonlik.

Dis mos hoe sy is, dink sy wrang. Oorpresteerder. Alles in hoogste versnelling. Altyd eerste. Altyd die beste. Tweede kom is nie goed genoeg nie. Dit het haar pa haar vroeg al laat verstaan: Jou rapport lyk goed, Danielle. Jammer oor die B vir Geskiedenis.

En dat ek nie ’n seun is nie, wou sy altyd byvoeg.

Geen wonder haar ma met haar kunstenaarsiel kon dit nie met haar pa uithou nie. Fynbesnaard, kop in die wolke, ewig besig om esoteriese wêrelde waarin tyd en ruimte nie bestaan nie op doek te skep – skilderye wat kenners met dié van Marc Chagal vergelyk.

Haar pa nugter, prestasiegerig, en met sy voete stewig gewortel in die harde werklikheid van die aarde waaruit hy as boer sy brood verdien. Vir hom is daar net swart of wit, reg of weg, maar vir haar ma die skaduwêreld van die fantasie, waar elke kleurvolle vorm in harmonie langs die ander leef. Haar ma is die een wat verstaan het. Begrip gehad het. Sagkens probeer opmaak het vir sy gebrek aan meelewing en empatie. Ewig die vredemaker. Die softie.

En kyk waar het dít haar ma gebring. Danielle glo vas dis van al die insluk en opkrop en toesmeer dat haar ma vandag is waar sy is. Met haar liggaam wat stadig maar seker afgetakel word deur siekte en die meeste van die tyd gekoppel is aan ’n suurstofapparaat daar in Victoria Home.

Sy wat Danielle is, het destyds al twee dinge besluit, nog voordat haar ouers geskei is. 1) Dat sy, al is sy hoe lief vir haar pa, hom nooit sal vergewe dat hy haar ma eenvoudig kon weggooi vir iemand anders nie. 2) Dat sy nooit sal toelaat dat so iets met haar gebeur nie.

Ná wat hy aan haar ma gedoen het, het Danielle hom letterlik uit haar lewe uitgeskryf en hom goed laat verstaan dat sy niks met hom te doen wil hê nie. Dis nog net daardie vreemde droom wat oor is, waaruit sy soms huilend wakker word as haar onderbewussyn haar skynbaar wil herinner hoe lief sy haar pa het en hoe sy hom mis. Dis dan wanneer hy weer strak, bleek en skuldig voor haar staan, sy ou geliefde voddehoed in sy groot hande verfrommel – soos daardie laaste dag in die plaashuis se gang toe sy vir hom uitgeskreeu het dat sy hom nooit weer wil sien nie.

“Ek moet eintlik vir jou dankie sê, Pa,” het sy histeries gegil, “dat jy my finaal genees het van al my verspotte illusies! Oor die kamtige liefde. En mans soos jy. Ek weet nou dat elke mens maar net homself liefhet en nie werklik omgee vir ’n ander nie. Survival of the fittest, dis hoe dit werk, nè, Pa?”

Van buite kalm en in beheer, van binne ’n kookpot van twyfel – dis wat sy is. Te bang om haar ysere greep op die lewe te laat los. Te bang om aan enigeen te openbaar dat sy ’n marshmallow van binne is soos haar ma.

Selfs in haar werk moet sy haar gevoelens onderdruk, omdat sy nie kan bekostig om emosioneel betrokke te raak by elke kliënt se soms hartverskeurende omstandighede nie. Hoe anders moet sy oorleef? Die vrouens wat na haar toe kom met hul hartseer verhale van vernedering, verwerping, mishandeling of die emosionele teistering wat hulle daartoe dryf om ’n egskeiding aanhangig te maak. Sy kan nie ingesleep raak by die gesinsgeweld en verbrokkelde lewens en die invloed wat dit op veral die kinders het nie. Daardie arme goed. Die verwesenheid, die mensverlorenheid wat sy so goed ken.

Nee, dis veel beter om onafhanklik van enigeen deur die lewe te gaan as om jouself bloot te stel aan die wispelturigheid van die sogenaamde liefde. Ook finansieel onafhanklik te wees van die goedgunstigheid van ’n ander. Koel, kalm en in beheer van elke aspek van haar lewe – dit is sy.

Tot die verdomde Naude Boshoff sy voete elf maande gelede in hierdie kantoor gesit en hom in haar kop ingewurm gekry het, en haar vir die eerste maal laat twyfel het of sy werklik so onaangeraak deur die lewe wil gaan.

En toe gebeur vandag. As sy net die horlosie kon terugdraai tot vanoggend, sou alles nog onder beheer gewees het.

Sy trek ’n pak papiere nader en probeer ’n ruk lank werk. Sy let op dat dit al donker word buite. Alles is stil in die gebou. Hopelik is die laaste een nou al huis toe. Sy was so diep ingedagte dat sy niks gehoor het nie.

Versigtig stoot sy haar kantoordeur oop. Alles is donker in die ander kantore. Net in die kombuisie brand lig. Goed so. Sy sal kan doen met ’n koppie warm koffie. Nogtans loop sy op haar tone. Dankie tog, daar is nog melk, sien sy. Sy skakel die ketel aan en ril effens van die koue. Ook oor dit so doodstil is. Selfs die gesing van die ketel klink te hard.

Snaaks hoe die kantoor anders is in die aand, dink sy. Nie ’n lekker plek om te wees nie. Sy slaan haar arms om haar lyf en besluit om net gou die koffie te drink, dan moet sy wegkom uit hierdie plek. Nie dat sy bang is nie. Net versigtig.

Sy stap terug na haar kantoor deur die donker gang met haar koppie koffie. Verbeel sy haar of was die deur na André se kantoor netnou oop? Dis dan nou toe. Ag nee wat, dit het seker net vanself toegeswaai. Dit gebeur soms. Alles in die gebou is oud.

Maar wag, sy hoor tog iets. Sy staan stil en luister. Ja-nee, sy hoor ’n geskuifel of ’n gekrap. Dit kom uit André se kantoor. Sou daar rotte in die kantore wees? Danielle ril. Vir ’n rot is sy so bang soos ander mense vir slange of sluipmoordenaars. Sy sal gaan kyk en aan haarself bewys daar is niks nie sodat sy haar koffietjies rustig kan drink. Sy stap nader. Daar skyn sowaar dofweg lig onder die deur.

Sy frons. Daar was beslis nie netnou lig nie. Sy luister weer; daar is definitief ’n geskuifel daar binne aan die gang. Haar keel word droog en haar hart gaan tekere in haar borskas. Sy sit haar koffie op die rak in die gang neer en stap nader. Sy moet eenvoudig weet wat hier aan die gang is. Sy knyp haar oë toe, draai die deurknop versigtig, stoot die deur hard en vinnig oop en tree binnetoe.

Iets tref haar met ’n geweldige slag. Toe sy bykom, het sy geen idee waar sy is nie. Al wat sy weet, is dat sy op die vloer is en dat ’n paar sterk arms haar stewig vashou. Sy beur regop om te sien, maar haar kop is so dronk dat sy lammerig terugsak teen die een wat haar vashou.

Net ’n bietjie so lê, dink sy verstrooid, tot sy regop kan kom. Sy voel hoe ’n ferm hand die hare van haar voorkop wegvee, die growwigheid van ’n baadjie en sy ruik iets wat ongelooflik strelend ruik. Dis naskeermiddel, besef sy. Dit ruik skoon en vars, iets suurlemoenerig . . . Of is daar effens muskus by?

Sy sit vinnig regop. Dis mos sý verdomde naskeermiddel!

Sy kyk vas in die bekommerde swartbruin oë van Naude Boshoff. In absolute verbasing staar sy vir minstens ’n volle sekonde na hom. Dis egter ’n baie bepalende, ’n mens sou kon sê lewensveranderende, sekonde, want in daardie enkele stonde gebeur daar iets in haar kop. Sy voel hoe die muur van haar afsydigheid wankel en ervaar twee baie teenstrydige emosies.

Haar eerste impuls is om die oeroue truuk van die aartsverleidster toe te pas en eenvoudig weer floutjies neer te sak teen die borskas waar sy al soveel keer in haar verbeelding gelê het. Sy is verstom oor haarself. Sy het nog altyd verbaas gestaan as oënskynlik intelligente en suksesvolle vroumense hulself so verlaag deur handomkeer in koketterige morone met fladderende wimpers en pruilmondjies te verander die oomblik as ’n aantreklike man in die geselskap kom. Sy het nie besef dat sy self in staat is tot sulke gedrag nie.

Haar tweede gedagte is om op te spring en haar ekwilibrium oombliklik terug te eis en te maak of sy toetentaal ongeraak is deur die ongewone gebeure. Dis egter helaas in dié sekonde van weifeling dat Naude Boshoff dwarsdeur haar sien. Nou weet hy dat ek nie ongevoelig teenoor hom staan nie, dring dit tot haar deur.

Sy aarsel nie ’n oomblik langer nie, sy volg impuls nommer twee – die een wat sy die beste ken. Sy steier dronkerig op haar voete terwyl sy haar romp vinnig regtrek en oor haar hare vryf. Toe eers besef sy dat hulle nie alleen is nie, want André staan agter sy lessenaar. Hoe de joos het die plek wat sy dog leeg is skielik so oorbevolk geraak? wonder sy vervaard.

“Liewe hemel, Danielle! Het jy seergekry? Kan ek jou ongevalle toe neem? Is dit bloed aan jou voorkop?” vra André ontsteld.

Dis baie woorde vir ’n man wat gewoonlik min praat, dink sy met haar dronk kop.

“Nee, dis net ’n ou skrapie,” kry sy dit uit. “Ek is heeltemal ongeskonde, dankie, André.”

Sy kyk na Naude terwyl sy praat. Wat sy in sy oë sien, bevestig vir haar dat sy haar vroeër vandag nie verbeel het nie. Die manier waarop hy na haar kyk, is intens en genoeg om enige vrou te ontsenu. Die versigtige professionele afstand wat tot dusver tussen hulle bestaan het, het skielik gevaarlik gekrimp.

“Alles onder beheer, André. Ek sal haar huis toe neem. Dis die minste wat ek kan doen, dis immers ek wat haar disnis geslaan het met die deur,” sê Naude met ferm gesag en neem haar arm.

“Is jy seker, Danielle?” hou André egter vol.

“Alles reg, André. Maar ek sal regtig verkies om self huis toe te ry as julle my sal verskoon,” hoor Danielle haarself sê.

“Nou goed.” Naude sit sy arm om haar skouers. “As dit is hoe jy dit wil hê, dan maak ons so. Maar ek dring daarop aan om jou tot by jou motor te neem en agter jou aan te ry tot by jou blyplek, net om seker te maak.”

“Ek stem saam. Danielle, asseblief, laat Naude ten minste sorg dat jy veilig tuiskom,” sê André.

Daar is so ’n ongewone beslistheid in sy stem dat sy verplig voel om in te stem, al weet sy voor haar siel sy moet eintlik nou walgooi vir ’n vale.

Sy is oorbewus van Naude se arm om haar middel al die pad tot by haar motor, maar sy laat hom begaan. Vir ’n oomblik vertroetel sy die dolle gedagte dat hy haar terstond sal opraap in albei arms en iewers heen wegdra waar hy nie net die seer op haar voorkop sal wegsoen nie, maar sommer elke stukkie van haar lyf.

Toe hy met ’n besorgde fronsie tussen sy donker wenkbroue haar motorsleutels uit haar hand neem om die deur vir haar oop te sluit, is sy tog dankbaar, want haar bene voel taamlik wankelrig.

“Is jy heeltemal seker jy kan bestuur?” vra hy voor hy die motor se deur agter haar toemaak. Hy buk nader, sit sy hand agter teen haar nek en draai haar kop versigtig asof hy wil kyk en seker maak. Die opregte besorgdheid op sy gesig maak ’n vreemde soort hartseer in haar wakker. Sy knik net stom, kyk liewer af en draai die sleutel.

Toe Danielle by haar woonstel stop, is Naude se motor reg agter hare in die kort rylaan. Voor sy nog haar handsak en sleutels bymekaar kan vat, is hy langs haar om die deur vir haar oop te maak. Sy draai die ruit af.

“Dankie, Naude. Ek sal nou regkom, hoor.” Toe voeg sy by: “Ek wil ook net jammer sê oor vanmiddag. Ek . . . wel, ek was onnodig op my perdjie.”

Hy buk af na haar. Sy gesig is sentimeters van hare af. Die uitdrukking in sy oë is onpeilbaar. Toe hy praat, is sy stem so intiem soos ’n streling.

“Vergeet daarvan, ek verstaan. Ek verstaan ná vanaand baie dinge, ook dinge omtrent myself. Ek weet nou dat ek glad nie oor die hofsaak na jou kantoor gegaan het nie.”

Hy buk vooroor, vee haar hare weg en raak liggies met sy lippe aan haar wang. Hy huiwer asof besluiteloos met sy hand op die deur. Dit lyk of hy nog iets wil sê, maar hom net betyds bedink. Oplaas gee hy haar skouer ’n ferm drukkie, draai vinnig om en loop na sy motor met doelgerigte treë.

Danielle sit verlam. Al waarvan sy bewus is, is die plek waar sy mond gerus het en die vuur wat dit in haar liggaam wakker gemaak het.

Die wet van die liefde

Подняться наверх