Читать книгу Die wet van die liefde - Anita du Preez - Страница 4

2

Оглавление

“Wat de joos het jou voorkop getref, vriendin?” wil Bonnie verstom weet toe Danielle die volgende oggend by hul kantore instap.

“Ag, ek het gisteraand in ’n deur vasgeloop,” sê Danielle so nonchalant as moontlik.

“O ja? That’s what they all say, liefie. Maar ek het dit eerder van een van jou kliënte verwag, nie van jou nie.” Bonnie se oë is vol ongeloof.

“Ek belowe jou, dis presies wat gebeur het,” sê Danielle, al weet sy sy protesteer tevergeefs.

“Ag, kom nou, don’t underestimate my intelligence,” sê Bonnie duidelik in die gesig gevat. “Gaan sit in jou kantoor. Ek bring tee en dan wil ek weet. The whole truth and nothing but the truth, of ek praat nooit weer met jou nie, oukei?” Sy wikkel met ’n stywe ruggie en verontwaardigde boudjies kombuis toe.

“Was jy dronk?” vra Bonnie toe sy die tee bring, duidelik lus vir ’n vet storie.

“Is jy simpel?” vra Danielle vies.

“Wel, dis wat ek vir almal gaan sê as ek nie nou dadelik die waarheid hoor nie. Kan jy jou die stories indink? Het julle gehoor: Danielle Malan die Heilige was gisteraand só dronk, sy’t haarself teen ’n deur te pletter geloop!”

Danielle oorweeg die saak. Bonnie is net mooi in staat om presies dit te doen.

“Goed, goed, ek sal vertel. Maar as jy iets vir ’n enkele dooie siel sê, dank ek jou af, of iets dergeliks,” dreig sy.

“In your dreams, ja, maar oukei, vertel,” sê Bonnie selfvoldaan.

“Naude het gisteraand André se kantoor se deur teen my kop gekap,” spoeg Danielle dit uit. “Toe, is jy nou tevrede?”

“Wat vertel jy my! Aspris? Hoe het dit gebeur? Ek het mos nog altyd geweet daar’s iets fishy aan hom. That man is too pretty for his own good,” borduur Bonnie voort op die wegholtrein van haar ryke verbeelding.

Danielle vertel, kripties en sonder die laaste deeltjie by haar woonstel.

“En hier sit jy in lewende lywe to tell the tale! Moet jy nie bietjie gaan lê nie? Mind you, lovey, van lê gepraat . . . Oe, ek sou darem –”

“Gedra jou, meisiekind. Jy’s by die werk,” vermaan Danielle haar oorstelpte vriendin. “Gaan kry die lêers, die vergadering is oor ’n halfuur.”

Bonnie wil nog iets sê, maar Danielle kyk haar stil.

Die vergadering verloop genadiglik sonder voorval. Nadat Danielle ferm verduidelik het dat sy ’n ongelukkie gehad het, hou die onderlangse kyke darem gelukkig op. Die personeel weet al dat hulle liefs nie te ver moet gaan of te eie moet raak met die formidabele me. Malan nie.

Vir die soveelste keer in haar lewe kom die beeld van onbereikbaarheid wat Danielle met soveel sorg om haar opgebou het handig te pas. Sy kry nou wel nooit die warmte of simpatie by ander waarna ’n mens so dikwels smag in moeilike omstandighede nie, maar dit pas haar goed, besluit sy opnuut. Sy het niemand se jammerte of hulp nodig nie.

Sy vind dit uiters pynlik om selfs net in Naude se rigting te kyk. En dit het niks met die kloppende pyn in haar kop te make nie. Dis die eienaardige mengsel van angs, seer en opgewondenheid wat op die krop van haar maag brand wat haar oral behalwe na hom laat kyk. Dis asof sy skielik sonder ’n vel rondloop en alles duideliker voel – terwyl almal dit kan sien.

Veral toe Naude se hand vir ’n breukdeel van ’n sekonde aan hare geraak het toe hy netnou die waterkraffie vir haar aangegee het, kon sy sweer almal om die tafel moet bewus wees van die warm skok wat deur haar lyf trek. Wonderbaarlik kom niemand egter skynbaar iets agter nie. Hopelik skryf hulle haar stokkerige bewegings en kortaf sinne toe aan die ooglopend pynlike wond op haar voorkop.

“Nou goed, dames en here, kom ons bepaal ons aandag by die volgende saak op die agenda,” praat Naude die groep stil. Danielle is heimlik dankbaar dat hy op sy gewone gesaghebbende manier die vergadering oorneem en die aandag weglei van haar.

Net André kyk haar anders aan as gewoonlik, maar sy skryf dit toe aan die feit dat hy weet wat werklik gebeur het. Snaaks hoe vaal-André al soveel male getuie was van haar swaarkry in die lewe. Dis hy wat vir haar die werk aangebied het toe hy die firma ses jaar gelede begin het en ’n tikster gesoek het. Hy was toevallig die prokureur wat haar ma en pa se skeisaak hanteer het, en hy het haar potensiaal raakgesien. Dis hy wat haar die vennootskap aangebied het nadat sy haar finale eksamen geslaag het. Om die waarheid te sê, as dit nie vir hom en sy eindelose geduld was nie, sou sy nooit die B.Proc-kursus deur Unisa aangepak het nie.

Deur die jare het André soos ’n skim op die agtergrond van haar lewe ’n plek ingeneem, soos ’n outydse beskermheer. Hy is egter vandag openlik beskermend teenoor haar. Hy skink selfs vir haar koffie en sit dit stilletjies voor haar neer met ’n besorgde fronsie tussen sy bruin honde-oë. Sy neem dit dankbaar, want hoe sy deur die dag gaan kom met Naude in die omgewing, weet sy sowaar nie.

Dié kyk nie verder in haar rigting nie en sy is bang die ander sien dit raak. Dit op sigself is hopeloos te ooglopend en kan suspisies aanwakker. Dit sal ook nie vir altyd so kan voortgaan nie. Een of ander tyd gaan sy hom alleen teëkom – en wat gisteraand gesê is, is gesê. En veral wat sy gevoel het, het nie sommer vanoggend met sonsopkoms verdwyn nie. Daardie lippe op haar wang, sy asem by haar oor, die uitdrukking in sy oë. Maar veral die wilde stuwing van erotiese begeerte vanuit haar binnegoed, of van waar ook al. Die dade wat dit ontketen het, is vanoggend amper erger soos dit oor en oor in haar gedagtes afspeel. Dit maak haar so mal dat sy op niks kan konsentreer nie.

Sy kyk onderlangs deur haar wimpers na hom en vat onwillekeurig aan haar wang waar sy lippe gerus het. Net toe kyk hy op terwyl hy praat, reg in haar oë, en sy besef onmiddellik hy het dit gesien. Sy besef ook dat hy weet dat sy hier sit en brand van ongeduld om dit weer te voel en meer, want sy eie oë weerspieël soveel naakte begeerte dat sy bly is sy sit, anders sou haar bene beslis meegee.

Ná wat vir haar soos ’n ewigheid voel, is al die sake op die notule afgehandel. Sy ontsnap na haar kantoor met bewerige bene. Liewe hemel, haar aandeel aan daardie vergadering was ’n ronde nul, besef sy toe sy agter haar lessenaar gaan sit. So kan ek nie werk nie! kerm sy geluidloos. Wat op aarde is dit met my?

Sy is siek vir haarself – hierdie nuwe self wat sy nie ken nie. Hierdie futlose, breinlose dingetjie wat aan die bewe gaan oor ’n man. Waar is Danielle en wat het jy met haar gemaak? wil sy hierdie nuwe wese vra. Sy ly aan ’n tydelike waansinnigheid en dit moet end kry. Vandag nog.

Sy sleep die lywige Rabinowitz-lêer nader en probeer fokus. Maar die letters dans voor haar oë en alles lyk skielik so verspot, so onbenullig. Al waaraan sy kan dink, is Naude. Die hele een en nie net die stukkie van hom wat sy gisteraand teen haar vel gevoel het nie. Hoe moet dit wees om daardie harde lyf van hom naak teen haar eie, nee, ín hare te voel? Haar verbeelding neem onbedaarlik die loop.

Hoe lank vat so iets voor dit ophou? dink sy koorsagtig.

Dis daardie verduiwelse deur, besluit sy. Die ding het haar so hard teen die kop getref dat die kompartemente van haar brein tydelik deurmekaargeskommel is. Skynbaar sit die afdeling vir emosie nou reg voor waar haar nugter denke eers was, terwyl seksuele begeerte sommer elke beskikbare hoekie ingeneem het.

Tee. ’n Koppie warm tee. Dit sal help om haar op die onmiddellike te laat fokus en daarna kan sy aan die gang kom, besluit sy.

Sy stap doelgerig en met ferme tred kombuis toe. Sy maak dit amper tot daar, maar toe sy by die stoorkamer se oop deur verbygaan, is Naude skielik hier vlak by haar. Sy hou haar kop laag en probeer hom systap, maar hy ruk haar nader. Sy skrik so groot dat haar ledemate weier om te beweeg.

Sy probeer eers keer, maar hy is duidelik buite homself en haar gesonde verstand laat haar net daar skandelik in die steek. As iemand nou in hierdie gang afkom, dink sy verbouereerd en retireer sonder om te dink vinnig by die stoorkamer in.

Hy is by haar. Hy pen haar ru vas teen die rak vol lêers, maar sy voel dit nie, want sy begeerlike mond is uiteindelik hard en dringend op hare. Sy hoor hoe sy asem hortend deur sy neus kom, sy ruik die geur van sy growwe wange, sy proe die soet smaak van sy lippe en sy voel met haar hele wese die stuwing van hul liggame teen mekaar.

Op hierdie oomblik gee sy nie meer om of die ganse personeel van Marais, Malan en Boshoff op en af paradeer voor die stoorkamer nie. Of hulle haar met verkykers en vergrootglase bestudeer, maak skielik nie ’n duit saak nie. Elke sintuig en elke vesel van haar liggaam reik uit na hierdie onuitstaanbaar sensuele oomblik met hierdie lieflike man, wat homself met soveel oorgawe aan haar bied.

Haar sinne duisel en tuimel van die heerlikheid daarvan toe hy sy hande agter in haar hare indruk en die haarknip loswoel dat haar hare oor haar skouers val. Hy kyk na haar met sy donkerswart oë terwyl hy met bewende vingers die boonste knopie van haar bloesie losmaak. Sy herwin met moeite ’n greintjie beheer oor haar sinne. Sy druk sy hande weg en maak met jagende asem haar hare weer vas.

“Asseblief, Danielle,” is die eerste woorde wat hy uitkry. Sy stem is ’n pleitende liefkosing wat haar duiselig maak.

“Ons kán nie,” sê sy radeloos.

“Nee, nie hier nie. Vanaand, asseblief. Ek móét jou sien. Ek kom na jou woonstel.”

Hy praat in die kroontjie van haar hare terwyl hy haar kop vinnig teen sy bors druk. Toe stap hy sonder ’n verdere woord by die deur uit.

Sy bly vir ’n oomblik met haar rug teen die rak staan. Sy ruik hom aan haar hande. Sy is traag om die oomblik te laat los, maar sy weet sy moet hier uitkom.

Soos ’n slaapwandelaar sweef sy dol van geluk ongesiens na haar kantoor.

“En as jy só sit? Gedog jy kan doen met ’n teetjie,” sê Bonnie en sit ’n koppie tee voor Danielle neer.

Danielle skrik en kyk op.

“Oh, my word! Hoekom lyk jy of jy ’n ontmoeting met ’n oorledene gehad het, vrou? Is dit die hou op jou kop? Shame, ek dog jy moes ’n bietjie lê,” babbel Bonnie.

“Ek is fine,” sê Danielle outomaties.

“Never! Daar is iets snaaks met jou aan die gang, suster.”

Danielle probeer glimlag om Bonnie te oortuig dat alles normaal is, maar toe sy eers begin, sprei die lag al verder tot haar mond omtrent seer voel. Sy kan die glimlag nie keer nie en ook nie die gevoel van geluksaligheid wat haar terstond oorval nie.

Bonnie trek haar oë op skrefies. “En as jy nou sit en smile soos die Mona Lisa? . . . Oh, my goodness, ek ken daai soort smile!” Sy ril geluksalig en skop fyntjies met haar voete in die lug. “Dis hoe ek gelyk het toe Gordon my die eerste keer gesoen het!” sê sy asof daar vir haar ’n lig opgaan.

“Dit het natuurlik iets te make met die edele Mister Gorgeous homself! Ek kan twee en twee bymekaarsit en vyf kry, of jy kan my vertel en ons kom by die regte getal uit.” Sy vou haar arms oor haar formidabele boesem en trek haar rooi lippies op ’n plooi. “Praat, ek luister,” beveel sy streng.

“Ag, Bonnie, dis eintlik alles ’n groot gemors,” sug Danielle. “Maar as jy dan nou móét weet: ek is mal oor Naude en hy het my netnou gesoen in die stoorkamer en ek kan nie ophou fantaseer oor hom nie en hy kom vanaand na my woonstel toe en ek weet nie wat de joos ek gaan doen nie!”

“Well, bless my soul,” is al wat Bonnie uitkry. Sy staar haar vriendin ontgogel aan. “Sies, Danielle, skaam jou. Om my so holier-than-thou oor die man aan te spreek, en intussen knyp jy self die kat in die donker. Nogal in die stoorkamer! Sommerso uit die bloute? Bietjie dodgy, as jy my vra.”

Sy lyk so ontstig dat Danielle sommer ineenkrimp by die aanhoor van haar woorde. Woorde wat terloops alles waar is.

“Wie sou nou kon dink dat daai kamtig gekultiveerde gentleman so kan uithaak?” voeg Bonnie geskok by. “En met jóú, nogal?”

“Ek weet,” sê Danielle, “maar ek kan myself eenvoudig nie keer nie. Die man maak my mal.”

“Hy sal enige vrou mal maak as sy hom die kans gee, my ding. Make no mistake, die man is ’n fees, maar om actually by hom betrokke te raak . . . dis selfmoord, my engel. Hoe is jou mensekennis dan? Almal weet mos dat sulke upstairs mans gewoonlik die een of ander dark secret het. Veral die mooies. Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond – daai cliché is ’n cliché oor dit so wáár is, my mens. Ek sou dink jy van alle mense sou dit kliek!” Bonnie is uitasem na dié stortvloed woorde.

Danielle laat sak haar kop. Waarin het sy beland? In kookwater tot oor haar kop, sowaar, besef sy droewig.

“Ek weet, ek weet,” sug sy. “Ek ken hom nie eens werklik nie. Behalwe hier op kantoor. Ek glo ook nie aan snert soos liefde met die eerste oogopslag nie. Tot nou . . .” Sy grawe met albei hande in haar hare.

“Dis oor jy jou gevoelens altyd so opbottel en wegsteek!” sê Bonnie. “Maar newwermaaind, dis nie te laat nie.” Sy skuif reg soos een wat die leisels gaan oorneem. “Jy stap nóú hier in die gang af na sy kantoor toe en jy sê hom jy kan hom ongelukkig nie vanaand sien nie, en ook nie môreaand of enige ander aand op die almanak nie, jy is heeljaar propvol geboek, kant en klaar.”

“Ek kan nie, Bonnie. Al wil ek . . . my bene sal my nie dra tot daar nie, en my mond sal weier om die woorde te sê,” pleit Danielle.

“Hoekom?” kap Bonnie blitsig teë.

“Omdat dit voel of my hele lyf pyn vir hom. Of my hele wese na hom smag en ek hom nooit weer uit my bloed sal kry nie,” kerm Danielle nou amper in trane. “Jy weet nie hoe dit voel nie.”

“O ja, ek weet presies hoe dit voel, my lam,” sê Bonnie bitter. “Ek was ook al met een van daai soort deurmekaar en die situasie was byna presies dieselfde as hierdie een.” Sy is skielik doodernstig. “En wat het dit my in die sak gebring? Trane en hartseer, dis wat.”

“Ek weet ek behoort na jou te luister,” sê Danielle en byt op haar lip, “maar ek weet ook dat niks hierdie ding kan keer nie.”

“Ag, asseblief, Danielle! ’n Suksesvolle oopkop-girl soos jy?” sê Bonnie met opgetrekte wenkbroue.

Danielle hoor elke woord, maar sy kyk koppig weg.

“Wel, moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie,” dreig Bonnie dramaties. “You’re out of you’re league met hierdie ene, hoor. Jy speel met dinamiet. Been there, got the T-shirt, the video and the scars, ou girl. Maar moenie kommer nie, ek sal nie ’n woord verklap nie. En die dag as jy besef jy is vir hom net nóg ’n dingetjie on the side, sal ek daar wees om die nat kolletjie op te vee wat van jou gaan oorbly.”

Sy stap by die kantoor uit met ’n ergerlike veeg oor haar rooi boskasie.

Dis eers toe Danielle die aand in haar woonstel sit, parfuum agter die ore en haar hare los gekam in afwagting, dat sy tyd kry om oor Bonnie se ongewoon heftige reaksie te dink. Maar sy skud dit af. Gelukkig het die dag sy loop geneem en het sy spoedig so besig geraak dat die tyd taamlik gou verbygegaan het. Sy het nie weer vir Naude te siene gekry nie. Sy vermoed hy moes kliënte gaan sien en sy was dankbaar daaroor.

André het net na Bonnie se besoek aan haar deur kom klop en hulle was tot toemaaktyd verstrengel in hul soeke na moontlike skuiwergate in hul saak teen ene Gustav Louw namens Mavis Rabinowitz. Rabinowitz, ’n welbekende sakevrou wat gereeld op glanstydskrifte se sosiale bladsye pronk, eis skadevergoeding van Louw, met wie sy skaars sewe maande getroud was. Sy beweer hy het haar verneuk in ’n spul besigheidskontrakte nog voor hulle behoorlik geskei was.

Hulle het selfs die formidabele me. Rabinowitz, wat niks nonsens van ’n man vat nie, tuis gaan sien om sorgvuldig elke puntjie van die saak met haar deur te werk. Danielle moes konsentreer om haar kop bymekaar te hou, want sy besef dat Rabinowitz vir haar en haar firma ook geen genade sal hê as die saak nie in haar guns draai nie. “Please remember, Miss Malan, I do not suffer fools gladly,” was haar woorde van verwelkoming toe sy hulle die eerste keer kom sien het.

Vanmiddag was André se rustige teenwoordigheid gelukkig ’n goeie teenvoeter vir Danielle se onstuimige gemoed, en met hom daar kon sy selfs daarin slaag om ’n paar sinvolle aanbevelings te maak. Dis asof sy doodgewone optrede die stormagtige emosies wat sy tans ervaar eenvoudig kon neutraliseer. Dit het dit selfs tydelik ietwat onwerklik laat lyk.

Tot nou, hier waar sy op die rusbank sit en nie ’n woord hoor wat op die televisieskerm voor haar plaasvind nie, omdat sy snaarstyf gespanne wag vir die deurklok om te lui. Hoekom het Bonnie so heftig tekere gegaan? wonder sy skielik. Dis nie asof sy, Danielle, die wet oortree of enigiemand behalwe haarself blootstel nie.

Daar moet meer in Bonnie se reaksie steek as wat sy wou laat blyk, maar Danielle kan nie haar vinger daarop lê nie. Bonnie moet iets weet waarvan sy haar nie wil sê nie. Vreemd dat sy nou eers besef dat die ekstroverte Bonnie ook maar ’n deel van haar persoonlikheid en haar lewe ten alle koste privaat hou.

Danielle het Bonnie die eerste maal ontmoet toe sy na Marais en vennote gekom het en Danielle genader het om haar egskeiding te hanteer. Bonnie was ooglopend verpletter, en toe sy net die absoluut noodsaaklikste inligting aan Danielle verskaf het, het sy dit bloot daaraan toegeskryf.

Bonnie was net twee jaar getroud en sy het daarop aangedring dat daar geen eise uit die geding moes spruit of onderhoud van haar man, ’n apteker met ’n suksesvolle praktyk, geëis moes word nie. Sy wou ook niks van hul gesamentlike besittings hê nie, ten spyte daarvan dat hulle binne gemeenskap van goedere getroud was.

Danielle het dit vreemd gevind en voorgestel dat Bonnie ten minste ’n minimale bedrag vir maandelikse onderhoud moes stipuleer, maar Bonnie het vas gestaan.

“Kry net die ding agter die rug, juffrou Malan. Ek wil van daai man niks hê nie. Al wat ek vra, is ’n skeibrief, niks anders nie,” het Bonnie volgehou.

Dis dan ook al wat sy gekry het. Die saak is blitsig afgehandel die dag in die hof toe Danielle saam met Bonnie daar was, omdat daar geen eise of teeneise was wat dinge kon laat sloer nie. Skaars ’n driekwartier nadat hulle by die hofgebou opgedaag het, was alles verby. Danielle het die verwese Bonnie in ’n koffiekroegie naby die hof ingeboender en haar ’n koppie sterk filterkoffie met drie lepels suiker in gegee.

Hulle het aan die gesels geraak en dadelik aanklank by mekaar gevind. Daarna het hulle gereeld naweke oor en weer begin kuier of saam gaan eet, fliek of avontuurlike staptogte deur die winkels onderneem. Toe Danielle haar posisie as vennoot by die firma aanvaar het, kon sy uiteraard nie langer die tikwerk ook behartig nie, en sy het dadelik aan Bonnie gedink.

Bonnie het die volgende dag by die kantoor ingeval, haar hare wortelrooi gekleur asof dit nog altyd so was. Sy het die indruk geskep dat sy ’n nuwe, vroliker hoofstuk van haar lewe wou begin en daar is nooit weer oor die verlede gepraat nie.

Danielle sien dat die agtuurnuus reeds verby is op die skerm voor haar. Sal Naude werklik doen wat hy so hartstogtelik belowe het? wonder sy. Of sit sy dalk soos die stereotipe oujongnooi vergeefs hier en wag? Is dit dalk wat die spul op kantoor reeds van haar dink? Sy kan haar die vlaag grappe indink wat ten koste van haar sal rondtrek van selfoon na selfoon as die personeel snuf in die neus moet kry.

En as hy opdaag, sal sy Bonnie môre op kantoor daarvan vertel? Sou dit dalk net ’n klein bietjie jaloesie van Bonnie se kant wees wat haar so tekere laat gaan het? dink sy dislojaal. Bonnie het immers geen geheim daarvan gemaak dat sy Naude onweerstaanbaar vind nie, en daar is geen man in Bonnie se lewe ná die egskeiding nie.

Sy staan ongedurig op om te kyk of daar nie dalk ’n motor in haar rylaan stilgehou het nie. Teleur-gesteld sak sy op die bank terug en dwing haarself om die verloop van ’n verspotte vasvraprogram te begin volg.

Sy moes ingesluimer het, want sy ruk wakker toe iemand sag aan die glaspaneel in haar voordeur tik. Sy gryp vervaard na haar hare en skud dit los met een hand terwyl sy by die spieël in haar voorportaaltjie verbyhaas. Skielik is die deur oop en sy is in sy arms sonder dat sy ’n oomblik aarsel.

“Naude, ek . . .”

Maar hy smoor haar woorde met sy mond en trek haar styf teen hom aan.

Dis asof sy haar lewe lank gewag het vir hierdie enkele moment waar hulle alleen en onverstoord mekaar kan verken. Waar sy die intensiteit van die emosies wat sy al vir ’n ewigheid onderdruk sonder voorbehoud kan ervaar. Sy voel sy harde armspiere deur sy dun hemp en sy vingers gly gretig langs haar rug af. Haar mond kry nie genoeg van syne nie en haar kop sweef van die suiwer genot van hom.

Hulle sak neer op die rusbank. Sy lippe loop ’n sidderend-heerlike paadjie langs haar wang af en kom tot rus in haar kuiltjie. Sy voel die krapperigheid van sy baard teen haar vel. Sy ruik die skoon reuk van sy hare toe hy sy kop in haar nek nestel sodat sy sy asem op haar bors voel.

Sy plaas haar lippe versigtig teen sy adamsappel soos sy al so dikwels wou en laat dit stadig, tydsaam dwaal tot by die opening van sy hemp waar sy sy borsspiere onder haar mond voel span. Sy proe hom. Sy hande is lomp van haas toe hy haar knope losmaak en sy help hom met sy eie. Hy skuif eers haar bloes versigtig van haar skouers af en toe die skouerbandjies van haar bra.

Sy wag ongeduldig vir hom om die knippie agter haar rug los te maak. Hy vat haar aan haar skouers vas en hou haar effens teë.

“Asseblief,” fluister hy skor, “jy is so pragtig. Ek wil net eers na jou kyk.”

Sy sterk bolyf glim goudbruin in die dowwe lamplig en dit voel vir haar soos ’n ewigheid voordat hy haar nader trek en sy die gretige puntjies van haar borste teen sy lyf voel druk. Hulle sak saam agteroor soos twee dansers in tandem en sy mond sluit hard oor hare. Sy hoor sy asemhaling versnel saam met haar eie. Sy voel hoe hy die sagte materiaal van haar romp ongeduldig opsy skuif en sy hande wat oor haar bene beweeg tot amper by haar heupe. Haar asem raak weg. Dis asof sy vingers haar vel tintelend skroei en die heerlikste vuur aanwakker in elke geheime hoekie van haar lyf.

Skielik lui sy selfoon met ’n ongeduldige geskel. Sy voel hoe sy liggaam teen hare verstyf. Hy sukkel die foon uit sy jeans se sak, maar dit hou op lui voordat hy dit kan antwoord. Hy kyk op die skermpie en sy sien hoe sy gesig verstrak.

Meteens is hy op sy voete, sy oë nog intens en donker van passie. Hy neem haar hande en trek haar tot teen sy bors. Sy ruik die sweterigheid op sy vel, sy manlikheid. Sy asem jaag nog effens. Hy druk haar kop teen sy bors vas en sy voel die hitte van sy lippe op haar kroontjie soos vanoggend. Toe stoot hy haar byna ru van hom af weg.

“En nou?” is al wat sy uitkry. Sy hou haar bloes met een hand voor haar bors toe.

Sy blik bly vir ’n paar sekondes hongerig op haar, asof hy nog nie genoeg van haar gesien het nie. Toe hy eindelik praat, is dit asof sy hom van ver deur newels heen hoor.

“Jammer, Danielle.”

Met sy oë heeltyd smekend in hare begin hy haar knope met groot sorg een vir een vasmaak en haar bloesie onhandig platstryk oor haar rug. Asof hy daarmee alles ongedaan wil maak.

Sy kyk ontredderd toe hoe hy haar aantrek, terwyl elke sel in haar liggaam skreeu dat hulle die liefdespel wat so ru onderbreek is in hemelsnaam moet hervat.

“Jammer? Waaroor?” vra sy hees.

Sy hande kom rus weer op haar skouers. Sy voel hoe sy duim oor haar wang streel. Asof hy tog traag is om haar te laat gaan.

“Oor ek nou eers hier aangekom het. Oor ek jou sommerso by die deur gegryp het. Sommer oor alles. Maar ek moes jou eenvoudig sien.”

“Ek het nie gekla nie,” sê sy bedremmeld. Sy bly doodstil staan, te bang om te roer.

“Ek kan ongelukkig nie bly nie,” sê hy gesmoord. “Ek moet dadelik gaan.”

“Hoekom?” hoor sy haarself smekend vra. “Is dit oor die oproep?”

“Dis . . . dis moeilik om te verduidelik. Ek . . . jy moet asseblief verstaan . . . daar is dinge . . .” Hy druk die vingers van sy regterhand teen die diep frons op sy voorkop.

“Jammer, Danielle. Hierdie hele ding is ’n groot fout. Dis my skuld. Dis net . . . nadat jy nou die dag in my arms was, kon ek jou nie uit my gedagtes kry nie. Ek dink nie jy besef watter begeerlike vrou jy is nie, en dis juis wat jou so onweerstaanbaar maak. Ek het impulsief opgetree, kop verloor. Ek moes gedink het. Dit moes . . . mag nooit gebeur het nie.”

Hy vryf sy kuif plat en knoop sy hemp toe, druk dit onhandig by sy lyfband in. “Dis alles heeltemal agterstevoor,” sê hy.

Hy kyk af na haar en druk ’n haarsliert agter haar oor in. Sy weet nie of sy moet wegruk nie. Haar lyf voel of dit gevries het.

“Jy, Danielle, is die soort vrou wat verdien om behoorlik die hof gemaak te word,” sê hy dringend terwyl hy haar gesig in sy hande kelk, haar dwing om in sy oë te kyk. “Ek . . . kan jy asseblief net maak asof niks hiervan ooit plaasgevind het nie? Veral op kantoor. Ek moes van beter geweet het, my ingehou het.” Sy oë pleit. “Dis net . . . ai, meisiekind, dis beter as jy niks verder weet nie.”

Sy kyk net verstom na hom.

“Glo my, dis beter so. Ek is werklik jammer,” sê hy moeg.

Hy neem haar hand en druk haar vingers teen sy lippe. “Ek hoop jy kan my vergewe. Ek weet dat jy nie die vaagste benul het van die dinge wat my verhoed om jou in my vertroue te neem nie, maar ek verseker jou dis nie vir my maklik nie. Dalk sal ek eendag vir jou kan verduidelik, maar nie nou nie. En môre en oormôre, as dinge vir jou vreemd lyk, moet jy asseblief verstaan dat ek net die uiterste respek vir jou het.”

Dis asof haar ore haar bedrieg. Asof sy woorde iewers in die vertrek vasslaan sonder dat sy iets daarvan verstaan. Asof sy haar in ’n grap bevind en almal behalwe sy weet waaroor dit gaan.

Hy draai om en stap deur toe. Soos in ’n droom sien sy hoe hy ’n oomblik met sy rug na haar bly huiwer. Sy wil opspring en keer. Vra. Weet. Toe stap hy uit en trek die deur agter hom op knip sonder om weer om te kyk.

Sy gaan sit verslae soos die oorlewende van een of ander ramp. Sy druk haar hande styf tussen haar kniekoppe in in ’n poging om die bewing in haar lyf te bedwing, maar dit help nie. Haar liggaam weier om die boodskap te kry dat daar geen verdere liefdespel gaan wees nie. Sy byt hard op haar een hand se kneukels, maar die warm, polsende begeerte na hom bly uit haar bekkenholte opstoot. Sy klem een van die kussings teen haar lyf vas en geleidelik bedaar dit.

Dit kom nou daarvan, dink sy wrang, as ’n mens jou soos ’n bakvis gedra. As ’n mens teen jou beterwete ingaan en jouself op ’n skinkbord soos ’n halfprys hamburger vir ’n man aanbied. Sy is nou maar eenmaal nie gebou vir eennagplesiere of goedkoop flirtasies nie. Wat het haar besiel? Haar binneste krimp ineen.

Sy weet dat haar lot ná vanaand onherroeplik saamgevoeg is met dié van die man wat so pas by haar deur uitgestap het. Van een ding is sy seker: as sy foon nie gelui het nie, was sy nou nog dieper in die moeilikheid, want sy was op die punt om haar liggaam onvoorwaardelik aan hom te gee. Sy sal voortaan gespanne bly wag vir die oomblik wanneer hy ten volle daarvan besit sal neem. Elke oomblik vir sy aanraking wag soos vir suurstof.

Haar emosies is skielik ’n pynlike deurmekaarspul van vrees, hartseer en woede. Vir die eerste maal in haar versigtig beplande volwasse lewe het sy haar geluk en haar geestesgesondheid in die hande van ’n ander geplaas om daarmee te maak soos hy wil.

Die lang nag in haar woonstel is skielik gevul met ’n skreiende, ongekende alleenheid. Dis hoe dit voortaan gaan wees, besef sy. Sy sal soos ’n verslaafde bereid wees om enigiets te aanvaar, enige verduideliking te glo wat hy haar bied, eerder as om een soet oomblik saam met hom op te offer.

Skielik verlang sy so intens na haar ma dat die trane agter haar ooglede prik.

Die wet van die liefde

Подняться наверх