Читать книгу Donna en die droomman - Anita du Preez - Страница 4

2

Оглавление

Donna klop die klonterige kussing vies plat en wikkel haar rug reg teen die bedstyl. Sy skreef haar oë teen die sonlig wat nader kruip deur die oop slaapkamervenster van haar halwe huisie in Observatory. Die peperduur moddermasker wat die vrypostige Israeli’tjie in die gangetjie by die inkopiesentrum aan haar afgesmeer het met die belofte dat dit direk uit die Dooie See kom, begin effens kriewel op haar gesig, presies soos wat op die potjie staan. Natuurlik begin haar selfoon juis nou benoud piep. En dit gaan aanhou tot sy toegee. Sugtend stoot sy haar vet mannetjieskat, George-André, eenkant toe en vat haar swartraambril op die bedkas raak. George maak net een geelgroen oog lui oop, rol om en slaap pote in die lug voort. Donna moet oor sy warm wollerigheid rek om haar foon nader te trek.

Dis Karen. Wie anders? Koek & kofi by Arnlds. Ons km hl jou.

Half moedeloos, half ergerlik antwoord sy: Nee dankie. Is nog effe beneuk. Gaan sonder my. Onthou jou pille.

Ai, dink sy, terwyl sy haar bril weer versigtig afhaal. Hulle twee se SMS’e spreek boekdele omtrent hulle verskille. Karen mors nie tyd met klinkers nie. Die lekkertes van die lewe sluk sy skil en al in, terwyl Donna weer alles stadig en presies wil proe sodat dit langer kan hou en sy die sin daarin kan vind. Karen, die een wie se hart alreeds nie reg klop nie, leef vreesloos voluit, bekommer haar nie oor die dag van môre nie, en sý, wat niks makeer nie, hou haar suinig in toom asof sy bang is dat iets iewers sal opraak. Dit is seker maar waarom haar eie bloedsuster na jare nog steeds nie kan verstaan waarom sy net met rus gelaat moet word nie. Sy wíl nie saam met Karen en haar nuutste geur-van-die-maand gaan ontbyt eet in Kloofstraat óf koffie drink by Blouberg óf aandete eet by die Taphuis of enige ander plek waarmee Karen haar voortdurend dreig nie. Veral nie nou nie. Maar Karen kry nie end nie. So was dit maar van kleins af.

Met ’n driftige gebaar skakel sy haar sel af en plak dit neer. Kamtige slimfoon. Jammer sy kan die foon nie leer om Karen te herinner om ekstra betablokkers in haar handsakke te hê nie. Sy wat Donna is, het ’n break nodig van haar rol as ousus en noodwiel.

Sy is gedaan. As haar mense net wil verstaan sy is nié eensaam nie, het niemand se hulp nodig nie en cope in haar eie opinie besonder goed vir een wat al meer as ses maande sonder haar man sit. Dit was ’n flippen harde jaar by Buitenkant Produksies en sy wil so min moontlik in haar vakansie doen. Sy moet haar kragte herlaai.

Dis nie kinderspeletjies om jou eie ontwerp- en reklamemaatskappy suksesvol in vandag se ekonomiese klimaat te bestuur nie. Hulle het lanklaas lekker kontrakte losgeslaan en sal moet uithaal om voor te bly. Donna se maag maak benoude draaie. Sy weet hoeveel bloedsweet, networking en slapelose ure dit nou weer gaan verg. Nog iets wat Ruhan nooit wou hoor nie.

“Wat doen julle heeldag? Hoe lank kan dit nou vat om ’n paar prentjies vir mense se ontwerpies en goed bymekaar te sit? Of om een van julle amateurvideo’tjies te skiet? Jy hét mos personeel. Jy, ou girl, moet leer om te delegeer!”

Sy weet sy is besig om haarself gek te maak. Nie álles tussen haar en Ruhan was sleg nie. Sy moet aan iets anders dink. Eintlik is sy mos veronderstel om te ontspan en die skoonheidsmasker sy werk te laat doen. Maar oor en oor grawe sy elke kwade woord tussen haar en Ruhan uit die sloot. En daar’s baie om van te kies.

Eindelik gryp ’n paar ongekondisioneerde breinselle dankbaar na ’n ander, veiliger onderwerp. Karen se nuwe aanhangsel. Die “ons” in haar SMS. Daar was ’n Jan met wie sy al ’n rukkie lank oor die internet geflankeer het, hoewel dit klink asof hy ook weer van die radar af is. En die afgelope week of wat moes Donna juis weer hordes van Karen se e-posse en SMS’e deurwerk oor die een of ander splinternuwe, fabulous Pieter of ’n ding. Hoe fabulous iemand met die naam Pieter nou eintlik kan wees, weet sy nie so mooi nie, maar nou ja. Wie is sy om te oordeel?

Sy sug en voel weer versigtig of die masker aan haar gesig al die regte tekstuur bereik het. Niemand by Buitenkant Produksies gaan haar respekteer as sy soos ’n voëlverskrikker lyk nie.

Sy weet presies hoe die arme skepsel gaan lyk wat Karen so graag vir haar wil kom wys. Lank, donker en aantreklik natuurlik. Die absolute cliché in lewende lywe. Al Karen se aanhangsels lyk so. Sy onthou vaagweg dat die Pieter glo ’n wyd belese, alleenlopende veearts uit Namibië is. Presies waarvoor Karen sou gevra het as sy ’n man van vaderkrismis.com kon bestel.

Is hy nie stunning nie? was die onderskrif by die laaste dowwerige selfie wat naastenby die stereotipe van enige donker man kon wees omdat Karen se arm duidelik gebewe het toe sy hulle afgeneem het. En hy ís seker; Karen hou haar nie op met lelike mans nie. Maar moet sy hulle heeldag onder Donna se neus vryf? ’n Mens eet nie voor honger mense nie, het Pa altyd gesê.

Die gemis van haar pa bekruip haar onverwags. Sy skud dit af. Karen kan dalk aan ’n flippen vaderkompleks ly met haar rondvallery van die een lang, aantreklike, donker man na die ander, maar nie sy nie. Sy wil van Dawid Ferguson niks hê nie en niks weet nie. Karen kan dalk ná haar ma se dood kontak met hom probeer hou het, maar nie sy nie. Nadat hy haar ma weggesmyt het, het sy hom heeltemal uit haar verwysingsraamwerk geban. Sy vervies haar sommer as die herinnering aan sy rysige gestalte, of selfs net sy reuk, soms so ongevraagd uit haar onderbewuste opkom.

Nee wat, sy het vroeg in haar lewe geleer om g’n man te vertrou nie. Of te naby aan haar toe te laat nie. Ruhan was die uitsondering, en kyk waar het dit haar gebring? Net soos haar yslike misstap nou die aand met Jayd se uitstalling. Liewe genade, sy word sommer naar wanneer sy dink aan hoe sy haar vergryp het daar op die galery se stoep aan die eerste die beste testosteroonfabriek wat haar kant toe gekyk het. Gelukkig dat iemand net betyds uitgekom het om te rook. Dis eintlik als Jayd se skuld. Omdat hý nie drink nie, moes sy vooraf jolly well al die onderskeie kultivars proe sodat hy seker kon wees van die gehalte. Geen wonder sy was nie mooi by haar sinne nie. Sy sidder om te dink wat sy als kon aangevang het as die rooklus twee vreemdelinge nie buitentoe gedryf het nie. Om te dink sy het haar verbeel dis haar droomman wat presies op die regte tydstip deur die voorsienigheid oor haar paadjie gestuur is. Yeah, right. En meer as vier weke later het daar steeds niks van gekom nie. ’n Volle maand. En vet mooi nokkol, soos Jayd sou sê.

Sy het verniet haar lip stukkend geknaag terwyl sy haar foon sit en dophou het. Niks in g’n inboks van enige aard nie. Net ’n oorvloed posts en tweets van Karen oor haar nuutste vonds. Donna word sommer warm onder die moddermasker. Wat ’n vernedering. Gaan sy nooit leer nie? Sot wat sy is, het sowaar gedink dis dié keer spesiaal. Flippet. As hy die soort man is wat sy gedink het hy is, sou hy ’n plan gemaak het. Kon hy haar nie net gegoogle het nie? Hoe moeilik kan dit nou wees? Oukei, hulle het nie name uitgeruil nie, daarvoor was alles mos te spesiaal en tog so sexy. Gmff! Wat van die familie van vyf in die film wat sy verlede Saterdagaand gekyk het, wat mekaar ná ’n tsoenami opgespoor het. Selfs al was daar geen gastelys vir Jayd se uitstalling nie, kon hy haar tog sekerlik opgespoor het as hy regtig wou? Ag, die hele affêre maak haar moeg. Mans is werklik net moeite, besluit sy en wikkel haar skouers lekker in die kussing in.

Deur slaapnewels heen word Donna daarvan bewus dat iets iewers lui. George-André lig sy kop en gluur haar beskuldigend aan. Donna dommel gelukkig binne sekondes weer weg. So salig …

Die gelui word voortgesit. Verdomde voordeurklokkie, besef sy. Sy kom swaar weg van die donker man in haar droom. Oorweeg dit om die laspos by haar deur te ignoreer. Dis sweerlik net die bergie wat elke middag kom kos soek.

Sy pluk die voordeur ergerlik oop sonder om oudergewoonte te vra wie staan aan die ander kant. Gelukkig is die plankvloer koel onder haar voete, want die gestalte op haar drumpel stuur onmiddellik ’n hittegolf deur haar lyf. Dit is dié man. Die een met wie sy ’n paar weke gelede so skaamteloos op die stoep van Jayd se galery gestaan en vry het.

Die droomman.

Oomblikke lank is sy sprakeloos. Dan tintel dit soos sjampanjeborrels deur haar lyf. Hy is so wragtag hier. Hy het gekom! En sy gee wel om. Dit wás nie net die wyn nou die aand nie, want hier is hy nou, en sy voel presies soos toe en sy makeer nou niks.

Toe sluk Donna swaar. Daar is geen speeksel in haar mond om haar tong los te maak nie. Sy besef dat sy in diep moeilikheid is, want van agter die droomman se groot gestalte duik Karen ewe speels uit.

“Tada!”

Hoe is dit moontlik? Sy knipper haar oë. Die man staan regtig donker teen die daglig hier op haar drumpel afgeëts. Met Karen by hom.

Nie heeltemal wat sy gewens het nie.

Moenie dat dit Karen se nuwe Pieter wees nie, bid sy stilletjies toe hy frons en vinnig terugstaan tot waar die lig op sy gesig val. Dis tog nie moontlik dat só ’n man se naam Pieter kan wees nie? Hy is ruwer, gevaarliker en begeerliker as wat sy selfs onthou. Sy wat Donna is, het nog altyd geval vir ’n bliksem en dié een hier voor haar met sy windverweerde gesig is beslis geen mak kalfie nie. En hy laat haar hart ruk, presies soos daardie aand.

Please, give me a break, pleit sy boontoe, kan dit nou nie maar Sebastian of ’n Stefano of ’n ding wees wat Karen sommerso langs die pad opgetel het nie? Of Jan van die internet? Of enigiemand vir wie Karen nie juis meer omgee nie. Net nie Pieter nie. Sy het hom tog eerste gesien. Hy is háár droomman. Nie Karen s’n nie. Nie hierdie keer nie …

Donna voel hoe haar noodkreet nutteloos teen die plafon vasslaan.

Karen gooi haar arms wyd en verklaar hom blinkoog en amptelik as: “Pieter!”

Donna voel presies dieselfde magteloosheid oor haar spoel soos toe sy haar troetelhaas, George, haar eerste tienerliefde, André, en byna elke ander liewe ding waarvoor sy ooit omgegee het, moes afstaan omdat Karen dit wou hê. Omdat Karen blonder en mooier en slimmer as sy is. Jonger. En maerder. Maar veral omdat Karen die siek ene is.

Tot haar skaamte voel Donna die wrewel van kleintyd oor haar spoel. Sy wil haar ore toedruk: “Ag, gee tog maar vir haar jou Paaseier, Donna. Sy verstaan nog nie, en sy is mos nie gesond nie, my kind. Onthou tog van haar hartjie. Mamma se skuld. Mamma moes gesorg het dat jy joune wegbêre. Siestog, kyk hoe skree sy. Ou gesiggie is bloedrooi … hoor hoe fluit haar asempie. Dokter het mos verduidelik dat sy nie so ontstel mag word nie. Toe wat, Ma se kind verstaan mos, nè? Ons kry net môre vir jou ’n ander een, oukei?”

Kon haar ma dan nie gesien het dat Karen al haar Paaseiers blitsvinnig opgeëet het en dan staan en tjank het oor háár laaste een nie? Of dat sy André eerste gehad het lank voor Karen se hongerstaking oor hom? Donna knyp haar oë styf toe teen die skuldgevoel wat haar omvou. Sy weet sy is onredelik en simpel, en dat alles dalk nie presies gebeur het soos sy dit onthou nie, maar kan haar gevoelens met die beste wil ter wêreld nie keer nie. Sy voel lus en stamp haar voete op die plankvloer, of gooi ’n vloermoer. Sy wil nie môre ’n ander een hê nie … sy wil hierdie een nóú hê!

Toe Donna opkyk, sien sy Pieter se gesig is vraend geplooi. Hy kyk haar snaaks aan. Sy het ekstra suurstof nodig. Sy suig lug skerp deur haar mond in en staan vasgenael. Kyk hom reg in die oë asof sy ’n antwoord uit hom wil kyk. Praat, meneer. Moenie my so aanstaar asof jy nie kan glo wat jy sien nie. Sê iets. Enigiets.

Maar hy lig digte, donker wenkbroue bokant twee groenbruin oë en sy stroewe mond plooi in ’n skewe glimlag. Sy kyk gefassineerd hoedat die glimlag sy gesig verander, hoe die diep krake weerskante van sy neus verby sy mondhoeke lig, en die twee beneukte vore tussen sy oë versag. Sy merk ook dat sy spierwit tande voor net effens skewerig wys tussen sy goed besnede lippe, en dit maak hom nog mooier vir haar. Al is die hare korter as wat sy onthou, is die bietjie grys teen sy welgevormde slape steeds daar. Sy was nog nooit een vir perfeksie nie. Daar moet iets onreëlmatig aan ’n man se gesig wees om hom werklik sexy te maak.

Hy steek sy hand effe huiwerig uit.

“Pieter Visser.”

En ja, die vingers wat hare omsluit, voel effens grof teen haar handpalm, laat haar ingewande draai, nes sy onthou.

“Donna Ferguson,” sê sy hopeloos te sag toe haar tong eindelik van haar verhemelte loskom.

Donna besef sy moet kophou en niks wys nie. Tog net nie weer ’n aap van haarself maak nie. Sy is mooi groot, of hoe? Sy kan dit hanteer.

Sy maak keel skoon. Probeer weer. “Al baie van jou gehoor, dokter Visser.”

Sy glimlag word net breër. “Ek kan my net indink wat sy alles kwytgeraak het.”

Die stem soos gerasperde sjokolade klink nes nou die aand. Sou hy dalk ’n tweelingbroer hê? Of geheueverlies soos in die sepies? Die man verklap niks. Hy lyk eerder asof iets hom grensloos amuseer en hy met moeite sy lag hou.

Karen proes ook van die lag en sit die gesigsuitdrukking op wat sy gewoonlik gebruik vir diegene wat effe stadig van begrip is.

“Berg na Mohammed!” Sy swaai die melktert in die winkelsak voor Donna se gesig rond. “Kan ons dalk inkom of gaan ons buite koffie drink?”

Toe eers kom Donna tot verhaal. Sy bondel ’n paar los haarslierte agter in haar nek saam en staan eenkant toe sodat hulle verby kan kom.

“Jammer, kom in. Weer aan die slaap geraak. Eintlik nog nooit eens behoorlik ópgestaan nie.”

“Ek sien so,” lag Karen, “maar los dit so, jy kan later aangaan met jou beauty sleep. Ons bly nie lank nie. Jy weet my kar is nog in vir die ratkas, toe bring hy my gou! Oulik, nè?”

Donna voel of sy in ’n dwaal is. Sy moet haar regruk voor Karen iets agterkom. En op die oomblik is sy kwaad. Dis nie die effense irritasie wat permanent net onder haar vel huiwer nie. Nee, dis volbloed woede. Teenoor … teenoor … wel … teenoor die heelal, of karma, of Murphy. Ja. Wie anders sou so ’n diabolies perfekte tydsberekening hê om dié man wat duidelik al weer aan haar suster behoort, hier voor háár neus te kom rondswaai?

Donna voel witwarm ergernis deur haar lyf stoot omdat iemand anders oor die vermoë beskik om haar verdomde hart so te laat rock ’n roll. Sien? Dis presies hoekom sy haar eenkant hou. Hoekom almal dink sy is holier than thou. Of ’n “donnerse ou suurpruim”, soos wat Ruhan haar opgesom het. Maar dis juis om dié soort seer te vermy dat sy almal op ’n afstand hou. Alewig haar pose hou.

Sy moes haar lewe lank die skuld dra ná wat daardie dag gebeur het omdat sy haar ma belowe het. Omdat Karen aan supraventrikulêre tagikardie ly en alle ontsteltenis van haar weggehou moes word ingeval haar hartritme op loop gaan. Daarom het sy wat Donna is geleer om die skokke namens haar sussie te absorbeer; moes sy altyd weet waar die naaste hospitaal is ingeval Karen ’n episode beleef; het sy geleer om asem op te hou terwyl Karen vreesloos op die randjie balanseer.

Maar nee, dis nou genoeg, blits die gedagte vir een verraderlike oomblik deur haar onstuimige gemoed. Miskien móét sy ’n slag dat Karen iets agterkom, en die verdomde slapgatmansmens sommer ook. Want hierdie man gaan van háár verwag om vir Karen te vertel wat tussen hulle gebeur het. Hy het duidelik nie die inbors of guts wat sy by ’n man soek nie. Maar toe sy opkyk na hom, is dit sý wat nie die moed het nie.

“Ek … e … ek is nie eintlik …” Die woorde kom lomp en ontoereikend by haar mond uit. Maar sy gluur die twee aan met die uitdrukking op haar gesig wat al groot manne na veiligheid laat skarrel het.

“Jy lyk … wel … besig.” Hy wys in Donna se rigting. “Sal ons nie liewer later …?”

Karen draai na Pieter. “Nee, man, moet jou nie aan haar steur nie. Agter daardie stokstywe uitdrukking is my eie dierbare bloedsussie. Sy steek dit net goed weg.”

“… eintlik in ’n goeie bui nie,” kry Donna die res van haar sin uit.

“My liewe Donnatjie, gaan skakel aan daai ketel, want as ons moet wag vir jou, sal ons lank wag. Jy’s al sedert Februarie 1985 in ’n bad mood.”

Donna suig verwoed nog suurstof in terwyl sy voor hulle uitstap kombuis toe. Sy kyk nie om nie. Nee, besluit sy. Not a damn gaan sy hier voor Karen en die mansmens staan en uitfreak. Sy weet mos niks het verander nie. Het sy nou regtig gedink sy sal toegelaat word om dié een vir haarself te hou? As jy wil hê Karen moenie jou man afvry nie, moet jy vir jou ’n lelike man soek. Mind you, selfs dan is dit skynbaar nie veilig nie, want ’n mens kan dié Pieter nie juis as mooi beskryf nie.

Sy draai die kraan oop. Die water spat verby die ketel se bek oor haar hele voorkant. Blikskottel. Sy vee die ergste met die vadoek op. Skielik besef sy dat sy Karen darem dié keer vals beskuldig. Die Pieter-skepsel is of was nou nie juis hare nie, en buitendien weet die arme Karen niks van hul onderonsie op Jayd se stoep nie. Nou kry sy sommer skaam. Karen is in Februarie 1985 gebore. Sou sy werklik glo dat haar suster in ’n slegte bui is vandat sy gebore is? Sou Karen die waarheid weet? Met haar is ’n mens nooit seker nie.

Donna vou haar hande oor die wasbak se rand. Sy onthou die storie met die ertjies. Sy was nege. Ouma Merle het na hulle kom kyk, want hulle ma was weer siek. Donna het alles op haar bord al rondom die ertjies opgeëet. Die hopie ertjies met haar mes en vurk probeer toemaak. Daardie pap, vaalgroen melerigheid kon sy eenvoudig nie afsluk nie. Maar Ouma was nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, al was sy voor die wasbak besig. Sy het oë agter haar kop gehad.

“Eet jou ertjies, Donatella.” Donna het enetjie met afsku op haar vurk mond toe gelig. Gekou. Toe word sy naar. En spuug dit uit.

“Help nie jy maak jouself naar nie. EET JOU ERTJIES! Of ek sit daai bord elke ete voor jou neer, terwyl ons ander kos eet.”

Ouma Merle het stywerug aangehou skottelgoed was. Donna kon die trane nie keer nie. Sy het só na haar ma verlang. Die ertjies het op die bord begin swem. Meteens was Karen terug in die kombuis. Sonder om te huiwer het sy die aaklige ertjies met doelgerigte bewegings uit Donna se bord in haar bakhandjie uitgekrap, argeloos tot by die drom langs die yskas gestap, die pedaaltjie getrap en die verdoemende getuienis daarin laat val, en met ’n triomfantelike uitdrukking op haar sewejarige gesiggie by die agterdeur uitgehuppel.

Donna vryf haar koue hande droog. Bloed kruip waar dit nie kan loop nie, dink sy. Miskien moet sy liewer dadelik vir Karen waarsku. Sy kan mos darem nie dat haar enigste suster haar in ’n ding met dié man begewe nie? Of kan sy? Karen weet tog hoe om mans te hanteer. Miskien moet sy net kalm bly en sien wat gebeur.

Maar sy kan haar woede nie sommer net wegsluk nie. Eintlik is sy van voor af smoorkwaad. Nie vir Karen nie. Vir hóm. Natuurlik. Dis alles sy skuld. Enige normale mens sou lankal besef het dat die situasie onuithoudbaar is.

Hoe kon sy so vlak gewees het om oor die vent op hol te raak? Hy is duidelik nie haar tipe nie. Staan daar en smile soos ’n tweegesig en sê niks. Maak of hy niks onthou nie. Nee, dankie, Karen kan hom maar vir haar vat. Sy verkies fyngevoelige mans. ’n Ruwe, manlike uiterlike is goed en wel, maar ’n vrou soek meer. Iets soos ’n koeksister. Krakerig en bros buite en sag en loperig wanneer jy daarin byt. Met ander woorde, ’n blikskottel met ’n siel. En verkieslik ’n gewete. Nie dié stom, dikvellige onderbroekmodel wat net hier staan en sexy lyk nie. Sy ken hul tipe. Sy is nie verniet al jare in die advertensiebedryf nie. Sy het al so een gehad en kyk waar het dít haar gebring? Nee wat. Karen moet hom maar self hanteer.

Toe sy omdraai om koppies van die rak af te haal, tref nog ’n skok haar. Waar sy altyd sit, staan haar geliefkoosde blomkoppie reg met haar geliefde Ouma Ferguson se silwerteelepeltjie in die piering. Hoe het hy geweet? Sy kyk verstom op, maar Jockey-man staan met sy breë rug na haar, stilweg besig om vir hom en Karen ook koppies reg te sit. Skielik is Donna so geraak deur die eenvoudige, tog skokkend intieme gebaar dat trane ongevraagd in haar ooghoeke opdam, en biggelend huiwer. Sy snuif die nattigheid haastig weg en draai vinnig om. Sy wens die wasbak wil haar insuig. Is sy dan só uitgehonger vir ’n bietjie meelewendheid van ’n ander lewende wese? Is dit nou Ruhan se werk? Of haar pa s’n? Dat sy aan die tjank gaan vir elke effens menslike gebaar?

Karen babbel eenstryk deur terwyl sy die melktert uit die winkelsak wikkel. Sy kom niks agter nie. Toe Donna omkyk, is dit vas in die twee besorgde groenbruin oë van die vervlakste Pieter. Wat sy sien, gooi onmiddellik haar hele redenasie oor sy gebrek aan sensitiwiteit oorboord. Sy voel asof sy verdrink in wat sy in sy uitdrukking lees. En die volgende oomblik skok ’n warm gloed deur haar bekkenholte wat net begeerte kan wees.

Sy kyk liewer weg. Gelukkig vat haar vingers die outydse glashouer met soetkoekies raak en kry sy tyd om asem te skep terwyl sy die strammerige deksel afhaal. Sy was vas onder die indruk dat alle lyflike impulse in haar toetentaal opgedroog het die dag toe Ruhan die voordeur so gevaarlik sag op knip getrek het. En nou?

Dis die ding van begeerte. Dit kan ’n mens se liggaam eenvoudig op die mees ongemaklike tye en plekke oorneem. Dit het Ruhan mal gemaak. Wanneer hy saans laat die ligte laag gestel en by haar kom inkruip het, met idees in sy kop en duur naskeermiddel agter sy ore, kon sy dikwels om die dood nie die kleinste korreltjie lus uit haar moeë lyf optower nie. Partymaal moes sy maar fake. Om die vrede te bewaar.

En as sy agterna die resultaat van sy liefdespassie saam met die flentertjie papier wegspoel, het sy soms die warm waslappie teen haar gehou om die diep kloppende branderigheid te streel.

Om haarself dan te gaan troos agter sy warm rug met haar wang teen sy effens sweterige T-hemp, haar kniekoppe ingevou agter sy opgetrekte bene, haar arm oor sy lyf geslaan sodat sy die trouring aan sy vinger om en om kon draai. Totdat hy sy hand brommend wegneem uit hare, en sy omdraai en lê en wonder waarom hulle bioritmes dan nooit saam kon tik nie. Nee, eerder soos pingpong: soms hy en soms sy.

En partymaal het die mees intense aanval van passie haar oorval wanneer hy gedas en gebaadjie in die tuinpaadjie wegstap, laat vir sy vergadering; in haar pajamas het sy hom vanaf die boonste venster gestaan en bewonder met die reuk van sy stortjel nog aan haar vingers ná hul haastige afskeidsoen.

Hoekom is sy altyd so ontydig? Soos nou. Donna kan nie waag om weer na die man te kyk nie. Haar hele gesig gloei. Sy is skielik innig dankbaar dat Karen nog voortbabbel.

“… was my laaste kliënt van die dag, sien?” verduidelik Karen vir Donna, maar haar oë bly op Pieter. “En toe ek my weer kom kry, gesels ons so lekker, toe vra ek sommer of hy lus is om langsaan by Coffee Culture ’n latte of iets te gaan drink.”

Natuurlik, maal dit deur Donna se kop. Sy het opgelet sy hare lyk effens anders. Dis natuurlik hoe hulle ontmoet het. Hy het sy hare by Karen se salon laat sny. Donna kan onmiddellik die hele toneeltjie voor haar geestesoog sien. Sy donker kop agteroor by die wasbak. Nie die assistent nie, maar Karen sélf met haar vingers vol romerige sjampoe teen sy slape. Vrywend, strelend en so intiem. Die afspoel. Salig koel en kalmerend. En dan sy oorgawe aan haar, so in beheer met haar boudstappie en flitsende silwer skêrtjie al om hom. Geen wonder hy het ja gesê vir koffie agterna nie. Karen ken haar storie. Maar hoe het hy daar beland? Hoe is dit moontlik dat …?

“Sommer net so,” val Karen haar spartelende gedagtes in die rede.

“En toe?” Donna se keel is kurkdroog.

“En toe sê hy ja vir koffie, and the rest is history.” Karen haal die melkbekertjie met ’n teatrale gebaar uit die mikrogolf. Haar blou oë blink van selftevredenheid toe sy daarvan in Pieter se koffie skink, haar wange helder pienk van genot. Met een slanke bleekwit handjie vryf sy besitlik oor sy sterk voorarm.

“Warm melkies, dokter Visser, nes jy daarvan hou.”

Donna staar verstom. Sy ken daardie trekkie om Karen se mond goed: die selftevrede suggie en die vinnige asemteugie, neusie in die lug, daarna. Dis Karen op haar beste. Op haar gelukkigste. En Donna se gemoed sak loodswaar af tot iewers in die omgewing van die kombuis se fondamente. Niks het verander nie. Want dis hoe dit maar is met haar en haar sussie. Van kleins af.

Met ’n ysere wilsbesluit lig sy haar koppie en tik liggies teen Karen s’n.

“Nou maar cheers, dan. Op new beginnings!”

Die weerklank van haar pa se ma se egte beenporselein klink so vals soos haar eie woorde, maar Donna bly glimlag, al pyn haar wange. En oorkant haar sit Pieter Visser, met twee diep groewe tussen sy wilde skuins wenkbroue en sy oë vraend op haar gerig.

Donna en die droomman

Подняться наверх