Читать книгу Letitia en die lektor - Anita du Preez - Страница 4
2
ОглавлениеNa die stort voel Letitia, met die hulp van die pynpille, heelwat beter. Veral toe sy haar foon van die bank af optel en sien daar was ’n oproep van Roelof. Met haar broer kan sy praat. Hy is immers die een mens wat haar vreemde wegtrekke van kleins af probeer verstaan het.
“Is daar fout? Ek sien jy het my gesoek?” vra hy dadelik toe sy hom terugbel.
“Nie regtig nie. Ek wou maar net hoor hoe dit met jou gaan en …”
“Jy klink weird, Tisha.”
“Was by die tandarts. My mond ontdooi nou eers behoorlik.”
“Sjaaim, jou arme ding! Maar dis nie al nie, nè? Ek kan mos hoor. Wie’t jou dié keer omgekrap? Seker weer net daai alwetende irritasie van ’n eks van jou?”
“Ja … Nee, dié keer nie heeltemal nie. Gunther is darem nie eiehandig vir alles in my heelal verantwoordelik nie. Hy het vandag heelwat kompetisie gehad in die kategorie van teëspoed.”
“O. Dankie tog vir ’n ander topic. Die Gunther/Letitia/Jennifer-driehoekie het erg saai begin word.”
“Was dit so erg?”
“Jy het geen idee nie. Erger as 7de Laan op ’n swak aand.”
“Maar jy’s dan mal oor 7de Laan.”
“Ek is. Ek is. Al is dit hoe lame, mis ek nie ’n episode nie, maar dis juis die probleem.”
“Probleem?”
“Ja. Jy besef dit nie, maar jy bel my nou al letterlik maande lank saans klokslag halfsewe. Om te moan. Oor Gunther. Dan mis ek my sepie en moet ek na jou bleddie derms-uitryg-stories oor hóm luister. En van hoe Jenni-bleddie-fer hom by jou afgevry het!”
“O. Haai. Sorrie.”
“Toemaar. Dis oukei. Jy weet hoe oneindig love ek my favourite suster.”
“Hmmm. Jou enigste suster.”
“Dit ook, ja. Maar gaan jy my nou vertel waarom jy so áf klink, of nie?”
“Aaaag, jong, too numerous to mention, soos Ouma altyd gesê het. Sommer net die aakligste dag nóg.”
“Die eintlike rede?”
“Ag … dis sommer iemand by die werk wat moeilikheid soek.”
“Ek dog jy het laas gesê hulle loop almal suutjies draaie om jou. Watter sot is só dapper?”
“Een wat dink hy het die wêreld se kennis in pag.”
“Is hy nuut op die personeel?”
“Ja. Verlede semester begin.”
“Dit maak sin. Arme man weet nie van beter nie.”
“Huh! Hy dink hy weet beter oor net mooi alles. Hy reken die son skyn waar hy trap en soek gereeld fout met my meer onortodokse metodes. En met my studente se werk. Heel moontlik met my kleredrag ook. En sover ek weet, het hy minder ondervinding as ek. Ek ken my vak, Roelof. Jy weet tog ek is baie puntenerig en háát inmenging of ongevraagde advies. Ek en hierdie man dink nou eenmaal nie eenders oor dinge nie. Ek het hom duidelik laat verstaan hy moet uit my pad bly. My uitlos. Hy gee die digitale vakke en ek die niedigitale. En ek weet wat ek doen, daarvan getuig my studente se uitstekende werk teen ons ateljees se mure. En nog ’n ding: My puntestate en admin lyk beter as syne.”
“Nou wat is sý ware claim to fame dan?”
“O, heelwat, glo my! Meneer is slim. Het ’n kamtige meestersgraad in rekenaartegnologie met animasie en web-ontwerp as sy forte.”
“Hmmmm, impressive! Wat is sy naam en hoe lyk hy?”
“Chris Swart. So iewers in die dertig, daar rond. Lank, donker. Die ene spiere, die studente noem hom ‘Arnie’ soos in Schwarzenegger.”
“Is hy mooi?”
“Mooi? Nee. Ek sou hom beslis nie as móói beskryf nie, Roelof.”
“Hmm! Dis nie hoe dit vir my klink nie.”
“Man, hou op met jou nonsens. Mooi is hy definitief nie. Spiere ofte not, die man loop effe mank. En hy het boonop ’n duidelike litteken op sy bolip!”
“Sjoe! So does Joaquin Phoenix, my dear, en hy is een van die mooiste mans op die planeet.”
“Ja, en Quasimodo loop ook mank, oukei? Hou tog nou op. Hoe die vent lyk, is irrelevant. Dit pla hóm duidelik nie in die minste nie. Nie met ’n ego so groot soos syne nie. Hy is ’n hiperkritiese, pedantiese sot. Met die insig van ’n amoeba en die sensitiwiteit van ’n … die siel van ’n …” Tish hap na lug, want die pad van haar brein na haar mond is te ver vir die ergernis wat weer opbou. “Die siel van … van ’n … vis!”
“Hey! Watchit! My Goldie het ’n uiters sensitiewe sieletjie. Soms voel ek ’n diepe verbintenis met haar wanneer sy so teen die rand van die bak huiwer en vir my kyk. Om die waarheid te sê voer ek lang gesprekke met …”
“Roelof, ek is ernstig. Ons praat nie nou van jou goudvis nie.”
“Verskoon my, ek is nie die een wat die man met ’n vis vergelyk het nie.”
“Kan ons asseblief by die punt bly, Roelof?”
“Oukei. Maar wat is die punt nou weer?”
“Die punt is … wel, die punt is die vent het my vandag die hel in gemaak.”
“Hmmm. Jy is al sedert verlede Desember permanent die hel in, my liewe Letitia. Almal weet dit.”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ag, sus, dis net … jong, ek dink dis nou tyd.”
“Tyd?”
“Ja. Om stock te vat van jou lewe. Jy kan nie so aankarring nie. Jy teken nie eens meer nie. Daardie houtskooltekening op jou esel vorder niks. Vra my, ek gaan kyk elke keer wanneer ek by jou is. Who are you fooling? Gaan sit en praat hard met jouself, Letitia. Maak ’n lys.”
“Moenie karring nie, Roelof.”
Letitia kan feitlik hoor hoe haar broer sy skouers ophaal. Die stilte suis in haar oor.
“Watse lýs?”
“’n Lys, Letitia. Van jou prioriteite. Soos jou puntestate en al jou elektroniese admin-goeters by die werk. Dis mos lyste. En joune is eksie-perfeksie, dit weet almal. Jy beplan gedurig en maak lysies, nie waar nie? Maar jou privaat lewe? Crazy Store se moses. Skisofrenies, om die minste te sê. Dis waarom ek sê: Take a moment. Reflekteer. Beskou jou lewe soos die admin by die werk waarmee jy so goed is. Begin iewers en maak ’n lys. Skryf neer. Al die goed wat jy nog wil regkry of verander voor jy …”
“’n Bucket list? Excuse me. Lyk ek vir jou of ek aan die doodgaan is, hè?”
Roelof bly haar ’n antwoord skuldig, maar sy stilte spreek boekdele. “O, koek. Nog ’n oproep aan die deurkom vir my,” sê hy. “Sorrie, sus. Ons praat weer, oukei? Baai.”
Letitia kyk na die foon in haar hand. ’n Lys? Sy haat mense met goeie bedoelings. Wat vir haar wil kom sê wat om te doen. Sou dit ’n ding van mans wees? Control freaks, die hele lot van hulle. Soos daardie meneer Swart wat niks verstaan nie, maar vir haar wil wys hoe dinge gedoen moet word. En Roelof is net so erg. Asof sý lewe so ’n danige prentjieboek is.
Wat het haar tekening in haar ateljee met hom te make? Wil ook hy haar kuns of die gebrek daaraan kom staan en evalueer? Kan sy dit miskien help dat sy deur ’n dry spot gaan? Dat die muse haar lanklaas besoek het? En nou nog die verspotte idee van die lys. Verbeel jou. Sy het g’n donnerse lýs nodig nie. Dink Roelof nou regtig dat inspirasie vir haar kuns uit ’n lys kan kom? En wat de joos is fout met haar dat sy almal laat dink dat hulle vir haar kan kom voorsê?
Dis net … die verwaande meneer Swart en sy kritiek op haar student se werk het haar erg omgekrap. Onnodig. Eienaardig genoeg, meer as die tand of die wielklamp. Miskien trek sy haar dit so onnodig aan omdat sy besef dat sy nie aan die werk kan kom nie? Maar dit het absoluut niks met hom uit te waai nie. En per slot van sake gee sy nie een duit om wat hý dink nie.
A nee a!
Sy gaan vir haar van Woolies se lasagne ontvries, ’n lekker glas skink uit een van die spesiale bottels rooiwyn wat Gunther hier gelos het en dalk ’n bietjie op haar rekenaar rondsoek na nog ’n paar idees vir haar lesings môre voor sy gaan probeer slaap.
Dis tog belaglik dat sy sal toelaat dat ’n imbesiel van ’n nincompoop soos Christoffel Arnoldus Swart haar gedagtes oorheers of haar ekwilibrium versteur.
Wanneer sy reg is, sal sy weer uit die as verrys en hulle almal wys.
Na drie happe proe die lasagne ’n bietjie smaakloos, en die fênsie rooiwyn suur. Letitia trek haar mond op ’n plooi en gaan maak vir haar tee. As nagedagte skeur sy ’n boksie koekies oop en gaan sit daarmee voor haar rekenaar. Daar is niks minder nie as veertien e-posse. Sy wikkel haar reg op haar stoel, neem ’n sluk tee, doop ’n koekie, stop dit in haar mond en begin lees. Dis die vyfde e-pos wat haar laat verstik.
Moenie delete nie! Dit is nie spam nie! Lees sy in die blokkie gemerk subject.
Haar vinger huiwer oor die knoppie terwyl haar hoes bedaar, maar sy is te nuuskierig om dit uit te vee, want skynbaar kom die boodskap van ene Chris Swart. Sy sit haar Guess-leesbril op, maar die foto’tjie by die naam is generies en greinerig. Wie de joos? Sou dit die einste nare vent wees? Lyk soos hy. En sy eerste naam is mos … e … Christoffel … ja, hy noem homself seker liewer Chris. Ha! Sy sou ook. Bid jou aan. What was his mother thinking? Siestog. Met ’n naam soos Christoffel Arnoldus.
Letitia maak die e-pos oop.
Mevrou Le Roux,
Ek is regtig jammer oor die insident van vroeër vandag. Dit was nie my bedoeling om u of u student se poging te verkleineer nie.
O, rêrig? You could have fooled me! Letitia pers haar lippe saam en lees verder.
Ek het in die oomblik gereageer en die plakkaatjie teen die muur gebruik as voorbeeld sonder dat ek geweet het wie se werk of wie se student dit is.
Letitia se frons word al dieper. Ja, raait! As die man dan nou skielik vir homself wil lieg, moet hy nie dink sý val daarvoor nie. Hy het van dag een af sy mes in vir haar. Maar laat sy maar sien watse verdere stories hy het.
Daarom wil ek hiermee net sê dat ek jammer is. Ek besef dat ons nie altyd die gehalte werk uit die swakker studente kan toor wat ons graag sou wou nie, en verstaan nou ook dat u dit bloot gebruik het om u student aan te moedig.
Daarom hoop ek dat hierdie misverstand nie die professionele verhouding tussen ons sal belemmer nie.
Vriendelike groete,
Chris Swart
Letitia dog sy ontwikkel net daar ’n spataar. Watse professionele verhouding? Haar vingers jaag oor die toetse.
Meneer Swart,
U gebrek aan oordeel en professionele gedrag teenoor ’n kollega skeel my geen duit nie.
Vriendelike groete,
Me. Letitia L. le Roux
MAVK (cum laude) Unisa.
Die toetsbord wip toe haar vinger heftig en giftig op die send-knoppie neerkom. Sy sluk die laaste koue tee uit haar koppie af en bly toeoë sit en wag dat haar asemhaling net eers moet bedaar. Toe sy opkyk, is die antwoord in haar inbox.
Me. Le Roux,
Ek moet sê ek verstaan u ontevredenheid. Laat my toe om weer om verskoning te vra. As dit u beter sal laat voel, sal ek môre ook aan my tweedejaarstudente verduidelik.
Weereens jammer. Soos altyd is u heeltemal reg. Dit was onvergeeflik en onprofessioneel van my.
Baie groete,
Chris.
Sý tweedejaarstudente? Dis absolute vermetelheid. Hulle is, toe sy laas gekyk het, ook háár studente. Letitia gaan haal die halwe glas wyn op die wasbak se rand. Sy is lus om hierdie skielike familiêre Mister Chris weer te antwoord, maar wil eers mooi dink.
E-posse kan gevaarlik wees. ’n Mens kan nie agterna ontken wat jy gesê het nie. As jy dit gestuur het, kan jy dit ook nie terugroep nie. Dis waarom sy tog soms twyfel oor die vooruitgang van tegnologie. In sekere opsigte is sy van die ou skool. Maar antwoord gaan sy die bliksem antwoord. Make no mistake.
Sy moet net besluit wát. Sy teug diep aan die wyn wat eintlik nie so sleg smaak nie.
Sy speel met haar tong oor die oppervlak van die stopsel in haar tand. Dit voel ontstellend oneweredig. Onvanpas. Soos hierdie vent se woorde in haar gemoed. Dis daardie “as dit u sal laat beter voel” en “soos altyd is u heeltemal reg” wat haar sommer van voor af die hel in maak. Eintlik sommer die hele vibe van sy elektroniese geskrifte. En die sarkastiese aanspreekvorm “u”. Hy laat haar klink soos die een of ander oorsensitiewe, pedantiese, stokoue akademikus. En dít terwyl hy heel moontlik selfs ouer as syself is. Ooooeeergggg! Hy moenie dink sy val vir sy grappies of sy groen ogies of sy spiere nie, waarvan hy skynbaar nogal heelwat het, as sy mooi onthou. Nee.
Daar is nie plek vir sissies in die akademie nie. Party van hulle sal bo-oor jou loop as dit hulle enigsins kan baat. Veral as elke vrou op die personeel skynbaar dink jy is hot stuff, kan iemand soos die Arnoldus Christoffel-vent heel moontlik met moord wegkom. En hy sal. Sy weet mos. Daar is baie desperate vroumense op die personeel wat sal saamstem met enige manlike skepsel wat darem nog al sy tande het. Sy sal die man op sy plek moet sit as sy op kampus wil oorleef. As hy die storie dat sy nie meer haar eendjies in ’n ry het wat ontwerp betref nie, eers onder hulle almal versprei, is dit nag vir haar.
Haar vingers jaag met wrewel oor die toetsbord.
Mnr. Swart,
Sulke stappe sal geheel en al onnodig wees. Die studente is almal bewus van die gehalte van my werk. Waar u aan die idee kom dat ek dink dat ek altyd reg is, is vir my ietwat van ’n raaisel. En waarom u dink dat dit u plig is om my te laat “beter voel” oor u onoordeelkundige optrede is ook vir my ’n raaisel. Ek sal ook graag wil weet wie my e-posadres aan u verskaf het? As u asseblief in die vervolg my privaatheid sal respekteer, sal ek dit waardeer.
Die uwe,
L.L. le Roux
Letitia sit effens agteroor en gooi sommer die res van die wyn in haar keel af. Sy ril effens en gaan haal die bottel. Sy sal vannag weer niks slaap nie. Nie terwyl hierdie arrogante mansmens se e-posse in haar kop ronddraai nie. Sy kan dit nie eintlik waag om hom te laat verstaan hoe sy werklik voel nie, want sy hou van haar werk en as sy eers begin, gaan sy hom Dawid se wortels laat opgrawe en insluk. Die idioot. Wat haar betref, is hy van die radar af. Persona non grata. Hy feature nie eens in haar verwysingsraamwerk nie.
Maar waarom wil haar brein dan nie wegkom van die onderwerp nie? Waarom doen sy die moeite om die een verpletterend intelligente antwoord na die ander uit te dink wat sy eintlik vir hom moes getik het? Soos byvoorbeeld dat hy as akademikus self behoort te weet dat daar in die postmoderne dialoog geen finale uitsluitsel oor reg of verkeerd kan wees nie. En dat alle redenasies tog immers oop moet bly vir interpretasie en selfs dekonstruksie. Ja, dis wat sy vir hom moes getik het. Dalk moet sy dit tog …
Sy skrik effens toe haar foon lui.
“Luister, my kind,” skree ma Klarabelle in Letitia se oor, en sy hou die foon oudergewoonte effens verder weg. Haar ma het blykbaar besluit dat ’n instrumentjie so groot soos ’n sel hulp nodig het wanneer ’n mens ordentlik van Darling tot in Harfield gehoor wil word.
Letitia glimlag. “Hallo, Ma, ek luister.”
“Jy sal bly wees om te hoor ek trek g’n stuk meer na daardie aaklige kamertjie toe nie.”
Letitia voel hoedat sy afblaas en slap word soos ’n oorskietballon. Nie dit ook nie. Nie weer nie. Hulle het mos al hierdie gesprek gevoer, nie waar nie? Maar om vir Klarabelle de Beer ’n ding te laat doen wat sy nie wil doen nie, is nie ’n opsie nie, weet sy. Klarabelle maak haar eie reëls.
Die enigste een wat haar soms kon omgekoop het, was haar pa. Koort de Beer met sy donkerbruin oë was die enigste een wat Klarabelle op ’n manier kon beheer. Maar Koort is al die afgelope vyf jaar nie meer daar nie, en sedertdien skryf niemand vir Klarabelle voor nie.
So skop sy al harder teen die gedagte om haar en Koort se huis op Darling te verkoop. Letitia kan aanvoel hoe sit haar ma daar in een van haar kleurvolle gewade en drapeersels op die bankie by die telefoon, met haar bos spierwit hare, haar bloedrooi lipstiffie en haar sigaartjie in die een hand en uitkyk oor die tuin met daardie verbete trekkie om haar mond. Klarabelle de Beer maak skilderye, geld en moeilikheid. In dié volgorde. Soveel moontlik. She is not going down quietly.
“Hoe dan nou, Ma?”
Letitia hoor hoe haar ma neurie. Klarabelle luister duidelik na niks wat Letitia te sê het nie.
Letitia herken die wysie. “By the rivers of Babylon”. Sy sug. “Toe ons laas gepraat het, was Ma aan die inpak. En opgewonde oor die nuwe plekkie? En ek dog dan ons het besluit die huis het te groot vir Ma alleen geword?”
Klarabelle sing nou hardop, krakerig en van die noot af, maar die woorde is duidelik: “… how the wicked carried us away in captivity … hmmmhmhmhmm … into a straaahahaange la-a-and …”
Tipies, dink Letitia.
“Onthou jy nog die song, Letitia? Een van jou pa se favourites?”
Haar ma is besig met ’n fyn spel. Emosionele afpersing. Nou bring sy sowaar die sentiment van Koort se liedjie in gedrang. Asof hy haar vanuit die graf nog steeds in haar hardkoppigheid sal steun.
“Ja, Ma. Boney M.” sê sy. “Ek onthou maar te goed. Maar dit gaan nie werk nie. Hou op sing. Ons het ’n ooreenkoms gehad. Ma het ingestem en daar is met die plek gereël dat Ma kom. Ma kan mos nie nou weer …”
“Nee, my kind. Jammer, maar ek het besluit ek bly waar ek is.”
Letitia haal diep asem. As sy dink hoeveel maande se moeite en toutjies trek dit van haar en Roelof geverg het om daardie dubbelkamer met en suite-badkamer in die aftree-oord in Fonteinstraat vir haar ma gereël te kry. En nou?
“Maar, Ma …”
“Nee wat, jong, daar is geen maars nie, ek het my mind opgemaak. Ek bly lekker. Ek hou van die ruimte en het my studio nodig.”
“Dis net dat …”
“Ag, nee wat, Letitia, help nie jy praat nie. Ek het reeds vir die vroutjie van Rawson laat weet die huis is nie meer in die mark nie. Hier is te veel herinneringe, my kind. En dan die diere. Ek bedoel wat word nou van Peanut? En my hoenders? Wie sal vir Rosa en Lady Di vat?
“Mevrou Williams het mos gesê sy kan …”
Haar ma luister nie. “En ek het juis gisteraand ’n nuwe painting begin en net daar besef ek hoort hier en trek nêrens.”
“Wel, wat kan ek dan sê, Ma? Dit is Ma se besluit.”
“Is so, my kind. Dankie dat jy verstaan. Maar ek moet nou gaan. My nuwe skildery roep. Tata. Lekker slaap.”
“Is …? Oukei, Ma. Nag, Ma.”
Letitia se kop draai. Gaan die dag nooit end kry nie? Sy sal die beheerliggaam van die aftree-oord moet laat weet dat haar ma weer van plan verander het. Anders gaan sy dalk haar deposito verloor. Sy trek die muis nader en soek die adres. Hmmmm … ja, hier is dit: groeneweide@wcaccess.co.za.
Toe gewaar sy daar is nog ’n e-pos van hóm. Sy sit haar bril weer op en lees:
Beste me. Le Roux,
Voordat u dalk allerlei duistere dinge vermoed, wil ek net graag die volgende opklaar: u e-posadres is aan my verskaf deur die personeeladministrateur van ons departement. Almal op die personeel het die lys ontvang. Wees dus gerus hieroor.
Vriendelike groete,
Chris Swart
Letitia gryp haar wynglas en skink dit weer vol. Die man dryf haar na drank. Die aantyging dat sy nie al haar e-posse en dokumentasie van die kampus af lees nie, straal uit hierdie e-pos.
Sy neem groot slukke terwyl sy met die een hand tik:
Mnr. Swart,
Ek sal dit regtig waardeer as u my nou uitlos. Beskou die saak dus asseblief as afgehandel. Ek het ’n monster van ’n dag gehad en sien nie verder kans vir hierdie belaglike e-posse nie.
Die uwe,
L.L. le Roux.
Letitia sluk die laaste van die wyn in haar glas en gaan trek haar slaapklere aan. Dalk moet sy net ’n rukkie lê en lees sodat sy aan die slaap kan raak. Maar die boek verveel haar teen bladsy drie-en-veertig steeds. Sy slinger dit van die bed af en skakel die lig af. Maar iets pla. Daar was iets wat sy nog moes doen.
Ja, ja, teken. Sy weet sy behoort te gaan teken. Sy moker die kussing en draai weg van die straatlig wat deur die venster skyn. Toe onthou sy: Dis die aftree-oord.
Sy het so verdiep geraak in die verduiwelse man se e-posse dat sy hulle nooit laat weet het dat haar ma van plan verander het nie. Sonder om die lig aan te sit, stoot sy haar voete in haar Hello Kitty-pantoffels voor die bed. Sy wil in elk geval gaan tee maak. Terwyl sy vir die ketel wag, gaan skakel sy sommer gou weer haar rekenaar aan.
Toe sy die nuwe e-pos van meneer Weetalles Swart sien, kan sy haar nie keer nie. Sy klik daarop.
Beste me. Le Roux,
Ek weet hoe dit voel. Ek gaan self bietjie deur ’n ding. En ek hou op die oomblik nie baie van myself nie. Ook nie van die simpele spul goed wat ek vroeër getik en gestuur het nie. Onnodig formeel. Ek is jammer.
Chris.
Sy sit ’n rukkie verstom. Die man is dalk nié so ’n koue monster nie. Hy klink byna menslik. En voor sy kan keer, kry haar wysvinger ’n eie lewe en klik op reply:
Watse ding?
Sy tik met haar regterhand terwyl sy haar linkerhand net betyds van haar skoot af oplig om te help met die vraagteken. En sonder om te huiwer, klik dieselfde oorlamse wysvinger impulsief op send. Klaarblyklik is haar brein op pause?
Oombliklik wens Letitia dat sy die boodskap kan teruggryp. Kanselleer. Ongestuur maak. Waar was haar kop? Sy hamer nodeloos op delete. Skielik skop haar rekenaar ghoeps! af en word die skerm swart.
Agge nee, dêmmit! Wat het sy aangevang? Nou is haar rekenaar ook nog stukkend. Sy moes nooit gereageer het op die man se vrypostige e-pos nie. En beslis nie op so ’n intieme, uitnodigende manier nie. Wat het sy gedink doen sy? Dis hoe sy met Roelof praat, nie met hierdie aaklige snob van ’n vent nie. Dalk het die skepsel aanstoot geneem. Dalk het haar rekenaar self besluit sy gaan nou te ver en haar persoonlik afgeskop. Sy sal dit nou nie sommer hardop sê nie, maar sy het ’n vermoede haar rekenaar is vroulik, moontlik selfs met gevoelens.
“Kom nou, skattie,” sê sy vir die masjien, “los nou jou streke, toe? Ek hou niks van wag nie en ek wil nou onmiddellik weet wat die sogenaamde ‘ding’ is waarvan hierdie Chris Swart praat. Oukei?” Sy kniel langs haar lessenaar en vryf aanmoedigend oor die rekenaar se gladde sykant. Geen reaksie nie. Sy buk verder en vroetel in die donker agter aan al die konneksies en kabeltjies. Dalk het iets losgegaan? Maar, nee. Die skerm bly swart. Dis eers toe sy moedeloos plat op die vloer neersak en om haar rondkyk dat sy besef daar brand nêrens meer ’n enkele lig nie. Ook nie buite in die straat nie. Kragonderbreking.
Hierdie tyd van die nag? Verdomp. En onmiddellik is Letitia smoorkwaad en onredelik lus vir tee. Maar eers is sy net vrek nuuskierig. Sy skuifel in die donker kamer toe en gaan soek na haar foon. Sy moet eenvoudig meneer Swart se e-pos in antwoord op haar vrypostige vraag oor sy geheimsinnige “iets” lees. Sy voel-voel in die donker op haar bed. Die foon is nie daar nie. Dêmmit. Sy het dit mos daar gelos.
Sy sukkel gangaf en gaan kry haar handsak waar sy dit op die rusbank gelos het. Die foon is ook nie daarin nie. Vervlaks. Dis nou nie meer snaaks nie. As sy wil sien of daar nog e-posse van die man is, sal sy haar skootrekenaar op die tafeltjie in die voorportaal moet gaan haal waar sy alles al klaar so mooi vir môre reggesit het. Afgeskakel, netjies weggebêre, elke sakkie toegerits, eksterne modem en al.
Of nee, wag. Laat sy net eers lig kry. Netnou val sy oor iets.
Sy skuifel kombuis toe en kry die vuurhoutjies en ’n halwe kers uiteindelik in haar deurmekaar laai tussen al die stukkies tou en ou batterye. Sy het die kers met druppende waks net mooi in ’n piering staangemaak terwyl sy haarself weereens belowe om in die toekoms meer paraat te wees, toe sy haar foon in haar kamer hoor piep. Vaderland. Tee is sekerlik nie die antwoord wanneer Eskom ’n mens so rondfoeter nie, besluit sy en skink haar wynglas eers weer vol.
WhatsApp, sien sy toe sy haar foon met behulp van die lig van die kers op haar bedkassie kry. Onbekende nommer. Letitia frons. Hierdie tyd van die aand? Dis óf nonsens óf slegte nuus en sy is nie vir een van die twee lus nie.
Maar haar nuuskierigheid kry die oorhand. En sy kyk.
Jammer. Ek kan die vraag nie beantwoord nie. Nie onbeskof bedoel nie. Boonop is my krag af.
Chris Swart.
Letitia se mond hang oop. Wil hy haar vraag nie beantwoord nie, of kan hy nie? Daar is tog ’n verskil? En dat hy haar e-posadres het, het sy nou aanvaar, maar haar private selnommer? Nee. Nee. Nee. Die man is … wel … vindingryk, maar dit is cheeky verby. Hoe …? Haar tikvinger werk haastig. In hoofletters. Shouting type se moses:
WAAR KRY JY MY NOMMER AS EK MAG VRA?
Die antwoord kom binne sekondes:
Op dieselfde departementele lys waarop die e-posadresse is! Ontspan tog.
Letitia gaan sit swaar op haar bed. Die kers gooi net ’n klein poeletjie lig in die kamer en die Kaapse wind ratel elke ruit. Iewers deur ’n skreef of sleutelgat kerm dit soos iets uit ’n scary movie. En skielik wil sy nie alleen in die huis wees nie. Sy verlang sommer na Gunther. Nee, Letitia, vermaan sy haarself, jy’s ’n sterk vrou. En jy is lankal oor Gunther. Buitendien slaap Gunther nou lekker knus agter mejuffrou Jennifer se rug.
Letitia sit eers met die foon in haar hand. Toe vererg sy haar vir haarself, neem ’n laaste sluk uit haar wynglas en begin tik. Sy kan netsowel …
Oukei, praat dan maar klaar, die krag is buitendien hier ook af.
Die man moet hom tog net nie verbeel sy is paranoïes of beskikbaar nie. Sy is immers net nuuskierig. Die antwoord verras haar:
Kragonderbrekings suck. Veral as mens alleen is en nie kan slaap nie.
Hmpfff, dink Letitia, Mr High and Mighty is alleen en slapeloos, nes sy? Wat van al sy sogenaamde tegnologie? Hoe werk dit nou?
Hmmm, tik sy, insomnia is nie vir sissies nie.
Jy ook?
Uhu. So wat is hierdie ding wat jou wakker hou?
Ek sien jy gebruik nie die tipiese SMS-mode van skryf nie? Hy ontwyk haar.
Nee. En ek voer ook nie gesprekke oor koeitjies en kalfies nie. En jy antwoord nie my vraag nie.
Nag, me. Le Roux. My foon se battery is op sy laaste.
Chicken, stuur sy sonder om te dink.
Wat maak jy, Letitia? vra sy haarself af. Sy bly sit met die foon in haar hand soos een wat ontuis in haar eie bed is. Uiteindelik gee sy moed op, want daar kom geen antwoord nie. Geen wonder nie, sy het weer met die man gepraat asof hy haar maatjie is, eerder as haar kollega. Nie dat dit haar skuld is nie. Dis immers hy wat na ure met haar op allerhande onortodokse maniere kommunikeer.
Tog effe afgehaal, blaas sy die kers dood, stel haar foon se wekker en sit dit op die bedkassie.
Toe die foon weer piep, gryp sy gou in die donker daarna.
Nag, me. Le Roux, lui die boodskap.
Nag, Chris, tik Letitia in die donker. Nee. Te familiêr. Sy wil nie weer goed tik waaroor sy spyt gaan wees nie.
Sy vee die woorde uit en tik: Nag, mnr. Swart.
Agge nee. Klink simpel, besluit sy, en vee weer uit. Nou wat sal sy die vent dan nou noem? Arnoldus? Christoffel? Sy glimlag in die donker. Arnie-the-man?
En so lê sy besluiteloos om eers mooi te dink hoe sy hom sal antwoord.