Читать книгу Sonligdroom - Annatjie van Tonder - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

’n Krieweling gly teen Marcella se rug af. Twee vlymende blougroen oë bestudeer haar intens; hulle skil haar behoorlik af, laat haar byna soos ’n skoudier voel. Miskien eerder ’n weerlose ooi op ’n vendusieveiling.

Wie op aarde is hy, hierdie man wat op haar voorstoep staan asof dit aan hom behoort?

“Lukas de Lange,” kom dit in ’n roomryke, sensuele stem. Hy steek sy hand uit om te groet. “Ek het net kom kennismaak.”

Sy hand vou koel en ferm om hare. Haar mond word droog. Dié Lukas de Lange. En natuurlik het hy alle reg op hierdie voorstoep. Sy sluk. “Marcella de Waal, aangename kennis.”

Dus is hy uiteindelik terug van oorsee en kan sy die byna legendariese wese in lewende lywe sien. Volgens wat sy in die wandelgange verneem het, gaan dit allesbehalwe ’n aangename kennismaking wees en sedertdien broei dit byna gedurig in haar binneste; hou haar selfs uit die slaap. Waarin het sy haar begeef? Sy het tog vooraf gebid om leiding; geglo dit is die beste besluit, glo dit nog steeds. Wegtrek uit die stad het nie beteken dat sy weghardloop nie, want wegkom van jouself is onmoontlik. Sy is steeds Marcella de Waal met wie al die skrikwekkende dinge gebeur het. Verandering van omgewing kan wel help om die herinneringe te versag, het sy gedink, al sal sy nooit kan vergeet nie. Maar sy sal nie dat hierdie man, al is hy wie, die nuwe lewe kom versuur wat sy hier vir haar wil kom skep nie. Sy sal die nodige wysheid en krag ontvang.

“Kom gerus binne,” nooi sy nogtans hartlik en raak bewus van ’n vae speserygeur wat saam met hom in die huis in kom. Dis nie haar gewoonte om vreemde mans binne te nooi nie, maar dit is nou nie gewone omstandighede nie. Al ken sy hom van geen adamskant nie, behoort die huis wat sy huur aan hom. Dis seker sy goeie reg om die nuwe huurder te kom deurkyk.

“Dankie,” antwoord hy stug. “Daar’s een en ander waaroor ons moet praat.”

Hy voldoen aan alles wat sy van hom gehoor het. Lank, lenig, aantreklik, met donkerbruin hare wat effe lank tot op sy hempskraag rus. Netjies, dog gemaklik geklee. Lyk soos ’n model in ’n modetydskrif, besluit Marcella. Maar stroef. Besonderse kleur oë wat haar steeds skandeer asof hy hoop om iewers ’n swak plek te kry.

Ag ja, sy weet haar hare krul natuurlik weer ontembaar om haar kop. As sy tog nou maar blond was, sou dit ’n lieflike stralekrans kon gewees het. Maar sy is nie blond nie; dit vertel haar spieël haar elke oggend. Sy het donkerbruin krulhare waaruit koper vlamme spat wanneer die son daarop skyn. Haar Ierse erfenis.

Aan die manier waarop hy haar bekyk, kan sy sweer hy dink ook, soos die meeste mense wat haar nie ken nie, dat sy nooit haar hare kam nie. Wel, hy moet maar dink wat hy wil. Net mense met krulhare verstaan hierdie stryd teen die natuur.

“Sit gerus,” nooi sy aangesien hy die klein sitvertrek so vol staan. Sy sien hoe sy blik vlugtig oor alles gaan en wonder wat hy van haar karige meubels dink. Wetende dat sy haar intrek in ’n klein meenthuis gaan neem, het sy haar swaar meubels in Pretoria verkoop en dié ligte rottangstel aangeskaf.

Hy gaan sit op een van die leunstoele met die vrolike bont kussings in avokadogroen, roes- en roomkleur, en sy merk hoe blink gepoets sy skoene op die terracotta-vloerteëls vertoon.

’n Baie netjiese man, moet sy toegee. Sy neem oorkant hom op die tweesitplekbank plaas.

“Waaroor moet ons praat?” vra sy reguit. Hy moet tog nie kom moeilikheid maak nie. “Ek kan net sê ek bly baie lekker hier.” Dalk streel dit hom om dit te hoor. “Dis stil en rustig.”

Toe hy nie daarop reageer nie, bly sy stil. Hy stel duidelik nie belang in die persoonlike redes waarom sy lekker bly nie. Sy het hierheen gekom om ’n nuwe begin te maak, om die verlede in die stad agter te laat. Dit was vir haar ’n uitkoms toe sy die advertensie vir ’n leraarspos op Skoonstroom gesien het, en sy het dadelik aansoek gedoen. Maar nou ja, dit het niks met hom te doen nie.

“Soos jy seker weet, verhuur ek nie deur ’n agentskap nie. Hier is my bankbesonderhede en ook ’n huurkontrak,” sê hy saaklik en hou ’n koevert na haar toe uit. “Huurgeld moet stiptelik binne die eerste drie dae van die maand in my bankrekening inbetaal word.”

Die koevert voel koud en styf in haar hand. Die woorde van Olga Botha wat die kerkkantoor in stand hou, ofte wel Ollie, soos almal haar noem, klink weer helder in Marcella se kop: Aantreklike derduiwel en vrouehater soos min, maar ’n meester agter die orrel. “Ek hou self van stiptelikheid. Dis nie vir my ’n probleem nie,” antwoord sy styf. Kan so ’n bot lummel regtig mooi musiek maak? Dit sal sy sowaar eers moet hoor.

Dominee Theuns Verwey, haar medeleraar, het haar vroegtydig verwittig dat die gemeente die pastorieë verkoop het en nou ’n huistoelaag by die leraarspakket voeg sodat die predikante hul eie huise kan koop. Hy het haar Pretoria toe gebel en aangeraai om voorlopig eers te huur en dan op haar tyd die kat uit die boom te kyk voordat sy koop. Gelukkig het dokter De Lange, wat ook die orrelis is, ’n meenthuis te huur, het hy vertel. Die dame in die kerkkantoor behartig solank die verhuring vir dokter De Lange terwyl hy oorsee is. Sy kan haar gerus bel vir besonderhede, het dominee Theuns aanbeveel.

“Lees die kontrak deeglik deur,” onderbreek hy haar gedagtes, “parafeer elke bladsy en bring jou handtekening op die laaste bladsy aan. My paraaf en handtekening is reeds daar. As daar enige onduidelikheid is, moet jy asseblief vra. Ek het nie lus vir misverstande nie.”

“Indien dit in gewone Afrikaans geskryf is, behoort daar nie onduidelikhede te wees nie,” glip dit oor haar lippe. Te laat besef sy sy het gepraat sonder om te dink. Katterigheid was nog nooit deel van haar menswees nie; dis die man se houding wat haar so omkrap en verkeerde dinge laat sê. Hy is onuithoudbaar arrogant.

’n Stywe trek verskyn om sy mond. “Dis ’n transaksie, geskryf in die keurigste Afrikaans. In elk geval, indien daar enige klousule in die dokument is wat jou nie aanstaan nie, ek bly reg langs jou en sal onmiddellik aandag kan gee.”

Ag nee, dít ook nog. Die ou suurknol sal gedurig kan loer of sy die plek goed oppas.

“O ja, net voordat ek loop,” sê hy terwyl hy opstaan en in sy volle lengte oor haar troon, “gee die lys liedere wat tydens die diens gesing moet word stiptelik Woensdagoggende by die kerkkantoor in. Ek hou daarvan om dit vroegtydig deur te werk. Jy moet jou voorbereiding ook reeds vroeg doen.”

Dit verg al haar selfbeheersing om hom nie iets onbehoorliks toe te voeg nie. Aardetjie, wie dink hy is hy? Sy het nog nooit so ’n onaangename mansmens teëgekom nie. “Ek sal so maak,” antwoord sy styf.

“Dan groet ek weer. Wou in elk geval die nuwe dóminee kom ontmoet.” Hy skud sy kop en ’n bedenklike uitdrukking vliet oor sy gesig. “Toe loop ou dominee Theuns weer bo-oor die kerkraad wat hul ore vir hom uitleen, en stel sowaar ’n vroumens aan. Ongelukkig was ek daardie tyd oorsee, anders het ek die ou spulletjie mooi vertel wat hulle moet doen.”

Sy bal haar vuiste en voel hoe dit agter haar oë begin klop. Hoe op aarde gaan sy dit met hierdie man uithou? “Hier was heelwat aansoeke, asook onderhoude. Ek glo ek was die beste kandidaat.” Sy sluit haar lippe ferm opmekaar en kyk hom uitdagend aan.

Geamuseerd gly die blougroen oë oor haar, en sy kan sweer hy lag in sy binneste. Daar en dan neem sy haar voor dat hy kort voor lank sal agterkom met wie hy te doen het.

Buite op die stoep steek hy vas, en sy sien hoe hy die tuin kopskuddend bekyk. “Het maar baie agteruitgegaan terwyl ek weg was. Moenie jou kop oor die tuin breek nie, my tuinman sal dit behartig, en ek is naby genoeg om ’n oog te hou.”

Onvergenoeg kyk sy hom agterna toe hy wegstap. Daar is nie ’n heining tussen hulle nie en die twee huise is so naby aan mekaar dat hy binne ’n paar treë by sy eie plek is en voor haar oë verdwyn toe hy sy huis binnegaan. Sy fynkam die tuin met haar oë. Sy tuinman het so getrou hier gewerk dat sy regtig geen agteruitgang kon merk in die maand wat sy reeds hier bly nie. Dit is nou net om nog ’n steek in te kry. Beteken seker ook dat sy nie self iets in die tuin mag plant nie, en haar hande het juis so gejeuk. Sy was tog te ingenome met die piepklein tuintjie, het gedink sy sal dit sommer speel-speel kan behartig. Nou is dit neusie verby.

Sy pers haar lippe opmekaar en frons. Die eenderse wit meenthuise met hul klein driehoekgewels, rooi dakteëls en kleinerige voorstoepies is dig teen mekaar gebou. As hy in sy huis nies, sal sy dit tien teen een kan hoor. Sy sal dus van tyd tot tyd onvermydelik in hom vasloop. Beteken dit hulle gaan gedurig teen mekaar skaaf?

Dit sal glad nie bevorderlik vir haar herderlike werk wees nie.

Sy kan haar kop op ’n blok sit hy het die dominee met opset beklemtoon sodat dit neerbuigend moet klink. Wel, dit pas uitstekend by Ollie se beskrywing van vrouehater.

Die telefoon se gelui ruk haar uit haar gedagtewêreld en sy haas haar na binne om te antwoord.

“Dag, my kind,” klink die vrolike stem van haar ma, Magriet, aan die ander kant op.

O, wee, as Magriet so hipervrolik klink, is daar iets aan die kom, spoed dit deur Marcella se kop. “Môre, Ma, gaan dit goed?”

“Natuurlik, altyd goed. Kom jy reg op die nuwe plek? Hoekom jy nie wou hê ek en Pa moet jou kom help trek nie, verstaan ek nou nog nie, Marcella.”

Daar het jy dit. Magriet voel steeds afgehaal omdat Marcella ’n deurvaart van die Kaap na Skoonstroom toe gestuit het. Dit het niks met liefde, of ’n gebrek daaraan, te doen nie, redeneer Marcella vlugtig vir die hoeveelste keer met haarself. Sy wou haar begin op Skoonstroom net self behartig en haar huis inrig soos sy wou.

“Ek het mos al verduidelik, Ma. Ek het so min goed deesdae dat ek nie ekstra hulp nodig gehad het nie.”

“Ewenwel, maar ons kon jou tog met raad bygestaan het, morele ondersteuning gegee het,” probeer Magriet weer motiveer.

Dis juis wat ek nie wou gehad het nie, dink Marcella moedeloos. “Ek is al ’n stewige dertigplusser, Ma. Julle kan eerder later kom kuier wanneer ek goed ingeburger is. Dan geniet ons sommer net mekaar se geselskap.”

As haar ma haar net wou ophou bekommer, kan hulle soveel kwaliteittyd saam deurbring. Elke keer wanneer sy Magriet daaroor konfronteer, moet sy hoor dit kom van haar babadae af. “Ons het jou byna verloor met jou geboorte, my kind. Die ginekoloog het agterna vertel dit was so ampertjies.” En wanneer sy nie juis daarop reageer nie, begin haar ma gewoonlik met die storie oor hoe sy op ses weke kinkhoes gekry en by die dood omgedraai het. Marcella ken nie al die feite van die gebeure nie, want sy het nooit ordentlik geluister wanneer Magriet daaroor praat nie. “En jy moet onthou jy is ons enigste. Ek kon net nie weer swanger raak nie.”

Sy begin doelbewus oor ander dinge gesels om Magriet se aandag af te lei. “Ek sal laat weet wanneer dit ’n geleë tyd is vir kuier, dan kom julle sommer met die vliegtuig. Pa moenie deur daardie moordende Karoo bestuur nie,” sluit sy af. Ben is nie meer fisiek sterk nie.

“Goed, Marcella, burger jou maar eers goed in. Ek verstaan.”

Verstaan haar ma regtig?

Marcella sit die foon neer en gaan na die slaapkamer wat sy as studeerkamer ingerig het. Sy gaan staan voor haar en Wouter se troufoto. Hoe mis sy hom nie. Hy het net geweet hoe om Magriet te hanteer. En haar ma was klei in sy hande.

Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug na die dag van die ongeluk. Hulle was op pad na ’n opera-uitvoering toe ’n motor teen volle spoed oor die rooi lig ry en hulle aan Wouter se kant tref. Alles het verblindend vinnig gebeur. Toe sy in die hospitaal bykom, het sy dadelik besef sy het die baba verloor en moes toe ook nog hoor dat Wouter dood is. Dit het gevoel of sy deur stikdonkerte omring was. Daar was geen lig nie. Sy wou geen lig hê nie, wou net in ’n opgetrekte fetusposisie bly lê. Wou niemand sien nie, wou net alleen wees. Willoos het sy ingestem om in die kliniek opgeneem te word. Die sessies by die psigiater het sy apaties deurloop en die voorgeskrewe medikasie geneem.

Die koerantberig wat sy later gesien het, het gemeld dat die vrou in die ander kar ook dood is. Die man wat die motor bestuur het, was onder die invloed van drank en is aangekla vir strafbare manslag.

“Hoekom eet jy nie jou kos op nie?” het die personeel in die eetsaal gereeld moedeloos gevra.

“Sukkel om te sluk,” was haar verweer.

Dan het hulle maar net kop geskud. “Shame, senuwees.”

Vir maande het dit so gegaan. Sy het niks om haar raakgesien nie en net kop onderstebo bly sit wanneer die personeel haar tuin toe geneem het. Tot die dag toe ’n skoenlapper met die mooiste kleure op haar hand kom land het. Met verwondering het sy na die fyn vlerke gestaar wat oop en toe vou. En toe hy wegvlieg, het haar oë hom gevolg tot waar hy op ’n heldergeel blom gaan sit het. Dit was of skille voor haar oë afgeval het, toe sy meteens die wonderlike kleure in die blombeddings raaksien. Sy het op gekyk na die oneindige blou lug, bewus geraak van die son op haar vel en besef dat sy leef.

Skielik skel die deurklokkie weer. Kan jy nou meer, dis weer hy, sien sy toe sy oopmaak.

“Die vrou wat my huis skoonmaak, het nog ’n dag oop, as jy sou belangstel om van haar dienste gebruik te maak,” rol sy musikale stem oor haar. “Ek kan haar sonder meer aanbeveel.”

Die enigste positiewe opmerking vandat sy hom ontmoet het. Uiteindelik goeie nuus. “Dit sal gaaf wees,” antwoord sy spontaan. “Ek het juis gedink om te begin rondvra.”

Toe hy glimlag, moet sy keer dat haar mond nie oopval nie. Verras staar sy na die kuiltjie in sy wang. Met so ’n bate behoort hy mos permanent te glimlag. “Ek sal haar sê om jou te kom sien sodra sy by my huis klaar is.”

Sonder om te groet, draai hy om en stap weg. Sy vou haar arms en staar hom agterna. Al smag haar hart na Wouter, is sy darem nie heeltemal blind wat die teenoorgestelde geslag aangaan nie. Lukas de Lange is ’n uiters aantreklike man.

Weer skuif Wouter se lewensblye gelaat voor haar in, en sy besef sy mis hom nie net emosioneel nie, maar ook fisiek. Sy mis die geborge gevoel wanneer sy teen sy bors vasgedruk was met sy sterk arms om haar. Sy mis ook die geestelike aanklank wat hulle by mekaar gevind het. Sy fyn humorsin.

Terug in die studeerkamer kyk sy weer na haar en Wouter se troufoto. Wouter se oë wat haar liefdevol toelag. Hy was tog altyd so ’n positiewe mens. “Ek werk met die lewe, Marcella, hoe kan ek ooit bedruk wees?” het hy dikwels gesê. Elke baba wat hy as ginekoloog die wêreld ingehelp het, was vir hom ’n wonderwerk. En hy was skoon uitgelate oor haar swangerskap. Vir haar was dit ’n dubbele verlies om albei van hulle te verloor. Dit het gevoel of sy alleen op ’n hoë krans staan en ’n sterk wind haar enige oomblik daar kan afwaai. Gelukkig het die Here haar voete stewig op die hoë rots gehou en kon sy omdraai en ’n ander roete volg, ’n roete wat haar hier tot by Skoonstroom gebring het. Dit het haar laat besef dat die lewe aangaan.

Sy werk ook met die lewe in al sy fasette: menselewens, hul sielelewe. Om mense die sonkant van die lewe te help sien, was altyd haar droom. Haar sonligdroom. Die ergste donker tyd lê gelukkig nou agter haar. Vorentoe wag die lig.

Ná haar siekteverlof verstryk het, het sy aan haar vorige gemeente se kerkraad verduidelik waarom sy wil weggaan. Gelukkig het hulle verstaan dat sy ’n verandering nodig gehad het.

Ingedagte vryf sy weer oor Wouter se gesig agter die glas en praat hardop met hom, soos sy so dikwels doen. “Hierdie man is daarop uit om my te boelie, Wouter, maar hy gaan dit nie regkry nie. Ek sal nie toelaat dat hy my gemoedsvrede versteur nie.”

Sonligdroom

Подняться наверх