Читать книгу Sonligdroom - Annatjie van Tonder - Страница 4

Hoofstuk 2

Оглавление

“Môre, mevrou Botha, gaan dit goed?” groet Marcella die mollige vrou agter die kiaathoutlessenaar. Sy merk hoe Ollie ’n plak sjokolade so ongemerk moontlik agter ’n boks snesies inskuif en glimlag heimlik. So het elkeen maar ’n swakte.

“Haai, nee, g’n gemevrou nie, Dominee, sommer Ollie. Eintlik Olga, maar vandat ek wis, noem almal my Ollie.”

Gesels is ook ’n liefhebbery van Ollie, besef Marcella. Is seker so bly wanneer mense kom, want andersins moet dit maar eensaam hier op kantoor wees. “Goed, Ollie. Noem my gerus ook Marcella.”

’n Giggel van verleentheid gly oor Ollie se lippe. “Oe, jinnetjie, ek sal probeer. Gelukkig lyk jy nie soos ’n dominee nie en is jy ook ’n vrou.” Sy slaan haar hand oor haar mond en haar oë rek rond. “Haai, ek het dit nou nie sleg bedoel nie,” sê sy boetvaardig. “Dis net … jy lyk so with-it, as Dominee nou kan verstaan.”

Gewoond daaraan dat haar boskasie nie maklik versoenbaar met haar ampsbediening is nie, stel sy Ollie gerus: “Jy hoef nie sleg te voel nie, Ollie. Ek is in die eerste plek net ’n mens. My hare krul vreeslik, en ek het nie lus om in te meng met moeder natuur nie. En jy’s doodreg, vrouepredikante is nog nie ’n algemene verskynsel nie.”

Ollie leun effe vorentoe en vat aan haar kort blonde kapsel. “Nie eens die haarsalon kry iets met hierdie dun haartjies reg nie. Nee, wees bly oor daai krulle. Maar wat kan ek vanmôre vir Dominee … ag, askies, vir jou doen?”

“Dis Sondag my preekbeurt en ek … ”

“Ag, daarna sien ek nou baie uit,” sê Ollie hartlik. “Ek het juis toe jy laas gepreek het vir my ou Klaas gesê dit is nou wel ’n vrou, maar sy kán preek. En so ’n lekker sterk stem. Byna soos Marietta Kruger toe sy toentertyd nog nuus gelees het. Klaas moet sorg dat hy Sondag daar is. Hy’s soms maar alte lui vir kerk.”

Marcella sit die lys met liednommers voor Ollie neer. “Die orrelis het gesê dit moet Woensdae hier ingegee word. O, en hier is sommer my huurkontrak wat ek moes onderteken. Hy’t gesê ek kan dit hier by jou afgee.”

“Oe-e, het hy self met jou gepraat?” Ollie rek haar oë.

“Vir my gebring, ja. Ons bly mos langs mekaar.” Dankie tog, sy hoef dit nie persoonlik vir hom te gaan gee het nie.

“Arme jy, met so ’n buurman. Wees maar versigtig vir hom, hy hou nie van vroue nie,” fluister Ollie. “Daar loop baie stories rond. Party mense sê sy vrou het hom gelos oor hy haar afgeskeep het, ander sê weer hy het haar gelos oor sy rondgeflerrie het. Waar die mense daaraan kom, weet ek nie, want hy het alleen uit die stad hier aangekom. Maar jy weet mos hoe gaan dit met skinderstories. Iemand ken iemand, wat weer iemand ken, wat glo die storie eerstehands gehoor het. G’n mens weet op die ou end waarvandaan dit kom, en of dit eens waar is nie.”

Sy mag nie hier staan en na skinderstories luister nie. Al hou sy nie van die man nie, is dit sy privaat lewe; geen ander het die reg om dit aan die groot klok te hang nie. Net soos sy ook nie haar privaat lewe uitgebasuin wil hê nie. Ligloop vir Ollie Botha, besluit Marcella. “Verskoon tog, ek moet nou dringend gaan. Sien jou later weer, Ollie,” groet sy gou en loop haar by die deur byna in Lukas vas.

“Ons is haastig,” sê hy met ’n vreemde lig in sy blougroen oë. “Wag vir my, ek moet met jou praat. Ek kry net die liederelys.”

Dankie tog sy het dit vroeg gebring. Sy sal hom nie ’n kans gee om haar van slaplê te beskuldig nie.

Sou hy ooit twee woorde met Ollie gewissel het? wonder Marcella verbaas toe hy blitsig weer by haar aansluit met die liederelys in sy hand. Of is hy maar altyd so vinnig?

Hulle stap in stilte buitetoe tot in die helder son.

“Jy wou met my praat, Dokter?” herinner sy hom benoud. Wat kan dit tog nou weer wees?

“Pas op vir Olga Botha,” waarsku hy op ’n lae stemtoon. “Grootste skinderbek op Skoonstroom. En voor jy jou oë uitvee, koppel sy jóú naam aan die skinderstorie.”

Dan het hy hul gesprek gehoor. Sy moes Ollie dadelik stilgemaak het, dink sy skuldig. “Ek steur my nie aan skinderpraatjies nie. Het haar buitendien nie kans gegee om veel te sê nie.”

Hy knik instemmend. “Ek het gehoor jy reageer nie, juis daarom waarsku ek jou. Sy het die kuns bemeester om die waarheid te verdraai.”

Dankie tog sy het nie saamgepraat nie. Is dit waarom hy skielik so innemend klink? Sy moet sê, dit haal die wind ’n oomblik heeltemal uit haar seile. Die harde lyne op sy gesig vertoon vandag sagter, maar sy oë lyk moeg asof hy min geslaap het.

“Was jy by die hospitaal?” waag sy dit ook vriendeliker, maar wonder terselfdertyd of sy nie dalk oortree nie. Dis mos darem sy privaat lewe.

“Noodoperasie verlede nag, op ’n vrou ná ’n motorongeluk.” Hy vryf oor sy oë. “Die man het dit nie gehaal nie en is op slag dood. En vroegoggend was daar nog twee operasies op die teaterlys,” sê hy moeg.

Motorongeluk, hamer dit in haar kop. Die man dood … nes Wouter …

“Is iets verkeerd?” hoor sy hom besorg vra. Geen klank wil oor haar lippe kom nie. Sy knip haar oë teen die skerp lig en skud haar kop. Hoe kan sy vir hom sê wat haar makeer? Hulle stamp dan sedert hulle ontmoet het gedurig kop. Hoe sal so ’n siniese man haar diepste pyn verstaan?

Hy kry so baie met ongelukke en die dood te doen dat dit hom dalk nie meer so diep raak nie.

“Nee, niks,” antwoord sy, “voel net bietjie duiselig.” Dis nou ook nie heeltemal ’n leuen nie. Elke keer wanneer sy iets omtrent ’n motorongeluk hoor, voel dit of die bloed haar kop verlaat. Ondanks al die berading en medikasie het sy die trauma nog nie heeltemal verwerk nie, want die ongeluk was die sneller wat al die ander gevolge soos dominoblokkies laat tuimel het. Dalk is sy nog nie sterk genoeg om haar bediening te hervat het nie. Tog was die psigiater en die sielkundige albei van mening dat dit goed sal wees om weer tussen mense te wees en deur diensbaarheid haar fokus van haarself af weg te werk. En sy wou wegkom van alles wat haar aan haar lewe voor die ongeluk herinner het; daarom is sy nou hier op Skoonstroom. Haar lewe het in twee dele geval: vóór die ongeluk, en daarná.

“Is jy nou op pad huis toe?” dring sy bekommerde stem vaag tot haar deur en word sy weer bewus van haar onmiddellike omgewing.

“Ja.”

“Ek sal jou neem. Jy kan nie nou die kans waag om te bestuur nie.”

Sy skud haar kop. “Ek’s reg; daar’s niks met my verkeerd nie.”

“Dominee, ek is ’n dokter, ek kan sien jy is nie nou jouself nie. Jou pupille is heeltemal te groot, asof jy skok opgedoen het. Moenie jou oor jou kar bekommer nie, dis doodveilig hier op die kerkterrein. Ek sal later reël dat dit by jou huis besorg word.”

Hy klink heeltemal professioneel. Weg is ou knorpot. Miskien is hy reg, dalk moet sy nie nou haar hand aan ’n motorstuurwiel waag nie.

“Goed,” knik sy instemmend.

Sy hand op haar arm voel gerusstellend toe hy haar na sy motor toe lei. ’n Nuwe model, Duitse fabrikaat. Die leersitplekke voel koel toe sy inklim en gaan sit. In die kajuit hang daardie onbetwisbare nuwemotor-reuk. Sy leun met haar kop teen die kopstut, sluit haar oë, hoor hoe hy glad wegtrek en luister na die enjinversnellings. In haar kop volg sy elke draai totdat die motor tot stilstand kom en hy dit afskakel.

Toe eers maak sy haar oë oop en sien hulle is by haar huis. “Baie dankie,” sê sy skor. “Ek sal nou regkom. Het reeds jou program omvergegooi.”

“Wag eers,” keer hy toe sy wil uitklim. “Het jy vanoggend geëet?”

Sy sit regop. Nou maak hy nes Magriet. Sy is darem nie ’n kind nie. “Natuurlik. Ek eet elke oggend. Glo aan ’n ordentlike ontbyt.”

Hy bestudeer haar. “Dit lyk nie of jy genoeg eet nie. Ja, ek weet, skraal is die norm, maar dis nie altyd gesond nie.”

Sy konsentreer vir ’n oomblik op haar asemhaling, wil nie ’n antwoord waag nie. Sy het die afgelope jaar baie gewig verloor. Hoe kon dit ook anders? En sy is nie bereid om dit te verduidelik nie. “Ek dink ek wil nou ingaan,” verander sy die onderwerp.

Hy frons en dit lyk of hy ’n oomblik diep dink. Toe maak hy sy motordeur oop. “Goed,” antwoord hy saaklik, klim uit en voordat sy nog haar deur oop het, staan hy reeds daar en help haar uit.

’n Mens sou sê ek is ’n baie siek pasiënt, dink Marcella toe hy saamloop tot by haar voordeur.

“Die sleutel … ”

Sonder ’n woord sit sy dit op sy oop handpalm. Al is hy so knorrig, het hy onberispelike maniere, moet sy toegee. Of is hy maar net gewoond daaraan om in beheer te wees?

“Gaan lê, ek bring vir jou tee.”

Sy wil eers teëstribbel, maar bly dan stil en gehoorsaam hom. Dis nog een van die lesse wat sy moet leer, om ook soms aan die ontvangkant te staan en dit nie as liefdadigheid te beskou nie. Sy dink darem nie hy bejammer haar nie; hy het heeltemal professioneel geklink.

Verras kyk sy ’n bietjie later na die netjies gedekte skinkbord wat hy op die spieëltafel neersit. ’n Man wat soek totdat hy vind, kom dit by haar op. Hy het sowaar haar teestel van fyn porselein met die goue randjies in die hande gekry, merk sy toe sy die teepot, melkbekertjie, suikerpot en twee koppies sien. Hy gaan dus saam drink.

“Sit regop,” gebied hy en help haar orent, “dan druk ek die kussings agter jou in.”

Die aanraking van sy arm agter haar blad betrap haar onverhoeds en stuur ’n gloed teen haar nek en wange op. Sy hoop nie hy sien die blos nie, want wat moet hy dan van haar dink? Sy is ’n dominee, nie ’n bakvissie nie. Gelukkig voel sy nie ongemaklik met hom hier in haar slaapkamer nie, daarvoor tree hy te professioneel op.

Hy gee haar tee vir haar aan. “Ek het in jou koskas gekrap en beskuit gekry. Eet dit saam met jou tee sodat daar vaste kos in jou maag kom, dan drink jy een van dié.” Hy sit ’n glas water en ’n houer pille op haar bedkassie neer. “Saam met ’n bietjie slaap is dit goeie medisyne.” Doodnatuurlik maak hy hom op haar spieëltafel se bankie tuis.

Toe hulle klaar gedrink het, vat hy die leë koppie by haar en trek die roomkleurige gordyne toe. “Probeer nou slaap. Ek sluit die huis. Sal later die sleutel terugbring, jy het mos ’n duplikaat.”

“Ja. En … dankie, ek waardeer jou moeite, Dokter.”

“Lukas. Weg van die hospitaal is ek Lukas.”

“En ek is Marcella. Los ook tog maar die titel.”

’n Fyn glimlag vorm om sy mond. “Goed, Marcella.”

Die laaste waarvan sy weet, is sy toe sy lang, regop gestalte by die deur uitgaan.

• • • •

Toe Marcella wakker word, is sy eers verbaas. Sy is dan nog ten volle geklee? Toe onthou sy wat gebeur het en hoe Lukas haar huis toe gebring het. Aardetjie, dis reeds twaalfuur die middag. Sy het maklik twee ure lank geslaap. Watter soort pille dit was wat hy haar gegee het, weet sy nie, maar dit het haar goedgedoen; sy voel sommer stukke beter.

Swaarmoedig onthou sy die oorsaak van haar ongesteldheid. Sy sluit haar oë. In haar beroep word ’n mens ook onvermydelik met siekte, ongelukke en dood gekonfronteer. Sy behoort mos daaraan gewoond te wees? Maar kan ’n mens ooit aan die dood gewoond raak? Dit het haar onkant betrap toe sy hoor van die ongeluk wat soos haar en Wouter s’n geklink het. Marcella sug. Sy was nog altyd ’n baie sterk mens; sy sal die innerlike krag herwin wat sy eens gehad het.

Die probleem is mense. Daar is baie wat nog meen dat ’n dominee geen menslike swakhede mag hê nie. ’n Verwagting van volmaaktheid. Daarom kon sy nie teruggaan na haar vorige gemeente nie en wou sy eerder op ’n ander plek nuut begin. ’n Plek waar almal nie haar geskiedenis ken nie.

Gou trek sy die gordyne oop. Dit was lekker om haar oor te gee aan die vergetelheid van ’n diep slaap in die skemer kamer, maar nou wil sy die son weer sien.

Die deurklokkie onderbreek haar gedagtes en sy haas haar om te gaan oopmaak.

Sy kyk reg in twee helder blougroen oë vas en sug innerlik.

“Voel jy al beter?” Hy glimlag en ’n kuiltjie verskyn in sy een wang.

Byna betowerd staar Marcella daarna. Het hy besluit om vriendeliker te wees? Daar moet dan ’n bietjie menslikheid ook in hom wees. Sy sien terselfdertyd ook die donker skynsel van sy baard. Die arme man is nog heeldag aan die gang, tref dit haar. Die glimlag verdoesel die moegheid.

“Ja, ek voel weer piekfyn. Wil jy inkom?”

Hy skud sy kop en trek sy vingers deur sy hare. “Nee, dankie, ek moet aangaan.” Hy vryf oor sy ken. “Het gou huis toe gekom om te kom skeer en toe sommer jou sleutel gebring.”

Sy vat dit by hom.

“Praat maar as jy iets nodig het. Ek het gereël dat jou motor gebring word. Dit staan hier voor jou garage.” Nog voordat sy kan antwoord, draai hy om en loop met lang treë weg.

Verwonderd kyk sy hom agterna. Besef hy watter klein genade sy vriendelikheid van flussies was?

• • • •

Laatmiddag kom Theuns en Bella Verwey ook inloer.

“Ollie sê jy’t inmekaargesak,” val Bella met die deur in die huis en gee ’n glasbak met kos vir Marcella. “Sommer ’n bietjie lasagne vir aandkos.”

Marcella kyk dankbaar na Bella: “Dankie vir die kos. Dis meer as welkom. En Ollie het aangedik, hoor, ek was net ontsteld.” Hewig ontsteld, maar hulle hoef nie die volle omvang te weet nie.

Hulle gesels eers oor allerlei voordat Theuns ernstig keelskoonmaak en praat: “Jy moet maar sê as ek Sondag jou preekbeurt moet neem, Marcella. Daar is darem nog oorgenoeg tyd vir my om ’n preek uit te werk.” Sy donker oë is ernstig op haar gerig.

Wat ’n genade is Theuns en Bella se besorgdheid tog. Hulle is die enigste mense wat die besonderhede van haar verlede ken. Die kerkraad weet maar net dat sy ’n weduwee is. Sy het van die begin af oop kaarte met hulle twee gespeel en alles vertel. En sy het hulle onvoorwaardelik vertrou toe hulle, sonder dat sy gevra het, beloof het om dit vir hulleself te hou, want hulle het besef hoe pynlik dit nog vir Marcella is.

“Dankie, oom Theuns, maar dit sal nie nodig wees nie.” Toe vertel sy hulle waarom sy in ’n skoktoestand was. “Seker omdat dit so met my eie ervaring ooreengestem het,” verduidelik sy. “Nee wat, oom Theuns, ek sien nogal uit daarna om weer te preek.”

Theuns en Bella glimlag albei, maar Marcella sien tog die skadu wat oor Bella se gesig gly. “Hierdie ongeluk het toe heel anders verloop as die een waarin jy en jou oorlede man was, Marcella,” begin Bella sag vertel. “Die man en vrou was van ons gemeentelede, en Lukas het so ’n halfuur gelede laat weet die vrou het ook nie lewend daarvan afgekom nie. Miskien ook maar goed, want sy sou haar bene nie weer kon gebruik het nie.”

Verslae sit Marcella en luister. Hoe tragies tog. Arme Lukas, en die chirurg wat geopereer het. Dis seker vir hulle erg. Dan het sy nog baie om voor dankbaar te wees, want hier sit sy ongedeerd met ’n toekoms wat steeds wink. “Was daar kinders?” vra sy huiwerig.

“Nee. Genadiglik nie,” antwoord Theuns.

Bella beaam met ’n kopknik, en Marcella verwonder haar aan die statige vrou se mooi, blink grys hare.

• • • •

Marcella kyk oor die see gesigte heen. Dit voel so bekend, amper asof sy nog van altyd af hier is. Gelukkig voel sy kalm en sterk. Tevrede dat haar preek goed afgeloop het, luister sy na die orrelspel terwyl die kollekte opgeneem word. Lukas is voorwaar ’n meester en haal uit die orrel wat min hom kan nadoen. Regop-rug sit hy daar en tower die mooiste klanke op. Ongewone kombinasie, dink sy, narkose en musiek. Tog kry hy dit reg om hom met gemak in albei wêrelde uit te leef.

Miskien is die musiek juis sy terapie.

Toe die orreltone wegsterf, sien sy Theuns se goedkeurende kopknik. Dan reken hy darem dit het goed gegaan. Tog weet sy, in alle nederigheid, dit was net krag van Bo wat haar die boodskap onbevrees laat bring het. Wat haar van Lukas se misnoëe met ’n vrou as predikant laat vergeet het. Haar liefde vir die Een wat sy dien, is sterker as die mening van mense.

Sy staan op om die laaste lied aan te kondig. Skielik swem alles voor haar oë toe die herinnering fel en helder na haar toe kom. Wouter het altyd voor, regoor die kansel, gesit en stout geknipoog wanneer sy die laaste lied opgee.

Nou kry sy die liednommers nie gelees nie, hulle is in ’n wasigheid gehul. Hier is nie elektroniese fasiliteite wat die woorde op ’n skerm gooi nie; die gemeente gebruik nog hul boeke. Benoud knip sy haar oë en noem sommer uit die bloute ’n lied in die hoop dat Lukas dit sal kan speel.

Hy draai om en kyk oor die afstand na haar, maar ook sy gesigsuitdrukking swymel. Gelukkig kom die gemeente niks agter nie, want almal is naarstig aan die opsoek. Dan sug sy verlig toe Lukas die inleiding begin speel. Hy begelei so goed, die gemeente sal definitief nie agterkom dat hy dit nie vooraf geoefen het nie.

Sy is kwalik by die huis of die voordeurklokkie lui.

Hy staan voor haar, hande in die sye, sy oë soos stormwater.

Kwaad.

“K-kom binne,” stotter sy en tree agteruit.

Lukas stap by haar verby tot in die sitkamer, maar gaan sit nie. Hy plant sy voete ver uit mekaar en kyk haar uit die hoogte aan.

Hoe verwens sy tog nie haar gebrek aan lengte nie. Nou moet sy soos ’n kind na hom staan en opkyk.

“Jou idee om van my ’n gek te maak, het gelukkig nie geslaag nie,” beskuldig hy.

Hy hoef dit nie uit te spel nie, sy weet hy verwys na haar blaps met die lied. “Wys jou net dat jy my glad nie ken nie,” antwoord sy hees. “Ek het g’n behoefte om van ander mense gekke te maak nie. Daarvoor is ek maar net te bewus van my eie brose menslikheid. Ek probeer volgens die Boek leef: ‘Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê’. ” Sy byt op haar onderlip in ’n poging om haar mond se bewing te beheer. “Dit was per ongeluk die verkeerde nommer.”

Dit lyk of hy haar woorde staan en oordink. “Goed, ek aanvaar wat jy sê. Dan het jy seker nie op daardie oomblik gekonsentreer nie. Ek sal jou aanraai om nie op die kansel te staan en droom nie, Dóminee.”

Sy kan dit nie teenoor hom erken nie, maar hy is in die kol wat die konsentrasie betref. Die oomblik toe sy aan Wouter gedink het, het haar konsentrasie versplinter. En sy sal in die toekoms daarteen moet waak. Dit besef sy baie goed.

“Het jy klaar gepraat, Dokter?” vra sy reguit.

“Ja, ek het. Dink maar gerus na oor my woorde. Ek geniet my pos as orrelis baie, wil dit nie deur kleinlikhede versuur hê nie. Totsiens.” Sonder ’n verdere blik in haar rigting stap hy uit.

Verslae syg sy op die leunstoel neer. “Laat julle lig dan skyn vir die wêreld en moenie dit onder ’n maatemmer verberg nie.” Dit was haar preek vanoggend.

Dit voel of ’n groot duisternis die helder lig uitwis.

Sonligdroom

Подняться наверх