Читать книгу Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira - Страница 5

Оглавление

Party onderwysers begin ’n mondelinglys soms van agter, of kies name rond en bont. Nie die Yskoningin nie. Sy moet skrikkeljare pes, want dan is al die dae ná Februarie deurmekaar.

Jonker kyk na haar, verloor dadelik sy draad.

“Uhm, dis …” Hy krap in sy nek, korrel na die papier in sy hand. “O ja, dan was daar die toets toe Graeme Smith met ’n gebreekte hand verder gekolf het.”

Links van my gaap ’n ou dat sy kakebeen klap. In die bank regs skryf ’n meisie op ’n stukkie papier.

Ek moet seker bly wees my van is nie Walters nie. Dan moes ek tot laaste gewag het, wat seker rof kan wees op die senuwees. Maar gelukkig is ek ook nie Arends nie.

My held/heldin.

Agter my lag iemand. Die Yskoningin se blou blik vries hom stil.

“… en in die volgende toets …” Dis nou al die derde krieketheld. Ek voel self ’n gaap in my neus bewe.

Ná hom is dit Kaleni, en dan ek.

Ek wonder wie Lungelo se held gaan wees. Tien teen een die atleet Usain Bolt, dis ongelooflik hoe baie hy na daai ou lyk. Net nie so vol sports nie, glad nie. En ek weet nie hoe vinnig hy is nie, hy het in die eerste kwartaal by ons skool aangekom ná die atletiek al verby was. Maar hy’s groot vir ’n graad agt dude. Omtrent twee keer so lank as enigiemand anders in die klas.

Oukei, as ek.

Oukei, selfs Marlie is omtrent twee keer so lank soos ek. Maar dis nie hoekom ek nie baie van hom hou nie.

Ek hou nie regtig van enigeen in die agterste ry nie. Dis waar al die ouens sit wat soos bere lyk, en net so saggeaard is ook. As hulle jou nie skud soos ’n Kersklapper nie, besproei hulle jou met koeldrank, of stamp jou uit die ry voor die saal.

En dan was daar die bal teen die kop in LO. Dit was in rounders, wat mens amper sou kon geniet het as dit nie deel was van LO nie. Mens sien regtig sterre, vra my. Net ’n ongeluk, het die Yskoningin omtrent twintig keer gesê terwyl sy oor my gebuk het, Lungelo het dit nie bedoel nie, dit was jy wat misgevang het. Wel, ek sweer daai bal sou selfs Graeme Smith misgevang het, dit het vinniger as ’n vuurpyl op my afgekom.

“… die beste krieketkaptein ooit.” Die Yskoningin knik terwyl Jonker verlig terugsteier na sy bank.

Ek skuif reg. Nou Lungelo. Ek koes toe hy van agter verby my loop, net vir ingeval.

Hy gaan staan voor in die klas, sy oë op die vloer voor hom. Die een kant van sy hemp flap oor sy broek. Die Yskoningin kry ’n pyntrekkie om haar mond.

“My held is Steve Jobs.”

Waaat?

“Steve Jobs het moeilik grootgeword.”

Hy het nie!

“Dis hoekom hy so ’n moeilike ou was.”

Dis nie waar nie! Steve Jobs was moeilik want hy was ’n genius!

“Steve Jobs het Apple gestig in …” Tjommel tjommel. “… en toe is hy uit sy eie maatskappy gefire …” Tjommel tjommel. So? Dis nie die punt nie! Dis nie waaroor Steve Jobs gaan nie.

Lungelo weet nie waarvan hy praat nie.

Wag, dis mos my kans dié, is dit nie? Ek haal vinniger asem. Ek sal hom wys. Ek sal ’n beter speech gee as hy.

’n Skaduwee gly verby my terug agterbanke toe. Eers toe die Yskoningin vir die tweede keer “Muller?” sê, lig ek my kop.

Die Yskoningin kyk na die lys op haar tafel voor sy sê “Albert”, asof sy ná ’n kwartaal en ’n half van register én LO net doodseker wil maak my naam het nie stilletjies na ’n ander van geskuif nie.

Ek lig my uit my bank, my ore raas soos ’n radio op static. Ek kan die stampe nog vat, en die bal teen die kop en die koeldrank en …

Maar Steve Jobs!

My mond is droog toe ek voor die klas gaan staan. Voor my dobber kinders in hul banke rond, aan my regterkant is die Yskoningin dof. Ek lek oor my lippe, toe praat ek.

“My held is nog beter as Steve Jobs,” sê ek. “Toe Steve Jobs die heel eerste iPhone aangesit het, was daar drie missed calls. Van Chuck. Chuck Norris.”

Die klaskamer dreun soos ’n sportstadion toe ek terugstap na my bank. Dit lag, fluit, stamp voete. “Whoo-hoo!” skree iemand. “Go, Albert!” roep iemand anders.

Net een persoon lag nie. Van heel agter in die klas boor ’n paar donker oë deur my. Lungelo s’n.

“Dink jy jy is snaaks, meneer Muller?” Ys, yser, Yskoningin.

Ek haal my skouers op. Die klas dink so. Wie is ek om te stry?

Haar pen beweeg stadig op die bladsy, ek kan dit sien van my bank af. Dit moet langs my naam wees. Sy trek ’n sirkeltjie.

Chuck Norris kan deel deur nul

Подняться наверх