Читать книгу Chuck Norris kan deel deur nul - Annelie Ferreira - Страница 7

Оглавление

Daar’s ’n sagte doef voor die agterdeur, toe nog een. Ek kyk op van waar ek voor die stoof staan. Dit sal Pa wees wat sy skoene uittrek. Hy is vroeg hier, hy sal seker aandete saam met ons eet.

’n Skim beweeg agter die dowwe glas, die deur swaai oop. Dit lyk of iemand ’n yslike sif bo Pa geskud het. Sy donker krulhare is grys gespikkel, sy hemp vol stof en vuil.

“Jis-jis,” groet hy. Een van sy groottone steek deur ’n sokkie.

“Het julle weer ’n geyser uitgehaal?” vra ek.

“Ek sweer dis die oudste geyser wat ek nog gesien het. Sjeesj, hulle maak nie meer daai klas goed nie.” Pa se gesig vertrek, toe nies hy dat die kaste ratel. “Maar van die stof,” snuif hy. “En spinnerakke! Jy moet sien hoe het Frikkie gelyk. Hoessit hier?”

Ek is nog halfpad met “Orraait” toe Pa sy duim lig. Hy loop verby my.

“Spring gou deur die stort,” sê hy.

Ek hoor hoe hy in die gang af roep na Ouma en Marlie. Net Marlie antwoord. Dalk is Ouma in haar kamer. Dit was eers ’n buitekamer met ’n badkamer, wat verbind is met die huis toe ek en Marlie te groot geraak het om ’n kamer te deel.

Ek maak die oonddeur oop en loer in die oondskottel. Ooh, baby, come to Papa. Die hoender is bros gebak, die aartappels blink goudbruin. Die geur is hemels. Ek maak my oë toe om dit behoorlik in te snuif. Ek is só bly ek is nie ’n vampier nie.

Die agterdeur kraak weer. Ouma sukkel die kombuis binne.

“Omtrent ’n plaag van wurms in die tuin, sulke groot rooies,” sê sy omgekrap. “Ek weet nie waar hulle skielik vandaan kom nie.” ’n Spinnerak en droë blare klou teen haar skouer, bo-op ’n papegaai.

“Hier’s iets op Ouma se hemp,” sê ek en trek dit versigtig af.

Sy kyk af en vee oor haar skouer. “Dankie, Albert.”

Ek kyk weer. “En Ouma se oorring is weg,” sê ek. “Hierdie oor,” wys ek. Ouma lyk ’n bietjie soos ’n seerower se ma, met haar papegaai-hemp en alles.

“Ja, dit het in my kamer uitgeval,” sê sy en vat-vat aan haar oor.

“Ek dink die kos is reg,” sê ek. “Pa is hier, hy het net gou gaan stort.”

“Gaaf. Hy werk te hard, jou pa. As hy net wil ophou met die 24-uur-diens.”

Sy kyk in die oond. Die vet in die bak spat gesellig.

“Dit lyk goed, Albert,” sê sy en skakel die oond af. “Ons maak gou die slaai, dan sny jy die hoender op.”

Raait. Ek het nog nooit hoender opgesny nie, maar ek kan probeer.

“Vat net die regte mes.” Ouma grawe in die laai vir die mes wat sy altyd gebruik, die een waarop ’n samurai trots sou gewees het.

Ek soek ’n slaaibak. Hoekom mense van slaai hou, kon ek nog nooit uitfigure nie. Wie het eerste na ’n haas gekyk en gedink sjoe, watter lieflike ore en awesome voortande, ek wil ook eet wat jy eet?

Die slaaibak kry amper ’n ongelukkie toe ’n voël skielik agter ons begin tjilp.

Ek swaai om. “Ouma?”

Waar is die flippen voël?

Ouma draf na haar handsak. “My nuwe ringtone,” sê sy. Sy vroetel in die sak om haar foon te kry. “Petro? Hallo.”

Ek begin maar met die slaai. Tannie Petro is nooit haastig nie, en nou praat sy en Ouma eers oor die nagereg vir volgende week se groot paartie.

Die slaai is klaar, tafel gedek en hoender uit die oond toe Ouma eindelik tot siens sê vir tannie Petro.

“Hei!” Marlie loer by die kombuis in. “Die tapespeler in Ouma se kar is stukkend, nè?”

“Ja,” sê Ouma. “Ek dink die hi-fi in die woonkamer speel nog tapes.”

“Nope, dit doen nie,” sê Marlie.

“Is jy seker?” vra Ouma. “Laat ek kom kyk.”

“Maak net gou, die kos is reg,” sê ek. “Watter tapes wil jy speel?”

“Sommer ou tapes wat ek gekry het.”

Ek tel die samurai-swaard op en weeg dit in my hand. Nou vir ’n vurk om die hoender mee vas te pen … en daar waai die eerste boudjie.

Mm. Dit lyk nie heeltemal soos ek verwag het nie. Miskien moet ek “wêreldberoemde chirurg” ’n entjie afskuif op my lysie loopbaankeuses.

“… maar hier was mos ’n tapespeler in die huis toe ons klein was. Pa?”

Marlie en Ouma kom agter Pa by die kombuis in. Hy het ’n skoon wit hemp aan en sy hare is klam en glad gekam teen sy kop.

“Kan wees,” sê hy. “Dit was lank gelede.” Hy maak die yskas oop en haal ’n boks lemoensap uit.

My maag begin noodoproepe aan my brein maak. “Ons kan seker maar begin inskep?” sê ek.

“Ja, natuurlik,” sê Ouma. “Nog drinkgoed, enigiemand?”

“Hemel, wat het die hoender oorgekom?” vra Marlie.

“Dis opgesny volgens ’n nuwe wetenskaplike metode wat die smaak verbeter,” sê ek. “Jy kan dit eerste toets.”

“Yeah, right,” sê Marlie.

Pa en Ouma gesels oor geysers, maar ek luister nie. Ek moet keer of ek kwyl op my kos. Ek stapel hoender en aartappel op my bord, met een klein stukkie tamatie langsaan vir balans.

Marlie skep die helfte van die bak slaai in en ’n stukkie hoender wat moontlik ’n vlerkie is.

Ons begin eet.

“Toevallig dat dit nou hoender is,” sê Pa terwyl hy ’n stuk aartappel met sy vurk bykom. “Weet julle wat het ons vanoggend uit ’n drein op ’n kleinhoewe gehaal?”

Ek is seker ek wil nie weet nie.

“’n Dooie hoenderkuiken.” Pa kou smaaklik. “Nou vra ek jou met trane in my babyblou oë …”

“Eow!” sê Marlie. “Pa!”

Ek moet twee keer sluk aan my eerste hap hoender.

“Toe ek daar kom en ek sien die hoenders rondskrop, kry ek sommer ’n intuïsie. Hoewel, hoe die ding in die drein beland het weet nugter alleen.” Pa tel sy glas sap op en drink. “Julle is gelukkig ek het julle so goed geleer, julle sal nie glo wat mense by pype invoeter nie.”

“Pa!” Marlie lyk so groen soos ’n slaaiblaar. “Ons eet, for heaven’s sake!”

“Partykeer is dit seker kleintjies, hulle weet nie van beter nie,” sê Ouma.

Die hap hoender is af. Glad nie sleg nie.

“Maar dan moet hulle geleer word,” sê Pa en sit sy glas weer neer. “As jy nie moeilikheid wil hê nie, moet jy sorg dat jou pype oop bly.”

“Ons kry die boodskap, dankie, Pa!” Marlie pik ’n happie vleis van die vlerkie af. “Het mens jou ouers se toestemming nodig as jy ’n paspoort wil kry voor jy agtien is? Of is dit soos ’n ID waarvoor jy net sestien hoef te wees?”

“Paspoort? Ek weet nie,” sê Pa. “Albert, terwyl ek nou daaraan dink, ons moet Saterdagoggend ’n draai by tannie Petro gaan maak, sy het gevra of ons ’n paar joppies daar kan gaan doen voor die verjaardag.” Hy prop ’n slaaiblaar in sy mond, dit vat ’n paar oomblikke voor al die randjies ingewerk is. “Paar nuwe gloeilampies insit, kyk na die kombuiswasbak, sy sê daar’s ’n toilet wat nie lekker is nie.”

“Ek kan nie saamgaan nie.” Ek probeer spyt klink. “Ek en Ashish gaan Akasia Mall toe, ons het afgespreek. Die games arcade gaan toemaak en ons wil vir oulaas daar gaan speel.” Nou gaan ek die aartappel toets.

“Dit sal nie lank vat nie, ek laai jou by die Mall af as ons klaar is,” sê Pa. “Dit sal goeie ondervinding vir jou wees. Toe ek so oud soos jy was, kon ek al jobs op my eie doen.”

“Pa …” Oh, wow. Dis wat mens noem smelt-in-die-mond aartappel, ek kreun amper van plesier.

“Jy moet oppas by die games arcade,” sê Marlie. “Daai ouens uit jou klas hang daar rond, ek en Suzanne het hulle nou al ’n paar keer gesien as ons daar verbyloop.”

“Watter ouens uit my klas?”

“Daai groot ouens. En daai een wat soos Usain Bolt lyk.” Sy haak haar hare agter haar oor in. “Hulle sukkel partykeer met die kleintjies daar. Ek is obviously nie bang vir hulle nie, hulle sal niks waag met my nie. Maar van jou maak hulle maalvleis.”

O ja? Ek lig my ken. “Ek skrik nie vir groot ouens nie.”

Ouma trek die slaaibak nader. “If you think you’re too small to make a difference, you’ve never been to bed with a mosquito,” sê sy.

“Ja, wel, die mosquito moet ook maar oppas of hy word pap geklap,” sê Marlie.

Ek sug gelukkig. Hierdie kos is perfek. Smaaklik. Sappig. As ek ’n bord hiervan voor Suzanne kan neersit …

“Het julle geweet,” sê ek, “Chuck Norris kan sop eet met ’n vurk.”

Chuck Norris kan deel deur nul

Подняться наверх