Читать книгу Melktert en kaviaar - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Naweke is blink ure wat deur die week vir Emma wink en knipoog en uitnooi. Sy weet dat as sy Vrydae haar kantoordeur toetrek, kan sy al daardie ure optel en haar eie maak. Sy kan hulle vol maak met net wat sy wil, en op hierdie oomblik is sy so gelukkig as wat sy glo dat ’n mens kan wees.

Haar spesiale vriend – die groot liefde in haar lewe, die rede waarom sy bestaan – is die gewilde sanger Ingo. Hy is ’n groot man met ’n warmte wat haar hart sag maak. Vir hom sal sy enigiets doen, maak nie saak wat hy van haar vra nie. Sy sal dit met vreugde vir hom doen, want hy is Ingo, die man wat haar bene botter laat word as hy met sy diep, verruklike stem die gehoor betower.

Hy kom haal haar nooit by die werk nie, omdat hy nie graag in die openbaar verskyn waar bewonderaars hom bydam en oorneem nie. Dus wag hy tot sy by die huis is voordat hy na haar toe kom, en sy aanvaar dit so. Soms daag hy nou wel eers teen elfuur die aand op, maar hy kom darem, troos sy haarself dan.

Nee, daar’s nie probleme nie. Vir Emma is die lewe een groot vreugde. Maar die salige balans daarvan word versteur toe sy op hierdie Februariedag vir Roland voor die veiligheidshek by haar woonstelgebou se ingang sien staan.

Sy is dadelik omgekrap en vies. Sy hou nie van hom nie, maar sy verduur sy geselskap ter wille van Ingo, wie se beste vriend hy is. Dit lyk nie asof Roland sy hare ooit was nie, en hy skeer maar bra halfhartig. Om sy gebrek aan higiëne weg te steek, dra hy altyd ’n donkerbril en glo dan dat mense niks sal agterkom nie. Sy hou ook nie van die manier waarop hy na haar kyk nie … so asof hy iets in die mou voer.

“Ek kom die pakkie haal, ou girl,” sê hy toe sy hom bereik. “Ingo het een gelos.”

“Ek weet. Ek gaan dit haal.”

Sy stap by hom verby, maar hy volg haar al die pad na die woonstel. Dit irriteer haar, want dis nie nodig nie. Dis net ’n geluk dat mevrou Jansen se hondjie, Rommel, nie voor haar woonsteldeur sit nie. Die brak is ’n absolute verpesting.

Sy tel die pakkie van die koffietafel af op en skat dat dit sowat tien CD’s bevat. Dan gee sy dit aan hom. “Hy kan dit net sowel direk vir jou gee. Ek weet nie hoekom ek dit altyd moet hou nie.”

“Dankie, ou girl.” Hy knipoog vir haar en klik sy tong. “Sê vir Ingo ek stuur groete. Ek gaan vir twee dae weg en kom eers Maandag terug.”

Sy knik net en dink: Dankie tog! Hy sal nie oor die naweek weer kom inmeng nie.

Toe hy eindelik loop, haal sy diep asem voor sy deurloop na haar slaapkamer om te gaan stort.

Emma het haar eie drome waaroor sy met niemand behalwe Ingo praat nie. In die geheim, terwyl sy haar liedjies – lirieke en musiek en al – skryf, droom sy van die dag dat sy self op die verhoog sal staan en haar liedjies sing. Dis net ’n droom, maar dit maak haar alleenure vol. Sy hoop van harte dat Ingo eendag een van haar liedjies op ’n CD sal sing. Dan wil sy daar voor die verhoog wees en sy wil na hom kyk, en hy sal na haar kyk en hulle twee sal weet dat hulle hierdie liedjie met hulle harte deel. En dan sal hulle liefde vir mekaar vir ewig verseël wees.

Maar Ingo dink nie dat sy kan liedjies skryf nie en het dit al in soveel woorde vir haar gesê. Sy waardeer sy eerlikheid, maar dit het seergemaak.

’n Klop aan haar deur laat haar haastig skarrel vir haar kamerjas. Daar is nie tyd vir afdroog nie en sy drafstap om te gaan oopmaak, oortuig daarvan dat dit Ingo is.

Dis egter Paula en Nick wat op haar drumpel staan.

“Ons kom jou haal,” sê Nick. “Ingo is besig, en jy kan doen met ’n bietjie uitkom.”

“Maar ek het werk wat ek vanaand wil doen,” maak Emma beswaar.

“Jy sit elke aand by die huis vir hom en wag en hy is altyd met ander dinge besig,” sê Paula. “Jy kan hom op sy selfoon skakel en sê dat ons by die Jonkers Restaurant is.”

Emma aarsel, maar Paula lyk vasberade. Buitendien is Emma nie regtig daarvoor lus om alleen by die huis te sit en wag tot wie weet hoe laat nie.

“Kom in, ek trek net gou aan,” sê sy en drafstap na haar slaapkamer.

“Wat hou hom vanaand weer besig?” vra Paula.

“Hy en David, sy agent, bespreek sy nuwe CD!” Emma pluk die middernagblou rokkie oor haar kop en soek die regte skoene daarby.

“So, hy gaan dus baie laat wees,” sê Nick.

Emma loer om die deurkosyn na hulle. “Toemaar, ek is gewoond daaraan.”

Paula kom staan in die deur van die slaapkamer. “Hy is altyd besig. Het hy ooit tyd vir jou?”

Emma kom orent van waar sy haar skoen onder die bed uitgekrap het en lag ietwat uitasem. “Ons kry genoeg tyd vir mekaar!”

Sy plak haar voor die spieël neer en begin haar hare orden. Orden is nie die woord nie. Sy verander bloot die voorkoms van die warboel rooibruin krulle op haar kop, vat dit vas met ’n paar blink knippe en dan is sy tevrede.

“Nou goed, ek sal niks verder sê nie.” Paula laat haar alleen en gaan terug na Nick.

Binne ’n paar minute het Emma haar gesig gegrimeer. Sy gooi haar lipstiffie en parfuum in ’n klein handsakkie en dan is sy gereed. Met Ingo het sy geleer om baie vinnig klaar te maak. Hy is nie ’n geduldige man nie.

Toe hulle by die voordeur uitloop, sien sy die opgefrommelde papier nog daar lê waar Roland dit laat val het. Sy buk om dit op te tel, want sy hou nie van ’n gemors nie. Daar is geen asblik naby nie en sy gooi dit in haar aandhandsakkie. Dan trippel sy met die trappies af na waar Paula en Nick by die motor op haar wag.

Jonkers is ’n gesogte restaurant en dis ook baie aangenaam om daar te gaan eet. Die hele plek binne is van klip en hout, met antieke kandelare en lanterns wat lig verskaf. Dit het ’n ouwêreldse sjarme wat baie goed pas by die spyskaart vol opwindende maar tog ouderwetse disse.

Eers toe hulle sit, begin Emma ontspan en sy besef hoe nodig sy hierdie aandjie uit het. Sy weet waar Ingo is en dat hy nie met ander meisies lol nie, dus het sy die reg om ’n bietjie te ontspan.

Maar Paula is blykbaar van plan om haar vredevolle aand so ’n bietjie om te roer. “Hoe seker is jy van Ingo se gevoel vir jou, Emma?” vra sy.

Nick skop haar hard onder die tafel en sy sis: “Eina! Staak dit, Nick! Ek praat met Emma!” Hy frons en swyg.

“Hoeveel keer gaan jy my nog daardie vraag vra?” wil Emma weet. “Ek sal weet as hy my verkul.”

“Jy praat altyd te veel, Paula,” brom Nick. “Soms moet mens stilbly.”

Emma kyk van die een na die ander. Hulle is al langer as ’n jaar getroud, maar dit lyk nie asof die getroude lewe iets aan hulle strydlustigheid verander het nie.

“Moenie jou oor my bekommer nie, Paula,” sê sy eindelik. “Dis nie nodig nie.”

Ná ’n kort stilte lag Paula vrolik en dit verbreek die spanning. Hulle plaas hulle bestellings en begin dan oor alledaagse dinge gesels. Nick kan baie snaaks wees as hy wil en spoedig lag hulle heerlik.

Toe die nagereg voorgesit word, raak hy skielik stil. Emma kyk vraend na hom en volg dan sy blik na ’n groep mense wat pas by die restaurant ingestap het. Ingo, met ’n meisie aan elke sy, staan en wag vir ’n tafel. Sy agent is ook by, asook ’n ouerige man wat sy nie ken nie. Emma se bene voel lam. Kan dit wees dat Paula al die tyd rede gehad het om agterdogtig te wees?

Skielik kyk Ingo op en vas in haar oë. Hy aarsel net ’n oomblik voor hy hom losmaak van die meisies en haastig na haar aangestap kom.

“Hallo, lief!” groet hy en buig oor om haar te soengroet. “Wat maak jy hier?”

Sy sluk hard. “Ek kan jou dieselfde vraag vra, of hoe?”

Hy lag onbesorg. Hy is lank en groot gebou en baie aantreklik. Hy het donker hare wat hy in ’n poniestert in sy nek vasmaak en dit gee hom die voorkoms van ’n kavalier. Met sy sjarme en ontwapenende glimlag steel hy enige vrou se hart.

“Ons het net kom koffie drink, dis al.” Hy kyk na die ander twee. “Hallo, Paula, hi, Nick. Dankie dat julle na my meisie kyk. Ek waardeer dit.”

“Hoekom kom sit julle nie by ons nie?” wil Nick weet.

Ingo kyk om na die ander tafel en dan terug na Nick. “Hulle is nie so gesellig nie en sal net die atmosfeer bederf.” Hy kyk terug na Emma. “Dit was ’n gestoei met die keuse van die liedjies vir die CD.” Hy glimlag en lig haar ken sodat hy in haar grysblou oë kan kyk. “En jou liedjie ‘Somernag’ is een van hulle!”

Haar hart ruk in haar keel. Dan bars die vreugde deur haar agterdog. Sy spring op en gooi haar arms om sy nek. “Jy’s dierbaar! Dankie, Ingo!”

“En nog goeie nuus is dat dit binne ’n maand op die rakke sal wees.”

“So gou?” Sy tree verbaas terug. “Ek het nie geweet dit kan so gou gedoen word nie.”

Hy haal sy skouers op. “Ons het al van die liedjies opgeneem.” Hy gee haar ’n piksoen op die wang. “Ek sien jy is in goeie geselskap. Ek gaan net gou saam met die ander koffie drink en dan gaan ek inkruip. Hierdie sessie het my gedaan gemaak. Ek hoop julle sal my vergewe as ek nou gaan.”

Emma is so oorweldig deur haar vreugde dat sy hom nie eens vra of hy nie tog maar by hulle wil aansluit nie. Met sterre in haar oë gaan sy weer sit. Dan raak sy bewus van Paula en Nick wat alles stilswyend sit en betrag het.

“Is dit nie wonderlik nie?” vra sy.

Paula kyk na Nick. “Jy kan my skop net soveel as jy wil, maar ek gaan nie langer stilbly nie.”

Hy keer haar nie toe sy na Emma draai nie. “Die blondekop by Ingo is Leona, ’n flerrie wat dikwels saam met hom gesien word by partytjies. Dis nou die partytjies waarheen hy jou nie neem nie – die belangrike partytjies. Sy is die dogter van ’n miljoenêr, ’n man wat al baie vir sy loopbaan gedoen het. Die mense wat nie van jou bestaan weet nie, glo dat hulle ’n vaste verhouding het.”

Emma staar na haar vriendin en voel hoe die bloed uit haar gesig dreineer. Tot haar hande voel skielik koud.

“Jy kan nie bedoel wat jy sê nie,” fluister sy hees. ’n Paar tafels van haar af sit die man wat haar hart volkome verower het, die man van wie sy elke dag droom en die een wat haar grensloos gelukkig maak.

Nick leun oor na haar. “Vra hom uit oor die geselligheid oor twee weke … vra hom of jy hom soontoe gaan vergesel. My voorspelling is dat hy gaan maak of hy daarvan vergeet het. Dis ’n leuen. Leona se pa gaan ook daar wees en dus sal Leona aan sy sy wees. Maar ek sal baie graag wil hoor wat sy verskoning gaan wees waarom hy jou nie kan saamneem nie.”

Emma antwoord nie. Sy sien hoe Ingo lag en gesels met die meisie aan sy regterkant en hoe dié aan sy lippe hang. Dit lyk werklik asof hulle mekaar lankal ken, want daar is iets intiems in hulle saamwees. Dan kyk sy weg.

“Ek dink ons moet gaan,” sê Nick en roep die kelner vir die rekening.

“Ek is jammer, Emma,” sê Paula.

Emma kan nie antwoord nie. Sy veg teen die trane wat haar wil-wil oorweldig. Eers toe hulle uitstap in die soel aandlug, laat sy toe dat die trane oor haar wange loop.

“Dis net ’n misverstand,” sê sy aan Paula en haar stem bewe van ontsteltenis.

“As jy so dink, is dit reg so,” antwoord Paula en sit haar arm om haar vriendin se skouers. “Wag tot môre, dan sal jy beter voel. Dalk is jy reg en ek verkeerd.”

Emma klou aan dié woorde soos ’n drenkeling aan ’n strooihalm, want vanaand het sy ’n toekoms voor haar gesien waarvoor sy nie kans sien nie – een sonder Ingo. Sy sal wag tot môre, en dan sal alles weer wees soos wat dit vroeër was.

Toe sy by haar woonstelgebou instap, sit Rommel voor mevrou Jansen se deur. Sy is dadelik omgekrap. Die hondjie blaf dat hoor en sien vergaan en hy hap-hap na haar hakskene. Sy tel hom summier op, maak mevrou Jansen se woonsteldeur oop en sit hom haastig binne, voordat sy die deur toetrek en haar uit die voete maak.

Sy het pas haar eie voordeur toegestoot toe sy mevrou Jansen in die gang af hoor skree: “Niemand raak aan Rommel nie! As ek hom voor die deur wil laat sit, sal hy daar sit!” Die deur klap dawerend toe.

“Vervlakste brak,” brom Emma net.

Sy word die volgende oggend wakker gelui deur haar selfoon. Dis Ingo. Hy is vol berou oor die vorige aand. Hy wil ernstig met haar praat en is op pad na haar woonstel.

“Dis sewe-uur!” maak sy beswaar. “Ek slaap nog!”

“Jy’s wakker, Emma!” lag hy. “Jy praat dan met my.”

“Maggies! Ek is nou klaar!”

Sy lui af en skarrel haastig om aangetrek te kom voor hy by haar voordeur is. Met hom het sy nog nooit kans gekry om rustig klaar te maak nie. Dit gaan altyd teen ’n spoed en dis uitputtend. Hy hou nie daarvan om haar sonder grimering te sien nie, dis dus eerste prioriteit.

Hy hou ook van haar in noupassende, uitlokkende klere. Dis nie iets waarvan sy hou nie, maar sy doen dit ter wille van hom. En hy hou van haar bos golwende roesbruin hare in ’n deurmekaar styl. Dis maklik: sy borsel dit net en maak dit dan weer deurmekaar.

Toe die voordeurklokkie lui, is sy gereed. Sy sien eers die bos bloedrooi rose en toe sy breë glimlag en sy onthou hoekom sy hom so liefhet. Daar is nog altyd iets van ’n seuntjie in hom en sy roem het dit nie van hom weggeneem nie.

“Is jy nog kwaad vir my?” wil hy weet.

“Nie regtig nie.”

Maar sy onthou weer die vorige aand en haar ontstellende gedagtes toe sy die rose by hom neem. Nee, sy is nie kwaad nie, net seergemaak en bekommerd oor hulle verhouding. “Hoekom wil jy sewe-uur op ’n Saterdagoggend met my kom praat?”

Hy volg haar na die kombuisie, waar sy die blomme in ’n vaas sit en die ketel aanskakel vir koffie.

Hy hou haar ’n oomblik styf teen hom vas. “Jy bly maar die een meisie onder almal wat my hart heeltemal verower het.”

Dit bring ’n warmte en tevredenheid in haar hart. So amper het sy gedink dat sy hom verloor het.

“En ek gaan niemand anders daarin toelaat nie,” antwoord sy en kyk op na hom.

Hy lag en hou haar ’n armlengte van hom af weg. “Ons twee gaan nog ’n formidabele span in die musiekwêreld maak.”

Haar hart slaan ’n slag oor. “Dan het jy nou van opinie verander?” vra sy en draai om om die koffie te maak. “Jy dink dat ek liedjies kan skryf?”

“Hulle kort net ’n bietjie poleerwerk.”

Hy neem die koffiebeker by haar en volg haar na die balkon, waar sy teen die reling gaan staan. Hy kom by haar staan.

“Ek sal dit nog onder die knie kry, jy sal sien,” sê sy. “ ‘Somernag’ is net die begin.”

Hy is ’n oomblik stil en dan sê hy versigtig: “Onthou jy die meisie wat gisteraand saam met ons was? Die een met die blonde hare?”

Toe sy net knik, gaan hy voort: “Haar pa het gesê hy sal sorg dat my loopbaan ’n groot sukses is, maar dan moet ek liedjies sing wat sy dogter, Leona, komponeer.”

Sy kyk vinnig na hom, die agterdog weer sterk in haar. “Kan sy liedjies skryf?”

“Wel, nee, sy kan nie, maar ek het gedink dat jy dalk kan help.”

“Dis vermetel van haar om dit van my te verwag.”

Nou is daar meer as net agterdog in haar, daar is weer die seer wat sy die vorige aand ondervind het … Dis ’n seer wat wag op iets ergers.

“Emma, dis net een of twee liedjies, net totdat my loopbaan goed aan die gang is – dis al wat ek vra. Sal jy dit nie asseblief vir my doen nie? Vir ons … vir jou en my en ons toekoms. Daar sal ’n kontrak met jou gesluit word sodat jou regte beskerm word.”

“Ek dag jy sê dat ek nie liedjies kan skryf nie … dat hulle nie gesing kan word nie.”

“Dis nie wat ek bedoel het nie,” skerm hy. “Natuurlik is hulle singbaar. Hulle pas net nie altyd my stem nie. ‘Somernag’ is goed, en ek het dit tog op my nuwe CD ingesluit.”

Sy luister na sy stemtoon en wag om die geringste klank te hoor wat haar sal laat glo dat hy nie eg is in wat hy sê nie, maar hy klink werklik opreg. En sy wíl hom ook baie graag glo.

Dan vra sy: “Sê my, Ingo, gaan jy na belangrike partytjies saam met Leona en dan sê jy vir my dat jy daardie aand werk het om te doen?”

Hy is duidelik onkant gevang en probeer hom daaruit wurm. “Dit het een keer gebeur, ja, ek erken dit. Haar pa wou my ontmoet, en ek kon nie daar opdaag met jou aan my sy terwyl ek wil hê dat hy my loopbaan moet bevorder nie.”

“Ek praat van gereeld na partytjies gaan sonder my.”

Hy lyk duidelik ongemaklik, en skielik weet sy dat Paula die waarheid gepraat het. Dis moeilik om die seer uit haar oë te hou en dus kyk sy na die muur en wens sy kon die horlosie terugdraai – terugdraai na die mooi ure, die gelukkige ure.

“Wie van my of Leona gaan jy oor twee weke saamneem na die groot onthaal waar haar pa ook gaan wees?” Sy probeer hom dwing om haar in die oë te kyk, maar kry dit nie reg nie.

Hy draai sy kop weg en staar na die karre onder in die straat. “Ek dink nie jy sal ooit verstaan nie, Emma.”

Sy kan voel hoe die atmosfeer tussen hulle verkoel, hoe die gesprek vreet aan die mooi wat tussen hulle was.

“Ek verstaan, Ingo, ek verstaan baie goed. Jy het my nodig, maar dis nie om die redes waarop ek gehoop het nie. Jy het die blink lewe nodig.”

“Dis nie waar nie, en ek sal dit aan jou bewys.”

“Hoe?”

“Jy gaan saam met my na daardie onthaal. Leona sal ook daar wees, maar ek gaan met jóú aan my sy daar instap.”

Sy het nie ’n antwoord nie en kan net na hom staar. Eindelik vra sy: “Bedoel jy dit?”

“Ja, ek bedoel dit.”

Toe hy haar ’n rukkie later met sy gewone passie groet, loop sy weer op die wolke en het sy hom alles vergewe.

Roland stuur vir haar ’n selfoonboodskap later die week en sy is sommer weer omgekrap. Het Ingo my pakkie daar gelos? vra hy.

Sy SMS terug: Jy en jou pakkies kan na die maan vlieg!

Sy vee nie die boodskap af soos wat sy gewoonlik doen nie, want sy wil dit vir Ingo wys. Sy wil hom vra om ’n ander aflaaiplek vir Roland se pakkies te kry. En sy wens Rommel wil hom byt.

In die twee weke voor die onthaal werk Emma hard aan twee liedjies wat sy vir ’n kompetisie wil inskryf. Dit het ’n meer outydse swing-klank, maar sy hou daarvan, en sy weet dat dit Ingo se stem uitstekend sal pas. Hierdie keer gaan sy die liedjies nie vir hom wys nie. Sy wil eers kyk of sy die kompetisie kan wen – dan sal hy hulle graag wil sing.

Die meeste van die aande kom Ingo na haar en dan gesels hulle net oor musiekdinge. Toe sy hom vra dat Roland sy pakkies op ’n ander plek moet oplaai, vra hy haar om net nog vir twee weke geduldig te wees, dan sal hy ’n ander plek hê. Sy is tevrede. Roland se onwelkome besoeke sal ten minste binnekort ’n einde kry.

Sy neurie haar een liedjie terwyl sy die kombuisie aan die kant maak. Die woorde kom gemaklik, asof hulle reeds ingeryg vir haar lê en wag het: Daar is vreugde op die wieke van die lentewind wat waai, soos die lag van blye stemme …

Dit bring ’n huppel in haar hart en ’n glimlag na haar mond, en sy weet daar is niks wat sy meer intens liefhet as die skep van musiek nie. As sy haar oë toemaak, kan sy haar verbeel dat sy in ’n blommeveld is, met die son wat skitter op die helder water van ’n meer. Sy sien die wolke in die hemel en sy hoor die son se lag en dan kom die klanke uit die natuur asof hulle net op haar gewag het.

Toe sy die oggend van die groot onthaal opstaan, weet sy dat die dag vir haar ’n teleurstelling gaan wees. Haar keel is seer en haar oë brand en sy voel eenvoudig ellendig. Teen twaalfuur die middag het die griep behoorlik vat gekry. Elke soort pil probeer sy, maar sy voel net al slegter.

Haar pragtige middernagblou aandrok hang teen die kasdeur. Haar silwer sandale staan nog in die kartondoos soos toe sy hulle gekoop het vir die geleentheid.

Paula kom tydens haar etensuur kuier. Sy bly sprakeloos na Emma staar waar dié met rooi oë en ’n dik gesig op haar bed in haar kamerjas lê.

“Ek glo dit nie!” sê Paula.

“Die duiwel is listiger as jy en ek …”

“Ek sal vyfuur terug wees, dan kyk ons hoe dit gaan. Goed so?” vra Paula.

Emma knik net en sak weer terug teen die kussing. Soos sy nou voel, sit sy nie ’n voet uit haar woonstel vanaand nie. Dan raak sy weer aan die slaap.

Die telefoon lui haar ’n rukkie later wakker. Dis haar pa en sy is bly om van hom te hoor.

“Wanneer kom Pappa weer Suid-Afrika toe?”

“Ons is amper klaar met hierdie projek, meisiekind. Ek sien jou oor ’n paar weke.”

“Die ses maande was te lank, Pappa.” Sy snuif en vee haar neus met ’n sneesdoekie af. “Ek verlang verskriklik. Dis so alleen hier.”

“Maar jy het mos vir Ingo.” Hy lag sag. “Wanneer hoor ons die huweliksklokkies lui?”

Sy aarsel. “Ek weet nie …”

“Emma, het jy verkoue of huil jy?”

“Ek het griep.”

“Ounooi, ek is so jammer dat ek nie daar is vir jou nie. My volgende projek is in Suid-Afrika en dan kom bly jy by my. Ek wil toesien dat dit goed met jou gaan.”

Sy voel al klaar beter. “Dankie.”

“Dit maak nie saak wat Ingo doen nie, daar is ’n goeie en mooi pad vir jou vorentoe … Ek belowe jou dit.”

“Ek is lief vir Pappa.”

“En ek vir jou. Byt vas, oor ’n maand is ek daar.”

Toe hy aflui, voel sy nie meer heeltemal so siek nie. Maar dit maak geen permanente verskil aan haar toestand nie.

Om vyfuur kom loer Paula in, maar dis duidelik dat Emma nie na die onthaal sal kan gaan nie.

Paula is skaars weg of Ingo maak sy opwagting. Hy klink opreg besorg oor Emma.

“Ek kom vanaand terug so gou ek kan. Ek belowe.”

Sy kyk net na hom en soek in sy oë na iets om haar agterdogtig te maak, maar daar is niks. Tog waardeer sy sy besorgdheid.

Hy gee haar hand ’n drukkie. “Ek sal jou alles kom vertel, Emma, ek belowe.”

Toe hy weg is, raak sy aan die slaap, verlos van die angstigheid om te probeer om van die griep ontslae te raak. Nou kan sy net rus, en dis al wat sy op die oomblik wil hê.

Sy skrik wakker toe iemand aan haar woonsteldeur klop. Die pille het hulle werk gedoen en sy voel ’n bietjie beter, maar dis al ná nege – beslis nie die regte tyd om nou agter Ingo aan te gaan nie.

Tot haar verbasing staan Paula voor die deur. “Gaan trek vir jou aan, Emma. Jy moet saam met ons kom.”

“Ek is siek …” protesteer sy.

“Maak net gou, jong! Dis belangrik!”

Al voel sy beter, is Emma nie lus om uit te gaan nie, maar uit ondervinding weet sy dat Paula nie sal bes gee nie. Dus stem sy teësinnig in.

“Trek vir jou net so mooi aan as wat jy kan,” sê Paula en dam die hangkas by.

“Wat is dit met jou?” wil Emma weet terwyl Paula deur haar hangkas woel. “Ek kan nie uitgaan nie. Ek is nog siek, of verstaan jy dit nie?”

Paula pluk ’n wit aandrok uit. “Ditsem! Trek hierdie een aan, en maak gou!”

Emma doen soos Paula sê, maar sy voel steeds nie lekker nie.

“Grimeer vinnig!” sê Paula toe Emma haar handsakkie optel.

Met ’n diep sug gaan Emma terug spieël toe. “Jy beter ’n baie goeie verskoning hiervoor hê,” sê sy.

Eindelik is sy gereed en volg Paula na buite. Rommel storm op haar af en njaff-njaff! om haar enkels.

“Siejy!” sis Paula vir hom en hy hardloop stert tussen die bene weg.

“Hoe’t jy dit gedoen?” vra Emma verbaas.

“Jy wil nie weet nie. Toe, ons is laat!”

Eers toe hulle voor die gebou stilhou, besef Emma dis die saal waar Ingo vanaand optree. Sy voel steeds sleg van die griep en sy weet dat sy nie op haar beste lyk nie. Die enigste ligpunt is dat sy Ingo teen alle verwagtinge tog gaan sien.

“Het jy vir ons kaartjies?” vra sy.

Paula skud haar kop. “Ons het dit nie nodig nie, ons gaan agter die verhoog wees. As Ingo sy laaste liedjie gesing het, gaan ons saam onthaal toe.”

“Ek het dan gedink –”

“Dis nie vir jou nodig om vanaand te dink nie. Bly net stil en kyk.”

Omdat almal Emma ken as Ingo se meisie, word hulle sonder teëstribbeling agter die verhoog toegelaat. Emma gaan sit op ’n stoel omdat haar bene lam voel en sy luister na Ingo se strelende fluweelstem. Sy kan hom net-net op die verhoog sien en nou voel die griep nie meer so erg nie.

Haar hart slaan ’n slag oor toe hy “Somernag” begin sing. Skielik voel haar binneste te klein vir die stortvloed emosies wat in haar opwel. Elke noot drink sy in, onthou hoe sy aan die liedjie gewerk het, waar sy daaraan verander het tot dit perfek was. En nou hoor sy vir die eerste keer hoe Ingo dit sing en haar hart bons van vreugde.

Die applous is oorweldigend. Die gehoor hou aan met klap en klap, totdat Ingo instem om dit weer te sing.

Emma kan die trane van vreugde nie keer nie. Dis die oomblik waarop sy gewag het: om dit wat sy binne voel só in klank en woord te hoor. Sy voel hoe Paula haar skouer druk en sy gryp haar hand styf vas.

“Dis wonderlik … dankie, Paula!”

Haar vriendin antwoord nie.

Ingo maak sy laaste buiging en kom oor die verhoog na agter geloop. Hy loop aan die ander kant van die gordyn verby en Emma staan op om hom te gaan gelukwens. Toe sy om die sygordyn beweeg, steek sy geskok vas. Hy staan met Leona in sy arms en sý is die een wat hom gelukwens, die een wat hy vurig soen, die een om wie sy arms liefkosend gevou is.

Emma probeer aan iets dink om te sê, maar die woorde wurg net in haar keel. Sy besef dat sy nie werklik vir hom iets beteken het nie. Hy wou net haar liedjies gebruik, maar selfs dít wou hy nooit erken nie.

Skielik kyk hy op, en die skok op sy gesig laat haar nie beter voel nie. Sy voel verraai.

“Emma! Wat maak jy hier?” vra hy en loop agter haar aan toe sy omdraai en wegstap.

Hy haal haar aan die onderpunt van die trap in wat na buite lei. “Ek dag jy is siek!”

Sy kyk om. “Ek is, maar ek het gekom. En ek het gehoor hoe jy ‘Somernag’ sing en ek kan nie vir jou beskryf hoe wonderlik dit my laat voel het nie … Maar jy was al die tyd besig met ander dinge. Jy het my net gebruik.”

“Kom nou, meisiekind, dit beteken regtig niks!”

“En as jy die dag aan haar verloof raak dan beteken dit ook niks? En as julle trou, dan is dit ook niks? En kinders kry? Waar laat dit my? As jou ewige beminde wat nooit iets anders sal wees nie en altyd tweede viool sal speel?”

“Jou verbeelding hol nou met jou weg, Emma.”

“Nie meer nie, Ingo, nie meer nie. Jy het nie meer ’n plek in my verbeelding óf in my lewe nie. Geluk met jou optrede vanaand en met die reaksie wat jy gekry het – dis al wat jy ooit van my sal kry, niks meer nie.”

“Jou liedjies gaan lê en stof vergaar.”

“Dis my saak. Ek sal nooit weer vir jou een skryf nie. Totsiens, Ingo.”

Hy probeer haar nie keer toe sy uitstap na die motor waar Paula vir haar staan en wag nie. Sy kyk ook nie om nie. Haar lewe sonder die man wat sy so intens liefhet, het vanaand begin.

Melktert en kaviaar

Подняться наверх