Читать книгу Melktert en kaviaar - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Lank nadat Paula weg is, lê Emma nog en huil. Al haar drome lê aan skerwe, en daar is niks wat sy kan doen om hulle weer te las nie. “Somernag”, glo sy, sal die enigste liedjie van haar wees wat ooit op ’n CD sal kom. En die gedagte aan iemand anders in Ingo se arms maak haar nog sieker en nog ongelukkiger.

Maar miskien is alles nog nie verlore nie, dink sy deur die trane. Ingo sal haar mis en dan sal hy terugkom. Sy sal haar voorwaardes aan hom stel en alles sal weer wees soos dit vroeër was. Al wat sy moet doen, is om geduldig te wees en te wag. Eendag sal hy net opdaag en hy sal ’n bos blomme vir haar bring soos wat hy altyd doen as hulle stry gekry het.

Sy mis hom. Sy glimlag het altyd alle hartseer weggetoor. Sy mis hom verskriklik …

Paula kom die volgende oggend tienuur om te hoor hoe dit met haar gaan. Sy kry Emma in haar slaapklere op die sitkamerbank met ’n beker koffie in haar hand.

“Hoe voel jy vandag?”

“Hoe dink jy? As ’n mens alles verloor het wat betekenis aan jou lewe gegee het, voel jy nie baie vrolik nie.”

“En wat het jy verloor?” vra Paula en gaan skink vir haar ’n koppie koffie in. Dan kom sy terug en gaan sit op die sitkamertafeltjie. “Jy het ’n man verloor wat jou lankal agter jou rug met daardie merrie verneuk. En hy is nie die enigste pad na ’n toekoms in musiek nie. Noudat daardie deur toe is, sal jy sien hoeveel ander gaan vir jou oop. ‘Somernag’ is op sy nuwe CD en dis ’n treffer – jy het gisteraand gesien hoe die gehoor gereageer het. Mense sal vir jou liedjies begin vra.”

Die optimisme en die lig beur en worstel na die oppervlak van Emma se gemoed. “Dink jy so?”

“Ek weet so. Kyk of jy verlof kan kry by jou werk, dan kom jy saam met my en Nick na ’n wildplaas in die Bosveld. Ons gaan Maandag oor twee weke daarheen vir ’n paar dae vakansie.”

“Ek wil nie nou weggaan nie. Wat as hy terugkom en … en alles weer wil regmaak?”

“Sal jy hom terugvat?”

Emma kyk radeloos na haar. “Wat dink jy? Hy was my léwe, Paula. Ek sal hom vir altyd liefhê, want daar is nie nog een soos hy nie. Ek glo dat die band wat ons aan mekaar bind, sterk genoeg is om ons weer by mekaar uit te bring.”

“Ai, Emma …”

“Moenie my probeer ompraat nie …” Sy begin weer huil. “Ons hoort bymekaar soos … soos pap en melk.”

Paula bars uit van die lag en Emma lag halfhartig saam, ten spyte van hoe sy werklik voel. Ingo was haar trouman, hy sou die pa van haar kinders wees, hy was haar afgod, haar hele bestaan. En in een oomblik is alles verpletter. Haar mooiste drome het murasies geword.

“Gee kans,” sê Paula. “Oor ’n week kan jy weer helder dink. Nou is daar nog te veel trane en dit verwring alles. Gee net kans.”

“Ek wil nie, ek wil Ingo terughê,” huil Emma.

Paula sit haar arm om haar vriendin se skouers en steur haar nie aan die griep nie. Hierdie is groter sake as twee dae in die bed. Hierdie is ’n geval van ’n gebroke hart, en daar is nie medisyne wat dit kan gesond maak nie.

“Thula, alles sal regkom …”

Emma onthou ’n ander keer toe sy so hartverskeurend gehuil het. Sy was maar net tien jaar oud en haar pa het vir haar kom sê dat haar ma hemel toe is. Daar het toe ’n verlatenheid oor haar gekom wat sy vir niemand kon beskryf nie. Op die oomblik toe sy haar ma die heel nodigste gehad het, was sy nie meer daar nie.

Vroegmiddag bel Emma haar pa en vertel hom alles wat gebeur het en hoe sy voel en ook dat sy nie meer wil lewe nie. Sy snik omdat sy alleen is en niemand het wat vir haar vastigheid kan gee nie. Die een mens wat dit vir haar kon gee, het haar in die rug gesteek.

“Huil dit alles uit jou gestel, ounooi,” sê hy, en sy sagte stemtoon laat haar verlang na die tyd toe sy nog klein was en sy teen sy breë bors kon nestel en veilig voel. “As jy my nodig het, is ek altyd daar vir jou. Ek is net spyt dat ek nie nou by jou kan wees nie.”

“Ek probeer, maar die hartseer oor Mamma wil nie weggaan nie. En nou is ek en Ingo uitmekaar en is ek alleen. Hoekom is Pappa nie hier nie?”

“Ek kom tog een van die dae terug.”

“Pla ek Pappa?” snik sy.

“Die vergadering kan maar sit en wag en tande tel. Op hierdie oomblik is jy die belangrikste.”

Sy skrik; sy het nie geweet dat sy hom in ’n vergadering steur nie. Maar die feit dat hy nou tyd aan haar afstaan, beteken vir haar geweldig baie. Op ’n manier is hy nou hier by haar.

“Dankie, Pappa. Ek sal weer bel as ek beter voel.”

“Doen so, kindjie, doen so.”

Toe sy aflui, skep sy weer moed. Alles is nog nie verlore nie, want daar is nog geen verloofring of trouring vir Leona nie. Sy moet net vashou aan haar geloof dat alles ten beste sal uitwerk.

’n Rukkie later bel Roland om te hoor waar Ingo se pakkie is. Dis so goed soos ’n by wat Emma steek.

“Ingo het geen pakkie hier gelos nie! En hy sal ook nooit weer ’n pakkie hier los nie! Jy en jou ewige pakkies kan nou na die duiwel vlieg!”

“Wow! Wat het oor jóú lewer geloop?”

Sy byt op haar tande. “Ek wil niks meer met jou uit te waai hê nie. En moenie weer hierheen bel nie!”

“Het jy en Ingo ’n uitval gehad?”

“Dit het niks met jou te doen nie! Bly net hier weg, of ek sit die hond op jou!”

Hy lag. “Jy bedoel daardie keffertjie van die ou tannie? Ag nee, jy speel.”

“Kry dan vir jou enige goeie rede om hier weg te bly!”

“Ek het nie een nie,” grinnik hy.

“Totsiens!”

Sy plak die telefoon neer, só kwaad dat sy vir die oomblik heeltemal van haar hartseer vergeet het. “Ongemanierde, eiesinnige, verwaande, eiegeregtige skepsel!” Sy sluk haar grieppille met ’n bietjie water af. “Hy moet nooit, nooit in der ewigheid weer hierheen kom nie! Ek hou nie van hom nie!”

Dan onthou sy weer hoe mooi Ingo “Somernag” gesing het en haar woede verdamp soos mis voor die son. Haar onderlip begin bewe en haar oë swem in die trane. En sy weet dat die seer en die verlang nog vir lank baie erg gaan wees.

Sy gaan sit by die tafel en kyk of daar nie dalk ’n boodskap van Ingo was nie. Hy het nie gebel nie.

“Hy het my klaar vergeet,” sê sy hardop en begin weer huil. Tussenin lees sy die SMS’e op haar foon en vererg haar toe sy weer een van Roland kry waar hy neul oor die pakkie wat hy nie gekry het nie.

Maandagoggend breek eindelik aan en Emma besef dat sy nie meer siek genoeg is om by die huis te bly nie. Dit was ’n onstuimige naweek en sy weet dat almal by die werk sal kan sien hoe dit met haar gesteld is.

Hulle sal lastige vrae vra en party sal heimlik lekkerkry dat sy nie meer met die wonderlike Ingo uitgaan nie. Dít is die storm en skrik wat sy nou by die werk in die gesig moet gaan staar.

En die skindertonge is met mening los.

“Ons hoor jy en Ingo het uitgemaak. Is dit so?”

“Het hy jou verkul?”

“Jy is seker devastated.”

“Hy het jou glo afgesê.”

“Hoe voel dit, hè?”

“Jis, jy het ’n grênd ou deur jou vingers laat glip.”

“Ek sal al my ou skoene agterna gooi vir ’n ou soos Ingo!”

Emma luister na al die praatjies en praat niks en hulle gis en gons tot die baas hulle kom stilmaak. Hoe het hulle uitgevind? wonder sy.

Sy kruip al dieper in haar dop en probeer hulle nie eens reghelp nie. As sy iets gaan probeer sê, gaan sy weer begin huil en sy wil nie. Dus drink sy maar net haar hande vol vitamienpille om die griep te help genees en sy dink baie.

’n Paar keer deur die dag oorweeg sy dit om Ingo te bel, maar sy is saam met drie ander in een kantoor en as sy sou bel, sal sy nooit die einde daarvan hoor nie. Al wat sy kan doen, is om te bly hoop en bid dat hy haar tog sal kontak.

Maar hy bel nie.

Teen huistoegaantyd besef sy dat Ingo nooit weer gaan bel nie. Sy het hom Saterdagaand weggestuur – sy het dit self gedoen. Hy het immers nog sy selfrespek.

Sy weet nou dat hy nooit so lief vir haar was as sy vir hom nie. Dís waarom hy Leona sonder gewetenswroeging kon gaan opsoek.

Om oor die teleurstelling en hartseer te probeer kom, werk Emma aan haar liedjies. Sy begin soek na iemand wat bereid sal wees om hulle te sing … of net te probeer. Die stilte in haar woonstel is senutergend, dit druk teen haar, dit sypel deur na haar gemoed wat reeds swaar dra aan hartseer. Uiteindelik vloei dit uit deur haar gedagtes en musiek.

En die telefoon is so stil asof die drade geknip is. Niemand dink aan haar en haar hartseer nie. Almal gaan hulle eie, gelukkige gang, onbewus van haar behoefte om net met iemand te praat.

Rommel snuif en tjank by die deur en sy staan haastig op, bly om ’n ander lewende ding se geluid te hoor. Sy maak die deur oop.

“Los jy vir Rommeltjie uit!” klap mevrou Jansen se stem deur die stilte. “Ek sien vir jou! Jy hou nie van my Rommeltjie nie!”

“Hy het my al ’n paar keer gebyt,” maak Emma beswaar. “Hy behoort nie so in die gang rond te loop nie.”

“Jy is ’n bogsnuiter en ek hoef nie na jou te luister nie, juffroutjie!” Mevrou Jansen gluur Emma aan met staalgrys oë wat goed gesmeer is met blou oogskadu en maskara. “Los jy net my Rommeltjie uit! Kom Ma se ou skattie,” koer sy in die rigting van die knorrende brak.

Dan draai sy om en die hondjie volg haar, al happende na haar hakskene – en Emma sien die groot gate en lere in die ou tannie se kouse waar die hond haar al met die tande bygekom het. Sy sien ook die twee pleisters net bokant mevrou Jansen se skoene en sy glimlag en wonder of die vrou ooit die foute in haar hondjie sien. Liefde is blind vir foute, dink sy – soos sy pynlik moes uitvind.

“Ek sien jou loop in die park … met die lelikste hond aan jou sy … maar vir jou is hy jou beste vriend …” begin ’n liedjie in haar gedagtes vorm aanneem.

Sy skryf oor ’n ou man, eensaam op sy pad, met net die lelike ou hond wie se hare uitval, wie se spoeg oral drup, wat die beste lêplek vir hom opeis, wat baklei as hy gebad moet word, wat snags vir die maan sit en tjank, maar wat die ou man tog gelukkig maak. En sy skryf van die dae wat verbygaan en die hond se laaste dae, hoe die ou man pleit en soebat dat die hond by hom moet bly. Maar die hond gaan dood en die ou man loop alleen en hy verlang na sy lelike, lelike hond …

Sy noem die liedjie “Ek mis jou” en speel dit op die klawerbord. Sy huil hartlik saam met die woorde en raak so sentimenteel dat sy vies is vir haarself. ’n Halwe boks snesies verdwyn in die proses.

Sy wil Ingo bel, sy wil weer sy stem hoor, maar toe sy met die gehoorstuk in haar hand staan, onthou sy hoe sy gevoel het toe sy hom die laaste keer gesien het. As hy nou met haar praat en sy stem is koud en afsydig, gaan dit die wonde weer oopkrap. Stadig sit sy die gehoorbuis neer en trek die snesies weer nader.

Daar is steeds geen boodskap van hom op haar selfoon nie.

Sy probeer nog ’n liedjie skryf, maar dit gaan oor die dood en die groot verlange, en sy skeur dit op.

“Ek sal nooit weer liedjies kan skryf nie,” sê sy hardop vir haarself. “My inspirasie het my gelos en met ander meisies gaan rondflerrie. My inspirasie is ’n vark!”

Sy huil haar aan die slaap.

Paula en Nick is baie opgewonde oor hulle vakansie in die bosveld. Nick het vir hom ’n nuwe digitale kamera gekoop en hy kan nie wag om dit daar in die ongerepte natuur uit te toets nie. Paula is dol daaroor om veral voëls dop te hou, en sy maak graag sketse van hulle vir haar plakboek.

Emma luister na hulle gebabbel, maar sy praat nie saam nie, want sy het niks om oor te babbel nie. Sy het net iets om oor te huil en niemand gaan saam met haar wil huil nie.

“Jy moet saamkom,” sê Nick vir Emma. “Daar is ’n swembad by die huis waarin ons kan afkoel, en jy kan ver ente gaan stap. Jy kan jou klawerbord saamneem en liedjies daar skryf. Dis dalk net die inspirasie wat jy nodig het.”

“Dis baie gaaf van jou, Nick …”

“Jy sal van Xander hou,” sê Paula. “Hy is ’n bietjie befoeterd, maar hy’s eintlik ’n oulike ou. Hy sal nie omgee om jou te help in die musiekwêreld nie – hy is daardie soort ou. Net jammer vroumense is nie op die oomblik op sy spyskaart nie.”

“Dankie, dit pas my uitstekend. Mans is … varke.”

Nick lag. “Vrouens is nie veel beter nie.”

“Stop dit!” Paula gluur hom aan. “Jy weet ook net wanneer om die verkeerde ding te sê.”

Emma se selfoon lui en sy antwoord dit. Dis Roland en sy is dadelik kwaad.

“Kyk, vlieg in jou glorie!” sê sy hard. “Ek wil jou nooit weer sien nie, en jy kom ook nie weer na my woonstel nie!”

“Jis, jy is omgeëllie! Ek soek net my pakkie, dis al,” kap hy terug.

“Nie by my nie! Jy kom soek niks by my nie!”

“Ingo het gesê hy sal dit vanaand by jou los en ek kom dit haal!”

“Ons sal sien!” Sy lui summier af.

Toe sy opkyk, sien sy hoe haar twee vriende na haar staar. “Wat?” vra sy.

“So giftig soos ’n geelslang! Nou het jy hom ’n duidelike boodskap gegee!” Nick is duidelik in sy skik.

“Dit was Roland, sy vriend.”

Hulle gesigte val. “O,” sê Niek.

“Sal julle omgee as ek vanaand by julle oorslaap? Hierdie Roland kry net nie die boodskap nie.”

“Natuurlik, Emma,” sê Paula.

Emma probeer om nie die teleurstelling en seer in haar hart te wys nie. Soms voel dit vir haar asof sy wil versmoor daarvan. Dan gaan stap sy maar ’n ent en baklei die dinge in haar binneste uit. Dit raak net al moeiliker om dit te doen.

“Dankie,” sê sy toe sy haar stem onder beheer het.

Later gaan haal sy haar klere by die woonstel. So in die verbygaan sien sy ’n advertensie op die TV van Ingo se nuwe CD. Sy skok in haar spore tot stilstand toe sy ’n greep uit haar liedjie herken. Hy staan en sing op die wal van ’n meer, met die maan in die agtergrond op die water. ’n Roeibootjie lê en wieg op die kabbelende water en iewers hoor ’n mens die geraas van ’n waterhoender.

Die toneel is preses soos sy haar dit voorgestel het en sy besef dat Ingo alles wat sy vir hom oor die liedjie gesê het in die video gebruik het. Dit maak baie seerder as wat sy ooit kon vermoed.

Volgens die advertensie word die CD die volgende dag vrygestel. Is dit al só lank sedert sy en Ingo uitmekaar is? Sy kan en wil dit nie glo nie. Hoe meer tyd verbygaan, hoe sekerder is sy dat dit heeltemal, onherroeplik finaal is. Hy sal nie na haar terugkom nie. En toe huil sy vir oulaas lang krokodiltrane. Sy huil tot al die seer weg is en daar niks meer oor is nie.

Toe sy teruggaan, sê sy vir Paula dat sy saam met hulle na die wildplaas in die bosveld sal gaan. Wat maak dit eintlik saak waar sy haar bevind? Sy sal altyd alleen wees, daarvan is sy oortuig.

In haar etensuur die volgende dag gaan koop sy die CD. Sy het reeds al Ingo se ander liedjies, maar hierdie een is spesiaal en sy moet dit eenvoudig hê.

Sy lees angstig die lys titels, maar “Somernag” is nie daarop nie. Dis vreemd, dink sy, ek het dit dan op die TV gehoor en gesien. Hoekom is dit nie op die lys nie?

Toe sy ná werk by haar woonstel aankom, sit sy die CD heel eerste op en maak vir haar koffie terwyl dit speel. Sy ruk van skok toe “Somernag” begin speel. Sy was nie verkeerd nie!

Dis die derde snit wat speel. Op die CD word dit aangegee as “As ons twee bymekaar is” en die skrywer daarvan is Leona Walden, die meisie wat Ingo bo haar verkies het!

Emma se bene voel lam en die bloed dreineer uit haar gesig. Dis ondenkbaar dat hy so iets gedoen het! Hoe kan hy haar liedjie onder ’n ander titel op sy CD sing, en dan nog selfs daardie vroumens se naam gebruik!

Sy stik van skok en gryp haastig na ’n glas water. Haar eerste gedagte is dat Ingo ’n sleutel vir haar woonstel het en dat hy enige tyd kan inkom om haar liedjies te vat. As hy “Somernag” se titel kon verander en iemand anders as die skrywer kon aangee, kan hy ook inkom en haar ander liedjies kom haal, al is hulle halfklaar.

Sy draai om en hardloop na haar kas waar sy dit bêre. Die lêer waarin sy dit gehou het, is weg!

“Nee!”

Sy gaan sit ontsteld op die rand van die bed. Verward probeer sy onthou wat sy geskryf het. Dis veral die een van die ou man met sy hond waaroor sy omgekrap is. Dit was ’n goeie een en sy kon met ’n bietjie werk daaraan iets daarvan gemaak het. Nou is dit weg! En sy het geen bewys dat dit haar werk is nie.

Haar telefoon lui en dis weer Roland oor ’n pakkie van Ingo.

“Ek het hom meer as twee weke laas gesien,” sê sy kortaf. “Dit help nie jy bel hierheen nie. Ek het niks vir jou nie.”

Dan val haar blik op die pakkie onder die venster. Ingo het dit waarskynlik daar ingegooi en gehoop sy sal dit raaksien.

“Ek staan hier onder voor die ingang, ou girl. Ek soek net daardie pakkie. Ingo het gesê dis hier en hy sal nie vir my lieg nie.”

Sy byt op haar tande. “Nou kom kyk dan self!”

Sy lui af, tel die pakkie op en loop na die kombuisvenster. Sy klim half op die wasbak om behoorlik by te kom. Dan slinger sy dit so ver as wat sy kan na buite.

“Hy vat my liedjies! Hy verneuk my! Hy maak van my woonstel ’n afpakplek! Ek sal hom wys! Hy kan sy pakkies onder in die straat loop optel!”

Daar is ’n konsternasie in die gang buite haar deur. Rommel grom, en sy weet dat Roland gebyt word toe dié al swetsend en skellend teen haar deur stamp. Laat Rommel na hartelus byt, dink sy wrewelrig.

“Skoert, jou leeglêer! Trap hier uit!” Dis mevrou Jansen se stem. “Byt hom, Rommeltjie! Byt hom!”

Toe daar ander stemme bykom om Rommel te help stilmaak, maak Emma die deur vir Roland oop. Ewe onskuldig staan sy eenkant toe dat hy kan inkom.

“Vir wat laat jy my buite staan met daardie klein monster?” wil hy woedend weet.

Sy stap na die kombuis, met hom agterna. Dan stoot sy die venster oop en beduie na buite. “Jou pakkie lê daar onder in die straat. Jy kan dit daar gaan haal.”

Hy snak na sy asem. “Ingo sal hiervan hoor! Hy sal jou op jou plek kom sit!”

Hy storm by die voordeur uit, verby die wagtende hondjie, wat hom weereens aan die hakskeen beetkry.

“Los my, jou klein rot!” skreeu hy. Hy rammel ’n reeks vervloekinge af so ver as wat hy met die trap ondertoe hardloop, met die brak al grommende en bytende aan sy hakskene.

“Mooi so!” sê mevrou Jansen en gee Rommel ’n stukkie biltong toe hy terugkom.

Emma maak haar woonsteldeur saggies toe en glimlag. Sy voel al klaar stukke beter. Dan klouter sy op haar opwasbak om te sien wat buite aangaan. Die pakkie lê nog daar tussen die asblikke. Dit het oopgebars en die inhoud het tussen die rommel ingeval, maar sy kan nie sien wat dit is nie. Van Roland is daar egter geen spoor nie.

Dis vreemd, dink sy. Wou hy dan nie die pakkie dringend gehad het nie?

Op pad werk toe die volgende oggend trek sy geld by die OTM naby haar werkplek. Terwyl sy aanstap, bekyk sy die strokie en sluk amper haar tong in. Dit kan nie wees nie! Daar is net ’n duisend rand in haar rekening en dis nie eens genoeg om haar woonstelhuur te betaal nie. Daar moet ’n fout wees.

Sy loop weer die ent pad terug na die OTM en trek ’n meer volledige staat. Haar oë rek toe sy die bedrae sien wat die afgelope drie dae uit haar rekening onttrek is. Haar hande bewe van skok en ontsteltenis toe sy die stukkie papier in haar handsak druk en aanstap werk toe.

In haar etensuur gaan sy bank toe om uit te vind waar haar maand se salaris heen verdwyn het.

“’n Mens moet versigtig wees vir diefstal,” sê die vrou by navrae terwyl sy op die rekenaar kyk of sy inligting kan kry oor die onttrekkings. “Die diewe raak net al slimmer. Hier is nie ’n fout nie. Dis by ons hooftak in die middestad getrek.”

Sy kyk na Emma. “Miskien moet jy liewer jou pin-nommer verander.”

“Nou goed, as dit net die dief sal keer.”

Nog steeds ’n bietjie verdwaas oor die verdwyning van haar salaris stap sy ingedagte by die bank uit na die kafeetjie aan die oorkant van die straat. Daar is nog tyd vir ’n koppie sterk koffie voordat sy weer by die werk moet wees.

Sy steek in die deur van die kafeetjie vas. In die agterste hoek sit Nick saam met ’n vreemde meisie – ’n mooie, een met kuiltjies in haar wange en die mooiste wit tande as sy glimlag. Dis nie sy familie nie, dink sy ontsteld, want ’n man is nie so intiem met ’n familielid nie.

Sy onthou hoe seer dit haar gemaak het toe sy Ingo saam met ’n ander meisie gesien het. Paula sal nooit, ooit ’n woord hiervan by haar hoor nie, besluit sy.

Dit maak nie saak hoe oulik ’n man is nie, ek sal nooit weer een vertrou nie, dink sy wrewelrig toe sy omdraai en uitstap. As jy jou rug draai, sing hy mooi liedjies vir ’n ander meisie of hy fluister mooi woordjies oor ’n koppie koffie in ’n knus kafeetjie.

Wat noem ’n mens ’n man wat ’n flerrie is? Haar treë rek al langer soos wat haar woede haar voete woema gee. Kapaters! Dís wat hulle is! Bokke wat nie die vroulike geslag met rus kan laat nie!

In die laatmiddagverkeer koek haar gedagtes in wraakgierige frustrasie. Oor elke man wat sy agter ’n stuurwiel sien sit, wonder sy of hy ook sy meisie of sy vrou verneuk. En as hy vriendelik vir haar plek maak sodat sy voor hom in die baan kan inkom, byt sy op haar tande en wonder of sy meisie weet dat hy so vriendelik is.

Eintlik, besef sy, is sy nou heeltemal kinderagtig, maar dis amper naweek en sy het seergekry en sy het die reg om kinderagtig te wees. Op hierdie oomblik is dit lekker.

By die woonstel parkeer sy die motor en loop haar in die gang vas in Rommel.

“Jy is ook ’n man, jou klein pes,” sê sy vir die hondjie. Hy knor. “As jy my byt, gooi ek jou in die asblik!”

Hy bly staan, sy kop half skeef gehou asof hy wonder wat presies sy daarmee bedoel. Njaff! antwoord hy haar.

“Ja, ja! Joune ook! Net in Duits!”

Sy maak haar woonsteldeur oop. Die halfskemer maak haar sommer dadelik mismoedig. Daar is iets aan ’n halfdonker, stil woonstel wat alles vaal en vreeslik laat voel. Dis so ongebruik, soos ’n nuwe kers wat nog nie opgesteek is nie. Dis koud, onpersoonlik en troosteloos.

Toe haar selfoon onverwags lui, wip sy van skrik. Sy laat dit op die mat val voordat sy dit kan antwoord. Dis Ingo en hy is kwaad.

“Waar is die pakkie wat Roland by jou moes optel?” brul hy.

“Ek het dit by die agterste venster uitgegooi tot tussen die vullisdromme. Ek dink dit het oopgebars.”

Daar is ’n lang ruk stilte en dan sê hy: “Jy het mal geword. Weet jy hoe belangrik daardie pakkie was?”

Wel, dink sy, ek wil nie huil nie en ek wil ook nie vanaand met jou uitgaan nie. Dit beteken dat ek nie meer smoorverlief is op jou nie. Hierdie rondte het ek gewen.

“As die pakkie vir jou regtig belangrik was, sou jy lankal ’n ander plek gekry het waar Roland dit kan optel,” sê sy koeltjies.

“Emma …” Hy probeer hard om sy stem kalm te hou. “Maggies, man, ons het tog so afgespreek. Jy het gesê jy sal dit vir my doen.”

“Nie meer nie!”

“Jy is ’n verbrande rissiepit! Niemand kan dit met jou uithou nie!”

Dit maak seer. “En geen meisie hou van ’n man wat haar verneuk nie.”

Sy kan amper hoor hoe hy aan die ander kant ontplof. Sy kan haar voorstel hoe sy oë blits. Sy mond trek so effens skeef as hy regtig kwaad word. O, en hy kners op sy tande as hy praat, dan gaan sy bolyf so op en af soos wat hy probeer om hom te beheer. Sy wonder wat sal gebeur as hy dit nie regkry om hom te beheer nie.

“Jy’s ’n pyn! Vir wat het jy oorlog teen my verklaar?” skel hy oor die foon.

“Oor my liedjie wat jy en jou merrie gesteel het. Oor Roland wat my lastig val oor jou pakkies. Oor jy my met ’n ander meisie verneuk het! En oor my geld wat weg is!”

“Ek was heeltemal bereid om ’n uitweg te probeer vind, want ek het regtig vir jou omgegee! Maar vir wat het jy jou rekening gaan staan en verander? Was dit nou nodig?”

Sy word yskoud. “So, dan ís dit jy wat my geld gesteel het!”

“Waarvan praat jy? Jy weet baie goed dat ons albei die rekening gebruik het!”

“Maar net ék het die afgelope paar maande geld daarin inbetaal! My salaris!”

“Jy weet ek sal jou terugbetaal.”

“Jy het dit nog nooit gedoen nie! Ek wil my geld môre in my bankrekening hê, of ek gaan lê ’n klag van diefstal!”

“Emma …”

“Ek moet my woonstel betaal en my motor het twee bande nodig. Ek kan nie jou eskapades finansier nie. Sorg dat my geld terugkom in my rekening.”

“Jy bedoel dit nie …”

“Ek bedoel elke woord wat ek sê.”

Daar is ’n paar sekondes stilte, dan groet hy halfhartig voordat hy aflui.

En sy gaan sit en huil op die rusbank. Sy wil ook nie met elke probleem na haar pa toe hardloop nie; hy sit te ver van haar af om regtig iets te kan doen. En Nick verneuk vir Paula. Sy is seker daarvan dat daar geen eerlike, ordentlike man meer op hierdie aarde is nie.

As jy in die modder lê, staan jy op en maak jou skoon en gaan drink ’n glas wyn … net om beter te voel. Dis wat Emma doen, maar dit help nie. Die ontsteltenis sit nog soos ’n by op haar skouer, trillend van afwagting vir ’n steekplek. Kort-kort foeter haar gedagtes terug na Ingo, en dan dink sy die onbehoorlikste maniere uit om hom te straf.

Haar bui van kwaadwillige wraak hou aan tot die volgende oggend. Daarom trek sy haar modieuse spierwit pakkie aan en kies haar bykomstighede versigtig, soos ’n soldaat sy wapens sou kies om mee oorlog toe te gaan. Vir haar is hierdie oorlog.

Soos sy verwag het, staan Ingo voor die ingang na haar werk en wag op haar. Dit was nog altyd met hierdie aangesig-tot-aangesig-sessies wat hy haar kon oorhaal om te doen wat hy wou hê.

Sy trippel op haar stiletto’s na die trap met net so ’n effense swaai van haar heupe. Dis oorlog, is dit nie?

“Emma?”

Sy steek vas en kyk na hom. “Wat is dit?”

“Ons moet praat.”

“Nee, ons moenie.”

Sy wil aanstap, maar hy keer haar. “Maggies, man, wil jy nie net hoor wat ek wil sê nie?”

“Ek weet wat jy wil sê: Jy is jammer en ons moet nog vriende wees en jy sal my met my liedjies help, ensovoorts ensovoorts. Maar ek wil nie daaroor praat nie, want ek het ander planne. Met jou het ek nooit geweet of dit gaan oor my liedjies, of my salaris, of dat ek so maklik vir jou gunsies gedoen het nie. Nou lyk dit vir my ek was net handig vir jou, dis al.”

“Dis nie waar nie!”

“Ag, los my net! Ek gaan saam met Paula en Nick vakansie hou.”

“Kan ek jou nuwe woonstelsleutel kry? Ek moet die pakkies vir Roland daar laat.”

“Jy het ’n cheek! Nee, jy kan nie. En moet my asseblief nie weer lastig val nie!”

Sy draai om en trippel met die trap op na die ingang. Hy staan haar nog ’n rukkie en agternakyk, voordat hy self ook omdraai en terugstap na sy motor.

Net voordat sy by die ingang in verdwyn, kyk sy terug en sien hom uit die parkeerplek wegtrek. Hier, weet sy, eindig haar pad met Ingo nou finaal. Snaaks hoeveel planne ’n mens maak rondom dinge wat in jou lewe gebeur, en dis glad nie snaaks hoeveel van daardie planne en drome langs die pad sneuwel nie.

Sy gaan vandag saam met Pauline en Nick bosveld toe. Daar is ’n dringende behoefte in haar om kalmte en vrede in haar lewe te kry. Dalk sal die vakansie help.

Sy het ’n behoefte aan beskerming en iemand wat haar waardeer. Waarom is dit dat sy elke keer met mense te doen kry wat die bietjie vrede wat sy het, vernietig?

Melktert en kaviaar

Подняться наверх