Читать книгу Liefde sonder hawe - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Sy skrik wakker van harde stemme in die voorhuis. Haar pa se stem kan sy herken, maar sy weet nie wie die ander man is nie. Sy kan ook nie hoor waaroor die argument gaan nie.

Nuuskierig oor wat aan die gang is, glip sy onder die komberse uit. Op haar kaal voetjies loop sy in die smal gang af, maar halfpad voorhuis toe sluit ’n hand oor haar mond sodat sy nie moet gil nie. Sy het nie eens gesien dat haar ma in die donker hoek van die gang staan voordat sy die hand oor haar mond gevoel het nie.

“Sjjjt …” fluister haar ma.

Die deur na die voorhuis staan op ’n skreef oop.

“Ek wil net loer,” fluister Isabeau. En voor haar ma haar kan keer, staan sy met haar oog teen die skreef en kyk.

Haar pa is nie klein van persoon nie, maar die man saam met hom is nog groter. Hy het ’n ruie bos baard en sy hare hang in slierte om sy kop. Sy gesig is bruin gebrand deur die son en daar is ’n blink litteken skuins oor sy wang. Van sy voortande makeer en hy hink as hy loop.

Sy kyk om na haar ma. “Hy’s lelik,” sê sy op fluistertoon.

“Van binne en van buite, Isabeau,” fluister haar ma terug. “Maar hy is ook baie gevaarlik, daarom mag ons nie nou daar ingaan nie.”

Isabeau kyk weer deur die opening, en dan sien sy die swaard aan die man se sy.

“Ek het nie al die pad hierheen gekom vir verskonings en stories nie, Gaston,” sis hy. “Ek kan nie vir altyd wag nie! Ek wil hê wat my toekom!”

Haar pa deins effens terug toe die man dreigend naderkom.

“Jy weet wat gebeur het,” pleit haar pa. “Ek het niks gekry nie … Ek moes vlug vir my lewe. Hoe kan ek aan jou iets gee as ek niks gekry het nie?”

“Jy lieg … ek kan ruik jy lieg. Jy het die vroumens gehad!”

“Sy het in die geveg verdwyn en ek weet nie wat van haar geword het nie! Kyk hoe leef ek, Lorenzo! As ek geld gehad het, sou ek in hierdie armoede geleef het?”

“Jy steek dit weg.”

“Ek het niks! Ek is ’n arm man!” Gaston klink desperaat. “Pedro het die kis met geld gedra.”

“Pedro is dood!”

Gaston staan met sy rug amper teen die deur waaragter Isabeau is.

“Ek weet nie of hy is nie … Ek moes vlug, en ek kon nie teruggaan om te gaan kyk nie.” Sy gewig druk die deur toe en sy kan nie meer sien wat gebeur nie. “Hulle moes die kis met geld weer by hom gevat het … Ek weet nie. Hy het nooit teruggekom na my nie, en ek het aanvaar dat hy met die geld verdwyn het.”

Isabeau hoor ’n geskuifel van voete, ’n gestamp teen die deur en ’n stoel wat omval. Dan roep haar pa uit: “Wag! Wag!”

“Het jy nog iets te sê?” wil Lorenzo weet.

“Gee my drie maande kans … Ek sal iets vir jou probeer bymekaarkry.”

Daar is ’n paar sekondes stilte en dan bulder Lorenzo: “Jy gaan weer weghardloop! Dis wat jy elke keer doen!”

“Ek sal nie, ek sweer ek sal nie! Ek sal probeer uitvind wat van Pedro en die kis geld geword het.”

Isabeau hoor hoe haar pa na sy asem snak en hoe hy op die vloer neerval. Haar ma se hand druk net betyds oor haar mond toe sy gil.

“Issi, asseblief … Hy sal nou weggaan en dan kan ons gaan kyk wat gebeur het,” fluister haar ma in haar oor.

Sy klou aan haar ma vas en probeer hard om nie te huil nie. In die hele sewe jaar van haar bestaan was sy nog nooit so ontsteld nie. Haar pa is vir haar alles in die lewe. Vir haar ma is sy baie, baie lief, maar as sy haar pa moet verloor, sal sy nie meer ’n anker hê nie.

“Ek sal my geld kry, al is dit die laaste ding wat ek doen! Ek het agt jaar lank daarvoor in die tronk gesit,” skreeu Lorenzo.

Hulle hoor sy swaar voetstappe in die vertrek langsaan. Die buitedeur klap toe.

Isabeau hardloop na die venster om te sien of die aaklige man al weg is. Hy loop hinkend in die pad af. Dis veilig om te gaan kyk hoe dit met haar pa gaan.

Hy het teen die deur geval en sy en haar ma moet al hulle krag inspan om die deur oop te forseer.

“Goddank, hy leef,” sê haar ma toe sy by hom buk.

Hulle sleep hom tot op die bed, en Isabeau se hart slaan ’n slag oor van blydskap toe hy kreun. Daar is nie veel wat sy kan doen om te help nie, en sy bly net op die stoel langs die bed sit en kyk hoe haar ma sukkel om haar pa te laat bykom. Die wond aan sy kop het sy klaar verbind, maar hy kom nie by nie.

Sy moes uiteindelik op die stoel aan die slaap geraak het, want sy skrik wakker van haar ouers se stemme.

“Ek sal vir Isabeau moet sê … Sy móét weet, Lizette.” Haar pa se stem klink angstig.

“Nie nou nie, my man. Jy kan dit môre doen. Sy het die hele tyd langs jou bed gewaak en nou sit sy en slaap. Los dit alles vir môre. Lorenzo sal nie môre terugkom nie.”

Isabeau sit regop en vryf die vaak uit haar oë. “Wat wil Pappa vir my vertel?”

Haar ma lag kopskuddend. “Môre, liefie, jy kan dit alles môre hoor.”

Daarmee moet Isabeau maar vir lief neem, en toelaat dat haar ma haar terug na haar bedjie neem. Reeds op pad droomland toe hoor sy nog vaagweg haar ouers praat, maar sy kan nie meer uitmaak wat hulle sê nie.

Eers toe die son die volgende oggend al hoog in die hemel sit, neem haar pa haar na die agterkant van die huis. Haar ma stap saam met hulle.

Hy kyk eers goed om hulle rond of enigeen hulle dophou, en dan wys hy vir haar sy wegsteekplek onder ’n groot, plat klip teen die huisie. Die grond word eers sorgvuldig uitgekrap en dan haal hy ’n oliekleedjie uit waarin ’n kleinerige voorwerp toegedraai is. Versigtig maak hy dit oop. Op sy hand lê ’n klein kissie, platterig en van hout, met baie mooi inlegsels van ivoor.

“Maak dit oop dat jy kan weet wat dit is, Issi,” sê hy.

Die dekseltjie lig maklik. Sy snak na haar asem toe sy die halssnoer sien. Smaragde van alle groottes is geset in ’n ingewikkelde ontwerp van goud. Daar is ook ’n brief by, maar sy kan nie lees nie.

“Hoekom verkoop Pappa dit nie?” vra sy.

“Omdat dit nie aan my behoort nie.”

Sy verstaan nie. “Nou wie s’n is dit dan?”

“As ek nie meer daar is nie, Isabeau, moet jy en Mamma hierdie kissie gaan gee vir die graaf De Touraine. Hy woon in die Kaap de Goede Hoop.”

“Maar hoekom?”

“Dit behoort aan iemand wat hy goed ken.” Gaston vee met sy hand oor sy gesig asof hy baie moeg is. “Hy sal baie bly wees om dit te kry.”

Hy maak die kissie toe en sit dit terug in die wegsteekplek. Haar ma glimlag net toe sy na haar kyk, maar Isabeau verstaan niks van wat hier aangaan nie. Hulle leef in armoede, en tog wil haar pa nie hierdie waardevolle halssnoer verkoop sodat hulle beter kan leef nie.

Oor een ding is sy egter doodseker, en dis dat hulle weer gaan trek. In die sewe jaar van haar bestaan het hulle al elf keer getrek, en ’n hele paar keer het dit te doene gehad met iemand wat haar pa besoek het in die middel van die nag. Hierdie is die eerste keer dat sy gesien het hoe die man lyk, maar miskien was dit nie elke keer dieselfde man nie. Al wat sy weet, is dat as iemand haar pa diep in die nag besoek het, gaan hulle weer trek.

Haar raaiskoot was in die kol. Dieselfde dag nog begin haar ma die huisie skoonmaak en die goed daarin sorteer. Isabeau help haar.

“Hoekom trek ons weer, Mamá?”

Lizette gaan sit op ’n stoel en begin skielik huil. Isabeau staan op en gaan sit haar arms om haar nek.

“Moenie huil nie, Mamá, asseblief, moenie huil nie. Miskien moet ons sommer almal saam na daardie plek toe gaan en daar bly. Dan sal ons nie weer hoef te trek nie.”

Lizette druk haar styf teen haar vas. “Ek wens dit was moontlik, chérie, maar die Kaap de Goede Hoop is baie ver van Frankryk af.”

Hulle sorteer die goedjies verder sonder om veel te praat. Hierdie keer, dink Isabeau, gaan ons sommer binne ’n maand al trek. Sy het haar pa hoor wegry op die ou knol wat hulle gebruik om hulle produkte mark toe te vat, en sy is baie seker daarvan dat hy na die dorp is om hulle reis te gaan reël. En sy sien hoe haar ma elke af en toe trane uit haar oë vee. Hierdie keer gaan hulle baie gou trek.

Daar is vir Isabeau net een hartseer: sy sal Simon nooit weer sien as hulle eers weg is nie. Hulle twee is beste vriende, en sy het al dikwels saam met hom uitgegaan as hy die skape gaan haal. Hulle doen omtrent alles saam, al is hy amper vyf jaar ouer as sy. Eintlik is hulle twee onafskeidbaar.

“En dié lang gesigte?”

Sy kyk vinnig op en lag opgewek. “Simon!”

“Bonjour, Simon,” groet Lizette, en dan kyk sy na Isabeau. “Gaan julle maar. Daar sal nie meer baie geleentheid wees nie.”

“Merci, Mamá!”

“Bonjour, madame!” lag Simon, en hy haal sy flenterhoed af en buig voor haar ma asof sy ’n hertogin is. Lizette lag net.

Isabeau huppel vooruit na die vlaktetjie waar die skape gewoonlik wei.

“Hoekom het jou ma gehuil?” vra hy.

Sy gaan staan en kyk terug na hom. “Ons gaan trek.”

“Maar julle woon nog maar agt maande hier!”

“Ek weet, maar as daar ’n man in die nag na my pa toe kom, dan weet ek ons gaan trek.”

Sy begin weer loop en probeer die punt van haar skaduwee op die paadjie raak trap.

“Met wie gaan ek dan gesels?”

“Met Bella.”

“Bella weet niks van wolkemense nie.”

“Het jy haar al gevra?”

“Ja.”

Sy kom voor hom staan. “Ek sal weer terugkom en dan sal ek groot wees en dan sal jy nie meer vir my moet wag omdat ek nie so vinnig kan loop nie.”

“Belowe?” Hy lag vir haar.

“Belowe!”

“Kom ons maak ’n regte belofte. Gee my jou skoenrieme.” Toe sy beswaar wil maak, sê hy: “Ek sal ander vir jou by die huis gee.”

Hy sny twee knope van sy baadjie met sy mes af en steek ’n skoenriem deur elkeen. Dan bind hy een om haar nek en een om syne. “Nou het ons ’n regte belofte.”

Sy lag en voel gelukkig, ten spyte van die donker wolk wat oor haar en haar gesin hang. Simon is die beste vriend wat sy nog ooit gehad het, en die knoop om haar nek sal haar altyd daaraan herinner dat sy eintlik hier hoort, dit maak nie saak waar sy is nie.

Hulle jaag op die rug van sy muil en lag en geniet die middag. Toe die son begin watertrek, besef Simon dat hy in groot moeilikheid by sy pa is. Isabeau sprankel nog van die heerlike agtermiddag en sy huppel terug huis toe. Net vir ’n kort tydjie het sy van die vorige nag en van haar ma se ongelukkigheid kon vergeet.

Miskien, dink sy, sal daar vir haar en haar ouers iewers vorentoe iets beters voorlê as wat hulle tot nou toe geken het. En sy sal eendag terugkom hierheen, na Simon.

In die weke ná Lorenzo se besoek sorg Isabeau dat sy elke oomblik wat sy kan by Simon is. Hy is altyd bly om haar te sien. Soms lê hulle op hulle rûe in die weiveld en soek na die mense in die wolke. Dan vertel Simon vir haar allerhande wonderlike stories oor die wolkemense en lag hulle oor snaaksighede. Ander kere vang hulle vis in die rivier, en een keer val sy in en kom sopnat en vol modder by die huis aan.

Haar pa laat alles toe en haar ma sê niks, want hulle weet dat sy binnekort van Simon sal moet afskeid neem, en hulle twee is soos Dawid en Jonatan bymekaar. Simon stel nie in meisies belang nie. Al is hy twaalf jaar oud, is hy nog pure kind. Hy is ’n dromer, en hy en Isabeau droom die grootste drome as hulle bymekaar is. Net die afgelope tyd is daar ’n demper op hulle vrolikheid, want die dag van haar vertrek kom al nader.

Haar pa is dikwels weg, en sy hoor hom en haar ma baie keer tot diep in die nag praat oor dinge wat sy nie verstaan nie. Pedro se naam word genoem, en ook Lorenzo se naam, maar sy verstaan nie waaroor dit gaan nie. Dis dinge wat lank terug gebeur het toe sy nog maar ’n baba was, en nie een van haar ouers praat ooit met haar daaroor nie.

Drie weke ná Lorenzo se besoek daag hy onverwags weer een nag by hulle huisie op. Hy eis die geld wat haar pa moes gekry het.

“Dis te min tyd!” roep Gaston desperaat uit. “Jy het gesê dat jy eers oor twee maande sal terugkom!”

“Ek is haastig en ek wil dit nou hê!” bulder Lorenzo.

“Dis onredelik!”

“Ek sal jou wys wat is onredelik!” skreeu Lorenzo.

Hy swaai om, stamp die buitedeur oop en storm uit. In die modderstraat draai hy om en skud sy vuis in die lug. “Jy gaan bitter spyt wees! Ek sal jou wys wat maak ek met mense wat my beroof!”

Dan swaai hy om en stap driftig die donkerte in.

Gaston kom na Isabeau en Lizette waar hulle in die kamer verskrik op die bed sit. Haar ma hou Isabeau styf vas en sy kan voel hoe sy bewe.

“Ons moet môreoggend trek,” sê haar pa. “Ons kan nie ’n minuut langer wag nie. Ek is bevrees die man is mal, en hy sal julle twee leed probeer aandoen. Voor die dag breek, moet ons vlug.”

Lizette begin alles bymekaarkry wat op die muilwaentjie moet gaan. Isabeau hardloop heen en weer met alles wat sy kan aandra. Hulle neem ook nie alles saam nie, want as hulle die waentjie te swaar laai, sal hulle nie vinnig kan wegkom nie. Net die noodsaaklikste gaan saam.

Gelukkig is dit somer en hulle slaap sommer op die kaal beddens. Voor die dag breek, is al drie op. Hulle raap en skraap die laaste goedjies bymekaar.

Gaston loop uit om die kissie agter die huis te gaan uithaal, maar dan versteen hy. Ses ruwe mans met kapmesse staan hom en inwag. Hy storm die huis in.

“Hulle is hier!” Hy kyk verwilderd om hom rond. “Kruip weg!”

“Waar?” vra sy vrou paniekerig.

“Bly net so lank as moontlik binne. Miskien kan ek met Lorenzo praat.” Hy soen sy vrou en toe vir Isabeau en sê: “Ek kom terug!”

Dan draai hy om en hardloop na die buitedeur. Lorenzo staan vir hom en wag.

“Ek het kom haal wat my toekom! Ek wil dit nou hê, of ek brand die dorp af!”

Gaston gaan ’n tree nader. “Ek het nog ’n week of twee nodig, Lorenzo. Pedro is dood, maar hy het nie die kis by hom gehad nie. ’n Ander man het die kis gevat, hy bly in Marseilles en leef in weelde. Ek sou vandag soontoe gegaan het om daar na hom te gaan soek.”

Daar is ’n kort stilte en dan sê Lorenzo: “Jy wou weggehardloop het! Al jou goed is op die muilwa gelaai!”

“Ek moet my vrou en kind saamneem. Ek kan hulle nie alleen hier los nie.”

Lorenzo kom nader met ’n grynslag op sy gesig. “Is jy bang ek sal hulle seermaak?”

“Ek … dink nie jy sal so iets doen nie.”

“Verkeerd! Ek sal hulle albei doodmaak as jy nie my geld gee nie!” bulder Lorenzo.

Dan draai hy om na sy manne. “Breek die dorp af! Brand hom af! Soek die kis met geld!”

“Wag! Nee! Niemand anders het iets met hierdie saak te doen nie!” skreeu Gaston, maar hulle steur hulle nie aan hom nie. Die mans vaar die dorp in en steek brand so ver as wat hulle gaan. Vroue gil en kinders skreeu histeries soos wat die ruwe mans hulle hardhandig behandel. Twee van hulle storm by Gaston se huisie in en keer die plek om op soek na die kis met goud.

“Wat soek hulle, Mamá?” fluister Isabeau en klou aan haar ma vas waar hulle agter ’n groot kas skuil.

“Sjjt nou, liefie,” fluister haar ma terug terwyl sy die twee mans dophou.

Isabeau sien hoe een van hulle ’n papier uit ’n laai trek en dit in sy sak steek. Dan laat spaander die twee nadat hulle die huis aan die brand gesteek het. Die brand versprei vinnig.

Gaston staan verstar na die verwoesting en kyk. Dan besef hy dat sy eie huis ook aan die brand is en hy hardloop om ’n emmer water uit die put op te trek.

Twee mans keer hom voor en slaan hom dwarsoor die put.

“My vrou en kind is in die huis!” skreeu hy paniekerig. “Ek moet hulle uitkry!”

Hy staan op en probeer verby hulle storm, maar hulle loop hom van agter af in en slaan hom weer teen die grond plat.

Isabeau onderdruk haar histeriese gille. Sy en haar ma het aan die agterkant van die huisie die venster uitgeslaan, en met ’n stuk mat oor die glasstukke het Lizette haar dogter deur die venster gedruk en toe self uitgeklim. Buite is die mans besig om die huisie langsaan aan die brand te steek, en hulle twee kry dit reg om na die naaste bosse te hardloop. Hulle is nog nie tussen die bosse in nie toe haar ma hardhandig van agter af teruggeruk word en hard deur die gesig geslaan word.

“Mamá!” gil Isabeau en huil van vrees toe die mans omdraai om haar ook te gryp. Sy skarrel tot buite hulle bereik.

“Issi!” hoor sy haar pa skreeu, maar sy bly versteen staan. Sy hoor hoe haar ma pleit vir haar lewe terwyl die mans haar wegsleep. Haar ma se stem word dowwer en dan is dit skielik stil.

Gil op gil breek oor Isabeau se lippe. Sy knyp haar oë toe asof dit die verskrikking sal wegneem. Waar is haar ma? Wat het hulle met haar gedoen?

Sy maak haar oë oop en sien hoe Simon van die weiveld af aangehardloop kom, maar sy weet hy sal te laat wees, want hy is nog ver anderkant die rivier.

“Simon!” skreeu sy. “Maak gou!”

Haar pa is swaar gewond, maar hy probeer by haar kom.

Lorenzo keer hom voor. “Dis te laat, Gaston!” sis hy.

“Issi …” Gaston hoor hom nie eens nie.

“Papá!” Sy hardloop na hom toe hy inmekaarsak. “Papá!”

Bloed loop by sy mond uit en sy hele liggaam ruk.

“Vergewe my, Isabeau … vergewe my.” Hy lig sy hand en raak net liggies aan haar gesig voordat hy sy laaste asem uitblaas.

“Papá …” Sy sit en snik by sy liggaam. Dan onthou sy hoe haar ma so vreemd stil geraak het nadat hulle haar die bosse ingesleep het.

Lorenzo bulder iets aan sy manne, maar Isabeau hoor nie eens wat hulle sê nie. Sy wil net haar ma en pa terughê, en dit sal nooit gebeur nie. Om haar lê die lyke van die inwoners van die dorp. Dalk is daar niemand oor nie. Dalk sal niemand haar wil help nie. Sy snik met ’n gevoel van verlorenheid wat sy nie gedink het moontlik is nie.

Simon is nog nie eens by die bruggie oor die spruitjie nie en hy begin al moeg word. Hy sal nie betyds wees nie, want dis nog ver teen die bult op na die dorp.

Plotseling word Isabeau van die grond af opgelig. Een van die aanvallers het haar om haar lyfie vasgevat en dit maak nie saak hoe sy spartel nie, hy laat haar nie los nie. Hy hardloop agter die ander aan, wat reeds ’n ent uit die dorp weg is.

“Simon!” gil sy toe sy haar maat oor die brug sien hardloop na die brandende dorpie. “Simon!”

“Issi!” hoor sy hom na haar roep.

Hy hardloop so vinnig as wat hy kan, maar dit was ’n lang ent van die weiveld af en hy is moeg. Soos wat hy al verder agter raak, verdwyn haar enigste hoop op redding.

“Simon … help my!” snik sy. “Jy is al een wat my nog kan help!”

Hy hardloop nog agter hulle aan, maar sy kan sien dat sy krag te min is.

Haar mond word toegedruk. Sy kan net met wydgerekte oë kyk hoe hy tussen die brandende huise te voorskyn kom, struikelend en uitgeput, maar steeds moedig. Hy verdwyn buite sig toe die mans, met haar as gevangene, tussen die bome inhardloop.

Iewers in die bos word haar mond met ’n lap toegebind en haar handjies vasgemaak sodat sy nie die lap kan aftrek nie. Dan word sy oor die een grootgeboude man se skouer gelig en hulle draf verder.

Om haar is net groot mans met vuil klere, en aan hulle gordels hang kromswaarde. Van hulle is gewond waar die dorpsmense hulle bygekom het en hulle klere is vol bloed.

Isabeau is so beangs dat sy amper nie kan asem kry nie. Al verder en verder word sy weggedra van haar pa en ma wat sy nooit weer sal sien nie. En iewers daar ver agter is Simon, ’n jong seun wat niks teen die mans sou kon doen nie, maar hy het probeer.

Deur die vuil lap roep sy na haar pa en ma en Simon en sy snik van hartseer en skok. En soos hulle verder draf, vergaan die hoop in haar dat daar nog iemand tot haar redding sal kom. Die pad na agter is leeg; dis net sy en die ruwe mans om haar.

Die omgewing waar hulle eindelik tot stilstand kom, is vir haar onbekend. ’n Lelike man met ’n glasoog kom na haar toe.

“As jy nie sal skreeu nie, sal ek die lap van jou mond afhaal,” sê hy.

Sy knik net. Niemand sal haar hoor as sy skree nie, dink sy en kyk om haar rond. Die mans gaan teen die wal aan die linkerkant af ondertoe na die strand, en dan eers sien sy die skuite wat vasgemeer lê.

’n Man dra haar tot onder en laai haar dan in een van die skuite. Hulle roei haastig, want hulle wil nie gevang word nie. Verder aan lê daar ’n skip. Hulle sou dit nie van die huis af kon sien nie, want dit lê agter die rant tussen hier en die dorpie.

Dis die eerste keer dat Isabeau op ’n skip kom. Dit maak haar bang, want dis groot en vol vreemde goed en dit staan nie stil nie.

Een van die mans draai om na haar. “Kom!”

Sy volg hom na die ruim van die skip, waar hy haar tussen toue en nette ingooi en die deur sluit.

Dit voel soos ure later toe iemand die deur oopmaak. ’n Ander man staan haar fronsend en bekyk.

“Jy sal dit nooit hier oorleef nie, meisietjie. Wat is jou naam?”

“Isabeau … My ma het my Issi genoem.” Haar stemmetjie bewe.

“Issi, jy sal op ’n ander plek hier op die El Querrero moet slaap.” Hy glimlag en twee van sy voortande makeer, wat hom na ’n bose heks laat lyk. Sy gesig word skeef getrek deur twee dik littekens oor sy regterwang.

Hy buk af na haar. “Ek lyk maar so sleg aan die buitekant, Issi, binne is ek nie te erg nie, al moet ek dit nou self sê. Kom, ons gaan soek vir jou ’n beter plek om te slaap.”

Sy volg hom omdat sy nie ’n keuse het nie. Toe hy vir haar in ’n klein stoorplek ’n lêplek maak en selfs ’n lantern vir haar laat brand, begin die ergste angs en skrik die wyk te neem. Nog steeds sê sy niks, want haar keel voel dik. Al wat sy wil doen, is huil en huil tot haar hartjie leeg is van die verdriet. Maar daarvoor kry sy eers kans nadat die ou matroos gaan slaap het.

Die laaste lewende siel van die dorp wat sy gesien het, was Simon. Hy is nie dood nie, maar sy weet dat sy hom heel moontlik nooit weer sal sien nie.

Sy verlang na hom, want hulle was elke dag saam. Hy het haar altyd beskerm en haar gehelp as sy geval of seergekry het. Simon was haar steunpilaar, maar hierdie keer was dit nie genoeg nie.

Die matroos se naam is Filipe, die een met die lelike littekens oor sy wang wat sy gesig so skeef trek. Issi leer gou om hom te vertrou. Hy vertel vir haar die wonderlikste stories. En hy weet hoe sy oor die dood van haar ouers voel, daarom troos hy haar as hy haar hartseer sien.

Sy vertel hom van Simon en dat hy haar beste, beste vriend was. En dat sy hom nooit weer sal sien nie, soos wat sy haar ouers ook nooit weer sal sien nie.

“Hoekom sal jy hom nie weer sien nie?” wil Filipe weet.

“Hoe gaan hy weet waar ek nou is?”

Hy dink ernstig na.

“Ek sien wat jy bedoel … Maar jy moenie moed verloor nie, kleintjie. Jy gaan tog nie vir altyd op hierdie skip bly nie?” Hy wys na die knoop om haar nek. “Het hý dit vir jou gegee?”

“Ons het elkeen so een, want ons het ’n belofte gemaak.”

“Watse belofte?”

“Ons … ek en my pa en ma sou weggetrek het van die dorp af. Toe het ek Simon belowe dat ek eendag sal terugkom.”

“Dan moet jy jou belofte hou.” Hy glimlag met sy skouspel van skewe tande en twee wat makeer. “As ons weer hierdie koers kom, dan bring ons jou terug na die dorp.”

Sy kyk op na hom. “Hoekom het julle my saamgevat?”

“Ek dink Lorenzo het gesê jy moet saamkom. Ons moet maar wag en kyk wat sy plan is, want hy is die kaptein van die skip.” Hy beduie na ’n plek teen haar nek. “Jy sal dit altyd moet toemaak, want later sal mense jou begin herken as ’n seerower.”

“Ek is nie een nie.”

“Ek weet, maar die mense weet dit nie. Hulle sien jou saam met ons en hulle sal dink dat jy een van ons is.”

“Is jy ’n seerower?”

Hy sug diep. “Ongelukkig, ja.”

Sy antwoord nie, maar trek haar rokkie se kraag op sodat dit haar geboortemerk bedek. Simon het altyd gesê dat dit soos ’n kewer met ’n stert lyk en dan het hulle daaroor gelag. Hy het gesê dat hy haar enige plek sal uitken net aan daardie merk. En sy wonder of hy nie gou sal kom om haar te herken nie sodat sy kan teruggaan. Dan onthou sy haar pa se laaste woorde en hoe haar ma van angs gegil het. Dit was verskriklik …

Filipe vee die trane met sy duime van haar wange af, maar hy sê niks en sy verduidelik ook nie.

“Dit sal nie so erg wees nie, kleintjie, jy sal sien. En miskien kom jy eendag terug na jou dorpie, wie weet?”

Sy hou aan dié paar woorde vas soos ’n drenkeling aan ’n strooihalm. Solank daardie moontlikheid bestaan, is daar vir haar hoop.

Hulle vaar voort. Issi kom net snags uit op die dek en dan kruip sy agter die wynvate weg. Sy sien hoe die matrose werk en die seile span, die lanterns uithang, musiek maak en lag en dronk word.

Lorenzo het nog nie na haar gevra nie, maar sy weet dat hy dit een of ander tyd sal doen. Wat gaan sy vir hom sê? Hy kan nie weer regmaak wat hy verkeerd gedoen het nie.

Sy leer dat dit die heel beste is as sy glad nie bedags op dek verskyn nie. Die matrose is ruwe, wilde mans en Filipe het dit vir haar baie duidelik gemaak dat hulle ook gevaarlik is. Daarom bly sy in die ruim van die skip en dink aan die sonnige dae in haar tuisdorp, aan die lang ure wat sy en Simon in die veld deurgebring het.

Terwyl sy een oggend nog staan en sluk aan haar trane, is daar skielik ’n lawaai onder die matrose. Sy verstaan nie wat aan die gang is nie, maar Filipe kom sê dat sy in die stoorplek moet bly.

“Bly hier en moenie uitkom nie!” sê hy dringend en maak die deur toe. Sy hoor hom in die smal gangetjie afhardloop en skreeu op iemand.

Toe hy uit is, gaan sit sy op ’n vaatjie. Sy durf nie by die deur uitgaan nie, en sy moet op haar gehoor staatmaak om te probeer aflei wat aan die gang is daar buite. Mense skreeu op mekaar, sy hoor ’n kanon bulder, metaal wat teen metaal klink, en sy ruik die rook van kruit. Sy kruip diep in die hoekie in, bang vir die oomblik wat die deur sal oopgaan en iemand haar daar sal kry.

’n Man skreeu en val met die smal trap af tot onder in die gang. Plotseling bars ’n kanonkoeël deur die wand van die skip en trek deur die oorkantste muur. Issi hou haar arms oor haar kop toe die splinters na alle kante spat. Dan slaan die hout aan die brand.

Sy gil van skok. Die water begin inloop en spoedig is die vloer van die kajuit onder water en begin die los goed ronddryf daarin. Dit keer dat die brand versprei, maar die rook vul gou die binnekant van die skip.

Sy hoes en stik van die rook. Die enigste uitgang is die deur wat na die gang lei, maar sy onthou van die man wat daar geval het. Dan begin sy huil. Skaars ses maande gelede het haar pa en ma albei gesterf aan die hande van hierdie mense saam met wie sy op die skip is. Dit voel vir haar asof die hartseer en ellende nooit gaan eindig nie. Elke dag onthou sy dit en sien sy haar ouers se moordenaars om haar.

Eers toe die rumoer op die dek begin afneem, waag sy dit om die deur oop te maak. Dit skuif moeilik oop teen die drukking van die water. Met haar rug teen die deur stoot sy met haar voete op die nat vloer tot sy voel hoe die deur meegee.

In die gang vind sy ’n dooie seerower met ’n mes in sy rug. Haar hart bons onstuimig toe sy voetjie vir voetjie verby hom skuifel na die trap. Op die dek is daar nou minder rumoer as vroeër en sy hoop dat sy iewers vir Filipe sal sien.

Al met die trap klouter sy handeviervoet tot bo. Daar lê ’n paar dooie seerowers en ander mans op die dek en sy ril. Koue kriewelinge loop langs haar ruggraat af, en sy onthou die mense van haar dorpie en haar pa wat gesterf het aan kapwonde. Dit voel asof sy gaan verstik van angs. Wanneer gaan dit alles verby wees?

Langs die El Querrero is daar nog ’n skip. Dit staan vol matrose wat met gebalde vuiste op die bemanning van die El Querrero skreeu. Die seerowers skreeu terug terwyl die ander skip stadig van hulle af wegdryf.

“Wat maak jy hier?” raas een van die mans toe hy Issi sien.

Sy skrik en val amper agteroor van die trap af.

“Daar’s water … daar’s ’n gat in die skip en die water spoel in.”

Hy vloek hard en swaai om na die ander. “Ons moet die hawe haal as ons nie wil sink nie!” skreeu hy.

“Kyk wat julle daar onder kan doen!” skreeu Filipe op ’n ander seerower.

“Hys die seile dat ons kan vaar! Maak gou! Ons neem water in!”

Stadig maar seker draai die logge skip om. Dan kies hulle koers na ’n hawe waar hulle dit kan herstel. Die seerowervlag word afgehaal en ’n ander vlag in sy plek gehys terwyl hulle sukkelend voortvaar na veiligheid.

Filipe kom na Issi. Sy klere is vol bloed en sy deins terug.

“Dis verby … Jy kan vannag in Lorenzo se bed slaap, kleintjie.”

“Hy sal my daar kry en dan gaan hy baie kwaad wees.”

Filipe grinnik. “Hy is op die ander skip en is swaar gewond. Hy sal nie terugkom nie, en ek glo nie hy gaan bly leef nie.”

Sy verwonder haar oor sy traak-my-nieagtigheid, so asof Lorenzo se lewe hom nie eintlik kan skeel nie. Hy bring goeie nuus, maar op ’n manier stel hy haar teleur, want sy het nie gedink dat Filipe so min vir ander omgee nie.

Ná ’n rukkie dring dit egter tot haar deur wat die implikasies is. Miskien kan sy nou teruggaan huis toe …

“Kan ek nou huis toe gaan?” vra sy gretig.

Hy dink ’n oomblik na en sê dan: “Ek dink ons moet net eers seker maak dat Lorenzo dood is, want as hy skielik terugkom en hoor jy is nie meer hier nie, sal hy na jou gaan soek. En hy is ’n verskriklike man as hy kwaad is.”

“Hy sal mos nie weet waar om my te gaan soek nie.”

Filipe frons diep soos hy hierdie groot saak bedink.

“Weet jy, ek ken niemand by wie ek jou kan laat nie. My vriende is almal mans en hulle suip elke dag. Jy kan nie by hulle bly nie.” Hy kyk af na haar. “Jy is nog ’n bietjie te klein om op jou eie te wees. Hou net nog so ’n klein bietjie uit tot ons seker is dat Lorenzo dood is. As jy ouer is, sal jy op jou eie kan gaan werk. Goed so?”

Sy knik en glimlag bewerig. “Dan wag ek liewer nog ’n bietjie.”

Later staan sy eenkant en kyk hoe elke gesneuwelde seerower in ’n stuk seil toegerol word. Dan word die seil vasgemaak met ’n tou. Daar is vyf van hulle. Filipe stuur haar nie terug na die kajuit nie. Hy sê ’n paar woorde vir die begrafnis en dan word die bondels een vir een in die see neergelaat.

Issi sluk swaar en sy wonder of die lewe altyd so baie met geweld en dood te doen het. Is daar dan nie iets anders ook nie? Iets wat ’n mens gelukkig kan maak sonder vrees dat dit van jou weggeneem sal word?

Maar sy is bly dat Lorenzo weg is …

Liefde sonder hawe

Подняться наверх