Читать книгу Liefde sonder hawe - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Die dag breek helder oor die see en die boeg is swart teen die blink water. ’n Vars bries hou die seile liggies gebol aan die maste, sodat hulle rustig voortvaar na die horison, na Marseilles, waar hulle sal moet vasmeer om voorraad op te laai.

Die afgelope uur al swem vier dolfyne voor en langs die skip en speel in die skuimende water wat die boeg breek. Die kaptein sien dit altyd as ’n goeie teken, en as hy so iets raakloop, drink hy. As dit ’n slegte teken is, drink hy ook.

Isabeau hou die stuur net liggies met haar hand vas, haar gedagtes ver van waar sy nou is. ’n Jaar nadat sy aan boord van die El Querrero gekom het, het hulle gehoor dat Lorenzo die geveg oorleef het en dat hy in die tronk is. Niemand kan met sekerheid sê of hy al vrygelaat is nie. Die enigste rede waarom hy nie gehang is nie, is omdat niemand kon bewys dat hy ’n seerower is nie. Hy is immers op die ander skip gewond.

Ná ’n jaar en ses maande aan boord van die El Querrero het Isabeau nie meer geweet waar sy wil wees nie. Filipe sorg vir haar en hy is soos ’n pa vir haar. Buitendien, sy het reeds een maal in haar lewe haar anker verloor. Dis nie iets waarvoor sy weer kans sien nie. Sy is nog maar ’n kind en die wêreld daar buite, het sy ontdek, is wreed en genadeloos.

By Filipe voel sy veilig. Solank hy haar daar wil hê, wil sy daar bly, omdat sy nêrens anders het om heen te gaan nie. As sy eendag groot is, het sy gedink, sal sy van die skip af weggaan en ’n dame word.

Hy het haar naam verander na Solita.

“Ek hou van dié naam … dit beteken allenige enetjie,” het hy gesê. “As ek ’n dogtertjie sou hê, sou ek haar Solita noem.” Hy het geglimlag en sy het gewonder waarom hy haar naam verander.

“Maar ek is Issi, Filipe,” het sy beswaar gemaak.

“Terwyl jy hier tussen ons is, moet jy ’n naam vat wat by die skip sal bly as jy eendag weggaan. As jy eendag terugkeer na die land om weer ’n goeie lewe te lei, vat jy jou regte naam terug. Niemand sal weet dat jy ’n seerower was nie, want jou nuwe naam sal hier op die skip bly. Terwyl jy hier is, sal mense jou as Solita leer ken, ’n seerower, en hulle sal nie weet dat jy Isabeau is op die land nie.”

Toe het sy verstaan, en sy het ingestem dat haar naam na Solita verander word. En ná ’n tyd het sy die nuwe naam gewoond geraak en selfs daarvan gehou.

Nou het daar al vyftien jaar verloop en is sy nog steeds op die skip. Haar drome om eendag ’n man en kinders te hê, het sy diep weggebêre waar niemand dit sal ontdek nie. Hierdie is die enigste lewe wat sy nou nog ken, en sy kan nie ’n gewone man vra om dit met haar te deel nie. Dalk bestaan Isabeau nie meer nie, dalk het sy werklik Solita geword. Maar sy weet sy sal nooit vir Simon kan vergeet nie. Sy dra al die jare nog sy knoop om haar nek.

Natuurlik is daar Jean, maar sy wil liewer nie aan hom dink nie. Hy het twee jaar gelede by die skip se bemanning aangesluit, en van toe af probeer hy by haar vlerksleep. Hy is vier en twintig en sy al amper drie en twintig, dus eintlik al verby die hubare stadium. Meisies trou lank voordat hulle twintig jaar oud is. Geen ander man sal nou nog na haar kyk nie.

Die seerowers terg haar oor Jean en dit maak haar nog meer steeks. Hy is nie die soort man wat sy eendag wil hê nie. Hy is vriendelik en nie te onaardig nie, maar … wil sy regtig haar hele lewe op ’n seerowerskip deurbring? Iewers diep in haar weggesteek, is Isabeau nog, en sy wag om eendag vrygelaat te word.

En dan is daar die herinneringe aan die dorpie waar sy agt maande van haar lewe deurgebring het. Dit was die gelukkigste agt maande wat sy ooit geken het. Baie maal as sy mismoedig raak, dink sy aan Simon. Dan droom sy van die dag dat sy hom weer sal sien.

Hulle was geesgenote, almal het dit geweet. Sy beeld het vir haar reeds vervaag, sy onthou nog net hoe ’n wonderlike maat hy was. Sy kan nog sy aansteeklike lag hoor, en sy onthou die gevoel van veiligheid wat sy by hom gehad het.

Maar sy het hom verloor die dag toe Lorenzo haar daar weggeneem het en haar pa en ma vermoor het. Haar hand klem stywer om die stuur. Met haar hele hart wens en hoop sy dat Lorenzo nie meer leef nie. As hy nog leef, sal sy hom met haar eie hande vermoor en dan die gevolge dra, sy gee nie meer om nie. Daar is niks behalwe haar lewe wat sy nog kan verloor nie, en daar is bitter min wat dit vir haar nog die moeite werd maak om te leef.

Dagbreek is haar geliefkoosde tyd van die dag, want dis ’n nuwe dag en dit bring nuwe hoop. Elke dag het die moontlikheid om met vreugde te eindig, maar dagbreek is ook ’n mooi tyd, ’n stil tyd waarin ’n mens alleen met jou gedagtes kan wees. Dis die tyd wat sy saam met Simon agter die skape aan is veld toe, en dan het hulle die dou van die gras afgelek en hulle verbeel dat dit towernektar was.

Sy vat-vat aan die knoop aan die skoenriem om haar nek. Haar ouers is albei oorlede, en al verlang sy soms nog na hulle, sal sy hulle nooit weer sien nie. Maar Simon … Die hoop is nog altyd daar dat sy hom weer iewers sal raakloop. Maar hy sal haar nie herken nie, en dalk sal sy hóm nie herken nie. Vyftien jaar kan ’n mens baie verander. Dis ’n vae hoop, maar hy is haar hoop om weer eendag ’n normale lewe te lei.

Die kompas se naald bly doodvas op een koers en hulle vaar voorspoedig voort. Solita weet dat sy, wanneer hulle by die hawe aankom, haar swart mansbroek, laarse en wit wyemouhemp sal moet verruil vir ’n tabberd waarmee sy aan wal moet gaan. Dis vir haar baie moeilik om haar soos ’n dame te gedra, want negentig persent van haar tyd bring sy tussen die rofste soort mans deur.

Filipe het haar deur die jare probeer leer hoe ’n dame sit en praat en aantrek, want hy was eens op ’n tyd die seun van ’n welgestelde man. Sy pa het alles verloor, en Filipe het op Lorenzo se skip beland en geglo dat dit net tydelik sou wees. Sedert Lorenzo verdwyn het, is hy die kaptein en wat seerowery betref, doen hy nogal goed. Daar was dalk eens op ’n tyd iets soos verfyndheid in hom te bespeur, maar lankal nie meer nie. En met die lelike littekens oor sy wang jaag hy ordentlike vroue die skrik op die lyf.

Mooi klere en fyn maniere is egter die laaste ding wat nou in haar gedagtes is. Die afgelope paar jaar hoor hulle telkens van ’n man wat seerowers meedoënloos jag. Hulle het nog nie met hom te doene gekry nie, maar almal van hulle weet dis net ’n kwessie van tyd voor dit sal gebeur. Baie seerowers wat in sy hande geval het, is al tereggestel. Die probleem is dat dit baie moeilik is om ’n skip uit te ken voordat dit amper by jou is.

Tot dusver was hulle baie gelukkig dat hulle pad nie met dié van Armand du Bois gekruis het nie. Stories doen die rondte dat hy ’n ouerige man met een oog en ’n houtbeen is. Hy was ’n uitmuntende swaardvegter, totdat sy been deur seerowers se kanon afgeskiet is. Van daardie dag af jag hy hulle met soveel wraak en haat dat dit die seerowers die skrik op die lyf jaag.

Sy sug.

“Ek wil nie vir altyd hier bly nie,” sê sy hardop. “Ek wil weer eendag Isabeau wees.”

Filipe maak sy verskyning onder op die dek en klim met die trap op na die kasteel. Hy kom staan by haar.

“Ons behoort voor die middaguur in die hawe vas te meer. Ek het die goed wat jy moet gaan verkoop in ’n sak gesit.”

“ ’n Dame dra nie ’n sak met goed nie, Filipe, jy het my dit self gesê.” Sy kyk net vlugtig na hom.

Hy lag. Met so baie gapings in sy mond waar tande makeer, lyk hy soos ’n boemelaar, maar sy weet dat agter daardie afstootlike uiterlike ’n man met ’n goeie hart skuil.

“Dis ’n mooi sak, Solita,” sê hy. “Dis die soort waarmee ’n dame op reis sal gaan.”

“En waar het jy dit gekry?” wil sy weet.

“Op een van die skepe wat ons …”

“Beroof het?”

Hy trek ’n gesig. “Ja, seker maar. Ek hoort nie hier nie. My pa was ’n handelaar, en dis wat in my bloed ook is. Net soos ek genoeg geld het, gaan ek die seerowery los en vir my ’n winkeltjie iewers oopmaak.”

“En wat gaan jy verkoop?”

“Sy … en koffie … en mooi skoene vir die dames, kamme en borsels …”

Sy lag sag en dink aan hoe hierdie wilde man van die see, wat so min tande in sy mond oorhet en wie se hare jare gelede laas ’n borsel gesien het, mooi goedjies aan fyn dames sal kan verkoop. Dit sal interessant wees om te sien.

“En ek sal na jou winkel toe kom en soos ’n regte dame na al die mooi goed kyk en my neus optrek en tog iets koop,” terg sy.

Hy lag en kyk ver oor die see uit, en sy kan sien dat sy gedagtes op paaie loop waaroor hy in die nag droom. Dis maar soos wat ek ook droom oor dinge wat nie meer kan realiseer nie, dink sy. Miskien sal sy eendag iemand ontmoet wat haar sal wegneem van hierdie skip en hierdie lewe, iemand wat vir haar omgee en wat haar weer soos ’n vrou sal laat voel.

Dis nie vir haar nodig om in ’n spieël te kyk om te sien hoe sy lyk nie. Haar lang, blonde hare is met ’n toutjie agter in haar nek vasgemaak, sy dra ’n manshemp en -broek, en selfs haar stewels is eintlik ’n man s’n. Haar gelaat is bruin gebrand deur die son en die weerkaatsing op die see.

Die tyd wat sy nog as ’n fyn meisie beskou kon word, is meer as vyf jaar gelede al verby. As sy ’n ordentlike man kan kry wat bereid sal wees om sy lewe met haar te deel, sal sy haarself baie gelukkig ag.

Filipe het ’n nuwe tabberd vir haar in die hande gekry. Hierdie keer is dit van ligblou sy, ’n modieuse rok wat haar soos ’n prinses laat voel. Daar is selfs ’n klein hoedjie wat daarby pas, en handskoene. Dit alleen is al ’n groot weelde.

Solita moet ’n uur of wat wag voordat Filipe terugkeer na die skip. Hy het in die stad ingegaan om ’n paar goed te koop. Die sak wat hy haar gegee het, is taamlik swaar. Jean gaan soos gewoonlik saam met haar omdat sy nie alleen in die strate gesien moet word nie, en dis hy wat die sak oor sy skouer gooi toe hulle eindelik van die skip afstap.

Die seerowers het almal koers gekies na ’n hawekroeg. Net twee word op die dek agtergelaat om die skip op te pas. Filipe beplan om terug te wees van die kroeg wanneer Solita met die geld terugkom.

In die hawe is daar baie bedrywigheid en niemand sien Solita en Jean eintlik raak nie. Hulle lyk buitendien asof hulle presies weet waarheen hulle op pad is. Jean huur ’n rytuig wat hulle neem na die huis van Jacques de Ville, ’n ryk koopman van Marseilles.

Soos elke keer wanneer hulle alleen bymekaar is, probeer Jean Solita oortuig van sy gevoel vir haar, en soos elke keer probeer sy hom laat verstaan dat dit ’n hopelose saak is. Sy wil nie by enige man betrokke raak nie.

“Jy hoort nie op ’n seerowerskip nie, Solita,” sê hy.

“En waar sal ek heengaan? Daar is niemand wat vir my sal sorg nie. Of kan jy aan iemand dink?”

“Ek sal!”

“Met wat? Jy het nie twee stuiwers om teen mekaar te vryf nie.”

“Ons kan ’n plasie koop … Ek maak geld bymekaar daarvoor.”

Sy onthou dat hy byna nooit kroeg toe gaan saam met die ander nie. As hy ’n plasie sal koop … Miskien sal sy dan saam met hom gaan, want dis waar haar hart is. Maar wat dan as sy Simon eendag weer raakloop?

“Daar is nog baie tyd,” sê sy eindelik om Jean nie seer te maak nie, en hy is tevrede.

Dis al amper donker toe hulle weer na die skip kan terugkeer.

Jacques de Ville maak geen geheim daarvan dat hy Solita aantreklik vind nie, maar dit krap haar net elke keer om. Tog moet sy baie versigtig wees dat hy dit nie agterkom nie, want hy is die enigste een vir wie hulle hul ware kan bring om te koop.

Dus is sy taamlik uitgeput teen die tyd dat sy met die loopplank na die dek van die skip stap, met Jean kort op haar hakke. Die bemanning staan op die dek en hulle is baie stil toe sy nadergaan. Nie een van hulle praat of gesels of skel soos wat sy gewoond is nie. Dis nie soos sy hulle ken nie, daar moes iets gebeur het.

Die klomp staan bedremmeld rond asof hulle vir iets of iemand wag.

“Is iets verkeerd?” wil sy weet.

Filipe staan by die stuur en probeer iets aan haar beduie wat sy nie verstaan nie.

“Ons weet nie … Miskien is ons verniet bang,” sê die een.

“Bang vir wat?”

Hulle kyk na mekaar, maar voordat iemand kan antwoord, bulder ’n manstem van die loopplank af: “Wat staan julle daar?”

Sy word yskoud. Die jare rol terug en sy proe weer die vrees wat sy as negejarige geken het. Net vir ’n oomblik ruk haar binneste ineen. Sy onthou wat op die dorpie gebeur het, maar sy kan nie glo dat dit nog nie verby is nie. Stadig draai sy om.

Hy kom aangehink, vuil soos wat sy hom destyds geken het, die grusame litteken oor sy gesig, sy hare maande laas gewas.

Hy steek vas toe hy haar sien.

“Wat maak jy op my skip?” skreeu hy op haar. “Skoert! Hierdie is nie ’n plek vir ’n vroumens nie!”

Sy kyk om na die loopplank en vryheid. Omdat hy haar nie herken nie, kan sy ’n vry mens hier uitstap en dis amper te goed om te glo. As sy nog haar skeepsklere aangehad het, sou hy geweet het wie sy is, maar sy is geklee soos ’n dame. Wat nou belangrik is, is dat sy so vinnig as moontlik moet wegkom.

Sy maak ’n ligte buiging in sy rigting. “Verskoon my dan, s’il vous plaît, monsieur.”

Dis asof sy elkeen se oë op haar rug kan voel toe sy na die loopplank begin aanstap. Agter haar is dit stil en niks gebeur nie, maar net toe sy haar voet op die loopplank sit, praat hy weer.

“Stop!”

Sy huiwer, haar vryheid is net ’n paar treë van haar af, maar sy kyk tog om om nie agterdog te wek nie.

“Oui, monsieur?”

“Jy is Isabeau!”

Hy bars uit van die lag en dit voel asof alles in haar breek – haar hoop, haar geloof, álles word met daardie drie woorde aan flenters geslaan. Oorkant die loopplank is die kaai en haar vryheid, maar al hardloop sy nou, sal hulle haar inhaal en keer, want behalwe vir Filipe en Jean staan die ander onverskillig teenoor haar.

Sy kyk om na hom. Al die jare het sy gevrees dat hierdie dag sal aanbreek, en nou is dit hier. Sy het te lank gewag om die skip te verlaat, want sy het nie gedink dat hy nog leef of dat hy sal terugkom om die nagmerrie voort te sit nie.

“Lorenzo … die man wat my ouers koelbloedig vermoor het!”

“Het jy gedink jy kan weghardloop? Dit verbaas my net dat jy nog hier is, maar dit pas my uitstekend.”

Daar was baie keer dat sy daaraan gedink het om weg te hardloop, soos hy dit noem, maar die skip het deel van haar lewe geword. Daar was nie ’n ander manier vir haar om ’n bestaan te maak nie, behalwe as sy bereid sou wees om ander mense se klere met haar hande te was. Só ’n lewe is net so sonder hoop as die een op die skip. Hierdie lewe ken sy ten minste.

Hy gryp haar aan die arm en trek haar nader na waar die ander staan.

“En julle! Julle het my net so gelos om dood te gaan. Nou is ek terug, en ek sal nie vergeet wat julle aan my gedoen het nie. Ék is die kaptein van hierdie skip en nie Filipe nie. Hy sal gehang word vir sy verraad teen my!”

Daar is ’n beroering onder die matrose. Filipe is ’n goeie en regverdige kaptein.

“Ons het gedink jy’s dood!” roep een. “Jy was op die ander skip, hoe moes ons jou daar gaan haal het?”

Lorenzo swaai om na die spreker.

“Ek was in die tronk! Weet jy hoe lyk ’n tronk van binne? Weet jy wat doen hulle daar met jou? Ek was tien jaar lank in daardie gat, en nou het ek ontsnap en ek wil my skip terughê! Verstaan julle klipkoppe dit?”

Hulle knik net teësinnig. Maar Lorenzo is nog nie klaar nie.

“Volgens wat ek in die tronk gehoor het, is Armand du Bois op die spoor van my skip. Hy wil ons almal uitdelg soos wat hy met die ander seerowerskepe gedoen het! Het julle dit geweet?”

Sommige knik en ander skud hulle koppe. Niemand het dit al ooit in soveel woorde vir hulle gesê nie, maar hulle het wel ’n idee gehad dat dit die geval is.

“En het julle hom al gesien?” vra Lorenzo.

Weer skud die koppe.

“Julle spul skape! As julle hom sien, is dit reeds te laat! Dan word julle doodgemaak!”

Hulle antwoord nie, en Filipe gaan staan voor Lorenzo. Die littekens op sy wang gee sy gesig ’n uitdrukking van groter woede as wat hy in werklikheid voel.

“Niemand bevraagteken dit dat die skip aan jou behoort nie, Lorenzo, maar niemand het verwag dat jy sou terugkom nie. Ek was vyftien jaar lank die kaptein van die skip, en ons het nie te sleg gevaar nie.”

Lorenzo se oë vernou.

“O, jý is die kaptein? Miskien het jy gehoop ek is dood sodat jy die skip vir die res van jou lewe kon kry! Wel, ek het duur daarvoor betaal en ek gaan dit nie aan jou afgee nie!”

Hy kyk om na die ander. “En enigeen wat die skip wil verlaat of my hier wil wegdryf, sal ek persoonlik doodmaak! Het julle my gehoor?”

Nie een van die klomp weet wat om te sê nie. Hulle weet hoe wreedaardig Lorenzo kan wees, en dus besluit hulle om eers lafhartig die aftog te blaas. Eintlik kan hulle nie op mekaar reken nie, want vir ’n frank sal hulle mekaar verraai. In werklikheid is die skip nog Lorenzo s’n en het Filipe nie besitreg daarop nie.

“Dis beter!” sis Lorenzo.

Dan draai hy om na Filipe. “En as jy wil skoert, kan jy skoert, maar die merrie bly.”

“Sy … sy is nie ’n merrie nie, sy is ’n dame,” stamel Jean in protes.

“En wie is jy?” wil Lorenzo weet. “Ek ken nie jou gesig nie.”

“Ek is Jean.”

“Onthou een ding op hierdie skip, seuntjie: jy praat net met my as ek met jóú gepraat het. En dan ook net as jy iets te sê het. Ek weet wie hierdie vroumens is, baie beter as wat jy ooit sal weet. En as ek vir jou sê sy is gemors, dan sê jy ook sy is gemors.”

Solita draai skielik om en stap terug na die loopplank.

“Waar dink jy gaan jy heen?” wil Lorenzo weet.

“Ek gaan nie langer op hierdie skip bly nie!” kap sy terug, draai om en loop verder.

Die volgende oomblik tref ’n leë teeremmer haar vol in die rug. Sy verloor haar balans en val hard op die dek.

“Het jy nou mal geword?” skreeu sy op Lorenzo toe sy opstaan.

“Jy sal bly! Gee haar ’n bal en ketting!” Hy beduie na die naaste manne by hom. “Toe, vir wat staan julle en wag? Gryp haar en ketting haar vas!”

Dis te laat vir Solita om weg te kom, maar sy probeer nogtans. Hulle loop haar op die kaai in en sleep haar terug na die skip. Daar word ’n swaar ysterbal met ’n ketting om haar enkel vasgemaak. Verslae staar sy daarna. Dit sal nou vir haar baie moeilik wees om te ontsnap.

Selfverwyt gaan haar vir die res van haar lewe volg, weet sy. Waarom het sy nie twee of drie jaar gelede al padgegee nie? Al die tyd het sy by Filipe gebly, want hy het goed vir haar gesorg en sy was op ’n manier gelukkig op die skip. Eenkeer het hy haar selfs na die winkeltjies in Marseilles geneem en vir haar geld gegee om iets moois vir haar te koop. Daardie dag het sy gevoel dat sy weer ’n pa gekry het.

Nou staan sy met ’n ysterring om haar enkel wat sy nie kan afhaal nie. En as sy ’n jaar gelede van die skip af padgegee het? Wat sou van haar geword het? Al het Jean saam met haar gekom, waarheen sou hulle gaan? Nie een van hulle het geld nie, en hulle weet niks van boerdery af nie.

Sy was al te veel kere in herberge en op die markte om te besef dat die meeste mense hulle lewe in armoede en ellende slyt. Dis ’n wonderwerk as enigeen bo dit kan uitstyg. Die skip was vir haar ’n uitweg om meer as ’n versukkelde, armoedige mens te wees. Die bietjie geld wat sy gekry het, het sy probeer spaar … En wat help dit haar nou?

Lorenzo verskreeu die manne en jaag hulle rond om alles op die skip te kry soos wat hy daarvan hou. Filipe probeer met die man redeneer, maar Lorenzo wil niks weet nie.

Dan kom Filipe na haar.

“Ek is bang dat as ek hom te kwaad maak, jaag hy my van die skip af en dan kan ek jou nie meer beskerm nie. Wees geduldig, kleintjie, ek sal jou uit hierdie gemors kry. Laat vandag net verbygaan. Môre sal nuwe hoop bring.”

Sy knik net en dink aan die dagbreek en wat dit vandág vir haar gebring het.

“Haai! Lorenzo!” roep ’n vrou van die kaai se kant af. Sy staan met haar hande in haar sye, haar sigeunerromp eenkant opgevat en vasgesteek sodat die valletjies-en-kantonderrok uitsteek. Haar blonde hare hang in krulle los oor haar skouers, maar die groot ringe aan haar ore is steeds duidelik sigbaar. Sy hou ’n sakkie in haar een hand vas.

“Esmeralda!” roep hy terug en lag dawerend, Solita vir die oomblik vergete. “Jy bly maar ’n vreugde vir die oog!”

Van die bemanning kry ’n gretige grynslag op hulle gesig, maar Lorenzo skel op hulle: “Julle varke! Sy is nie daardie soort meisie nie!”

Esmeralda is die ouderdom wat sy nie meer as ’n meisie beskryf kan word nie, alhoewel sy hard probeer om koketterig te lyk. Haar wange en lippe is ’n bietjie te rooi en haar oë te swart gesmeer.

“Kan ek aan boord kom?” vra sy met haar donker, sensuele stem.

“Skatlam, dit sal ons volgende keer moet doen!” roep hy terug. “Hierdie manne het my jare laas gesien en hulle het vergeet watter soort vark ek is! Oor ’n paar weke is ons terug en dan kom soek ek jou op!”

Hy lag weer luidrugtig, wuif vir haar en vergeet dat sy op die kaai staan toe hy omdraai om sy woede verder ongesteurd op sy bemanning uit te haal.

Solita kyk na die vrou op die kaai. Sy moes eens op ’n tyd mooi gewees het, maar die lewe het haar sleg behandel en sy lyk moeg, lewensmoeg. En sy wonder of sy ook eendag só gaan lyk.

Lorenzo dring daarop aan dat Solita hom moet bedien, maar sy kan nie, want sy moet die ysterbal agternasleep. Sy sleep moedswillig swaar daaraan in die hoop dat hy die idee sal laat vaar, maar Lorenzo is nie die soort wat ’n plan ligtelik laat vaar nie.

Met dagbreek die volgende oggend vaar hulle saam met die gety uit en hy laat toe dat Filipe die ketting van haar enkel afhaal.

“Maar as ons ’n hawe nader, word dit weer teruggesit!” sis hy en gluur haar aan. “Hier kan jy maar probeer wegkom, want dis net water om ons, maar in die hawens sal jy op die skip bly.”

Die vorige nag het hy tot laat in die nanag by die rumbottel gekuier. Om nou nog op sy voete te wees is nogal ’n prestasie, dink sy, maar sy sê niks en antwoord hom ook nie. Vanoggend is haar gemoed baie swaar.

Hy swaai op sy hakke om en skreeu op Jean om kraaines toe te gaan.

“En rapporteer elke siel wat jy sien! As ons ons in Armand du Bois vasloop, sal dit jou skuld wees en dan gaan ek jou vir die haaie voer!”

Filipe kom staan by Solita. “Jy moet die rok maar uittrek, want dit sal vuil word.”

Lorenzo het gehoor wat hy sê. “Sy hou die rok aan!”

“Sy kan nie,” sê Filipe koppig. “Sy moet dit aantrek wanneer sy met die handelaar in Marseilles gaan praat. Sy kry vir ons baie geld vir ons ware.”

Die kaptein se oë vernou toe hy haar aangluur. “Sy sal weghardloop.”

“As jy haar goed behandel, sal sy dit nie doen nie.”

Daar is ’n stilte tussen hulle wat met ’n mes gesny kan word. Solita hou haar neutraal, maar dis moeilik met Lorenzo wat haar met woede en afsku aangluur. Sy kan sy haat vir haar nie begryp nie, want sy het hom nog nooit iets aangedoen nie. Al waaraan sy kan dink wat hom so teenoor haar laat optree, is die besoeke wat haar pa van hom ontvang het … Toe daar oor dinge gepraat is wat nooit aan haar verduidelik is nie.

“Nou goed,” sê Lorenzo eindelik teësinnig. “Ek sal dit toelaat, maar sy sal elke keer vergesel word deur iemand van mý keuse.”

Dan draai hy om en stap weg.

Solita glimlag bewerig vir Filipe. “Dankie.”

“So wen ons elke dag ’n klein stukkie.” Hy glimlag sodat al die openinge van die tande wat makeer, sigbaar is.

Ek het vir hom liefgeraak asof hy my eie pa is, dink sy. Hy is ’n goeie man, en sy weet hy sal haar beskerm teen Lorenzo.

Sonder verdere teëstribbeling trek sy die klere aan wat sy elke dag op die skip dra. As sy haar hare vasmaak en ’n doek daaroor bind, kan ’n mens haar nie van die res van die bemanning onderskei nie.

Vir die volgende maand vaar hulle van hawe tot hawe. Solita word nie toegelaat om aan wal te gaan nie, maar Lorenzo stuur elke keer ’n groep van die bemanning uit met ’n opdrag waaroor sy nie ingelig word nie. Al wat sy weet, is dat wanneer hulle terugkom, skud hulle hul koppe om Lorenzo te laat verstaan dat die sending misluk het. Dan is hy weer in ’n slegte bui en skreeu en gil hy op hulle totdat die rum sy brein benewel sodat hy vergeet waar hy is.

Jean kry nie veel geleentheid om met Solita te praat in die maand wat hulle so rondsoek na wie weet wat nie. Lorenzo jaag hom elke dag die kraaines in, en daar moet hy dan bly sit totdat dit donker word. Maar hy verduur dit, en Solita weet dat dit ter wille van haar is wat hy dit doen.

As hulle ’n kansie kry, praat hulle oor dinge wat hulle graag wil doen of hê, oor mooi herinneringe of oor plekke wat hulle nog eendag wil besoek. Net vir daardie kort ure voel dit vir Solita of sy nie meer op die skip is nie.

Hulle is op pad terug na Marseilles, en vir die eerste keer in vier weke is dit asof sy weer ’n rede het om te glimlag. Marseilles het vir haar die hawe van hoop geword, want daar het sy al ’n paar mense ontmoet by wie sy kan gaan aanklop vir hulp. Maar sy weet ook dat mense mekaar nie maklik help nie, nie in die wêreld waarin sy leef nie.

Twee dae van Marseilles af skreeu Jean uit die kraaines: “Seil op die horison!”

Lorenzo waggel met die trap op na die agterkasteel, waar hy met sy teleskoop probeer bepaal watse soort skip dit is.

Solita sien hoe hy verstyf, maar sy vra nie vrae nie.

Dis egter Filipe wat fronsend na die kaptein kyk. “Wat is verkeerd?”

“Maak julle gereed. Armand du Bois het ons spoor gekry. Dit gaan geen maklike geveg wees nie, en moet hom veral nie onderskat nie!” Lorenzo kyk om na die bemanning op die dek. “Hys al die seile! Ons vaar met volle seil vir so lank as wat die wind hou!”

Die matrose klouter in die takelwerk op, roep en skreeu op mekaar soos wat hulle die seile verstel om volle gebruik van die ligte wind te kry.

“Watter skip is dit?” roep een van die matrose na Lorenzo.

“Armand du Bois s’n! Die Le Monde!” bulder hy terug.

Daar is ’n doodse stilte. Almal weet wie Armand du Bois is, en almal weet dat as jy ’n seerower is, bly jy uit sy pad.

“Smeer die skip se naam met teer toe!” skreeu Filipe op hulle. “Versteek die vlag in die touekajuit!”

Oral skarrel die matrose soos wat hulle die skip gereedmaak. As dit dan nie vir ’n geveg is nie, vir ’n inspeksie. Du Bois werk nie vir die regering nie, maar die regering laat hom begaan met sy onortodokse manier van dinge doen.

Dis Solita wat met ’n tou oor die rand van die skip gelaat word om die naam toe te verf. Sy werk so vinnig as wat sy kan, want die ander skip is besig om hulle stadig maar seker in te haal. Toe dit binne roepafstand is, is die dek skoon en netjies, en die matrose het hulle so respektabel gemaak as wat hulle onder die omstandighede kon doen.

Hulle is nie meer ver van Marseilles af nie, maar hulle sal die hawe in elk geval nie haal voordat Du Bois hulle inhaal nie.

Solita staan by die stuur saam met Filipe en kyk hoe die Le Monde tot langs hulle seil. Lorenzo het hom uit die voete gemaak, want die moontlikheid bestaan dat Du Bois hom sal herken. Gryphake van Le Monde gegooi hou die twee skepe bymekaar.

Solita se hart klop in haar keel van angs. As die El Querrero se bemanning vandag met Du Bois slaags raak en hulle word oorrompel, gaan sy guillotine toe. Al is sy ’n vrou, sal daar vir haar geen genade wees nie.

Die bemanning van die ander skip staan naby die rand, gereed vir enige gebeurlikheid, terwyl Du Bois en vier adjudante oorkom na die El Querrero. Een ding is seker: die stories oor Du Bois is nie een waar nie, dink Solita. Dis net vrees wat mense daardie nonsens laat kwytraak het, want die man voldoen nie aan die beskrywings nie. Hy lyk nie naastenby oud nie, maar eerder te jonk vir die taak wat hy homself opgelê het. Hy het nie ’n houtbeen nie en ook nie net een oog nie.

Sy sluk swaar van spanning toe Du Bois opklim na die kasteel waar sy en Filipe staan. Daar is ’n doek om haar kop gebind soos wat die matrose dra, en sy bid vurig dat hy nie sal agterkom dat sy ’n vrou is nie. Dit kan sake net vererger.

Roerloos staan sy en wag tot hy by hulle is. Hy bekyk haar fronsend op en af asof hy hom van iets wil vergewis. Nie in haar wildste drome het sy so ’n aantreklike, jong man verwag nie, lank en lenig gebou. Sy hare is goudbruin en met ’n toutjie in sy nek vasgemaak, hy is bruin gebrand deur die son, en sy ligte groen oë … groen soos die deinserige veld van haar tuisdorp. Hy boesem nogtans vrees by enige seerower in, en sy en die bemanning van die El Querrero is nie ’n uitsondering nie.

“Waar is die naam van die skip?” wil hy van Filipe weet, sy oë koud en sy stem emosieloos.

“Dit was die Elena, maar ons het van kaptein verander en hy hou nie van die naam nie.”

“En waar is die kaptein?”

“Ons is op pad om hom in Marseilles te gaan haal.”

Du Bois kyk ’n oomblik lank intens na hom. “Wie is nou die kaptein?”

“Ek neem net waar.”

Solita beheer haar angs met moeite, maar selfs te midde daarvan merk sy die fyn lagplooitjies om Du Bois se oë en die diep lyne langs sy mond. Filipe se stem is effens hees, ’n teken dat hy onder baie groot spanning verkeer.

“Wat is die doel van julle vaart?”

“Om die kaptein te gaan haal, monsieur.”

“En daarna?”

“Ek het nog nie opdragte gekry nie, monsieur.”

Alles gaan nog taamlik goed, dink Solita verbaas, maar sy weet dat ’n mens nooit hierdie man ligtelik moet opneem nie. Hy het al baie seerowers guillotine toe gestuur. As hy haar net nie ’n vraag sal vra nie, sal hy nie agterkom dat sy ’n vrou is nie. Haar stem sal haar verraai.

Sy kan sy blik op haar voel en woordeloos bid sy dat hy nie van haar moet verwag om iets te sê nie. Onder op die dek staan die bemanning gespanne en wag, hulle vlymskerp wapens gereed in die wegsteekplekke. Binne sekondes sal hulle almal gereed wees om te veg as dit sou nodig wees, maar die stilte rek en rek net, en die sweet loop in straaltjies teen hulle nekke af.

Daar het nog ’n hele paar van die Le Monde se bemanning saam met Du Bois op die El Querrero geklim. Dit sal nie so maklik wees om hulle almal te oorrompel nie, want hulle is uitgesoekte vegters.

“Wat was die naam van die skip?” vra hy weer terwyl hy na haar kyk.

Sy wil antwoord, maar geen geluid kom oor haar lippe nie. Sy kyk beangs op, vas in sy groen oë. Sy sien sy hand liggies in sy sy rus in ’n nonchalante houding, en sy sukkel om aan enige woorde te dink om te sê.

“Die Elena,” sê Filipe.

“Ek het hom gevra,” sê Du Bois en wys na Solita.

“Monsieur, hy is swaar van tong, en as hy op sy senuwees is soos nou, kry hy geen woord uit nie.”

Du Bois kyk terug na Solita en daar is net ’n effense glimlag om sy mondhoeke.

“Ek sal nie langer u tyd in beslag neem nie, monsieur. Ons is op soek na die seerowerskip die El Querrero, wat ons gedurig ontglip. Goeiedag.”

Hy draai om en gaan met die trap af tot op die dek. Daar beduie hy aan sy manne dat hulle saam met hom na hulle eie skip moet teruggaan. Net een keer kyk hy om na Solita en Filipe op die agterkasteel. Sy blik rus lank op haar, asof hy haar wil onthou, asof hy haar as die swak skakel beskou.

Solita besef dat hy nie alles geglo het wat hulle gesê het nie, dat hulle vorentoe nog steeds baie versigtig sal moet trap om uit sy kloue te bly. Vandag was hulle baie gelukkig, en sy weet nie hoekom hy hulle laat wegkom nie. Miskien is hy regtig nie seker oor wat om te dink nie … Hoe sal sy weet wat in sy gedagtes omgaan?

Hy kan ook nie weet wat in háár gedagtes omgaan nie, en hoe sou hy voel as hy sou weet dat haar hart sulke wilde spronge gemaak het? Maar nie net van angs nie. Sy wou haar hand uitsteek en net aan hom raak, maar sy moes doodstil bly staan. Sy wou vir hom glimlag en hom laat verstaan dat hy haar hart vinniger laat klop, maar sy moes uitdrukkingloos bly en voorgee dat sy ’n man is.

Vir die eerste keer in haar lewe is daar ’n man wat iets in haar roer, iets in haar losmaak waaroor sy nie beheer het nie. Simon was ’n vriend, ’n maat, iemand wat sy jare lank gemis het omdat hy die enigste goeie iets in haar lewe was. Nou het hierdie man op die horison verskyn, en sy weet instinktief dat sy haarself nooit ten volle in sy teenwoordigheid sal kan vertrou nie. Vir haar is hy baie gevaarliker, want hy het ook die mag om haar na die guillotine te stuur.

Toe hulle wegvaar van die Le Monde, kom Lorenzo weer te voorskyn.

“Jy het jouself vandag bewys, vroumens,” sê hy. “Jy kon ons almal verraai het, maar jy het nie. Miskien kan ek jou tog vertrou.”

Sy antwoord nie. Sy het haar rol gespeel omdat sy self guillotine toe sou gaan as sy dit nie gedoen het nie.

“Solita?” vra Filipe en sy kyk vinnig na hom. “Is iets verkeerd?”

Sy kan nie antwoord nie, net na hom kyk en vurig wens dat sy met hom oor hierdie nuwe, gevaarlike geheim kon praat. Hierdie nuwe emosie brand soos ’n vuur in haar, en daar is niks wat sy kan doen om dit te verlig nie. Filipe kan haar hierdie keer nie help nie, en dis beter dat hy niks hiervan weet nie. Daarom draai sy om en loop vinnig van hom af weg na ’n plekkie waar sy kan gaan sit en nadink oor wat gebeur het.

Nog nooit in haar hele lewe het hierdie gevoel oor haar gekom nie. Sy het altyd gedink sy is lief vir Simon, maar hierdie … hierdie is ’n gans nuwe emosie. Dis so intens dat sy haar onderlip stukkend byt, maar dit nie eens voel nie.

Toe sy haar oë styf toeknyp, pers die trane vanself uit en biggel oor haar wange. Sy laat gly haar vingers oor die skoenriem en knoop om haar nek. Haal dit af en kyk lank daarna, terwyl die ou herinneringe weer terugkom.

Ek is so jammer, Simon, dink sy. Ek het jou nie vergeet nie en sál jou nooit vergeet nie, maar … jy sal altyd net ’n vriend kan wees. Ek verlang verskriklik na jou, want jy het my laat lag en was my beste maat. Jy was iemand saam met wie ek ewig en vir altyd my dae sou wou deurbring, maar ek was nog ’n kind destyds. Ek het toe nog nie verstaan nie.

In haar binneste voel haar hart so swaar soos lood. Dit dreig om alles in haar dood te lê, want op dieselfde oomblik dat sy ontdek het hoe ongelooflik mooi die lewe kan wees, het sy ook besef hoe wreed die noodlot kan wees.

Liefde sonder hawe

Подняться наверх