Читать книгу Geliefde banneling - Annelize Morgan - Страница 3
1
ОглавлениеHulle staan buite die ligkring van die lanterns tussen die bome wat die ruim tuin omring. Niemand kyk juis in hulle rigting nie, hoewel daar tog in ’n groot mate belangstelling in die paartjie is. Die gaste fluister onder mekaar, kyk na mekaar met die soort glimlag wat vertel dat hulle weet wat eintlik agter die hele affêre skuil. Maar, nou ja, almal weet tog waarom Sias Beneke so om Theresa Verhoef draai. Dis geen geheim nie.
Daar is die gaste wat hulle uit simpatie aan die kant van die vaal, teruggetrokke meisie skaar en daar is dié wat die hele petalje as ’n groot grap beskou. Om te raai wat Sias dink, is nie moeilik nie. Hy is ’n harde, gewetenlose man. Met Theresa is dit anders. Sy praat nie oor haarself nie en niemand weet ooit hoe sy oor enigiets voel nie.
Barnard Verhoef, Theresa se pa, loer elke nou en dan in die bome se rigting. Hy luister nie alte goed na wat sy vriende om hom te sê het nie, maar hulle laat hom begaan. Hulle weet baie goed wat ook deur sy kop maal, maar durf nie hulle menings uitspreek nie. Barnard is ’n uiters beduiwelde en invloedryke man hier in die kontrei. Geen man sal dit waag om hom sommer trompop te loop en koelbloedig daarvan te beskuldig dat hy Theresa misbruik nie. ’n Mens doen net nie so iets nie.
Theresa staan met haar blik neergeslaan en luister.
“Ons sal in die herfs trou en dan sal jy nog naby jou ouers wees. Dis tog wat jy wil hê, dan nie?”
Sy knik en sluk hard.
“Ja, Sias.” Sy wil nie vir hom sê hoe sy voel nie. Dit sal tog nie werklik enige verskil maak nie. Hy en haar pa het klaar besluit dat hulle sal trou en daar is net geen terugkeer meer nie.
Hy frons diep.
“Jy kan ’n bietjie meer belangstelling toon, weet jy? Die mense praat al oor die bot manier waarop jy ons verhouding aanvaar.”
Sy haal haar skouers liggies op.
“Ek … kan nie opgewonde raak nie … Jy weet tog hoe ek is.”
Hy sug ergerlik. “Ek weet, ja, en dit is die enigste ding wat my moedeloos maak. Hoe gaan ons ’n sukses van die huwelik maak as jy altyd alles so Stosyns aanvaar?”
“Ek is van jongs af geleer om alles te aanvaar en nooit die oordeel van my ouers in twyfel te trek nie.”
Hy staar haar aan.
“Ek begin dink dat jy geen hart in jou het nie, Theresa. Liewe maggies, wat is dan verkeerd met my? Ander meisies val oor hulle voete om my te plesier en jy sien my feitlik nie eens raak nie.”
Sy draai weg.
“Ek het nog altyd gedink dat twee mense trou omdat hulle mekaar liefhet, maar hierdie is ’n saketransaksie.” Haar stem is plat en bitter. “Ons trou omdat ek ’n groot bruidskat belowe is en in ruil daarvoor verskuif jy die grens na waar my pa dit wil hê. Jy verloor nie veel nie … net ’n bietjie grond.”
Sy gesig kry ’n harde uitdrukking.
“Gaan jy kop uittrek?”
Sy haal diep asem voordat sy antwoord: “Ek is twintig jaar oud en nog nie mondig nie. As ek my pa teëgaan, sal hy my onterf en sal ek sonder ’n heenkome gelaat word.” Sy kyk terug na hom. “Maar dis nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie. Ek het nie ’n keuse nie en dit pas julle uitstekend. Julle sal wen.”
Sias trek ’n gesig.
“Liewe land, maar jy is koelbloedig! Wil jy sowaar vir my sê dat jy hoegenaamd niks vir my voel nie?”
Sy swyg ’n lang ruk voordat sy sê: “Dit sal seker met die jare kom. Geen twee mense wat permanent by mekaar woon, kan onverskillig teenoor mekaar bly staan nie.”
Sy gesig verdonker.
“Nou maar goed, as dit is hoe jy voel, dan sal dit maar so wees. Ek kan ook nie op ’n klip verlief raak nie, en moet dit nie vergeet nie. As jy nie gaan verander nie, gaan jou lewe baie onaangenaam wees.”
Sy haal haar skouers onverskillig op.
“Dit kan my nie skeel nie. Ek het nog nooit juis ’n gelukkige lewe geken nie.”
Hy gluur haar nog ’n paar sekondes swyend aan en stap dan summier van haar af weg.
Theresa byt op haar tande. Ek is nie koelbloedig en gevoelloos nie. Ek aanvaar nie alles sommer maar net nie. Ek het ook verlangens en drome, maar niemand weet daarvan nie. Vir die mense hier is ek net die lelike dogter van Barnard Verhoef, die arme skepseltjie wat darem met haar geld vir haar ’n man sal kan aankeer, dink sy verbitter terwyl sy hom agternakyk.
Sias Beneke is ’n regte haan by die meisies. Hulle is dol oor hom, want hy is ryk en aantreklik. Wat hulle egter nie weet nie, is dat sy rykdom vinnig besig is om te kwyn en dat Theresa sy laaste hoop is om sy prestige te red. Haar pa sal hom ’n aansienlike bedrag betaal die dag wanneer hulle trou en ’n verdere som die dag wanneer sy een-en-twintig is. Dis ’n fortuin. Volgens Barnard Verhoef het sy dan ’n goeie huwelik gedoen en is hy sommer terselfdertyd van sy lelike dogter ontslae. Daarna sal hy sy hande in onskuld was … maar dit weet Sias nie. Ná haar een-en-twintigste verjaardag sal die fonteintjie opdroog en sal die hele Verhoef-fortuin Johannes s’n wees.
Johannes is nors en ontevrede. Hy is omgekrap oor dit wat sy pa in die mou voer. Theresa het hom nog altyd na aan die hart gelê. As broer en suster het hulle dikwels op mekaar se skouers gehuil oor Barnard se onregverdigheid. Hy wil haar nie nou in die steek laat nie, maar daar is ook niks wat hy aan die saak kan doen nie. Sy pa beskou die ruil van sy dogter en ’n klompie duisend pond vir ’n groot, vrugbare stuk van Sias se plaas as ’n goeie transaksie.
Barnard Verhoef is ook nie van plan om alles net daar te laat nie. Hy weet Sias Beneke is in geldelike moeilikheid en as hy sy kaarte reg speel, sal hy sy plaas dalk heeltemal kan inpalm.
Johannes keer sy moeder voor toe sy by hom verbystap.
“Pa gaan die saak deurvoer, Ma.”
Renette knik stadig.
“Dit lyk so. Al my mooipraat het net mooi niks gehelp nie. Hy sal vir Theresa ook in die proses vernietig.”
Johannes frons. “Hoekom is Pa so knaend agter Skoonspruit aan? Sias se plaas is tog nie soveel werd nie?”
Renette kyk vlugtig om haar rond voordat sy antwoord: “Dis oor die goud, Johannes. Sias weet nie daarvan nie en soms voel ek dat ek hom moet vertel, maar … as jou pa dit uitvind …” Sy haal haar skouers op.
“Goud?” Johannes kyk onbegrypend na sy moeder. “Was dit dan prospekteerders wat hy hier gehad het?”
Renette knik. “Sias se plaas grens aan die Blyderivier. Daar is skynbaar meer goud hier as selfs op Pelgrimsrus.”
Johannes haal diep asem.
“Ek dink ons kan daarsonder klaarkom.”
Sy moeder lyk ietwat bekommerd.
“Moenie dat hy agterkom dat jy daarvan weet nie. Ek is veronderstel om die enigste een te wees.”
“Goed, Moeder, ek sal niks sê nie, maar as hierdie ding te ver gedryf word …”
Die ongelukkige blik in Renette se oë laat hom sy sin verkort. Sy loop swyend van hom af weg. Die hartseer bêre sy diep waar niemand kan sien nie.
Dis Nuwejaarsdag in 1880 en op Sonheuwel word die fees voortgesit. Die twee osse braai al drie dae lank aan die spitte en die geur daarvan versprei tot ver in die kloof op. Elke jaar kom die boere van die kontrei hier op ryk Barnard Verhoef se plaas bymekaar om die nuwe jaar in te dans en fees te vier. Barnard is nooit suinig wanneer dit by onthaal kom nie en hy loop en pronk soos ’n pou tussen sy vriende.
Hy het alles wat ’n man kan begeer. Hy het meer geld as wat hy kan spandeer, hy het ’n hardwerkende, lojale seun wat in sy voetspore sal volg, en ’n getroue, voorbeeldige vrou wat hom al die jare nog ondersteun en bygestaan het. Dis net Theresa wat hom hinder. Sy is ’n vaal meisiekind en so skaam dat sy op die vlug slaan wanneer daar vreemde mense aan huis kom. Selfs mooi klere en juwele kan haar nie naby die ander meisietjies bring nie. Dit grief Barnard. Hy het ’n mooi dogter verdien. Hy wou ’n beeldskone dogter gehad het wat sy oogappel kon wees. Hy sou haar kon bederf en haar niks kon weier nie. Maar Theresa …
Van jongs af was dit al duidelik dat sy nie ’n skoonheid sou wees nie. Haar vaal hare het reguit en kleurloos gebly, haar wange bleek, en haar groen oë het nog nooit enige vonkel gehad nie. Sy was oninteressant en het so gebly. Dis ’n jammerte.
Hy loop hom trompop in Theresa vas toe hy by die huis ingaan. ’n Oomblik lank staar hulle mekaar swyend aan en dan sê hy: “Jy kan gerus ’n bietjie vriendeliker wees. Sias is ’n gesiene man in die omgewing en die mense skinder oor jou traak-my-nieagtigheid.”
Die meisie byt op haar tande. “Ek het geen rede om vrolik te wees nie, Pappa. Ek het geen sê in die saak gehad nie.”
Hy frons ergerlik. “Praat jy teë?”
Theresa bal haar vuisies.
Genoeg is genoeg, besluit sy. Ek doen wat hulle van my vra, maar dis nie nodig om gedurig aan my te torring ook nie.
“Ek was nog nooit ongehoorsaam nie, Pappa. Ek het nog altyd gedoen wat julle van my verwag. Laat my nou net met rus!”
Hy knip sy oë ongelowig. “As jy astrant gaan raak –”
“Dit kan my nie meer skeel nie!” roep sy skielik uit. “Dit maak geen duit aan u of enige ander een saak of julle my soos ’n stuk ruilgoed gebruik nie! Ek weet van al Pa se plannetjies om Skoonspruit in te palm! Ek mag lelik wees, maar ek is nie dom nie!”
Barnard snak na sy asem.
“Hiervoor sal ek jou velle van jou lyf aftrek!”
Sy byt op haar tande.
“ ’n Pak slae gaan niks verander nie. Ek is daaraan gewoond. Dit was nog altyd al wat ek van Pa ontvang het! Ek sal my wraak neem die dag wanneer ek met Sias getroud is!”
Hy gryp haar aan die arm.
“Jy sal aan my gehoorsaam bly!” sis hy.
“As ’n getroude vrou sal ek vry van Pa wees!”
“Jy sal doen soos ek sê!” skreeu hy magteloos.
“Nie meer lank nie, Pa,” antwoord sy kalm en in haar groen oë skuil ’n dreigement wat hom ietwat laat terugdeins. Hierdie houding van Theresa was hy nie in sy wildste drome te wagte nie. Sy het hom nog nooit teëgegaan nie. Sy was nog altyd gehoorsaam, en nou skielik … As sy moet uitvind hoekom hy werklik agter Skoonspruit aan is …
“Ek sal later met jou afreken,” sê hy woedend en stap weg.
Theresa haal diep en sidderend asem. Sy weet wat gaan volg, maar sy voel nou beter. Uiteindelik het sy die moed bymekaargeskraap om haar pa die waarheid te vertel. Sy sal die gevolge heeltemal gewillig dra.
Deur die venster kan sy Sias Beneke sien waar hy hom tussen twee meisies bevind. Hy lag opgewek en hulle deel die grappie met hom. Die donkerkop se arm is liefderyk deur syne gehaak. Sy is ’n mooi meisie met donker hare en groot, helderblou oë. In die verlede was daar praatjies dat hy en die meisie sou trou, maar niemand praat meer daaroor nie. Marita Deysel kom uit ’n redelik arm huis, en wat geld betref, kan sy nie by Theresa kers vashou nie.
Theresa trek ’n vies gesig. Sy sou baie graag met Marita wou plekke ruil. Die geld beteken nie meer iets vir haar nie. Dit het haar nou finaal in die ongeluk gedompel.
En Sias? Hy is nog altyd dol op die donkerkopnooi met die heserige stem en sagte, vriendelike lag. Hy kuier nog maar dikwels by haar ouers en Theresa weet dat dit nooit sal end kry nie.
Die Nuwejaarsfees loop ten einde. Teen vroegmiddag begin die eerste gaste al vertrek en voordat dit donker is, het die laaste van hulle ingespan en in ’n stofwolk met die pad na hulle huise verdwyn.
Op Sonheuwel heers ’n gespanne atmosfeer. Renette ken Barnard se befoeterde frons goed genoeg om te weet dat daar moeilikheid aan die broei is. Hy loop soos ’n nors bul om die huis rond terwyl Johannes die laaste werkies vir die dag op die plaas afhandel. Sy weet dat die hare gaan waai sodra Barnard by die deur inkom.
“Jou pa is moeilik vanaand, Tessa,” sê sy terwyl sy en Theresa die skottelgoed opwas. “Moet hom tog nie vanaand in die harnas jaag nie.”
Theresa kyk op na haar ma. “Hy gaan my vanaand ’n pak slae gee soos nog nooit tevore nie en dit kan my nie skeel nie.”
Renette verbleek. “Wat het gebeur?”
“Ek het hom teëgegaan. Ek het hom vertel hoe ek voel oor Sias Beneke en hy het nie daarvan gehou nie.”
Haar moeder staar na haar. “Tessa … hoe kán jy?”
“Hy het my nog nooit soos ’n mens behandel nie. Hy het my aan Sias verkoop en is ek nou veronderstel om dit sommer net so te aanvaar? Ek is nie meer ’n kind nie, Mamma, en die feit dat ek lelik is, is geen rede vir hom om my soos ’n ding te behandel nie.”
Renette kyk af na haar hande.
“Jy is nie lelik nie, Tessa. Daar is meer mooi in jou as in baie van die popgesiggies. Kyk in jou spieël, my kind. Daar is niks lelik aan jou nie.”
“Vir ’n ma sal haar dogter seker maar altyd mooi wees,” antwoord Theresa afsydig. “Daar is niks in my as persoon wat Sias wil hê nie. Wat hy wil hê, word in syfers aangedui.”
Renette sluk hard.
“Jy moenie so praat nie. Hy is ’n aantreklike man en dit sal nie vir jou moeilik wees om hom te leer liefkry nie.”
Theresa lag bitter.
“Hoe raak ’n mens verlief op ’n man wat jou net om jou geld trou? Hy gee nie vir my om nie. Ek is net ’n middel tot ’n doel.”
Die deur gaan skielik oop en Barnard stap by die kombuis in. Sy oë brand op Theresa.
“Ek wil jou alleen spreek.”
Theresa klem die broodmes in haar hand styf vas en toe sy omdraai, kyk sy hom vierkant in die oë.
“Raak aan my en die hele wêreld sal dit hierdie keer weet. Ek gaan nie sonder meer oorgee nie. Ek gaan nie sommer toelaat dat ek soos ’n stuk slagvee verkoop word nie. Tot hier toe het ek stilgebly, maar nie meer nie. Ek het ook gevoelens.”
“Jy sal maak soos ek sê!”
“Barnard …” begin Renette, maar bly dan stil. Praat het nog nooit gehelp nie.
Barnard hoor egter nie eens sy vrou nie. Hy bly net ongelowig na Theresa staar wat hom met blitsende oë aankyk. Het die hasie dan nou in ’n ystervark verander? dink hy geskok.
“Jy gaan net jou eie saak benadeel as jy parmantig met my is,” sê hy skielik kalmer.
Theresa is dadelik op haar hoede. Sy ken haar pa goed genoeg om te weet dat hierdie kalmte van hom gevaarliker kan wees as sy uitbarstings.
“Pa se mag oor my sal eindig die dag wanneer ek getroud is,” sê sy, maar die onsekerheid oor wat hy in die mou voer, knaag aan haar.
“Ons sal sien,” antwoord Barnard Verhoef en draai om om uit te stap.
Renette sluk hard toe sy na haar dogter kyk.
“Ek sou self met hom gaan praat het, kind. Nou het jy alles gaan staan en bederf.”
Theresa haal haar skouers op.
“Erger as wat dit nou gaan, kan dit seker nie, Mamma.”
Hulle voer die gesprek nie verder nie, omdat albei weet dat hulle maar net weer ’n dooie punt sal bereik. Teenoor Barnard Verhoef staan hulle magteloos. Hy is ’n man wat tot elke prys sy sin kry. Ook hierdie keer kan hulle hom nie stuit nie.
Theresa kyk by die venster uit na die nag daarbuite. Sy dink aan haar jongmeisiedrome wat skielik wreed tot ’n einde gekom het. Sias is nou wel ’n aantreklike, gewilde jong man, maar die manier waarop sy aan hom verkoop word, stuit haar teen die bors. Sy sal hom dit nooit kan vergewe nie. En hoe gaan hulle huwelik wees? Sal hy eise aan haar stel waarvoor sy dalk nie kans sien nie? Gaan hy sy rondlopery volhou en haar alleen by die huis laat sodat die skindertonge van die kontrei haar uitmekaar kan trek? Hulle sal haar bejammer en dit sal haar Sias net laat haat.
Sy gaan weer voort met haar takie by die wasbak. Daar is vir haar geen hoop op ’n gelukkige toekoms nie. Haar pa het alle moontlikhede in die kiem gesmoor. Nou wil hy dit selfs verder dryf …
Sonheuwel is ’n groot plaas in ’n skilderagtige omgewing. Dit grens nie aan die Blyderivier nie, maar die loop van die rivier kan van die opstal af gesien word. Verder na die westekant lê Pelgrimsrus knus tussen die heuwels soos ’n nessie in die holte van ’n boomtak. Weerskante van die rivier werk die delwers dag ná dag om die goud uit te haal, te gaan verkoop en die opbrengs dan in die naaste kantien te gaan uitdrink, net sodat hulle die proses môre kan herhaal om sodoende die dag van rykdom met ’n verdere vier-en-twintig uur uit te stel.
Dit hou hulle tog gelukkig … dié agterstevoor manier van lewe. Dit gebeur egter dikwels dat daar ’n rusie onder die klomp uitbreek en dan word daar vuisgeslaan en selfs ook pistole uitgetrek en op mekaar gevuur. Dis ’n goddelose dorp, vertel die mense van die kontrei. Die hotelle word druk besoek en elkeen verbeel hom dat hy waarde kry vir sy swaarverdiende geld. Maar hier word niemand – of baie min – werklik ryk nie. Hulle leef van dag tot dag, van oomblik tot oomblik.
Vir Theresa wat haar lewe op die plaas deurgebring het en baie beskermd grootgemaak is, is die dorp ’n plek vol wonderlike afleidings wat sy moet ontbeer. Sy sien net die uitspattige klere van die meisies raak, die vrolikheid van die delwers, die sorgeloosheid waarmee hulle hul geld spandeer en die traak-my-nieagtige houding van die inwoners. Sias gaan dikwels soontoe en sy beny hom daardie sorgelose vryheid. Hier op Sonheuwel is sy byna soos ’n gevangene en nou gaan sy net van die een tronk na ’n ander oorgeplaas word. Sy sal nooit deel wees van daardie sorgelose lewe nie.
Wanneer sy bedruk voel, gaan sy lang ente ry op die rug van haar getroue perd, Bonita. Dit gebeur al hoe meer dikwels dat sy omgekrap raak, en sedert haar pa haar aan Sias Beneke belowe het, gaan sy feitlik elke dag ry.
Skoonspruit is die enigste plek wat sy soos ’n siekte vermy. Sy wil niks met die mense van daardie plaas te doen hê voordat sy met Sias getroud is nie. Sy sal hulle nie in die oë kan kyk terwyl hulle weet hoekom Sias om haar hand gevra het nie. Dis een vernedering wat sy haarself probeer spaar.
Twee dae ná die rusie in die kombuis kom Barnard die middag van die dorp af huis toe. Theresa is by toe hy aan Renette sê: “Ek hoor op die dorp dat daardie uitlander al weer in die omgewing is. Die een wat hulle soek vir die rowery langs die koetspad.”
Renette kyk fronsend na hom.
“Jy sal versigtiger moet wees wanneer jy dorp toe gaan, Barnard. Jy is baie onverskillig met jou geld. Laat Johannes liewer volgende keer saamry.”
“Ek is nie meer ’n kind nie, Renette,” kap hy teë. “Buitendien sal nog een persoon op my kapkar die bende nie keer nie. Daar is vier van hulle en die een is so koelbloedig soos die ander.”
Renette sidder liggies.
“ ’n Beloning word mos aangebied vir die een wat hom aankeer.”
Barnard trek ’n suur gesig.
“Hulle sal hom nie vastrek nie. Daarvoor is hy gans te geslepe.”
Renette lyk bekommerd.
“Ek hou nie van die gedagte nie. Ons is so afgeleë hier op die plaas en ek het al ’n bietjie gerus geraak sedert hulle die bende die laaste keer uit die omgewing verdryf het.”
Barnard lag bulderend.
“En wat sal hulle nou eintlik hiér wil kom maak? Ons hou tog nie groot bedrae geld hier aan nie. Nee, my vrou, hulle verkies die poskoetse en dié soort dinge wat met baie geld op die dorp aankom.”
Renette glimlag effens. “Ek hoop jy het gelyk.”
Theresa het nie deelgeneem aan die gesprek nie, maar met ’n halwe oor geluister. Sy kan onthou hoe hulle die rowers gejag het. Niemand ken die leier se naam nie. Hy staan net bekend as El Toro. Daar is ’n paar swak tekeninge van hom beskikbaar en dié is oral op die dorp vasgespyker net ingeval iemand die gedugte rower iewers sou herken.
Niemand kyk juis meer na die plakkate nie, omdat hulle al daaraan gewoond geraak het. Nou sal dit anders wees. Daar sal weer groepies uitgaan om na die rowers te soek. Die delwers sal weer snags hul besittings beter bewaak. El Toro het homself die vorige keer met heelwat van die delwers se goud uit die voete gemaak.
Sy glimlag effens. Dit was opwindende dae. Sy het selfs daarvan gedroom dat sy die bendeleier eendag sou ontmoet. Sy wou so graag sien hoe hierdie gedugte man werklik lyk. Hoe lyk iemand wat die poskoets voorkeer, die mense laat uitklim en hulle dan laat deursoek? Hy laat hulle gewoonlik ook kaalvoet voetslaan na die naaste herberg en die perde neem hy vir homself en sy drie makkers. Baie verhale oor El Toro is in omloop en die een wil erger wees as die ander.
“Tessa, ek praat met jou!” dring haar moeder se stem tot haar deur.
Die meisie skrik op uit haar gedagtes.
“Ekskuus, Mamma.”
“Ek wil hê dat jy vandag of môre weer kerspitte moet draai. Ons voorraad kerse is haas op.”
“Dis goed, Mamma.”
Renette frons liggies.
“Ek sal dit ook waardeer as jy nie so baie op Bonita gaan ry nie.” Sy skud haar kop beslissend. “Met daardie rowers in die omgewing is die veld ook nie meer so veilig nie.”
Theresa knik.
“Ek sal maar ’n paar dae lank tuis bly, Mamma.”
“Dankie.” Renette glimlag gerusgestel. Nou sal sy weer kan asemhaal. Sy was bang dat Theresa weer die veld in sal jaag op die rug van haar perd en dat sy dalk die rowers sal teëkom. ’n Mens weet nooit wat om van daardie woestelinge te verwag nie.
’n Paar dae lank gaan dit redelik rustig op Sonheuwel. Teen die middag van die derde dag daag Sias Beneke onverwags te perd op. Hy kry Theresa in die stal waar sy Bonita versorg.
“Ek moet met jou praat,” sê hy en maak homself op ’n hooibaal tuis.
“Waaroor?” vra sy sonder om na hom te kyk.
“Jy weet goed waaroor. Hierdie houding van jou kan nie voortgaan nie. Ons gaan trou en die hele wêreld dink dat jy op pad is na ’n begrafnis.”
Sy aarsel. “Vir my is dit een en dieselfde ding.”
Hy kners op sy tande. “As jy net ’n bietjie wil verander, sal dit ook nie so moeilik wees om die situasie te aanvaar nie.”
Sy draai stadig om na hom. “Jy hoef jou nie meer oor my te bekommer nie, Sias. Daar sal geen troue wees nie.”
Hy knip sy oë verbaas.
“Jy gaan tog nie jou pa se bevele verontagsaam nie?”
“Daar is geen rede waarom ek dit nie sal doen nie. Hy kan my tot voor die kansel sleep, maar hy kan my nie dwing om ja te sê nie.”
Sias skuif ongemaklik rond.
“Luister, meisie, jy kan niks deur so ’n houding bereik nie. Ons kan tog seker tussen ons twee ’n ooreenkoms bereik? Ek weet dat jy my nie kan veel nie en die hele ding gaan nie vir een van ons aangenaam wees nie, maar dis ook nie nodig om onsself te martel nie.”
Sy draai om na hom.
“En wat stel jy voor? Dat ons voortgaan met hierdie gekheid en onsself mettertyd vernietig?”
Hy skud sy kop stadig. “Nee, ons probeer om ten minste van mekaar te hou. Ons kan darem vriende probeer wees.”
Sy bly ’n lang ruk stil voordat sy sê: “Dit lyk vir my asof dit ék is wat die hef in die hand het. Al wat ek moet doen, is om nee te sê.”
“En jouself ’n hele boel onnodige moeilikheid op die hals haal? Dan kan jy maar net sowel nou al jou goedjies pak en van Sonheuwel af padgee, want dit is wat gaan gebeur.”
“Ek het al daaraan gedink en dit selfs oorweeg. Dit lyk regtig asof dit die enigste uitweg is.”
Hy gaan voor haar staan.
“Theresa, luister net ’n oomblik na wat ek te sê het! Jy haat my, maar ons word saam in hierdie klugspel ingedwing! Sonder jou kan ek my plaas nie red nie en Skoonspruit beteken baie vir my. Ek is nie so onnosel om te dink dat jy dit nie weet nie.”
“Jy gebruik my om jou plaas te behou en my pa gebruik my om die strop nouer om jou nek te trek.” Sy skud haar kop stadig. “Nee, Sias, as ek jou hoegenaamd ’n guns wil bewys, moet ek padgee en die troue moet glad nie plaasvind nie.”
“Dit gaan my ruïneer!”
Sy kyk kalm na hom.
“Soos ek my pa ken, gaan hy dit in elk geval doen.”
Hy kyk agterdogtig na haar.
“Wat weet jy wat ek nie weet nie?”
“Ek praat skaars met hom.” Sy draai om en gaan voort om Bonita te roskam. “Buitendien is dit ’n geveg tussen jou en hom met my as julle gemeenskaplike wapen. Wapens dink nie vir hulleself nie.”
Hy swaai haar om sodat sy weer na hom moet kyk.
“Ek gaan nie toelaat dat jou pa my lewe verongeluk nie!”
Sy maak haarself uit sy greep los.
“Jy het geweet hoe hy is voordat jy jou laat ompraat het, Sias. Nou moet jy maar die vrugte van jou voorbarigheid pluk.”
“Julle almal smee ’n komplot teen my,” sê hy skielik kwaad. “Julle staan saam, al haat julle mekaar!”
“Jy praat deur jou nek, Beneke!” sê Johannes skielik van die deur se kant af. Hy stap nader, sy blik stip op Sias. “Wat hier op Sonheuwel gebeur, gaan jou nie aan nie.”
Sias gluur hom aan.
“Ek het ’n reg om te weet as jou pa my in die rug wil steek!”
“Dis ’n kans wat jy uit vrye wil gewaag het.” Johannes beduie deur se kant toe. “Toe, weg is jy! Jy het nie iets hier verloor nie.”
“Ek en Theresa is verloof!” maak Sias beswaar.
“Net in naam, buurman, en moet dit nie vergeet nie.”
“Julle sal weer van my hoor,” brom Sias en laat die broer en suster alleen.
Johannes draai na Theresa.
“Hoekom jaag jy hom nie weg wanneer hy hier kom nie?”
“Hy luister tog nie.” Sy byt op haar onderlip. “Nie een van ons is juis gretig om met die huwelik voort te gaan nie.”
Johannes frons liggies. “Trek kop uit, Tessa, terwyl jy nog kan. Ek en Ma sal jou help as jy wil weggaan.”
Sy kyk met groot oë na hom.
“Julle kan dit nie waag ter wille van my nie, Johannes. Pa sal die lewe vir julle albei baie moeilik maak.”
Hy glimlag. “Ons sal dit oorleef. Dis oor jou wat ek my bekommer. Jy leef hier op die plaas soos ’n kluisenaar. Jy ontmoet nie ander jongmense nie.”
Sy draai weg.
“Ek wil hulle ook nie juis baie graag ontmoet nie. Kyk hoe het dit die dag met die Nuwejaarsfees gegaan. Ek was maar weer alleen soos altyd. Of het jy dit nie eens opgemerk nie?”
Hy sug liggies. “Dis waar jy ’n fout begaan. Daar is jong mans wat jou baie graag wil leer ken, maar jy kruip in jou dop en sien hulle nie raak nie.”
Sy glimlag toe sy na hom draai.
“Moenie so hard probeer om my op te beur nie. Dit sal nie help nie. As jy nou eerlik wil wees, sou jy gesê het dat hulle my uit nuuskierigheid wou ontmoet. Hulle wou sien hoe lyk die arme meisie wie se pa haar in ’n huwelik wil dwing net sodat sy darem ’n man moet kry.”
Hy skud sy kop heftig.
“Jy is onregverdig, Tessa. Jy gee hulle nie die geleentheid om tien woorde met jou te praat nie.”
Sy antwoord nie en gaan swyend voort om Bonita te roskam. Sy hoor hoe Johannes sug en dan ook die stal verlaat.
Sou daar enige waarheid steek in wat Johannes gesê het? dink sy afgetrokke. Kan daar werklik iemand wees wat in haar belangstel? Sy skud haar kop stadig. Deur die jare het sy al gewoond geraak daaraan dat mense haar bejammer. Sy kan dit net nie glo dat daar nog van hulle is wat anders oor haar voel nie.
Dit sal beter wees as sy liewer weggaan na waar niemand haar ken of weet van haar pa nie. Dan sal sy weer kan leer om ander in die oë te kyk. Sy sal kan wees wat sy werklik voel sy is. Sy sal kan wees soos wat sy is wanneer sy alleen is waar niemand haar kan sien nie.
Sy gooi die roskam in die hoek neer. Wat help dit om te droom as die werklikheid so onveranderbaar is? Drome maak haar net ongelukkiger as wat sy reeds is.
Buite het die son reeds agter die horison weggesak en daar is ’n kalm rustigheid oor die plaas. Môre sal net soos vandag lyk en oormôre ook. Geen drome kan dit verander nie.
Sy stap vinnig terug na die opstal om haar moeder in die kombuis met aandete te gaan help.
Theresa bly rusteloos. Sy mis haar daaglikse ritte op die rug van die getroue Bonita. Te voet kan sy ook nie te ver van die huis af dwaal nie. Haar moeder se waaksaamheid maak haar ietwat kriewelrig.
Die Saterdagoggend kan sy dit nie langer verduur nie. Sy laat Bonita opsaal en besluit om net ’n kort entjie te gaan ry. Sy steur haar nie aan haar pa se wilde gewuif met sy arms nie. Sy het lank genoeg hier in die huis vasgekluister gesit en ’n bietjie vars lug kan haar tog geen skade aandoen nie.
Sy jaag al met die kruin van die heuwel langs in die rigting van oom Japie Maritz se plaas. Daar maak sy gewoonlik ’n draai in die koel kloof wat die twee plase skei. Daar is ’n stroompie waar Bonita kan suip voordat hulle terugkeer.
Terwyl sy voortry, kyk sy terloops na die opstal van Skoonspruit en byt op haar tande. Oor minder as ses maande sal sy haar intrek daar moet gaan neem.
Sy spoor Bonita aan om vinniger te ry en swenk spoedig op in die kloof na die waterstroom. Sy sien die twee perde tussen die ruigtes en hou Bonita in. Die een perd is dié van Sias Beneke en die ander is die klein merrie waarop Marita dikwels ry.
Versigtig gly sy van die perd se rug af en stap onseker nader.
Sias kyk op en sien haar deur die struike nader kom. Net ’n oomblik lank skuif ’n ontevrede skaduwee oor sy gesig en dan glimlag hy stadig.
“Kom gerus nader, Theresa,” nooi hy gulhartig sonder om sy arm om Marita se skouers weg te neem. “Het jy dalk na my kom soek?”
Theresa steek vas en staar na hom. Die skok en vernedering om hom só met die ander meisie te sien sit, ruk deur haar. Sy antwoord nie, omdat sy haar eie stem nie kan vertrou nie. Sy bly net na hulle kyk en sy haat hulle triomfantlike gesigte.
Skielik draai sy om en hardloop terug na haar perd terwyl sy Sias agter haar hoor lag. Blindelings en briesend kwaad jaag sy uit die kloof terug na die opstal op Sonheuwel. Sias se lag bly nog lank soos ’n refrein in haar ore opklink.
Halfpad na die huis toe kom sy haar pa teë wat met ’n onweersuitdrukking op sy gesig sy perd inhou.
“Het ek jou nie verbied om alleen op die plaas rond te ry nie?” bulder hy.
Sy ruk die teuels stywer en Bonita steier agteroor.
“Miskien moet Pa maar self daar in die kloof gaan kyk!” skreeu sy ontsteld terug. Die trane brand agter haar ooglede. “Dis alles goed en wel om my soos ’n slagskaap te verkoop, maar is dit nodig om dit so ooglopend te maak!”
Hy keer haar voordat sy wegjaag.
“Wat de duiwel bedoel jy?”
“Pa se oogappel-buurman, Sias Beneke, sit skaamteloos alleen in die kloof saam met Marita Deysel! Of het Pa hom hierdie soort vryhede belowe?”
Barnard Verhoef se kop ruk om.
“Ek het niks van die aard gedoen nie!”
Sy byt op haar tande.
“Julle twee vorm ’n pragtige paar,” sê sy hees. “Julle is voëls van eenderse vere. Niks is vir julle heilig of mooi nie!”
Verhoef se gesig verdonker.
“Wat de joos is dit deesdae met jou, Theresa?”
Daar is net geen keer meer aan haar nie.
“Het Pa dalk jare gelede vir Mamma ook op dié manier gekoop? Was sy dalk tevrede om net deel van ’n koopsom te wees?”
Barnard Verhoef verbleek.
“Ek en jou ma het uit liefde getrou.”
Daar is ’n minagtende glimlag om haar mondhoeke.
“En waarom word ek dit misgun?”
Hy ontplof byna. “Wat verstaan jy van onderlinge transaksies? Ek het jou alles gegee wat ’n dogter maar kan begeer en jy is al twintig en sonder ’n enkele man wat in jou belangstel! Ek kan jou tog nie die res van jou lewe onderhou nie?”
Sy swyg lank voordat sy bitter sê: “Ek is dus net ’n finansiële uitgawe … en ’n ongewenste las vir Pa.”
Hy verstyf. “Dis nie wat ek gesê het nie.”
“Dis wat Pa bedoel het.” Sy kyk weg oor die rante. “Nou goed, ek begryp die situasie … Ek is nie só onnosel nie. Ek sal nie langer hier op Sonheuwel bly nie. Ek sal weggaan.”
“En waar dink jy sal jy heen gaan? Jy is buitendien nog nie mondig nie en tot dan kan jy niks sonder my toestemming doen nie!”
Haar groen oë draai stadig in sy rigting.
“Ek sal ’n heenkome vind … en ek sal nié met Sias Beneke trou net om Pa se bankrekening te verstewig nie. Pa sal nie die goud op sy plaas inpalm nie, want ek gaan dit aan hom vertel!”
Barnard soek nog na woorde toe sy haar perd weer spore gee en by hom verbyjaag af teen die heuwel na die grondpad naby Skoonspruit se grens. Sy kyk nie om toe hy haar probeer terugroep nie; sy hou net aan met ry en rek die afstand ál groter tussen hulle.
Barnard se mond word kurkdroog. Die woede teenoor sy dogter laai koud in hom op. Die belangrikste is nou dat hy Sias Beneke in die hande moet kry en hom goed die kop was oor sy onbesonnenheid. Hy wat Barnard Verhoef is, sal nie so met hom laat speel nie.
Woedend oor hierdie nuwe verwikkeling gee hy sy perd spore en jaag in die rigting van die kloof. Daar is moord in sy gedagtes. Hy kan nie toelaat dat die pierewaaier Beneke sy planne verongeluk, net omdat hy nie sy hande van ’n vroumens kan afhou nie.
Hy kook behoorlik teen die tyd dat hy sy perd aan ’n boom vasmaak en na Sias Beneke begin soek. Hy kom onverwags op hulle af waar hulle onbewus van die wêreld om hulle soet woordjies in mekaar se ore fluister.
“Beneke!” brul Barnard.
Die jong man wip orent asof iemand hom met ’n speld gesteek het.
“Wat maak oom Barnard hier?” vra hy verbouereerd.
Barnard gluur die meisiekind aan.
“Weg is jy, vroumens!”
“Wag ’n bietjie, oom Barnard …” begin Sias, maar sy woorde word kortgeknip deur die ouer man.
“Bly jy maar liewer stil, Sias. Wat ek vir jou te sê het, het niks met hierdie klein flerrie te doen nie.”
Marita wag nie langer nie. Sy het al genoeg van Barnard Verhoef gehoor om te weet dat hy ’n gevaarlike man is as hy kwaad word. Dus draf sy vinnig weg na waar sy en Sias hulle perde in die ruigtes gelaat het.
Barnard kyk na Sias. “En wat beteken dit?”
“Dis nie ernstig nie, oom Barnard.”
“Ek gee nie ’n duiwel om of dit ernstig is nie! Theresa het julle gesien en die duiwel is los!”
“Het sy oom dan gaan vertel? So ’n verbrande klikbek!”
Barnard se oë skiet vuur.
“Luister nou mooi, ou seun, ek wil niks twak van jou kant af hê nie. As Theresa kop uittrek, gaan jy dit berou! Jy sal meer as ek verloor en jy moet dít nie vergeet nie!”
“Ek sal met haar gaan praat, oom.”
“Jy maak ’n gemors van die saak, Sias! Ek sal dit nie duld nie.” Barnard kners op sy tande. “Sy dreig om weg te loop en as dit gebeur, is ons transaksie ook daarmee heen!”
“Sy sal nie wegloop nie, oom. Sy weet mos dat sy nêrens heen kan gaan nie.”
“Ek hoop jy het gelyk, Sias, want as sy dit doen, sal ek haar dalk nie terugkry op Sonheuwel nie.”
Sias glimlag effens.
“Miskien moet oom liewer die wêreld vir haar ’n bietjie aangenamer probeer maak. Dan sal sy nie dreig om weg te loop nie.”
“Hou jou neus uit my sake, Beneke! Ek doen soos ek goeddink op my plaas en ek sal my nie deur ’n bogsnuiter soos jy laat voorskryf nie!”
Sias hou sy hande afwerend omhoog.
“Goed, goed, ek sal niks meer sê nie. Ek sal nou met haar gaan praat. Waar is sy?”
“Ek weet nie,” antwoord Barnard stug. “Sy het soos die duiwel koers gekry die veld in, en ek glo nie sy sal by die huis wees nie. Loop soek haar en bring haar terug, verstaan jy?”
“Ja, oom.”
Barnard draai om om na sy perd terug te stap, maar dan steek hy vas en kyk terug na Beneke.
“Net nog iets, Sias – as jy skelm afsprake met ander dames wil nakom, doen jy dit saans en nie helder oordag nie!”
Sias frons nors. “Nou maar goed dan, oom Barnard.”
Barnard gluur hom nog ’n paar sekondes lank aan en dan draai hy eindelik weg. Hy dink darem dat hy sy saak duidelik genoeg gestel het. Sias sal in sy spoor moet trap as hy nie hierdie kans deur sy vingers wil laat glip nie.
Die volgende probleem wat hy die hoof sal moet bied, is Theresa. Die meisiekind is baie fyngevoelig en dit kan ’n lollery veroorsaak. Hy sal haar moet gaan soek en die saak behoorlik uitpraat. Hy wil nie haar kant van die storie hoor nie; hy wil net absolute gehoorsaamheid op haar afdwing.
Intussen het Theresa die perd al met die grensdraad langs gestuur in die rigting van die Blyderivier waar sy die reeds moeë dier wil laat suip. Daar kan sy besluit waarheen sy wil gaan. Nou moet sy egter net eers ’n rukkie stilsit en nadink oor wat haar te doen staan. Sy weet dat haar pa haar nie by die rivier sal kom soek nie, omdat almal op Sonheuwel weet dat sy Skoonspruit sorgvuldig vermy.
By die rivier gaan sy op ’n klip sit en wag dat Bonita klaar moet suip. Dan neem sy die perd aan die teuels en begin al langs die rivier aanstap weg van Sonheuwel. Die son sit nog hoog en daar is nog baie tyd vir haar om te besluit wat sy eintlik wil doen.
Die enigste gedagte waarvan sy baie seker is, is dat sy nie langer op Sonheuwel wil bly nie. Enigiets sal beter wees as haar bestaan daar. Sy is jammer vir haar ma, maar sy kan nie nou dááraan dink nie. Dis haar eie toekoms en geluk wat op die spel is.
Op Pelgrimsrus wil sy ook nie bly nie. Hier sal haar pa haar nog elke dag kan kom pla en hy sal dit buitendien nie duld dat sy daar woon en die skindertonge aan die gang sit nie. En ver anderkant die grense van Pelgrimsrus? Wat sal sy daar kry?
Sy sug liggies en byt op haar tande. Die wêreld is wyd en groot en dis nie net hier op Sonheuwel waar sy met mense soos Sias en haar pa te doen sal kry nie: hulle is oral. Sy het geen versekering van geluk op enige plek in die wêreld nie.
Theresa klim teen die wal van die rivier uit. Sy moet die soom van haar rytabberd oplig sodat dit nie in die takke verstrengel raak nie. Bonita volg haar rustig en gedwee. Hier en daar vreet sy aan die takkies of gras wanneer Theresa tot stilstand kom om haar tabberd uit die takke los te maak. Dan stap hulle weer verder.
Ver anderkant die bult waaroor sy gekom het, hoor sy haar pa een of twee keer roep en dan is dit stil.
Roep maar, dink Theresa wrewelrig, ek sal nié teruggaan nie. Ek het genoeg vernedering verduur. Julle gaan dit nie langer aan my doen nie. Sy vee die trane met die agterkant van haar hand af. Ek het ook ’n reg op my eie lewe. Ek kan self besluit wat ek daarmee wil maak.
Sy kyk nie om haar rond nie. Die bosse en bome bestaan vir haar nie. Sy is net bewus van die verset in haar en die doodse gevoel teenoor haar pa en Sias Beneke.
“Bly doodstil staan, senorita …”
Theresa ruk orent en kyk vas in die gesig van ’n vreemde man. Sy donker oë is soos stukkies koue oniks. Dis die oë van ’n man wat geen genade ken nie, besef sy dadelik. Sy houding is uitdagend, half geamuseer en half geïrriteer.
’n Koue rilling gaan langs Theresa se ruggraat af. Die noodlot het haar ’n moedswillige streep getrek. Intuïtief weet sy dat die man hier voor haar, die een met die koue gesig en donker oë, El Toro is …