Читать книгу Geliefde banneling - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Dit duur ’n tydjie voordat dit met ’n skok tot haar deurdring dat die man haar nie sommer net so weer sal laat gaan nie. Sy het heel per ongeluk op hulle wegkruipplek afgekom. Sy volgende woorde bevestig net haar vermoede.

“Kom liewer saam met my,” sê hy ietwat bars en beduie vir haar om voor hom uit te loop.

“Waar … waar neem jy my heen?” vra sy effens hees.

’n Glimlag raak aan sy mondhoeke.

“Ek glo nie dit maak eintlik meer saak nie. Toe, stap nou.”

Hy neem Bonita by haar toe sy by hom verbystap. Sy wil nog keer, maar besef goed dat dit nodeloos sal wees.

Skaars honderd tree van waar hulle ontmoet het, kom hulle onverwags op die bende se kamp af. El Toro stoot haar vorentoe toe sy huiwer en sy struikel oor haar voete. Sy gesig bly uitdrukkingloos en nog ’n koue rilling gaan langs haar ruggraat af. Van sy kant af sal sy geen genade kan verwag nie.

Vier mense kyk verbaas na hulle toe hulle die kamp instap. Daar is drie mans en ’n jong vrou. Haar slordige voorkoms en onverskillige houding val Theresa dadelik op. Dit lyk asof die meisie net nie meer omgee wat met haar gebeur nie. Sy sidder liggies en kyk na die ander drie.

Die een is ’n jong seun, moontlik nog jonger as sy self. Die ander twee is in hulle laat dertigerjare, skat sy, en albei so verwaarloos soos die meisie. Dis egter die een met die rooi baard wat haar kriewelrig laat voel. Sy oë lyk asof hulle regdeur haar kyk en die glimlag wat om sy mondhoeke speel, vertrou sy glad nie.

El Toro stamp haar weer vorentoe terwyl hy die jongste een nader roep.

“Neem dié een na die ander perde. Dis ’n goeie, bruikbare dier.”

Die seun knik ywerig en neem Bonita weg.

Theresa se hart klop in haar keel. Wat gaan hulle met haar maak?

“Jerez! Paolo! Kom hier!” roep El Toro na die twee mans wat nog steeds na hulle staan en staar.

Hulle kom lui nader gestap.

“Het jy nou mal geword, Romero? Vir wat bring jy die dorp se vroumense hierheen?”

El Toro gluur hom aan.

“Hou jou mond, Jerez. Sy het per ongeluk op ons kamp afgekom.”

Jerez se oë rek en dan bekyk hy Theresa aandagtig.

“Dis ’n gemors. Jy kan haar nie laat gaan nie en sy is te lelik om prettig te wees.”

Theresa bloos vuurrooi en slaan haar blik neer.

Paolo grinnik breed.

“Nogal ’n skaam een daarby! Ons gaan meer pret hê as wat julle dink!” Hy skater van die lag.

El Toro se koue oë laat sy lagbui verdamp.

“Ek het myself nog nooit aan koelbloedige moord skuldig gemaak nie. Ons sal haar hier vasbind aan ’n boom en môre die kamp verskuif. Dis buitendien op die oomblik te gevaarlik om so naby die dorp te wees.”

Jerez knik instemmend.

“Hierdie kamp het my nog die hele tyd ongemaklik laat voel.”

Die meisie kom ook nou nader en bly net buite die kring mans na Theresa staar. Daar is ’n vyandigheid in haar blik, maar dit lyk nie asof sy Theresa as té veel van ’n gevaar be­skou nie. Dan gly haar blik na El Toro en die uitdrukking in haar oë versag. Vir Theresa is dit nie moeilik om te besef dat die meisie op die bendeleier verlief is nie.

“Vat haar na jou slaapplek, Zeta; ek sal later met haar praat,” sê El Toro en wink sy makkers eenkant toe.

Zeta stamp Theresa venynig in die ribbes in die rigting van haar eie slaapplek onder ’n boom. Daar druk sy Theresa op die grond neer en gaan voor haar staan met haar hande in haar sye.

“Wie is jy?” vra sy bars.

Theresa kyk nie op nie.

“Theresa Verhoef van Sonheuwel. Ons plaas is hier naby. Dit grens aan die plaas teen die rivier.”

Zeta bly ’n rukkie nadenkend staan en dan helder haar gesig op.

“Bedoel jy jou pa is daardie ryk buffel wat teen die bult bly? Die een met die swart hare en die moesie langs sy linker­oor?”

Theresa knik. Wat maak dit saak wie haar pa is? Vir hierdie mense beteken dit tog niks nie.

“Haai! Romero!” roep Zeta skielik na die leier. “Ek dink ons het ’n gansie gevang wat goue eiers kan lê!”

El Toro lyk geïrriteer.

“Jou ligsinnigheid is onvanpas!” snou hy haar toe, maar dit stuit haar nie.

“Haar pappa is skatryk, weet jy? Hy is daardie onbe­skofte Verhoef-skepsel wat teen die bult bly.”

El Toro verstyf en dan kom hy stadig nader gestap.

Theresa kan haar tong afbyt van spyt dat sy ooit gesê het wie sy is. Hierdie mense sal nie verstaan as sy hulle vertel dat haar pa nie ’n dooie duit sal betaal om haar terug te kry nie.

“Praat Zeta die waarheid?” vra hy skielik hier by haar en verslae kan sy net knik. “Kyk na my, vroumens! Ek wil sien of jy lieg!”

Sy kyk op en sidder toe sy agterkom dat sy oë ’n hipnotiese uitwerking op haar het.

“Hoekom sal ek jok? Dit kan my nie juis iets in die sak bring nie.”

Sy oë vernou. “Ons sal sien,” sê hy kalm, maar die dreigement in sy donker oë is onmiskenbaar. “Ek en jy gaan eers ’n bietjie gesels voordat ek besluit of ek jou glo of nie.”

Theresa sug liggies. “Wat maak dit saak of jy my glo? My pa sal maar te bly wees om van my ontslae te wees.”

Sy blik dwaal oor haar skraal liggaam, die duur tabberd van roomkleurige sy, die breë strook Franse kant om haar hals en die stringetjie glimmende pêrels om haar nek. ’n Wrede glimlaggie plooi om sy mondhoeke.

“Ek dink ek weet wat my te doen staan.”

Theresa kyk hom met ’n diep frons agterna toe hy van haar af wegstap. Sy vermoed wat hy beplan, maar sy weet nie hoe sy hom daarvan gaan laat afsien nie. Dit gaan net noodlottige gevolge vir hulle albei inhou. Sy kyk af na die vuil kombers waarop sy sit. Niks maak werklik meer saak nie. Al kom sy hier uit, sal sy nog met Sias Beneke moet trou. Sy sal nog steeds moet voortgaan met dit wat haar pa vir haar beplan het. Nie haar moeder óf Johannes sal iets kan doen om haar te help nie.

Zeta kom weer voor haar staan.

“Jy is ’n snaakse een. Hoekom tjank en pleit jy dan nie? Hy mag dalk net sag raak.”

Theresa kyk op na die meisie.

“En wat sal dit my help? Hy is nie die soort wat sag sal raak nie.”

Zeta lag opgewek.

“Hy is so hard soos klip en so wreed soos ’n gewonde luiperd. Moet hom nie kwaad maak nie. Dit sal jou dae heelwat vinniger laat verminder as wat jy ooit kon droom.”

Theresa sidder liggies. “Wat gaan hy doen?”

“ ’n Losprys eis.”

“My pa sal nie betaal nie.”

“El Toro kry altyd sy sin.” Zeta draai om en stap weg na waar die vier mans druk in gesprek verkeer.

Barnard Verhoef swets dat die kranse antwoord gee. Johannes is bleek en Renette sit en huil. Theresa het spoorloos verdwyn en niemand het haar gesien sedert sy van Barnard af weggery het nie. Elke keer dat hy haar dreigement onthou, word hy van voor af kwaad.

Johannes luister na sy pa se tirade en byt al hoe harder op sy tande. Skielik kan hy dit nie meer verduur nie en draai vinnig om.

“En wat kon sy anders doen as om weg te loop?” wil hy skerp weet. “Hier in dié huis was sy nog nooit gelukkig nie. Dink Pa ek weet nie hoe Pa haar altyd agteraf gedreig het nie? Wat van die kere dat Pa haar slegter as een van die werknemers behandel het? Is sy dan nie julle kind nie?”

Barnard se gesig verdonker.

“Ek het geen kritiek van jou kant nodig nie, mannetjie! Daar is nie nou tyd om verwyte oor en weer te slinger nie! Theresa is weg en ons moet haar opspoor! Ek sal nie toelaat dat sy my op dié manier ontglip nie! Sy sal met Sias trou, al moet ek haar met die sambok na die kerk jaag!”

Johannes kan homself nie meer keer nie.

“Op Sonheuwel word alles met ’n sambok reggemaak, of hoe, Pa? As die boompie nie wil buig nie, word hy afgekap en vuur van gemaak! Van ’n skikking is daar net nooit sprake nie!”

Johannes kners op sy tande en loop die vertrek uit. In hom kook die opstand teenoor sy pa en die omstandighede waarin hy en Theresa grootgeword het. Aan wêreldsgoed het dit hulle nooit ontbreek nie, maar die ander dinge wat tel, was daar net nooit nie.

Barnard draai woedend na sy vrou.

“Jy steek die kinders teen my op!”

Sy sluk ’n snik terug. “Dis nie waar nie … Ek het nog nooit iets van die aard gedoen nie.”

“Hoekom kom hulle dan in opstand?” bulder hy die vraag uit.

Renette kyk af na haar hande waarin sy ’n sopnat sakdoekie vashou.

“Het jy nog nooit die skuld by jouself probeer soek nie?”

Hy gluur haar ’n oomblik lank sprakeloos aan. Hierdie klein, tengerige vroutjie van hom het dit sowaar gewaag om hom te kritiseer!

“Moet my net nie te ver dryf nie, vroumens!” sis hy en klap die deur hard agter hom toe wanneer hy uitstap.

Renette sak bewerig neer in die stoel. Noudat sy alleen is, kan sy terugdink aan alles wat gebeur het, alles wat gelei het tot Theresa se verdwyning. Vir haar was Theresa nog altyd ’n mooi, stil kind; ’n dogter om trots op te wees. Reeds van jongs af was Tessa ’n goedgeaarde kind, iemand wat graag haar besittings met ander gedeel het. Sy was saggeaard, bekommerd oor elke siek skaap of lammetjie. Tessa het ook verlangens en teleurstellings gehad wat veel dieper as die oppervlak gestrek het. Sy kon Tessa se eensaamheid aanvoel, maar daar was niks wat sy daaraan kon doen nie. Die jong mans was hoflik teenoor haar, maar niemand het die ware Tessa ooit ontdek nie. Dis ’n jammerte … Dis so bitter jammer dat Tessa nie mooi soos die ander meisies is nie … dat sy byna lelik is …

Theresa deel in die bende se aandete van hoender wat oor die kole gebraai is en vrank wyn wat in ’n gebreekte koppie geskink is. Paolo en Jerez is in ’n vrolike bui. Hulle lag en gesels opgewek terwyl hulle telkens in Theresa se rigting kyk. Sy kan nie Spaans verstaan nie en dus weet sy nie waaroor hulle praat nie.

Vasco is stil. Daar is ’n ligte frons tussen sy oë en sy jong gesig lyk bekommerd. Telkens vererg hy hom vir dit wat die ander twee kwytraak, maar hy sê niks nie. Hy is die jongste lid van die bende en hy sal dit nie sommer waag om hulle teë te gaan nie.

Zeta het haarself teen ’n boomstomp gemaklik gemaak en sy en El Toro praat in gedempte stemme. Sy lyk ongeërg, maar dit lyk asof iets hom hinder. In die sagte lig van die vlamme is sy oë soos donker skadupoele waarin die lig net af en toe weerkaats.

Theresa beskou hulle swyend. Vir Jerez en Paolo is sy bang. Hulle is die soort mans wat iets net vir die grap sal doen … al is dit ook om dood te maak. Vasco is nog jonk en onseker. Hoe het hy in hierdie nes beland? Hy lyk nie soos een van hulle nie. Hy het nog nie daardie siniese uitdrukking van sy makkers nie. Hy het nog nie genoeg gesien en beleef om hom gevoelloos te maak nie.

Haar blik dwaal na Zeta en ’n ligte fronsie verskyn tussen haar oë. Zeta is min of meer haar eie ouderdom en sy maak geen geheim daarvan dat sy op El Toro verlief is nie. Sy is hard soos Jerez en Paolo; sy is net so gevoelloos soos ’n laksman. Sy het lankal opgehou om vrou te wees. Sy het nog net die lis van haar geslag en haar liggaam.

Sy kyk nie na El Toro nie, omdat sy bang is dat hy haar sal betrap. Sy is geheel en al van sy genade afhanklik. Na wat sy van hom gehoor en gesien het, weet sy alte goed dat daar by hom nie veel sprake van genade is nie. ’n Lewe beteken vir hom niks nie. As haar pa nie die losprys betaal nie, sal hy haar van die gras af maak en ná ’n dag of twee sal hy vergeet dat sy ooit bestaan het. Sy sidder liggies. Hy het al gemoor en hy sal weer moor. Hy ken lankal nie meer so iets soos meegevoel of simpatie nie. Daar is ’n kilheid in sy oë wat haar voor hom laat wegkrimp. Geen pleidooi sal hom ooit roer nie. Haar enigste hoop is om uit sy kloue te probeer ontsnap. Sy sal moet vlug as sy wil bly lewe.

Hy kyk skielik op na haar.

“Paolo neem môre ’n brief na jou pa.”

Sy sluk hard.

“Dis nie die moeite werd om te probeer nie,” sê sy bitter.

Hy frons en staan op.

“En wat bedoel jy dáárby?”

Die dreigement in sy stem laat haar intuïtief terugdeins.

“Dis die waarheid … Hy haat my, omdat ek … lelik is. Hy sal geen moeite doen om my terug te kry nie.”

Hy staan voor haar, sy gestalte toring donker bo haar uit.

“Hy sal betaal, omdat jy sy kind is.”

“Dit het nog nooit iets vir hom beteken nie.” Sy kyk op na hom. “Julle kan my net sowel nou doodmaak, want dit is tog waar dit gaan eindig.”

Sy oë glinster. “Geen pa laat sy dogter sommer net so gaan nie. Selfs al is sy … lelik.”

Die huiwering voordat hy die laaste woord uitspreek, ontgaan haar nie.

“Jy ken nie my pa nie …” sê sy wrang.

Hy frons liggies en sê iets in Spaans aan Paolo wat instemmend knik. Dan gaan sit hy op sy hurke voor haar.

“Ek sal jou nie doodmaak as jou pa betaal nie.”

Sy lek oor haar bolip.

“Hy sal nie betaal nie. Ek ken hom. Hy … het geld uit my probeer maak en nou is ek nie meer by die huis nie. Ek het nou ’n uitgawe vir hom geword.” Die woorde borrel oor haar lippe. Sy praat sag sodat selfs Zeta nie kan hoor wat sy sê nie.

El Toro frons. “Dit lyk nie asof jy juis omgee wat met jou gebeur nie.” Hy klink ontevrede oor haar houding.

“Omdat dit nie meer saak maak nie.” Sy kyk weg na die vuur. “Dalk doen jy my ’n guns deur my om die lewe te bring. Dit sal die einde wees van al die –” Sy breek haar sin stomp af en sluk hard.

’n Lang ruk sit hy doodstil. Dan sê hy: “Ek hou nie van koelbloedige moord nie. Bid liewer dat jou pa nog iewers in hom genoeg gevoel vir jou het om te betaal.” Hy staan op en gaan sluit weer by die ander aan.

Theresa bly kop onderstebo sit. El Toro bedoel elke woord wat hy sê. Haar enigste kans om te bly lewe is as haar pa betaal, en sy weet dat Barnard Verhoef dit nooit sal doen nie. Haar lewe sal tussen hierdie uitgeworpenes beëindig word, maar maak dit werklik nog saak? Haar lewe vorentoe saam met Sias sou ’n groter hel gewees het as dit wat agter haar lê. Daar is vir haar nie ontvlugting nie. Sias sal ook nie betaal nie, omdat hy nie die geld het nie. Johannes is platsak en haar moeder het ook geen geld van haar eie nie.

Sy stoot haar vingers deur haar hare. Al waarop sy nog kan hoop, is dat El Toro die einde genadig en vinnig moet maak. Hy moet dit nie uitrek nie, hy moet dit nie geniet nie. Hy moet dit vinnig en stil maak wanneer sy dit nie verwag nie. Dis al wat sy vra …

Sias Beneke is by die Verhoefs toe die brief afgelewer word. Barnard word krytwit toe hy die paar skewe reëls lees.

“ ’n Losprys!” hyg hy. “Die duiwels wil ’n losprys hê! Theresa is deur El Toro se bende gevang en hulle eis tienduisend pond!”

Sias knip sy oë.

“Liewe maggies! Dis ’n klomp geld om vir die vroumens te betaal!”

Barnard swaai om na hom.

“En wat laat jou dink dat ek gaan betaal?” Hy skud die brief in die lug. “Hulle kan na die duiwel vlieg! Ek het genoeg moeilikheid met daardie meisiekind gehad!”

Sias wip asof iemand hom ’n klap gegee het.

“En wat dan van die troue?” wil hy weet.

“Ek spandeer g’n duit op ’n dogter soos Theresa nie! As jy met haar wil trou, kan jy self die geld bymekaarkry!”

“Waar moet ek dit kry? Oom weet tog dat ek in ’n finansiële verknorsing sit!”

“Presies! Jy het Theresa nodig om weer daaruit te kom!”

“Maar dis onregverdig! Met tienduisend pond kan ek nie veel uitrig nie. Dis al wat ek nog sal hê as ek die losprys moet betaal!”

“Jy sal moet leer om skraps te lewe, my liewe Sias,” antwoord Barnard kalm. “Jy sal nie meer kan koop wat jou oë sien nie, maar jy sal darem ook nie meer skuld hê nie, of hoe?”

Sias staan op en loop rusteloos op en neer in die vertrek.

“Ek weet darem nie of Theresa vir my soveel werd is nie.”

Barnard glimlag effens.

“Ek kan jou uit die moeilikheid help. Ek neem Skoonspruit by jou oor en betaal jou twintigduisend, dan trou jy met Theresa.”

Sias swaai om na hom. “Ek sal Skoonspruit nooit prysgee nie; vir niks nie. Dis ’n erfplaas!”

Barnard steek sy duime in sy onderbaadjie.

“ ’n Erfplaas wat jy so verwaarloos het dat dit nou byna niks werd is nie.”

“Ek sal die helfte aan oom Barnard verkoop,” sê Sias hoopvol.

“Plus Theresa, en jy bemaak jou plaas in jou testament aan Johannes.”

Sias snak na sy asem.

“Dit sal die dag wees! Die plaas sal aan my kinders behoort!”

“As jy dit kan behou,” antwoord Barnard droog.

Die jong man gluur hom aan.

“Oom Barnard, daar sal ’n dag kom dat jy ook op jou knieë sal staan, en ek hoop daar is genoeg mense om jou te skop!”

“Ek sal nie toelaat dat ’n bogsnuiter soos jy so met my praat nie!”

Sias trek sy velbaadjie aan.

“Dan moet jy maar nou al begin soek na ’n geskikte kêrel vir jou Theresa! Ek verkoop nie nog my siel ook aan jou nie!”

“Jy kan nie sonder my geld kop bo water hou nie!” brul Barnard Verhoef vol magtelose woede.

“Dis ék wat my lewe lank met haar opgeskeep moet sit!” skreeu Sias terug. “Dis ék wat saans na haar kamer toe moet gaan! Dis ék wat haar as my vrou aan ander moet voorstel! Twintigduisend is min kompensasie daarvoor!”

“Sy is nie só skrikwekkend nie!”

Sias haal sy skouers op.

“Ek het al baie opwindender meisies ontmoet. Vir nie een van hulle hoef ek my ooit te skaam nie.” Hy stap uit en laat Barnard sprakeloos in die vertrek agter.

Barnard bal sy vuiste. As Sias nie in Theresa belangstel nie, gaan dit ’n groot deel van sy planne verongeluk. Hy wil Skoonspruit bekom en hy kan dit net regkry as Theresa met Sias trou. Op dié manier kan hy die plaas stukkie vir stukkie inpalm. Sias sal nooit ophou om geld uit te mors nie en met Theresa daar, sal hy ’n stewige houvas op Sias kan kry.

Hy vloek binnensmonds. Hoekom moes die meisiekind haarself nou in die gedugte El Toro loop staan en vasloop?

Theresa bring die dag onder die bewaking van Zeta en Vasco deur. Sy kan haarself skaars roer, of die twee is by om toe te sien dat sy nie iets probeer aanvang nie.

Zeta is baie spraaksaam, maar dit help nie om die spanning in Theresa te verlig nie.

“Jy hou nie van El Toro nie, nè?” wil Zeta eenkeer weet.

“Wie hou van die duiwel?” is Theresa se teenvraag.

Zeta glimlag. “As ek jy was, sou ek seker ook so gevoel het. Ek sou dit haat om my einde te sit en afwag.”

Theresa kyk op.

“Hoe … hoe is hy van plan om my dood te maak?” vra sy hees.

Zeta se gesig versag ietwat.

“Miskien hang hy jou op. Dis minder van ’n lyding as die ander metodes. Die maklikste sal wees as hy jou skiet. Dit sal vinnig gaan.”

Theresa verbleek.

“Hy het gesê dat hy nie van koelbloedige moord hou nie.”

Zeta haal haar skouers op.

“Nie as hy dit kan verhelp nie, maar hy kan jou ook nie laat gaan nie. Jy is die enigste een wat weet presies hoe hy lyk en dit geld vir ons ander ook.”

Theresa laat haar kop sak. Zeta praat oor haar teregstelling asof dit haar nie in die minste kan skeel nie. Sou sy dit dalk al vantevore aanskou het?

Haar gedagtes dwaal na die forse leier, die geheimsinnige karakter vir wie almal ’n groot ontsag het. Sy onthou hoe sy lank terug daarvan gedroom het dat sy El Toro ontmoet. Hy het haar nog altyd gefassineer en in haar dae van ver­skriklike eensaamheid het sy drome om hom geweef. Die skokkende werklikheid verdiep net haar gevoel van verlatenheid. Dit wat eenkeer ’n droom was, het nou ’n wrede nagmerrie geword.

“Jy is ’n koddige een,” dring Zeta se stem tot haar deur. “Jy wys nie jou gevoelens nie.”

“Dis iets wat ek gou geleer het om weg te steek.”

Zeta lag. “As ’n mens nie jou gevoelens wys nie, hoe kan ander weet hoe jy voel?” Sy skud haar kop stadig. “Jy moet ’n baie eensame mens wees.”

Theresa se kop ruk op.

“Dit het niks met iemand te doen nie.”

“Huil jy ooit?”

Theresa bloos liggies.

“Net wanneer ek alleen is.”

Zeta klik spytig met haar tong.

“Jy is lelik, maar jou eensaamheid het niks daarmee te doen nie. Kyk na my. My neus is amper plat en my wangbene is te hoog en te prominent, maar dit maak nie saak nie. Mans hou van my, omdat ek wys hoe ek voel. Hulle hou daarvan.”

Theresa knip haar oë.

“Hoekom sê jy dit vir my?”

“Omdat ek jou jammer kry. Jy is bang vir almal en nie net vir El Toro nie.” Sy glimlag effens. “Lank gelede was ek en hy minnaars, maar dis alles verby. Ons is nog goeie vriende en ons hou van mekaar.” Sy aarsel en sê dan: “Maar as hy my die geringste kans gee, dan haak ek hom nader en ons trou.”

Theresa glimlag ten spyte van hoe sy voel.

“Hy sal nie trou nie.”

“ ’n Mens weet nooit nie.”

Theresa swyg ’n paar sekondes en vra dan: “Sal jy dan met hom trou, al het hy al ’n moord gepleeg?”

“Ja …”

Hulle gesprek word onderbreek deur Vasco.

“Hulle kom, Zeta. Jy het nog nie eens begin kos maak nie.”

Zeta staan op en stap weg na die vuur terwyl Vasco haar swaaiende heupe agternakyk. Dan draai hy na Theresa.

“Ek hou duim vas dat jou pa ingestem het.”

Sy glimlag net vaag en dan stap hy ook weg.

Theresa staan stadig op toe El Toro by die kampplek inry. Sy gesig voorspel niks goeds nie en sy sluk swaar. Dan het haar pa geweier …

El Toro gly uit die saal, kyk ’n oomblik lank na haar en kom dan nader gestap. Sy wag hom met ’n kloppende hart in. Wat is die uitslag? Is daar nog hoop vir haar?

“Paolo sal wag op jou pa se antwoord,” sê hy stug. “Hy sal dalk baie laat eers kom.” Hy kyk om hom rond. “Ons sal intussen die kamp begin opbreek. Iemand mag hom dalk net volg.”

“Dan … weet julle nog nie?” vra sy hees.

Hy kyk na haar en ’n glimlag pluk aan sy mondhoeke.

“Nee, ons weet nog nie. Jy sal ’n bietjie langer geduld moet gebruik.”

Haar hand bewe toe sy haar hare uit haar gesig vee.

“Moet … moet my asseblief nie alleen laat nie …”

Sy blik rus ’n oomblik lank ondersoekend op haar.

“Is jy bang?”

Haar oë is vogtig.

“Dis geen skande nie,” fluister sy. “Al is daar niks meer om voor te lewe nie, klou ’n mens tog aan jou eie armsalige bestaan vas …”

Hy byt op sy tande. “Jy raak baie wyshede kwyt vir iemand in jou posisie,” sê hy koel. “Paolo sal voor sononder terug wees.” Hy draai om en stap van haar af weg.

Theresa bly teen die skurwe boomstam leun. Sononder … Dit kan nog ’n lang, uitgerekte wag wees … of dit kan in ’n paar sekondes saamgedruk wees. Dit hang net af van hoe ’n mens dit beskou. As sy net kon ontvlug …

Renette vlug na haar kamer waar sy snikkend op die bed neerval. Barnard, weet sy, gaan nog ’n groot ongeluk oor hulle bring. Hy is soos die duiwel self sedert die brief vanoggend aangekom het. Sy het by hom gepleit en gesoebat om die geld te betaal, maar sy weet nie of sy enigiets vermag het nie.

Johannes wou vanoggend die hulp van die vrederegter op Pelgrimsrus gaan inroep, maar Barnard het gou ’n stokkie daarvoor gesteek. Hy wil self die saak oplos en wil nie die polisie daarby betrek nie.

Nou lê sy en snik terwyl die son in die weste sak. Sy verlang na die stil Theresa, na die dae toe die kind nog ’n klein dogtertjie in haar arms was en sy diep gelukkig was oor haar. Theresa was die een ligpunt in haar lewe en dit het haar hartseer gemaak om te moes kyk hoe die kind gekwyn het onder Barnard se tirannie. Op hierdie oomblik haat sy die man met wie sy al byna dertig jaar saamleef. Daar was ’n tyd toe sy hom liefgehad en bewonder het, maar daardie dae is verby. Soos die ander, vrees sy hom nou … en grens haar vrees aan haat …

Die minute tik verby. Barnard kom nie terug nie. Sou hy dalk besluit het om tog maar die losprys te betaal? Hy kan dit bekostig, want hy is ’n baie ryk man. Met sy gesin het hy nooit ’n toe hand gehad nie. Hy het vir hulle net die beste gekoop, maar het hy nog genoeg gevoel vir Theresa oor om die losprys te betaal?

Dis stil in die kamp. Niemand praat ’n woord terwyl hulle wag dat Paolo moet terugkeer nie. El Toro antwoord Zeta nie wanneer sy met hom praat nie en met ’n skouerop­haling verval sy ook in swye.

Zeta kom sit langs Theresa.

“Hy is selde so befoeterd soos vandag. Tussen alles deur klop daar miskien tog wel ’n hart onder daardie koue uiterlike.”

“Hoekom maak hy ander dan dood?” wil Theresa met ’n fluisterstem weet.

“Om self te kan bly lewe. Hy word dag en nag gejag en net een misstap kan sy lewe kos.”

Dis so ironies, dink Theresa. Hy moor om self te kan lewe en dan vererger hy net sy uiteindelike lot daardeur. Hy wil háár ook doodmaak … ’n weerlose, skadelose, ongelukkige mens. Sal hy beter voel daarna of sal dit hom hinder?

“Sê my, Zeta, waar het dit dan alles begin?”

“O, dit was lank terug. Hy het ’n man doodgemaak uit selfverdediging, maar niemand wou hom glo nie. Hy het uit die tronk ontsnap en sedert daardie dag is hy op die vlug.”

“Wat was hy voordat dit gebeur het?”

Zeta aarsel. “Hy was die seun van ’n gesiene Spanjaard. Dis waaroor die moeilikheid gegaan het. Sy ouers is vermoor en hy wou hom wreek, maar dis ’n lang verhaal en ons het nie nou tyd om dit te bespreek nie.”

Theresa kyk op en sien Paolo van sy perd afklim. Hy stap na El Toro toe en hulle praat ’n rukkie lank in Spaans. Dan is daar skielik ’n stilte. Dis ’n stilte waarin Theresa haar eie hart in haar keel voel klop, die bloed in haar ore hoor suis, want sy weet wat dit beteken.

El Toro kyk na haar en draai dan na Jerez.

“Breek die kamp op. Ons vertrek dadelik.” Hy kom ná ’n kort aarseling na Theresa. ’n Lang ruk kyk hy net na haar en dan sê hy: “Jou pa het geweier.”

Sy sluk hard en word wasbleek.

“Ek het dit vermoed,” sê sy hees.

“Kom,” sê hy bars, “ons gaan waarheen die ander ons nie kan sien nie.” Hy begin wegstap en sy volg hom, omdat sy weet dat daar geen ander uitweg is nie. Sy durf nie omkyk na die ander nie. Sy wil nie hê hulle moet die naakte vrees in haar oë sien nie.

Sy wil weghardloop, maar haar bene wil nie haar verstand gehoorsaam nie. Dan gaan sy skielik staan en onmiddellik draai hy om.

“Jy sou dit makliker gemaak het as jy probeer ontsnap het. Ek het jou die geleentheid gegee deur my rug op jou te draai.” Hy klink omgekrap.

“Ek kan nie weghardloop nie, omdat ek weet dat jy my sal skiet.”

Hy frons diep.

“Dan is ek jammer vir jou, omdat jy dit sal sien gebeur.”

Sy sluk hard en knik. Daar is niks meer om te sê as jy jou eie dood voor jou sien nie. Dan is jou verstand leeg. Niks klink meer belangrik nie. Al wat ’n mens nog sien en begryp, is dit wat hier om en by jou is … Niks anders maak meer saak nie …

Geliefde banneling

Подняться наверх