Читать книгу Gister se verlange - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Dit het pas begin skemer word toe die soldate onverwags by die deftige huis opdaag. Hulle hamer onophoudelik aan die voordeur totdat Gertrude met ’n onweersgesig soontoe draf om oop te maak.

Aan die bopunt van die trap staan ’n jong vrou met ’n ligte frons en kyk na wat in die ruim portaal gebeur. Haar hand druk op haar bors asof sy die wilde klopping van haar hart wil stilmaak. Dis net asof sy dit nie kan aanvaar dat sy nie meer onaantasbaar is nie.

Die prefek van die polisie kom stadig ingestap en steek dan vas toe hy die vrou op die trap gewaar. Hy glimlag en maak ’n diep buiging soos dit hoort.

“Mag ek u ’n oomblik spreek, madame?” vra hy, maar Bérenice weet dat dit nie sal help om te weier nie. Sy vraag klink byna soos ’n bevel.

“U mag, monsieur,” sê sy en gaan hom ietwat teësinnig tegemoet. Wat sou hierdie besoek van die polisie beteken?

Hulle word alleen gelaat in die biblioteek, terwyl Gertrude brom en grom oor die ongepoetsheid van die polisie. Die vier mans wat die prefek vergesel het, bly grinnikend staan asof hulle haar woede terdeë geniet.

In die biblioteek draai die prefek na die jong vrou.

“Die koning se geduld is besig om op te raak, madame.” Sy stem is sag, maar Bérenice merk die dreigement daarin. “As sy kleinniggie het u nou genoeg geleentheid gehad om terug te keer na u ou geloof.”

Bérenice sluk hard.

“Ek het nog nooit gesê dat ek ’n Protestant is nie, monsieur.” Sy wurg die woorde uit en verag haarself oor haar swakheid. Dan gaan haar hande intuïtief na haar buik en sy weet dat sy dit doen net ter wille van Louis en hulle ongebore kind. Dit sal haar vergewe word …

Die prefek glimlag half jammerhartig.

“My liewe madame, u onderskat die polisie. Ons weet baie goed waar u sentimente lê en dit dra beslis nie die goedkeuring van die koning weg nie. Ons het al die bewyse wat ons nodig het om u man dood te maak en u na ’n klooster te stuur.”

Bérenice se keel trek toe. Hulle hoef maar net die huis behoorlik te deursoek. Hier is nêrens ’n kruis of ’n madonna nie. Hulle brand lankal nie meer kerse nie en dis nou drie jaar laas dat hulle by ’n mis was …

“Waarom doen julle dit dan nie?” vra sy hees.

Sy mondhoeke krul na onder.

“Omdat ons die situasie beter kan gebruik.” Hy haal ’n vel papier uit sy sak en vou dit oop. “Dis ’n brief wat deur die koning aan ons gestuur is. Hier staan dit swart op wit: Dit is my wens dat madame Bérenice de Savoye en monsieur Louis de Savoye met rus gelaat word mits my kleinniggie bereid is om my volgende bevel te gehoorsaam, naamlik dat sy aan die polisie die volledige lys van name verstrek van die ander lede van die groep Protestante waaraan sy behoort.”

“Dit sal verraad wees,” sê Bérenice verskrik.

“Dis nie al nie, madame.” Hy lees verder. “Sy moet die volledige lys binne vier dae aan die polisie gee sodat daar teen die ander verraaiers opgetree kan word. Indien sy in gebreke bly om hierdie bevel te gehoorsaam, sal sy en haar man dieselfde straf kry as hulle landgenote wat dit gewaag het om my bevele te verontagsaam.” Die prefek kyk na Bérenice. “U verstaan dus, madame, daar is geen uitweg nie.”

Bérenice is baie bleek.

“Ek verstaan …”

Hy steek die brief terug in sy sak.

“Oor vier dae sal ek weer hierheen kom, madame. Intussen sal u huis dag en nag bewaak word sodat ons seker kan wees dat u nog hier sal wees wanneer ons vir die lys name kom.”

Dis verraad, dink Bérenice toe hy weg is. As sy maak soos die koning van haar verwag, sal sy Louis nog by haar hê, maar sal sy met haar gewete kan saamleef? Weier sy, sal Louis doodgemaak word en sal sy en haar ongebore kind na ’n klooster gaan. Daar sal sy wegkwyn in die koue, donker gange, sal sy die haat en jammerte van die nonne dag vir dag moet verduur.

Louis keer ’n uur later terug en kry haar nog daar in die biblioteek voor die kaggelvuur. Sy sit ineengedoke, haar gesig die kleur van ou klei.

“Bérenice!” roep hy verskrik uit en gaan hurk voor haar. “Wat is verkeerd? Moet ek die dokter laat kom?”

Sy skud haar kop stadig en vertel hom van die besoek van die prefek. Haar oë glinster onnatuurlik toe sy na hom kyk.

“Dis onmenslik, Louis … hoe kan ek ons vriende verraai? Ek wil jou ook nie verloor en my dae in eensame afsondering slyt nie. Wat gaan van ons kind word … ek wil nie eens daaraan dink nie.”

Hy sit sy arm vertroostend om haar skraal skouers.

“Ons sal aan ’n uitweg dink. Dalk kan ons tog ontsnap, en as ons gelukkig is, sal ons die grens haal.”

Sy kyk op na hom.

“Dit beteken ’n seker dood vir jou. Hulle hou die huis dop, en hoe kan ons hiervandaan wegkom? Ek wil jou nie verloor nie, Louis.”

Hy glimlag effens en druk ’n soen op haar voorkop.

“Jy sal nie, my liefste. Ek sal aan jou sy wees wanneer ons uit Frankryk weg is.”

Hy klink so seker van homself dat dit haar vrese ’n oomblik verdryf. Sy slaan haar arms om sy nek en druk haar kop teen sy bors. “Ek het jou lief, Louis.”

Hy streel haar hare sag.

“En ek vir jou, meisie. Ons gaan nie toelaat dat iemand hierdie geluk vernietig nie.”

Dieselfde nag begin dit sneeu. Dit val in groot vlokke uit ’n pikswart hemel, onophoudelik en geruisloos. Dit verdof alle klanke en die mense in die straat beweeg soos skimme onder die lanternligte verby.

Bérenice staar onsiende by die venster uit. Haar kop is teen die koue ruit gedruk en haar asem maak klein wolkies teen die glas. Sy sien nie die sneeu wat teen die ruit opstapel aan die buitekant nie, sy sien nie die skoonheid van die reinwit sneeu op die dakke van die huis en op die bome nie. Haar gemoed is te swaar om nog enigiets te kan waardeer.

Louis kom agter haar staan.

“Alles is gereed, Bérenice.”

Sy kyk vinnig om na hom.

“Ek verstaan nie.”

Sy gesig is somber.

“Die hemele het die sneeu gestuur om ons te help. Op só ’n nag sal die soldate liewer in die warm kantiene wil gaan wegkruip.”

Die skok ruk deur haar.

“Louis … ons kan nie! Ons het dit nog nie eens bespreek nie!”

“Daar is niks om te bespreek nie. Ons gaan nie ons vriende verraai nie. As ons hier bly, sal ek soos ’n slagskaap weggeneem word en sal ons mekaar in elk geval nooit weer sien nie. As ons probeer vlug, het ons nog ’n kans.”

Sy weet dat dit nie sal help om teë te stribbel nie, maar haar verstand wil ook nie aanvaar dat die oomblik nou gekom het nie. Dit is net te skielik … Die baba skop in haar buik en sy pers haar lippe opmekaar. Louis het gelyk … dis die enigste uitweg. Daar ís nog ’n kans.

Die sydeur van die huis is onbewaak en in hierdie gure weersomstandighede is dit ook nie eienaardig nie. Die wind sny deur die smal stegie en verys ’n mens se asem voordat dit behoorlik jou mond verlaat. Dit brand teen jou vel soos vuur en laat jou oë traan. Niemand kan dit vir ’n onbepaalde tyd in hierdie onbehoorlike koue uithou nie.

Bérenice deins half terug toe die windvlaag haar tref. Dan skuif sy die pelskappie verder oor haar gesig, tel die klein bondeltjie klere en kos op en waag dit weer in die koue uit.

Agter haar volg Louis met ’n groter bondel. Hulle praat nie en selfs hulle voetstappe word totaal verdoof in die dik, sagte laag sneeu.

Dit lyk asof die hele Parys vanaand in hulle huise bly. Net af en toe verskyn iemand op straat en dit ook net om ’n paar huise verder weer by ’n deur in te verdwyn.

By die uitgang van die stegie steek Louis en Bérenice vas. Sonder ’n woord druk hy net haar hand liggies en knik met sy kop. Sy glimlag vlugtig, draai om en stap in die straat uit.

Niks gebeur nie. Niemand kom na haar toe of roep na haar dat sy moet stilstaan nie. Sy durf nie omkyk nie, want dan mag sy dalk haar man verraai. Sy dwing haarself om nie te vinnig te loop nie. As sy net die oorkant van die straat kan haal, sal sy al veiliger voel.

Sy het pas by die volgende steeg in verdwyn, toe sy in haar spore omruk.

“Haai! Waar gaan jy heen!” roep iemand, en toe die persoon uit die donker deuringang verskyn, herken sy met ’n sinkende hart die klere van ’n soldaat. Beangs en met kloppende hart wag sy om te sien wat gaan gebeur.

Louis het gaan staan en lig sy hand.

“Ek gaan ’n bietjie warmte soek, ou maat! In hierdie verbrande koue hoort ’n mens nie alleen te wees nie!”

Die soldaat vertrou nie die vrede nie.

“Wie is jy!”

“Garcon Duval!”

Die soldaat stap nader. Hy en Louis staan in die oop straat waar almal hulle kan sien. Hulle praat nou sagter en Bérenice kan nie hoor wat hulle sê nie. Dan sien sy hoe Louis se vuis skielik onder sy wye mantel uitskiet en die volgende oomblik sak die soldaat inmekaar. Hy verspeel nie ’n sekonde nie en kom haastig na haar aangehardloop.

“Dit kon nie anders nie … hy het my herken,” sê hy toe hy haar bereik. “Nou kan ons nie meer terugdraai nie.”

Sonder om hom te antwoord, draai Bérenice om en begin hardloop. Agter haar hoor sy hoe hy hygend op haar hakke volg. Hulle swenk weg in nog ’n smal steeg, en weer en weer, totdat sy later nie meer seker is waar hulle is nie. Veraf hoor hulle die woedende uitroepe van die soldate toe hulle besef dat hulle prooi ontsnap het.

Louis kyk na die bleek vrou hier voor hom.

“Ons kan nie te lank vertoef nie, Bérenice. Binne minute sal hulle oral op straat wees.”

Sy knik net stom.

Hulle vlug in stilte voort deur die smal agterstraatjies van Parys. Dis ’n doolhof van stegies, en wat Bérenice betref, kan hulle net sowel op pad maan toe wees. Sy het geen benul waar hulle hul bevind nie en gehoorsaam Louis se aanwysings blindelings.

Eindelik bereik hulle ’n bouvallige geboutjie en nadat Louis herhaaldelik geklop het, word die deur op ’n skreef oopgemaak. ’n Bebaarde gesig loer uit.

“Mon Dieu!” roep hy uit en maak die deur oop. Hy pluk hulle letterlik by die opening in en druk die deur weer toe. “Monsieur De Savoye! Dan is die honde nou eindelik op julle spoor?”

“Ja, Marcel. Ons moes eintlik eerder al gevlug het, want ek het die gevoel dat dit nou ’n bietjie laat is.” Hy vertel die ou man kortliks wat gebeur het en sê dan: “Ons moet Parys onmiddellik verlaat.”

Marcel grinnik.

“Ons het tog so iets verwag, monsieur?” Hy stap na die hoek van die vertrek en trek twee vuil komberse af van twee langwerpige voorwerpe.

Bérenice sidder liggies. Doodkiste! Is die ou man dan nou van lotjie getik?

Hy merk haar huiwering en glimlag effens.

“Dis ’n redelik veilige manier, madame. Die Franse het darem nog ontsag vir die dooies.” Hy kyk na Louis. “Is u tevrede, monsieur?”

“Daar is geen ander uitweg nie, Marcel. Is alles gereed?”

“Ek sal die perde gaan inspan. Daar is koffie op die stoof en ek dink dit sal ’n goeie idee wees om ’n bietjie brandewyn by te voeg.” Hy trek sy jas aan en maak die buitedeur oop. “Ek is nou terug.”

Bérenice draai na Louis.

“Dis afskuwelik.”

“Dis net tot ons buite Parys is, my skat. Dis nie vir lank nie.”

Sy druk haar hande teen haar wange.

“Jy het alles al gereël gehad?”

Hy knik.

“Ons het tog albei geweet dat dit die een of ander tyd sou kom.” Hy druk haar teer teen hom vas. “Ons was gelukkig om so lank nog in ons mooi huis te kon bly, maar daar sal weer goeie tye kom. Ons is nie heeltemal sonder geld nie. Ek het al die familiejuwele tussen die pels en die mou en soom van jou jas versteek. Daarmee sal ons baie ver kan kom.”

Sy nestel met haar kop teen sy skouer.

“Ek is bang, Louis.”

“Ons kan maar net hoop dat alles goed sal afloop … hoop en bid.”

“As ek nog Katoliek was, sou ek dalk vertroosting gevind het in ’n klein goue kruisie.”

Hy glimlag en streel haar hare.

“Ons is nie Katolieke nie, meisie. Ons vlug juis omdat ons geloof vir ons belangrik is.”

Marcel keer terug en skud die sneeu uit sy jas.

“Is julle gereed?”

Hulle knik net en dan help Louis om die kiste na die lykwa te dra. Bérenice staar na die swart pluime op die koppe van die perde. Lanferdoeke is om die wa gedrapeer en die lanternligte brand flikkerend op die vier hoeke. Eenkant op die sneeu lê die twee kruise wat op die kiste geplaas sal word.

Sy draai sidderend weg. In haar woel ’n nuwe, rein lewe en sy sal soos ’n dooie Katoliek uit Parys vervoer word. Dit grens aan die absurde.

In die stikduisternis van die kis loop die trane oor Bérenice se wange. Sy hoor vaagweg Marcel se geskel op die trae perde. Sy is nie werklik deel van hierdie grusame optog nie. Sy lê nie regtig hier onder die beskerming van die kruis nie. Sy kan dit net nie aanvaar nie.

Hulle word ’n paar keer voorgekeer en dan lê die twee jong mense met kloppende harte en wag dat hulle ontdek moet word. Dan vertrek hulle weer en knaag die angs vir die volgende oponthoud.

Ver buite Parys hou Marcel die perde eindelik in. Die deksels van die kiste word gelig en die twee mense klim stram uit.

“Ek kan julle nie verder neem nie,” sê Marcel verskonend. Hy beduie na ’n gehuggie waar daar enkele lanterns brand. “Julle sal daar skuiling by die herberg kry. Guillaume is ’n vriend van my.” Hy lig sy hand in ’n groet. “God gaan met julle, my vriende.”

Louis en Bérenice kyk die lykwa agterna en skielik voel hulle eindeloos eensaam in die wye, stil nag. Die sneeuvlokke sluk die wa in en dan is hulle alleen met ’n lang pad vol vrees tussen hulle en veiligheid.

’n Week lank vlug hulle snags, en bedags soek hulle enige skuiling waar hulle hul moeë ledemate kan laat rus. Hulle praat baie oor die mooi dinge wat hulle saam geken het en vermy die ander dinge wat seergemaak het. Hulle bou lugkastele en droom groot drome vir die dag wanneer hulle weer vry sal wees.

“Ons sal na die Kaap de Goede Hoop gaan,” sê Louis en glimlag half dromerig. “Hulle sê die son skyn altyd daar. Dis ’n geil, ongerepte land waar ’n mens weer ’n begin kan maak. Dink net, my skat, ons sal ’n eie plaas hê en ek sal wyn verbou soos my voorouers dit gedoen het.”

“Sal dit jou gelukkig maak?” vra sy sag.

“Baie.”

Sy glimlag.

“Dan sal ons saam gelukkig daar wees … ons al drie.”

“As dit ’n seun is, moet hy Louis gedoop word. My pa en my oupa was ook Louis.”

“En as dit ’n dogter is, moet sy Rozanne wees.” Bérenice vat aan die hangertjie om haar nek waarin sy ’n miniatuur-afbeelding van haar moeder dra. “Dit sou my moeder gelukkig gemaak het.”

Hy soen haar vol op haar mond.

“Dan is dit so afgespreek.”

Agt dae lank vlug hulle deur sneeubedekte veld en heuwels. Vermoeienis maak hulle minder oplettend. Hulle soek nie meer skuiling vir elke verbyganger nie. Dis nie meer so ver na die grens nie en hulle drome is nie meer so onbereikbaar soos wat dit voorheen was nie.

Ná ’n paar uur se slaap die aand van die agtste dag, val hulle weer in die pad. Nog net twee dae se stap en hulle sal die grens bereik het. Die nuwe dag bring ’n opgewondenheid in hulle. Nog net twee dae skei hulle van vryheid.

“As ons ’n perd te koop kan kry, sal dit vinniger gaan,” sê Louis, maar Bérenice skud haar kop.

“Ons het reeds besluit dat ons dit nie moet doen nie. Ons kan nie ons drome nóú in gevaar stel nie, kan ons?”

Hy glimlag skeef.

“Jy het gelyk, maar ek hou nie daarvan om jou in hierdie toestand so te sien stap nie.”

“Ek kom reg.”

Dis ’n afgeleë deel van Frankryk waardeur hulle beweeg en dus is hulle ook nie buitengewoon goed op hulle hoede nie. Die omgewing is byna verlate, behalwe vir ’n paar plaashuisies wat wyd versprei lê.

Hulle loop en praat oor hulle nuwe lewe, en toe die vier soldate onverwags hier voor hulle om ’n draai in die smal koetspad verskyn, neem dit ’n paar sekondes voordat hulle hul penarie besef.

Die soldate is eweneens verbaas om iemand te voet in hierdie weer te sien, maar besef baie gou dat die twee net Protestantse vlugtelinge kan wees.

“Bly net waar julle is!” roep die een en die ander lig hulle pistole dreigend.

Bérenice se bene voel lam onder haar. In hierdie wit landskap sal hulle nie ver kan vlug nie.

“Wat is die probleem, monsieur?” hoor sy Louis langs haar vra.

“Wie is julle en waar gaan julle heen?” wil die offisier bars weet.

“Ons is boere en ons gaan vir vriende kuier. Is dit nou so ’n groot sonde?” wil Louis weet.

Die offisier lag.

“Boere? Met daardie deftige pelse? Dink jy nou ek moet jou glo?” Hy kyk om hom rond en dan terug na Louis en Bérenice. “Soek hulle deur, manne!”

Louis aarsel net ’n oomblik. Met ’n skok besef hy dat hy en sy jong vrou nou die einde van hulle tog bereik het. Hy draai om na Bérenice.

“Ek het jou lief … vlug ter wille van ons kind!”

Voordat sy kan antwoord, draai hy om en hardloop na die beskutting van die naaste bome.

“Louis!” gil sy agterna en dan klap die skote. Sy sien hom struikel en handeviervoet tussen die sneeubedekte bome in verdwyn. “Louis!” Nog ’n paar skote klap en dan hardloop sy blindelings na die plek waar sy hom sien val het.

Sy sak in die sneeu langs hom neer. Snikkend draai sy hom op sy rug. Sy oë staar leweloos na die grys lug, na ’n kolletjie ver bokant die wolke waar niemand kan sien nie.

Sy verberg haar gesig in haar hande; haar skouers ruk van geluidlose snikke. Sy wil nie meer lewe nie … sy wil nie die donker toekoms alleen tegemoetgaan nie. Saam met Louis was daar nog hoop, maar nou het alles om haar in duie gestort. Dit was alles tevergeefs.

Bérenice word nie toegelaat om ’n brief aan die koning te skryf nie. Sonder verhoor word sy binne dae na ’n klooster geneem waar die swaar houtdeur finaal agter haar toegemaak word. Vir die buitewêreld bestaan sy nie meer nie. Sy is so goed as dood, want uit dié koue klooster sal sy nooit weer kom nie. Sy sal die daglig nog net deur die smal vensters sien en die drome wat sy en Louis gehad het, sal blote drome bly en ’n stadige dood sterf.

In haar het daar ook iets gesterf. Dis nog net die skoppende kind in haar wat haar daaraan herinner dat daar iewers lewe is. Sy wil die kind haat, maar sy kan nie. Dis ’n stukkie lewe van Louis, dis ’n stukkie van die man wat sy so intens liefgehad het.

Op ’n ysige nag vroeg in Januarie word die baba gebore. Bérenice vergeet vir die oomblik van alles behalwe die pyn wat die geboorte bring en toe dit eindelik verby is en sy uitgeput op die smal katel lê, kom die ander pyn van verlange weer en sy begin onkeerbaar huil.

Dit duur ’n lang ruk voordat sy bewus word van die vrou in die wit gewaad by haar bed. Sy sluk die trane weg en staar na die stil gelaat van die moederowerste.

“Was dit ’n seun of ’n dogter?” vra sy hees.

Die vrou lê haar hand gerusstellend op Bérenice s’n.

“Dis beter dat jy nie weet nie. Jy sal die kind nooit sien nie.”

Nog ’n skok, dink Bérenice dof, en tog kan ek dit nie meer absorbeer nie. Ek sal Louis se kind nooit weer sien nie; dit sal van my weggeneem word soos wat hy van my weggeneem is …

Sy sluit haar oë en die moederowerste se stem dring vaag tot haar deur.

“Jy het ’n groter straf gekry as wat werklik nodig was.” Haar stem is kalm en rustig. “Selfs God kan nie soveel wraak neem nie.”

Bérenice se ooglede fladder oop en sy frons liggies.

“Hoe kan u weet hoeveel straf ek verduur het?”

Die ander vrou glimlag.

“Ek is ook ’n vrou. Ek het ook eens verlangens gehad, maar ek het dit stil gemaak deur al my aandag aan my werk te wy. Tog sluit ’n mens jouself nooit heeltemal af nie. Die geboorte van ’n kind is nog altyd vir my ’n wonder. Dis die grootste geskenk wat God aan ’n vrou kan gee.” Sy kyk weg en ’n ligte fronsie verskyn tussen haar sagte, grys oë. “Ek kan die wette van die land nie verander nie, maar ek kan tog bewys dat God nog barmhartig is.” Sy kyk weer na Bérenice. “Jy het by die geboorte van jou kind gesterf. Die ontberings en uitputting was te veel vir jou. Jou graf sal hier in die kloostertuin wees en niemand sal my woord in twyfel trek nie.”

Bérenice se oë rek groot.

“Gaan … gaan julle my dan doodmaak?”

Die moederowerste skud haar kop vinnig.

“Jy gaan verdwyn en ek sal jou klein kindjie grootmaak. Jy sal weggaan uit die klooster en jy sal ’n nuwe lewe in ’n ander land begin.” Sy byt op haar onderlip. “Jy sal selfs jou jas met die juwele kan saamneem. Daarsonder sal jy nie ver kan kom nie.”

Bérenice lig haarself op haar elmboog.

“Hoekom doen u dit?”

“Miskien omdat ek meer begryp as wat jy dink. Ons is nie van dieselfde geloof nie, maar ek veroordeel jou nie daaroor nie. Dis vir my genoeg dat jy en jou man julle lewens gewaag het ter wille van julle godsdiens. So ’n daad kan ek nie veroordeel nie.”

“En die baba? Mag ek dit dan nie saamneem nie?”

Die moederowerste skud haar kop treurig.

“Dit kan nie gedoen word nie. Rus nou eers. Oor ’n paar dae sal jy sterk genoeg wees om die lang reis te kan aanpak.” Sy staan op en gaan na die deur. “Suster Gabrielle sal jou alles vertel wat jy hoef te weet.”

Dan is sy uit en lê Bérenice alleen in die koue, klam kamer.

Die dae gaan traag verby. Bérenice is dikwels alleen in die kamer en dink na oor alles wat gebeur het. Alles wat sy liefgehad het, moet sy hier in Frankryk agterlaat. Selfs die kind wat sy in haar saamgedra het, sal sy hier moet laat bly. Sy sal alleen haar toekoms tegemoetgaan. Kan sy werklik nog elders geluk vind?

Gabrielle kom die kamer binne. Sy glimlag toe Bérenice opkyk.

“Voel jy goed genoeg om te reis?”

“Só gou al?” Bérenice kyk weg. “Ek het gehoop dat ek my kind net een keer sal sien.”

“Moederowerste doen reeds meer as wat veilig is vir haar.” Gabrielle hang Bérenice se pelsjas oor die enigste stoel in die vertrek en kom dan by die jong vrou staan. “Jy kry geen oefening nie. Hoe kan jy die lang pad aandurf as jy nie gewoond is aan loop nie?”

Bérenice se oë skiet vol trane.

“Sal jy haar eendag vertel wie sy werklik is?”

Gabrielle kyk fronsend na haar.

“Jy praat asof dit ’n dogtertjie is.”

“Ek raai net. Ek wou bitter graag ’n dogter gehad het.”

Gabrielle glimlag effens.

“Ek sal die kind van jou vertel wanneer die tyd ryp is. Dit sal tog niks minder as reg wees nie. ’n Kind het ouers …”

Bérenice glimlag deur haar trane.

“Dankie, Gabrielle … baie dankie …”

Twee dae later neem Bérenice van die nonne afskeid. Hulle het vir haar padkos ingepak en nuwe identiteitspapiere gegee. Nou is sy Bérenice de Villiers. Dit was haar nooiensvan en sy het dit so aanvaar. Met die brief van die moederowerste in haar sak en die klein kruisie om haar nek is sy redelik veilig.

Sy glimlag oor die kruisie. Wat maak dit saak dat sy nie ’n Katoliek is nie? Die simbool van die kruis is nog net dieselfde en dit geld vir almal op aarde. Dit sal haar dra deur die moeilike tyd wat voorlê en haar hoop gee vir die toekoms. Dit sal haar altyd aan die klooster herinner en aan die moederowerste wat haar pyn en angs begryp het.

Sy gee die hangertjie met die afbeelding van haar moeder aan die ou dame.

“Gee dit aan die kind. Dit hoort so.” Sy aarsel en sê dan: “Ek gaan na die Kaap de Goede Hoop. Dit was my en Louis se droom om daar ’n nuwe lewe te begin.”

Die moederowerste knik en neem die hangertjie by haar.

“Mag dit goed met jou gaan, Bérenice.”

“Merci …”

Bérenice draai vinnig om en laat die twee nonne en die moederowerste alleen op die drumpel van die klooster agter. Sy wil nie terugkyk nie. Iewers in daardie groot, koue gebou is haar baba. Nou sal nog net die lang jare van wag kom. Miskien, wie weet, sal haar kind eendag na haar toe kom. Sy sal geduldig wag en altyd bly hoop. Dis al wat sy nog kan doen.

Gister se verlange

Подняться наверх