Читать книгу Somer van die rooi robyn - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Die koetsrit was moordend. Meer as ’n week gelede het hulle uit Toulouse in Frankryk vertrek en selfs voor dit was sy al moeg. Sy het dit nie agtergekom nie, omdat sy besig was om finaal van haar vaderland afskeid te neem.

Toulouse was die laaste groot dorp in Frankryk. Nicole het daar doelloos deur die skilderagtige straatjies gedwaal en gewonder of sy Frankryk ooit weer sou sien. By een van die winkeltjies het sy ’n paar lengtes materiaal gekoop vir tabberds wat sy later kon maak as sy eers in die Kaap van Goeie Hoop was. Daar, weet sy, sou dit moeilik wees om materiaal te bekom.

Twee dae later het die koets vertrek op sy kort tog na die Pyrenees. Sy sal die naam Ax les Thermes nie vergeet nie. Daar het sy finaal van Frankryk afskeid geneem. Dié klein dorpie lê in die hart van die berge en selfs in die middel van die somer is dit koud daar.

Deur ’n asemrowende landskap het die koetspad gekronkel tussen hoë pieke wat altyd ’n sneeumantel het. Toe het die vreemde name begin en het die benoudheid vlak in haar keel kom sit. Puigcerda, Ripoll, Manlleu, Granollers en uiteindelik Barcelona.

Barcelona is ’n groot hawestad aan die Mediterreense See. Die koetsier weet skynbaar waarheen om te gaan, want hy kry koers na die herberg wat sy genoem het sonder om ’n oomblik te aarsel. Elke nou en dan knyp sy haar oë styf toe wanneer hy met die koets tussen die ander rytuie deur vleg. Dit lyk of ’n botsing onvermydelik is, maar dit gebeur nie een keer nie.

Eindelik hou hy voor ’n eenvoudige herberg stil en klim van die koetsbankie af. Hy kom maak vir haar die deur oop en omdat hulle reeds vroeër op die rit besef het dat hulle ’n kommunikasieprobleem het, maak hy dit aan haar duidelik met handgebare dat hulle hul bestemming bereik het. Sy bedank hom in Frans en gee hom sy fooi.

Hy help haar eers die bagasie by die herberg indra voordat hy haar verlaat.

Nicole bekyk die klein, halfdonker ontvangsportaaltjie met ’n ligte frons. Dis heeltemal te stil na haar sin. Waar sou haar ouers wees? En wat het van haar suster, Camille, geword? Dan haal sy haar skouers liggies op en stap na die toonbank om die klokkie te lui. Hulle het seker inkopies gaan doen, besluit sy en skuif die gedagte uit haar kop.

Die hospita is ’n groot, gesette Spaanse vrou, ten volle geklee in swart. Sy bekyk die meisie nuuskierig.

“Kan ek help?” vra sy in Spaans.

Nicole lek oor haar bolip. Sy kon nie verstaan wat die vrou sê nie, maar die bedoeling kon sy raai.

“Ek is Nicole Rousseau, ek soek na my ouers. Hulle het hier tuisgegaan.”

Die hospita knip haar oë.

“Buenos Dios!” roep sy verskrik uit. Dan praat sy verder in gebroke Frans. “Hulle het gister vertrek … U is laat.”

Nicole voel hoe die bloed uit haar gesig vloei. Haar pa en ma en suster het sonder haar na die suidpunt van Afrika vertrek!

Die hospita kyk bekommerd na haar.

“Voel u sleg?”

Nicole vee met haar hand oor haar voorkop.

“Wat gaan ek doen? Het hulle dan geen boodskap gelaat nie?”

Die groot vrou se gesig verhelder en sy skommeldraf na ’n ry vakkies tussen die muur agter die toonbank. Sy bring ’n verseëlde brief na Nicole.

“Dis al wat hulle gelaat het.”

Nicole knik en maak die brief oop.

Liewe Nicole

Ons kan nie langer wag nie. Pappa het reeds vir ons passaat betaal en ons kan dit nie terugkry nie. Ons sou graag met ’n ander skip wou ry, maar nou kan dit nie anders nie.

Pappa het met die kaptein van die El Mar gereël dat jy met sy skip na die Kaap sal kom. Dis die beste wat ons kon doen, my kind. Jy sal net ’n paar dae na ons in Tafelbaai aankom en ons sal jou op die hawe kry. Ek kan nie vir jou sê hoe jammer ek hieroor is nie, maar ek glo dat jy sal verstaan.

Pappa het die hospita, Maria, ook reeds vir jou verblyf betaal. Sy sal jou kan sê waar om monsieur Da Silva te kry. Hy is die kaptein van die El Mar. Sy is ’n baie gawe en hulpvaardige mens. Jy kan enige tyd na haar gaan as jy probleme het.

Ons sien uit na jou aankoms in die Kaap. Ons sal daar vir jou wag.

Liefdegroete,

Mamma

Nicole kyk op.

“Ek moet monsieur Da Silva gaan spreek, madame. Waar kan ek hom kry? Hy is die kaptein van die El Mar.”

Maria staar ’n oomblik lank half onbegrypend na Nicole en dan trek sy opgewonde los in Spaans. Sy beduie en raas en dis duidelik dat sy iets sterk afkeur.

“Ek kan nie Spaans verstaan nie, madame,” sê Nicole uiteindelik beleefd.

Maria se woordevloed breek stomp af.

“Hy is ’n wilde een, señor Da Silva, señorita. U moet liewer op ’n ander skip gaan. Dis te gevaarlik vir ’n jong meisie alleen saam met hóm op ’n skip vir so ’n lang tyd.”

Nicole voel hoe sy koud word.

“My vader het reeds vir my reis betaal, madame. Ek … móét met die El Mar reis.”

Maria skud haar kop afkeurend.

“Señor Rousseau het na ’n goeie man gelyk. Hoe kón hy so iets aan u doen?” Sy maak die teken van die kruis voor haar bors. “Ek kan julle Franse ook nie aldag verstaan nie. ’n Jong meisie behoort ten alle tye van ’n duenna vergesel te wees, maar u vader stuur u na die Kaap op ’n reis saam met iemand soos Ramirez da Silva! Mag die gode u goedgesind wees, señorita. U sal die geluk nodig hê wat na u kant kom.”

“My vader is nie ’n onverantwoordelike man nie, madame. Hy sou tog sekerlik eers met die kaptein onderhandel het?”

Maria lag.

“O ja, Da Silva sal onderhandel, daarvan kan jy seker wees, maar niemand sal weet wat in daardie bose agterkop van hom aangaan nie. Hy is ’n duiwel uit die warmplek, señorita. Hy is nie ’n man sonder aansien nie en dit maak hom nóg gevaarliker. Daar is nie ’n deur wat vir hom gesluit bly nie en nie ’n moeder in Spanje wat nie graag haar dogter met hom getroud sal wil sien nie.”

Nicole glimlag goedig vir die Spaanse vrou.

“Dan kan hy nie heeltemal so sleg wees nie.”

Maria skud haar kop heftig.

“Nee, hy is nie sleg nie, maar hy is ’n man wat kanse waag en daarmee wegkom. Hy is so glibberig soos ’n paling.” Sy maak weer die kruis voor haar bors.

Teen hierdie tyd is Nicole se nuuskierigheid meer as net ’n bietjie geprikkel. Da Silva moet voorwaar iemand heel besonders wees. Sy weet dat sy baie waag om saam met so ’n berugte man so ’n lang seereis te onderneem, maar sy het geen keuse nie. Buitendien sou haar vader haar nie aan die sorg van ’n beginsellose plesiersoeker oorgelaat het nie. Sy weet dat sy op haar pa se oordeel kan vertrou.

“Ek sal nou maar eers na my kamer gaan en ’n bietjie rus, madame. Dit was ’n vermoeiende rit hierheen en daar lê nog baie vir my voor.”

“Daarvan kan jy seker wees,” sê Maria met ’n donker stem. “Maar kom, ek neem jou na jou kamer.”

Toe sy eindelik weer alleen is, dink Nicole na oor wat die hospita gesê het. Hoewel sy op haar pa se oordeel kan vertrou, voel sy tog onseker oor wat haar te doen staan. Sy weet sy behoort nie te reis met ’n man wat Da Silva se reputasie het nie, maar miskien moet sy hom eers gaan besoek en dan self oordeel wat sy moet doen. Sy kan Da Silva altyd ’n brief gee om aan haar ouers te oorhandig, sou sy besluit om nie saam met hom te gaan nie.

Nicole skrik die volgende oggend baie laat eers wakker. Die hospita het haar maar laat slaap. Die reis na Barcelona was erg vermoeiend en sy weet dat die meisie baie moeg moet wees.

Nicole was haar gesig en hande omdat daar geen ander geriewe in die kamer is nie en trek dan ’n tabberd van donkergroen fluweel aan. Sy wil goed lyk wanneer sy die berugte Da Silva vandag ontmoet. Hy moet weet dat sy nie sommer ’n gewone meisie is nie. Sy wil hom nie die gedagte gee dat hy met haar ook kan maak wat hy wil nie. Sy sal hom koel en uit die hoogte behandel en dit behoort hom gou op sy plek te sit. Indien sy sou besluit om saam met hom te reis, kan hy haar ook nie weier nie, want haar reisgeld is reeds betaal.

Die hospita kyk verbaas na Nicole toe die meisie later in die eetkamer haar verskyning maak.

“U is uitgevat vir ’n feestelike geleentheid, señorita,” merk sy op terwyl sy haar blik oor Nicole se keurige voorkoms laat dwaal. Die groen tabberd met die roomkleurige kantafwerking komplementeer die heldergroen van die meisie se oë en bleek gelaat.

“Ek wil na monsieur Da Silva gaan, madame.”

“Jy soek moeilikheid,” sê Maria somber. “Hy is by sy villa buite Barcelona. Die El Mar vertrek eers oor twee dae uit die hawe en hy bly gewoonlik daar tot die dag voor sy vertrek. Ek sou jou aanraai om liewer ou klere te dra en nie so mooi te lyk nie, of het jy vergeet wat ek jou gister vertel het?”

Nicole skud haar kop laggend.

“Nee, ek het nie vergeet nie, maar ek voel dis beter dat ek die kaptein op gelyke voet ontmoet. Ek is nie van plan om onderdanig aan hom te wees nie.”

Maria skud haar kop.

“Hy dwing almal om onderdanig te wees. Hy het ’n magnetiese persoonlikheid, señorita, maar jy sal dit self uitvind. Jou bravade sal soos mis voor die son verdwyn as jy hom eers van aangesig tot aangesig ontmoet.”

“Ons sal maar sien wat gaan gebeur, madame.”

Na ontbyt stuur Maria die herberg se koets na die voordeur en Nicole klim in. Dan vertrek hulle na die Villa El Toro waar Da Silva tuisgaan.

Terwyl hulle deur die besige strate ry, verkyk Nicole haar aan die Spanjaarde in die strate. Die getroude vroue is almal in swart geklee. Dis ’n eeue oue tradisie onder die Spanjaarde, want hulle glo dat die getroude vrou nou vir die samelewing en vir die jongmans ’n taboe is. Dis net die jongmeisies wat mooi aangetrek is en dan is hulle deurentyd in die geselskap van ’n duenna.

Spoedig verlaat hulle Barcelona, maar nie ver van die laaste huise af nie draai die koetsier by ’n groot, witgekalkte hek in.

Nicole kyk met nuwe belangstelling na haar omgewing. Verder teen ’n skuinste kan sy die wit villa sien wat soos ’n pêrel in die groen omgewing lê. Dit moet ’n pragtige uitsig oor die see en die hawe hê, besluit sy. Van daar kan sy dalk Mernorca sien.

Voor die deur word sy deur ’n lakei ontmoet wat haar na binne neem. Die hoofbediende neem haar na ’n klein vertrekkie terwyl hy sy meester in kennis stel van haar aankoms.

Terwyl Nicole op Da Silva wag, kyk sy in die vertrek rond. Daar is pragtige skilderye teen die mure en kosbare tapyte uit Persië op die vloer. Die man het duur, maar goeie smaak, besluit sy. Daar is skielik net ’n klein bietjie onsekerheid in haar. Hoe ’n soort man is hy werklik? wonder sy. Sal sy haar man teen hom kan staan, of moet sy maar liewer na ’n ander skip gaan soek? Sy het genoeg geld om vir die reis te betaal. Sy het in die verlede al met Franse edelmanne te doene gehad en dit was nie moeilik om hulle op gelyke voet te ontmoet nie. Nou is daar skielik ’n bietjie twyfel by haar nog voordat sy Da Silva gesien het.

Dis dalk die huis wat so oorweldigend is, dink sy. Dit maak haar effens senuweeagtig om hier tussen al die weelde te wees en te weet dat sy dié man netnou van aangesig tot aangesig sal ontmoet. Dis haar taak om hom te laat verstaan dat sy nie nóg ’n jongmeisie is wat vir hom gaan val nie.

“Dis ’n aangename verrassing, señorita,” sê ’n manstem skielik agter haar.

Nicole draai nie dadelik om nie. Sy stem is diep en klankryk, fluweelsag, maar met daardie onmiskenbare klank van gesag daarin. Nog voordat sy omdraai, weet Nicole dat ’n moeilike taak vir haar voorlê.

’n Oomblik lank staar sy hom net aan en dis meer van verbasing as van ’n gebrek aan woorde. Hy is lank, lenig gebou en besonder aantreklik. Sy gesig is bruingebrand deur voortdurende blootstelling aan die son, sy oë donker en geheimsinnig. Hy het nie eens sy baadjie vir die geleentheid aangetrek nie, maar staan heeltemal op sy gemak voor haar geklee in ’n nousluitende swart broek, stewels en ’n haelwit wyemouhemp. Sy hand rus elegant op die hef van sy swaard aan sy sy. Om sy mondhoeke speel ’n geamuseerde glimlag.

“Is u monsieur Da Silva?” vra sy eindelik en daar is nie die koelheid in haar stem wat sy graag daarin sou wou hê nie.

Sy glimlag verbreed effens.

“Dit is ek. En u is señorita Nicole Rousseau?”

Sy knipper haar oë toe hy haar naam prontuit noem. Dis nie die gebruik in die Franse kringe om ’n dame by die eerste ontmoeting op haar voornaam te noem nie.

“Dis korrek, maar u bediende het u seker gesê wie ek is.”

Hy skud sy kop en stap na ’n tafeltjie waarop ’n kraffie wyn en glase staan.

“Ek vind dit vervelig om voor die tyd te weet wie ek gaan ontmoet,” sê hy terwyl hy wyn in twee glase skink. “Pablo het opdrag gekry om my nooit te sê wie op my wag nie.”

Sy lig haar wenkbroue.

“Is dit die rede waarom u so informeel geklee is?”

Hy lag toe hy omdraai en haar ’n glas wyn aanbied.

“In my huis doen ek soos ek goed dink, señorita Nicole. Al was dit ook koning Philippe wat hier op my gewag het, sou ek nie die moeite gedoen het om my voorkoms te verander nie. Nou, waarmee kan ek help?”

Haar hart bons in haar keel. Hoe moet sy nou haar probleem aanvoer? Sy weet intuïtief dat dit nie sal help om van hierdie man weg te hardloop nie. Hy sal ook weet hoekom sy nie saam met hom wil gaan nie en skielik kan sy die gedagte dat hy vir haar moet lag, nie verdra nie.

“My vader het vir my ’n plek op u skip bespreek tot in die Kaap, monsieur.”

Hy glimlag effens.

“En u sou verkies om nie te gaan nie, want teen hierdie tyd het u sekerlik al van my reputasie gehoor?”

Nicole bloos bloedrooi.

“Dis korrek, ja.”

Hy lag sag, ’n eienaardige lig in sy donker oë.

“U is skokkend eerlik, señorita.”

“U ook, monsieur.”

’n Oomblik lank kyk hy ondersoekend na haar.

“Dit gaan ’n interessante reis wees,” sê hy dan. “Ek hou van lewendige vroue.”

Nicole voel terselfdertyd gevlei en ontsteld.

“Ek gaan op die reis om in die Kaap te kom en nie om u geselskap te hou nie, monsieur,” sê sy koel.

“Ek het van die Franse hooghartigheid vergeet,” sê hy ongeërg. “Net soos u verkies, señorita.”

Nicole voel skielik verward. Sy wil haar afsydigheid behou en terselfdertyd is daar by haar die begeerte om alle mure tussen haar en hierdie indrukwekkende man af te breek. Sy moet hom uit die hoogte behandel en tog wil sy ook hê dat hy haar as iemand spesiaal beskou. Dan dink sy aan wat die hospita gesê het en sy staal haarself teen sy oorweldigende sjarme.

“Wanneer vertrek u skip?” wil sy weet.

“Vrydagoggend.”

Sy haal diep asem.

“Ek sal daar wees, monsieur, omdat my ouers my op u skip verwag.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Ek sal u reisgeld aan u terugbetaal as u dit so wil hê, señorita. Oor ’n maand vertrek daar weer ’n skip uit Barcelona en dan kan u daarmee na die Kaap reis.”

Sy aarsel net ’n oomblik lank. Dan skud sy haar kop.

“Ek kan nie nog só lank wag nie.” Dan kyk sy op na hom. “Ek vertrou my vader se oordeel, monsieur, ek is seker dat u nie sy vertroue sal wil verloor nie.”

Hy skink haar glas weer vol terwyl hy geamuseerd lag.

“Ek het baie vyande, señorita, omdat ek baie mense se vertroue al geskok het. Ek het u vader niks anders belowe as om u met my skip te laat reis nie. Dis nie ’n passasierskip nie en ek het hom met ander woorde ’n groot guns bewys.”

Nicole word yskoud. Hy ontken dat hy haar vader enigiets belowe het, maar sy weet ook nie wat tussen die twee gesels is nie. Haar pa moes tog vertroue in hierdie man gehad het, anders sou hy nie toegelaat het dat sy saam met hom Kaap toe gaan nie.

Hy kyk ondersoekend na haar toe sy niks sê nie.

“Hoekom het u so lank geneem om hier te kom, señorita? Het u alleen gereis?”

“Die koets waarmee ek gereis het, het twee keer gebreek en daarom is ek laat. In Toulouse moes ons ’n hele paar dae oorstaan. Wat die laaste deel van u vraag betref, ja, ek het alleen gereis.”

Dit bring weer ’n flikkering na sy donker oë.

“As jy my dogter was, sou ek twee duennas met jou saamgestuur het.”

“Ek is nie u dogter nie, monsieur.”

Hy lag.

“Dank die hemel daarvoor! Nou goed, die skip seil om tienuur die oggend uit die hawe. Sorg dat u en u bagasie om seweuur by die loopplank is.”

Sy kyk met ’n ligte frons na hom, onseker van wat om te doen.

“Is dit ’n bevel?”

“Ja, ek sal sonder u vertrek en dit sal my nie in die minste hinder nie.”

Sy staan op en sit haar glas wat nog half vol wyn is op die tafeltjie neer.

“Dit glo ek goed, monsieur.”

Hy glimlag.

“Dan verstaan ons mekaar. Net nog een ding … u kajuit sal reg langs myne wees. Dis dalk ’n goeie idee om dit deurentyd gesluit te hou. So ’n reis kan lank en eensaam vir ’n man word en daarby bedoel ek nie net vir myself nie. Buiten twee ander vroue, sal u die enigste aan boord wees.”

Nicole sluk.

“Dankie dat u my gewaarsku het.”

Hy stap saam met haar na die voordeur en stuur sy bediende om die koets te gaan haal. Dan draai hy na Nicole.

“U koets het reeds vertrek en ek stuur u met my private rytuig terug na Barcelona.”

Sy kyk onbegrypend na hom.

“Maar ek het die koetsier dan gesê om te wag!”

Hy lag sag, geheimsinnig.

“En ek het hom teruggestuur. Ek het verwag dat die onderhoud effens langer sou duur.”

Nicole se hart klop swaar in haar keel. Op hierdie oomblik sien sy glad nie uit na die reis na die Kaap nie. Dit gaan ’n moeilike reis wees en dit gaan byna onmoontlik wees om Da Silva altyd te vermy.

Sy rytuig hou by hulle stil en hy help haar in die koets. Die aanraking van sy hand stuur ’n ligte rilling langs haar ruggraat af. Dan ruk sy haarself reg. Hy is ’n man in elke sin van die woord en sy mag nie haar hart laat voorskryf nie. Vroue beteken vir hom bloot plesier en hy sal haar net as nog ’n oorwinning beskou.

Sy groet hom koel en dan vertrek die rytuig. Nicole steel ’n kykie terug na die pragtige villa en sien hom nog daar op die onderpunt van die trap staan, terwyl hy die koets agterna kyk. Sy wens sy weet wat in sy gedagtes omgaan. In haar eie is daar net verwarring.

Op pad terug probeer sy haar gevoelens ontleed, maar sy kan nie. Hy is vreemd en enig in sy soort. Sy kan die beeld van sy aantreklike gesig, die vreemde vonkel in sy donker oë nie uit haar gedagtes verban nie. Ramirez da Silva is ’n man vol teenstrydighede, besluit sy. Hy is sjarmant, maar sy weet ook dat hy gewetenloos kan wees. Daar is ’n gevoel van mag omtrent hom wat sy nie kan verklaar nie. Hy laat almal om hom nietig en onbelangrik lyk. Sy verstaan nou wat Maria bedoel het toe sy gesê het dat die man ’n magnetiese persoonlikheid het. Sy was die hele tyd intens bewus van hom en sy weet dat sy dieselfde sou gevoel het al was die vertrek vol ander mense. Hy vul ’n geselskap met sy teenwoordigheid al praat hy nie ’n woord nie.

Sy sit terug teen die sagte kussings en maak haar oë toe. Hoe lank sal die reis duur? Twee maande? Drie maande? En elke dag sal sy hom sien en sal sy sy stem hoor. Skielik is die gedagte daaraan nie meer vir haar so skrikwekkend nie. Dit is amper asof sy na die reis uitsien.

Nicole skrik vir haar gedagtes. Hy het elke vrou aan sy voete en hulle val oor mekaar om sy guns te wen. Gaan sy haarself nou by hulle geledere voeg? Sy sit regop. Sy sal haar teen sy sjarme moet staal en haar afsydig teenoor hom moet hou as sy nie ’n gek van haarself wil maak nie.

Maria staan handewringend voor die herberg se deur. Sy keer Nicole voor toe die meisie na haar kamer wil gaan.

“Ek het my asvaal geskrik toe die koets sonder jou hier aankom! Jy moes nooit na hom toe gegaan het nie! Hy sal jou goeie reputasie groot skade aandoen en dan sal ek my dit tot die dag van my dood verwyt.”

“Daar is niks om bekommerd oor te wees nie, madame. Die skip vertrek Vrydagoggend en ek sal daar wees, omdat my ouers my op die El Mar verwag.”

“Ag dierbaarheid, is daar niks wat ek kan doen om jou te keer nie? Jou pa het so ’n goeie man gelyk en as jy iets moet oorkom op daardie skip …?” Sy bly betekenisvol stil.

“Ek sal niks oorkom nie, madame,” sê Nicole gerusstellend. “Kaptein Da Silva en ek verstaan mekaar goed. Hy sal niks waag nie.”

Maria gaan die herberg binne met Nicole kort op haar hakke.

“Jy ken hom nog nie, kind. Hy sal jou sag maak en dan sal hy maak wat hy wil. Hy is nie ’n man wat sal trou nie, maar hy ontsê homself ook nie die voorregte van ’n hofmakery nie.”

“Watse voorregte, madame?”

Maria kyk met groot oë na Nicole.

“Hy sal aan jou raak en nie sy afstand behou nie!”

Nicole glimlag.

“Hy het aan my geraak toe hy my in die koets gehelp het en ek het niks daarvan oorgekom nie.”

Maria snak na haar asem.

“Ek het jou gesê hy ken nie sy afstand nie. Dis ongehoord vir ’n man om aan ’n meisie te raak voordat hy die goedkeuring van haar ouers het!”

“Dis anders in Frankryk, madame. Ons is nie so streng daar nie.”

“Maar hierdie een is wild, kan jy nie verstaan nie? Hy sal jou selfs probeer vasdruk as jy nie baie versigtig is nie.”

“Dit sal nie gebeur nie, madame. Ek sal nie een van sy oorwinnings wees nie.”

Maria lyk nie beïndruk nie.

“Dit sal ons maar eers moet sien. Da Silva sal nooit verander nie. Hy is ’n aantreklike derduiwel en hy het blou bloed in sy are. Dit maak hom onweerstaanbaar vir vroue. Die pragtige Franscesca de Cabreira was sy laaste slagoffer. Sy is die dogter van ’n gesiene man en almal het gedink dat Da Silva nou uiteindelik ’n vrou sou vat, maar hy het nie. Hy het net weer ankers gelig en ons het hom vir langer as ’n jaar nie gesien nie.” Sy skud haar kop. “Hy verkies sy vryheid en daardie ewe wilde Consuelo wat gedurig in sy nabyheid is.”

Nicole is verbaas om te besef dat sy ’n bietjie jaloers is op die onbekende Consuelo.

“Wie is sy?”

“’n Sigeunerin. Hulle is gevaarlike mense, kind. Sy is verlief op Ramirez en as iemand haar pad probeer kruis, sal sy enigiets doen om hom terug te wen.”

Nicole glimlag.

“Sy het tog niks van my te vrese nie. Buitendien, ek glo nie hy sal haar op dié reis saamneem nie.”

Maria knik stadig.

“Ja, dis waar. Ek glo nie hy sal so iets doen nie. Consuelo was nog nooit op sy reise saam nie.”

Noudat sy weet dat haar lang reis binne twee dae gaan begin, is daar nog baie wat Nicole wil doen. Hierdie sal die laaste plek wees waar sy enigiets sal kan koop vir die reis.

Die middag bring sy besoek aan ’n paar winkels en is verras dat daar so ’n groot verskeidenheid ware is. Daar is nie tyd om vir haarself nog ’n paar skoene te laat maak nie en dus koop sy net genoeg van die sagte, rooi leer om saam te neem. Sy kry ook nog ’n geborduurde pêrelhangertjie en ’n geweefde reissak om die ekstra goed in te pak. Dan keer sy terug na die herberg vir aandete.

Die hele dag probeer Nicole die kaptein vergeet, maar sy betrap haarself telkens dat sy aan hom dink. Sy kan die ligte spot in sy oë en die geamuseerde glimlag om sy mondhoeke maar net nie vergeet nie.

Sy wonder oor Consuelo. Sy ken die sigeuners baie swak. In Frankryk het sy af en toe met hulle te doene gekry, maar dit was net oppervlakkig. Dit was gewoonlik net wanneer hulle deur die omgewing gegaan het en iewers kamp opgeslaan het. Haar pa het ook maar min van dié swerwersvolkie geweet en kon haar nie veel oor hulle vertel nie. Al wat sy wel van hulle weet, is dat hulle ’n inkennige nasie is, ietwat geheimsinnig en vurig van geaardheid. Sy kan baie goed glo dat ’n sigeunermeisie die kaptein sal interesseer.

Die volgende dag spandeer sy al haar tyd om haar trommels en sakke in te pak en seker te maak dat sy niks vergeet het nie. Op die mark naby die hawe koop sy ’n hareborsel en ’n handspieël en vind sy ook uit waar die El Mar voor anker lê.

Dis ’n groot, vaartbelynde seilskip en die boeg is ryklik versier soos alle Spaanse skepe. Hierdie een het egter vir haar besondere betekenis en nie net omdat sy daarmee Kaap toe gaan vaar nie. Die kaptein daarvan is ’n uitsonderlike man, ’n Spaanse edelman met ’n verreikende reputasie. Hy stuit vir niks en sy kan nie anders as om te dink dat hy dapper in enige geveg sal wees nie.

Sy frons. Waarom moet sy nou aan ’n geveg dink? Daar sal tog nie so iets gebeur terwyl hulle op see is nie. En tog laat die gedagte haar ietwat bekommerd. Tot dusver het sy nog nie aan die gevare gedink wat hulle op see te wagte kan wees nie. Die El Mar is ’n handelskip en die moontlikheid is baie goed dat hulle deur seerowers voorgelê sal word.

Sy stap vinnig terug na die herberg. Dit sal haar niks help om nou aan sulke dinge te dink nie. Dit is iets waaroor Da Silva hom maar moet bekommer. Deur haar te bekommer, gaan sy tog nie die gevare weghou nie.

Maria kom na aandete na haar kamer.

“Dis nog nie te laat om terug te draai nie, señorita. Ek kan vanaand ’n boodskap na Ramirez da Silva toe stuur.” Nicole glimlag.

“Ek is te trots om nou toe te gee, madame. Ek sou dit haat dat hy my ’n lafaard noem.”

Maria sug lank en diep.

“Dan het jy ook voor sy sjarme geswig. Dis jammer.”

Nicole kyk verbaas na haar.

“Nie so haastig nie, madame!” roep sy uit. “Die feit dat ek saamgaan, beteken beslis nie dat ek voor sy sjarme geswig het nie. Ek moet so gou moontlik in die Kaap kom en ek kan nie nog ’n maand wag vir ’n skip nie.”

Maria kyk agterdogtig na haar.

“Ek is mos nie vandag gebore nie, kind. Sedert jy gister by Da Silva was, is jy net nie meer jouself nie. Jy is ingedagte en afgetrokke.”

“Ek bekommer my oor die reis, madame. Daar is baie gevare op see.”

“Waarvan Ramirez da Silva nie die minste is nie,” kap sy terug. “Dit sal vir jou beter wees as jy liewer aan ál die gevare dink en nie net aan party nie.”

“Ek sal dit doen, madame,” antwoord Nicole gelate. Sy besef maar te goed dat dit nie sal help om die hele tyd met die hospita te stry nie.

Sy slaap die nag nie baie goed nie en verslaap haar byna die volgende oggend. Dis reeds sesuur toe sy na die ruim kombuis gaan waar Maria besig is om ontbyt te maak.

“U het my nie kom wakker maak nie,” sê sy beskuldigend.

“Dis omdat ek gehoop het dat jy sou verslaap. Dan sou jy nie kon saamgaan nie.” Sy sit ’n groot bord kos voor die meisie neer. “Hier, eet sommer hier in die kombuis. Die kos op die skepe is nie watwonders nie en jy sal nog terugverlang na hierdie ontbyt.”

Nicole glimlag, en voel ’n knop in haar keel opstoot.

“Ek is seker ek sal. Dankie, madame.”

Sy gaan met Maria se koets na die hawe en daar laat die koetsier haar tussen haar bagasie langs die loopplank. Nicole staan ietwat verlore tussen al die bedrywighede om haar. Matrose hardloop heen en weer, teen die loopplank op en af, met swaar vragte op hulle gespierde skouers. Hulle kyk nie een keer in haar rigting nie, maar hou al hulle aandag by die vrag wat hulle in die ruim van die skip moet laai.

“Net ’n paar minute laat, señorita,” sê die reeds bekende stem hier langs haar.

Sy draai vinnig om.

“Wanneer kan ek aan boord gaan?”

Hy glimlag lui.

“U is haastig! Nou maar goed, volg my dan.” Hy draai na een van die matrose wat teen die loopplank afkom. Die man het pas sy vrag in die ruim afgelaai en is op pad terug om nog te gaan haal. “Pablo! Kom help die señorita met haar bagasie, asseblief. Sy reis saam met ons tot in die Kaap.”

Pablo kyk vinnig van Nicole na sy kaptein en die meisie kan nie help om die geamuseerde lig in die matroos se oë te sien nie. Hy buk en begin haar bagasie só te rangskik dat hy dit met een slag kan dra.

Nicole volg Da Silva teen die loopplank op na die skip. Dit wieg met die deining van die see en net ’n oomblik lank wonder Nicole of sy op die reis gaan siek word. Dit sal bitter vernederend wees, dink sy.

Haar kajuit is baie klein, maar gerieflik. Die matras op die slaapbank is vars gestop hoewel die omhulsel al gelap is. ’n Klein stapeltjie komberse lê op die voetenent van die bank. Daar is geen kussing nie.

“U sal maar soos die ander moet leef, señorita,” sê Da Silva sonder ’n sweempie van spyt in sy stem. “Op ’n vragskip kan mens ook nie verwag om soos ’n katjie vertroetel te word nie.”

Sy kyk vinnig na hom.

“Ek verwag dit nie, monsieur.”

“Nou goed, ons sal oor ’n uur kan vertrek. Alles het vinniger verloop as wat ek aanvanklik gemeen het.”

Hy laat haar alleen en sy gebruik die tyd voordat hulle vertrek om haar bed op te maak en van haar klere aan die dienlike hake teen die mure te hang. Sy kan nie elke dag verkreukel soos ’n bondel wasgoed verskyn nie.

Baie later voel sy die verandering in die deining onder haar en sy hardloop na die patryspoort. Hulle is besig om stadig uit die hawe te vaar. Sy haas haar na die loopgang net buite die kajuit en dan op met die trap na die dek. Dan staar sy lank na Barcelona wat soos ’n handvol pêrels langs die water al kleiner word. Daar is niemand wat haar op die hawe kom afsien het nie en sy voel skielik bitter eensaam en alleen. Ramirez da Silva is ’n vreemdeling vir haar en hulle sal nooit vriende kan wees nie. Daar is niemand anders op die skip wat sy ken nie, maar miskien sal sy nog met iemand vriende maak voordat die reis veel vorder.

Agter haar, op die bodek van die skip, staan Da Silva ook en uitkyk oor die verdwynende hawe. Sy blik dwaal egter telkens terug na die meisie wat alleen langs die reling staan. Die oggendson laat die koperglans in haar hare skitter, dit vonkel op die borduursels van haar roomkleurige tabberd. Die trek om sy mond huiwer tussen bitterheid en minagting, die uitdrukking in sy oë is onpeilbaar.

Nicole is onbewus daarvan dat elke klein beweginkie van haar fyn dopgehou word, toe sy ’n lastige traan van haar wang afvee. Haar pa sal nooit weet wat hy aan haar gedoen het deur haar hier agter te laat nie. Sy sal hom ook nooit vertel nie … as sy die seereis oorleef.

Somer van die rooi robyn

Подняться наверх