Читать книгу Spoelgoud - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Dis vroegoggend. Die skemerlig is grou en kleurloos.

Verlate sinkhuisies staan versprei in die môremistigheid. Die ryp lê wit oor die aarde.

Iewers blaf ’n hond in kort, tjankende geluide, dan sak die stilte terug oor die dorpie.

Beth staan voor die groot, oop klip-kookplek waarop die pappot stomend prut. Die koue oggendlug sny deur haar dun rok en kruip in haar groot velskoene in. Kort-kort blaas sy in wit asemteue op haar verkluimde hande, en hou hulle dan weer na die vuur om lewe in haar koue vingers te kry. Eenkant, tussen die stompe wat lustig brand, staan ’n swart koffiekan borrelend en kook. Elke nou en dan spat die koffie in druppels by die tuit uit en plas sissend in die vuur.

Sy lig die deksel van die pappot, maar druk dit vinnig toe as ’n vlaag wit stoom oor haar arms brand. Sy vee haar hande aan haar rokkie af. As die son tog net wil opkom, sal dit warmer word. Sy wonder waar haar broer is. Teen hierdie tyd is hy gewoonlik lankal op en drink hulle saam hul eerste koppie vroeë-oggendkoffie.

Sy gaan die klein huisie binne, haal twee blikbekers van die rak af en loop uit na die afdak waaronder sy die kookwerk doen. Die bekers rinkel teen mekaar, verbreek die stilte in skerp geluide. Die melk is min. Sy sal April moet vra om weer te gaan haal.

Dolf verskyn in die deur agter die meisie.

Sy gesig is somber en ontevrede, maar Beth ignoreer sy stuursheid en glimlag na hom.

“Die son is al amper op en jy lê nog en slaap!”

Hy trek ’n gesig, vee met sy hand oor sy melkbaard en neem die beker soet, stomende koffie by haar.

“Ou Pritchard en Viljee het gisteraand opgepak,” sê hy half stug.

’n Klein fronsie keep tussen Beth se groot, blou oë.

“Hoe weet jy?”

Hy glimlag suur.

“Ek het nie gelê en slaap soos jy gedink het nie, sus,” antwoord hy. “Ek was vroeër vanoggend daar. Hul huis is leeg.”

Sy haal haar smal skouers op, vou haar hande om haar beker en gaan die huis binne. Hy volg haar met ’n slenterstappie.

“Ou McDougall is nog hier.” Sy gaan op haar opgemaakte bed sit. “Oom Hendrik Erasmus ook,” voeg sy na ’n kort stilte by.

Haar broer snork deur sy neus.

“Hulle praat ook van trek.”

Sy kyk hom ondersoekend aan.

“Gaan jy agter hulle aan of gaan jy hier bly, Dolf?”

“Ons kan tog nie in hierdie spookdorp aanbly nie, Beth!” antwoord hy driftig. “Wat doen ons nog hier? Almal is na die nuwe goudvelde by Spitskop. Daar is ook glo goud by Geelhoutboom – ’n plaas van McLachlan.”

Die skraal meisie kyk na haar hande. Ingedagte vee sy oor die kneukels waar winterblasies rou en seer lê.

“Daar is nog goud in Pappa se kleim. Waarom delf jy dít nie eers nie?”

Hy gaan staan by die klein venstertjie en kyk uit oor die werf waar April met ’n wateremmer doenig is. Die son breek oor die horison en steek sy flou strale soos lang, goue vingers uit na die bergkruine.

“Ek is moeg vir hierdie plek,” antwoord hy eindelik. “Ek is moeg vir die stof en die ontberings en die koue. Hierdie dorp het onder ons oë doodgegaan. Vroeër was dit anders, was hier kantiene en mense en lewe. Nou is hier niks. Net ons en twee ander families wat soos nete aan ons besittings bly kleef. Nee, Beth, ek is geen delwer soos Pa was nie. Om dag en nag soos ’n mol in die grond te grawe op soek na ’n paar ons goud om aan die lewe te bly, is nie die soort lewe wat ek wil hê nie. Ek sal nooit ’n delwer kan wees nie.”

Sy kyk vraend na hom.

“Pappa het baie goed gedoen. Hy het aan jou ’n paar blikkies spoelgoud nagelaat, Dolf. Waarom koop jy nie vir jou ’n plaas of iets daarmee nie?”

Hy kyk weg en vee met sy hand oor sy vaalbruin hare.

“Jy kan dit maar net sowel weet. Ek het niks daarvan oor nie!”

Sy staar geskok na hom, haar oë groot gerek.

“Dolf! Wat het jy dan daarmee gemaak?”

Hy gaan weer by die tafeltjie sit, neem ’n sluk van sy koffie en kyk na haar.

“Ek het gespekuleer; jy sal nie eens weet wat dit beteken nie. Maar toe moes hierdie dorp mos staan en doodgaan, en ek het alles verloor.”

Sy skud haar blonde kop ongelowig.

“Maar, Dolf, jy kan mos baie met daardie geld gekoop het,” sê sy verslae.

“Ek hét baie gekoop en selfs die lewe ’n rukkie geniet. Nou is die geld op en … wel, hier is buitendien niks meer om geld op uit te gee nie. Op Spitskop sal ek wel weer ’n paar pond in die hande kry, maar ek sal nie daarvoor gaan delf nie!”

“Waar gaan jy geld kry as jy nie daarvoor wil werk nie?”

“Daar is maniere,” antwoord hy bars.

“Dolf, as jy nou hier bly en Pappa se kleim bewerk, sal jy mos weer goud hê waarmee jy iets kan doen.”

“Ek sê jou ek is geen delwer nie!” Hy spring op en stamp sy stoel per ongeluk om, maar tel dit nie op nie. “Ek sal geen arme sukkelaar wees soos Pa was nie! Ek is oud genoeg om na myself te kyk sonder om … om soos ’n slaaf te werk!” Sonder om haar ’n kans te gee om iets te sê, draai hy om en stap die sinkhuisie uit.

Beth hoor sy haastige voetstappe buite oor die klippers knars, hoor die geklingel van die stiebeuels toe hy sy perd opsaal, en later Vonk se dawerende hoewe wat in die stil omgewing wegsterf. Toe eers staan sy op om lusteloos met haar dagtakies te begin.

Kort voor middagete kom Dolf terug. Hy is stuurs, en Beth waag dit nie om hom te vra waar hy was nie. Stilswyend bedien sy sy middagete.

“McDougall en oom Hendrik span vandag in,” verbreek hy skielik die stilte. “Hulle ry voor dagbreek. McDougall gaan Spitskop toe, en oom Hendrik wil weer gaan boer.”

Beth vee haar hande aan ’n nat vadoek af voordat sy ook by die tafeltjie gaan sit.

“Wat gaan jý doen, Dolf?”

“Trek, dís wat ek gaan doen!” antwoord hy steeds stuurs.

“Wat van my?”

Hy gluur haar aan.

“Jy kan seker saamgaan as jy wil!” Hy slaan met die lepel op die tafelblad. “Dit het jy en Pa van julle kamtige geriewe in die huis! Net vier jaar en hierdie plek bestaan nie meer nie! Al die geld gaan spandeer op vervloekte katels en breekgoed! Waarvoor? Alles sal hier moet agterbly as ons trek. Waarom kon jy nie ook soos die ander delwers lewe nie? Húlle is doodgelukkig met ’n blikbord en beker, ’n oop vuur en ’n paar komberse vir die winter. Maar nee, jy was nog skaars twaalf jaar oud, of jy wou ’n behoorlike huis hê! Wel, nou hét jy dit, en wat gaan jy daarmee maak?”

Die meisie antwoord nie dadelik nie, krap net met haar lepel in haar kos rond.

“Kan ons nie maar saam hier bly nie, Dolf?”

“Nee,” antwoord hy kortaf. “Ek is al twintig, en as ’n man twintig is, wil jy nie langer met jou kleinsussie opgeskeep wees nie.”

Beth sluk hard.

“Ek is nie meer so klein nie,” kap sy teë.

“Sestien jaar oud? Dink jy jy is al groot? Moenie my laat lag nie, Beth!” Hy grinnik. “Buitendien, as jy nou ’n mooi sussie was, het ek nie omgegee nie, maar nou ís jy nie! Nie een van my vriende sal in jou belangstel nie.”

Sy spring van die tafel af en loop uit. Buite vloei die trane vrylik oor haar wange. April sien onthuts hoe sy nonna snikkend wegstap, en skud sy grys kop. Hy draai weer weg na die kraal waar die paar eseltjies en die kleinbaas se perd staan. Sy ou hart is seer, want die kleinbaas laat die nonna huil. Hy wil nie sy nonnatjie sien huil nie, en in die laaste tyd huil sy baie.

Beth loop al met die kronkelpad na die dorpie toe. Sy sien niks om haar raak nie, voel net Dolf se gevoellose woorde soos warm ysters in haar binneste brand. Vier jaar lank het sy haar hande deurgewerk in daardie sinkhuis, om dit ’n tuiste te maak vir haar pa en haar broer. Haar oorlede moeder sou dit so wou gehad het. En nou verstoot Dolf haar – noudat sy geen heenkome het nie. Hy noem haar lelik, sê nie eens dankie vir die kos wat sy lank voor dagbreek al begin kook het nie. Hy sien dit nie eens meer raak dat sy sy klere elke dag versorg, lap en stop nie.

Sy gaan sit op ’n vervalle stoepmuurtjie.

Dolf wil weggaan, dink sy dof. Hy wil na Spitskop gaan en hy wil haar nie saamneem nie. Wat gaan sy hier in die eensaamheid maak as Dolf en die ander mense eers weg is? Miskien gaan April saam met Dolf, en dan is dit net sy in hierdie verlatenheid. Sy vee met die rugkant van haar hand oor haar oë, en trek ’n gesig toe die souttrane in die barste brand. ’n Vuil stopstreep lê oor haar wang. Sy moet met Dolf praat. Hy kan haar nie alleen aan die genade van die natuur oorlaat nie.

Ingedagte tuur sy oor die rivier na die oorkant waar McDougall en oom Hendrik woon. Daar is ’n doenigheid, en dit laat haar maag op ’n knop trek. Dolf is reg. Hulle is besig om klaar te maak om hiervandaan pad te gee. Voor McDougall se huisie staan twee lendelam bokwaens en ’n donkiewa. Hulle vat seker alles saam, dink Beth afgetrokke. Môre sal ook húlle huise leeg wees.

Eers toe die skerp seer in haar binneste bedaar het, staan sy op. Sy skud ’n klip uit haar verweerde velskoen en trek dit weer aan. Dan begin sy stadig terugstap met die paadjie na hul sinkhuis toe.

Dis ’n sonnige oggend in die laat winter. Die koue is nie meer so nypend nie. Vroeë Augustuswinde het reeds troosteloos begin waai, maar dit het genadiglik vanoggend effens bedaar. Hier en daar dwarrel ’n stofsliert, maar dis nie daardie aanhoudende, brandende wind nie. Dis net stuitige dwarrelwindjies wat om die vervalle huisies speel.

Eenkant op die buitetafel staan ’n blikbeker waarin Beth die vorige aand paraffiensalf aangemaak het. Sy druk haar voorvinger in die salf en glimlag tevrede. Dis sag maar stewig. Sy krap ’n klompie uit en begin dit oor haar hande smeer totdat hulle blink van die lampolie-en-kersvetmengsel. So ja, dink sy, dis beter. Die barste in haar hande sal gou verdwyn as sy dit elke dag gebruik.

Dan tel sy die wateremmer op en loop na die rivier toe. Dolf is vanmôre saam met April weg om iets te gaan skiet vir die pot. Hulle sal seker nou-nou terug wees, want Dolf wil nog die donkiekarretjie se disselboom kom regmaak.

Beth lek oor haar droë lippe. Een van die dae gaan hulle Spitskop toe. Dolf het haar dit belowe en sy sien uit daarna. ’n Fronsie keep egter tussen haar oë. Sy wens sy het geweet waarom hy haar nou skielik so graag wil saamneem ná sy kwetsende woorde van twee maande gelede.

By die rivier staan sy ’n oomblik lank stil. Dit maak haar elke keer seer as sy sien hoe lelik die rivier geword het. Diep gate en slote ontsier die rustig-vloeiende stroom water. Die kleimpenne is uitgetrek, maar selfs daarsonder lyk die omgewing nog asof ’n bende vandale hier deurgetrek het. Sy sug liggies, buk en maak die emmer vol.

Al met die kronkelpaadjie loop sy stadig terug na die huisie hoog teen die rant. Die emmer hang swaar in haar hand, en dan en wan gaan sy staan om die bloedsomloop in haar vingers weer ’n kans te gee om te herstel. Dan tel sy die emmer met die ander hand op en sukkel weer boontoe. Die water spat oor haar voete, en sy voel dit koud in haar velskoene afloop.

Toe sy die pad bereik wat deur die dorp loop, gaan sy eers op ’n klip sit om te rus. Hiervandaan is die ent huis toe nie meer so steil nie.

Die geklap van perdepote laat haar vinnig opkyk. Dolf is tog nie met sy perd weg nie! Hulle het te voet gaan jag, en die ruiter kom ook nie uit die rigting waarheen Dolf gesê het hulle gaan nie.

Beth staan op, hou haar hand oor haar oë en tuur stip in die rigting waarvandaan die ruiter kom. Nee, dis nie Dolf nie, besluit sy toe sy die persoon duideliker kan sien. Dolf sit nie so regop in die saal nie.

Die ruiter hou sy perd aan die onderpunt van die dorp in. Beth sien hoe hy om hom rondkyk voordat hy stadig al met die stofpad langs in haar rigting kom. Haar eerste gedagte is om haar haastig uit die voete te maak, maar sy doen dit nie. Miskien is dit ’n vreemdeling wat nie weet dat hierdie dorp nie meer bestaan nie – amper ’n jaar lank al.

Die man stoot sy hoed na sy agterkop toe. Op sy gesig is ’n uitdrukking van ongeloof, maar ook ergernis asof die dooie dorp hom ’n streep getrek het. Hy hou weer sy perd in, kyk om hom rond en slaan dan ongeduldig met sy vuis op die saal voor hom. Die perd ruk sy kop op en die man trek die teuels stywer.

Beth bly roerloos langs die wateremmer staan. Haar hande is oor haar voorskoot gevou, haar blou oë deurentyd op die ruiter gerig. Perd en ruiter kom weer in beweging. Klein stofwolkies dwarrel op onder die dier se hoewe. Sy stert piets deur die lug, sy kop staan sierlik omhoog.

Dis ’n mooi perd, dink sy amper opgewonde. Hy’s so swart soos die nag – nie vuilbruin soos Dolf s’n nie. Vonk loop ook nooit só pronkerig nie, hy hou altyd sy kop omlaag soos ’n muil. Kyk net hoe trap-trap sy dun voorbene fyntjies in die stofpad!

Die man sien Beth eers raak toe hy sy perd weer ’n sekonde lank inhou. Dadelik gee hy die dier spore, en kom met luide hoefgetrappel na die meisie toe aangery. Sy staan effens tru toe hy die perd hier by haar inhou, en toe hy rats uit die saal spring, herken sy hom.

“Meneer Shannon!” roep sy bly uit, en lag spontaan. Sy vergeet van die koue wind en die nat velskoene, van haar seer en moeë hande.

“Môre, Beth!” groet hy glimlaggend, en haal sy hoed af. “Jy het my darem nie vergeet nie, nè?”

Sy skud haar kop en lag gelukkig.

“Ek is bly jy’t gekom, meneer Shannon.”

“Is jy?” vra hy, en die uitdrukking in sy oë versag.

Beth voel die vreugde in haar binneste opwel. Hy het regtig weer gekom soos hy beloof het, dink sy, al het twee jaar verloop. Nou is hy hier, en sy wonder of hy vannag sal oorbly. Haar pa leef nie meer nie, en meneer Shannon het so baie nagte deur met hom gesels terwyl sy in die donker in haar bed na hul stemme lê en luister het. Sy hou van sy diep, rustige stem – dis nog net dieselfde. Ook die diep groewe om sy mond en die fyn kreukels om sy oë – alles nog net dieselfde. Dit laat haar gelukkig voel: meneer Shannon het nie verander nie!

Met sy hande in sy sye staar Shannon nou om hom rond en kyk dan weer na Beth. “Waar is almal?”

“Weg,” antwoord sy, en haar skraal gesig versomber effens. “Almal het Spitskop toe getrek.”

“Waar is Spitskop?”

“Ek weet nie, maar Dolf sal seker weet. Party mense het ook Geelhoutboom toe getrek. Dis ’n meneer McLachlan se plaas,” antwoord sy. “Dolf sal nou-nou terug wees. Hy sal meneer alles kan vertel.”

Hy staar ’n oomblik lank besluiteloos na die grond.

“Waar kan ek vir hom wag?” vra hy.

“By die huis sal die beste wees,” antwoord sy dadelik. “Die perd lyk moeg. Daar kan ek hom sommer water gee.”

“Ja, ons het ver gekom. Baie dankie, Beth, jy is nog net so ’n gawe nooientjie soos altyd,” sê hy met ’n breë glimlag. “Kom, klim op, dan ry ons soontoe.”

Beth skud haar kop.

“Ek moet die emmer water huis toe neem. Gaan meneer maar solank, dan kom ek agterna.”

Hy kyk haar eers verbaas aan, en lag dan opgewek.

“Nee, dit doen ek darem nie!”

Voor Beth iets kan sê, tel hy die emmer op, neem die teuels van sy perd en begin aanstap. Beth val langs hom in.

’n Lang ruk loop hulle stil langs mekaar. Beth lek kort-kort met die punt van haar tong oor haar bolip. Sy wonder of Shannon ’n vraag wat sy hom lankal wou vra, sal beantwoord. ’n Skuins kyk na sy geslote gesit laat haar net ’n oomblik huiwer voor sy toe wel vra: “Delf jy nie, meneer Shannon?”

Hy kyk vinnig na haar en glimlag.

“Nee, Beth.”

Sy frons liggies, lek ’n barsie agterop haar hand en draai weer na hom: “Wat kom doen jy dan hier op die delwery, meneer Shannon?”

Sy gesig raak weer geslote en hy kyk weg na die ver, blou rante.

“Ek soek na iemand, Beth,” sê hy eindelik.

Verwonderd draai sy na hom.

“Maar dis nog net ek en Dolf wat hier is – na wie soek meneer?”

Hy glimlag stadig.

“Jy vra baie vrae vandag, maar jy sal die man tog nie ken nie.”

Sy loop ’n paar sekondes in stilte voort.

“Waar kom jy nou vandaan, meneer Shannon?”

Toe hy na haar draai, is daar ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë.

“Jy vra te veel vrae, Beth. Ek kan nie almal beantwoord nie.”

Sy glimlag verleë.

“Jammer, meneer Shannon.”

“Is jou pa hier?” vra hy skielik en kyk in die rigting van die huis.

“Nee, Pappa is dood – hy het op die kleim verongeluk. Dit was net voordat hulle die goud by Spitskop ontdek het.”

“Dit spyt my om dit te hoor, Beth, dit spyt my werklik.” Hy bly ’n oomblik lank stil en vra dan: “Het hy darem goed gedoen hier?”

“O ja,” sê sy ’n bietjie trots. “Hy het baie goud opgegaar. Ek en Dolf het elkeen daarvan geërf … maar my broer het syne uitgemors.”

Shannon frons. “So …”

“Ja, maar ek het omtrent nog al mý goud. As ek mooi daarmee werk, behoort dit lank te hou – seker ’n paar jaar. Ek moes al daarvan verkoop om geld in die hande te kry, maar ek dink die winkelier het my verkul.”

“Hoekom sê jy so?”

Beth frons diep en lek oor haar lippe.

“Wel, Mister Goodman het my net ses pond gegee vir een blikkie vol.”

Shannon gaan botstil staan en staar na die meisie voor hom.

“Is dit al?”

Sy knik.

“Ek wou nie stry nie, want ek is maar net ’n meisiekind, en hy sal nie na my luister nie,” antwoord Beth selfbewus.

Shannon begin weer aanstap.

“Waarom gee jy dit nie aan Dolf om te verkoop nie?”

“Ek …” Beth bly skielik stil en voel hoe die bloed in haar wange opstoot. Hoe kan sy Shannon vertel waarom sy nie wil hê Dolf moet haar goud verkoop nie?

Shannon kyk nie na die meisie langs hom nie, maar hy kan aanvoel dat die vraag haar ongemaklik stem, en hy praat dus nie verder daaroor nie. Sy het hom immers vertel dat haar broer al sy goud uitgemors het.

“Alles lyk maar baie verlate,” sê hy om die ongemaklike stilte te verbreek. Sy oë dwaal oor die vervalle geboutjies. “Woon julle nog daar teen die rant?”

“Ja, daar skuins voor,” beduie Beth.

Shannon gee sy perd water terwyl Beth ’n bak mielies op die stoep gaan haal. Sy sit die bak mielies op die grond voor die perd neer. ’n Rukkie lank hou sy die dier dop terwyl hy hongerig aan die mielies vreet.

Shannon gaan sit op die rand van die klipkraal.

“Wanneer het die mense dan hier padgegee?”

Beth kyk vlugtig op na hom en dan weer na die perd.

“Verlede winter al. Ou meneer Pritchard en oom Hendrik het saam met ons hier agtergebly, maar hulle is omtrent twee maande gelede weg.”

Shannon kyk afgetrokke na die skraal meisie in haar gelapte rok en growwe velskoene. Haar skurwe, rooi hande streel die nek van sy perd, en haar hare is skoon maar onversorg.

“Dis ’n mooi perd, meneer Shannon,” sê sy bewonderend. “Wat is sy naam?”

Hy wip van die muur af en kom na haar toe aangestap.

“Neptune,” antwoord hy glimlaggend. Sy kyk vraend na hom.

“Hoekom so ’n snaakse naam?”

“Ek hou van die naam, dis al,” antwoord hy.

Sy lag en vryf die perd se ore.

“Jy het hom goed opgepas, meneer Shannon. Kyk hoe blink sy vel.”

Voor hy kan antwoord, hoor hulle Dolf en April se stemme. Beth se broer beveel die swart man om die bok te gaan afslag, en kom dan haastig in hul rigting aangestap. Hy lyk ontevrede toe hy Shannon herken.

“Môre, Hugh. Wat soek jy hier?” vra hy effens kortaf.

“Hallo, Dolf,” groet Shannon en steek sy hand uit. “Nee, ek het maar net kom kyk hoe dit nog met julle gaan. Beth het my nou net vertel dat die delwers Spitskop toe getrek het. Waar is dit?”

Dolf kyk met meer belangstelling na die man voor hom, neem sy hand en grinnik: “So jy wil ook agter die goudwolwe aan Spitskop toe! Nou ja, ek kan jou seker nie keer nie. Kom ons gaan huis toe, dan vertel ek jou hoe jy daar kan kom.”

Al geselsend begin die drie aanstap in die rigting van die huis.

Dolf voel effens in die skadu langs hierdie stil man. Hý is nog jonk, baie jonger as Shannon, en hy weet dat hy nie so ’n indrukwekkende figuur skep nie; daarom probeer hy sy tekortkominge agter ’n ruwe houding verberg.

Shannon is ’n lang, lenige man met swart hare en deurdringende groen oë. Hy het die stil selfversekerdheid van iemand wat al baie in sy lewe ervaar het ten spyte van die feit dat hy nou eers in sy laat twintigerjare is.

“Gee vir ons koffie, Beth,” sê Dolf toe hulle in die kombuis kom. “Ek is dors!”

Shannon betrag hom stilswyend toe Beth omdraai om die koffie te gaan maak. Toe wend hy hom tot Beth: “Dankie vir die voer, hoor!”

Beth probeer met ’n geproes die rook uit haar gesig hou terwyl sy die vuur aansteek. Sy glimlag en knik met haar kop.

“Dit was lekker, meneer Shannon.” Sy draai weer haar rug op hom, en hy staar ’n paar oomblikke lank ingedagte na haar.

Dolf is besig om oor Spitskop te praat toe Beth die blikbekers met koffie voor hulle neersit. Haar broer ignoreer haar, maar Shannon bedank haar met ’n warm glimlag. Sy gaan sit buite op die kliptafel om haar koffie te drink, en luister met die een oor na wat die twee mans gesels. Hul stemme kom na haar deur die oop deur en hier en daar hoor sy bekende name wat genoem word. Die gesprek interesseer haar nie eintlik nie. Sy wens net Dolf wil ophou praat en iets gaan doen sodat sy ’n gewigtige saak met Shannon kan bespreek. Nou sit hulle en klets oor die mense wat voorheen hier gebly het.

“Nonnatjie!”

Sy swaai om en sien April skuins agter haar staan.

“Wat is dit, April?”

“Ek het klaar die bok afgeslag,” sê hy met ’n breë glimlag. “Wat moet ek met die vleis doen?”

Beth wip van die tafel af en sit haar beker neer.

“Bring maar hierheen, April. Ons kan hom sommer hier op die tafel opsny.”

Kort na middagete maak Shannon aanstaltes om te loop. Beth onthou dat sy nog ’n saak met hom wou bespreek, en vererg haar effens vir Dolf wat nog steeds hier sit. Hy het tog baie dinge om te doen, en sy wil nie voor hom met Shannon praat nie.

Beth laat die twee mans alleen en draf na die klipkraaltjie toe, maar loer kort-kort oor haar skouer terug huis toe. Sy gaan na ’n plek in die kraalmuur waarvan net sy weet.

Toe die vier Colman’s-mosterdblikkies vol spoelgoud voor haar lê, is sy skielik onseker. Sal Shannon dit vir haar kan doen? Sy byt op haar onderlip, frons diep en steek een blikkie in haar roksak. Sy móét iemand kry om te help, en hy is nou die enigste. Wie weet hoe lank sy nog sal moet wag voordat hier weer iemand verbykom? Dit kan maande duur! Buitendien, sy ken Shannon darem nie net van vandag af nie.

Met die kosbare mosterdblikkie vol goud in haar sak, stap sy terug huis toe.

Die oomblik toe sy onder die afdak instap, kom Dolf en Shannon by die kombuis uit. Beth voel hoe haar hart wild teen haar ribbes klop toe haar broer na die hoek van die huis stap en in die rigting van die kraal kyk.

“Meneer Shannon …”

Hy draai na haar toe.

“Ja?”

Beth kom stadig nader, hou haar hand om die blikkie in haar sak gevou. Dolf kyk om. Daar is ’n ergerlike uitdrukking op sy jong gesig, en byna begewe haar moed haar. Shannon wag dat sy moet praat.

Sy sluk hard aan die benoudheid in haar keel, en draai haar rug op Dolf.

“Ek wil jou ’n guns vra, meneer Shannon,” sê sy vinnig asof sy bang is Dolf sal hoor.

Shannon kom vlak voor haar staan.

“Wat is dit, Beth?”

“Ek … ek wil vra of … of meneer een van my blikkies goud vir my sal verkoop, asseblief, meneer Shannon?”

Sy het amper fluisterend gepraat, en Shannon moes mooi luister om te hoor wat sy sê. ’n Oomblik lank staar hy haar oorbluf aan en skud dan sy kop.

“Ek sal graag wou help, maar ek weet nie wanneer ek weer hier verbykom nie.”

Beth se gesiggie vertroebel.

Dolf kom met sy hande in sy sakke na hulle toe aangestap.

“Wat neul jy tog nou al weer, Beth?”

Sy kyk net angstig in sy rigting, maar antwoord hom nie. Dan draai sy weer na Shannon toe: “Asseblief, meneer,” pleit sy, “ek weet nie of hier ooit weer iemand verbykom nie. Meneer mag dalk die laaste wees.”

Hy staan ingedagte na haar en staar. Dolf kom staan by hulle. Sy gesig voorspel niks goeds vir sy suster nie, maar sy ontwyk sy oë.

Shannon vra: “En as ek nóóit weer kom nie?”

“Meneer sal weer kom!”

Hy glimlag effens.

“Dis ’n groot ding om te aanvaar.”

Sy slaan haar oë neer. “Ek weet.”

“Goed, Beth, ek sal dit vir jou doen. Maar dit kan lank duur voordat ek weer hier kom.”

“Dit maak nie saak nie.”

Dolf het die hele gesprek aangehoor, maar geen kop of stert daarvan uitgemaak nie. Nou kyk hy fronsend na sy sussie, en wonder wat sy in die mou voer.

Beth kyk onseker na haar broer. Hy gaan moeilikheid maak as sy die blikkie uit haar sak haal, maar Shannon is hier. Hý sal haar beskerm. Versigtig trek sy haar hand uit haar sak, hou dit na hom uit. Op haar palm lê die blikkie met fyn korreltjies goudstof om die rand van die dekseltjie. Dolf snak na sy asem.

“Waar kry jy dit?” vra hy skerp.

“Dis myne, Dolf,” antwoord sy bewerig. “Dis myne en meneer Shannon gaan dit vir my verkoop.”

Dolf se kop ruk op.

“O so! Jy vertrou mý nie, nè?”

Beth kyk pleitend na Shannon, maar hý sê niks, neem net die blikkie, haal die dekseltjie af en beskou die inhoud in die middagson.

“Ek weet van ’n koper wat jou ’n goeie prys sal betaal,” sê hy.

Beth se oë glinster.

“Dan sal jy dit vir my verkoop?”

Hy glimlag gerusstellend.

“Ja, ek sal.”

Dolf gryp na die blikkie, maar Shannon ruk sy hand terug.

“Gee hier! Jy vat dit nié hier weg nie. Dis óns goud!”

“Jou suster s’n, Dolf!” antwoord Shannon rustig, druk die dekseltjie terug en steek die blikkie in sy sak. “Ek gaan dit verkoop en die geld vir haar terugbring.”

Dolf se gesig is wit van woede. ’n Oomblik lank lyk dit asof hy sy suster te lyf wil gaan, maar hy bedink hom. Hy vou sy arms oor sy bors en trek sy oë op skrefies.

“Wag maar, ou sussie,” sis hy, “moenie dink jy gaan dít regkry nie!”

Shannon staar hom stilswyend aan. Dolf kyk eerste weg. Toe niemand die stilte verbreek nie, klik hy ergerlik met sy tong, draai om en stap terug huis toe. Shannon en Beth kyk hom agterna totdat hy by die agterdeur ingaan.

“Meneer Shannon …”

“Ja?”

“Miskien … miskien moet ek dit liewer nie aan jou gee nie?”

“Dis vir jou om te besluit, Beth!”

“Hy … Dolf is baie kwaad.”

Shannon vryf oor sy ken.

“Luister, Beth, jou broer sal niks aan jou doen nie. In elk geval nie voor hy weet waar jy jou ander goud wegsteek nie!”

“Hy sal dit nooit kry nie, meneer Shannon!”

Hy glimlag effens.

“Dis familiesake wat julle twee maar moet oplos.”

Hy draai van haar af weg om sy perd te gaan haal wat ’n entjie verder staan en vreet. Dan kom hy na haar teruggestap.

Beth staan nog steeds roerloos, nie in staat om ’n voet te versit nie.

“So gou ek kan, kom ek terug,” sê hy. “As ek dalk nié kan terugkom nie …” Hy bly ’n oomblik lank stil, staar by haar verby na die blou lug bo hulle, en vervolg dan: “Ek sal ’n brief of die geld by die goudkommissaris op Spitskop laat.”

Skielik draai hy om en voordat Beth nog iets kan vra, spring hy in die saal en met net ’n wuif van sy hand ry hy vinnig van haar af weg.

Lank staar sy hom agterna, luister na die ritmiese geklap van die perd se hoewe op die harde grond. Hoekom het hy gesê “as ek nie kan terugkom nie”? Waarom sal hy nie kán terugkom nie?

Diep in haar hart is daar skielik ’n onverklaarbare onrus. Sy onthou die lang nagte waarin haar pa en Hugh Shannon gepraat het. Sy het nooit geweet waaroor hulle so ernstig gesels nie, en die diep groewe van kommer op Shannon se jong gesig het sy sonder meer aanvaar. Maar vandag was daar iets anders in sy houding wat sy nie tevore gemerk het nie. Dit is ál asof die durf en daadkrag uit hom verdwyn het – so asof hy moeg geword het vir alles. Kan dit wees dat hy al hierdie jare lank nog na die man soek van wie hy gepraat het? Sy wonder die eerste keer wie en wat Shannon werklik is, en sy besef skielik dat sy hom miskien nie werklik goed genoeg ken om hom met haar kosbare erfenis te vertrou nie …

Toe Shannon nog net ’n stippeltjie in die verte is en die hoewegeklap lankal weggesterf het in die stil middaglug, draai sy om en gaan met ’n loodswaar hart terug huis toe – na Dolf en die onsekerheid wat op haar wag.

Spoelgoud

Подняться наверх