Читать книгу Spoelgoud - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Twee dae lank praat Dolf nie met Beth nie. Wanneer sy toenadering probeer soek, draai hy sy rug op haar en antwoord haar nie. Dit maak haar bitterlik ongelukkig, want al het hulle baie gestry, was hulle darem geselskap vir mekaar. Dan sluk sy die trane af en hou haar besig met allerhande takies wat tot later kon gewag het. Sy weet huil sal nie help nie. Dit sal Dolf net die indruk laat kry dat hy besig is om te wen, en dit wil sy nie hê nie.

Sy hou die stofpad dop om te sien of Shannon nie dalk terugkom nie, maar die pad bly leeg, en sy begin twyfel of sy die regte ding gedoen het. Sê nou Hugh Shannon kom nooit terug nie?

Die oggend van die derde dag kom Dolf weer soos gewoonlik nors die huis binne geloop. Hy slinger sy hoed in die hoek neer. Beth kyk op van waar sy besig is om die wakis met linne reg te pak, en gaan dan weer stilswyend voort.

“Ek het geld nodig,” sê hy skielik.

Haar hande raak stil oor die kis.

“Hoeveel, Dolf?”

“Baie.”

Sy draai om en kom orent.

“Wat wil jy daarmee maak?”

“Wat het dit met jóú te doen?”

Beth vee moeg met haar hand oor haar voorkop.

“Daar is byna geen geld meer in die trommeltjie nie, Dolf.”

“Ag so? Maar jy kan darem nog jou goud rond en bont uitdeel!”

Beth maak haar oë ’n oomblik toe.

“Wat wil jy met die geld maak?” vra sy dof. “Hier is niks om dit op uit te gee nie.”

“Dis nie vir jou nodig om te weet wat ek daarmee wil maak nie! Dis my saak!”

Sy gaan op die rand van die wakis sit.

“Ons moet versigtig werk met die geld wat nog in die trommel oor is,” sê sy half pleitend. “Verstaan tog, Dolf, daardie geld is daar om kos en die nodigste klere te koop.”

“Verwag jy wragtie dat ek vir elke dingetjie na jóú toe moet kom en daarvoor moet soebat? Wil jy my soos ’n brak voor jou laat kruip?” Sy stem klink hard en skerp in die stilte.

“Hoeveel wil jy hê?” vra sy moeg.

“Dertig pond.”

Sy snak na haar asem.

“Ons het dit nie!”

“Jy het nog jou goud! Verkoop dit!”

Sy spring van die wakis af op.

“Ek sal nie!” sê sy hard. “Ek sal dit nie doen nie!”

Dolf leun teen die deurkosyn.

“Gee dan die goud vir my!”

Beth draai haar rug op hom, staar na die netjiese ry borde op die rak voor haar.

“Nee!”

“Wat wil jy met al die geld maak?” vra hy ergerlik. “Jy kan twaalf pond kry vir ’n blikkie spoelgoud! Jý het niks nodig nie!”

Sonder om na hom te kyk, sê sy: “Jy het joune alles uitgemors! As ek myne vir jou gee, sal jy dieselfde doen!”

Dolf verander sy taktiek: “Luister, sus, kom saam met my Spitskop toe! As jy die goud vir my gee, verkoop ek dit vir jou en gee jou die helfte van die geld.”

Beth draai stadig na hom toe om, haar oë wantrouig op hom gerig.

“Nee, Dolf,” sê sy sag, “ek doen dit nie!”

“Ek sal vir jou op Spitskop sorg! Jy kan tog nie na jouself omsien nie!”

Sy skud haar kop.

“Noudat jy niks meer het nie, wil jy nog die helfte van myne ook hê. Dis mos nie reg nie.”

Hy vererg hom opnuut, kom orent en gluur haar aan.

“Maak dan soos jy lus het,” sê hy bars. “Ek ry môreoggend vroeg Spitskop toe. As jy wil saamgaan, gee jy die goud vir my. So nie, bly jy hier!”

Beth kyk verskrik na hom.

“Ons kan nie môre al ry nie. Wat van meneer Shannon? Hy moet nog my geld vir my bring!”

Dolf lag haar uit. “Dink jy regtig hy sal dit bring? Dan is jy nog meer onnosel as wat ek gedink het! Hy is ’n ou kalant – net Pa het geweet hoe om met hom te werk! Shannon het ’n vet slag met jou geslaan, ou sussie!”

“Is nie! Jy sal sien, hy sal terugkom!”

“As jy vir hom wil wag, kan jy dit gerus doen. Ek ry môre!”

Hy draai om en stap by die deur uit. Beth staar hom verslae agterna. As hy môre ry, is sy alleen hier in hierdie verlate dorp tussen vervalle sinkhuisies, verwaarloosde agterplasies en stowwerige paadjies. Hier sal niemand wees om mee te praat nie, niemand om voor kos te maak nie. Dit sal net sy, haar gedagtes en die oneindige stilte wees!

Vol onsekerheid oor wat nou gaan gebeur, loop sy na die buitedeur om te sien wat Dolf maak. Hy en April staan by die klipkraal en praat. Dolf beduie ongeduldig met sy arms terwyl die ou swart man sy kop heen en weer skud. ’n Sprankie hoop spring in haar binneste op. As April agterbly, sal sy nie alleen wees nie. Hier sal darem nog ’n siel wees met wie sy af en toe kan praat.

Met ’n ergerlike ruk van sy skouers, draai Dolf om en stap die veld in. April staan hom kopskuddend agterna en kyk. Toe Dolf tussen die lae bosse agter die kraal verdwyn, draai Beth om en gaan die huis binne. Sodra hy terug is, gaan sy met hom praat. Hy kan haar nie hier alleen laat agterbly nie! Nog net een week, dan sal sy weet of Shannon gaan terugkom, dan sal sy gereed wees om Spitskop toe te gaan en hierdie plek vir goed te verlaat.

Beth lê roerloos onder die warm komberse. Dis nog minstens ’n uur voor dagbreek, en buite waai die Augustuswinde rukkerig en huilend om die hoek van die sinkhuisie. ’n Blik ratel oor die klippe op die werf en ’n koue windvlaag sny deur ’n skreef in die houtdeur.

In die vertrek langsaan hoor sy hoe Dolf opstaan en ’n rukkie werskaf tussen die kiste wat in sy kamer gepak is. Dan gaan die binnedeur oop, en kom hy ingestap. Sonder om na haar te kyk, skep hy water met sy lampetbeker en loop terug na sy kamer toe om te gaan was.

Beth lê roerloos, hou hom deur half geslote oë dop totdat hy die binnedeur agter hom toegemaak het.

Hulle gesprek van die vorige aand spring pynlik terug in haar gedagtes.

“As jy jou goud nie vir my wil gee nie, kom jy nie saam nie,” het Dolf gesê. “Jy sal Shannon nooit weer sien nie!” En later, nadat sy teen hom uitgevaar het, het hy smalend gesê: “Die mense kry jou jammer, Beth. Sies tog, sê hulle, waar sal sy tog ’n man kry met haar dun nekkie en skraal lyfie?”

Sy krimp onwillekeurig ineen. As haar ma tog net nog geleef het, sou dit anders gewees het. Sy het altyd gesê Beth het mooi hare – glansend soos die goud wat haar pa gedelf het. ’n Meisie se hare is haar trots, het haar ma gesê – ’n kroon wat die Skepper aan haar geskenk het. Dis ook haar ma wat gesê het dat ’n mens arm kan wees – dis geen skande nie – maar om vuil te wees, dáárvoor is daar geen verskoning nie. Beth het toe reeds besef dat sy eendag geen mollige en bloesende jong meisie sou wees nie; sy sou skraal bly soos haar pa, met hoë wangbene en ’n breë mond. Net haar oë is dié van haar ma, groot en blou en helder.

Sy kruip onder die warm komberse uit en sit ’n oomblik lank bibberend op die rand van haar bed voordat sy begin aantrek.

Sy is besig om yskoue water oor haar gesig te spoel toe Dolf weer sy verskyning maak.

“Ek ry nou.”

Sy droog haar besig af en draai na hom toe.

“Wat van jou ontbyt?”

“Ek het genoeg ingepak vir die pad.”

“Dolf …”

“Ons het klaar gepraat gisteraand,” val hy haar in die rede. “Ek ry nou, en jy kan saamgaan as jy die goud vir my gee.”

Sy skud haar kop.

“Jy weet ek kan dit nie doen nie.”

“Dan ry ek nou.” Hy draai om en maak die buitedeur oop. “Tot siens! En as jy oor ’n jaar nog hier sit en wag vir Shannon, onthou wat ek jou gesê het!” Hy klap die deur hard agter hom toe.

“Dolf!”

Sy hardloop deur toe. ’n Koue wind slaan haar asem weg toe sy dit oopruk en na buite hardloop.

Dolf werskaf aan sy perd se saal. Sy loop ongemerk nader.

“Dolf?”

Hy antwoord nie, tel net ’n bondel van die grond af op en knoop dit stewig aan die saalboom vas. Beth vroetel in haar sak en haar hand vou om ’n pondnoot. Eers toe hy in die saal sit, kyk hy af na haar. Sy hou die geld na hom uit.

“Jy sal dit nodig kry.”

Hy neem dit swyend by haar, gee dan sy perd spore, en met dawerende hoewe jaag hy in die rigting van die grondpad wat deur die dorpie gaan.

Beth se hart ruk in haar keel. Hy gaan weg, sy sal hom nooit weer sien nie! Hy laat haar net so hier agter – sonder vertroosting!

Toe die trane vrylik oor haar wange begin loop, hardloop sy agter sy kleiner wordende figuur aan.

“Dolf!” roep sy, en haar stem word deur die wind versmoor. “Kom terug! Ek sal al die goud vir jou gee! Moenie my hier agterlaat nie!”

Waar die breë stofpad begin, gaan sy staan. Sy sien hoe perd en ruiter teen die sterk wind beur, hoe vlaag op vlaag rooi stof om hulle opwarrel. Dan swenk hy skielik weg vir iets in die pad, en sy sien hoe sy gestalte al kleiner word in die grou oggendlig totdat sy later nog net die verlate pad en die stofslierte wat dwarrelend tussen die huisies rondwaai, kan sien. Sy wag totdat sy die hoewegeklap nie meer kan hoor nie, totdat net die ratelende sinkdak en die geruis van die bome in die wind hoorbaar is. Toe draai sy om.

Dolf is weg.

Drie weke lank het die wind onophoudelik gewaai en eers teen die einde van Augustus het dit skielik gedraai. Swaar wolke het op die horison begin saampak en die skoon, blou lug gevul met die vol, swaar belofte van reën.

Die weer het dreigend gedreun en wit blitse het die nag verblindend verlig.

En die reën het gekom.

Maar Shannon het nie gekom nie.

Die dae het langer en eensamer geword, die stilte soms byna tasbaar. In die begin het April nog met sy nonna geskerts, maar later het hy dit ook laat vaar. Dit was ál asof Beth in niks belanggestel het nie – net haar groot, hartseer blou oë voortdurend in die rigting van die stofpad gedraai, en geen moeite gedoen om die diep teleurstelling in haar te verberg nie.

Byna elke dag het sy vir haarself gesê: Vandag sal hy kom. Maar hy het nie. Niemand het gekom nie.

Haar sewentiende verjaardag het verbygegaan, en nog het Shannon nie gekom nie. Met die koms van die reën het die hoop weer in haar opgevlam. Miskien sal hy nóú kom, noudat die rivier weer baie water het en daar weiding vir sy perd sal wees.

Maar nóg het Shannon nie gekom nie.

Die nagte was langer en donkerder as wat dit al ooit tevore vir haar was. Nagte wanneer die maan helder skyn, was elke huisie of boom duidelik sigbaar in die eienaardige lig, lê die skaduwees swart langs elke voorwerp. Die getjank van jakkalse of die gelag van hiënas het steeds meer onheilspellend en dreigend geklink in die eensaamheid van die verlate dorp. Menige nag het sy roerloos van angs lê en luister na die onaardse geroep van ’n uil, of die geskraap van takke oor ’n sinkdak daar naby. Dis dan wanneer sy telkens besluit het om dié plek so gou moontlik te verlaat. Maar as die son die volgende oggend helder skyn, het sy weer kans gesien om op Hugh Shannon te wag …

Dis Oktober, ’n maand nadat die eerste reëns begin val het. Beth staan voor die huis en tuur ingedagte oor die verlate pad wat laer af teen die rant tussen die bouvallige huise deurkronkel. Die son trek al water en nou-nou sal April kom om vuur te maak. Dan sal die nag weer eensaam en stil voor haar uitstrek totdat die son môreoggend genadiglik opkom. Môre sal sy weer na die stofpad kyk en wag dat Shannon moet kom.

April merk sy nonnatjie op waar sy roerloos na die horison staar, en sy hart word seer. Elke dag staar sy en elke dag lyk sy hartseerder as gister. Die groot seer van die nonnatjie is te groot vir haar om te dra. Maar April dra ook daardie groot seer in sy hart. Sy kleinbaas Dolf het weggegaan, en nou staan die nonnatjie elke dag so na die pad en kyk.

Met sy kop vooroor gebuk, loop hy na die afdak om die vuur aan te steek.

Met die son wat agter die rante verdwyn, sak die verlatenheid toe oor die omgewing en doem die huisies soos donker, onheilspellende skaduwees in die flouer wordende lig op. Beth se oë word vol trane. Shannon het nog nie gekom nie, en ook nie Dolf nie. Hulle het van haar vergeet!

Haar oë fynkam die horison en dwaal dan terug al met die pad langs tot aan die voet van die rant waarteen hul huisie staan. Dan weer kyk sy vir oulaas terug na die horison – en haar hart begin onstuimig klop. Sy vee vinnig met haar hand oor haar moeë oë om beter te kan sien.

Toe die laaste strale van die ondergaande son die rante kleur, sien sy die eerste osse stadig daaroor beur, en die silhoeët van ’n man op ’n perd staan helder afgeteken teen die lug!

Beth se hart bokspring in haar keel. Sy vlieg vervaard om en hardloop na die afdak, waar April pas die vuur aan die gang gekry het.

“Hulle kom! April, hulle kom!” gil sy dit uit, en lag en huil deurmekaar.

April kyk verskrik op.

“Hoe sê die nonna nou?”

“Hulle kóm!”

Sy spring om en begin met koorsagtige haas teen die rant af hardloop in die rigting van die naderende ossewa. Sy vee die trane met haar hand weg en laat stofstrepe op haar wange agter. Haar velskoene glip kort-kort uit; sy pluk hulle van haar voete af en draf kaalvoet al met die stofpad langs, die skoene swaaiend in haar een hand.

April kom stadiger agterna. Sy voete wil hom nie meer soos ’n wildsbokkie oor die klippers dra nie; sy rug is al krom getrek van die ouderdom. Ook hy het nou die wag gesien, maar besef skielik dat dit nie is waarvoor die nonnatjie gewag het nie.

Toe die ruiter ’n goeie ruk later aan die onderpunt van die stofpad sy perd inhou om die wa en osse in te wag, begin Beth weer hardloop.

“Meneer Shannon!” roep sy hard, en die vreugde borrel in haar keel op.

Die ruiter draai in haar rigting, gee sy perd spore en kom op ’n stywe galop na haar toe aangery. Eers toe hy sy perd hier by haar inhou, besef Beth met ’n sinkende hart dat dit nie Hugh Shannon is nie!

Haar arms val slap langs haar sye en sy hyg na haar asem. Haar uitbundige vreugde word ’n verslaenheid, en ’n snik stoot in haar keel op.

Die man klim van sy perd af.

“Ek is Hermaans du Toit,” stel hy homself bekend.

Sy kry dit reg om te glimlag.

“Ek is Beth Jonker, meneer,” sê sy hees.

Hy lag opgewek.

“Aangenaam!” Dan kyk hy om hom rond. “Woon julle nog steeds op hierdie verlate dorp? Ek dag dis lankal tot niet!”

“Ek woon alleen hier, meneer.”

Hy frons diep en lyk geskok.

“Alleen?”

Beth knik net. Voordat hy weer iets kan sê, maak die ossewa sy verskyning aan die onderpunt van die dorp, en die man spring weer haastig in die saal.

“Wag net hier, ek is netnou terug!” roep hy en ry weg.

Beth staan hom met ’n diep teleurstelling agterna en kyk. Dit is nie Shannon nie. Dit is ’n vreemde jong man!

April kom eindelik hygend by haar aan.

“Wie is dit, Nonna?”

“Vreemde mense, April.”

“Gaan hulle vannag hier bly?”

“Ek weet nie.”

“Miskien ek moet regmaak daar by die huis. Miskien hulle bly vanaand.”

“Dis goed, April.”

Die ou swart man kyk onbegrypend na Beth, draai dan stadig om en begin die ent pad na die huisie toe langsaam uitklim.

Beth kyk nie na hom nie, staar net na die naderende ossewa, en veg teen die trane wat dreig om in haar oë op te wel.

Die man met die perd kom na ’n ruk weer na haar toe aangery. Hy is nog jonk, omtrent net so oud soos Shannon. Sy wonder of hy ook op pad Spitskop toe is – of dalk na Geelhoutboom toe.

Dan is hy by haar en klim van die perd af.

“Ons sal hier moet oornag,” sê hy.

“Hier is baie plek om uit te span,” sê sy belangeloos, half bly dat hier darem weer mense is, en tog diep teleurgesteld omdat dit nie Shannon is nie.

Hulle gesels oor ditjies en datjies totdat die wa eindelik by hulle aankom.

Die drywer hou die osse in.

’n Groot man klim van die wa af en kom na hulle toe aangestap. Hy groet Beth met die hand.

“Middag, niggie. Hermaans sê jy bly alleen hier? Waar’s jou mense dan?”

“My ouers is albei oorlede en … en my broer … my broer het my alleen hier gelos. Hy is Spitskop toe.”

“Genugtig! Dis nou ’n gebodder!” Hy trap onseker rond. “Sê my, is hier plek waar ons kan uitspan vir die nag?”

“Ja, meneer. Gebruik sommer die pad as u wil. Niemand kom meer hier nie. Die rivier is daar onder. My donkies suip ook daar.” Sy huiwer ’n oomblik lank voor sy onseker sê: “Ek het nie vreeslik baie kos in die huis nie, maar meneer-hulle kan gerus vanaand by my kom eet.”

Die ou man glimlag.

“Nou maar dankie, niggie, ons maak so!” Hy draai na Hermaans en gee opdrag om uit te span en die osse te laat drink. Dan wend hy hom weer tot die meisie voor hom: “Ek is Jan du Toit. Jy moet maar die Ingelse ‘meneer’ los – noem my sommer oom Jan.”

Beth glimlag innemend.

“Goed, oom. Ek is Beth, oom, Beth Jonker.”

“Ja, Hermaans het my so vertel. Ek ken nie eigentlik Jonkers nie!”

“Jan! Sie jy my op die daad kom help!” roep ’n vrou ongeduldig van die wa se kant af. Oom Jan mompel ’n verskoning en stap haastig in daardie rigting.

Beth kyk om haar rond. Hermaans en ’n swart man is besig om die osse uit te span. Af en toe bulk een met ’n lang, droewige, uitgerekte noot. Sommiges draf al skuddend in die rigting van die rivier. Hulle het die water geruik, en is haastig om hul droë kele te laaf na die lang dag. Toe die laaste os op pad is water toe, vee Hermaans moeg met sy hand oor sy voorkop, kyk om hom rond of alles in orde is, en verdwyn dan agter die watent. Vreemde vrouestemme klink op, en Beth hoor oom Jan onderlangs brom.

Hulle kom ná ’n rukkie in ’n groepie na haar toe aangestap – vier mense. By oom Jan en Hermaans is twee vroue, en dis die jonger vrou wat Beth se aandag trek. Sy is alles wat Beth nie is nie. Haar wange is bloesend, haar gesig vol en mooi en haar jong liggaam vroulik. Beth sluk hard en trek senuweeagtig aan haar rok wat lankal reeds te klein vir haar is. Dit hang nie meer laag om haar enkels soos hierdie meisie s’n nie – dit sit al ’n hele ent boontoe en ontbloot haar kaal voete. Ook om haar lyfie is dit reeds te klein, en agter wil al die knopies nie meer behoorlik vaskom nie.

“So, jy is nou Beth Jonker,” hyg die gesette mevrou Du Toit toe hulle die meisie bereik.

“Ja, tannie, antwoord Beth skugter. Die jong meisie bly agterlangs staan.

Hulle gesels ’n rukkie en dan sê die ouer vrou: “Wel, sal ons maar huis toe gaan, Jan?”

Hy kyk na die meisie.

“Ja, dit word laat. Beth, jy sal moet voor loop, jy ken die pad.”

Hermaans en die twee ouer mense loop agter. Die meisie val ongenooi langs Beth in, glimlag vriendelik en sê: “My naam is Katie.”

Beth knik. “Gaan julle ook Spitskop toe?”

“My pa en neef wil gaan delf. Of hulle nog ’n kleim gaan kry, dié weet ek nie.”

“Kom julle van ’n plaas af?”

“Ja. Dis eintlik in die Kolonie.”

“Dis baie ver.”

“Ons is al maande lank op pad. Ek sal so bly wees as ons eers op Spitskop is.”

“Dis nog ver soontoe!”

“Ek weet.”

“Hoe gaan jy en jou ma julle besig hou op die delwerye?”

“Ons wil ’n besigheid daar begin. Jy sien, ons het gedink dat as ons ’n wassery het, sal ons darem goed kan geld maak, as my pa-hulle dit nie op die kleim kan doen nie.”

Beth glimlag.

“Dis ’n blink gedagte!”

Katie glimlag verleë.

“Dis eintlik my ma wat daaraan gedink het,” sê sy.

“Gaan jy help?”

“Ek sal seker maar moet. Wat gaan jý doen?”

Beth frons liggies, dink diep na en sê dan: “Ek sal seker ook die een of ander tyd Spitskop toe gaan. Eintlik wag ek nog vir ’n meneer Shannon om terug te kom.”

“Meneer Shannon?”

“Ja, ek ken hom al lank. Hy het eendag hier verbygekom en toe het ek vir hom goud gegee om te verkoop. Hy moet die geld nog vir my terugbring.”

Katie loop diep en nadink.

“Hoe lyk dié meneer Shannon?”

“O, hy is lank en hy is ouer as my broer – omtrent so oud soos Hermaans. Hy het groen oë en sy hare is swart.”

Katie gaan staan en draai na haar ouers wat steunend agterna kom.

“Wat het Pappa nou die dag van ’n meneer Shannon gesê?” vra sy.

Oom Jan kyk fronsend na sy dogter.

“Shannon?” vra hy dan.

“Ja, Pappa. Die man van wie oom Koos Viljee gepraat het.”

’n Oomblik lank lyk dit asof oom Jan glad nie begryp van wie sy dogter praat nie, maar dan helder sy gesig op, en terselfdertyd bekyk hy Katie taamlik agterdogtig.

“Wat op aarde wil jy dít voor weet?” vra hy.

Katie kyk nie na Beth nie, haal net haar skouers baie effens op.

“Beth en ek het sommer geloop en gesels oor allerhande mense, Pappa. Nou kan ek nie onthou wat Pappa van die meneer Shannon gesê het nie.”

“Dis dinge waarvan ’n jong meisie soos jy nie behoort te weet nie, Katie,” grom hy, maar beantwoord tog haar vraag: “Hugh Shannon was in Kalifornië in die tronk vir die een of ander oortreding. Die dag voordat hy tereggestel sou word, het hy ontsnap … Hy is nou hier in Suid-Afrika.”

Spoelgoud

Подняться наверх