Читать книгу Die geheim van Rust der Vrede - Annelize Morgan - Страница 3
1
ОглавлениеHulle is almal daar in die ruim onthaalsaal. Hulle is almal die afstammelinge van die eerste Cornelius Lodewyk van Wyngaardt. Honderd-en-vyftig jaar gelede het dié groot ou familiepatriarg Rust der Vrede gekoop en die kolossale herehuis daarop gebou. Toe was daar myle ver in die omtrek geen ander mense nie, maar vandag lê die dorpie, Vredestad, om die herehuis genestel.
Vredestad is ’n klein plekkie met twee kerktorings en ’n paar winkeltjies. Die familieplaas bestaan nie meer nie. Dis deur die dekades opgesny en verkoop, en die dorpie het mettertyd om die herehuis ontstaan. Die inwoners van Vredestad het nog steeds groot ontsag vir die mense van die herehuis wat die naam Rust der Vrede behou het. Dit staan soos ’n soliede klipreus tussen die ander geboue, en met sy groot parkagtige tuin het dit tog baie van sy ou glorie behou.
Hierdie naweek is almal op Rust der Vrede. Niemand van die dorp is genooi nie omdat dié geleentheid net vir die familie is. Nie een van die teenwoordiges weet eintlik waaroor dit gaan nie, maar tant Sophia van Wyngaardt het hulle laat weet dat sy almal by die herehuis wil hê.
Sophia van Wyngaardt is nooit getroud nie. Haar pa, Lodewyk, het die huis aan haar bemaak met die verstandhouding dat sy dit eendag in die hande van ’n Van Wyngaardt sal laat. Sy het ’n broer, Lood, maar hy was nog altyd ’n deugniet. Hy is vyf-en-dertig jaar gelede met Carina getroud en het twee kinders gehad: Eunice en Philip. Philip is op sewe-en-twintig nog ongetroud, maar sy suster, Eunice, het met ’n ryk nyweraar, Alfred Benson, getrou.
Die ander twee broers se afstammelinge is wat die familie betref onbelangrik. Antonie van Wyngaardt en sy vrou, Elsa, het net een dogter genaamd Engela gehad. Cornelius en Marja het ook net een dogter, Suzanne. Antonie het spoorloos verdwyn toe die goud in Johannesburg ontdek is. Sy vrou, Elsa, moes maar voortsukkel omdat die familie haar nooit aanvaar het nie. Sy is ’n kleremaakster op ’n naburige dorp, Kroondal. Haar dogter het in haar plek na Rust der Vrede gegaan omdat sy self nie die familie wou sien nie.
Cornelius se vrou, Marja, is kort na Suzanne se geboorte oorlede en hy het nie weer getrou nie. Hy is ’n gesiene boer in die distrik en Suzanne word gruwelik bederf.
Hoewel Engela en Sophia baie goed met mekaar oor die weg kom, het die res van die familie haar ook eenkant toe geskuif. Engela word beskou as die dogter van ’n rondloper. Haar pa en ma het jare gelede weggeloop om te gaan trou omdat oupa Lodewyk en ouma Engela nie die huwelik goedgekeur het nie. Die oumense is dood kort nadat Engela gebore is.
Daar was nog nooit veel liefde verkwis tussen Engela en veral Suzanne nie. Hulle ander niggie, Eunice, het hulle op haar beurt as benede haar beskou. Dit is dus eintlik ’n taamlik liefdelose familie waarin die een die ander nie die son gun wat oor hom of haar skyn nie
Die kwessie van erf het al groot opskudding in die familie veroorsaak. Na regte moes die huis na Lodewyk gegaan het, maar sy pa het dit aan Sophia bemaak. Lodewyk, of Lood soos hy genoem word, het Sophia dit nooit vergewe nie. Sy seun, Philip, is die enigste ander Van Wyngaardt wat die huis kan erf as Sophia die dag tot sterwe kom.
Philip is Engela se enigste neef en hulle sien hom selde. Ten spyte van Lood se onvermoë om iets te bereik, is Philip besig om vinnig geld te maak op die effektebeurs. Hy het ’n ingebore sin vir sake en hy maak goed daarvan gebruik.
Sophia het verwag dat minstens twee van haar broers teenwoordig sou wees, dog net Cornelius het opgedaag. Van Antonie was daar nog steeds geen spoor nie, en Lood het besluit dat sy twee kinders, Eunice en Philip, die saak wel sal kan hanteer.
Die ou dame haal haar skouers op. As dít hulle houding is, dan verdien hulle wat na hulle kant toe kom. Haar blik dwaal oor die res van die gaste. Hulle is maar net sewe vanaand en sy mis Elsa, Engela se moeder. Die kind aard baie na haar ma. Hulle is albei stil en teruggetrokke, maar dis net asof daar iets van ouma Lodewyk in Engela is. Ten spyte van al die terugslae, is daar nog ’n vasberadenheid in haar wat verfrissend is. Haar reguit eerlikheid krap baie mense om, maar sy is nie bang om met die waarheid uit te kom nie.
Sy plak ’n glimlag op haar verrimpelde gesig toe haar broer, Cornelius, by haar aansluit.
“Gits, Sophia, die ou plek is besig om te vergaan. Kan jy nie iets daaraan doen nie?”
Sophia hou die glimlag vasberade om haar mond.
“Natuurlik, Cor, eendag sal ek iets daaraan doen. Veral as jy daaraan dink dat Pappa net ’n karige jaarlikse inkomste aan my nagelaat het. Ek het heeltemal te veel geld en weet nie wat om daarmee te doen nie. Dis dalk ’n goeie plan om op te hou met eet sodat ek die huis kan mooi maak.”
“Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Dis net ’n jammerte dat Rust der Vrede besig is om uitmekaar te val.”
Sophia se grys oë is koel toe sy na hom kyk.
“Miskien kan jy ’n paar van jou duisende nuttelose ponde gebruik om iets aan die plek te doen. Of is jou rente op jou geld van veel meer belang as die toestand van Rust der Vrede?”
“Jy is nou onredelik. Pa het die huis aan jou bemaak en dis jou plig om te sorg dat dit in ’n goeie toestand bly.”
“Of te los sodat dit na die hoenders gaan,” sê sy skerp. “Jy het ’n verbasende dik vel, Cornelius. Julle sit almal julle tande en slyp vir Rust der Vrede. Dis ’n waardevolle ou huis vol ou herinneringe en julle wil dit graag behou … maar julle is nie een bereid om ’n pennie te gee om dit te herstel nie.”
Hy dink diep na.
“Miskien kan ons elkeen so ’n ietsie bydra. So ’n vyfhonderd pond elk sal die plek weer regruk.”
Sy lag vreugdeloos.
“Spaar jou asem, my broer. Uit Lood sal jy niks kry nie omdat hy niks het nie. Philip is nog jonk en hy glo dat ek die huis eendag aan hom sal bemaak omdat hy die enigste Van Wyngaardt-man uit hierdie deel van die familie is. Eunice se man het geen belang hier nie en sal ook niks gee nie. As jy vir Antonie kan opspoor, sal hy miskien bereid wees om tien pond te gee. Dis dalk al wat hy aan hom sal hê. Hy was die enigste een wat ooit werklik omgegee het vir die plek.”
Hy trek ’n suur gesig.
“Jou sentimente is misplaas, my liewe Sophia. Antonie en Elsa word nie meer as deel van die familie gereken nie. Wat hulle dogter betref …” Hy kyk om na waar Engela half eenkant met ’n glas in haar hand staan, en dan draai hy terug na sy suster. “Wat Engela betref, sy hoort glad nie hier nie. Ons het haar tog die huis belet.”
Sophia staar hom vol onderdrukte woede aan.
“Solank Rust der Vrede aan my behoort, sal Engela welkom wees hier.”
Hy haal sy skouers op.
“Maak soos jy lus het, maar moenie dink dat ons jou vir daardie gebaar bedank nie. Jy plaas ons almal in ’n baie ongemaklike situasie.”
Eunice kom glimlaggend na hulle toe aangestap.
“Tante Sophia, ek wil net my twee kinders in die bed gaan sit. Klein Lodewyk is ’n bietjie verkoue en dis buitendien lankal slaaptyd vir Yvette.”
Sophia glimlag terug. “Natuurlik, kind. Ek hoop net nie julle ry weer môreoggend nie.”
Eunice haal haar skouers liggies op. “Tante weet hoe Alfred is. Hy is nie juis in die wolke oor my familie nie.”
Sophia lag opgewek. “Miskien kan ek hom oorhaal om tot Sondag te bly. Ons sien julle so min sedert julle na Pretoria verhuis het.”
Eunice kyk na haar man wat taamlik suur by die venster staan.
“Tante kan maar gerus probeer, hoewel ek nie glo dat dit sal help nie.” Dan kyk sy terug na Cornelius. “Aanhouer wen, of hoe, oom Cor?” Sy lag sag en haar stem is effens hees. “Rust der Vrede is ’n groot appel om in ’n mens se skoot te val. Hy val jou dalk morsdood.”
Cornelius knik sy oë geskok toe Eunice laggend van hulle af wegstap.
“So ’n rissiepit! As die stomme Carina nog geleef het, sou sy nou van skaamte gesterf het oor haar dogter se vermetelheid!”
Eunice verlaat die vertrek met ’n ingebore, adellike grasie. Sy is lank en blond en keurig geklee. Sy het nog nooit enige tekort in haar lewe geken nie en is gruwelik deur haar ouers bederf. Teen die tyd dat haar pa se inkomste begin kwyn het, was sy veilig met Alfred Benson getroud. Op die oomblik is haar gedagtes egter donker en vol frustrasie.
“So ’n suinige ou vrek,” dink sy ergerlik toe sy met die trap na bo gaan. Wanneer Cornelius van Wyngaardt in ’n spandabele bui is, koop hy rond en bont klere en motors en juwele vir sy dogter Suzanne. Hy het nog nooit ’n enkele pennie aan sy versukkelde familielede gegee nie.
Engela kyk Eunice agterna toe sy die vertrek verlaat. Sy het die hele aand nog byna geen woord gepraat nie. Niemand doen die moeite om met haar te gesels nie, behalwe Alfred Benson. Hy hou nie van die Van Wyngaardts nie, en sy word nie deur hulle aanvaar nie. Dit maak hulle nogal bondgenote.
Philip sluit onverwags by haar aan. Sy wil eers padgee, maar hy keer haar.
“Waarheen is jy so haastig op pad, skone prinses?”
Sy frons onseker. “Wat is dit nou met jóú, Philip?”
Hy lag. “Niks. Ek verbaas my maar net oor hoe mooi jy geword het in die agt jaar wat ek jou nie gesien het nie. Toe was jy ’n langbeenmeisiekind met stywe vlegsels en ’n lelike sproetneus. Ek het nog nooit van sproete gehou nie.”
Sy staar hom agterdogtig aan. “Jou suster sal nie daarvan hou dat jy met my praat nie.”
Hy grinnik. “My suster het geen sê oor my nie. Eunice sal dit nie waag om my oor enigiets te betig nie.”
Engela draai weg. “Ek het ongelukkig nie daardie voorreg nie. Sy sal mý die skuld gee dat ek met jóú gesels het.”
Hy kyk nuuskierig na haar. “Hoekom laat jy toe dat hulle jou rondstamp?”
Sy kyk vinnig terug na hom. “Omdat ek nie teen hulle kan baklei nie.”
“Nou goed dan,” sê hy. “As Eunice soveel as een woord met jou praat, sal ek haar dreig dat ek Alfred gaan vertel dat sy duisend pond op ’n wedren verloor het.”
Engela knip haar oë ongelowig.
“Duisend pond!”
Hy hou sy vinger voor sy mond.
“Sjjjjt! Ek wil nie hê dat almal dit moet weet nie! Dis my geheime wapen teen haar. Sy kan deksels geniepsig raak as sy die dag daarvoor lus het, maar vandat ek van haar dobbelskuld uitgevind het, laat sy my met rus.”
Engela skud haar kop stadig. “Hoe meer dae, hoe meer korrupsie. Julle is voorwaar ’n vreemde spulletjie bymekaar.”
Hy lag ongedwonge. “Jy is een van ons, al wil nie jy of ons dit erken nie. Jy is ’n Van Wyngaardt en moet dit nooit vergeet nie.”
Haar geelbruin oë vertroebel. “Ek wens ek kon van julle almal vergeet. Dis net tant Sophia vir wie ek enigsins omgee.”
Hy lyk opsetlik teleurgesteld.
“Ag nee, en wat dan van my? Ek het jou mos niks gemaak nie?”
Sy glimlag effens. “Nog nie.”
Hy beskou haar ondersoekend.
“Dit klink na ’n dreigement.”
Engela kyk ’n lang ruk swyend na hom. Dan sê sy stadig: “Julle het my geleer om altyd op my hoede te wees, altyd agterdogtig en om nooit iemand te vertrou nie.”
“Eina!” sê Philip en trek ’n gesig. “Dit was ’n lae hou!”
Eunice kom weer ingestap, en haar blik val op Engela en haar jonger broer wat skynbaar hulle gesprek geniet. Vasberade stap sy na hulle toe om ’n einde aan hierdie ongehoorde toedrag van sake te maak.
Philip kyk op en sien die uitdrukking op haar gesig. Hy grinnik egter onbekommerd en vryf net sy duim en voorvinger betekenisvol teen mekaar.
Eunice gaan staan verbaas. Sy haat dit dat Philip hierdie houvas op haar het. Hy doen deesdae net wat hy wil, en sy kan geen woord praat nie. As hy vir Alfred gaan vertel van haar dobbelskuld, gaan die herrie los wees. Alfred sal haar dit nooit vergewe nie. Dan draai sy woedend om en gaan by haar man staan.
Philip grinnik tevrede.
“Sien jy? Sy is so bang vir my soos die duiwel vir ’n slypsteen.”
Engela lag verlig.
“Ek het vir ’n oomblik gevrees dat ons ’n lelike klein relletjie gaan hê. Hulle verdra my net omdat tant Sophia my hierheen genooi het. Ek sien die afkeer en minagting in hulle oë, en selfs wanneer hulle nie na my kyk nie, weet en voel ek wat hulle dink.”
Philip glimlag. “Ek is bly dat jy my nie meer as een van hulle reken nie.”
Sy kyk vinnig na hom en frons liggies.
“Hoekom doen jy dit? Ek bedoel, hoekom doen jy hoegenaamd die moeite om jouself bloot te stel aan kritiek? Jy kon my mos ook maar geïgnoreer het soos die ander.”
Hy skud sy kop stadig.
“Ek dink nie ek is regtig een van hulle nie. Die Van Wyngaardts is ’n vreemde lot, of het jy dit nog nie agtergekom nie?” Sy blik dwaal na die portrette van sy stoere voorvaders. “Ou Cornelius Lodewyk van Wyngaardt was skynbaar ’n regte ou korrelkop. Maar dit is iets wat ons van die meeste Van Wyngaardts kan sê.”
Engela glimlag. “Jy sal tant Sophia skok as jy so iets voor haar sê.”
Hy lag opgewek.
“Tant Sophia is die laaste een om deur die Van Wyngaardts geskok te word. Sy ken hulle te goed, en sy is taamlik sinies in haar opinie van hulle.”
Engela glimlag net en dink aan haar eie pa. Sy het hom nooit geken nie. Sy was maar skaars drie jaar oud toe hy verdwyn het, en nou is sy al twee-en-twintig. Haar moeder hoop nog altyd dat hy sal terugkom, maar sy self glo dit nie meer nie. Hy is óf dood óf hy wou nooit terugkom nie.
Philip bekyk die meisie voor hom ongemerk. Engela is nie mooi nie, maar sy het die soort gesig wat ’n mens nie maklik vergeet nie. Om die waarheid te sê, sy is die ewebeeld van haar ouma Engela wat lankal reeds oorlede is. Sy het dieselfde aristokratiese neus, breë mond en groot, geelbruin oë. Haar swart hare, wat sy in sagte krulle om haar gesig dra, versag haar gelaatstrekke. Sy het nie die klassieke skoonheid van Eunice of die engelagtige skoonheid van Suzanne nie, en tog sal sy die een wees na wie ’n mens twee keer sal kyk.
Die eetkamertafel is feestelik gedek toe hulle aansit vir ete. Die familie wat teenwoordig is, vul skaars die helfte van die twaalf voet lange stinkhouttafel.
Sophia gaan op haar plek aan die bopunt van die tafel sit.
Cornelius kyk suur na haar.
“Dis ’n familiebyeenkoms, Sophia,” sê hy grimmig. “Jy behoort nie die plek van die hoof van die huis in te neem nie.”
Sy kyk liefies na hom, maar haar oë is soos skerp naalde op hom gerig.
“As die eienares van Rust der Vrede is dit my voorreg, my liewe broer. Ek ís die eersgeborene, weet jy?”
Cornelius gaan langs Suzanne sit.
“Maar jy bly ’n vroumens,” brom hy hardnekkig.
Sophia ignoreer hom en lui die klokkie sodat die bediende die kos kan inbring.
Suzanne leun oor na haar pa.
“Moenie tant Sophia so kwaad maak nie, Pappa. Na haar dood moet Rust der Vrede ’n nuwe baas kry en ek sal nie daarvan hou dat sy ons oor die hoof sien net omdat Pappa gedurig met haar rusie maak nie.”
Hy sug diep. “Die huis kom mý toe en sy weet dit.”
Philip het die vinnige woordewisseling aangehoor en nou glimlag hy.
“En om watter rede, oom Cornelius? Ek is die enigste man van die derde geslag wat nog die Van Wyngaardt-naam dra. Ek is die enigste een wat ’n Van Wyngaardt-erfgenaam kan voortbring.”
Sophia kyk op na hulle, en ’n vreemde glimlaggie speel om haar mond. “Toe maar, julle aasvoëls, hierdie keer gaan julle hebsugtigheid en vraatsugtigheid nie bevredig word nie.”
Alfred draai na Philip. “Wat my betref, kan die hele huis en die familie na die hoenders gaan. Julle selfgenoegsaamheid is genoeg om enigeen die horries te gee.”
Daar heers doodse stilte en dan sê Eunice paaiend: “My liewe man, dis ’n baie ondiplomatiese ding om te sê. Jy vergeet dat ék een van die familie is.”
Alfred Benson is egter nie van plan om nou stil te bly nie. Die ander het hom nog altyd as ’n swakkeling beskou omdat hy nooit gepraat het nie. Dit was net ter wille van Eunice dat hy sy mond gehou het.
“Julle is so vol van julle familie, maar kyk wat hét van die Van Wyngaardts geword! Lood het alles op die dobbeltafels verloor wat sy pa hom nagelaat het. Antonie het weggeloop, en miskien was hy die enigste een met verstand. Ek sou ook voet in die wind geslaan het as ek ’n Van Wyngaardt was!”
“Hokaai, oompie!” roep Philip uit. “Jy is nie ’n Van Wyngaardt nie, Alfred, en wat weet jý van familietrots? Julle Bensons het sommer van êrens uit die wolke geval, en nou kom gooi jy jou lyf rond in ’n familie wat reeds meer as tweehonderd jaar bestaan!”
“Wat beteken tweehonderd jaar as dit besig is om in ’n vuilisblik te verdwyn?” bulder Alfred.
Eunice knip haar oë verbaas. Só ken sy nie haar stil, teruggetrokke Alfred nie.
Sophia kyk kalm van die een na die ander. Vreet mekaar maar op, dink sy sonder veel belangstelling. Dis goed dat julle nóú vuil wasgoed uithang.
Cornelius se gesig het verdonker.
“Jy matig jouself baie aan, jong man!” Sy stem is vol ingehoue woede.
Alfred draai na hom. “Jy het die grootste mond, oom Cornelius! Maar kyk na die ou huis! Het jy al ooit ’n pennie gegee dat julle sogenaamde erfenis behoue bly? Die enigste een wat nog ’n ware, waardige Van Wyngaardt is, is tant Sophia.”
Die ou dame kyk verras op. Alfred Benson deel ongetwyfeld oupa Lodewyk se siening. Dis tog jammer dat hy nie ’n Van Wyngaardt is nie.
Suzanne se oë blits vuur.
“Jy praat nie so met my pa nie, Alfred! Jy het geen regte of voorregte hier nie en moet dit nie vergeet nie.”
Alfred byt op sy tande.
“Kyk ’n bietjie mooi na julle ou spul hier om die tafel! Julle sit soos jakkalse en wag om te aas! Die oosvleuel van die huis is besig om inmekaar te val! Die plafonne van die res van die huis kan enige dag inmekaarstort! Die tuine is in ’n verwaarloosde toestand! Die badkamers is antiek, en die water loop net om genade nog! Dís julle erfenis! Dít is wat julle gaan kry as tant Sophia die dag nie meer daar is nie! Dis ’n ruïne … ’n ruïne soos die familie self!”
Daar heers ’n geskokte stilte terwyl Sophia haar kop laat sak. Die hemel weet, Alfred is reg, maar daar was niks wat sy daaraan kon doen nie. Met twintig pond per maand kan sy die huis nie in stand hou nie. Oupa Lodewyk wou gehad het dat almal moes saamstaan om Rust der Vrede te red, maar niemand was bereid om iets te doen nie.
Engela sit roerloos. Sy het nie aan die gesprek deelgeneem nie omdat dit ’n nog hewiger rusie sou uitgelok het. Alles wat Alfred gesê het, het haar seergemaak. Hoewel die familie haar en haar moeder verstoot het, het sy nog altyd gevoel dat sy deel was van hierdie ou familie. Van hulle bloed het in haar are gevloei, en dit was iets wat niemand van haar kon wegneem nie. Sy het haar oupa Lodewyk en ouma Engela nooit geken nie, maar uit die portrette aan die mure het sy besef dat sy en haar ouma baie na mekaar gelyk het. Miskien is daar tog ’n onsigbare band wat haar aan Rust der Vrede en ouma Engela bind.
Cornelius pers sy lippe opmekaar.
“Jy het baie te sê vir ’n buitestander, Alfred,” sê hy hees. “Jou skoonpa is maar ’n treurige skepsel as hy toegelaat het dat jy en Eunice trou. Hy is my broer, maar dit was onvergeeflik van Lood om sy dogter met so ’n verraaier te laat trou.”
Eunice spring op. “Dis nou genoeg, hoor julle! Julle gedrag is julle nie waardig nie! Het julle vergeet wie julle is?”
Alfred se gesig is rooi van woede.
“Sit, Eunice. Hierdie ding moet uitgepraat word.” Hy kyk terug na Cornelius. “Julle hoef my nie uit die familie te stoot soos wat julle met die stomme oom Antonie gemaak het nie, want ek was nog nooit een van julle nie. Daar sit Engela! Die lewende ewebeeld van julle ouma Engela! Maar sy word as ’n niks tussen julle gereken! En hoekom? As daar van julle is wat iets werd is, dan is dit Elsa en Engela van Wyngaardt! Engela is nog uit dieselfde hout as haar voorouers gesny!”
Alle oë rus op Engela wat met saamgeperste lippe voor haar bly kyk. Sy wens dat sy nie hier was nie. Sy wens dat sy nooit na Rust der Vrede gekom het nie.
Suzanne se oë blits. “Jy beledig ons, Alfred! Jy het geen reg om dit te doen nie!”
Alfred staan op en vee sy mond aan die servet af.
“Ek het my sê gesê! Nou kan julle maar verder krepeer! Julle houdinkies en maniertjies is aanplaksels om julle valsheid te verberg! Gaan maar voort met julle venynige toneelspel! Gaan maar voort om julleself as klein gode te beskou! Julle stuur op ’n ramp af! Julle het die einde van julle glorie bereik … al julle siek Van Wyngaardts! Julle gaan hard val tussen die asblikke wat julle vir kastele aangesien het!” Hy stamp sy stoel terug en stap uit die vertrek.
Almal staar hom agterna. Hulle is te geskok om iets te sê.
Eunice haal diep asem. “Ek is jammer. Ek weet nie wat vanaand in hom ingevaar het nie.”
Sophia kyk na die ontstelde gesigte om haar.
“Miskien het die waarheid julle almal ’n bietjie seergemaak,” sê sy kalm. “Ons hou nie een daarvan om te hoor dat ons gefaal het nie.” Sy hou haar hand omhoog toe die ander wil protesteer. “Laat my klaar praat. Cornelius, jy is ’n ryk en gesiene boer. Eunice is veilig getroud met ’n ryk nyweraar. Philip, jy is besig om goed te vaar op die effektebeurs. Jy is besig om jouself skatryk te maak. Suzanne weet dat sy nooit ’n tekort sal hê nie. Julle is almal suksesvol, maar julle het nogtans gefaal. Julle het julle oupa en ouma jammerlik gefaal. Julle familietrots is ’n geveins.”
Philip knip sy oë ongelowig. “Ek kan sulke woorde nie van ú glo nie, tante Sophia!”
Sy kyk met moeë oë na hom. “Rust der Vrede het ’n huis van hartseer geword, Philip. Die mooi dae van onskuld en opregtheid is vir altyd verby.”
“Hoe kan jy so sê, Sophia?” wil Cornelius weet.
Haar gesig lyk skielik oud en afgeleef.
“Ek het julle almal voor my sien grootword, Cornelius. Jy is vyftien jaar jonger as ek en dus weet ek waarvan ek praat. Julle het almal vergeet van die dae toe ons nog gedurende die Kerstyd en Nuwejaar as ’n gesin saam na Rust der Vrede gekom het. Julle het vergeet hoe lekker dit was net om te weet dat ons nog saam is. Suzanne en Philip en Eunice en Engela het nog soos kinders saam baljaar. Nou is julle almal besig om aan julle eie paleise en droomkastele te bou. Net ek en Rust der Vrede is nog dieselfde.”
Engela byt haar bewende onderlip vas. Sy mag nie nou huil nie. Haar hele lewe lank nog het sy ’n bewondering gehad vir die trotse, aristokratiese tante Sophia. Sy het nog nooit aan die ou dame se oordeel getwyfel nie. Sophia en Rust der Vrede was vir haar ’n hawe waar sy teen die storms kon skuil, waar sy altyd weer kalmte gevind het.
Die feit dat sy kan lees en skryf, het sy aan Sophia te danke. Daar was nooit genoeg geld dat sy kon skool toe gaan nie. Dit was Sophia wat aan haar verduidelik het dat die belangrikste in ’n mens se lewe nie noodwendig geld moet wees nie. ’n Blymoedige aanvaarding van jou lot kan jou deur baie donker dae help. Sy het hierdie lewensfilosofie uitgeleef, en in die twee klein kamertjies waarin sy en haar ma gewoon het, was hulle betreklik gelukkig.
“Ons kan Rust der Vrede restoureer,” sê Cornelius teësinnig, “maar wat is die sin daarin as ons nie weet aan wie jy dit gaan nalaat nie? As dit na Lood gaan, weier ek om ’n pennie daaraan te bestee.”
Sophia se oë word koud.
“Jy het baie duidelik bewys wat ek probeer sê het, Cornelius. Dit gaan nie vir jou om die behoud van Rust der Vrede nie. Dit gaan vir jou om wat jý daaruit kan kry.”
Cornelius bly stil. Hy het nog altyd ’n hoë agting vir Sophia gehad, maar sy het in ’n vitterige, patriotiese oujongnooi ontaard. Al wat hom gerusstel, is dat sy nie die huis sal bemaak aan iemand wat dit nie kan bekostig om dit reg te maak nie.
“Ek kan met Alfred praat om by te dra,” sê Eunice na ’n lang stilte.
Suzanne glimlag minagtend. “Hy sal nie ’n dooie duit gee nie. Hy haat die Van Wyngaardts.”
Eunice kyk na haar niggie. “Soms voel ek presies soos hy,” sê sy ysig. “Jy het my nog nooit tot groot familieliefde geïnspireer nie, my liewe Suzanne.”
“En jý heg net waarde aan jou prestige en aansien onder die rykes in Johannesburg,” antwoord Suzanne vinnig.
Philip glimlag skeef. “Kietsie, kietsie!” Hy grinnik toe die twee vroue hom woedend aangluur. “Ek wonder wat julle in julle toe kamers oor die stomme Engela te sê het. Iets moois kan onmoontlik uit sulke bitterbekke kom.”
Eunice kyk hom ergerlik aan.
“Jý kan nie juis praat nie, Philip! Jou reputasie onder die vroue is wyd en syd bekend. ’n Regte haan wat nie ’n snars omgee hoeveel harte hy breek nie.”
Philip lag gemoedelik. “Maar nie een van hulle is sulke venynige katte soos jy en Suzanne nie.”
Suzanne se oë glinster. “Jou sjarme is ’n dun, aangeplakte lagie, my neef. Daaronder is jy meer gewetenloos as ’n geldskieter.”
Philip se glimlag verstyf.
“Jy sal jou woorde nog sluk, Suzanne,” sê hy stadig. “Jy is niks meer as ’n duur flerrie nie.”
Sophia staan vinnig op. “Dis nou genoeg! Ek het vanaand genoeg van julle wedersydse haat en minagting gesien om te weet dat ek die regte ding doen!”
Almal draai onbegrypend na haar.
“Waarvan praat jy, Sophia?” wil Cornelius weet.
Sy staan regop soos ’n kers aan die bopunt van die tafel. Die lamplig blink op haar wit hare en versag die diep lyne op haar verrimpelde gesig. Hartseer trek aan haar mondhoeke en laat die ou oë bleek en leeg lyk.
Daar heers ’n onrustige stilte. Die sielewroeging op Sophia se gesig is iets wat hulle nie kan begryp nie.
Sy kyk van die een na die ander, sien die onsekerheid op hulle gesigte en besef dat hulle vermoed iets gaan gebeur. Binne-in haar is daar net die eindelose moegheid van die las wat sy al soveel jare met haar saamdra … ’n las wat nou net te veel vir haar geword het. Ook sý het gefaal. Sy kon hulle nie bymekaar hou soos wat haar oorlede vader en moeder gedoen het nie. Sy kon nie die harmonie wat daar was, behou nie. Dit is alles ruïnes, soos Alfred gesê het. Die huis … die familie … alles wat eens mooi was, het vergaan.
“Daar is ’n jong man op Vredestad,” begin sy skielik sag praat. “Hy kom uit ’n ou, ou gesiene familie. Sy grootvader was die hertog van Savoye, ’n edelman in hart en siel. Armand de Savoye is ’n edelman soos wat sy grootvader was. Hy het die grootmoedigheid en opregtheid van die werklike aristokrasie. Hy is vir my soos ’n eie seun, en as hy een van ons was, sou oupa Lodewyk trots op hom kon wees. Hy dra die naam van sy familie hoog … As ek kon, sou ek dit aan hom gegee het, maar ek het die geld bitter nodig … Ek het Rust der Vrede aan hom verkoop!”
Pandemonium bars los om die tafel. Almal spring gelyk op en probeer mekaar doodpraat. Engela bly sit met haar hande oor haar ore gedruk. Sy hoor hoe die ander protesteer en op mekaar skree en verwyte heen en weer slinger.
Hulle baklei om die behoud van die laaste familievesting. Rust der Vrede was die hele spil waarom hulle trots gegaan het … ’n valse trots wat nou met een hou onder hulle uitgeruk word. Die fondamente van hulle belangrikheid verkrummel en hulle bly as gewone mense agter. Sonder Rust der Vrede is daar gaan Van Wyngaardt-tradisie nie. Hulle wil nie terugsak tussen die gewone mense nie. Die huis en die ou familietradisie het hulle nog van die ander onderskei. Daarsonder is hulle … net mense.
Sophia bly roerloos staan. Haar grys oë blink onnatuurlik toe sy haar stem bo die geraas probeer hoorbaar maak.
“Armand de Savoye sal die nuwe eienaar van Rust der Vrede wees!” roep sy uit en die gepraat bedaar effens. “Die naam sal bly omdat hy óns voorouers en tradisies respekteer!” Dis nou doodstil om die tafel, en almal kyk met gloeiende oë na Sophia. “Hy sal hier kom woon soos ’n edelman … Hy sal die huis na sy oorspronklike glorie terugbring …” Dan voeg sy sag, skaars hoorbaar, met ’n snik in haar stem by: “Hy is Rust der Vrede waardig …!”