Читать книгу Die geheim van Rust der Vrede - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Daar is ’n lang ruk doodse stilte om die tafel. ’n Oomblik lank het hulle gedink dat Sophia dit nog net oorwéég het om hulle familiewoning te verkoop, maar nou weet hulle dat dit finaal is. Rust der Vrede behoort nie meer aan hulle nie.

Cornelius se mond ruk toe hy praat: “Jy kon ons gewaarsku het, Sophia,” sê hy verwytend. “Ons sou gehelp het.”

Sy skud haar kop stadig.

“Nee, julle sou nie, Cornelius. Dis meer as twintig jaar nou dat ek alleen hier woon, en niemand van julle het ooit daaraan gedink dat ek dalk nie meer van my klein toelae kan leef nie. Julle het van die herehuis gevat wat julle kon kry, maar niks in ruil gegee nie. Ons het dit almal verdien om Rust der Vrede te verloor.”

Philip is baie bleek.

“Maar tog nie op só ’n manier nie, Tante! Een van ons kon die huis by u gekoop het, en dit sou in die familie gebly het.”

Sy draai na hom.

“Sou enigeen van julle bereid gewees het om my iets daarvoor te betaal? Wat sou jý aangebied het, Philip?”

Hy aarsel. “Agtduisend pond. Dit is baie vir so ’n ou bouval.”

Cornelius glimlag suur. “Jy onderskat die waarde van die plek, ou seun. Ek sou Sophia twaalf aangebied het; niks meer nie, maar ook nie minder nie.”

Philip frons. “Dit gaan nie om die waarde van die huis nie, oom Cornelius, dit gaan om die feit dat dit nog in die familie sou gewees het.” Hy kyk na Sophia. “Hoeveel het hierdie De Savoye vir Tante betaal?”

“Veertigduisend pond.”

Daar is weer eens doodse stilte om die tafel. Philip fluit saggies.

“Hy moet geld hê, dié De Savoye.”

Sophia gaan swaar sit.

“Ek wou net twintig gehad het, maar … toe die kontrak opgestel is, het hy my veertig betaal. Hy het gesê dit is om te vergoed vir die herinneringe en dié soort verliese waarvoor ’n mens eintlik nie kan betaal nie.”

“Hy is ’n gek,” brom Cornelius.

Philip grynslag.

“’n Ryk gek is beter as ’n ryk vrek. Ek sal hierdie man graag wil ontmoet. As ’n mens twee keer soveel betaal vir ’n ding as wat nodig is, moet jy iemand heel besonders wees.”

Sophia glimlag effens. “Julle sal hom ontmoet. Hy kom môreoggend hierheen om met julle almal kennis te maak.” Sy kyk van die een na die ander. “Julle sal hom hoflik behandel soos wat dit opgevoede mense betaam. Ek wil geen snedige opmerkings hê nie. Ek verwag van julle om ’n bietjie van julle ou Van Wyngaardt-waardigheid vorendag te haal.”

Eunice spring skielik op en stap uit die vertrek. Niemand kyk haar agterna nie.

Cornelius staan ook op.

“Al is dit die laaste ding wat ek doen, Sophia, sal ek verhoed dat die koop deurgaan!” sê hy vol ingehoue woede.

Sy kyk kalm na hom. “Die huis behoort aan my, en oupa Lodewyk het in sy testament gesê dat ek daarmee moet doen wat ek goed dink.”

Cornelius werp haar ’n vernietigende blik toe en beduie vir Suzanne om hom te volg. Sy staan sonder ’n woord op en volg haar pa by die deur uit.

Philip skud sy kop ietwat verslae.

“Die duiwel gaan los wees, Tante. Ek sal my pa moet laat weet wat gebeur het. Soos ek hom ken, sal hy binne twee dae hier wees en … wel, hy is ’n moeilike man.”

Sophia glimlag.

“Ek sien vir enige Van Wyngaardt kans, Philip. Julle is harde, gewetenlose mense, maar moet my nie onderskat nie. Twintig jaar lank het my broers my en die huis as vanselfsprekend aanvaar, maar nie meer nie. Nou is ek vir die eerste keer in my lewe net Sophia van Wyngaardt. Ek sal net so hard terugbaklei as wat julle dit kan doen.”

Philip staan op en haal sy skouers liggies op.

“Ek dink nie daar is iets verder te sê nie. As dit Tante se goedkeuring wegdra, sal ek tog graag nog ’n paar dae hier wil bly.” Hy glimlag skeef. “Net om van al die ou dinge afskeid te neem. Oor twee weke is dit Kersfees en … wel … ek hoop dat ons almal vir oulaas nog hier op Rust der Vrede saam kan wees … soos in die verlede.”

Sophia glimlag en haar gesig versag.

“Jy is ’n goeie seun, Philip. Miskien het ek jou onderskat; ek weet nie. Dit sal jammer wees as dit die geval is.”

Hy grinnik ietwat verleë.

“’n Mens kan nie altyd reg wees nie, Tante.” Hy groet Engela met ’n knik van die kop, gee Sophia ’n piksoentjie op haar voorkop en stap dan uit die eetkamer.

Daar is ’n lang stilte waarin Engela dit nie durf waag om na haar tante te kyk nie. Sy weet die seer lê nog te vlak in haar oë.

“Jy moet nie treur nie, Engela,” sê Sophia sag. “Rust der Vrede sal in goeie hande wees, en jy sal nog altyd welkom wees hier.”

Engela haal diep asem.

“Maar u sal nie meer hier wees nie, Tante.”

Sophia lag sag.

“Ek sal nader aan jou en jou ma wees, kind. Ek gaan vir my ’n klein huisie op Kroondal aanskaf, en dan kan jy en jou ma by my kom woon.” Sy sug diep. “Julle was nog altyd die enigste van die familie vir wie ek regtig omgegee het.”

Engela kyk verras op. “Gaan u Kroondal toe? Dit sal wonderlik wees! Mamma sal in die wolke wees oor die nuus!”

Sophia glimlag. “Solank julle my net nie verwyt oor ek Rust der Vrede verkoop het nie.”

Engela gaan op die stoel langs Sophia sit.

“Natuurlik nie, Tante. Ons weet mos hoe dit met u gegaan het. Ons het self al swaargekry, en ons gun u hierdie uitkoms.” Sy kyk weg. “Vir Mamma het hierdie plek net hartseer herinneringe.”

“Maar nie vir jou nie, Engela. Jy het Rust der Vrede lief … nie die Van Wyngaardts nie. Dis ’n baie groot verskil.”

Engela dink lank na oor wat Sophia gesê het. Dis waar, sy het Rust der Vrede lief al was sy nooit deur die ander familie hier verwelkom nie. Sy het hulle net verdra ter wille van die ou huis en sy lang geskiedenis waarvan sy haar deel gevoel het. Dit was haar anker in haar onsekere bestaan; dit was haar enigste skakel met haar vader wat sy nooit geken het nie.

Die volgende oggend gaan Engela ’n ent stap met die pad waarlangs ’n verwaarloosde laning bome geplant is. Die atmosfeer aan die ontbyttafel was gespanne en onaangenaam. Tant Sophia het rustig haar gang gegaan asof daar niks gebeur het nie, en net Philip het hoegenaamd op haar grappies en geselsery gereageer.

Alfred het al sommer voordag sy goed ingepak, in die motor geklim en teruggery Pretoria toe. Eunice en hy het tot laat die vorige nag gestry. Sy wou bly om te sien of daar nog iets te red is, maar Alfred het genoeg gehad. Hy het die skokkende nuus van die verkoop van die huis met ’n tevrede glimlag aangehoor en gesê hy hoop hulle venyn en nydigheid sal nou eindelik end kry.

Klein Lodewyk en die tweejarige Yvette het ook hulle knorrige moeder vroeg uit die vere gejaag, en Eunice was in ’n nare bui toe sy vir ontbyt kom aansit het.

Cornelius en Suzanne het aangekondig dat hulle van plan is om nog ’n week op Rust der Vrede te vertoef. Hulle sal daarna ’n week lank huis toe gaan en dan weer vir die Kerstyd en Nuwejaar terugkom. Dit het gelyk asof hulle ’n geheim deel wat hulle aan niemand anders wou oorvertel nie.

Engela voel diep ongelukkig oor die onenigheid in die familie terwyl sy na die groot hek toe aanstap. As hulle bymekaar gestaan het, sou Rust der Vrede nog aan hulle behoort het.

Sy kyk op toe sy die motor onder in die straat voor die hek sien stilhou. ’n Paar sekondes later kom ’n man in haar rigting met die laning opgestap. Sy bly half in die skaduwee van een van die groot populierbome staan en hou hom dop terwyl hy nader kom.

Hy is nog redelik jonk, so om en by dertig, en sy hare is ’n ligte bruin. Sy modieuse liggrys pak is onberispelik en hy skep die indruk van gemaklike, kalme selfversekerdheid.

Hy steek ’n oomblik vas toe hy haar gewaar en kom dan glimlaggend nader.

“Goeiemôre … e … juffrou?”

Engela glimlag.

“Engela van Wyngaardt,” stel sy haarself voor. Sy hou van sy wakker groen oë en innemende glimlag.

Net ’n oomblik lank lyk dit asof daar ’n skaduwee oor sy gesig verskyn, en dan glimlag hy weer.

“Aangenaam, juffrou Van Wyngaardt. Ek is Armand de Savoye.” Hy kyk haar ondersoekend aan.

Engela se oë rek van verbasing, en dan onthou sy haar maniere.

“Dis … aangenaam om u te ontmoet, meneer De Savoye … Die res van die familie wag reeds in spanning op u.”

Hy blik vinnig in die rigting van die huis, en dan kyk hy terug na haar.

“Hoe het hulle die nuus ontvang?”

Sy kyk weg en pluk ’n blaartjie van ’n oorhangende tak af.

“Ek is bevrees hulle het nie veel daarvan gehou nie, maar dis seker te verstane. Niemand het geweet dat tant Sophia die huis verkoop het nie. Miskien sou hulle tog probeer het om dit te verhoed.”

Sy blik bly op haar ernstige gesiggie gerig.

“En u, juffrou Van Wyngaardt? Voel u ook soos hulle?”

Sy draai na hom. “Ek sal altyd dieselfde oor Rust der Vrede voel, meneer. Dis ’n ou huis en ’n ou familie, en ek is deel daarvan.”

Hy knik stadig. “Ek verstaan.” Hy begin na die huis aanstap, en sy val langs hom in. “Soos ek van jou tante verstaan, het die familie nooit juis vir die plek omgegee nie.”

Engela aarsel.

“Dis nie heeltemal die waarheid nie. Hulle gee tog vir die plek om, maar dit was eerder ’n rusie oor wie dit uiteindelik sou erf.”

Hy frons liggies. “Ek ken jou familie glad nie. Juffrou Sophia wou ook niks sê nie. Tog sal ek ’n bietjie agtergrond nodig hê voordat ek hulle ontmoet.” Hy kyk na haar. “Wil jy nie asseblief vir my die prentjie skets nie?”

Engela byt haar onderlip vas. Hoeveel kan sy hierdie wildvreemde man vertel?

“Tant Sophia is die oudste van die vier kinders. Oom Lodewyk en tant Carina is die eerste getroud en hulle het twee kinders: Eunice en Philip.” Sy loer na De Savoye om te sien of hy belang stel in wat sy hom vertel. Dan gaan sy voort: “Oom Lood is … lief vir dobbel, en hy het al sy geld verloor. Eunice is met ’n ryk man getroud, en dit het hulle gered. Tant Carina is lank gelede al oorlede.”

De Savoye knik stadig. “En jóú geskiedenis?”

Sy kyk weg.

“Dit was nog nooit ter sprake nie. My pa en ma het weggeloop om te gaan trou, en my oupa was woedend daaroor. Hy het my pa onterf, maar net voor sy dood het hy weer sy testament verander en dieselfde aan my pa as aan die ander nagelaat. Die ander was verskriklik kwaad daaroor en hulle het geweier om ons as deel van die familie te erken. Ek was drie jaar oud toe my pa verdwyn het. My ma en ek bly op Kroondal, en net af en toe kom ek tant Sophia besoek.”

“Jou pa was dus Antonie van Wyngaardt?”

“Dis reg.” Sy haal diep asem. “Oom Cornelius is ook ’n wewenaar, en hy het net een dogter, Suzanne. Hy is ’n ryk boer in die distrik.”

Net voordat hulle met die trappies opgaan, kyk hy na haar.

“Is die drie broers en hulle suster baie geheg aan mekaar?” wil hy weet.

Sy skud haar kop. “Daar is baie onenigheid in die familie. Hulle mag jou dalk ook skerp kritiseer omdat jy die huis gekoop het. Ek glo nie jy gaan ’n baie vriendelike ontvangs kry nie.”

Hy kyk swyend op na die groot, soliede kliphuis en ’n ligte frons verskyn tussen sy oë.

Engela hou hom ongemerk dop. Hy is baie soos die deftige here wat soms die dames vergesel wat na haar moeder kom. Sy liggrys hardebolkeiltjie en handskoene verleen aan hom die aristokratiese voorkoms wat hom anders maak. Selfs sonder die vonkelende diamant wat sy krawat in posisie hou, sou ’n mens nog kon raai dat hy ryk moet wees. Hy het die selfversekerde houding van iemand wat aan alles gewoond is.

Sy kyk weg. Hier op Rust der Vrede voel sy byna die gelyke van ’n man soos Armand de Savoye, maar wat sal hy sê as hy die twee armoedige kamertjies sien waarin sy en haar ma woon? Dan sal hy haar dalk ook soos die ander deftige here met minagting bejeën.

Haar moeder is ’n goeie kleremaakster, en sy sorg altyd dat Engela modieus en goed geklee is. Die rok wat sy vandag aanhet, is van sagte voile oor ’n sy-onderrok. Die lyfie is vol opnaaiseltjies en die moue diep geplooi. Dit lyk sag en vroulik, en sy weet dat sy baie mooi daarin lyk. ’n Fronsie verskyn tussen haar oë. Hier op Rust der Vrede kon sy werklik die kleindogter van Lodewyk en Engela van Wyngaardt wees. Nou sal die huis aan ’n vreemdeling behoort, en sal sy maar net die dogter van ’n kleremaakster wees. Sy is baie lief vir haar moeder en geniet dit om met die maak van die duur, deftige tabberds te help, maar Rust der Vrede was altyd vir haar ’n toevlugsoord wanneer hulle moeilike bestaan vir haar te veel geword het.

Sy bloos toe sy besef dat De Savoye haar dophou. Hy glimlag.

“Dit was nie aangename gedagtes nie, juffrou Engela?”

Sy draai vinnig om en gaan met die trap op. “Die ander wag al op u,” sê sy en stap voor hom uit na die groot eikehoutvoordeur.

Harde stemme klink op uit die rigting van die woonkamer en Engela verkleur verleë.

“Ek is bevrees hulle het nog nie genoeg gestry nie,” sê sy.

Hy glimlag. “Dan steek ek my kop nou in ’n bynes.”

Sy lag senuweeagtig. “Dis sagkens gestel.” Sy stap deur die voorportaal na die woonkamer en stoot die deur oop.

Cornelius draai om na haar. In sy hande hou hy ’n fyn porseleinbeeldjie wat hy haastig op die kaggelrak terugsit toe hy die besoeker sien.

Sophia glimlag vriendelik vir Armand en nooi hom in.

“Jou tydsberekening is baie goed, my liewe Armand. Jy kry ons almal hier bymekaar besig om die erfstukke uitmekaar te skeur.”

Cornelius werp haar ’n vriendelike blik toe. Eunice kyk fronsend na die jong man, en Philip maak hom swyend in ’n leunstoel tuis. Suzanne se oë blink toe sy die aantreklike nuwe eienaar van Rust der Vrede sien.

Armand de Savoye haal sy keil af toe hy die dames groet en verwyder ook net een van sy handskoene toe hy die twee mans elkeen ’n handdruk gee.

“Ek sal liewer nie steur nie,” sê hy nadat hy aan almal voorgestel is.

Suzanne haak haar arm deur syne en lei hom na die rusbank.

“Kom sit tog eers, meneer De Savoye. Ons wil almal graag die nuwe eienaar van Rust der Vrede beter leer ken.” Sy kyk na die ander. “Of hoe, liewe familie?”

Philip grynslag. “Natuurlik, my nuwe niggie. Sal ons jou nou alleen laat met jou jongste vangs?”

Suzanne kyk woedend na hom. “Jou maniere is skokkend, Philip! Jy kan gerus ’n poging aanwend om jou te gedra!”

Philip lag net onbekommerd en steek ’n lang, dun sigaartjie aan.

“Daar is baie dinge wat net nooit sal verander nie,” sê hy.

Sophia lui ’n klokkie sodat die bediende vir hulle tee kan bring en dan draai sy na Armand.

“Hulle is maar almal ontsteld oor wat ek gedoen het, Armand. Oor ’n week of so sal hulle seker weer hulleself wees.”

Cornelius snork minagtend.

“Jy het baie vertroue in jou familie, Sophia! Dis baie gevra om van ons te verwag om te aanvaar wat jy gedoen het. Ek dink hierdie verwaande pierewaaier behoort die kontrak te kanselleer!”

Armand staan stadig op.

“Ek het meer selfrespek van ’n Van Wyngaardt verwag,” sê hy sag, maar met die onmiskenbare ondertoon van gesag in sy stem. “So ’n kru belediging is u nie waardig nie.”

Engela kyk verskrik van die een na die ander. Sy het verwag dat hulle De Savoye koel sou ontvang, maar oom Cornelius gaan nou te ver.

Cornelius is te kwaad om logies te dink.

“Ek het nie ’n teregwysing van ’n bogsnuiter soos jy nodig nie!”

Suzanne spring geskok op. “Pappa!”

Hy draai om om haar ’n skerp antwoord te gee en bly dan skielik stil. Suzanne … Sy kan De Savoye aankeer na die kansel en dan sal Rust der Vrede eendag aan haar en haar kinders behoort. Hy het ’n baie groot fout gemaak deur kwaad te word, maar dis iets wat hy nog kan regstel. Hy draai terug na De Savoye en glimlag verleë.

“Vergewe my, asseblief, meneer De Savoye. U moet verstaan dat ons almal ’n bietjie ontsteld is oor wat my suster gedoen het. Sy het nie een van ons oor haar besluit geraadpleeg nie, en ons is dus magteloos om iets aan die toedrag van sake te doen.”

Armand se gesig verraai niks van wat hy dink nie. Hy maak net ’n klein, stywe buiginkie in Cornelius se rigting en sê: “Ek aanvaar u verskoning, meneer Van Wyngaardt.”

Engela slaak byna ’n sug van verligting. Sy hoop net dat Philip nie ook ’n stuiwer in die armbeurs gaan gooi nie. Die atmosfeer is reeds gespanne.

Eunice staan op om die tee te skink toe die bediende dit op die koffietafel neersit.

“Hierdie huis, meneer De Savoye, was al wat die familie nog bymekaar gehou het. Hulle sal nou soos rotte uitmekaar spat.”

Armand bly staan. Hy wend geen poging aan om weer langs Suzanne te gaan sit nie.

“Dit spyt my dat dit die geval is, mevrou Benson, maar dit sal ’n jammerte wees as die huis inmekaarstort. Die familie het nie juis omgegee vir die plek nie. Dis in ’n swak toestand.”

Philip grinnik. “Hulle het nie vir mekáár omgegee nie.”

Sophia neem die tee wat Eunice haar aanbied.

“Julle bly so wonderlik getrou aan julleself,” sê sy ietwat bytend. “Julle probeer nie eens om die indruk van ’n gelukkige familie te skep ter wille van ons gas nie. Jy het nou genoeg met jou knuppel rondgeswaai, Philip. Ek dink jy kan nou heeltemal tevrede voel dat jy ’n paar mense seergemaak het.”

Hy staan op en haal sy skouers ongeërg op.

“Ek glo nie in valse fronte nie. Hier is mense teenwoordig wat daardie spelletjie uitmuntend speel.” Hy kyk betekenisvol na Cornelius en stap dan by die vertrek uit.

Engela kyk hom ingedagte agterna. Philip staan met sy twee voete op die grond en skroom nie om te sê wat hy wil sê nie. Hy raps almal geniepsig met die waarheid, maar hy is ook besig om baie vyande te maak. Die Van Wyngaardts is gedugte vyande. Dit het sy vroeg reeds in haar lewe ondervind.

Nadat Philip die vertrek verlaat het, verdwyn die rukkerigheid en byt uit die gesprek en kan die res gemaklik gesels. Engela neem nie deel aan die gesprek nie, maar sy luister afgetrokke hoe die ander die huis en die familie se geskiedenis bespreek.

Armand de Savoye is ’n hoflike, sjarmante jong man, besluit sy. As eienaar van Rust der Vrede sal hy die ou prag en praal van die herehuis laat herleef. Sy kan al in haar verbeelding sien hoe die mooi, ryk vroue hierheen kom aan die sy van suksesvolle, selfversekerde mans. Daar sal weer deftige partytjies en soirées wees en bes moontlik sal hy ook weer, soos in die dae van Oupa en Ouma, musikante en kunstenaars hierheen bring om sy gaste te vermaak.

Sy staan op en verlaat die vertrek ongesiens. Buite op die terras gaan sy staan en kyk uit oor die klein dorpie wat net buite die parkmure lê.

Nuwejaarsdag sal die einde van haar kuier op Rust der Vrede beteken. Die jaar 1905 sal vir haar die begin van ’n lewe weg wees van ’n ou tradisie. Sy sal nog dikwels aan hierdie ou huis terugdink, en sy sal altyd onthou dat dit nie meer aan die familie behoort nie.

Armand de Savoye het geen bande wat hom aan Rust der Vrede verbind nie. Vir hom sal dit net ’n pragtige ou huis wees. Hy is nie deel van die plek nie. Hy is ’n indringer, en dit sal hy altyd vir haar wees.

“Juffrou Engela?”

Sy kyk verskrik om en glimlag verleë toe sy De Savoye agter haar sien staan.

“Ek het gedink dat u baie gouer sou geloop het.”

Hy glimlag. “Ek erken hulle skaamtelose eerlikheid was ’n skok, maar ek kan goed begryp hoe julle moet voel.”

Sy stap stadig met die trap af.

“Kan jy? Ons weet lankal dat die Van Wyngaardts die einde van hulle glorie bereik het, maar niemand wou dit erken nie. Ons het agter Rust der Vrede geskuil en gehoop dat ’n wonderwerk sou gebeur.” Haar goudbruin oë is tranerig. “Die huis moes aan Philip behoort het. Dan was daar nog hoop dat ons nie in die vergetelheid sou verdwyn nie.”

Hy volg haar na die laning bome.

“Jou tante vertrou hom nie. Ek ken hom nie goed genoeg nie, maar sy wou niks daarvan weet om die huis aan hom te bemaak nie.”

Engela kyk verbaas na hom. “Het julle dit dan bespreek?”

Hy frons liggies. “Ek ken jou tante al ’n geruime tyd. Lank voordat ek besluit het om die huis te koop, het sy al haar bekommernisse oor die familie met my bespreek. Philip is die logiese erfgenaam, maar jou tante is ook in groot moeilikheid.”

Engela skud haar kop verdwaas.

“Ek het geweet dat sy dit nie maklik het nie, maar ek het nie geweet dat sy groot probleme het nie.”

“Sy het geld by die bank geleen om die deel van die huis wat nog bewoonbaar was, te laat regmaak. Sy het gehoop dat die familie haar sou help betaal, maar niemand was bereid om dit te doen nie. Nou moet sy betaal en sy kan nie.”

Engela staan en draai na hom.

“Philip sou dit tog betaal het as sy die huis aan hom bemaak het.”

Hy skud sy kop stadig en begin weer aanstap.

“Hy het glo gesê dat hy nie die geld het nie.”

“Hoekom het jy my oor my familie uitgevra as jy hulle reeds so goed ken?”

Hy haal sy skouers op.

“Ek het altyd net jou tante se sy van die saak gehoor. Ek was nie seker of sy die prentjie maar net swart geteken het omdat sy ongelukkig is nie. Jy het my nie veel vertel nie, maar ek kon daaruit aflei dat jou tante niks vergroot het nie.”

Engela stap swyend met die trap af na die laning. Hy volg haar sonder om die stilte te probeer verbreek.

“Vir ons sal jy altyd ’n indringer op Rust der Vrede wees, meneer De Savoye,” sê sy eindelik. “Jy het die bouval en die toegegroeide tuin gekoop … niks meer nie. Jy behoort dit tog te besef.”

Hy frons liggies. “Ek het die plek gekoop om dit te red. Die Van Wyngaardts sal altyd hier welkom wees.”

Sy gaan staan en draai na hom.

“Ek sal nooit weer hierheen kom nie! Toe dit aan tant Sophia behoort het, het dit nog vir my iets beteken! Nou is dit net ’n ou huis!”

“Nie so haastig nie, juffrou Engela! Ek besef dat jy ontsteld is, maar oor ’n paar maande sal jy dalk anders voel en sal jy na Rust der Vrede terugverlang.”

Sy byt op haar tande.

“Dit was die laaste en enigste band wat my aan die familie gebind het. Daarsonder is ek nie meer deel van die Van Wyngaardts nie!”

“Dis nie heeltemal waar nie, weet jy? Jy is die ewebeeld van die trotse, aristokratiese Engela van Wyngaardt … jou grootmoeder. Dit is iets wat jy nie kan wegredeneer of vergeet nie.”

Sy begin weer aanstap.

“Hoekom wil jy ons aan jou bind? Jy het jou eie familie en ou tradisies.”

Hy bly ’n lang ruk stil en sê dan: “Julle kan julleself nie meer help nie. As jou grootouers nie ontydig gesterf het nie, sou dit dalk anders gewees het.”

“Dit is dinge wat verby is. Ek sal nooit weer na Rust der Vrede terugkom nie. Dit sal my net hartseer maak om te dink dat dit nou aan ’n vreemdeling behoort.”

“Dis jammer dat jy my as ’n vreemdeling beskou.”

Sy kyk na hom.

“Dit is tog wat jy is, meneer de Savoye. Suzanne sal nie omgee om nog hierheen te kom nie en bes moontlik Philip ook nie. Vir my sal jy egter net ’n vreemdeling bly, en ek wil jou nooit sien as die meester van Rust der Vrede nie! Ek wil jou nooit sien in die rol wat ’n egte van Wyngaardt toegekom het nie! Ek wil nie weet dat Rust der Vrede vir altyd vir ons verlore is nie!” Daar is ’n snik in haar stem, en sy draai haastig om en stap terug na die huis.

Armand de Savoye kyk haar ’n lang ruk agterna. Eindelik draai hy stadig om en stap met die laning af na die pad waar hy sy motor geparkeer het. Hy is diep ingedagte toe hy die park verlaat, in sy motor klim en stadig wegry.

Engela staan op die ruim voorstoep en kyk hoe hy aan die onderpunt van die park verbyry. ’n Gevoel van verset teen die indringer verdryf haar hartseer. Hy is ’n gebore edelman, hy is sjarmant en hoflik, hy is aantreklik en fabelagtig ryk, maar hy het nie die reg om die enigste iets wat die Van Wyngaardts nog aan mekaar bind, weg te neem nie. Geld kan baie koop, maar dit kan nie lojaliteit of ’n ou geskiedenis en herinneringe koop nie. Dit kan nie liefde en vriendskap koop nie. Dit kan niks koop behalwe dit wat tasbaar en verganklik is nie.

Sophia kom by haar staan.

“Ek is jammer, Engela; ek is jammer dat ek Rust der Vrede moes verkoop.”

“Ons kan Tante dit nie kwalik neem nie. Al wat seermaak, is dat ’n arrogante, selfversekerde ryk man soos Armand de Savoye die huis gekoop het.”

Sophia frons ongelukkig. “Hou jy dan nie van hom nie?”

“Nee, Tante, ek hou beslis nie van hom nie. Hy wil nie net die huis hê nie, hy wil ook die familie en die herinneringe hê. Dít is iets wat hy nooit sal kan kry nie.”

Sophia aarsel.

“Ek het hom baie van jou vertel, en hy het daarna uitgesien om jou te ontmoet. Hy het soms lank voor ouma Engela se portret gestaan en dan het hy gesê: “Sy was ’n waardige dame. U vader moes trots gewees het op haar.” Sophia sug liggies. “Ek het hom vertel dat jy en ouma Engela uit een stuk gesny was. Jy het haar geaardheid en haar trots, haar lieftalligheid en haar sin vir regverdigheid. Ek het geweet dat jy hom nie sou teleurstel nie, maar ek is jammer dat jy nie van hom hou nie.” Sy kyk na Engela. “Ek het gehoop dat julle … mekaar sou vind en dat die huis op dié manier nog in die familie sou bly.”

Engela kyk geskok na haar tante.

“U moes tog geweet het dat dit nie só eenvoudig is nie, tant Sophia! Suzanne sou daardie rol baie beter kon vervul.”

Sophia glimlag half treurig.

“Miskien het ek ’n fout gemaak. As Armand en Suzanne trou, sal dit goed wees. Tog wou ek graag gehad het dat dit jý moes wees wat hier woon. Jy sou ons voorouers nie teleurgestel het nie. Jy is ons lang geskiedenis waardig, Engela. Jy sou die Van Wyngaardt-naam hoog kon hou.”

Engela staan diep ingedagte na die verweerde stoepreling en staar. Hoe sy ook al probeer, sy kan nie die verset in haar teen De Savoye afbreek nie. Dis goed dat hy nie van tant Sophia se planne geweet het nie. Sy is nog vry en sonder verpligtinge teenoor enigiemand. Net van een ding is sy seker – sy wil Rust der Vrede nooit weer sien ná Nuwejaar nie. Sy wil ook nie weet wat hier gebeur en of Suzanne en Armand gaan trou nie.

Sy glimlag effens. Hulle het De Savoye nog maar skaars ontmoet, en daar word al van trou gepraat. Is dit dan nou die laaste wanhopige poging om Rust der Vrede te behou? Waarom laat hulle die hele saak nie met rus nie? Dit sal die klomp se verdiende loon wees as Armand de Savoye met ’n wildvreemde meisie trou en so die huis finaal onder die Van Wyngaardts se neuse wegraap. Hulle het nog altyd situasies beheer met doelgerigte gewetenloosheid, maar hierdie keer is hulle magteloos. Armand de Savoye sal nie toelaat dat hulle op sy gevoel speel of aan hom voorskryf nie. Hy het meer mag as hulle almal saam en is ’n gedugte teenstander. As hy net kon vermoed watse planne hulle in die skild voer, sou hy sy rug finaal op hulle draai.

“Jy is baie stil, Engela,” sê tant Sophia.

Engela glimlag.

“Ek dink sommer net aan al die planne wat al klaar gesmee word, Tante. Suzanne en ek word al klaar as bruide uitgeveil vir De Savoye, maar op so ’n blatante manier sal nie ek óf hy vir ons laat voorskryf nie. Dit sal nie veel praat kos om Suzanne te oortuig van haar rol nie, maar moet julle net nie met Armand de Savoye misreken nie.”

Sophia glimlag stadig, maar antwoord nie. Net soos haar ouma Engela, dink sy tevrede. Ek het my nog nooit met haar misgis nie. Sy hou by haar oortuigings en sal nie ’n duim daarvan afwyk nie. Dit sal ’n man soos oupa Lodewyk kos om haar verdediging te laat verkrummel … En oupa Lodewyk was ’n sjarmante jong man, vasberade en effens koppig, maar ook regverdig, en hy het ’n goeie sin vir humor gehad. Hy was soos Armand de Savoye.

Sy lag sag en steur haar nie aan Engela se vraende blik nie. Dit gaan die laaste groot drama op Rust der Vrede wees en miskien, wie weet, sal daar weer ’n oupa Lodewyk en ouma Engela wees om die leisels vas te vat …

Die geheim van Rust der Vrede

Подняться наверх