Читать книгу Goue horisonne - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Hendrieka staar ’n lang ruk swyend na die verwaarloosde arbeider voor haar. Sy kyk nie een keer na die klip in sy hande nie.

“Vat dit weg,” sê sy eindelik skor. “Vat dit net weg!”

Die drie mans staar ongelowig na haar.

Walker skud sy kop stadig.

“Ek dink nie u begryp nie, mevrou Oosthuizen. Ons is oortuig daarvan dat Langlaagte een van die rykste goudvelde in die land is.”

Hendrieka byt op haar tande.

“Ek wil niks daarvan weet nie! Daardie goud is vervloek omdat dit op die Sabbatdag ontdek is! Dit kan geen goed inhou nie!”

Carolien kyk verbaas na haar ma.

“Maar, Mamma – ”

“Stil, Carolien!” Hendrieka draai weer na die drie mans. “Ek wil geen woord verder van die goud hoor nie!” Sy draai vinnig om en gaan die huis binne.

Carolien kyk verslae na die drie mans.

“Ek is jammer. Ek sal probeer om met haar daaroor te praat. Dit sal in elk geval nie lank geheim gehou kan word nie.”

Harrison grinnik.

“Daarvan kan jy seker wees. As jou ma nie belang stel nie, sal ons na meneer Oosthuizen op die ander plaas gaan. As hiér goud is, sal daar ook wees.”

Carolien knik net somber en volg haar ma die huis in.

Hendrieka sit by die kombuistafel met ’n geskokte, verslae uitdrukking op haar gesig.

“Mamma?” praat Carolien versigtig. “Is u seker oor wat u netnou gesê het? U weet tog wat dit vir ons kan beteken.”

Hendrieka kyk op.

“Ja, ek weet,” sê sy hees. “Gert Oosthuizen sal die laaste lag en dit ten koste van ons. Hy wil net dertig pond vir die plaas gee en dan kry hy nog die goud op die koop toe.”

Carolien slaan haar blik neer. Sy besef nou eers dat die goud vir hulle niks sal beteken nie. Gert Oosthuizen sal elke pennie van die goud kry en hulle sal met ’n aalmoes tevrede moet wees.

“Ons sal met oom Gert moet praat, Mamma, daar is geen ander keuse nie. Hy sal net móét verstaan.”

Hendrieka skud haar kop.

“Hy is so hard soos ’n klip, my kind. Hy sal besef dat wanneer die delwers eers kom, ons gedwing sal word om te verkoop en dan mag ons net aan hom verkoop.” Sy sug diep. “Ek is ’n ou vrou en nie opgewasse teen iemand soos Gert Oosthuizen nie. As ek net ’n man gehad het, sou dit nie so maklik vir my swaer gewees het nie.”

Carolien sit haar arm om haar ma se skouers.

“Toe maar, Mamma, ons sal aan ’n uitweg dink. Kyk, as ons weier om aan oom Gert te verkoop, sal hy later gedwing word om ons prys te betaal omdat hy die plaas sal wil hê. Ons moet net vasbyt. Oom Gert sal alles doen om die plaas te kry, ons weet dit tog. Wanneer die delwers kom, dan maak ons ons prys en hy sal moet betaal.”

Hendrieka kyk op.

“Jy weet, jy het gelyk. Hierdie keer sal ek Gert Oosthuizen laat klippe kou.”

Maandagmiddag stap Carolien na waar die drie mans besig is om aan die skuur te werk.

“Meneer Harrison!” roep sy na die man wat op die dak besig is om balke vas te spyker.

“Ek kom, juffrou!” roep hy terug en klouter behendig teen die ander kant af. Toe kom hy na haar aangestap. “Het jou ma besluit?”

Carolien aarsel.

“Ja … maar ek wil net eers aan u verduidelik.” Sy soek na die regte woorde. “U sien, ons mag ons plaas net aan meneer Oosthuizen verkoop. Hy is nie bereid om ons meer as dertig pond daarvoor te gee nie. As u goud op sý plaas kry, sal hy sorg dat dit as ’n goudveld geproklameer word. Ons sal dan nogtans aan hom moet verkoop, maar hy sal meer as net dertig pond moet betaal.”

Harrison grinnik.

“Ek verstaan, juffrou. Julle wil hom so ’n bietjie knyp.”

Sy glimlag.

“Dis die gedagte, maar soos ek hóm ken, sal ons nie hond haaraf maak nie.”

Walker kom by hulle staan.

“Hy kan baie duisende maak as hy die hele Langlaagte in sy besit het. Hy sal nie omgee om ’n redelike prys te betaal nie.”

Carolien kyk na hom.

“Jy ken hom nog nie. Hy kan ’n duiwel wees as hy die dag daarvoor lus het.”

Harrison lag.

“U moeder staan nie ver vir hom terug nie. Sy is ’n goeie skut. Ek het eergister gedink sy klits hom bo van sy perd af.”

Carolien verkleur effens.

“Sy was net baie kwaad, dis al.”

Walker kyk na Carolien.

“Moet ons nou na meneer Oosthuizen toe gaan?”

“Dis beter as julle wag totdat julle hier klaar is. As julle eers daar begin, sal hy julle nie weer hierheen laat kom om klaar te maak nie.”

Honeyball sluit ook by hulle aan.

“Wat is die sin daarin om klaar te maak? Wanneer die delwers kom, sal die huis en die skure in elk geval platgeslaan word om by die goud te kom.”

Daar is skielik ’n pyntrek om Carolien se mond.

“Asseblief … sal julle nie maar eers klaarmaak nie? Ek en my moeder sal geen woord oor die goud rep nie. Dit kan ek julle verseker.”

Hulle aarsel, kyk na mekaar en eindelik knik Harrison.

“Nou maar goed, ons maak klaar. Dit sal in elk geval nog net ’n week wees.”

Carolien glimlag dankbaar.

“Baie dankie. Ons sal dit baie waardeer.”

Toe sy van hulle af wegstap, sê Harrison: “Dis ’n oulike meisie daardie. ’n Ou voel nie juis lus om teë te praat wanneer sy so mooi vra nie.”

Honeyball haal net sy skouers op en gaan terug na sy werk.

Walker bly ingedagte staan. Carolien is ’n lieflike mens met die son in haar hare en die koel dieptes van ’n bergpoel in haar oë. Maar hy is ’n swerwer soos sy twee vriende. Emosies en gevoelens neem altyd die tweede plek in wanneer die horisonne wink. In sy lewe is daar nie plek vir ’n vrou nie. Hy is ’n swerwer wat net die eensaamheid van die uitgestrekte, ongerepte natuur liefhet.

Die dae gaan vinnig verby vir die twee vroue op Langlaagte. Elke dag sien hulle hoe die drie mans aan die skuur vorder en hulle weet dat dit nie meer lank sal duur voordat hulle na Gert Oosthuizen toe sal gaan nie. Daarna sal hulle dit nie meer kan keer nie. Miskien sal hulle eendag hierheen terugkom en ’n verlate dorpie vind. Dalk sal die goud nie lank hou nie … net lank genoeg om die pragtige omgewing te vernietig. Langlaagte sal nooit weer dieselfde wees nie.

Carolien frons liggies. Hoekom moes dit nou juis húlle plaas wees? Hoekom nie Doornfontein van Barend Bezuidenhout of Turffontein van oom Paul Ras nie? Hoekom is die goud dan nie liewer op Braamfontein van meneer Geldenhuys ontdek nie? Of die nuttelose stuk regeringsgrond, Randjeslaagte, nie? Hoekom húlle plaas?

Van waar sy op die rantjie staan, kan sy in die verte die opstal van Doornfontein sien met sy laning okkerneutbome. Dis almal groot plase. Langlaagte is tweeduisend-tweehonderd-en-sestig morg. Turffontein is vyfduisend-driehonderd morg. Kon die goud nie maar liewer elders in hierdie uitgestrekte wêreld gewees het as juis op húlle plaas nie?

Aan die begin van Maart voltooi die drie mans die skuur. Hulle het langer gewerk as wat hulle gereken het, maar Hendrieka het nie omgegee nie. Dit het vir haar slegs beteken dat daar ’n rukkie langer vrede in die omgewing sal wees.

Dis met gemengde gevoelens dat die twee vroue kyk hoe die werkers na die ander plaas vertrek. Dis nou nog net ’n kwessie van tyd voordat die delwers op hulle gaan toesak. In die stilligheid hoop en bid hulle dat daar nie werklik goud in die omgewing is nie … dat Harrison hom vergis het.

Diep in Maart kom daar weer een oggend ’n ruiter te perd na die opstal. Carolien los die wasgoed wat sy besig is om op te hang ’n oomblik en tuur fronsend in die rigting van die ruiter. Hy kom baie stadig nader en toe hy eindelik die opstal bereik, gly hy moeisaam uit die saal.

Haar eerste gedagte is dat hy baie moeg is, maar toe sy nader gaan om te groet, besef sy dat die man siek is. Sy gesig is grysbleek onder die baardstoppels en sy oë lyk dof en verlep.

“Ek … wil u nie steur nie,” sê hy moeg en probeer vir Carolien glimlag. “Ek soek net water vir my perd.”

Genade! dink Carolien ontsteld. Die man is tot die dood toe siek en hy sal nie nog ’n dag op die rug van sy perd oorleef nie. Toe draf sy na die hoek van die huis en roep Jantjie om die vreemdeling se perd te kom haal. Sy kom terug en gaan voor die man staan.

“U kan nie nou ry nie. Rus liewer eers ’n bietjie.”

Hy leun teen een van die stoeppilare.

“Ek wil nie ’n oorlas wees nie.”

Sy skud haar kop heftig.

“U is siek, meneer. Kom liewer in die huis in. Jantjie sal u perd versorg en dan kan ek en my moeder kyk wat ons vir u kan doen.”

Hendrieka kom in die deur staan.

“Hoekom nooi jy nie die man in nie, Carolien?”

Hy draai om na Hendrieka toe en sy skrik toe sy die onnatuurlike glinstering in sy oë sien.

Die ou dame drafstap na hom toe en druk haar arm onder sy skouer in.

“Kom, ou seun, ek sal dit haat as iemand iets op mý plaas moet oorkom. Carolien, help jy aan die ander kant. Dié man is selfs te swak om alleen die trap uit te kom.”

Hy wil hom teësit, maar kan nie en laat willoos toe dat die vroue hom die huis inhelp en in die vrykamer op die bed laat lê. Hendrieka trek sy baadjie en skoene uit en stuur Carolien om haar medisynekassie te gaan haal.

“Wie is jy, meneer?” vra sy terwyl sy ’n paar druppels medisyne in ’n lepel meng.

“Christiaan … van den Heever.”

“Nou goed, meneer Van den Heever, jy verroer geen voet voordat jy gesond is nie. Siekte is nie iets om mee te speel nie.”

Hy wil nog protesteer, maar Hendrieka druk die lepel tussen sy tande in.

Met ’n nat lap vee Carolien die sweet van sy voorkop af. Hy is nog jonk, dink sy afgetrokke, te jonk om nou al te sterf. Hulle weet nie eens wat hom makeer nie, maar dokters hier rond is baie skaars. Die naaste een is op Heidelberg, twintig myl hiervandaan. Dit sal te lank duur om daar te kom en terug.

Eindelik het Hendrieka klaar gedokter en gooi sy ’n paar komberse oor die man. Dis ’n warm dag, maar sy hele liggaam ruk van die kouekoors.

“So ja,” sê sy tevrede en maak haar botteltjies weer bymekaar. “Wat hy broodnodig het, is rus. Meer kan ek nie nou vir hom doen nie.”

Carolien kyk onseker na die jong man wat intussen aan die slaap geraak het.

“Hy sal nie doodgaan nie, sal hy, Mamma?”

Hendrieka haal haar skouers op.

“Hy is nog jonk en sterk. Ons weet nou wel nie wat hom makeer nie, maar daar is min dinge wat rus en goeie kos nie kan regmaak nie.”

Carolien aarsel.

“Miskien is dit hierdie keer nie genoeg nie.”

Hendrieka kyk ondersoekend na haar dogter.

“Vir wat staan jy jou nou en verknies oor ’n siek vreemdeling? Jy ken hom van geen kant nie!”

“Hy is nog jonk, Mamma. Hy wou maar net water vir sy perd gehad het. Hy wou ons nie lastig val nie.” Carolien kyk na haar ma. “Hy kan dan mos nie sleg wees nie?”

Hendrieka tel die medisynekassie op.

“Niemand het gesê dat hy sleg is nie. Kom nou, die kos in die es het seker al verbrand.”

Carolien huiwer nog ’n paar sekondes voordat sy haar ma na die kombuis volg. Selfs in sy slaap is daar nog tekens van vermoeienis en uitputting op die man se gesig te lees. Dis egter sy gelaatstrekke wat haar aandag gevange hou. Sy wenkbroue is netjies en reguit, sy neus aristokraties in ’n sterk gesig en daar is ’n kuiltjie in sy ken onder die baardstoppels. Carolien onthou nou skielik dat sy oë blou was, net so blou soos die lug op ’n helder someroggend.

Daar is ’n dwingende vrees by haar dat hy sal sterf. Sy raak liggies met haar vingers aan sy dik, swart hare en ruk haar hand vinnig terug. In sy koorsige slaap is hy weerloos, maar wat lê daar werklik verskuil agter sy blou oë? Sal hulle wreed en genadeloos of sag en vriendelik wees wanneer hy gesond is?

Sy maak die deur saggies agter haar toe. Miskien sal hy net ’n paar dae bly, dink sy, en dan sal hy weer wegry op sy perd. Dalk sal sy hom nooit weer sien nie.

Carolien gaan fronsend staan. Christiaan van den Heever is vir haar ’n volslae vreemdeling, en tog roer sy teenwoordigheid iets in haar. Intuïtief weet sy dat hy ’n goeie man moet wees en dat hy geen kwade bedoelings met hulle sal hê nie. Dis egter nie dít wat haar fronsend tot stilstand bring nie. Dis die besef dat hy vir haar persoonlik iets beteken, dat sy van hom hou al het hulle net ’n paar woorde met mekaar gewissel. Dit, weet sy egter, is iets wat haar moeder nooit sal begryp nie.

Die hele Saterdag en Sondag bly Hendrieka gedurig in- en uitgaan by die vrykamer. Dit is byna asof sy dié afwisseling verwelkom en sy ontsien geen moeite om spesiale kos vir die sieke voor te berei nie.

Carolien laat haar moeder begaan. Sy self gaan nie by die kamer in nie, bloot omdat sy bang is haar ma vra haar wat sy daar gaan maak. Buitendien sien sy die drie bouers elke dag nou in die veld op oom Gert se plaas en sy brand om te weet of hulle daar goud gevind het. Hulle kom ook nie om haar van enige vonds te vertel nie.

Maandagoggend vroeg laat sy Jantjie Vuurvlieg opsaal. Haar ma probeer haar nie keer toe sy na die Oosthuizens anderkant die klofie wil ry nie. Dis vir hulle almal belangrik om te weet of daar goud op oom Gert se grond ontdek is.

Tant Debora ontvang Carolien hartlik en draf weg om Leentjie te gaan roep.

Leentjie kom opgewonde aangedraf met wippende vlegsels. Sy soen Carolien uitgelate.

“Jy was darem lank laas hier! Gaan alles nog goed met jou ma? My pa was baie kwaad toe hy verlede keer teruggekom het. Het hulle weer stry gekry?”

Carolien lag.

“Een vraag op ’n keer, Leentjie! My ma en jou pa het die laaste keer ordentlik gestry, maar ek dink nie hulle is nog kwaad vir mekaar nie,” vertel sy ’n noodleuentjie.

Leentjie frons.

“My pa is deesdae moeilik. Die drie mans soek in die veld na goud en ek is seker dat hulle al gekry het, maar my pa swyg soos die graf.”

Carolien haal haar skouers op.

“O, hier sal vir seker goud wees. Hulle het goud op óns plaas gekry en hoekom sal daar nie hier ook wees nie?”

“Sê nou maar dis waar, wat sal dan gebeur? Sal julle verkoop en weggaan?”

Carolien skud haar kop.

“My ma sal nie verkoop nie … nie noudat daar goud ontdek is nie.”

Leentjie se oë rek.

“My pa gaan báie kwaad wees! Hy wil jou ma dwing om te verkoop voordat die plaas as goudveld geproklameer word.”

“Hy sal dit nie regkry nie, Leentjie, tensy hy bereid is om óns prys te betaal.”

Debora bring vir hulle limonade en die drie vroue gaan op die stoep sit.

“Hier is baie goud, Carolien,” sê die tante skielik. “Ek het gister nog met meneer Harrison gesels. Die oom weet natuurlik nie daarvan nie, maar meneer Harrison sê dat dit die rykste veld is wat hy nog gesien het.”

Carolien kyk weg oor die vaal bulte.

“Dan sal ons dit nie kan keer nie, tante.”

Debora sug diep.

“Ek wens ons kon iets daaraan doen.”

Leentjie glimlag.

“Ag wat, Mamma, dis nie so erg nie. Ek het ten minste nou geselskap hier op die plaas.”

Haar ma kyk streng na haar.

“Dis juis dít wat my bekommer. Jy is alte danig met meneer Walker en ons ken hom nie eens nie.”

“Hy is ’n gawe man,” hou Leentjie hardnekkig vol. “Dis meer as wat ek van Barend Bezuidenhout kan sê.”

“Barend is buitendien te oud vir jou en ek hoor dat hy gaan trou.”

“Dit kan my maar min skeel.”

Carolien kyk na Debora.

“Vrydagoggend het daar ’n man op ons plaas aangekom. Hy sê sy naam is Christiaan van den Heever. My ma is op die oomblik besig om hom te verpleeg.”

“Wat is dan verkeerd?” wil Debora weet.

“Hy was baie siek … hy kon skaars nog op sy bene staan.”

Debora skud haar kop stadig.

“Jou ma is vrou-alleen op daardie plaas, Carolien. Sy behoort nie sommer enige man herberg te gee nie.”

“Hy sou gesterf het as my ma niks gedoen het nie, tante.”

Debora haal haar skouers liggies op.

“Wel, sy weet seker wat sy doen. Sy is buitendien nie iemand wat vir ’n man hoef terug te staan nie.”

Later neem Carolien van hulle afskeid en ry op ’n stywe galop terug na die huis. Christiaan van den Heever is nie sommer enige man nie, dink sy. Dis tog duidelik dat hy uit ’n goeie huis kom. Sy kan nie glo dat daar enige kwaad in hom skuil nie.

Haar ma wag haar op die agterstoep in.

“Ek dink dis tyd dat jy darem ’n paar woorde met ons gas wissel, Carolien,” sê sy skerp. “Jy het in die twee dae wat hy hier is nog nie gaan gesels nie en ek dink dis baie swak maniere.”

Carolien onderdruk ’n glimlag.

“Nou goed, Mamma. Sal ek vir hom koffie neem?”

“Geen koffie nie. Net rooibostee.”

Christiaan lê met sy rug teen ’n klomp kussings wat agter hom opgestapel is. Hy kyk op toe Carolien haar verskyning in die deur maak.

“Goeiemôre,” groet hy met ’n effense glimlag. “Is jy dalk Carolien?”

Sy verkleur effens en gaan haastig nader sodat sy die tee op die tafeltjie langs die bed kan sit.

“Ja … is u gemaklik, meneer Van den Heever? Is daar enigiets wat ek vir u kan doen?”

Hy lag sag.

“Genade, nee! Ek het al hopeloos te veel van julle goedheid gebruik gemaak. Ek moes lankal gery het.”

“U was baie siek, meneer.”

Sy blou oë rus ’n oomblik op haar; hy het koue oë met ’n flikkering in hulle dieptes wat Carolien onwillekeurig op haar hoede stel.

“Ja, skynbaar was ek. Ek het gehoop dat ek Muldersdrif sou haal, maar dit lyk nie asof ek dit sou kon doen nie.”

Sy staan onseker deur se kant toe.

“Is daar nog iets wat ek vir u kan doen?”

Hy glimlag effens.

“Nee, dankie.” Hy aarsel en vervolg dan: “Jou ma lyk bekommerd.”

“Dis oor die goud wat op ons plaas ontdek is. Sy is baie ontsteld daaroor.”

“In 1878 het Alfred Armfield al gesê dat hier geen goud is nie. Fred en Harry Struben het twee jaar gelede al tou opgegooi. Wilgespruit, waar hulle gedelf het, is nie ver hiervandaan nie.” Hy glimlag, maar die kilte bly in sy blou oë. “Buitendien dink ek die Transvaalse regering het teen hierdie tyd genoeg gehad van delwerye.”

Carolien kyk weg.

“Ek weet, maar hierdie keer is dit anders. Harrison, Honeyball en Walker is nou op oom Gert Oosthuizen se plaas om te prospekteer. Hulle was baie opgewonde oor die vonds op ons plaas.”

Christiaan kyk half agterdogtig, half ondersoekend na die meisie.

“Hoekom stel jou ma nie belang nie?”

Carolien sug liggies en vertel hom van die bepaling van haar pa se testament.

“As ons net die paar diamante kan kry, sal ons weer op die been wees. Maar dis nog net ’n droom.”

“Goud,” sê hy half mymerend en toe sy na hom omdraai, kry sy die gevoel dat hy heeltemal van haar vergeet het. Sy gesig is geslote en sy oë is hard.

Carolien staan weer ongemaklik deur se kant toe. Die man maak haar senuweeagtig. Selfs wanneer hy glimlag, bereik dit nie sy oë nie. Daardie koel, blou oë bly kil, asof hulle altyd op hulle hoede is en die ander persoon opsom en weeg. Tog is sy oortuig daarvan dat as die kilheid daarin verdwyn, hy ’n ander mens sal wees. Sy onderdruk ’n rilling. Daar is ’n vae vrees vir hom by haar en sy sal dit nie nou waag om aan hom te raak soos sy gedoen het toe hy gelê en slaap het nie.

Hy kyk skielik op.

“Ek wil vandag nog vertrek.”

“U kan nie, meneer. U is nog glad nie gesond nie.”

Hy lag bitter.

“Wat met mý verkeerd is, kan medisyne nie regmaak nie. Nee, ek moet weg … so gou as wat ek kan.”

Sou hy dalk vir iets vlug? wonder Carolien. Dié moontlikheid is nie uitgesluit nie. Dalk vlug hy voor die gereg. Die gedagte stel haar geensins gerus nie. Tog kan sy dit net nie aanvaar dat hy ’n misdadiger is nie.

Hy moes die agterdog in haar oë gesien het, want hy lag sinies.

“Het ek jou nou op jou hoede gestel, vroumens?” Sy blik rus deurdringend op haar. “Dis goed … ’n mens mag nooit ’n ander vertrou nie. Dis ’n les wat ek vroeg in my lewe reeds geleer het. Slaan eerste en slaan hard, sodat jy seker maak dat die ander nie sal kan terugslaan nie.”

Carolien sluk hard.

“Dis ’n baie ongenaakbare houding, meneer.”

“’n Mens kan nie anders oorleef of jou ideale bereik nie.”

Die geluid van perdepote laat Carolien vinnig na die venster toe gaan.

“Hier is oom Gert nou,” sê sy fronsend. “Hy kom seker weer moeilikheid soek soos gewoonlik.”

Christiaan glimlag onderlangs.

Hendrieka staan op die stoep toe die kapkar voor die deur stilhou. Sy klem die geweer in haar hande vas. As Gert alleen gekom het, sou sy hom geblaker het, maar met Debora en Leentjie by kan sy nie so iets waag nie.

Gert lag opgewek toe hy Hendrieka sien.

“Dag, sus!” roep hy joviaal uit terwyl hy Debora met die trap ophelp. “Jy moet maar liewer die geweer gaan bêre. ’n Ongeluk gebeur tog so maklik.”

“As ek jou raak skiet, Gert Oosthuizen, sal dit geen ongeluk wees nie,” sê Hendrieka woedend.

Gert klop haar kameraadskaplik op die skouer.

“Kom nou, Drieka, ons is mos familie!”

Leentjie bly ietwat lugtig op die agtergrond. Sy het ’n heilige ontsag vir haar tant Hendrieka en sy is nie eens seker of haar pa sy man teen hierdie onverbiddelike vrou sal kan staan nie.

“Ek gaan na Carolien soek, tant Hendrieka,” sê sy nadat sy die tante gegroet het en toe maak sy haar vinnig uit die voete.

Sy kry Carolien in die vrykamer by Christiaan. Leentjie se oë rek groot toe sy die man op die bed sien lê en sy bloos ongemaklik.

“Ek is jammer, meneer, ek … ek het nie geweet dat u nog hier is nie.”

Carolien glimlag.

“Gaan dit goed daar in die voorkamer?” vra sy.

Christiaan kyk na die vaal meisietjie.

“Hoe lyk dit asof jy geskrik het?”

Leentjie sluk hard.

“Jou ma loop met die geweer rond en my pa maak asof alles ’n grap is. Ek het geweet dat ek en my ma nie moes saamgekom het nie.”

“Daar sal niks gebeur nie,” stel Carolien haar niggie gerus. “Solank jou pa net nie kom neul oor Langlaagte nie.”

“Maar dis juis hoekom hy gekom het!” roep Leentjie uit. “George Harrison het goud op ons plaas gekry en nou wil my pa julle plaas ook hê.”

Christiaan kyk fronsend na Leentjie.

“George Harrison? Is dit nie die man wat in Australië gesoek word vir bedrog nie? Julle sal versigtig moet wees.”

Leentjie kyk met groot oë na Christiaan.

“Maar ek het die goud self gesien, meneer. Hy het ons nie dáármee bedrieg nie.”

Christiaan haal sy skouers liggies op.

“Dit mag nogtans die man wees wat gesoek word. Ek sê nie dat hy julle gaan verkul nie. Hy kan tog niks daarmee bereik nie.”

Uit die voorkamer klink daar skielik harde stemme op en Carolien draf na die kamerdeur.

“Ek hou hierdie plaas, Gert Oosthuizen!” roep Hendrieka uit. “Ek verkoop geen duim grond aan jou of enigiemand anders nie!”

“Maar ’n honderd pond is baie geld!” brul Gert omgekrap. “Dis drie keer meer as wat ek jou verlede keer aangebied het!”

“Jy sal duisende ponde met my plaas maak!” Hendrieka mik in die rigting van die geweer, maar Gert raap dit voor haar weg.

“Nie so haastig nie, ou sus!”

“As jy dood is, Gert, dan is die plaas mýne!”

Debora sit bleek en verskrik in ’n hoek.

“Julle sal tog nooit tot ’n vergelyk kom nie,” sê sy paaiend. “Buitendien word die plase dalk nie eens geproklameer nie.”

Carolien draai om na Christiaan.

“So gaan dit elke keer. Hierdie keer bied hy my ma darem meer aan, maar nog nie naastenby genoeg nie.”

Christiaan sit regop.

“Sal julle dames my asseblief verskoon?” Hy beduie na sy klere.

Leentjie maak haar haastig uit die voete.

Carolien kyk na die siek man.

“Jy hoef nie op te staan nie. Hierdie geveg sal nog lank duur en jy kan alles hiervandaan hoor.”

“Uit, vroumens!”

Sy bly staan waar sy is en kyk skewekop na hom.

“As dit jou in die bed sal hou, bly ek net hier.”

“Moenie jouself bluf nie, meisiekind,” sê hy en pluk die komberse van hom af.

Carolien vlug bloedrooi van verleentheid uit die kamer.

Intussen maak Gert en Hendrieka nog steeds rusie. Debora se vermanings val op dowe ore. Gert se aanbod het gestyg na honderd-en-vyftig pond, maar Hendrieka wil nie toegee nie. Sy besef dat sy nou vir die eerste keer haar swaer aan die kortste ent laat trek.

“Jy is nie skelm genoeg nie, Gert,” sê Hendrieka tevrede. “Daar moet ’n baie goeie rede wees hoekom jy so angstig is om my plaas te kry.”

“Wanneer die delwers kom, gaan hulle buitendien jou plaas vat!” brul Gert. “Jy sal nie ’n duim daarvan mag verkoop nie!”

“Dis my saak! Ek weet hier is goud op my plaas, maar jý sal nie die vrugte daarvan pluk nie! Dan sal ek eerder sterf!”

“Jy is ’n koppige ou bokooi, Hendrieka!”

“Dis nóg ’n rede waarom jy dit nie sal kry nie! Jy is gedurig besig om my te beledig!”

“Dis al wat jy verdien!” skreeu Gert. “Hierdie plaas behoort aan my! Jy het hier geen regte nie!”

“Carolién het,” sê Christiaan van die deur se kant af. Almal kyk vinnig om na hom waar hy ietwat uitasem teen die deurkosyn leun. “Dit staan mevrou Oosthuizen vry om die plaas aan haar dogter te gee. Dis net as sy wil verkoop, dat sy dit aan u moet verkoop, meneer Oosthuizen.”

Daar is ’n geskokte stilte. Gert word spierwit.

“En wie is jy?” wil hy bars weet.

“Christiaan van den Heever,” antwoord die jong man. “Eens ’n praktiserende prokureur in Kaapstad, maar ek het dié beroep vaarwel toegeroep om te kom boer.” Hy draai na Hendrieka. “Wel, mevrou? Gaan u die plaas aan u dogter skenk?”

Hendrieka lag sag.

“Met graagte! Net môre gaan ek Heidelberg toe om die saak reg te stel.” Haar verrimpelde gelaat verkreukel in ’n glimlag. “Dankie, meneer Van den Heever. Ons sal u altyd dank verskuldig wees.”

Goue horisonne

Подняться наверх