Читать книгу Wierook van verlange - Annelize Morgan - Страница 3

1

Оглавление

Die koue water stroom teen Liliane se voorarms af en drup van haar elmboë op die reeds sopnat vloer. Sy voel hoe die seepsoda haar vel brand, maar dan kan sy die pars genadiglik los om haar hande aan haar voorskoot af te vee.

Hoeveel jaar van ’n mens se leeftyd kan jy hiermee volhou? wonder sy en vee ’n haarsliert uit haar gesig weg. As sy maar net geweet het of sy nog iewers familie het, sou sy dalk lankal hier uit gewees het …

“Jy staan en slaap, Liliane!” skreeu die ou vrou wat oor die washuis toesig hou. “Tel daardie lakens wat geval het op!”

Liliane antwoord nie, maar draf na die hoop nat lakens op die vloer. Hulle sal weer gewas moet word en dus gaan sy vanaand lank na donker eers hier uitloop. Sy probeer die ontevrede kyke van die ander vroue vermy. Die laaste ruk is sy kort-kort in die sop omdat sy staan en dagdroom en dan gebeur sulke dinge, en moet hulle almal langer bly om klaar te maak.

“Roer jou litte!” gil die gesette ou vrou weer op haar toe Liliane te lank na haar sin talm om die lakens terug in die was te kry. “Dit staan jou vry om ander werk te gaan soek!”

Ander werk? Liliane kyk nie op nie, bang dat die ander die vrees in haar oë sal sien. Niemand sal haar tog in diens neem nie.

Wat sy hier doen, is al werk wat sy ooit sal hê.

En ander drome? Sy byt op haar tande en druk die lakens weer onder die water in. Sy het lankal geleer dat drome net pyn en hartseer, verlange en teleurstelling bring. Die werklikheid is al wat tel; dít wat jy kan sien en hoor, dit is wat mens glo.

“My hande is seer,” merk Ignez daardie aand aan die einde van hul skof op. “Kyk hoe word my vel weggevreet.”

Liliane ken die tekens. Vir Ignez is dit die begin van die einde hier, want as die vel op haar hande eers aangetas word deur die skerp chemikalieë in die seep waarmee hulle werk, sal sy nie meer lank in die washuis kan werk nie en dan word sy weggestuur met ’n paar munte in haar sak om vir haar elders ’n heenkome te soek.

Dit is wat almal van hulle vrees.

Daardie nag lê Liliane lank wakker en dink bekommerd oor haar en Ignez se toekoms. Sy vroetel met haar hand onder haar kopkussing en bring die hangertjie te voorskyn wat sy daar wegsteek. Soos soveel keer tevore bekyk sy die enigste besitting van haar ouers wat sy het. Al is dit niks werd nie, lyk dit baie mooi, amper asof dit aan ’n markiesin kon behoort het … of aan ’n gravin. In die middel is ’n stukkie geslypte groen glas met kleiner wit stukkies rondom, amper soos diamantjies. Sy draai die hangertjie om en kyk na die inskripsie agterop wat sy nie kan lees of verstaan nie. Dit is nie Frans nie, maar in ’n heeltemal vreemde taal en skrif.

Waarom sou haar pa dit saam met haar in die weeshuismoeder se arms gelos het toe sy nog net ’n baba was? Madame Le Cleu, die weeshuismoeder, het ook nie geweet nie. Sy het net onthou dat Liliane se pa weggegaan het om haar ma te gaan soek, maar dat hy nooit weer teruggekom het nie. Selfs die briefie wat madame Le Cleu eers op haar sestiende verjaarsdag vir haar kon gee, het nie veel lig op haar afkoms gewerp nie. Liliane kan die woorde uit haar kop onthou, want sy het dit al soveel keer gelees:

My liewe Liliane,

Vergewe my dat ek nie meer hier sal wees nie. Ons het nie meer familie na wie ek jou kan neem nie, en madame Le Cleu van die weeshuis het my belowe dat sy jou goed sal grootmaak. Ek gaan na ’n ver land, na Arabië, waar ek na jou ma wil gaan soek en waarvandaan ek haar hopelik sal kan terugbring. Ek kan jou nie saamneem nie, want dit is ’n harde en wrede land waarheen klein dogtertjies nie moet gaan nie. Al wat ek aan jou kan gee, is hierdie hangertjie. Dit het aan jou ouma behoort en jou ma het dit graag gedra. Miskien sal ons mekaar eendag weer sien. Mag jy net goeie dinge op jou pad ondervind.

Liefde,

Jou pa,

Etienne de Beaudelaire.

Dit is al, nie eens die naam van ’n plek waar sy met hom in verbinding kon tree nie … Niks.

Madame Le Cleu is ’n goeie vrou, en sy het haar probeer troos en leiding gee, maar sy, Liliane, het altyd bitter alleen op aarde gevoel. En eintlik voel sy nog steeds so.

Madame Le Cleu het haar daardie dag teen haar groot, sagte bors vasgedruk terwyl die trane in haar oë opgewel het. “Jy is nie alleen op die wêreld nie, kindjie; iewers is daar ’n pa wat vir jou omgee. Ek kan die skrif nie lees wat aan die agterkant van die hangertjie geskryf is nie, maar ek dink as jy na jou familie wil soek, moet jy na die land gaan waar hulle só skryf. Jou pa het jou nie vergeet nie, ek is seker daarvan.” Madame het vir haar geglimlag. “Jy moet dit net glo.”

Dit was vier jaar gelede. Haar pa het nie teruggekom nie, en sy het dit al oorweeg om die hangertjie te verkoop. Al sou dit net ’n klein bietjie geld inbring, is dit beter as niks. Maar dit is al wat sy nog van hom het. Sy kan sy gesig nie eens onthou nie, want sy was maar ’n paar maande oud toe hy uit haar lewe verdwyn het.

Sal sy ooit kan vasstel wat die inskripsie beteken? Sy het die stukkie papier waarop sy dit gekopieer het al vir baie mense gewys, maar niemand kon dit ontsyfer nie. Net een persoon het dit as Arabiese skrif herken, maar kon dit self nie lees nie.

Toe Ignez met sterre in haar oë by die kamer instap, kan Liliane nie anders as om haar haar verliefdheid en totale oorgawe aan die jong man wat in haar belangstel, te beny nie. Diep in haar binneste bly ’n stemmetjie knaag: Jy kan ook gelukkig wees. Dan kyk sy om haar rond en trek haar keel toe, want hier is net skokkende armoede.

“Jy’s ’n mooi kind, Liliane,” hoor sy madame Le Cleu nog sê. “Jy kan dit tot jou voordeel gebruik. Jy is ook nie dom nie, en daar is vir jou geen rede om in hierdie omstandighede te bly nie.” Die ou vrou het haar op albei wange gesoen. “Met jou mooi groen oë en blink, gladde, donkerbruin hare kan jy enige man se hart verower. En iewers in jou is daar iets wonderliks, iets wat jy nog nie ontdek het nie.”

Liliane kan onthou hoe madame Le Cleu se woorde haar laat voel het: belangrik en mooi en begeerlik …

Maar sy besef ook dat solank as wat sy hier gaan bly, sy nooit gelukkig sal kan wees nie. En soos baie ander nagte huil sy haarself aan die slaap en verdring die hartseer alle hoop wat sy nog gehad het.

Hoop, het sy lankal besluit, is net uitgerekte pyn.

Een oggend daag ’n welgeklede man op om die opsigter van die washuis te spreek. Na amper ’n uur kom hy en die opsigter terug. Hulle bly in die deur staan en kyk al die vroue noukeurig deur.

“Ignez!” roep die opsigter, en die meisie skrik haar boeglam. “Kom hier!”

Met bewende knieë gaan Ignez met die trap op. Dan klap die volgende naam uit. Die name van agt van hulle word so uitgeroep.

“Liliane!” roep sy teen die einde. “Kom almal van julle saam!”

Liliane kyk met verskrikte oë na die ouer vroue om haar.

“Julle is almal nog jonk en mooi,” fluister die een vir haar. “Wees versigtig, chérie.”

Met bonsende hart bestyg Liliane die trappe. Die ander het reeds by die deur uit verdwyn en sy moet haar treë rek om hulle in te haal. In alles het sy tog immers nog ’n keuse, dink sy moedig. Wat ook al op haar pad geplaas word, sy het ’n keuse …

Hulle is almal saam in ’n vertrekkie wat die opsigter haar “kantoor” noem. Hulle bly staan en wag om te hoor waarom hulle geroep is. Die vreemde man staan langs die opsigter en bekyk hulle een vir een van kop tot tone soos wat hulle by die deur inkom.

“Ek soek twee meisies wat saam met my na Arabië kan gaan,” sê hy toe almal bymekaar is.

Skok ruk deur Liliane. Arabië … dit is waarheen haar pa gegaan het. Wilde hoop vlam in haar op. As sy gaan, kan sy dalk later na haar pa gaan soek.

Terwyl hulle in konsternasie onder mekaar begin praat, gaan die man voort: “Julle sal onder my toesig wees. Ek is getroud en het twee kinders. Ons woon in Arabië by Aza, ’n baie mooi oase. Ons probleem is dat die kulture baie verskil en aangesien my vrou hulp in die huis nodig het, het ek hierheen gekom om twee meisies te kry wat haar kan bystaan. As daar onder julle iemand is wat liewer hier wil bly, kan julle nou teruggaan na jul werk.”

Opgewondenheid borrel in Liliane op. Vandat sy uit die weeshuis weg is, droom sy van ’n geleentheid om na Arabië te gaan en na haar pa te gaan soek. Hier is die geleentheid en al wat sy moet doen, is om dit aan te gryp.

Drie van die meisies groet en verlaat die vertrek onmiddellik.

“Arabië is baie ver en julle sal vir drie jaar lank nie kan terugkom Frankryk toe nie,” gaan die man voort. “In die land waarheen julle gaan, moet vroue hulself bedek en hulle onderdanig gedra. Die straf daar vir owerspel is die doodstraf. As jy steel, word jou hand afgekap. Dit is ’n harde wêreld met baie streng reëls, maar ek sal julle vergoeding die moeite werd maak.” Hy bly weer stil.

Daar is ’n gefluister en ’n gevroetel onder die meisies en dan groet nog twee en verlaat die vertrek.

Die prentjie wat die man skilder, is nie rooskleurig nie, maar dit is die eerste tree vir Liliane na haar pa toe. Dan onthou sy Ignez se seer hande en besef sy opnuut dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat sý ook die strate sal moet in.

“Ek is ook nog hier,” fluister Ignez agter haar.

Liliane glimlag verlig.

Eindelik bly net Liliane en Ignez oor, en die man tref met hulle reëlings vir hul vertrek.

Sy keer hom voor toe hy eindelik groet.

Hy lyk gesteurd toe hy na haar draai. “Kan ek help?” wil hy op koue toon weet.

“Monsieur, u kan Arabies lees en skryf, is dit nie so nie?”

Hy frons onbegrypend. “Natuurlik.”

Sy hou die stukkie papier na hom uit.

“Kan u asseblief vir my sê wat hier staan?”

Hy bekyk die skrif. “Dit is ’n mooi boodskap – Tot in die ewigheid sal ek jou bemin.” Hy glimlag. “Ek sou sê dit klink asof die skrywer van die boodskap na iemand verlang. Beantwoord dit jou vraag?”

“Oui, monsieur, merci beaucoup.”

Hy groet haar en vertrek, en hulle keer terug na hul werk.

Dit is ’n begin, dink Liliane toe sy die papiertjie terug in haar sak steek. Dit is nie veel nie, maar dit is iets. Sy is net so dankbaar dat sy nie heeltemal alleen op hierdie pad moet gaan nie, want haar keel trek toe wanneer sy net dink aan ’n ver land en dat sy haar geliefde Frankryk drie jaar lank nie sal sien nie. Dit sal ’n groot opoffering wees, maar dit is net die begin van haar soektog na haar pa.

Sy wil weet wie sy regtig is en waarvandaan sy kom.

Op die hawe waarvandaan hulle na Arabië sal vertrek, ontmoet ’n mollige vrou met ligte blonde hare en goudbruin oë hulle. Haar naam is Margot en sy gesels graag en praat die twee meisies die hele tyd moed in.

Vir amper twee maande lank vaar hulle eers suid om die Kaap en toe noord al langs die kus van Afrika tot waar hulle die kus van Arabië bereik. Soms raak Liliane gespanne, maar ander kere wel die opwinding in haar op en maak die afwagting haar byna rasend.

Terwyl hulle op die skip is, leer Margot elke dag vir Liliane en Ignez hoe om die taal van die Arabiere te praat. Hulle het baie vrye tyd om te oefen sodat hulle die taal reeds tot ’n mate kan praat teen die tyd dat hulle in Jeddah vasmeer.

Voordat hulle aan wal kan gaan, moet hulle ander klere aantrek en word daar aan hulle elkeen ’n swart rok en sluier, asook ’n hoofbedekking, gegee om aan te trek.

“Dis net tydelik,” stel Margot hulle gerus. “Ons sal in die openbaar wees totdat ons die oase bereik en daar mag julle weer jul ander klere dra, maar dan net in die huis. Jul hare moet te alle tye bedek wees en julle mag nooit direk na ’n man kyk nie. Slaan jul oë af en bly voor julle op die grond kyk. As julle mooi luister, sal ons die huis sonder probleme haal.”

Liliane knik net verstom en besef dat hulle glad nie op die werklikheid voorbereid is nie. Dit is warm … Nee, dit is bloedig warm. Liliane voel asof sy van hitte wil vergaan. Net uit die hoek van haar oog sien sy wat om hulle aangaan: die deurmekaar mark, die diere wat sommerso tussen die mense loop, die swaar mandjies wat op die kop gedra word. Die volronde geure van koffie, speserye, parfuum en wierook hang in die lug en meng met die reuk van diere en sweet. Sy hoor die lawaai, gelag, dieregeluide, en die vreemdheid van alles ontstel haar. Sy het nie besef hoe anders dié wêreld sou wees as wat sy haar dit voorgestel het nie. Alles is stowwerig en die hitte oorweldigend.

’n Man te perd kom tussen die mense deur gery. Sy sien hoe almal eerbiedig padgee en toe hy verby hulle ry, kyk sy net verwonderd na hom. Dit moet ’n prins of so iets wees. Daar is goue tooisels en pers tossels aan die teuels van die dier, terwyl die saal ryklik versier is met borduursels en inlegwerk. Tot die perd is pronkerig asof hy weet dat hy ’n belangrike ruiter in sy saal dra.

Onverwags skrik die perd vir ’n hond wat voor sy pote beland en steier agteroor. Liliane probeer naarstiglik uit die pad van die vurige, pikswart Arabiese hings kom, maar sy is nie vinnig genoeg nie en ’n hoef tref haar skrams teen die skouer. Die hou stamp haar van balans af, en sy val tussen die mense in. Pyn skiet deur haar toe haar kop die grond tref. Sy bly bedwelmd in die stof lê terwyl die omstanders effens padgee. Bewus van die skerp pyn, kom sy orent en kyk op en vas in die oë van die man wat intussen van die perd afgeklim het.

Hy steek sy hand na haar uit om haar op te help. “Het jy seergekry?”

Hoewel sy voel hoe ’n dun straaltjie bloed van onder haar hare oor haar slaap en teen die kant van haar gesig afloop, skud sy haar kop heftig. “Non …”

Hy glimlag effens oor die ooglopende leuen.

Sy oë is grys soos die see op ’n mistige dag, ’n vreemde kleur oë vir ’n Arabier, dink sy.

“Ek is jammer, die perd het geskrik,” sê hy.

“Dit is niks …”

Toe hy omdraai en weer op sy perd klim, bly sy na hom staar. Hy groet en ry vort.

Om hulle staan die vroue steeds met hul oë afgeslaan sodat hulle nie sien wat hier by hulle gebeur nie. “Hy is weg,” sê Liliane vir Margot, en hulle hervat hul staptog deur die mark.

“Jy moes nie met hom gepraat het nie.”

“Hy het net om verskoning gevra.”

Hulle reis deur ’n onherbergsame gebied. Tog is die omgewing nie lelik nie. Later bereik hulle die duineveld wat Liliane bekommerd maak en met onsekerheid vul. Sy ken net die groen van Frankryk en hierdie wêreld is vir haar heeltemal vreemd.

’n Kameel is ook nie die maklikste dier om op te ry nie en soos wat die ure aanstap, raak sy al meer uitgeput. Dan droom sy van die dag dat sy haar pa sal sien en sal beleef dat sy eindelik iewers tuishoort.

Hulle bereik Aza na vier dae.

“Julle mag nou sonder jul sluiers loop,” sê Margot, en Liliane is verlig om die warm sluier te mag afhaal. “Dit is madame Laurent se tuin dié, maar sy kom baie min hier. Ons leef hier soos in Frankryk solank ons binne die mure van die tuin en huis bly.” Sy glimlag. “En moenie lyk asof dit ’n begrafnis is nie. Dit is glad nie so sleg hier soos wat julle miskien nou dink nie.

“Nou goed, ek neem julle na jul kamers. Aandete sal in jul kwartiere bedien word en daarna is julle vry om te doen wat julle wil tot môre.” Sy glimlag weer. “Ons slaap gewoonlik deur die dag en doen ons werk in die nag omdat dit bedags so warm is.”

Dit is met beklemmende gemoedere dat Liliane en Ignez vir Margot volg.

In die daaropvolgende week word hul pligte aan hulle verduidelik en leer Liliane en Ignez monsieur Laurent se huis ken. Liliane geniet dit om te help om die kinders op te pas. Veral die oulike blonde Lilli het reeds diep in haar hart gekruip.

Wanneer monsieur Laurent besoekers kry, kuier die mans saam in ’n vertrek waar bakke met peuselhappies rondstaan. Margot en Liliane staan dan by ’n opening wat met latwerk toegemaak is, maar waardeur hulle nog kan sien wat binne aangaan sodat hulle weet wanneer om nog drink- of eetgoed te bring.

Die eerste besoeker wat monsieur Laurent onthaal sedert Liliane aan diens is, is sy hoogheid sjeik Jamal al Din.

“Sjeik Jamal al Din is ’n invloedryke man, en monsieur Laurent voorsien hom van goedere wat hy uit ander lande invoer,” verduidelik Margot. “Die sjeik hou van mooi en duur goed, en Laurent het altyd iets wat hom interesseer. Dus besoek die sjeik monsieur Laurent dikwels.”

Liliane kyk deur die loergat na die Arabier met sy kopdoek, wye broek en mantel. Hy lyk baie streng, wat haar ’n bietjie skrikkerig vir hom maak.

“Hy het glo ’n vurige humeur,” sê Margot. “Hy en sy suster het ’n rusie gehad, en toe is sy weg na die Weste. Niemand het ooit weer van haar gehoor nie. Sy hoogheid sjeik Jamal al Din het haar probeer opspoor, maar kon nie. Al het hulle baklei, was hy glo baie lief vir haar.”

Liliane luister verwonderd. Dié mense fassineer haar beslis.

Laatmiddag die volgende dag kom ’n paar mans te perd na Laurent se huis. Daar is een onder hulle wat Liliane herken. Dis die lang, forsgeboude man wat haar in die mark per ongeluk raak gery het. Sy het nie gedink dat sy hom ooit weer sou sien nie en hier is hy nou, net so indrukwekkend soos wat sy hom onthou.

Hy dra ’n weelderig geborduurde wit jas met wye moue wat Margot verduidelik ’n mishlah genoem word en ’n seintuur wat met goue draad versier is. Aan sy sy is ’n dolk met edelgesteentes in die hef ingelê soos ook in die silwerskede.

“Wie is hy?” vra sy vir Margot.

“Dit is sy hoogheid sjeik Dawud bin Nazim. Hy en monsieur Laurent is nie op goeie voet met mekaar nie, maar hy is fabelagtig ryk en monsieur Laurent hou van mense met invloed en baie geld.”

“Hy het grys oë.” Sy onthou nou dat sy in sy oë gekyk het.

Margot skud haar kop. “Heelparty van die Arabiere het oë wat lig van kleur is. Deur die jare heen het ondertrouery met Westerse byvroue hier en daar plaasgevind.”

“Het jy ook ’n storie oor sjeik Dawud bin Nazim soos oor sjeik Jamal te vertel?” vra Liliane nuuskierig.

Margot lag. “Ek het baie stories oor hom. Hy gryp die verbeelding van al die meisies aan en is ’n legende in sy eie tyd. Van die stories is hoorsê, maar ek dink wat regtig gebeur het, is dat hy sy vrou, Jamilah, baie liefgehad het. Sy het hom ’n hele drie maande lank met ’n ander man verkul, terwyl hy salig onbewus daarvan was. Prins Fazir het hulle glo betrap en hy is nie ’n man wat enige genade het nie. Sy is weggeneem en tereggestel.”

Daar is ’n lang stilte waarin Liliane haar stom aanstaar. “Sommerso?”

“Selfs na die huwelik voltrek is, was Jamilah vry om na haar ouers terug te gaan. In Arabië word ’n vrou nie teen haar sin gedwing om by die man te bly met wie sy getrou het nie. Hulle beskou dit nie as egskeiding nie, maar bloot ’n fout, en vir die man is dit ’n vernedering om sy vrou by haar ma te moet gaan haal. As sy egter getroud wil bly, moet sy ook getrou aan haar man bly. Jamilah het van die weelde gehou en wou dit nie prysgee nie, maar sy het ook van die aandag van ander mans gehou.” Sy haal diep asem voor sy voortgaan: “En vandag is die deur na sjeik Dawud se hart gesluit. Hy laat niemand in nie.”

Liliane knik net.

“Bly liewer weg van die mans van hierdie land. Dit is ’n slagveld daardie,” voeg Margot by.

“Ek belowe.”

Later die aand staan Margot en Liliane by die loergat.

Hulle kan sy hoogheid sjeik Dawud bin Nazim sien waar hy eenkant staan en oor die stil oase uitkyk. Hy is langer as wat Liliane onthou het en dit is of sy teenwoordigheid die vertrek vul.

Sy onthou sy vlugtige aanraking en die kilheid in sy grys oë. Hy is iemand wat daaraan gewoond is om bevele te gee en verwag dan dat hulle gehoorsaam word.

Sy skrik toe hy skielik omdraai en Laurent ’n skerp, bytende antwoord op ’n vraag gee.

“Gaan sê asseblief vir Achmed om die perde van die sjeik se geselskap vir die terugtog gereed te kry,” hoor sy Margot langs haar sê. “Hier kom moeilikheid.”

Liliane knik en stap gou in die gang af en uit op die breë, koel stoep met sy dik pilare.

Die volgende oomblik bars ’n lawaai los. Mans skree op mekaar en dreig mekaar, terwyl Liliane se oë rek toe sy die skuurgeluid van metaal hoor soos wat sabels uit skedes gepluk word. Maar dit ontaard nie in ’n geveg nie, net in dreigemente.

“As jy die vrede in die gebied gaan verongeluk, sal ek jou persoonlik kom doodmaak!” dreig sjeik Dawud.

“Dit is jy wat die oorlog aanhits!” skree Laurent terug.

“Pasop wat jy sê, Nasrani!”

“Jy is self een!” Laurent is so kwaad dat sy stem deurslaan. “Jy verbeel jou jy is ’n Arabier, Dawud, maar jy is nie. Jy is net soos ek!”

“Ek is nie soos jy nie!” sis die sjeik minagtend.

Op die oomblik wat Liliane verskrik vassteek, gaan die deur hier by haar oop en kom Dawud woedend uitgeloop terwyl hy sy sabel terugsteek in die skede.

Hy ruk tot stilstand toe sy blik op haar val en hy keer hom weer na sy ewe woedende gasheer. “Hou jy nog steeds die vroue uit jou land in jou harem aan om te verkoop?”

“Sy werk vir my.”

“Geen vrou werk sommer net vir jou nie, Laurent. Wat beplan jy met haar? Gaan sy ook slawemark toe?”

Liliane tree verskrik terug.

“Ek het haar in Frankryk gekoop, en sy is my eiendom. Dit het niks met jou te doen wat ek met haar beplan nie.”

Liliane is sprakeloos. Sy het nie besef dat hulle deur Laurent gekoop is nie. Hulle is wreed verraai! Hulle was vry mense en nou … Dit verander die prentjie heeltemal. Dit maak van haar ’n slavin, iemand wat weer verkoop kan word.

Hemel, dít het sy nie besef nie. Haar hart krimp ineen van angs en verontwaardiging.

Die sjeik kyk weer na haar.

Liliane snak na haar asem en sy kan raai dat die skok duidelik op haar gesig geskryf staan. Hy kyk na haar asof hy haar gesig wil onthou – hetsy om ’n goeie of ’n slegte rede.

Die lig van die lanterns gooi sagte skaduwees oor sy gelaat, maar onder die gutra wat sy hoof bedek, is sy grys oë koud soos glas. En heeltyd onthou sy Margot se waarskuwing om ’n man nie in die oë te kyk nie, maar sy is glad nie in staat om weg te kyk nie.

Sonder ’n verdere woord draai hy skielik om en stap oor die plaveisel weg.

Sy kyk hom agterna. Die ontdekking dat sy monsieur Laurent se slavin is, wring alle hoop uit haar. Sy het geen vriend hier nie, niemand wat omgee wat van haar of Ignez word nie.

Sou dit sjeik Dawud bin Nazim dalk hinder dat sy onwetend Laurent se slavin geword het?

Minute later hoor sy die hoefslae soos wat perde wegjaag oor die woestyn die duisternis in, en dan sak die stilte weer onheilspellend oor die oase toe.

Liliane bly steeds versteen staan. Diep in haar binneste wens sy dat hy haar sal onthou.

Hulle sien hom egter nie weer en hoor geen nuus oor hom nie. Dit is asof die groot woestyn hom en sy gevolg ingesluk het, hoewel Liliane hul vlugtige ontmoeting nie vergeet het nie.

Margot se oë rek toe sy hoor dat Liliane haar in sjeik Dawud vasgeloop het. “Dit is een man vir wie jy versigtig moet loop, Liliane. Daar is nie ’n sagte kant aan hom nie. So hard as wat hierdie land is, so hard is hy.”

“Hy is ’n Fransman,” protesteer Liliane.

Margot skud haar kop. “As dit waar is, is dit net in naam. Die Bedoeïene het groot ontsag vir hom, want daar is nie nog ’n vegter soos hy nie. Vyf jaar gelede het hy hulle saamgesnoer en vrede in die gebied bewerkstellig. Hy is onverskrokke wanneer hy iemand verdedig, maar sy hart is harder as die rots van die jebels. Moet dit nie vergeet nie.”

“Hy is steeds net ’n mens.”

“Soms wonder ek. Prins Fazir is een van sy felste vyande, maar sjeik Dawud staan nooit vir hom terug nie. Hy heers oor die Oseaan van Vuur, die gevreesde Rub’ al Khali. Dit is sy tuiste en soms dink ek dat hy en daardie onverbiddelike woestyn een siel deel.”

Die woorde waarmee Margot probeer om haar af te skrik, dien net om Liliane se nuuskierigheid te prikkel. Die man het ’n diep indruk op haar gemaak, een wat haar gedurig sal bybly.

’n Week later kry sy die geleentheid om monsieur Laurent direk oor haar posisie hier te konfronteer. Margot het haar gevra om ’n skinkbord met gharwa vir hom te neem.

Volgens gebruik skink sy ’n koppie van die sterk koffie vir hom in en sit dit saam met ’n bakkie stroopsoet dadels voor hom neer. Sy kom orent en kyk na hom toe hy die koppie optel.

“Is daar nog iets?” wil hy effens geïrriteerd weet.

“Het u my as slavin gekoop, monsieur?”

Hy lyk ongemaklik. “Ek het jul opsigter betaal omdat sy sonder julle sou moes klaarkom, dis al.” Hy kyk haar egter nie in die oë nie.

Sy gluur hom aan, want sy kom agter hy jok. “Jy het my en Ignez soos stukke vee gekoop, maar niemand gaan teen my sin van my ’n slaaf maak nie!”

Hy haal sy skouers ongeërg op. “Jy kan dit nie meer verander nie.”

Die kilheid waarmee hy dit sê, is vir haar skokkend.

“Jy sal nog maai wat jy saai,” sê sy bewend voor sy omdraai en driftig by die vertrek uit stap. Hy is ’n slawehandelaar, besef sy ontsteld, en hy besit my en Ignez nou.

Ignez kyk op toe Liliane na aan trane by die vertrek in storm. Dit neem haar ’n oomblik om tot verhaal te kom.

“Monsieur Laurent het erken dat ons slawe is.”

Ignez staar haar met wydgerekte oë aan. “Is jy seker?” vra sy.

“Ja.” Liliane gaan by haar sit. Hoe gaan sy haar pa ooit opspoor as sy ’n slavin is? “Ek weet nie wat ons gaan maak nie.”

Dit voel vir haar asof die einde van haar lewe aangebreek het. Sy het alles op die spel geplaas net om na haar pa te kom soek en nou gaan die lewe vir haar net hier in slawerny eindig.

Later die aand sit sy met die hangertjie in haar hand en verwonder haar weer oor hoe mooi dit is. Sy vee die trane wat oor haar wange loop met haar mou af. Dit sal seker ook eendag van haar weggeneem word, dink sy wanhopig, en dan het sy haar lewe gewaag vir niks.

Noudat sy weet dat sy tot die vlak van slaaf gedaal het, besef sy ook hoe ver sjeik Dawud bin Nazim van haar sfeer verwyder is. Mense in haar posisie moet voor hom buig en mag nie eens aan hom raak nie.

In hierdie land het sy onwetend ’n uitgeworpene geword.

Wierook van verlange

Подняться наверх