Читать книгу Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper - Страница 5

1

Оглавление

_ _ _ _ _ _ _

Die P-klap

Dis asof ’n groot, vet duim uit die hemele die pause button op die aarde kom druk het, dink Pamina Vermaak. Want vir ’n oomblik is die gewoonlik krioelende, gonsende, ritselende oopplankantoor op die agste verdieping van die hoë mediagebou in Kaapstad se strandgebied doodstil om haar.

’n Skielike geskokte stilte.

Slegs die kopieermasjien in die hoek van die vertrek het blykbaar nie die memo gekry dat alles en almal meteens in hul spore moet stuit en in hul woorde moet stik nie, en gaan nonchalant voort om bladsye uit te druk. Swoesj-swoesj-swoesj, die klank van elektroniese branders in ’n digitale see.

Dit word ’n druising in Pamina se kop. Ek is onder water, dink sy. En voor my hang ’n middeljarige vis met rooi highlights in die hare, groot fake tiete en rookplooitjies om die bek wat geskok hap-hap na woorde: René Meiring, uitgespreek rê-nei, die redakteur van Eva, ’n Afrikaanse vrouetydskrif gemik op “die Christenvrou van nóú”, onder bestuur van een van die grootste mediahuise in Suid-Afrika. René, wie se naam in elke maandelikse uitgawe in haar eie handskrif onderaan die redakteursbrief gedruk staan, met ’n hartjie waar die akuut op die “e” moet wees. Hierdie maand was die brief se opskrif “Hashtag liefde”. Hashtag fuck my life, wou Pamina hardop byvoeg. Sy het nie.

Maar nou het al haar ingehoue negatiewe gevoelens teenoor haar baas met een groot ghong van woorde uitgekom wat die hele redaksie tot stilstand geruk het. Skielik weet sy nie eens meer watter snedige aanmerking René dié keer teenoor haar gemaak het en wat sy toe vir haar teruggesê het nie. Sy weet net dat haar oë nou in haar kop begin bewe en alles om haar wasig raak. Die starende kollegas om hulle word dof en klein soos toeskouers op veraf pawiljoene, en Pamina en René is in die middel van die arena. En toe borrel die bitter woede in haar op asof haar baas se soveelste beledigende uitlating ’n boorpunt was wat uiteindelik ’n aar van sluimerende emosie in Pamina bevry het. Voordat haar brein haar tong kan keer, skree sy uit volle bors:

“Gaan staan op jou kop en kak in jou poe–!”

Die klank van die laaste letter word verdoof deur René se handpalm wat dwarsweg Pamina se gesig tref en een groot snak van verbasing uit die kantoorruimte ontlok.

Geel spikkels dans voor Pamina se oë. Die spikkels sweef nader en dan sien sy dis honderde klein emoji’s – daai gesiggie met die platgetrekte bek vol knersende tande wat wil sê: Oef, awkward.

Pamina is eintlik dankbaar vir die klap wat René haar teen die wang gegee het. Dit ruk haar terug na die werklikheid, en die werklikheid is dat sy dit verdien het ná wat sy so pas gesê het. Sy het te ver gegaan, sy besef dit, maar sy het nie eens geweet sy het dit in haar nie. En tog neem die klap ook ’n klein stukkie van die skuldlas en vernedering van haar af weg deur dit te verplaas na René (#liefde) se gloeiende handpalm.

Dis asof die klap teen Pamina se wang stadig weer beweging in die vertrek aan die gang sit. Uit die hoek van haar oog, tussen die spikkels deur, sien sy die kantoor se swaar staal-hyserdeure oopgaan. ’n Jong bode met jeans wat laag op sy heupe hang en met oorfone in sy ore kom ingestap, sy oë op die pak koeverte in sy hande. Heeltemal onbewus van die ongemaklike atmosfeer, fluit hy kliphard saam met die deuntjie wat slegs hy kan hoor en stap na ’n cubicle in die verste hoek.

Agter hom kom twee dames in Foschini-uitrustings, seker terug van ’n rookpouse, uit die hyser gestap. Duidelik gewoond daaraan dat onderlinge geselsies in die normale kantoorgeraas opgeslurp word, is hulle kliphard aan die praat. Pamina hoor die woorde “vibrator” en “Tinder”, en dan rem hulle in hul spore met die besef dis tjoepstil om hulle. Die blonde kollega met die permanente walm van Chanel Chance wat soos ’n wolk om haar hang, slaan haar hand teen haar bors en laat val ’n kwelende, oorronde: “Wat gaan aaaan?”

Aan Pamina se ander kant val ’n pak los papiere uit ’n lêer wat ’n sproetgesig, bebrilde hipster-intern met ’n hygklankie teen haar bors vasgedruk het toe Die Klap gebeur het. ’n Telefoon begin ongeduldig lui. Iemand laat breek ’n ongelowige, gesmoorde lag los binne ’n cubicle, die soort lag wat wil sê: Holy shit, did you just see that?

En Pamina proe die woorde wat sy voor die klap in haar baas se rigting geuiter het soos bloed in haar mond.


“Jy lyk en ruik soos kak, bra,” hoor Wolf de Jager waar hy op ’n dekstoel op die sonnige patio agter sy huis in die luukse Kaapse buurt Higgovale wakker word. Dis AJ, sy manager, se stem. AJ gaan sit dwarsweg op die dekstoel langs hom. “En nog lekker déúr die kak ook, sien ek. Dè.”

’n Ontevrede kreun is al antwoord wat Wolf gee terwyl hy AJ skreefoog bekyk.

“Mimosa – hair of the dog.”

Wolf trek homself sukkelend regopper teen die stoel se rugleuning en keer die skielike felheid van die son met sy voorarm af toe hy sy oë behoorlik oopmaak. Met sy ander hand voel-voel hy in sy hempsak vir sy sonbril, maar besef dan dat hy nog dieselfde klere aanhet as wat hy gisteraand op die verhoog gedra het: ’n swart T-hemp en leerbaadjie, stywe swart Levi’s waarvan die pype losweg by oprygstewels ingedruk is. Geen sonbril. Dan sien hy die Ray-Bans op AJ se bebaarde gesig en met ’n vinnige beweging annekseer hy dit. Die geduldige AJ blik of bloos nie, wink net weer met die glas lemoensap en bubbly wat al dof raak van die kondensasie. “Ou, ons moet gesels. Of altans, ek praat, jy luister.”

Met ’n sug draai Wolf sy lyf dwars in die stoel en neem die cocktail wat hy met drie groot slukke opdrink. Hy sit die leë glas met ’n harde klink op die asbestrooide glastafeltjie langs hom neer, waar sigaretstompies verdrietig uit ’n asbakkie peul langs ’n amperleë pakkie Marlboro’s en ’n Zippo waarop die naam Daniella in oordadig kronkelende letters gegraveer is. Hy skud ’n sigaret uit die pakkie en ’n effense naarheid wel in hom op toe hy die lighter fluid van die Zippo-vlam naby sy neus waarneem. Met die sigaret tussen sy lippe vasgeklem, trek hy sy leerbaadjie uit en gooi dit hardhandig op die plaveisel langs die dekstoel neer, kwaad dat dit nog aan sy lyf was toe die vroegsomerson vanoggend hier oor hom gebreek het. Toe hy dit uittrek, kry hy die suur reuk van Jägermeister-sweet op sy vel, en die binnekant van sy mond is steeds droog, selfs ná die mimosa.

Dan laat rus hy sy elmboë op sy knieë, vat die sigaret tussen wys- en middelvinger vas en begin tik-tik met sy regterduimnael daarteen, wat dit laat hop soos ’n kwikstertjie se stertvere. Hy vee met sy linkerhand deur sy hare. “Nou praat,” sê hy, en skrik vir die buitengewone skorheid van sy stem en, toe hy reguit na AJ kyk, vir die bekommerde kyk in sy manager se oë.


Pamina is nie seker wat die protokol is vir hierdie tipe situasies nie. Toe sy joernalistiek geswot het, was daar nie ’n lesing oor “Wat om te doen as jy jou baas gevloek het voor al jou kollegas en hy/sy jou dan deur die gesig klap” nie. Sodanige dinge behoort eintlik in die kurrikulum te wees, reken sy. Saam met “Wat om te doen as Steve Hofmeyr jou met ’n koppie tee gooi”.

Maar met die verposing in die kantoor verbreek, besluit Pamina dis tyd vir haar om ’n move te maak. Sy sien die fyn rooi haartjies om René se voorkop is klam, haar oë is gesper en haar klaphand hang nog in die lug. Sy lyk soos iemand wat besig was om die robotdans te doen, maar toe vreeslik groot geskrik het vir iets en in ’n soutpilaar verander het. Die kommin suburban version van Lot se vrou.

Pamina gryp haar handsak onder die lessenaar uit. Sy wag nie vir die “Jy het vyf minute om jou goed bymekaar te maak” nie. Wat moet sy saam met haar vat? ’n Kramdrukker? Haar oë gly oor haar lessenaar en dan gryp sy die halfvrek delicious monster langs haar rekenaar – net om darem iéts te vat.

Met die potplant onder haar arm vasgeklem, skuif sy verby René wat uit haar soutpilaar-posisie geruk word en kopskuddend ’n sagte woord wat klink soos “bitch” uiter. Dan drafstap Pamina tussen die Foschini-duo deur, verby die walm van Chanel Chance, tot in die hyser. Toe die deure toegaan, druk sy herhaaldelik die knoppie wat verhoed dat dit weer kan oopgaan. Sy skrik toe sy in die spieël sien hoe bleek haar gesig teen haar donker bob is. Haar groenblou oë lyk soos pierings en sy voel hoe haar hele lyf bewe, asof sy kouekoors het.

Sy bereik die ingangsportaal en swipe in rekordtyd haar personeelkaart om verby sekuriteit te kom, oortuig dat iemand haar nou enige tyd gaan inhaal en terugroep, maar toe sy deur die groot glas-swaaideure is, is daar niemand agter haar nie.

Pamina trek die buitelug diep in haar longe – nou wel met ’n klankie van uitlaatgasse, maar tog anders as die kantoor se droë lugverkoeler-lug – en voel die somerson op haar gesig. Is dit hoe ’n ontsnapte gevangene voel? Verlig om buite te wees, maar elke oomblik oortuig dat ’n agtervolger gaan halt roep?

Rats beweeg sy om die gebou se hoek na waar haar poeierblou Opel Kadett geparkeer staan. Sy ruk die deur oop, gooi haar handsak op die vloer voor die passasiersitplek neer en sit die pot met die halfdooie delicious monster op die sitplek, kyk bekommerd na die los grond in die groterige pot en maak dit dan met die sitplekgordel teen die rugkant vas. Eers toe sy die deur toeklap en in stilte agter die stuur sit, sink die gebeure van die afgelope paar minute werklik by haar in. “Fok,” prewel sy. “Fok, fok, fokkity fok,” kom Jack Parow se liriek by haar op. Sy klem die stuurwiel vas en laat sak haar kop daarteen met die verwagting dat die toeter sal afgaan, soos wanneer mense in flieks hulle koppe moedeloos teen stuurwiele laat sak. Maar dis stil. So swaar soos haar gemoed tans is, is dit nie swaar genoeg om ’n effek te hê op haar skedonk se ou gefokte toeter nie. Sy lig haar kop en druk haar handpalm so hard soos sy kan teen die middel van die stuurwiel. ’n Lang, luide retro-toet ontsnap uit haar kar se bakwerk. Sy wens dat die toeter ’n undo-knoppie was wat die hele dag kon uitwis sodat dit van voor af kan begin.

Pamina kyk op. ’n Sekuriteitswag met ’n neongeel onderbaadjie spring uit ’n Wendy-huisie by die parkeerterrein se boom. Hy stap nader met sy hande aan weerskante van sy sye gelig in ’n gebaar wat vra: Wassit? Maar iets in haar gesig en houding moet spreek van neerlaag, want hy draai om en stap terug na die Wendy-hokkie. Hy het seker maar al dikwels dieselfde tipe wanhoop hier rond gesien.

Sy leun terug in die sitplek en staar uit oor die parkeerterrein, blink van son teen die ruite van karre wat wag dat hulle base uit die soutmyne moet terugkeer vir die lang rit huis toe, aandete, TV, slaap, en dan weer terug hierheen. Is sy haar werk kwyt? Duh. Gaan sy ooit weer vir hierdie maatskappy of selfs in hierdie bedryf kan werk? Sy twyfel. Die storie gaan soos ’n veldbrand versprei.

Sy moes dit seker sien kom het. Sy is al lankal gatvol vir hoe kak René haar altyd oor haarself en haar werk laat voel, werk waarvan sy nie eens hou nie. Nou het sy uiteindelik gecrack. O hel, dink sy, is sy skuldig aan crimen injuria? Die gedagte stuur koue rillings by haar rugstring af.

Pamina draai die sleutel in die skakelaar en die CD in die speler trek kliphard los met Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”. Sy druk die mute-knoppie. Nie die regte klankbaan vir haar gemoed nie. Hopeloos te mooi. Stilte, dis wat sy nou nodig het.

Vanoggend het sy die liedjie op pad werk toe op repeat geluister: “Daar was monsters in die donker, toe vind ek jou.” Sy het heeltyd probeer uitpluis of dit is hoe sy oor Etienne voel. Sy wil so graag só voel, maar haar gevoelens oor hom is deesdae troebel. Miskien het sy sidetracked geraak met dié dat sy so ongelukkig was in haar werk, maar iewers het hulle ná twee jaar saam verby mekaar begin leef. Wanneer laas het hulle seks gehad? Sy kan nie eens onthou nie.

Nou het sy hom nodiger as ooit. Dis donker en dit voel asof daar monsters oral om haar is wat dreig om haar te versmoor.


Terwyl AJ sy woorde weeg, neem Wolf lang trekke van sy sigaret en kyk uit oor die agterplaas van sy luukse nuwe woning. Langs die patio is daar ’n infinity pool waar jy kan afkyk op die tuin vol inheemse plante: proteas, heide, speldekussings en strelitzias. Die huis sit op ’n hoogte en die welige tuin skep die indruk dat dit reg aan die soom van Tafelberg geheg is, wat van hier af lyk of dit uittroon oor die stad soos ’n kwaai, breëbors bouncer uit graniet gegiet.

Hy het hierdie huis vir hom en Daniella gekoop om in te kom woon ná die troue. Voor sy geestesoog het hy al gesien hoe sy laaities eendag tussen die struike wegkruipertjie speel – hy was gereed om sy partytjiedae agter te laat en reg vir die volgende stappe in die lewe: commit, kinders kry.

Maar nou voel dit vir hom asof die groot tuin en majestueuse huis hom koggel. Asof Tafelberg op hom neersien hier waar hy wakker geword het op ’n dekstoel in gisteraand se klere, babelas en pateties, terwyl die huis agter hom nog so te sê dolleeg staan. Geen laaities, geen Daniella.

AJ verbreek sy gedagtegang: “Bra, ek dink jy kort ’n serious break.” Wolf begin sy kop skud, maar sy manager gee hom nie ’n kans om te antwoord nie. “Ons moes die mense refund wat kaartjies vir gisteraand se show gekoop het. En bo-op dit nog betaal vir al die skade aan die backstage. Ons loop verliese, en die promoters is nou weary om jou te book. Stories loop deesdae soos dít.” Hy klap sy vingers. “Sit een voet verkeerd en social media fok uit daarmee.”

“Tell me about it,” sug Wolf, en dink weer aan Daniella. Ná wat gebeur het, log hy nie meer op sy Facebook of Twitter accounts in nie.

Weer ruk AJ se stem hom terug na die werklikheid: “Ek het al jou shows vir die res van die seisoen gecancel.”

“Wat?” Wolf druk sy sigaret woedend in die asbakkie dood en spring op uit die dekstoel sodat hy bo die skrale AJ uittroon. “Wie gee vir jou die reg? Jy moes dit eers met my bespreek het!”

“Wanneer?” antwoord die ander man koel en kyk op na hom. “Tussen watter binges die afgelope twee weke was daar ’n tyd dat jy nugter genoeg was vir ons om hieroor te chat? In elk geval, jy is oormoeg en irrasioneel. Jy kort rus.”

Wolf bal sy vuiste, draai dan weg en gaan staan en kyk uit oor die swembad en tuin. Sien nie veel raak nie. Hy behoort AJ te lyf te gaan, maar iets keer hom. Die afgelope tyd het al sy sogenaamde vriende hom ná die ding met Daniella supposedly ondersteun deur saam met hom gesuip te raak, hom strip clubs toe te vat en hom vet lyne coke aan te bied. Maar waar is hulle die volgende oggend? Dit was waarskynlik AJ wat hom gisteraand veilig tuis besorg het, en wat nou werklik worried klink.

Wolf draai om en sien sy manager se raadop houding waar hy steeds dwars op die dekstoel sit, oë op die grond en elmboë op die knieë. Sy lang baard en poniestert laat hom ouer lyk as wat hy is, en met sy cargo-kortbroek, ou Converse sneakers en geruite kraaghemp, kom sy look reg uit die 1990’s se rock ’n’ roll scene. Goeie ou AJ wat al van die begin van sy loopbaan in hom glo en hom ondersteun. Eers as roadie amps en kitare agter hom aangedra na shitty kroeë, die entry fees by die deur hanteer, T-hemde en CD’s aan besope studente verkoop ná die tyd. Toe Wolf in daardie early days besef AJ is gay, was sy eerste, juvenile gedagte dat AJ se getroue bystand gebaseer was op verliefdheid. Maar toe hy hom een dronk aand by ’n kroegtoonbank in Die Mystic Boer op Stellenbosch ná ’n minder suksesvolle show daaroor konfronteer, het Wolf ’n bloedneus as antwoord gekry. “Nee, jou arrogante bliksem,” het AJ gesê. “Dit gaan oor die musiek, ek soek nie jou fokken lyf nie.” Van toe af was AJ nie meer net sy roadie nie, maar sy bestuurder, confidant en beste pel.

“Wolf?”

Hy besef hy staar nog heeltyd in die niet. Hy onthou baie min van wat gisteraand gebeur het, maar weet hy kon nie die show klaar speel nie. Hy was te fucked. Hy het … Het hy opgegooi bo-op iemand in die voorste ry? Die gedagte laat hom ril. “Gaan wag vir my binne,” sê hy. “Ek gaan shower, dan kan ons praat.”


Pamina ry by die parkeerterrein uit en in die stad in, glinsterend van die son se weerkaatsing op chroom en glas. Sy voel soos ’n leë skulp wat op ’n strand uitgespoel het. Nou lyk Kaapstad vir haar so anders, en voel dit vreemd om hier rond te ry in die middel van die dag, soos stokkiesdraai op skool.

Etienne. Sy moet na Etienne toe.

Sy het hom bygestaan toe hy besluit het om by sy pa se IT-firma te bedank en van die huis af te werk as ’n onafhanklike webontwerper. Soms moet sy meer as hy tot die huur bydra omdat hy nog sy voete vind, en dis ook nie juis asof sy as joernalis so vreeslik baie verdien nie. Nou is dit bietjie sy beurt om haar te ondersteun.

Miskien moet sy ook haar eie baas word. Heelwat van haar stadsvriende doen dit deesdae: “funemployed” noem hulle dit.

Hoe lank voel sy nie al vasgevang in ’n werk wat sy nooit beoog het om te doen nie? Sy smag daarna om ’n vryskutskrywer te wees, maar het op die een of ander wyse vasgekeer geraak in die nege-tot-vyf-bestaan en goddelike ontsag vir Die Man wat haar salaris betaal, dankbaar dat sy in hierdie moeilike ekonomiese klimaat ’n werk het, selfs al is dit nie wat sy voor haar geestesoog gesien het toe sy gaan studeer het nie. Daar was ’n tyd gedurende haar studentedae toe sy as musiekrubriekskrywer vir die kampuskoerant geskryf het wat sy wou, maar sy het dit laat vaar toe sy die werk by Eva aangebied is.

As sy net die guts gehad het om vroeër by die tydskrif te bedank, sou sy dalk nooit vandag breekpunt bereik het en ’n gatvol, vieslike, bloedstollende belediging in haar baas se gesig geslinger het nie.

Sy draai uit die stadskom op in Buitengrachtstraat wat verander in Kloofnek, en trap die petrolpedaal dieper in teen die helling om gouer in die veiligheid van haar woonstel en Etienne se arms te kom.

Op elke derde lamppaal staan in groot, vet letters: Einde van Rooikoppie en die Wolf? Foto’s.

Wie de fok is Rooikoppie en die Wolf?

Dan onthou sy die skinderstories die afgelope tyd oor Wolf de Jager en Daniella du Toit. Die Afrikaanse musiekster en die made-it-to-Hollywood-aktrise, ’n rooikop-Instafamous it-girl: Eva se troupaartjie-voorbladdroom, a.k.a. Huisgenoot se ideale voorbladskande waiting to happen.

Blykbaar het dié Daniella ’n skelm verhouding met ’n Amerikaanse akteur gehad. So hulle fairytale is ook in sy moer. Pamina is nie juis verbaas nie. Sy het al die meisie se uiters gewilde Instagram-blad besoek. Dis ’n versameling perfek gestileerde foto’s: ’n sexy selfie van haar wat slaptjips eet (asof sy met daardie slanke lyf ooit régtig ’n hele bord tjips opeet!), ’n foto waar sy net toevallig in haar trui en panty asemrowend mooi lyk agter die stoof, joga-selfies waar geen krieseltjie grimering uit plek uit gesweet is nie, en die gefiltreerde volmaaktheid van haar op die wonderlikste avonture oorsee en by al wat ’n glamourous event is. Alles te ideaal om waar te wees. Obviously, want nou is daar kak in Kammaland. Selfs al is sy beeldskoon, kan Pamina nie verstaan wat dié Wolf in haar sien nie. Met sy diepsinnige lirieke en daardie kyk in sy donkerbruin oë van iemand wie se visie ander dieptes bereik as die gewone mens. Ag, maar klaarblyklik ook ’n blikskottel, as jy als kan glo wat op sosiale media oor sy playboy-doen-en-late versprei word.

Pamina draai regs uit Kloofnek en ry dan tot bo in die stil, lowerryke straat in Tamboerskloof waar sy en Etienne ’n klein, outydse semi-gemeubileerde woonstel deel. Die woonstel het “baie karakter”, soos die eiendomsagente in die Kaap graag sê, met houtblokkiesvloere, rammelende waterpype en perskepienk teëls in die badkamer. Maar een ding wat nooit oud word nie, is die uitsig op Tafelberg wat soos ’n veranderende skildery deur hul slaapkamervenster geraam word en op ’n helder dag vanaf die balkon lyk asof jy daaraan kan vat. Nog altyd wanneer sy terneergedruk geraak het oor haar werk, of ná ’n onderonsie met Etienne, oor simpel goed soos wie se beurt dit is om skottelgoed te was, was daardie uitsig en die onwrikbaarheid van die berg haar troos.

Sy parkeer haar Opel en verlustig haar met die uitklimslag vir ’n oomblik in die absolute saligheid van hierdie straat op ’n vroeë weeksmiddag. Die wind ritsel deur die blare van die groot akkerboom voor die woonstelkompleks; iewers blaf ’n hond, lag ’n kleuter, klingel breekware in ’n kombuis.

Sy bevind haar in ’n ander realiteit as slegs minute tevore in daardie gewraakte kantoor.

Pamina stap op met die trappe, waar die terracotta-kleurige glansverf plek-plek afskilfer om ’n laag sewentigs-groen te onthul. Op die derde verdieping, toe sy met die lang gang afstap na nommer 305, begin haar hart vinniger klop. Waarmee sal Etienne nou besig wees? Sê nou hierdie dag bou voort op sy nagmerriestatus en sy betrap haar kêrel met iemand anders in die bed, onverhoeds omdat sy hierdie tyd van die dag tuiskom? Sou dit die rede wees waarom Etienne deesdae so ongeïnteresseerd is in seks met haar; is hy besig om haar te verneuk? Nah, dink Pamina, dis te veel van ’n cliché. As hierdie dag nou al een ding bewys het, is dit dat dit nie clichéagtig is nie.

Tog draai sy die voordeursleutel saggies in die slot en stap met ligte treë die woonstel binne.


Wolf sit kaalvoet met sy een been oor die ander gekruis op die rooibruin leerrusbank in die groot ontspanningskamer. Hy voel effens beter ná die stort. Sy nat hare hang koel oor sy voorkop en hy het ’n skoon denim en donkergrys T-hemp aan met Nazareth se embleem op die bors – sy gunsteling-rockgroep.

AJ kom oorhandig ’n beker swart koffie en gaan sit met ’n koppie rooibostee op die leunstoel oorkant hom. Behalwe vir die hoofslaapkamer met sy kingsize bed, is net hierdie vertrek gemeubileer – met onder meer ’n pooltafel, pinball-masjien, grootskerm-TV en kroeg. Groot glasdeure maak oop na die patio. Teen die muur is verskeie kunswerke, die grootste een ’n oorspronklike Paarwater wat hy ten duurste by ’n galery in Breëstraat gekoop het.

Wolf proe-proe aan die bitter koffie terwyl hy oor die rand van die beker loer na AJ, wie se gesig spreek van ’n kombinasie van sorg en verwyt. Hy laat sak die beker tot op sy skoot en hou dit met albei hande vas, gee ’n lang sug. “Ja, oukei,” sê hy, “die afgelope tyd was ek nie heeltemal myself nie. Maar al wat ek kort, is ’n goeie session by die boksklub. Dit sal my uitsort. Dit was regtig nie nodig om al die shows te cancel nie.”

“Seriously?” AJ lyk soos ’n pa wat weet sy kind jok vir hom. “Wil jy nou regtig vir my sê jy dink ’n paar houe teen ’n opgestopte slaansak by daai overpriced gym is al wat jy nodig het?” Hy sit sy beker tee op die koffietafel neer en kyk Wolf reguit in die oë. “Fok, dude, wees net vir ’n slag eerlik met jouself.”

Die erns in sy houding en die stilte daarna laat Wolf kriewelrig voel. “So, wat stel jy dan voor doen ek?” vra hy byna uitdagend, neem ’n sluk van die koffie en strek sy linkerarm uit oor die rugleuning.

AJ beduie na sy T-hemp. “Got to find a place where you can hide from the rain,” parafraseer hy losweg ’n reël uit een van Nazareth se liedjies.


Die geluide wat Pamina begroet, is oorverdowend: doef-doef-doef, ’n gegil, motorremme, loeiende sirenes.

Etienne is besig om Grand Theft Auto op die PlayStation te speel.

Sy stap in die gang af en sien hom waar hy met sy rug na haar op die rusbank sit en naarstig die knoppies van die PlayStation se afstandbeheerder druk, kaalbolyf, geklee in net ’n boxer-onderbroek, met sy voete op die deurmekaar koffietafel waar ’n lighter, ’n bong en ’n paar daggapitte bo-op ’n ou FHM lê. Langs dit staan ’n papbak waarin net ’n enkele verbleikte Froot Loop verdrietig in melk dryf, soos ’n verlore miniatuur-reddingsboei in ’n vaal see.

Etienne bly onbewus van Pamina wat agter hom staan; daarvoor is hy veels te vasgevang in die rumoerige game. Hy het duidelik nog nie gestort of sy hare gekam nie.

Sy hou hom ’n ruk lank verstom dop.

Etienne met sy gevaarlik-mooi gesig en skaam blou oë waarop sy drie jaar gelede halsoorkop verlief geraak het. Sy was ses-en-twintig en dit was by ’n woonstelpartytjie van ’n ou klasmaat nadat sy stad toe getrek het ná universiteit.

Hy was daar saam met ’n vriendin van ’n vriendin. Die coolste ou in die vertrek, wat hom oënskynlik nie gesteur het aan die jongste modes en giere nie. Hy het ’n half-oopgeknoopte hemp gedra wat gelyk het of hy dit uit sy oupa se kas gesteel het, met ’n kortbroek en espadrilles met palmboompatroontjies daarop. Vir Pamina het hy hier, in die hartjie van Kaapstad, gelyk soos iemand wat ’n sorgelose bestaan op ’n tropiese eiland voer, iemand wat sy graag wou ken. ’n Jaar later het hulle begin date, later saam hier ingetrek.

Haar gedagtes word onderbreek toe sy sien hoe Etienne meteens met sy groot lyf na links op die rusbank oorhel en sy regterboud effens lig. Toe poep hy. So hard dat dit selfs bo die geraas van die TV-speletjie hoorbaar is.

En net daar sien sy vir die eerste keer haar lewe soos dit werklik is: Dis nie net haar werk wat haar ongelukkig gemaak het nie, dis ook haar verhouding. Vir ’n ruk was Etienne se gypsy-agtige sorgeloosheid eksoties, interessant, anders – maar die waarheid is dat hy ’n lui, onambisieuse freeloader is wat in die middel van die dag sit en TV games speel, dagga rook en poep op die bank, en sý maak dit vir hom moontlik.

En dan besef sy dat sy haar tog in een moerse groot cliché bevind: meisie in haar laat twintigs wat vasgevang is in ’n dead-end job en dead-end relationship, met jeugdrome wat soos uitgedorde skedels agter haar langs die pad lê. The road to nowhere. En sy voel, om meer as een rede, asof sy versmoor.

Sonder om verder te dink, en met Etienne steeds onbewus van haar teenwoordigheid, draai sy om, gaan na die slaapkamer en haal haar groot, stofbedekte rooi reistas bo uit die kas. En met trane wat oor haar wange rol, begin sy haastig haar klere pak.


“Gaan kry jou kop skoon,” sê AJ vir Wolf. “En skryf daai donderse acoustic album nou once and for all klaar. Weg van hier af. Dalk iewers op ’n kusdorpie. Waar jy die see kan hoor en ruik en niemand jou sal pla nie. Ook nie die Huisgenoot nie.” Hy bly ’n rukkie stil voor hy byvoeg: “En gaan werk vir Daniella uit jou system.”

Haar naam is soos ’n vuishou in Wolf se maag. Daniella, fokken Daniella. Dit gaan meer as ’n paar weke op ’n kusdorp en die klank van klotsende branders neem om haar uit sy geheue te spoel.

AJ se oë bly stip, byna pleitend op hom gerig.

Met ’n harde sug sit Wolf die koffiebeker op die tafel voor hom neer. Hy tel die iPad op wat langs hom op die bank lê en druk op die Google Maps app. Hy zoem uit die kaart van Kaapstad en navigeer met sy vinger op, al met die Weskus langs.

“Kom ons kyk dan maar,” sê hy met ’n aspris onentoesiastiese stemtoon. “Kusdorp … kusdorp … die kleinste een wat daar is …”

AJ kom sit op die armleuning. Dan druk hy met sy wysvinger op die skerm. “Daar. Zoem in. Dit lyk soos ’n klein dorpie by daai inham.” Hy leun oor en lees die minuskule teks moeisaam: “Wit-wa-ter-baai.”


Pamina is besig om die laaste van haar klere en grimering in die rooi reistas te gooi, toe sy Etienne se stem agter haar hoor: “Wat maak jy hier? En wat doen jy?”

Sy wip van die skrik, maar durf nie na hom kyk nie, bang dat haar moed haar sal begewe. “Ek het my werk verloor,” is al wat sy bereid is om te sê.

“Shit. Wat gaan jy nou maak?”

Sy wonder of die vraag uit bekommernis oor haar is, of omdat Etienne besef dat sy nou nie meer tot die huur sal kan bydra nie.

“Ek gaan weg.”

“Weg? Waantoe? Vir ’n ander werk?”

Pamina rits die tas toe, lig dit van die bed af en maak dit staan, trek die sleephandvatsel uit en kyk vir die eerste keer na hom waar hy met gevoude arms in die deurkosyn staan. Hy’t nou net gehoor sy’t haar werk verloor, maar hy kom gee haar nie eens ’n drukkie nie. “Nee, Etienne. Ek is jammer, maar ek gaan weg-weg.”

Hy frons. “Maar hoekom?”

Pamina sleep die tas tot by hom. Sy kyk op in sy mooi, verwarde blou oë en haar stem breek. “Etienne, kan jy nie sien nie? Ons is fokken stuck.”


Terwyl Pamina met betraande oë haar kar se kattebak voor die woonstelkompleks oopsluit, kom haar eksentrieke Griekse kunstenaarsbuurvrou, soos gewoonlik met blomme in die waai van haar arm, in die straat op gestap. Eleni kom staan by Pamina waar sy haar groot reistas en ’n paar bultende swartsakke inlaai – al die besittings wat sy tussendeur die uitgerekte stryery met Etienne ingestop kon kry.

“Wat makeer?” vra Eleni, met die opregte besorgdheid wat Pamina al ken van die kere wanneer sy by die ouer vrou gaan tee drink en raad vra het. Op sulke loom middae in Eleni se sonnige woonstel vol keramiekwerk en plante, het sy Pamina Marie-beskuitjies gevoer en raad gegee wat geskoei is op ’n mengsel van Oosterse geloof, astrologie en common sense. Altyd met effense kru taal in die mix.

Pamina wil haar alles vertel, maar al wat sy tussen snot en trane kan uitkry, is: “Als is fucked.” Tog is dit nie nodig om meer as dit vir die intuïtiewe Eleni te sê nie.

Sy laat haar hand op Pamina se skouer rus en sê: “Hier rondom jou nege-en-twintigste jaar herbelyn die planete op dieselfde baan as wat dit was in die jaar van jou geboorte. Skielik loop jy jou trompop vas in jouself. Dis ’n keerpunt, ’n maak-of-breek-tyd om ook jouself op jou lewensbaan te herbelyn, maar eers word jy van die spoor afgegooi en voel als vir ’n rukkie soos ’n totale fokop.”

Dit is haar manier, besef Pamina, om te sê dat alles oukei gaan wees. Maar op die oomblik voel dit nie so nie. Planete ofte not, haar wêreld is behoorlik geskud.

“Kan ek vir jou ’n koppie tee maak?”

Sy kyk vinnig oor haar skouer. “Dankie, maar ek moet ry voor ek van plan verander.”

“A,” sê Eleni begrypend. “Etienne?”

Pamina knik. “Dis verby tussen ons.” Om dit hardop te sê maak dit baie meer finaal.

Eleni gee haar ’n drukkie. “Jy weet waar om my te kry as jy wil gesels.”

Met haar buurvrou wat besorgd toekyk, klap Pamina die Opel se kattebak toe en stap om na die bestuurderskant. Toe sy inklim, vasgordel en die ruit afdraai, buk Eleni af. “Onthou, Pamina,” sê sy, “niks sal ooit verander voordat jy eerlik is met jouself nie.”

Soos sy met die wegry vir die Griekse vrou waai, sluk sy met moeite verby die knop in haar keel. Sy kyk vlugtig na die delicious monster op die passasiersitplek. Die blare wat al geel vlekke begin kry, lyk soos tie-dye. “Well, I guess it’s just me and you,” sê sy wrang. Dan draai sy af in Kloofnek, verder die onsekerheid in.

Die verkeer van Tamboerskloof na die stadskern is nou meer druk. Tipies Kaapstad wat vroeg begin afskakel: Mense is al besig om van die werk af huis toe te gaan, gym toe te gaan, selfs al uit te gaan. Pamina het nie ’n cooking clue waarheen sý moet gaan nie. Sy ry doelloos rond, straatop en straataf. Daar’s nie ’n kans dat sy na een van haar pelle toe kan gaan nie, almal het mans en babas en goeie beroepe en huise en sy sal na ’n total failure voel. Want dis wat sy is: ’n fokken failure.

Sy ry vir die tweede keer op in Kloofstraat, verby die Checkers, draai in by Upper Union en gaan hou onder ’n boom stil. Vir ’n lang ruk sit sy net in haar kar, maar die Opel bak soos ’n oond in die Kaapse hitte en sy besluit om uit te klim vir vars lug en ’n entjie te gaan stap sodat sy kan dink oor haar volgende move.

Sy kry steeds warm en is dors en besef dat sy die hele dag nog niks geëet het nie. Dan stap sy byna vas in ’n swartbord-esel op die sypaadjie en lees: Buy 1 Fokof Lager get 1 free! Sy kyk op en sien die Van Hunks-restaurant en -kroeg soos ’n oase voor haar verrys.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak

Подняться наверх