Читать книгу Die tragiese saak van Pamina Vermaak - Annie Klopper - Страница 6

2

Оглавление

_ _ _ _ _ _ _

“Vinger alleen”

“Hoe oud lyk sy vir jou?”

Pamina hoor stemme. En die gekrys van seemeeue. Sy lê op haar maag met haar kop skuins op ’n kussing. Haar hare wat oor haar gesig lê, ruik na sigaretrook. Dit, en die suur nasmaak van alkohol in haar kurkdroë mond, maak haar naarder as wat sy reeds voel.

“Dertig?” ’n Onentoesiastiese meisiestem.

“Nee, man, ek skat so twenty-five. Jy kan ’n vyfrand van daai gat af bons.” ’n Manstem.

Haar oë voel te droog om oop te maak. Droom ek? wonder sy. Sy kry die aardige gevoel dat hulle besig is om háár te bespreek.

“Dit lyk asof sy lekker knoppe kan hê.” Nog ’n manstem.

Sonder om behoorlik te dink, swaai sy om, sit regop. Knipper haar oë teen die vroegoggendlig wat by ’n groot oop skuifdeur langs haar instraal.

“Ek was reg, kyk daai knoppe!” kom dit van ’n swartkop-ou wat met ’n botteltjie bier in die hand op die balkon buite die skuifdeur staan. Sigaret in die ander hand. Langs hom is ’n rooikopman en ’n beeldskone slanke meisie met lang, gladde donker hare en ’n baie kort rokkie wat teug aan ’n sigaret. Sy lyk asof sy ’n model moet wees, maar sy het hopeloos te veel grimering aan.

Agter die mense op die balkon breek die daglig oor die blou see waar branders teen rotse klots. Oral op die lang balkon staan en lê leë bierbottels.

Waar de hel is sy?

Dan eers besef sy: Sy is kaal.

“Fok!” skree sy, en gryp die laken wat in ’n bondel langs haar lê, hou dit voor haar bors vas.

“So jy en Freddie het gisteraand fun gehad?” Dis die swartkop-ou wat praat, hy dra ’n denim-onderbaadjie vol silwer studs en lyk asof hy die rol van ’n rebel in ’n 1950’s-fliek moet speel. Hy lyk half bekend en sy verbeel haar sy het hom gisteraand ontmoet saam met … Freddie … Freddie … Die naam val soos ’n pennie met ’n té harde klingel in haar kop wat nog dik is van tequila.

Frederick den Hartog. Die kitaarspeler van Die Heuwels Fantasties.

Fok!

“Waar … waar is Fred?” Pamina klem die laken stywer voor haar bors, trek dit op tot onder haar kieliebakke.

“Ou Freddo is al vroeg vanoggend lughawe toe. Speel vanaand ’n show in Jozi,” kom dit van die rooikopman wat vir haar ál meer bekend begin lyk. Sy onthou nou hoe hulle laas nag hier op die balkon in die donker gesit en gesels en bier drink het …

Sonder om iets te sê, begin Pamina om haar klere bymekaar te skraap, ruk haar rokkie oor haar kop en soek naarstig na haar panty, terwyl die mense op die balkon haar steeds bekyk soos ’n aap in ’n dieretuinhok. As sy net haar donderse panty kan opspoor … “Hoor ’ie, jy hoef nie nou te gaan nie, man! Kan ek vir jou nog ’n bier kry?” vra die swartkop-ou. “Fred worry nie as ons hier die jol aan die gang hou terwyl hy weg is nie.” Sy onthou nou die ou se naam is iets soos Phoenix … nee, Arizona … nee, hel, wie se naam is Arizona? Dan onthou sy: Vegas. Hy’t hom gisteraand aan haar voorgestel as Vegas.

En weer wonder sy: Waar de hél is sy? Fred se plek? Maar waar is dít nogal?

“Dis oukei, thanks,” sê sy vir Vegas en gryp haar handsak wat in die hoek van die kamer lê. Die panty moet sy maar los. “Ek dink ek moet liewer gaan.”

Pamina stap uit die kamer en in die gang af. Uit die badkamer kom ’n ou gestap wat slegs vaagweg bekend lyk, maar hy groet haar: “Howzit, Pamina.”

Wat op aarde het als gisteraand hier gebeur? Sy gaan in die badkamer in en trek vinnig die deur agter haar toe. Eers vat sy ’n paar slukke water uit die kraan en sien dan hoe sleg sy lyk toe sy opkyk en haar weerkaatsing in die spieël bo die wasbak aanskou. Sy is nie juis verbaas nie, sy lyk so kak soos wat sy voel. Haar grimering is gesmeer en daar is slaaplyne op haar gesig. Sy maak die badkamerkassie oop en is verlig om ’n bottel Listerine daarin te sien. Terwyl sy ’n teug daarvan heen en weer in haar mond spoel, piepie sy, dan spoeg sy die mondspoel in die wasbak uit en betree weer die gang om die res van haar walk of shame so gou moontlik afgehandel te kry.

Op die L-vormige sitkamerbank in die leefarea sit-lê nog ’n modelmooi meisie in slegs ’n T-hemp en panty verveeld voor die TV, besig om met ’n afstandbeheerder deur programme op Netflix te soek. By haar voete aan die ander kant van die bank lê ’n getatoeëerde meisie in ’n goue sequin-rokkie en slaap – haar boud steek uit en dit laat Pamina effens beter voel oor die feit dat almal op die balkon háár boude gesien het.

Sy bereik die voordeur, draf af met ’n paar stelle trappe en stap deur die gebou se indrukwekkende marmervloer-ingangsportaal uit in die straat, deins terug vir die skerp sonlig. Dis nog skaars daglig, maar dis al vrek warm. Sy moet haarself eers oriënteer, haar oë soek vir bakens sodat sy kan aflei waar in die stad sy min of meer is. Rondom haar, tussen bougainvilleabosse en palmbome, is indrukwekkende huise en Art Deco-woonstelkomplekse. Luukse karre spoed verby. Dan lees sy bo die deur van ’n kompleks: Bantry Bay Pharmacy. Fok! Sy’s in Bantry Bay. Dis tussen Fresnaye en Clifton. Haar kar staan geparkeer al die pad in Gardens, oorkant Van Hunks. Meteens onthou sy gisteraand se dronk Uber-rit saam met Fred hierheen.

En hulle ontmoeting in Van Hunks.

Hoe sy ná die tweede Fokof Lager alleen by die toonbank in die rokerige kroeg gesit het en skielik langs haar gehoor het: “Hey buddy, ek het hierdie ekstra tequila, wil jy dit nie drink nie, want jy lyk fokken sad.”

Sy het die shot by hom gevat en dit was die begin van die einde.

Sy grawe in haar handsak vir haar selfoon en probeer dit tevergeefs aanskakel sodat sy ’n Uber kan bestel. Die battery was gister vroegaand al pap, dít onthou sy nou, want dit het haar gekeer toe sy iewers aan die begin van die gefuif eenkant toe gestaan het – in ’n toilethokkie – en vir Etienne wou bel. Dankie tog sy het nie.

’n Tydskrifmooi paartjie met ’n hond kom aangedraf – hulle lyk so vars soos mense in ’n Nike-advertensie. Sy sien die oordeel in hulle oë; Pamina weet die swart rokkie wat sy al van gisteroggend af aanhet, is gekreukel, haar grimering is gesmeer en haar hare is deurmekaar, en sy loop skreefoë teen die skerp lig. Instinktief gryp sy die pante van haar rokkie, bang dat dit gaan opwaai en wys sy het nie ’n panty aan nie.

Toe die drawwers langs haar verbykom, hoor sy die meisie: “Is dit nie daai girl van die video nie?”

Ja, dink Pamina terwyl sy afdraand in Seepunt se rigting stap. Ek lyk seker soos die een of ander skank in ’n Snotkop-musiekvideo. Fok julle met julle perfekte lewens en mooi hond en judgemental vars gesigte. You have no idea.

Soos sy verder stap, kyk sy tevergeefs tussen die fancy woonstelblokke rond vir ’n buitekraan waar sy nog water kan drink.

Het sy en Fred gisteraand seks gehad? Nee, sy is seker hulle het net ’n bietjie rof gevry. Of het hulle tóg …? Sy was nog nooit een vir one-night stands nie en die feit dat sy enigsins moet wonder wat presies gebeur het, laat haar ontsettend kak voel. Nee, sy sou dit nie so maklik opgee nie, oortuig sy haarself dan weer, dit was net ’n vry.

In Seepunt se hoofstraat sien sy ’n minibus-taxi voor die Spar. “Cape Town!” skree die taxi-joggie. En dan weer: “Cape Town!”

Met een hand wat haar rokkie plathou en die ander swaaiend in die lug, draf sy na hom toe.

Twee taxi’s later en met ’n migraine van die polsende gqom-liedjies – die taxi-joggie het haar begeesterd meegedeel dis Distruction Boyz – bereik sy Kloofstraat en ontsnap strompelend die taxi se subwoofer en bedompige hitte by die busstop voor die Checkers. Skuins voor haar is die beeld van Van Hunks wat ewe onskuldig in die oggendson as ’n nare herinnering aan gisteraand op die hoek van Kloof en Upper Union uittroon.

Sy verstel haar handsakband en met moeite stap sy die stukkie opdraande in Upper Union uit, toe sy glasstukke op die teer sien blink. Die laaste ent tot by haar kar draf sy.

Gebreekte agterruit. In ongeloof laat gly sy haar handsak van haar skouer af. Wydsbeen, kaalkoek, met wankelende knieë lig sy haar gebalde vuiste na bo en skree ten hemele: “Fo-o-o-o-o-k!”

Voëls vlieg uit die akkerboom waaronder haar kar geparkeer staan. ’n Car guard ontwaak waar hy oorkant die pad arms gevou teen ’n hek sit en slaap het en kyk verward na haar. Met haar skouers gelig en palms na bo vra sy: “What the fuck, dude?”

Hy antwoord nie, sluit net weer sy oë.

Alles is gesteel. Alles. Die speakers wat bo die kattebak gemonteer was, haar tas en sakke met al haar klere in, haar radio/CD-speler, selfs die voetmatjies voor die sitplekke. Net die delicious monster is nog daar. Vasgegordel op die passasiersitplek soos ’n soet dog teleurgestelde kind wat die hele traumatiese nag gesit en wag het vir sy losbol-ma om terug te keer.


Eers toe die blou Opel op die snelweg afdraai, met die oggendlug wat raserig by die gebreekte agterruit inwaai, besef Pamina sy het geen idee waarheen sy op pad is nie.

Sy ry verby die afdraaie na Woodstock en Milnerton, verby Paardeneiland en Ysterplaat aan haar linkerkant. Haar gedagtes dwaal na moontlike plekke waarheen sy kan gaan, en sy hou in die N1 se stadige baan sodat sy meer tyd het om te besluit. Vriende? Sy voel te skaam om in die middel van die week op hulle nommers te druk en dan nog boonop die humiliating, droewige verhaal te moet vertel. Sy wil nie nou enigiets hoef te verduidelik of analiseer nie. En sy wil wegkom uit die stad. Boonop, besef sy nou, het sy inderwaarheid nie regtig goeie vriende by wie sy net kan inval nie, net ’n magdom kennisse. In dié stad ken almal mekaar, maar die meeste mense bly so donders oppervlakkig.

’n Goedkoop hotel dan? Nee, dit sal net haar beperkte fondse opvreet en sy het nie meer ’n inkomste om op staat te maak nie.

Etienne? Moet sy teruggaan na Etienne toe? Sy kan vir hom sê sy was gister net ontsteld, sy’t ’n fout gemaak …

Nee. Om met hom op te breek was long overdue, maak nie saak hoe seer dit nog maak nie. Om nou terug te gaan, sal regressie wees. Sy’t te ver gekom om terug te draai.

Teen die tyd dat sy die afdraai bereik wat na die N7 toe lei, besef sy dat sy geen ander keuse het as om huis toe te gaan nie. Na haar ma-hulle op Witwaterbaai. ’n Plek wat sy al vir elf jaar soos die pes vermy. Met oë geskreef teen die son – ook haar sonbril is uit die paneelkassie gesteel – neem sy die afdraai teësinnig.

Toe sy later die Weskuspad bereik, is die verkeer relatief stil, maar Pamina se kop is bedrywig soos sy die roete na haar grootworddorp toe volg: Sy is angsbevange dat sy aangekla gaan word van crimen injuria ná gister se spektakel op kantoor; sy is hartseer en kwaad oor haar besittings wat gesteel is; en sy kan haarself skop oor sy gisteraand ’n kar vol goed in die stad gelos het. Maar dis nie al waaroor sy haarself wil skop nie!

Sy ril elke keer as sy aan die encounter met Fred dink – wat het haar besiel? Hy’s nie onaansienlik nie, en van wat sy kan onthou, het hy nogal lekker gevry, maar dis nie in haar aard om sommerso met iemand huis toe te gaan nie. Net soos dit nie in haar aard is om haar baas se onderdele te vloek nie. Of is dit? Verkeer sy onder ’n wanindruk wat haarself betref? Is sy eintlik net nog altyd dieselfde loose cannon wat sy daai aand van die matriekafskeid was? Aan daardie aand wil sy nie eens begín dink nie. Hopelik het die meeste mense op Witwaterbaai al daarvan vergeet, maar sy twyfel sterk. Hulle like mos van stories aandik en aan-pass, dis een van weinig tydverdrywe op daai klein dorp.

En dan dwaal haar gedagtes terug na Etienne.

Pamina het alles in haar vermoë probeer om hulle sekslewe op te kikker, maar later eenvoudig tou opgegooi. As sy eerlik met haarself sou wees, sou sy moes erken dat dit van die eerste keer dat hulle saam geslaap het nooit behoorlik wou vlot nie. Dit was sowat ’n maand nadat hulle mekaar begin sien het, en die eerste keer dat sy haar fisiek en emosioneel blootgestel het sedert haar hoërskoolliefde, Dirk. Haar eerste liefde. Haar eerste seerkry.

Dirk het haar so opgefok dat sy vir byna ’n dekade nooit weer ’n vaste verhouding kon hê nie. Sy vermoed ouens het begin dink sy is ’n cock-tease. Sy het gehou van die aandag wat sy van mans gekry het in haar vroeë twintigs. Op ’n manier het dit die leemte ná Dirk gevul. Maar sy kon haarself nooit kry om verder met hulle te gaan as vry en vinger nie. Eenkeer het ’n anonieme inbeller “Vinger alleen” deur Die Heuwels Fantasties op Stellenbosch se kampusradiostasie versoek en aan haar opgedra – ’n song wat nou seker ekstra gepas is ná gisteraand se storie.

En toe ontmoet sy vir Etienne. Fokken Etienne. Kon hy nie maar sy shit together gekry het nie? Dalk is hy net ’n Peter Pan-geval – ’n seuntjie wat nie wil grootword nie.

’n Paar kilo’s anderkant Lambertsbaai kyk Pamina na die petrolmeter op die dashboard agter die stuurwiel. Dis vreemd, sy kan sweer die naald is nog op presies dieselfde plek as toe sy laas gekyk het, net voor sy Lambertsbaai bereik het. Sy loer skuinslangs na die gat waar die radio/ CD-speler eens was en daar nou slegs geknipte drade soos kleurvolle spaghetti uitpeul. Kan dit wees dat die knip van die drade die dashboard se elektronika opgefok het?

Ná ’n tydjie kyk sy weer na die petrolnaald en koue sweet slaan op haar warm lyf uit. Die ding beweeg nie. Dalk is dit al op empty en ry sy nog heelpad met die gedagte dat die tenk so te sê vol is! En daar is geen vulstasies op hierdie pad nie. Die reserwetenk van hierdie ou kar is darem redelik groot en sy hoop dat dit haar om vadersnaam asseblief tog net tot op Witwaterbaai sal bring. Die kans is seker skraal dat dit sal gebeur, maar sy wil byna glo dat sy geregtig is op net een ou fokken wonderwerkie ná als wat die afgelope vier-en-twintig uur gebeur het. Of is wonderwerke ’n mens nie beskore as die kak wat jou kant toe kom jou eie skuld was nie?

Toe sy Witwaterbaai al in die verte kan sien, begin sy al hoe meer angstig word. Nie net oor die feit dat haar kar nou reeds waarskynlik slegs op petroldampe ry nie, maar oor die gedagte aan by die huis aankom. Die gedagte aan haar ma-hulle, en veral aan Aidan. En aan die herinneringe aan Dirk wat nog om die dorp hang …

Meteens gee die kar ’n effense rukkie wat yskoue naaldeprikke van skrik deur Pamina se lyf stuur.

Dan nog een.

En dan is dit asof die enjin iets probeer sê, maar hakkel. En Pamina besef sy sal nou van die pad moet aftrek.


Vir ’n lang ruk sit Pamina net in haar kar en staar voor haar uit. Sy is papnat gesweet en haar kop klop nog van die babelas. Sy krap in haar handsak en vind ’n selfoonlaaier, maar die fokker wat by haar kar ingebreek het, het die adaptor vir die laaier uit die sigaretaansteker in die dashboard gesteel. Al wat hy vir haar gelos het, buiten die hartseer potplant, is ’n leë McDonald’s-papiersak wat al drie dae op die agtersitplek lê. Pamina strek terug, tel die sak op en maak dit oop. Binne-in is ’n opgefrommelde geel bolletjie waspapier waarin ’n cheeseburger was, ’n paar papierservette en ’n aartappelskyfie-sakkie met nog twee verlate, olierige chips in. Sy sit die een chip in haar mond, maar spoeg die bitter ding dadelik uit. Sif. Hier sal sy van die honger en dors sit en doodgaan.

Sy haal die opgevoude servette uit die sak uit en vee oor haar klam voorkop en onder haar arms daarmee droog, smyt dit terug in die sakkie en frommel die hele besigheid gefrustreerd op voor sy dit teruggooi op die agtersitplek. Sy sal maar moet stap. Die son gaan haar spierwit kantoorvelletjie skroei, maar hopelik sal sy langs die pad ’n stuk kartondoos of iets optel waarmee sy die strale sal kan afweer. Fokkit. Hoe de fok het sy tot hier gekom?

Net toe sy die kardeur wil oopmaak, sien sy in haar truspieëltjie ’n wit bakkie op die horison aangery kom. Moet sy uitklim en waai? Sê nou dis ’n sexual predator! Sy is totaal en al uitgelewer – hier is geen teken van ander mense nie.

Die bakkie ry stadiger, ry verby haar en trek voor haar kar van die pad af, in ’n stofwalm en met wiele wat girts op die fyn klippers. Teen die agterkant is die naam Soetfontein in goue letters. Soetfontein. Die Louws se plaas. Daar kon netsowel Dirk agterop die bakkie gestaan het, so groot laat die naam haar skrik. Maar dit kan tog nie Dirk wees nie, Dirk is lankal hier weg. Dit moet sy pa wees, of ’n voorman. Net nie Dirk nie. Asseblief tog net nie hy nie.

Maar toe ’n gespierde, bruingebrande voorarm die deur aan die bestuurderskant oopmaak, spoel die besef soos ’n yskoue brander oor haar: Dit ís Dirk. Dirk fokken Louw.

Are you fucking kidding me? dink Pamina terwyl hy uitklim. In sy linkerarm hou hy ’n baba-skaaphondjie vas wat piepklein lyk teen sy breë skouers en lang lyf. ’n Grys T-hemp span om sy bolyf, sy jeans sit beter aan sy lenige bobene as ooit en ’n dag oue stoppelbaard maak ’n skadu op sy hoekige kakebeen. Sy ligbruin hare is langer as wat sy onthou en wip sorgeloos oor sy voorkop soos hy aangestap kom. Daar’s geen meer teken van seunskindgeit nie, besef Pamina terwyl haar hart in haar keel kom sit. Van alle mense moet die een wat haar hier uitgedryf het die eerste een wees wat sy sien toe sy terugkom. Hoe dan nou anders? Dis nie asof haar dag enigsins kakker kan word nie.

Dirk stap sy nonchalante Camel-man-stap na die Opel toe, terwyl hy die hondjie in die waai van sy arm se kop krap. Hy lyk vir haar soos ’n celebrity op ’n kalenderfoto of ’n ou Huisgenoot-middelblad. Vir wat moet hy nog boonop ’n oulike hondjie by hom hê!

Hy kom staan langs haar oop ruit en ’n stoute trek gaan rus skeef in sy mondhoek. Sy weet hy herken haar.

“Is als oukei hier?”

Die simpel vraag pis haar summier af en als waaroor sy al die afgelope elf jaar broei, borrel in haar op. Is dit al wat hy kan sê? Sy stoot die deur so haastig oop dat hy opsy moet spring. Binne ’n oomblik is sy buite die kar en haar gesig amper teenaan syne. “Lyk dit oukei? Dink jy ek sit hier en vergaan in die son omdat dit vir my lekker is?”

Sy skewe glimlag wyk nie en dit lyk byna of hy haar boosaardigheid amusant vind. Daardie fokken ongeërgde, sexy glimlag.

Nou voel sy sleg dat sy so afgegaan het. Sy staan ’n entjie terug. “Middag, Dirk.”

“Pamina Vermaak. Ek het gewonder of ek jou ooit weer hier gaan sien.”

“O, is dit? Ek dog jy sit in Johannesburg?” Shit, sy wou nie weggee dat sy hom al op Facebook gestalk het nie.

Dit lyk nie of hy verbaas is dat sy van sy doen en late weet nie. “Ek kyk vir ’n rukkie na die plaas en na dié outjie,” hy kyk deernisvol na die soetgesig-hondjie, “terwyl my ouers in Europa rondtoer. En jy?”

“Ek het … kom kuier.” Sy klink nie eens vir haarself oortuigend nie.

“Jy bedoel seker jy wóú kom kuier.” Hy knik na die morsdooie kar. Steeds daardie bleddie glimlag op sy beeldskone gesig.

“My kar se petrolmeter is temperamenteel.”

Hy loer skuinsweg na die dashboard. “Kom,” sê hy dan vriendelik-bevelend en stap na sy bakkie, waar hy ’n sleeptou van agter die voorste sitplek te voorskyn bring. “Klim solank voor in, waar dit nog lekker koel is van die aircon.” En sonder om haar tyd te gee om teen te stribbel, begin hy die Opel met die tou agter aan die groot bakkie se sleepstang vasmaak.


Pamina staan in die leefvertrek van die Louws se groot plaashuis. Imposante Franse deure maak oop na ’n agterstoep wat uitkyk oor die groen wingerdlande. Toe hulle hier aankom en Dirk haar kar na die skuur toe sleep, het sy haar dadelik verskoon om na die gastebadkamer toe te gaan, waar sy haarself vinnig en na die beste van haar beperkte vermoë probeer opknap het. Met ’n natgemaakte vinger het sy die donker grimeringkringe onder haar oë afgevee en toe met haar hande haar hare probeer reguit kam. Sy het toiletpapier natgemaak en oor haar sweterige armholtes gevee, gesoek na deodorant en, toe sy niks kry nie, ’n droë koekie pienk seep in die plek daarvan gebruik.

Nou staan sy en staar na die boonste dam se kant toe en onthou hoe hulle as tieners oor naweke daar in die koel water geswem het. Sy onthou hoe Dirk se plat, gespierde maag teen haar lyf gevoel het toe hy haar die eerste keer in die dam nader getrek en gesoen het. Hoe hy hard geword het teen haar onderlyf. Hoe sy hand afgegly het tot tussen haar bene en sy vinger soekend by die naat van haar bikinibroekie ingegly het.

“Waaraan staan en dink jy so diep?”

Sy stem ruk haar terug na die hede. Hoe het hy so saggies ingekom? Sy kan voel hoe gloei haar wange toe sy haar kop kant toe draai om na hom te kyk. “Ag, sommer aan … toe ons tieners was.”

“Ek dink baie keer daaraan.” Hy staan nader aan haar en sy ruik die bekende speserygeur van sy lyf.

Die volgende oomblik voel sy sy lyf styf teen haar rug. Sy hande gly stadig van haar skouers af na haar elmboë. Sy kry hoendervleis en haar lyf se reaksie op sy aanraking maak haar summier die moer in. Sy wil baklei. Mét hom en téén die effek wat hy op haar het.

“Kyk, Dirk,” sy draai om en sorg dat daar ’n spasie tussen hulle lywe kom, “ek waardeer dit dat jy my uit my penarie gehelp het. Maar ek moet nou gaan.” Sy hou haar stemtoon so saaklik moontlik, al bokspring haar hart.

Dirk glimlag weer skeef en ’n kuiltjie verskyn in die stoppelbaard op sy wang. “Penarie. Jy het nog altyd so mooi Afrikaans gepraat, dis omdat jou kop altyd in ’n boek was. Either in ’n boek of in die wolke.”

Sy dink: Of vasgevang in die bollings muisneste wat jý destyds veroorsaak het. En sy weet sy moet wegkom uit sy teenwoordigheid, want sy vertrou haarself nie by hierdie beeld van ’n man nie. Dis ook omdat hy seker nog nooit self ’n boek gelees het nie dat hy dink “penarie” is ’n groot woord. “Is die kar nou reg?”

“Jip. Het net petrol gekort. Dit staan by die agterdeur. Kom, ek stap saam.”

Ja, dis gepas vir haar ou skedonk om by die agterdeur te staan. Nie by die voordeur van dié paleisagtige plaashuis nie. As sy met haarself eerlik moet wees, het sy nooit regtig gemaklik gevoel hier nie.

Toe Pamina dankbaar inklim, sit Dirk sy hand bo-op die kardeur om te keer dat sy dit dadelik toeklap. “Wat het met jou agterste venster gebeur?”

Pamina ruk die veiligheidsgordel met mening oor haar lyf en gord dit vas, en soos sy die sleutel in die aansitter draai, sê sy: “O, die ruit? Hy’t gedink hy kan staatmaak op iemand, maar toe daag dié nie op nie. Jy weet, sulke goed kan jou nogal breek.”

Dit lyk of Dirk vir ’n verandering nie woorde het nie en ’n frons plooi op sy voorkop. Dan maak hy die deur vir haar toe. “Mooi ry, Pamina Vermaak,” hoor sy hom sê, en hy gee die kar se dak ’n ligte afskeidsklappie.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak

Подняться наверх