Читать книгу In ruil vir my hart - Annie Mouton - Страница 3

1

Оглавление

Met haar bene reguit en haar hakke op die mat, sit Sonja op die armleuning van die leerrusbank. Sy proe-proe aan haar koffie sonder om die beker voor haar gesig te laat sak. Al weet sy dat die mense daar buite nie deur die getinte ruite van hul woonkamer kan sien nie, voel sy tog meer verskans agter die beker se rand.

Die sekuriteitswagte het die spul mense darem nou uit die tuin en het hulle laat saambondel buite die skuifhekke by hul voertuie wat die hele straat en oprit vol staan. Van die tuin op die sypaadjie sal seker nie veel oorbly nie. Hier en daar is een wat tog maar foto’s van die drieverdiepinghuis neem, en sy sien ook dat die televisiekamera, skuins oor die aanbieder se skouer gedrapeer, op die huis gemik is en dat die aanbieder in haar mikrofoon praat.

Sonja leun agteroor en kry die afstandbeheer om die televisie aan te skakel.

“… voor die huis waar Werner Britz saam met sy dogter, Sonja, gewoon het ten tye van die skietvoorval. Sy was nie saam met hom in die motor toe daar met AK47’s op Werner Britz, sy vennoot, Barend de Groen, en twee onbekende vroue losgebrand is nie. Al vier die insittendes is noodlottig gewond en het op pad na die hospitaal beswyk. Die identiteit van die twee dames kon nog nie bepaal word nie …”

“Jy kon dit ook maar net sowel gesê het!” snou Sonja die aanbieder op die TV-skerm toe. “Al die koerante het dit al uitgebasuin dat die twee moontlik betaalde gesellinne was. Niemand dink daaraan wat dit aan daardie vroue se familie doen nie. Of aan die reputasie van die slagoffers nie. Julle oorweeg nie eens die voor die hand liggende moontlikheid dat dit gewoon ’n sakeafspraak kon gewees het nie!”

Maar dan sou iemand hulle geken en na vore gekom het, begin daardie stemmetjie in haar binneste weer karring. Of die maatskappy waarvoor hulle gewerk het, of ’n sekretaresse êrens – iemand, enige iemand, sou geweet het van die afspraak.

Nou weet niemand wie die twee vroue was nie. Kon sy regtig so blind gewees het? Is dít die eintlike rede waarom haar pa nooit eens belang gestel het in ’n verhouding met enige vrou na haar ma se dood nie? Waarom Barend, haar pa se vriend en vennoot, van sy vrou geskei is? Waarom sy oornag verdwyn het en “terug is na haar ma toe”, soos Barend altyd smalend na Sanet en hul skielike egskeiding verwys het? Hy was mal oor sy herwonne vrygeselstatus, en het nie geskroom om dit uit te basuin aan almal wat dit wou hoor of nie wou hoor nie, veral as daar ’n aantreklike dame binne hoorafstand was.

Waarom het sy nou weer die televisie aangeskakel? Sy is sommer vies vir haarself. Dalk in die hoop om meer duidelikheid te kry? Maar soos elke keer wat sy tot dusver geluister het, word niks nuuts aangekondig nie.

Sonja het die hele storie al soveel maal gehoor dat sy nie meer regtig luister na die nuusberig nie. Haar gedagtes strompel deur die chaos wat eens, nie so lank gelede nie, haar bedrywige maar beskutte lewe was. Kan dit wees dat dit maar drie weke gelede was dat Pappa, soos hoeveel ander oggende, met sy tas by die voordeur uitgestap en na die kantore van Britzgroen in Meiringstraat gery het?

Genadiglik het die pers en die polisie eers ná die begrafnis begin met die vrae en aantygings. Daar was wel nuusberigte van die vier mense se dood, maar soos sy, het almal eers gedink dit was net nog ’n motorkaping wat sleg skeefgeloop het.

Tot kort na die begrafnis.

Toe is daar skielik soveel vrae rondom die twee mans se optrede, hul handelsvennote en al hul transaksies. Dit voel vir haar asof selfs die eenvoudigste vergadering met die bekendste sakemanne nou skielik bevraagteken word. Veral hul verbintenis met regeringsamptenare van Suid-Afrika en ook uit die buiteland word van alle kante onder die loep geneem.

Sonja kon sien dat die speurder wat haar ondervra het haar nie geglo het toe sy sê dat sy niks van haar pa se besigheid af weet nie. Dat sy nie die vaagste benul het waarmee hy besig is of met wie hy elke dag afsprake het nie.

“Hoe is dit moontlik dat u niks van u vader se doen en late weet nie? U was tog baie maal aan sy sy – ek het immers al self van die foto’s gesien wat by onthale geneem is.”

“Wanneer ek en my pa ’n funksie saam met ander sakemanne bygewoon het, was dit bloot sosiaal. Ek is nooit betrek by hul beplanning of onderhandelinge nie. Natuurlik het ek geweet wat sy verskillende ondernemings doen, maar presies wat by elkeen aan die gang was en wat sy daaglikse agenda was, weet ek nie. Waarom vra u nie dié vrae by sy kantoor nie? Sy sekretaresse en die ander personeel sal tog sekerlik weet wat aan die gang was?” het sy half ergerlik gevra. Die man se hele houding was besig om haar om te krap. Hy was nie net ongevoelig en onsimpatiek oor haar verlies nie, maar sommer blatant ongeskik en beskuldigend.

“O, ons sal. Sodra ons sy sekretaresse kan opspoor, sal ons,” het die ondersoekbeampte belowe. “Sy is glo met verlof – op reis êrens in Namibië waar geen selfoonontvangs is nie. Die res van die personeel sweer dat hulle net daar is om administratiewe werk te doen en dat hulle niks van hul base se doen en late weet nie.”

Hy het deur sy boekie geblaai, ’n doelbewuste, goed geoefende beweging wat hom seker na ’n groot speurder moes laat lyk het. “En nou wil ek met die res van die personeel in die huis ook praat, asseblief. Ek is seker hier is ’n hele paar hande wat hierdie yslike plek in stand hou?”

Dit was vir haar duidelik dat hy beslis nie in Suid-Afrika leer Engels praat het nie, omdat hy sy Amerikaanse Engels met soveel gemak gepraat het.

“Ja, hier is, maar ek het al die mense wat hier werk huis toe gestuur die dag ná die begrafnis. Ek sal vir u hul adresse gee.”

“Al die mense huis toe gestuur?” Die insinuasie in die vraag het haar bloed laat kook.

“Inspekteur, kan ek asseblief u bevelvoerder se naam en telefoonnommer kry?” Sy het ’n pen en papier na hom uitgehou. “Sy direkte lyn, nie die stasie se nommer nie, asseblief?”

“Om wat mee te maak?” wou hy weet en het agterdogtig na die stuk papier gekyk.

Sy het nie geantwoord nie en haar hand net so uitgestrek voor hom gehou, totdat hy die papier gegryp en die nommer neergeskryf het, met ’n onderlangse gebrom dat ryk mense altyd dink hulle moet anders behandel word as ander kriminele. Hy het skoon vergeet van die rol van die groot Hollywood-speurder wat hy besig was om te vertolk.

“… het die polisie aanvanklik gedink dat dit ’n kapingspoging was wat skeefgeloop het. Maar dit het intussen aan die lig gekom dat daar heel moontlik veel meer skuil agter die aanval op die twee bekende sakemanne en hul gesellinne. Niemand is nog in hegtenis geneem nie, en die polisie se ondersoek duur voort. Werner Britz se enigste oorlewende familielid, Sonja Britz, die model wat veral naam gemaak het met ’n sjampoe-advertensie, wou tot dusver niemand te woord …”

Met die druk van ’n knoppie maak sy die aanbieder stil. Sy hoef nie daarna te luister nie. Wat op die aarde wil hulle hê moet sy vir die pers sê? Sy het nie eens antwoorde vir haarself nie!

Hier sit sy soos ’n gevangene in haar ouerhuis. Sy kan haar kop nie by die deur uitsteek sonder dat die nuushonde haar bestorm en ’n mikrofoon in haar gesig druk nie. Haar telefoon het sy lankal reeds van die mikkie afgehaal. As sy net aan ’n manier kan dink om ongesiens hier uit te kom. Hulle kan maar voor die huis kampeer, sy gee nie om nie, solank sy net nie meer hier binne hoef te sit nie.

Daar móét ’n manier wees.

Daar sál ’n manier wees.

“Albert?” antwoord sy haar selfoon toe dit begin lui. Sy is dankbaar om te sien dat dit haar ou vriend is.

“Sonja, leef jy nog? Hel, lyk my mos die mense is besig om heeltemal gek te raak. Ek en Petro is op pad na jou toe, maar ons het verby gery en sit ’n bietjie hoër op in die straat en wag. Ons kan nie naby julle huis kom nie.”

“Julle moet kom, asseblief! Ek gaan gek word hier binne. Ek moet hier uitkom sonder dat iemand agterkom. Hulle moet eers oor ’n week weet hulle sit en pas ’n leë huis op. Wag ’n bietjie, ek het ’n plan! Luister, wil julle nie twee pruike, sommer die rooi pruike wat ons vir Aspoestertjie se stiefsusters gebruik het, by die teater gaan kry nie?” skiet ’n wilde idee haar skielik te binne.

“Ek verstaan nie?” Albert lag onseker.

“Julle moet julleself vermom as julle hierheen kom,” begin sy verduidelik.

“Oukei, maar ek verstaan nog nie mooi –”

“Kyk,” val Sonja hom in die rede, “as julle nou met pruike, sonbrille en jasse hier aankom, kan ek hier uitglip in dieselfde vermomming en hulle sal dink dis net weer julle wat vertrek. Ek ry dan saam met Petro, en jy kom later uit die huis en ry eenvoudig met my motor weg. Al my pa se werksmense is met verlof, so dit sal heeltemal moontlik wees om ons plan deur te voer. Ek sal vir die sekuriteitsmense by die hek laat weet julle is op pad, en dan kan julle tot in die motorhuis ry en binne uitklim as die deure eers toe is. Waarmee ry jy?” Die skielike vlaag van opgewondenheid en afwagting laat haar beter voel. Dis tog immers iets anders as die afgelope paar dae se getob.

“Met my motor, natuurlik.”

“Nee, nee, dit sal beter wees as jy met die teater se kombi kan kom. Vat die bussie, nee, wag, liewer die paneelwa … Hulle moenie by die vensters kan inkyk nie. Petro het altyd ’n sleutel van die teater se sydeur in haar handsak. Vat die nuutste paneelwa, die een waarop nog niks geskryf is nie. Sy sleutels is in die boonste laai van my lessenaar. Asseblief, Albert, ek móét hier uit. Ek sit nou al meer as ’n week soos ’n gevangene in my eie huis.”

“Oukei, gee ons so ’n halfuur kans sodat ons eers by die teater kan kom en alles kan kry.”

Asof die oproep Sonja ná ’n baie lang, diep slaap wakker gemaak het, werk haar verstand in die hoogste versnelling. Sy draf teen die trap op na haar slaapkamer en begin om haar klere in te pak. Beddegoed? Slaapsak? Sy sal nie in hotelle kan tuisgaan nie. Sy wonder of die slaapsakke nog bo in haar pa se kas is.

Sy steek ’n oomblik voor haar pa se klerekas vas, maak dit dan oop en ruik aan die klere. Die bekendheid van sy reuk laat die trane ongevraag oor haar wange loop. Sy druk haar gesig tussen sy baadjies in en staan vir ’n oomblik so.

“Totsiens, Pa,” sê sy na ’n rukkie en maak die kasdeur beslis toe. Doelgerig gaan sy voort met haar pakkery.

Eers toe sy tevrede is dat die vier tasse alles bevat wat sy kan nodig kry, gaan sy op met die trappe na die studeerkamer. Uit die kluis agter Vader Claerhout se donkies in die sonneblomme haal sy ’n paar stukkies juwele wat vir haar besondere betekenis het. Ook haar paspoort, haar identiteitsdokument en al die kontant. Sy is verbaas om te sien hoeveel pakkies note daar wel is, maar sy tel nie nou nie. Dit pas haar dat daar genoeg geld sal wees en dat sy nie nou naby ’n bank of kitsbank sal hoef te kom nie.

Toe sy haar kredietkaarte agter in die kluis sit, stamp haar hand teen nog iets agterin die diep kluis wat haar pa na haar ma se dood met soveel omsigtigheid in die muur laat inbou het.

Haastig trek sy die plastieksak vorentoe.

Sy maak die knoop van die gewone inkopiesak los en kyk binne-in die sak. Nog geld? Maar dis verskriklik baie?

Sy sal dit ook saamvat, maar sy sal dit later tel. Haastig draf sy terug kamer toe, druk die dik pakke note oral tussen die klere in en maak dan die tasse sorgvuldig toe.

Waarom sou daar soveel kontant in die kluis wees? En dit sommer in ’n gewone, taamlik gehawende Checkers-sak? Sy het nie nou tyd om verder daaroor te wonder nie, sy sal moet klaarmaak met haar inpakkery en ander reëlings.

Die belangrikste is om genoeg geld na haar persoonlike rekeninge oor te plaas voordat mense dit in hul koppe kry om al die bankrekeninge te vries, of wat hulle ook al in sulke gevalle doen.

Sy skakel haar pa se skootrekenaar aan en terwyl sy wag dat dit deur al die stappe gaan om haar banksake te kan doen, skakel sy Die Deli op haar selfoon.

“Dagsê, Stephan, Sonja hier. Ai, man, ek weet dis kort kennisgewing, maar kan jy asseblief vir my ’n piekniekmandjie vir ses mense pak?”

“Of course, my darling. Vir hoe laat môre wil jy dit hê?”

“Ek het dit nou dadelik nodig.”

“Son! Hoe kan jy so iets van my vra? Dis so ordinêr om goed uit die rak te vat! Ek is nie Woolworths nie.”

Sy laat haar stem ’n aks sak. “Stephan, jy moenie nou vrae vra nie. Vat net die klaar broodjies, en van daardie heerlike kouevleis van jou, kaas en sulke dinge uit jou rak. Vakuumverpak dit alles vir my in kleinerige pakkies, en laat lewer dit asseblief so gou moontlik hier by die huis af, saam met twee groot sakke ys.”

Net soos sy gedink het, fluister hy terug, dadelik aangesteek deur die melodramatiese.

“Sonja, ek sal my bes probeer. Ek het lekker vars vrugte. Wat van water? Waarheen gaan julle? Maar ek sal dit nie voor namiddag kan stuur nie. My bakkie is uit, en my kouevleis is nog nie alles hier nie en ek weet jy is mal oor my pastrami …”

“Stephan, die hele land se koerant- en televisiemense staan hier voor ons hek. As hulle nou sien hoe lewer Die Deli ’n mandjie hier af en dit kom vanaand op die nuus …”

“Say no more, darling! Ek pak nou dadelik daardie mandjie en ek sal dit sommer self kom aflewer. As ek net so ’n bietjie meer tyd gehad het … Jy weet jy’s my favourite, en ek wil jou so graag spoil met een van my specialities wat jy altyd so geniet en –”

“Dankie, Stephan. Ek sien uit na daardie mandjie!”

Sonja kan nie help om te lag vir die twee mense wat voor haar staan nie. Hul roomkleurige reënjasse se krae is teen hul nekke opgeslaan en die yslike sonbrille maak omtrent hul gesigte heel toe. Maar dis die stiefsusters van Aspoestertjie se byna wortelrooi, woes gekrulde mossienespruike wat vir haar die snaaksste is.

“Kyk hierso, ek is baie bly om te sien dat jy nog kan lag, maar ek voel so belaglik soos wat ek sekerlik lyk.” Albert begin van sy mondering ontslae raak. “Om op die verhoog so aangetrek te wees is niks, maar om so deur die strate te ry is glad nie snaaks nie.”

“Sonja, hierdie mense by die hek is soos besetenes. Wat hoop hulle om te bereik deur sulke optrede?” vra Petro en kyk deur die groot eenrigtingruite na die klomp daar buite wat nou eers weer tot bedaring kom. “Daardie een man het byna die kombi se syspieël afgeruk voor die sekuriteitsman die hek kon oopkry.”

“Ek is nie seker nie, maar dit gaan daaroor dat hulle dink my pa en Barend was betrokke by korrupsie, en dat die skietery polities was en niks met ordinêre roof te doen gehad het nie,” sug Sonja.

“Waar kom hulle aan sulke snert?” wil Albert weet. “Oom Werner het hom nog nooit aan die politiek gesteur nie.”

“Een van gister se koerante het ’n berig geplaas wat baie fyn bewoord was. Hulle sê nie werklik iets in die berig nie, maar bespiegel op so ’n manier dat dit nou waarheid geword het. Dit bly maar vir mense lekker as ’n hoë boom val. Elkeen sit en wag nou net om ook ’n stukkie vuurmaakhout te kan aas.”

“Jy moenie dat hierdie hiënas jou onderkry nie, Sonja. Jy is mos nie so ’n siniese mens nie?” sê Petro en sit haar arm om haar vriendin se skouers.

“Die ondersoekbeampte wat hier was om my te ondervra, was so blatant beskuldigend en onprofessioneel dat ek verplig was om sy hoof te skakel. Ek glo nie ek is die gewildste mens by daardie speurders se kantoor nie. As ek die berigte oor die radio en televisie moet glo, sal die Skerpioene seker binnekort hier instorm en beslag lê op my en alles rondom my. Lyk my hulle dink ek is ook een van sy besittings …”

“Die pers blaas alles op, Sonja,” probeer Albert troos. “Dis nie so eenvoudig soos wat hulle dit maak nie.”

“Die lekkerste deel van die storie, en die éintlike rede vir die spul hier voor die hek, is die moontlikheid dat die twee vroue in die voertuig … dat hulle nie sakekennisse was nie. Hierdie mense sit en wag dat ek iets moet sê. Of … ag, ek weet nie wat hulle wil hê nie. Ek dink ook nie hulle weet nie. Solank daar maar net ’n lekker smeerstorie is.”

“Ons het almal vir oom Werner geken. Ons moet nou nie dat al die bespiegelinge ons denke ook vergiftig nie, Sonja. Wat my aanbetref, was hulle slagoffers van ’n roofpoging en niks meer nie. Tot die teendeel bewys is, wil ek niks anders hoor nie,” hou Albert vol.

“Ek voel ook so, Sonja. Dis net …”

Sonja sien hoe Albert vir Petro stil kyk. “Sê maar, Petro,” sug sy. “Niks wat ek nou nog hoor, sal my tog meer kan skok nie. Moenie haar stilmaak nie, Albert. Ons drie ken mekaar al te lank daarvoor.”

“Dis net dat nie een van ons eintlik van Barend gehou het nie. Ek weet jy ook nie, Sonja. Ek het hom net nooit vertrou nie,” sê Petro sag.

“Ja,” erken Albert. “En dit was nie net sy manier van besigheid doen wat my gepla het nie. Sy menseverhoudinge … die manier … sy oë lyk so …”

“Man, net die manier waarop hy met vroue gepraat het, het my die creeps gegee!” sê Petro sommer reguit. “Hy het ’n mens altyd so op en af gekyk asof jy te koop is. Ek het hom ’n paar keer betrap dat hy ’n leuen vertel of homself weerspreek. En met sy ewige wit skoene!”

“Wat maak die wit skoene?” kan Sonja nie anders as om te vra nie.

“My ouma het altyd gesê mans met wit skoene en oë wat te naby mekaar sit, is skelm.”

“Kyk, daar kom Stephan van Die Deli met my piekniekmandjie aangestap,” verander Sonja die onderwerp. “Hy stap tussen die kameras deur asof hy by die Oscars op die rooi tapyt is! Hy geniet elke oomblik daarvan.”

“Dit lyk my hy deel iets uit?” Petro gaan nader om beter deur die groot venster te kan sien.

“Ja, sowaar, sappies en seker sy pryslys en spyskaart. Maar waarvoor is daardie verskriklike stuk mandjie?” wil Albert weet.

“Padkos vir my. Ek wil hier uit, en ek kan dit nie waag om êrens te stop om kos te koop nie. Met die kombi en die klere waarmee julle gekom het, gaan ek uitglip en verdwyn. Ek gaan my honde in die kombi laai, en hierdie stad sien my nooit weer nie.”

“Maar Sonja …”

“Petro, niks wat jy sê, sal my van plan laat verander nie. Ek het klaar besluit dat ek nie een van die narre in hierdie sirkus wil wees nie. Daar is Stephan nou by die deur. Moenie dat hy iets agterkom nie. Ons is ses mense wat op ’n uitstappie gaan, niks meer nie.”

Sonja se twee swart labradors, Spook en Kabouter, druk hul neuse opgewonde deur die klein ruitjie van die kombi. Sonja en Petro knik vir mekaar: hulle is reg. Sonja druk die knoppie om eers die garagedeur en dan die swaar ysterhekke te laat oopskuif.

Petro ry stadig tot by die hek en hoewel Sonja eintlik weet niemand kan sien wie onder hierdie mondering skuil nie, slaan haar hart ’n slag mis toe Petro doodluiters by die hek stop en haar venster afdraai. Almal op die sypaadjie met kameras en mikrofone bestorm die paneelwa. Selfs toe die honde oor Petro se skouer vir die persmense grom, skrik dit hulle nie af nie.

“Ons vat net gou juffrou Britz se honne vir hulle weeklikse groom by die doggy parlour, en daarna vir hulle sit-and-stay-klasse. Julle weet mos hoe’s die ryk mense? Hulle kan nie eens hulle eie honde bad en train nie,” praat sy met dieselfde plat stem wat sy gebruik het toe sy ant Maraai van Gobabis gespeel het.

“En daai? Wie is dit?”

“O, dis natuurlik Sonja Britz. Sy wil gou gaan sigrets koop by die kêffie. Ma’ moenie sê ek het jou afgetip nie. Gee my nou honderd rand, dan kan jy saamry en haar gan kiek as sy uitklim.”

Sonja is seker dat haar hart ophou klop.

“Ag, sy lieg, man. Dis ’n man. Ek het netnou sy horlosie gesien.”

“Nou waarvoor dan die vermomming?” wil een skeptiese joernalis weet. Hy rek sy nek om binne-in die paneelwa te probeer sien.

“Dink jy ek wil hê my ma en al my pelle moet op teewee sien ek ry ryk mense se honne rond vir ’n income? Jy’s sieker nie lekke nie! Nou toe, staan nou opsy lat ek kan ry. Ek sien julle later weer.” Sonder seremonie draai sy die ruit weer toe en trek weg.

Petro skater toe hulle buite sig van die pers is.

“Jy sal dat my hart gaan staan,” blaas Sonja haar asem uit, maar moet ook saamlag.

“Ag wat, ons kan net sowel ’n bietjie pret ook hê. Jy lyk hoeka vir my bra af.”

“Sou jy nie ook gewees het nie? My pa is dood en …” begin Sonja om haarself te verdedig.

“Ek praat nie van jou hartseer nie. Daar is nog iets?” sê Petro sonder om weg te kyk van die woelige verkeer.

“Ja, jy’s reg … Ek het baie vrae. Dis asof ek skielik elke gebaar, elke woord van my pa wil ontleed en probeer verstaan. Ek wantrou elke mens wat ek saam met hom ontmoet het, alles wat hy vir almal en ook vir my gesê het. Ek is kwaad vir hom, en aan die ander kant voel dit asof ek besig is om hom te verraai,” verwoord sy die afgelope week se gevoelens.

“Hier blaker ek alles aan jou uit, en ek het nie eens presies geweet wat dit is wat my so omkrap nie,” sug sy na ’n rukkie. “Nou weet ek waarom my ouma altyd gesê het ’n mens moet die onsin in jou kop lug en lig gee voordat dit uitbroei. Deur daaroor te praat, kom sommer vanself meer per-spektief.”

“Jy weet tog ek sal nie met iemand anders as Albert daaroor praat nie,” stel Petro haar gerus.

“Ja, ek weet. Dis net dat ek nog self nie mooi kon peil wat met my aan die gang is nie. Ek weet net dat ek moet wegkom.”

“Waarheen wil jy gaan? Wat word van die teater? Sal weghol iets oplos?”

“Wat moet ek hier sit en doen? Elke dag wegkruip vir die pers? Soos ’n gevangene in my eie huis lewe en elke keer skrik as my telefoon of die deurklokkie lui? Nee, dankie, daarvoor sien ek nie kans nie. Ek wil nie elke keer weer herinner word aan dit wat my pa dalk alles verkeerd gedoen het nie. Ek kan tog nie een van hul derduisende vrae beantwoord nie. Ek sal bly wees as jy almal wat in diens is by die teater drie maande se salaris betaal en dan die plek toemaak, vir eers. Jy kan ook ’n stukkie opstel en in die koerant laat sit dat ons toe sal wees tot verdere kennisgewing.”

“Dit sal ek natuurlik alles kan doen, ja. Maar die toekoms van die teater en sy handjie vol personeel pla my die minste van alles. Waarheen wil jy gaan?” Petro loer kort-kort in haar spieëltjie. “Almal in die land ken jou. Daar is nie ’n kans dat jy tussen die gepeupel sal kan verdwyn sonder dat iemand jou herken nie.”

“Waarom kyk jy so in die truspieël? Volg iemand ons?”

“Nee, dit lyk darem nie so nie. Ek gaan nog een maal om die blok ry, net om seker te maak, en dan gaan ek by ons agterste hek inry. Niemand sal die kombi agter daardie mure kan sien nie.”

“Petro, ek gaan nie by julle bly nie. Dis nie billik nie. Julle sal ook soos misdadigers moet begin rondsluip.”

“Jy weet dat nie ek of Albert sal omgee om jou daar te hê nie.”

“Ja, ek weet, en baie dankie daarvoor. Maar ek wil jou net by jou huis aflaai en dan wil ek die pad vat.”

“Met daardie mondering?” lag Petro. “Jy sal minder aandag trek as jy poedelnakend deur die straat loop as met daardie klere.”

“Oukei, dan eers na julle huis toe. Dalk moet jy gou my hare knip …”

“Nee!” keer Petro vinnig. “Jy kan dit mos nooit doen nie!”

“Ja, juis my hare. Almal ken my aan my lang, blonde hare. Ek dink jy moet sommer my kop blink skeer, dan sal niemand my herken nie.”

Dit neem ’n hele rukkie voordat Petro sê: “Jy is natuurlik reg, maar ai, dis hartseer …”

“Dit sal mos weer groei, man! En dis ook nie asof ek ooit weer in ’n sjampoe-advertensie sal verskyn nie. My dae van model wees en toneelspeel, is vir goed verby. Ek sal totaal van die radarskerm af moet verdwyn as ek wil hê mense moet vergeet dat ek Werner Britz se dogter is.”

“Wat is jou planne? Waarheen wil jy gaan?”

“Ek weet nog nie, en al het ek geweet, sou ek jou nie sê nie. As die polisie of enigiemand anders jou of Albert ondervra, kan julle in alle eerlikheid sê … Oppas!”

Maar dis te laat. Petro het die stofbesmeerde bakkie wat oor die rooi verkeerslig ry ook te laat gesien.

Sy trap met mening rem en Sonja voel hoe die kombi oor die teer skuif. Met wydgesperde oë en asof die toneel in stadige aksie voor haar afspeel, sien sy hoe hulle tot teen die ander voertuig gly. Dit voel vreemd verwyderd van haar, so asof sy nie betrokke is nie. Selfs toe sy die slag hoor en voel hoe hul paneelwa die bakkie tref, is dit nog nie ’n werklikheid nie.

Haar nek ruk vorentoe en haar neus en voorkop tref die voorruit. Feitlik onmiddellik proe sy bloed. Die bloedsmaak in haar mond maak alles skielik werklik.

Tjankend beland die twee honde op ’n hoop agter teen haar sitplek.

“Jou vervlakste idioot! Kan jy nie sien as ’n robot rooi is nie! Uit watter gat het jy gekruip?” hoor sy Petro met die ander bestuurder raas.

“Ek is jammer …”

“Jammer se g- … gedagte, man! Kyk hoe lyk my vriendin van die bloed!”

“Ek was ingedagte en het nie die lig gesien nie. Ek het verdwaal …”

“Wat is jou naam? Waarom bly jy nie in die Noord-Kaap nie? Daar waar jy vandaan kom, is seker net drie karre op die pad!”

“… soek na Meiringstraat … het nie gesien nie …” probeer die diep stem verduidelik, maar aan Petro is daar geen keer nie.

“Staan net daar! Ek wil die polisie bel. Sonja, waar is my selfoon? Is jy orraait?”

“Ja, dis net my neus. Jy kan nie die polisie bel nie. Kom klim in dat ons ry voor iemand anders stop en vrae vra. Hulle sal dink ons het uit die sirkus ontsnap!”

Petro se oë rek. “O ja, ek het skoon vergeet. Maar kan ons net so –”

“Ja, ons moet wegkom. Kom nou! Niemand het te seer gekry nie, en sy bakkie is nie te erg beskadig nie. Klim in dat ons ry!”

Iemand klop aan Sonja se venster.

Sy kyk vinnig om. Reguit in die twee blouste blou oë wat sy in haar lewe nog gesien het. Uit sy byna swart hare loop ’n dun straaltjie bloed teen sy slaap af.

Onwillekeurig draai sy die ruit verder af.

“Nog een?” vra die diep stem van die grootste man wat sy nog ooit gesien het. “Is julle in ’n konsert of iets?” vra hy met ’n ligte frons.

Sonja antwoord nie. Sy kan nie antwoord nie.

“Laat ek sien wat bloei so?” sê-vra hy en steek sy hand uit na haar gesig. “Ek is regtig jammer.”

’n Baie groot hand raak liggies aan haar ken en draai haar kop sodat hy mooi kan kyk na die oorsaak van die bloed aan haar gesig. Met sy ander hand haal hy die oorgroot bril af.

Sy kom tot verhaal, trek haar gesig terug en druk die bril weer vinnig oor haar oë.

“Oppas, meneer, ons is baie haastig.” Sy druk die groot hand weg van haar gesig. “Ry, Petro! Totsiens … e … ons is klaar laat vir die konsert.”

“Maar …” sê die reus met die blou oë en Petro tegelyk.

“Ry!” beveel Sonja só skerp dat die man terugstaan en Petro onmiddellik wegtrek.

Burger Vollgraaff kyk die kombi met ’n skuins gedraaide kop agterna. Ingedagte steek hy sy hand in sy hare bokant sy slaap en bekyk die taai, rooi vingers.

Hy vee sy hand aan sy broek af.

Ook maar goed die twee meisies met die lawwe konsertklere was baie haastig, want as hy nou nog by al dié drama vertraag moes word deur ’n lang verslag en ’n ondersoek na die ongeluk, sou hy die blouaapstuipe kry. Hy kan wraggies nie bekostig dat daar nog iets in sy lewe verkeerd loop nie.

Jislaaik, daardie enetjie wat bestuur het, is kwaai! Maar die ander een het die hartseerste oë. Waarom was dit so opvallend? Waarom het hy dit raakgesien?

Haastig loop hy na sy bakkie toe die ander motoriste ongeduldig begin toeter. Dit sal nie help hy staan en talm hier tot daar wel ’n verkeersbeampte opdaag nie. Hy moet by die kantoor van daardie skelms kom.

As die geld wat hy vir die verpakkingsmateriaal geleen het, nou saam met die maatskappy se ander bates bevries word, is hulle boerdery onderdeur. Die verpakkingsmateriaal is betaal, maar dis nog nie afgelewer nie. Die druiwe is behandel, reg vir die uitvoermark, die oes lyk belowend. Die splinternuwe sinkdak van die verpakkingsaanleg en koelkamers staan en blink in die Noord-Kaapse son.

Maar sonder die verpakkingsmateriaal sal hulle nie ’n enkele tros druiwe kan uitvoer nie, want geld vir ander kartonnetjies is daar nie. Hy het vir sy pa en sy broer gesê hulle moet vergeet van die uitvoerbedryf, maar dié twee hardekoppe wou nie na hom luister nie. Hy is mos die jongste, wat sal hy tog weet.

Waarom hulle juis met daardie gladde vent moes sake doen, weet hy ook nie. Daar is mos meer bekende uitvoerders wat hulleself reeds bewys het. Toe hy dit durf waag om sy pa-hulle te waarsku dat die man net te glad is en te vinnig beloftes maak, het hulle hom met ’n minagtende handgebaar stilgemaak.

Maar toe die nuus van die twee mans se dood rugbaar word en niemand by hul kantoor iets kan sê van die Vollgraaffs se geld, of die verpakkingsmateriaal, of die uitvoerooreenkoms nie, is hý die een wat in sy bakkie moet spring om te kom kyk wat hy kan red!

In ruil vir my hart

Подняться наверх