Читать книгу In ruil vir my hart - Annie Mouton - Страница 4

2

Оглавление

Sonja wens sy was so sonder sorge soos Spook en Kabouter, wat nou draaie oor die strand hardloop en uitgelate vir die meeue blaf. Sy is weliswaar al baie meer ontspanne. Dit voel nie vir haar of sy die hele tyd oor haar skouer hoef te loer soos daardie eerste paar dae nie. Sy skrik ook nie meer elke keer as sy in die spieël kyk en die borselkop kyk terug na haar nie.

Sy het wel vir Petro gevra om haar hare met die nommertwee-kammetjie af te skeer, maar dit het nogtans lank geneem om aan dié vreemde gesig gewoond te raak. Vir so lank was haar hare die hoofbron van haar inkomste. Daar is steeds van die advertensies in die tydskrifte en sy het besef daar is geen manier hoe sy incognito kan reis met haar bos hare nie.

Sy kon skaars glo hoe ’n groot verskil haar kaalgeskeerde kop aan haar voorkoms maak. Selfs Albert, haar lewenslange vriend, het haar nie herken toe hy haar sien nie.

“Waar is Sonja?” het hy vir Petro gefluister-vra toe hy later daardie dag by die huis aankom, terwyl sy nie tien tree van hom af gestaan het nie.

“Sy’s net gou badkamer toe,” het Petro ewe soet geglimlag en vir Sonja ooggeknip. “Kom, ek stel jou gou voor aan Susan. Susan, dis my man, Albert. Albert, Susan, ons nuwe buurvrou.”

“Aangename kennis,” het Albert gesê en Sonja se hand in syne geneem. “Ek hoop julle bly net so lekker hier soos ons. Het julle die Versters se huis gekoop?”

Sonja het gesukkel om nie te lag nie, maar ewe sedig haar kop geknik

“Waar kom julle vandaan?” het Albert aangehou gesels met sy nuwe buurvrou.

Dis toe dat sy en Petro dit nie meer kon hou nie, en al twee het uitgebars van die lag. Dronkgeslaan het Albert van die een na die ander gekyk.

“Silly! Dis Sonja wat daar voor jou staan!” het Petro gelag.

“Sonja? Wragtag, dis jy!” Hy kon sy oë nie glo nie. “Jou hele gesig se vorm het verander. Jy lyk kleiner. Jonger. Heeltemal anders. Dis ongelooflik. Niemand, maar niemand sal jou só herken nie. As ék jou nie eens kon eien nie … Jy het mos nie altyd bril gedra nie, of hoe?”

“Nee, ek het kontaklense gedra, my bril was net vir wanneer ek tuis was. Maar ek sal nou eers weer ’n ruk bril dra, want saam met die hare maak dit ’n yslike verskil.”

“Dit kan jy weer sê!” het Albert gelag en sy kop nog ’n slag geskud.

Behalwe die gereelde sms’e na hom en Petro, het Sonja alle kontak met bekendes in die Kaap verbreek. In die eerste plek wil sy niemand betrek of die wêreld vir hulle ongemaklik maak nie. Dan is daar natuurlik nog altyd die vraag: wie kan ’n mens regtig vertrou? Onvoorwaardelik vertrou om nie per ongeluk iets te laat val nie. Of om te goeder trou iets vir iemand te vertel, wat dit dan oorvertel, en so neem die storie die loop en die verkeerde mense kom te hore waar sy is.

Vir die eerste keer in haar lewe is sy opreg dankbaar dat sy geen familie meer het nie. Afgesien van al sy sakekennisse, het haar pa hom ná haar ma se dood, toe Sonja nog in die kleuterskool was, baie min aan sy ou vriendekring gesteur. Sonja was tuis saam met die oppassers, en later is sy na een van die bekendste privaat skole in die land gestuur – sy was vanaf haar sewende jaar op kosskool.

Sy voel haar selfoon vibreer voordat dit begin lui. Sy wag om te hoor watter wysie die luitoon sal wees voordat sy dit uit haar sak haal. Met ’n glimlag onderbreek sy “Bobbejaan klim die berg”.

“Is jy al weer nie lus vir werk nie?” vra sy voordat Petro kan groet.

“Hoe’t jy geraai! Ek wens ek was jy wat êrens in die land kan rondloop sonder ’n baas wat in jou nek blaas en ’n man wat rasend honger is as hy van die werk af kom.”

“Ja, ek moet seker my seëninge tel, nè? Maar ek sal seker ook nie vir altyd so kan rondswerf en uit ’n koffer lewe nie. Die een of ander tyd wil ek tot ruste kom.”

“Jy sal maar nog ’n week of wat moet vasbyt, ou sussie. Almal gons nog oor jou verdwyning. Elkeen wat al met jou te doen gehad het, onthou nou skielik iets vreemds wat jy gesê het, of ’n rare karakter met wie jy gepraat het. Net soos met jou pa kan jy nou al kies watter soort misdadiger of politieke samesweerder jy graag wil wees en vir watter land jy spioeneer.”

“Weet jy, dit maak my so kwaad dat ek kan spoeg! Wat het ek ooit aan enigiemand gedoen?” vra Sonja en gaan sit sommer net daar op die sand. “Maar dis presies wat hulle met my pa ook doen. Daarom sal ek niks slegs van hom glo voordat ek nie die bewyse het nie.”

Petro antwoord nie.

“Aan die ander kant: ek moet dalk nie te verbaas wees nie. Jy weet, my pa was maar bra eksentriek. Die skrywers van die skinderkolomme skryf al so lank oor sy sosiale afsondering dat ek hulle seker nie kan verkwalik dat hulle nou heel bossies gaan nie. Sy dood moet vir hulle ’n bonus wees – net so raaiselagtig as sy lewe.”

Nog steeds geen reaksie van Petro nie.

“Petro? Is jy nog daar?”

Maar daar is geen antwoord aan die ander kant nie.

Seker die sein verloor? Of het daar iemand by haar kantoor ingestap sodat sy die gesprek moes kortknip?

Vir die soveelste maal die afgelope tyd kam Sonja deur haar en haar pa se lewens op soek na iets, die kleinste iets, wat sy dalk kon misgekyk het. Sy het haar pa dikwels vergesel na funksies en selfs op oorsese reise, maar hulle het nooit werklik sy sakebelange bespreek nie.

Haar pa en Barend het die hele wêreld platgereis en nuwe markte gesoek en ontgin, maar hoe anders sou ’n onderneming wat sy bestaan maak uit onder meer die uitvoer van sagtevrugte kon uitbrei en groei as hulle net agter hul lessenaars bly sit het?

Net so met al die buitelanders wat hulle so dikwels kom besoek het. Werner Britz het geglo dat sy gaste meer tuis by hulle aan huis sou wees as in ’n hotel, en Sonja het nie omgegee om gasvrou te speel nie. Hoeveel van daardie gaste het dan weer op hul beurt vir haar en haar pa genooi, en hoe lekker was dit nie om so deur die wêreld te reis nie.

Maar dan die boerpotvraag: Wat het die uitvoer van vrúgte te doen met die regering en korrupsie? Was dit net, soos een van die joernaliste beweer het, ’n frontmaatskappy?

Wie was die mense wat hulle geskiet het? Wie was die twee vroue wat saam met hulle dood is?

Of is Pappa net so onskuldig in hierdie sterk gekruide prutpot ingesleep soos syself? wonder Sonja.

“Bobbejaan klim die berg” onderbreek weer haar gedagtegang.

“Haai, wat het nou-nou van jou geword?” vra sy vir Petro.

“Ek het onverwags besoek gekry van ’n baie kortgebakerde ondersoekbeampte met ’n swaar Amerikaanse aksent wat nie wil glo dat ek nie weet waar jy is nie. Hy sê hulle wil maar net vir jou ’n paar vrae vra en dat jy nie, soos die pers beweer, van enige samewerking met ’n internasionale smokkelsindikaat verdink word nie. Hy sê dat jou wegkruipery jou laat skuldig lyk, en dat dit veel beter sal wees as jy terugkom,” verduidelik haar vriendin haastig.

“Waar is jy nou?” vra Sonja omdat dit klink asof Petro in ’n blik praat.

“Ek sit op die toilet,” giggel sy soos ’n skoolkind wat skelm rook.

“Glo jy die kastige Amerikaner?” vra Sonja.

“Met daai houding? Nóóit! Hy kon of wou ook nie vir my enige bewys van sy identiteit toon nie. Hy het my navraag net eenvoudig geïgnoreer en uitgevra na watter strande of kusdorpe julle vir vakansie gegaan het, en of julle ’n strandhuis het. Ek dink hulle konsentreer op die kus. As jy dus by die see is, sorg dat jy wegkom binneland toe. Praat later weer!”

Die laaste deel van haar sin is ’n fluistering, en Sonja neem aan dat Petro nie meer alleen in die kleedkamer is nie.

Met haar duim en middelvinger fluit Sonja vir haar honde en stap vinnig terug na die woonwapark. Voordat sy ry, sal sy net nog ’n sak hondekos moet koop, en ook vir haar ’n bietjie kruideniersware. Sy is nogal jammer ou Stephan se mandjie is nou leeg. Die eerste week was dit nie vir haar nodig om naby ’n winkel te kom nie. Dit voel steeds vir haar asof almal na haar kyk as sy by ’n betaalpunt staan en wag.

Sy pak die goed in die kombi ’n bietjie reg en maak twee kanne vol water vir die honde. Toe sy die kanne vaspak met die ander bagasie, dink sy daaraan dat sy nie ’n benul het hoeveel geld sy het nie. Daar was weliswaar ’n hele klomp note, los en in pakkies gemaak, in die kluis. Sy het alles tussen haar klere ingeprop, maar tot nou toe het sy dit nog nie getel nie. Sy kan tog nie so in die kombi sit en geld tel nie. By die volgende staanplek sal sy probeer om ’n chalet of iets te huur. Daar sal dit meer privaat en beslis veiliger wees om die geld uit te skud en te tel.

En hierdie vuil wasgoed in die swart sak in die hoek?

Maar ’n dringendheid om weg te kom, jaag haar. Sodra sy op ’n stil, veilige plek kom, sal sy die geld tel, wasgoed was en haar dinge beter organiseer.

Sy rits die kant van een van haar reissakke oop, druk haar hand daarin en vat ’n bondeltjie note raak wat sy sonder om te kyk in haar broeksak druk.

“Spook en Kabouter, kom klim. Ons ry weer. Kom, Spook!”

Toe hulle in is, ry sy stadig tot by die kantoor by die hek.

“Goeiemiddag. Kan ek asseblief betaal? Die res van my geselskap is op pad, en ons toer teen die kus op begin nou in alle erns,” glimlag sy vir die ronde tante agter die lessenaar.

“O, ja, seker. Jy’s mos die enetjie wat sommer in jou kombi geslaap het?”

“Dis reg, ja.”

“Het jy toe gaan eet by daai nuwe plekkie waarvan ek jou vertel het?” wil die tante weet terwyl haar dik vingers vinnig oor die toetse van die sakrekenaar tokkel.

“Nee, dis te sleg met die honde. Ek kan hulle tog nie die hele tyd in die kombi laat sit nie.”

“Ai, dis jammer. Hulle het ook baie lekker wegneemetes. Kyk, hier is die verskillende pieknieks wat hulle pak, en die pryse is eintlik billik.” Sy haal ’n pamflet uit haar boonste laai en gee dit vir Sonja aan.

“Regtig? Dan gaan ek sommer nou daar aanry. Dis hoeka my beurt om vanaand vir almal kos te maak.” Sy kyk die vrou nie in die oë nie. Dit krap haar om dat sy so maklik staan en kluitjies bak.

“Bel haar solank, dan kan jy mos net gaan oplaai en jy hoef nie te staan en wag nie,” stel die vrou vriendelik voor. “Jy weet, dis mý meisiekind wat die plek begin het. Hulle doen so goed … die meeste vakansiegangers is tog nie lus vir ’n kosmakery nie, al bly hulle in die chalets.”

Maar Sonja luister nie meer regtig nie. Op die televisieskerm skuins agter die pratende vrou sien sy haarself deur die water hardloop met Spook en Spyker. Spyker was ’n goue labrador wat kort ná die maak van daardie advertensie dood is aan bosluiskoors. Sy sien haar lang blonde hare agter haar aanstroom en dan, net voordat die sjampoe se naam op die skerm kom, val die aanbieder in met: “En so ken en onthou ons land se mense almal vir Sonja Britz. Sonja het spoorloos verdwyn ná die moord op haar vader en sy vennoot …”

“Het jy niks kleiner nie?” vra die ronde tante toe Sonja haar met tweehonderdrandnote betaal.

“Ongelukkig nie. Maar hou gerus die kleingeld omdat julle so gaaf was om my honde so teen julle reëls toe te laat.”

“O, dankie. Ja, jou geluk dis buite seisoen, want in die seisoen sou ek nie die reëls so kon buig nie.”

“… dat die moontlikheid bestaan dat mejuffrou Britz dalk nie uit vrye wil haar huis verlaat het nie. Die moontlikheid dat sy êrens aangehou word, word…” koggel die stem oor die televisie.

“Aag, hulle soek verniet na daardie vroumens!” val die tante die uitsending in die rede. “Ek sê gisteraand vir my Japie: ek sweer sy het alles beplan. Sy’t natuurlik haar ryk pa en sy terte van kant laat maak, en teen dié tyd sit sy en haar lover lekker op ’n tropiese eiland en suig aan lang drankies deur gekrulde strooitjies. Sy sal mos nie so stupid wees om hier rond te flenter nie. Almal sal haar herken. En om te dink ek het altoos gedink sy is nie soos die ander nie. Sy was altyd so stil en op haar plek aan haar pa se sy … hulle was nooit in die limelight oor hulle affairs en sulke dinge nie. Wys jou nou net, die rykes bly maar almal eners. Ek lees in gister se Tydgenoot sy was haar lewe lank in koshuise en privaat skole. Dis by daai plekke waar die kinders sulke gruwelike dinge leer en –”

“Verskoon my, asseblief? Ek wil net skakel en ons kos bestel. Tot siens en baie dankie,” groet sy en kan nie gou genoeg in die kombi kom nie.

Sy sal hier moet wegkom – ver weg. En sy sal moet wegbly van die hoofroetes af.

Skielik wens sy met ’n intense verlange dat daar iemand naby was met wie sy haar kommer en angs kon deel. Iemand wat koelkop sal bly en die regte dinge sal doen. ’n Man wat nie sal skrik as iemand “Ba!” sê nie.

Iemand op wie se skoot sy nou sou kon klim, in sy arms kon kruip en haar oë toemaak totdat alles verby is …

Terwyl sy by die verkeerslig staan en wag, kom die beeld van ’n swartkopman met die blouste blou oë ongevraag by haar op. Sy vat aan haar ken waar sy vingers vir ’n oomblik gerus het.

Sonja skud haar kop en konsentreer onnodig hard om die kombi onder die groot boom voor die supermark te parkeer. Sy sal die wegneempiekniek gaan oplaai sodra sy die hondekos en ’n padkaart gekoop het. Dalk moet sy maar belê in ’n goeie koelkis en die kos sommer direk daarin laat verpak. As hulle van daardie tipe het wat by die sigaretaansteker van die motor inprop, kan sy vandag ’n groot voorraad kos en drinkgoed koop. Dan sal dit vir ’n hele paar dae nie nodig wees om in ’n winkel te kom nie.

Soos met Stephan se mandjie eet Sonja die mees bederfbare kos eerste. Sy vermy dorpe en winkels so ver as wat sy kan en bevind haar heel dikwels op smal plaaspaadjies tussen landerye en boorde totdat sy die Boland en Swartland verlaat. Soos sy verder noord ry, verander haar omgewing. Die veld kry die reuk van kruie, en dis asof die lig skerper en die lug varser is. Vir die eerste keer sien sy ’n deel van die land waaraan sy nog nooit eens gedink het nie.

Nou word dit dringend dat sy by ’n plek uitkom waar sy ’n slag kan wasgoed was en ordentlik kan bad. Sy ry stadig terwyl sy haar aan die omgewing verkyk en hou kort-kort stil sodat die honde kan uitklim. Op die derde dag eet sy die laaste kos uit die koelkis.

Haar motorradio bly aangeskakel, en dit voel al vir haar asof die stemme wat elke dag met haar praat ou bekendes is. Daar was lanklaas iets nuuts oor haar pa of Britzgroen oor die nuus. Dit lyk darem asof die nuwe nuus nou dié ou nuus uit die kalklig begin druk.

“Moenie te ver gaan nie!” roep sy die honde agterna wat veld-in hardloop. Sy glimlag terwyl sy wonder wat sy sal maak as een van die honde haar moet antwoord. Hulle is die enigste geselskap wat sy het, en sy praat al hoe meer met hulle asof hulle mense is.

Met ’n onwillekeurige steun lig sy die swaar waterkan uit die kombi sodat sy die honde se waterbakke kan volmaak. Hulle sal dors wees as hulle terugkom.

“Probleme?” vra ’n stem skielik skuins agter haar.

Sy swaai vervaard om en laat die waterkan omval, sodat dit teen die effense skuinste begin afrol.

Sonder dat sy hom hoor beweeg, is hy dadelik by en sit sy groot bruin stewel in die pad van die rollende 25 liter-kan.

“O, hoe laat jy my skrik! Ek het nie jou voertuig gehoor nie?”

“Ek het gestap. Kom daar,” beduie hy, “uit die veld uit. Lyndrade nagegaan toe ek jou sien stop het. Probleme?” vra hy weer.

“Nee, glad nie. Of ja, dalk kan jy my tog help. Ek soek ’n stil plek waar my honde toegelaat sal word. Ek meen, soos ’n vakansieplaas of iets.”

“Is jy dan alleen?” vra hy en kyk by die kombi se skuifdeur in.

“Ja … ja, ek is … ’n kunstenaar … ’n skilder. Ek wou ’n bietjie wegkom uit die stad.” Sy kan die man nie in die oë kyk nie en staan nader om die kan weer regop te sit.

“Los, ek sal.” Sy hand klamp om haar skouer. Sy kan nie anders as om effens ineen te krimp nie.

“Het ek jou nou seergemaak?”

“Net so effens …”

“Jammer, man! My suster sê altyd my hande is soos ysterkloue.”

Sy lag.

“Ek is besig om ’n vakansieplaas te ontwikkel. Alles is nog nie klaar nie, en ek neem eintlik nog nie gaste in nie, maar daar is al een van die hutte waarin alles werk.”

Sonja besef dat dit ideaal sal wees, juis omdat daar nog nie ander gaste sal kom nie.

“Is dit hier naby? Dis so mooi hier, en ek wil so graag tussen die koppe en klowe instap. Jy weet, foto’s neem vir latere skilderwerk. Sal ek kan?” vra sy opgewonde en is innig dankbaar dat sy ten minste haar kamera by haar het. “Saam met my honde?”

“Ja, ry net aan. Jy sal die afdraaipad vorentoe sien. Die bouers is besig om die hek se pilare van klip te bou. Wag vir my op die werf, ek kom.” Hy draai in sy spore om en stap die veld in.

Sonja steek haar duim en middelvinger in haar mond en gee ’n lang, harde fluit. Oomblikke later kom die twee honde oop en toe aangehardloop.

“Kom, julle twee, kom drink gou water en raak ’n bietjie rustig. So ’n lewe in die kombi is nie vir honde bedoel nie, ek weet. Ons gaan nog net ’n klein entjie ry en dan gaan ons afpak. As alles mooi uitwerk, kan julle twee na hartelus in die veld rondhardloop,” belowe sy terwyl die twee honde dorstig uit hul waterbakke drink.

“Nou toe, snuffel nou klaar en lig jul bene dat ons kan ry!” beveel sy terwyl sy alles weer op hul plekke in die kombi bêre.

Hulle ry werklik net ’n paar honderd meter voordat sy die plek sien waar ’n span werkers besig is met bouwerk.

Vollgraaffrus lees sy die naam op die splinternuwe naambord wat nog teen die draad staan en wag om geplant te word. ’n Vreemde naam, maar op hierdie oomblik is dit nie waaroor sy die meeste verwonderd is nie. Wat êrens in haar binneste krap, is dat die man met wie sy netnou daar langs die pad gepraat het soveel lyk na die een teen wie sy en Petro in die stad gebots het.

Hy is ook ’n groot man, maar nie heeltemal so groot soos daardie man nie. En sy oë is natuurlik nie so blou nie. Of is dit?

Nee, sy sou onthou het as dit só blou was.

Maar iets aan die man … Sy kan haar vinger nie daarop lê nie, maar tog voel dit vir haar asof sy weer met die man in die stad gepraat het.

Waarom het die man met die intense blou oë so ’n groot indruk op haar gemaak dat sy hom om elke hoek en draai raaksien? Of is hierdie swerwersbestaan soos ’n sigeuner van ouds besig om haar gesonde oordeel aan te tas?

In ruil vir my hart

Подняться наверх