Читать книгу Spookskip - Antoinette Diedericks - Страница 5

Оглавление

· 2 ·

Op vlug

Dis lank na middernag. Kaptein van der Decken stap heen en weer op die dek. Hy gaan staan skielik stil en trek sy oë op skrefies om beter te sien. Hy kan net-net die vorm van ’n boot uitmaak. Dan hoor hy die gespat van roeispane. Hy sug verlig toe die drie donker figure oor die rand van die skip klim. Hy lig die lantern hoog op sodat hulle beter kan sien.

Erik, Freek en Hans kom staan voor kaptein Van der Decken. Nie een sê ’n woord nie. Hulle is sopnat. Die water maak donker poele op die dek.

“En toe? Wat het gebeur?” vra die kaptein.

“Ons het hom, Kaptein, ons het hom!” skree Erik so skielik dat kaptein Van der Decken ’n paar treë agteruit gee van skrik. Nou praat almal gelyk. Die kaptein kan nie kop of stert uitmaak van die deurmekaar gebrabbel nie.

“Stilte!” bulder hy. “Erik! Rapporteer!”

“Ja, Kaptein! Reg, Kaptein!” Erik haal ’n opgerolde vel papier voor by sy hemp uit. “Kaptein, daardie spul Portugese is so dronk hulle snork soos donderweer in ’n storm en die kaptein snork die ergste van almal en ons het die kaart reg onder sy hand uitgevat en hy het net aanhou snork en niemand weet eers dat ons daar was nie behalwe dalk die skeepsjonge wat op die bank in die kaptein se kajuit slaap.” Uitasem gee Erik die papierrol vir die kaptein.


“Hier, hou vas die lantern.” Kaptein van der Decken gee die lantern vir Erik. Versigtig rol hy die verweerde papier oop. Al drie matrose leun nader om ook te sien. Vir ’n lang ruk is dit stil. Dan sê die kaptein: “Manne, as ons hierdie vrag speserye afgelaai het, gaan ons ’n skat soek.”

Erik, Freek en Hans omhels mekaar. Hulle dans rond op die dek. Die lantern tref amper vir kaptein Van der Decken teen die kop. Hy koes net betyds.

“Jammer, Kaptein! Jammer, Kaptein!” maak Erik verskoning, maar hou aan dans.

“Julle moet die ander gaan wakker maak, ons vertrek nou dadelik.”

Die drie matrose hou op ronddans. Hulle gaap die kaptein aan.

“Maar Kaptein …” Erik bly stil.

“Wat is dit, Erik?” vra die kaptein ongeduldig.

“Dis vandag Goeie Vrydag,” sê Erik hees, “ons mag nie seil nie, dit sal ongeluk bring.”

“Die skeepsjonge het julle gesien. Hulle sal ons môreoggend kom soek. Hulle sal die skatkaart wil terughê. As ons weg is, kan hulle niks doen nie. Hulle moet nog kos en water laai. Dit sal ten minste ’n week neem. Dit gee ons ’n goeie voorsprong.” Kaptein van der Decken draai om na sy kajuit toe. “Ons seil oor ’n halfuur. Sorg dat alles reg is.”

Die drie matrose stap sleepvoetend weg om die bemanning te gaan wakker maak. Gou is die skip in rep en roer.

“Span net die voorste seile,” roep Erik. Die ligte wind vul die seile. Amper geruisloos vaar die Vlieënde Hollander op die oop see uit. Teen sonsopkoms is die eilande net ’n vae spikkel op die horison.

Die wind steek sterker op. “Span vol seile,” beveel kaptein Van der Decken. “Hoe meer water daar tussen ons en die Portugese is, hoe beter.”

Die matrose klouter soos ape teen die takelwerk uit, maar hulle skud hul koppe en mor onderlangs.

Spookskip

Подняться наверх