Читать книгу Spookskip - Antoinette Diedericks - Страница 6

Оглавление

· 3 ·

Die spookskip

26 Junie 1641: Kaap van Goeie Hoop in sig. Vandag ’n albatros gesien. Storm steek op. Het beveel dat seile opgetrek word. Sal storm uitsit voor om Kaappunt vaar. In die vroeë oggend om 3-uur het gesterf Hans Zilverentand, hoofseilmaker. Sterftal nou op 14. Matrose se moraal laag. Hulle glo almal gaan sterf omdat ons terugvaart op Goeie Vrydag begin het. Ons het baie tyd verloor. Bemanning te siek om hulle pligte na te kom.

Kaptein van der Decken bêre die pen en ink. Hy sug en maak die joernaal toe. Die matrose fluister onder mekaar toe hy op die dek uitstap. Die wind huil om die maste.

“Skip op horison! Skip op horison!” klink dit vanuit die kraaines. Die wind waai die stem amper weg.

“Kaptein, wat as dit die Portugese is?” vra Erik benoud.

“Gaan haal my teleskoop.” Kaptein van der Decken stap tot op die hoogste deel van die agterdek. Hy sukkel om sy balans te hou. Die branders begin oor die dek breek.

“Hier, Kaptein.” Erik gee vir hom die teleskoop. Hy klou aan die reling vas om nie op die nat dek te gly nie.

Die kaptein bly lank stil. “Dis hulle.”

“Wat maak ons nou, Kaptein?”

“Span vol seile!”

“Maar Kaptein, die storm …” protesteer Erik bleek.

“DOEN SOOS JY BEVEEL WORD!” Kaptein van der Decken draai sy rug op Erik en kyk weer deur die teleskoop.

“Vol seile! Vol seile!” skree Erik bo die wind uit.

Die matrose sukkel teen die takelwerk uit. Erik gryp die groot stuur van die skip. Dit voel of sy arms van sy lyf afruk toe die stormsterk wind die seile vul en die stuur sywaarts pluk. Die skip hel gevaarlik oor na stuurboord. Hy gebruik al sy krag om die skip te draai om reguit in die golwe in te vaar. ’n Dwarsbrander breek skuimend oor die dek. Erik verloor sy greep op die stuur. Vir ’n oomblik gaan lê die wind. Die hoofseil word slap. Skeur dan met ’n aaklige geluid toe die wind weer volsterkte opkom en dit teen ’n dwarsmas vasruk.

“Kaptein! Ons gaan vergaan, ons moet die seile optrek!” skree Erik bo die loeiende wind uit. Hy kry dit reg om die skip oor die volgende brander te stuur. Met ’n vreeslike kraakgeluid breek die middelste dwarsmas. Een van die matrose tuimel gillend van die takelwerk af. ’n Brander spoel hom van die dek af voordat iemand hom kan help.

“Kaptein! Ons sal dit nooit maak nie! Asseblief, Kaptein, trek die seile op,” huil Erik.

Kaptein van der Decken stamp vir Erik uit die pad. Met sy hande om die stuur geklem en sy gesig na die donderwolke gedraai skree hy in die wind in: “NIEMAND SAL MY KEER OM OM DIE KAAP VAN GOEIE HOOP TE VAAR NIE, AL NEEM DIT MY TOT DIE OORDEELSDAG!”

Die wind waai al hoe sterker. Die skeepseile skeur en flap toiingrig aan die maste. Branders breek hoog oor die dek. Maar geen geluid is hoorbaar nie. Alle klank het verdwyn. ’n Verblindende ligflits bars deur die swart wolke en verlig die hele skip. Die matrose bedek hulle gesigte met hulle hande en arms. Kaptein van der Decken raak stil en keer die lig met sy een hand uit sy oë.


’n Harde stem praat vanuit die lig: “Hendrik van der Decken, as straf sal jy en jou skip die stormsee elke nag trotseer tot aan die einde van alle dae. Jy sal ’n vloek bring oor almal wat met jou ’n ooreenkoms aangaan. Jou bemanning sal jou haat tot in alle ewigheid vir dit wat jy oor hulle gebring het.”

Skielik is die lig weg. Die geloei van die wind raak stil. Stadig dryf die donker wolke uitmekaar. Soos die sonstrale deurbreek en op die Vlieënde Hollander skyn, vervaag die skip asof dit in die dieptes van die see verdwyn.

Spookskip

Подняться наверх