Читать книгу Die laaste karretjiegraf - Athol Fugard - Страница 5

Оглавление

My eerste ontmoeting met die Karretjiekinders en hul gesinne was ongeveer ’n jaar voor die land se eerste demokratiese ver­kie­sing in 1994. Kort daarna het ek vir ’n magistergraad, as deel van ’n departe­mentele projek in antropologie, aan die Universiteit van Suid-Afrika geregistreer. Die navorsingsgebied was aanvanklik vyf semi-permanente uitspannings in die Colesberg-distrik van die Karoo. Die besluit is geneem om dit af te baken tot die gemeenskap by die Seekoeirivierbrug-uitspanning, wat ek op ’n deurlopende en ge­reelde basis vir ongeveer ’n dekade besoek het en waar ek uit­ein­delik hegte verhoudings met die kinders en hulle gesinne daar gevorm het. Die skaapskeerders van hierdie Karretjiegemeenskap was steeds, in teenstelling met van die ander wat reeds ’n meer ge­vestigde bestaan begin voer het, volledig rondtrekkend tussen plase in die distrik en hul semi-permanente uitspanning by die brug. Die doelwit van die studie was om te bepaal hoe hoë vlakke van ruimte­like en geografiese mobiliteit, asook huishoudelike fluïdi­teit en veranderlikheid die kinders se bestaan beïnvloed.

In Februarie 2011 het ek ’n navraag van Mannie Manim, ’n jare lange vriend en werkgenoot van Athol, ontvang waarin hy wou weet of ek die persoon is wat die verhandeling getiteld Childhood: An Anthropological Study of Itinerancy and Domestic Fluidity Amongst the Karretjie People of the South African Karoo gedoen het. ’n Dag later het Athol uit San Diego ’n e-pos gestuur waarin hy openbaar dat hy reeds twee keer deur die verhandeling gelees en gewerk het en van voorneme is om ’n toneelstuk oor die onder­werp te skryf. Sy navraag was of ek sou instem dat hy kontak be­hou indien daar enige vrae of onduidelikheid opduik. Uiteindelik het ons die onderwerp breedvoerig bespreek en gedagtes gewissel oor moontlikhede vir en verwerking van die toneelstuk.

’n Paar maande later, tydens die produksie van The Birdwatchers in Kaapstad, het Athol my tuis in Johannesburg besoek waar­tydens hy versoek het dat ek aktief betrokke raak en meewerk aan die stuk en die uitvoering daarvan. Met sy versoek het hy sy “note­book” waarin sy eerste gedagtes aangeteken is oor wat uiteindelik Die laaste karretjiegraf sou wees, aan my oorhandig en op hierdie wyse is ons samewerking oor ’n tydperk van twee jaar gesmee. Daarin is onder meer opgeteken: “… The Karretjie children of S.A. Steyn’s dissertation – a fund of dark and deeply disturbing stories … They have an epic proportion … I know I am in touch with the potential for an epic Karoo story … Is the Karretjie children going to be my first and most probably only Afrikaans play?”

Ná sy terugkeer na San Diego het ons hoofsaaklik telefonies en per e-pos gekommunikeer oor die verskillende moontlikhede en inhoud van die eerste konseptualisering van die stuk. Dit het behels dat Athol gedeeltes in Engels na my gestuur het, wat ek op my beurt verwerk het in Afrikaans, met die besondere taalgebruik en gesegdes van die Karretjiemense daarin verweef. Sekere ge­deel­tes van die teks en konteks het ek oorspronklik in Afrikaans geskryf en na hom gestuur vir verdere oorweging. Baie daarvan is uiteindelik in die toneelstuk gebruik en vervat.

Tydens Athol se terugkeer na Suid-Afrika teen die einde van 2011 het ons Colesberg vir ’n paar dae besoek in ’n poging om die karretjieskeerder en sy kinders wat sentraal in die stuk figureer op te spoor en hul toestemming te vra vir die gebruik van gedeeltes van hul lewensverhaal. Ons eerste bestemming was die brug-uitspanning waar die grootste gedeelte van my navorsing en veldwerk gedoen is. Dit was verlate met bykans geen teken van ’n gemeenskap wat dit eens op ’n tyd hul tuiste genoem het nie. Ons het stil staan en kyk, later begin drentel, stukke oorblyfsels opgetel, ’n paar plekke uitgewys en toe ons soektog na Koot en sy kinders voortgesit. Dit was die Plaatjies-gesin, op pad dorp toe met hul donkiekar, wat ons ingelig het ons sal Koot in Tamatiestraat opspoor. By verdere na­vraag het ons Koot uiteindelik wel in Tamatiestraat raakgeloop. Dit was ’n hartlike herontmoeting tussen ons – ons het mekaar in vele jare nie gesien nie. Hy het intussen sy tronkstraf uitgedien en ek het my verhandeling voltooi. Ons het onder ’n peperboom op ’n sementblok gaan sit en oor vervloë tye en gebeure gesels, albei onbewus daarvan dat Athol dit alles noukeurig dophou. Na afloop van ons besoek het hy my ’n greep van dít wat hy waargeneem het, gewys en beslis gesê: “Look! Thís is our play!”

Riana Steyn

Medeskrywer

Sarah Adriana (Riana) Steyn (née Joubert) is op Winburg gebore en het op ’n plaas in die distrik Dewetsdorp in die Vrystaat groot­geword. Sy matrikuleer in 1985 aan die Oranje Meisieskool in Bloem­fontein en studeer aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarna is sy vir vyftien jaar as lektor aan die Departement Antro­pologie en Argeologie aan die Universiteit van Suid-Afrika ver­bon­de. Hier voltooi sy haar magisterverhandeling met lof. Sy be­klee ook ’n tydelike betrekking aan die Universiteit van Johannesburg. Sedert 2013 is sy ’n deeltydse lektor in antropologie aan die Uni­versiteit van die Vrystaat. Sy, haar man, Deon en hul kinders, Luke en Sarah-Anne woon buite Bloemfontein.

Die laaste karretjiegraf

Подняться наверх