Читать книгу Die plesierboom - Audrey Blignault - Страница 5

DIS NOU MY STRAAT

Оглавление

Dis nou my straat. Dis die straat waar ek begin het. ’n Mens het mos altyd ’n straat waar jy begin het, die straat waar jou eerste huis gestaan het, waar jy jou eerste mense leer ken het, waar jy vir die eerste keer geweet het: ek is ek en hier hoort ek.

Dit is mý straat, hier waar die Kaapse pad in die dorp inloop en ’n straat word. Die straat loop dwarsdeur die dorp, hier van die hoogte af tot dáár onder waar ’n mens die blou kom van die sandduine kan sien lê. Daar is die see. Sommer naby. My straat loop nie dood nie – hy hou aan tot by die see.

Toe ek hier gewoon het, was al die nuwe huise nog nie hier aan die bopunt van die dorp nie. Daardie groot huis met die boogstoep was die laaste huis aan dié kant van die dorp. Dit was die deftigste huis in ons straat met al die pragtige boë om die stoep. Die Bloms het daar gewoon. Kitta en Hanna was in dieselfde klas as ek en Trix. Hulle het sulke mooi Sondagrokke met afhangkrae en skoenlapperstrikke voor die bors gehad. En eenkeer het ek en Trix na Hanna se verjaardagpartytjie toe gekom en so gestry oor wie die present gaan gee dat ons die papier van die pakkie afgeskeur het en eers weer moes omdraai huis toe om nuwe papier te laat omsit. Toe kom ons eers op die rooijelliedraai by die partytjie aan toe al die reënboogkoekies al op was.

Dit was my eerste wêreld, dié straat met sy dorpshuise en bome en heinings en tuine. Ek het almal geken wat hier gewoon het en almal het my geken.

In hierdie huis bokant die skool het ons prinsipaal gewoon – mnr. Liebenberg. Die kinders het altyd gesê hy kan deur ’n mens se kop sien wat in jou gedagtes omgaan. Dit help nie om vir hom te lieg nie. Eenkeer moes hy vir Urban Swart ’n pak gee, en toe sê Urban vir hom: “Meneer Liebenberg, as jy my nie slaan nie, gee ek vir jou hierdie tiekie wat ek in my sak het.” En toe slaan mnr. Liebenberg hom nie.

Ek was bang vir mnr. Liebenberg, nog baie banger as vir ds. Viljoen. Waarom weet ek nie, want hy was altyd goed en vriendelik. Dit was sommer maar so – ’n mens moes bang wees vir jou prinsipaal. En vir die dominee. En vir die dienders. Hulle moes kyk dat jy jou behoorlik gedra. Voor hulle moes jy in jou spoor trap. En tog het jy geweet dat hulle ook mense is.

Ons het ’n kiekie gehad van mnr. Liebenberg se seuntjie, Wilhelm, waar hy tussen die hoenders op hulle erf sit in ’n hempie wat net so wit was soos die hoenders.

Toe die seuntjie siek word en sterf, het Mammie ’n krans van sneeuklokkies gemaak wat ek na die Liebenbergs se huis gaan wegbring het. Mnr. Liebenberg het self die voordeur oopgemaak. Ek het geskrik toe ek hom sien, maar ek kon nie toe omdraai en weghardloop nie. Ek het die krans voor my uitgehou en in sy hande gegee, maar ek het niks gesê nie. Hy het gesê dis ’n pragtige krans en hy bedank ons baie daarvoor, maar hy het so sag en so snaaks gepraat dat ek begin huil het. Toe ek deur die voortuin hardloop, sien ek een van die wit hoenders waar hy in die paadjie skrop. Toe tel ek ’n kluit op en ek gooi hom dat hy spaander.

Hier regoor die skool het oom Loutjie Neethling gewoon. Hy was kwaai en die skoolkinders het altyd gesê as hy ’n mens vang, stop hy jou in ’n goiingsak en hy hang jou aan ’n haak in sy buitekamer. Eenkeer het hy ’n voetbal wat die seuns oor sy draad geskop het fyn en flenters gesny en toe teruggegooi in die skoolkamp. Tog het hy eenkeer vir Kleinboet na die stal geroep, en hom ’n pragtige peitsie present gegee en gesê: “Nou toe, Boetie, moet nou net nie daardie pienk perdjie van jou deurbring nie, hoor!”

Ja, dis die skool, hier op die hoogtetjie. Daar’s nou ’n nuwe skool op die heuwel aan die westekant van die dorp, maar ons het hier skoolgegaan. Dit was toe nog nie so toegebou nie. Daar het nog heide en kalkoentjies en bobbejaantjies agter die skool gegroei. In die lente kon ’n mens uit die klaskamers die veld ruik.

Ons het nie toe ’n swembad en so ’n mooi sportveld gehad nie, maar ons onderwyseresse was baie mooi. Hulle het pienk rokke gedra en slave bangles hoog op hul arms. Hulle het almal fringes gehad en hulle het vreeslik lekker geruik. Hulle het ook kêrels gehad. Miss Fowler s’n was die mooiste – Koos Uys van Ondervlei. Hy het so baserig sterk gelyk asof hy ’n mens teen alles sal beskerm en hy kon net so goed perdry soos Tom Mix in die bioskoop. Miss Van der Merwe se kêrel was Jan du Toit van die dorp. Hy het so pragtig met ’n krom rug gedans, en as sy nooi langs hom in die motor sit, het hy altyd so afgekyk na haar en so mooi skeef geglimlag. Miss Magennis se kêrel was Myburgh Eksteen wat vreeslik goed kon tennis speel en swem en wat baie mooi gelyk het in sy baaibroek. Ons het altyd na hom gekyk as hy by die treetjies afgaan om te gaan swem op Waenhuiskrans. Ons het alles van die kêrels geweet en dit was net so goed soos bioskoop.

Soggens as ons saal toe marsjeer, het mnr. Allmann klavier gespeel – altyd dieselfde mars. Dan kyk ons hoe sy lang hare in sy nek wip en Joes Viljee maak ’n danspassie in die middel van die mars. Een oggend het ons Sankey gesing en een oggend Halleluja. Die mooiste Sankeylied was:

Jesu, lover of my soul,

Let me to thy bosom fly,

While the nearest waters roll,

While the tempest still is high.

Ek het daarvan gehou, want dit was vir my net soos die see by Waenhuiskrans as die noordewind waai en die branders tot by die voorste rotse slaan.

Die lekkerste Hallelujalied was “Tel uw Segeningen, Elk Waarvan Gij Weet”, maar ons was ook altyd bly as mnr. Liebenberg “Ben Slechts Een Wapendrager” opgee, want dan sing Pietie Siebert en Tottie Hoffmann:

Ben slechts een kalwerwagter

Ver in die veld.

Woeps steek ’n doring my.

Pa bring ’n speld.

Ma bring ’n knyptang

En trek hom uit,

Ek kry so seer

Dat ek sommer blaas.

En dan moet iemand altyd kantoor toe gaan oor onstigtelikheid.

Hier waar die stuk oop grond nog is, was die markplein. Daar het ons in die lente op die groen gras gesit en kettings ryg van die gousblomme. Dan kon ’n mens die geluide van die smidswinkel hoor, so gerusstellend, eentonig en gemoedelik soos die ritme van elke dag se lewe in die bekende dorpstraat waar niks verander nie en niks vreemds gebeur nie, behalwe die skrik in ’n mens self – maar daarvan praat jy nie.

Hier in die middel van die straat waar die brug oor die ou sloot geloop het, het ek vir die eerste keer die vrees geken oor ’n verkeerde ding wat ek gedoen het.

Ek en Liebe Chait moes die middag ná skool ons natuurstudiemuseum regpak. In ’n groen geskilderde kas met skuifdeure was daar allerlei skulpe, stukkies droë seewier, klippe en voëleiers wat die kinders bymekaargemaak het. Onder die eiers was daar een, so ’n groterige vale, wat nie geblaas was nie.

“Liebe,” sê ek, “kom ons vat die eier en ons gaan gooi hom stukkend in die ou sloot. Dan kyk ons hoe lyk hy binne-in.”

“Wat gaan Miss Fowler sê?” vra Liebe verskrik.

“Sy sal nooit agterkom dat die eier weg is nie. Wat is ’n ou eier nou?”

“Nou toe, ek steek hom in my hemp se sak.”

Ons pak die kas klaar reg en sit af na die brug oor die ousloot.

“Gee, ek sal gooi,” sê ek gretig.

“Nee, jy gooi te vrot. Ek sal gooi.”

Liebe neem die eier uit haar sak, haal oor haar skouer en gooi die eier dat hy teen die wal van die sloot oopspat.

Bewend van opwinding en verwagting hang ons oor die tralies van die brug. Teen die uitgemesselde wal van die ousloot sprei ’n pikswart kol – groot, beskuldigend, op ’n verskriklike manier angswekkend. Toe word ons duiselig van die stank wat oor die brug walm. Ons kyk mekaar verstar aan. Ons sê niks, maar ons is meteens bewus van ’n aakligheid wat uit die ousloot gekom het en die lug waar ons staan, besmet. Die stil, sonnige middag is weggeruk en teen die wal van die ousloot gegooi waar die stinkende swart kol nou groter en groter en groter word.

“Sies, allemagtig, wat gaan hier aan?” sê Piet Baadjies wat by die deur van die smidswinkel uitgekom het.

Toe hardloop ons, Liebe by die systraat op na hulle hotel, ek in die lang straat af huis toe.

Ons het nooit weer met mekaar of met iemand anders oor die eier in die ousloot gepraat nie, maar altyd daarna het ek geweet dat daardie eier een van die dinge is waaroor ek hel toe sal gaan.

Hier waar dié groot blink winkel van die Ko-operasie nou staan, was Van As se winkel. Toe ons matriek klaar geskryf het, het Tottie Hoffmann hier vakansiewerk kom doen. Die middag toe ek en Jansie die uitslae gehoor het, draf ons winkel toe om vir Tottie te gaan sê dat hy ook deurgekom het. Tottie was ’n mooi seun en ons sou hom graag vir ’n kêrel gehad het, maar hy het nie by een van ons gekuier nie. Tog, ’n mens kon darem vir hom die matriekuitslae gaan sê.

Ons loop in die winkel in. Daar is die gewone laatmiddagse bedrywigheid om die toonbanke. Ons ruik die bekende ou winkelruik van geelseep en leerstewels en suiker en dadelkas. Toe sien ons vir Tottie. Hy staan op ’n leer, druk besig om ’n yslike toring wit emaljekamerpotte op ’n rak te pak.

“Middag, Amanda. Middag, Jansie,” groet oom Boy van As ons.

Tottie kyk nie om nie. Ons sien net hoe sy ore rooi word. En hy pak die potte asof hy bakstene gooi.

“Wat kan ek vir julle dametjies doen?” vra oom Boy.

“Ons wil bietjie na die baaikostuums in die damesafdeling kyk,” sê Jansie vinnig.

Só het dit gekom dat ons nie vir Tottie die matriekuitslae gesê het nie en dat hy ook nooit een van ons twee se kêrel geword het nie.

Dié gebou met die fleurige vooraansig is die dorp se bioskoop. Toe ek in dié straat gewoon het, was dit Torpie se bioskoop – “Torpie se Tôkie” het ons dit genoem, al was die regte naam The Regal Theatre. Torpie het in die huis langs die bioskoop gewoon. Hy het self na alles gekyk en sy bioskoop goed opgepas.

Die bruinmense het bo-op ’n galery gesit en die witmense onder. Soms as daar dan in die rolprent ’n vurige omhelsing voorkom wat bietjie lank aanhou, skree ’n stem daar van bo af: “Asem!”

Dan staan Torpie terstond van sy sitplek af op, neem sy flits en gaan soek deur die rye: “Wie’t geskrie, hè? Wie’t so geskrie?” Maar dan is dit doodstil en niemand weet van iemand wat moles gemaak het nie.

Ons het soms vir Torpie gaan uitvra oor die rolprente wat kom.

“Mister Torp, mister Torp, is dit ’n mooi stuk wat Saterdagaand wys?”

Dan word hy vreeslik ergerlik:

“Hoevul mal moet ek vir julle sê dis nie ’n steek nie, dis ’n drramma. Ek wys nie steke nie. Ek wys drrammas.”

Ja, dit was my eerste wêreld, dié straat waar die lewe vir my begin het. Hier het ek die eerste huise gesien wat anders was as ons s’n. Hier het ek onder bome geloop wat nie op ons erf gestaan het nie. Hier het ek blomme geruik wat nie in ons tuin gegroei het nie. Hier het ek die gesigte van mense leer ken – vriendelike gesigte, kwaai gesigte, blyes en droewiges, en dié wat anders was, waaroor het ek nie geweet nie.

Dit was die eerste straat van ons huis af die wêreld in. Dit was die straat na ’n nuwe, opwindende vreugde. Dit was die straat na die eerste gewaarwording van smart. Dit was die straat na die kennis van die goeie en van die kwade. Dit was die straat na die lewe.

Die plesierboom

Подняться наверх