Читать книгу Die plesierboom - Audrey Blignault - Страница 6

HET SPOKE NEKKE?

Оглавление

Het spoke nekke?

Is dit nie ’n wonderlike vraag nie? Is dit nie ’n vraag wat soos duineriet sing, soos melkbos ruik en ’n hele Strandveld van suggestie wyd en blou om ’n mens laat uitspan nie?

Het spoke nekke?

Beslis die opwindendste vraag wat iemand my ooit gevra het, ’n vraag wat al jare lank my verbeelding prikkel, my fantasie uitdaag en my spekulatiewe sin wakker hou.

Die steller van dié vraag was ’n seuntjie – vyf jaar oud – klein, kwiklewendig en vol van die wonderlikste gedagtes. Sy naam was Arthur Stead, en hy het saam met sy ma, Rinie Stead, by ons gekuier.

Saans as ons plate speel, kruip hy vas teen die platespeler aan en luister in volslae vervoering na die musiek, en dan, later, vra hy sy vrae:

Is die wind wit?

Huil die see in die donker en sing hy weer as dit lig word?

Hoekom is ’n hasie pienk?

Gaan ek gaaf wees as ek groot is?

Lag manne vir manne?

Het spoke nekke?

Ek betrap my nou nog dat ek lang tye oor dié vraag tob. Dis beslis iets wat ’n mens behoort te weet: het spoke nekke of het hulle nie? Die antwoord bepaal mos jou beeld van ’n spook en gevolglik ook jou verhouding met hom. Ek gaan baie banger wees vir ’n spook sonder nek as vir een met ’n nek. Die aanwesigheid van ’n nek by ’n spook wat ek teëkom, gaan vir my dadelik ’n gerusstelling wees. Mét ’n nek staan ’n spook baie nader aan my as sonder een. Dis dan tog iéts wat ons gemeen het – die nek wat ons kop met ons lyf verbind, die nek wat kan omkyk, maar wat darem nie agtertoe kan draai nie, die nek wat desnoods kan afbreek as ’n slag hom tref. Dit lyk vir my dus ’n belangrike ding om te weet: Het spoke nekke?

Op dié vraag, soos op baie ander, het ek nog nie ’n antwoord nie. Ek peins daaroor soos ek oor ander onbeantwoorde vrae peins:

Wat word van koppiespelde?

Wie dink die Van der Merwe-grappe uit?

Hoe weet ’n Siamese kat dat daar kuiergaste kom?

Waar het Jan Kolonie Hoenderdief gewoon?

Wanneer is ’n mens middeljarig en wanneer is jy oud?

Dis vrae waaroor ek sommer so in my enigheid pieker. Dis vrae wat my boei omdat hulle aan die ewig onoplosbare misterie van die lewe raak.

Ja, dit het ’n sekere towerkrag, dié woorde in die vorm van ’n vraag. Dis ’n uitdrukking van verwondering, van weetgierigheid en van die taksering van ’n situasie. Dis ’n onmisbare middel om kennis op te doen en wysheid te verkry.

Dis ook die eerste en laaste aanknopingspunt tussen mens en mens. Ons leer mekaar deur vrae ken. Ons ontgin mekaar met vrae. Ons heg ons aan mekaar met vrae en ons vervreem ons van mekaar deur vrae. Dit gebeur nogal dikwels aan ’n dineetafel.

As ’n mens op ’n sosiale byeenkoms langs ’n wildvreemde man te sitte kom, moet jy jou vrae raak en rapat stel of jy gaan vasval in die droë sand van ’n woordlose nabysyn wat ’n lang letsel op jou en op jou maat gaan laat. Deesdae deug dit egter nie om weg te val met Van-watter-Wesselse-is-jy-nou nie, want vandat die Bolanders Transvaal toe begin trek het, weet niemand meer waar hulle vandaan kom nie.

Nee, deesdae moet ’n mens realisties wees met jou vrae. Jy moet weet wat om te vra en wat nie. Jy moet jou nie aan desillusie blootstel nie. Daarom is dit altyd goed om vrae te vra oor geld, oor kos, oor sport, oor motors en moontlik oor die liefde:

Dink u dis waar dat die aandelemark sal styg as ons rugby verbeter?

Hoe lyk dit, het u nie vir my ’n vuurwarm wenk vir die July nie?

Weet u miskien of Clydesdale-merries nou op prys is?

Het u al oesters geëet saam met swart brood en vonkelwyn?

Waar kan ’n mens tog deesdae volstruisbiltong koop?

Het u al op George se gholfbaan ’n toernooi gespeel?

Stel u belang in onderwaterduikery?

Is dit só dat die onderdele vir Mercedes-motors moeilik verkrygbaar word?

Sou u sê dat ’n mens regtig verlief is as jou linkeroog spring?

Hier en daar het ek al onverwagse sukses behaal met so ’n bietjie verrassingstegniek:

Het ’n tier al ooit op u gespring?

As u kon kies tussen die koningin van Skeba, Elizabeth Taylor en Mimi Coertse, wie sou u kies?

Is u ook een van die outydse individualiste wat weier om tou te knip?

Kan u my miskien sê wat ’n basuutjie is? En ’n dikoulap? En ’n Abraham-boekpens?

Dan breek dit my so in as my tafelmaat vir my vra of ons nie baie wind in Kampsbaai kry nie, of ek Wildtuin toe was in die winter en of daar nog oop erwe te koop is op Struisbaai of Waenhuiskrans.

Niemand het my nog ooit gevra waar ’n mens klokkiesheide in die lente kan ruik, hoe ek my man so jonk hou en wat vir my die mooiste teks in die Bybel is nie.

Ek het al langs mense gesit wat my glad niks gevra het nie.

Daar is ook diegene wat met voorbedagte lis rookskermvrae stel. Hulle het nie lus om self te praat nie, dus stel hulle gou ’n vraag wat daarop gemik is om hulle tafelmaat aan die praat te kry en lank aan die praat te hou en dan kan hulle lekker lui sit en rondkyk of hulle eerste wynslapie oopoog klaar slaap. Sulke rookskermvrae wat nooit afklap nie is vrae oor kwale, oor kleinkinders, oor kameras en oor koekmakrankas soek in Piketberg. Dis ’n laakbare gewoonte om ’n mens se sosiale luiheid met dié soort vrae toe te dek, en dis jou verdiende loon as jy later uit wanhoop glad te veel wyn drink.

Uit my jeug onthou ek met plesier die opwindende newebetekenis van die rituele vryvrae. Die eerste Kabbalistiese vraag waarmee ’n mens in jou vroeë kêreljare te doen gekry het, was:

Kan ek asseblief ’n bietjie drinkwater kry? As ’n seun op ’n Sondagaandse besoek dít vra, het jy óf daardie lekker lam-in-bene-warm-agter-die-ore-gevoel gekry en dadelik saam met hom kombuis toe gegaan óf ’n hoesbui het jou neergetrek en jy het maar met jou hande beduie waar die waterkraffie in die gang staan.

O, die opstuwende verwagting as ’n kêrel vir jou vra: Wat maak jy vanaand? Natuurlik maak jy niks, niks, niks, in elk geval niks besonders nie, al weet jy voor jou siel dat jou seminaar oor die Diamantveldekwessie môre ingelewer moet word, dat jy twee weke laas vir jou ma geskryf het en dat al jou kouse vuil lê in jou laai. ’n Mens moet mos weet hoe om ’n vraag te takseer en dit dan te herlei tot sy essensie. Die liefde mag nie strand op die letterlike vertolking van ’n suiwer rapsodiese vraag nie.

En dan die sielsrukkende vreugde as daardie laaste, hoogste vraag eindelik gevra word: Sal jy omgee as ek ’n bietjie jou raad kom vra oor ’n probleem wat my kwel?

Dan wéét jy: die teerling is geworpe en jy gaan dadelik vir jou ’n botteltjie Evening in Paris koop.

Dis eers later, baie later, wanneer ’n mens self kinders het, dat jy begin bang word vir vrae, dat jy ’n vraefobie ontwikkel:

Ma, hoekom is ’n Engelsman se nek dan rooi?

Ma, waar is my katte se pa?

Ma, hoe oud is my Ghrên nou regtig?

Ma, waar broei mensvlooie uit?

Ma, as ek nou doodgaan, is dit my vel wat begrawe word en my binnegoed wat hemel toe gaan, of is dit my binnegoed wat begrawe word en my vel wat hemel toe gaan?

Dís die slag dat ’n mens sonder om nog te wik of te weeg oor die opvoedkundige implikasies van jou besluit, jou kinders leer dat daar sekere vrae is wat hulle nooit, ooit vir enige mens mag vra nie:

(1) Jy vra vir geen mens hoe oud hy is nie.

(2) Jy vra nie vir iemand hoeveel hy verdien, wat sy nuwe huis gekos het en of hy darem iets van sy pa geërf het nie.

(3) Jy vra nie vir ’n mens vir wie of vir wat hy gaan stem nie.

(4) Jy vra nie vir ’n vrou hoekom sy nie kinders het of hoekom sy net een het nie. Jy vra liewer glad nie oor kinders nie.

Ek voel sterk daaroor dat ’n kind kleintyd moet leer om te dink voordat hy vra wat hy wil vra. Dan sal hy miskien as hy ’n grootmens is ’n bietjie terugdeins voordat hy die ou pangavrae stel:

Hoekom is jy so vet?

Hoekom is jy so maer?

Hoekom lyk jy so moeg?

Hoekom is jy so grys, so oud, so vol rumatiek en so sonder man?

’n Mens sal egter nog altyd moet rekening hou met die vrae waarop daar geen antwoord is, geen antwoord ooit was en geen antwoord sal wees nie:

Hoe het jy dit reggekry om die bord te breek?

Maar wat het jou makeer om met Flip te trou?

Kan jy dan nie sien hoe jy die hek moet oopmaak nie?

Wie eet my sakdoeke op?

Ag, wat sal ek na San se troue aantrek?

Waar het ek tog weer my brilhuisie laat lê?

En dan is daar gelukkig ook nog altyd die stomslaanvrae wat onweerlegbaar die bewys bly van die raaisel wat die mens is in sy onvoorspelbare gang oor die aarde:

Waar kan ’n mens geelrys koop?

Was Moby Dick die man of die vis?

Is dit waar dat grondboontjies ’n dooierige man sal lewendig maak?

Behoort ’n mens met ’n wewenaar te trou wat nog wolsokkies dra?

Hoekom kan ’n klavierstemmer nie lag nie?

HET SPOKE NEKKE?

Die plesierboom

Подняться наверх